Die Herontdekking van ‘n Missionale Etos

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek woon tans die jaarlikse byeenkoms van die American Society of Missiology in Chicago by.  Vanjaar se byeenkoms fokus op die verskyning van nuwe missionale gemeente-ontwikkelings en die uitdagings wat dit vir sending bied in die Noord-Amerikaanse post-Christendom konteks.  Die eerste aanbieding (Vrydagaand) was ‘n pleidooi van die Australiese skrywer, Alan Hirsch (wat vir ‘n tyd ook in Suid-Afrika op skool was), vir ‘n herontdekking van ‘n missionale etos in die 21ste eeu.  Hirsch se aanbieding het veral oor drie sulke herontdekkings gegaan:

 

  • Herontdekking van die sentraliteit van Jesus en Sy beweging (Christologie as uitgangspunt);
  • Herontdekking van dissipelskap as kern taak van gemeentes;
  • Herontdekking van die etos van apostoliese bewegings.

 

Vir Hirsch beteken die herontdekking van ‘n missionale etos in die 21st eeu dat christene tot die ontdekking moet kom dat die kerk ‘n beweging is wat Jesus navolg, en dat die radikaliteit van Jesus afgewater geword het tydens die sg. “Christendom” era.  Die hooftaak vir so ‘n beweging is om die radikaliteit van Jesus weer tot sy reg te laat kom d.m.v. dissipelmaking, en dat die geloofwaardigheid van die kerk in die 21ste eeu gekoppel is aan die vermoee van Jesus-navolgers om Hom op radikale, nuwe maniere na te volg in gemeenskappe.  Hirsch se beskrywing van hoe so ‘n beweging lyk is dat dit “missionally responsive, culturally adaptive, organizationally agile, multiplication movements” is wat gestalte gee aan nuwe vorme van sosiale netwerke in gemeenskappe.

Alhoewel niemand waarskynlik sou wou verskil met Hirsch se klem in sy drie “herontdekkings” nie, is ek tog ietwat teleurgesteld in die taamlike twee-dimensionele uitbeelding van sy beskrywing.  Ek het die gevoel gekry dat hy eintlik maar net ‘n pleidooi lewer vir ‘n nuwe generasie christene wat net nuwe maniere moet vind om ‘n radikale Jesus meer effektief na te volg.  Sy beklemtoning van Christologie (wat in sig self natuurlik ‘n belangrike kern behoort te wees) het gelei tot ‘n soort navolgingsteologie (wat ek ‘n “imitation theology” wil noem) wat bv. nooit verwys het na die rol van die Gees of in enige trinitariese raamwerk geplaas is nie.  Die gevolg is dat beide die agentskap van God (die klem was hoofsaaklik op die effektiwiteit van geloofsgemeenskappe se navolging van Christus) en die realiteit van die wereld met wie ons in verhouding is ietwat ontbreek het in sy aanbieding.  Ek sal graag my nadenke hieroor later wil opvolg met ‘n refleksie oor hoe radikaal dit nou werklik is (ek vermoed dit is steeds ‘n gestalte van modernisme met die klem op die vermoens van menslike subjektiwiteit) as ons nie die klem laat val op die noodsaaklikheid van God as aktiewe agent van transformasie in en deur geloofsgemeenskappe nie.

My twittervoer oor die konferensie kan gevolg word by http://twitter.com/jannieswart

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment