{ARGIEF}

Sou Green se opvoedkundige filosofie dalk vrugvolle insigte kon lewer vir ‘n teologiese gesprek oor gemeentelike geloofsvorming?  Ek het wel so gedink, en veral aan ‘n paar moontlike stellings vir so ‘n gesprek gedink:

 

  • Die christelike geloof se belydenis dat waarheid ‘n Lewende Persoon is eerder as abstrakte dogma of beginsels sou dalk in die taak van geloofsvorming iets kon leer by Greene van die versoeking om die waarheid te wil beheer d.m.v. abstrakte sekerhede of gerusstellende bekendhede.  En indien dit die geval is, wat is die funksie van dogma en minimum kennis binne die groter prentjie van geloofsvorming as ‘n proses van lering in die ondefinieerbare ruimtes van geloofsonderskeiding?
  • Die christelike geloof se eskatologiese belydenis (wat veral in Adventstyd beklemtoon word) dat ons die weder-koms van die Waarheid verwag, en daarom moet leer wat dit beteken om geduldig in afwagting te leef (wat my laat dink aan Greene se “wide-awakeness”), vra dalk gewoontes en praktyke van gemeentelike geloofsvorming wat juis doelbewus alle gerusstellende gemaksones van sekerhede en bekendhede oorskry (dink maar aan die gelykenis van die tien meisies in Mat 25).  En indien dit die geval is, hoe fokus ons in ons praktyke van gemeentelike geloofsvorming op die veel moeiliker en minder resepmatige taak van geloofsonderskeiding wat nie alleen maklike antwoorde uit die verlede vind nie, maar juis bereid is om die ondefinieerbare ruimtes te ontgin waar verlede, hede en toekoms bymekaar kom in die beweging van die Gees?
  • En wat vra dit alles van gemeentelike leierskap se taak tot geloofsvorming as ons weet die algemene en populere verwagting is juis dat ons sekerhede moet kan verskaf en genoeg moet kan inspeel op mense se behoefte tot bekendhede?  Hoe leer ons die moeiliker weg van geloofsonderskeiding (om te leer) eerder as die makliker resep van geloofsbeginsels (om te weet).  En hoe hou hierdie twee benaderings met mekaar verband sodat die een nie opgeoffer word ter wille van die ander in ‘n valse of-of keuse tussen die twee nie?