{ARGIEF}

Jannie Swart is tans met Phd studies besig in St Paul Minnesota oor Missionale Gemeentes en Leierskap. Op die nuwe blog TUSSEN-IN gaan Jannie sy tussen-in posisie benut om vars perspektiewe oor gemeente-teorie en bediening met ons te deel.

Ek het die afgelope twee jaar die voorreg gehad om deel te kon wees van twaalf Presbiteriaanse gemeentes in Pennsylvania (VSA) se proses van geloofsonderskeiding om hulle gestuurde roeping van God beter te verstaan.  Wanneer ons nou terug kyk op hierdie opwindende ontdekkingsreis is daar redelike konsensus oor ‘n moment in die proses wat ‘n bepalende verskil gebring het in hoe meeste van hierdie gemeentes oor hulle roeping begin dink het.  Dit was die moment van ontdekking dat die primere vraag nie ‘n “wat”-vraag is nie, maar ‘n “wie”-vraag.

Vir ‘n lang ruk tydens allerlei eksperimentering in die proses het baie gemeentes gedink dit gaan oor die vraag, “Wat vra God van ons om te doen as gestuurde gemeentes in die samelewing?”  Dit het daartoe gelei dat hulle meestal hulle gestuurde roeping verstaan het as die toevoeging van nog ‘n ekstra klomp projekte en aktiwiteite tot hulle reeds bestaan “te-doen” lys.  Gevolglik was vreemdelinge hoofsaaklik objekte van hulle goeie dade, as mense na wie toe gemeentes gestuur word om vir hulle iets te doen.  Die deurbrake het eers begin kom toe ontdekkings gemaak word dat die eintlike vraag ‘n verhoudingsvraag is, nl. “Wie is die mense na wie toe God ons stuur in die samelewing” om saam met hulle in verhouding te leef.  Die energie en aktiwiteite het begin skuif na verhoudingsbou sonder om voorbedagte rade oor wat die ander nodig het.  Die tekens van transformasie in gemeentekultuur tussen hierdie twaalf gemeente draai amper sonder uitsondering almal rondom aangrypende verhale van nuwe energie wat voortspruit uit gemeenskapsvorming met ander wat nie vantevore deel was van die gemeente nie.  Dit sluit in sommige gevalle nuwe projekte in, maar die verskil is dat dit projekte is wat gebore is vanuit nuwe verhoudinge eerder as vooraf bepaal deur die gemeente.

velingVir baie mense sal hierdie skuif soort skuif seker nie aardskuddend of iets nuuts wees nie, maar in die Amerikaanse samelewing verteenwoordig dit ‘n groot skuif.  Die pragmatiese kultuur van “wat werk” is oorweldigend.  Om teologies na te dink vanuit alledaagse verhoudinge met mense wat God oor ons pad stuur, eerder as vanuit dit wat die gemeente volgende kan beplan om te doen vir ander mense, kom nie vanselfsprekend nie.  Dit stel groot uitdagings aan ‘n nuwe soort praktiese teologie wat deur Terry Veling, in sy boek Practical Theology: On Earth as It Is in Heaven (Orbis, 2005), soos volg beskryf word: “It is not so much to ask about the ways that theology can be made practical; rather, it is to ask how the practices of my life can be made theological.”

So ‘n skuif in ons praktiese teologie en gemeentebediening vra van ons om met nuwe waardering te besin oor die bronne tot ons beskikking in teologiese tradisies wat ons help verstaan dat die lewe primer relasioneel is.  Ek sal gereeld op hierdie blog verwys na betekenisvolle werk in die verband vanuit trinitariese teologie oor ekumeniese grense heen.  ‘n Mens dink o.a. aan die teologie van Jurgen Moltman (Gereformeerd), Robert Jenson (Lutheraans), Catherine LaCugna (Rooms-Katoliek), en John Zizioulas (Ortodoks).  Hierdie trinitariese tradisies kan ons dalk help met die vorming van ‘n antropologie (mensbeskouing) in ons gemeentes wat minder indiwidualisties en pragmaties georienteerd is, en daarom ook vir ons help om minder instrumenteel te dink oor geloofsgemeenskappe.

grenzEen so ‘n invloedryke teologiese stem wat ‘n meer relasionele teologie in verband bring met antropologie is die van Stanley Grenz, veral in sy boek The Social God and the Relational Self: A Trinitarian Theology of the Imago Dei (Westminster John Knox, 2001).  Grenz wys hoe ‘n imago Dei (beeld van God) beskouing nooit los van die Triniteit en buite verhoudinge met die ander gedink kan word nie.  Dit was veral Karl Barth (asook Dietrich Bonhoeffer) wat in die twintigste eeu aangetoon het hoedat die imago Dei in die Bybel altyd in verhoudingkonteks ter sprake kom.  Dit geld vir die imago Dei in Genesis sowel as in die Nuwe Testamentiese briewe, asook wanneer die Nuwe Testament oor Christus as die imago Dei praat.

Ek dink die uitdaging vir ons in die vorming van gemeente- en gestuurde-identiteit is om gewoontes te kweek en praktyke te skep waar lidmate iets hiervan kan ontdek in ‘n verhoudingsgerigte gemeentebediening en roepingsbewustheid (eerder as om dit aan te bied as ‘n teorie oor wat waar is), en dan te sorg dat Bybels-teologiese refleksie altyd integraal deel is van nuwe gemeenskapsvorming in verhouding met die ander.