{ARGIEF}

Hall se woorde spreek van hoop in beweging eerder as ‘n statiese hoop.  Dit mag ons dalk help om nie bates te sien as iets wat ons opbou en opgaar nie, maar iets wat eintlik nooit ons s’n is op ons geloofsreis nie.  Gemeentes as geloofsgemeenskappe van hoop is dus altyd ‘n communio viatorum, ‘n gemeenskap op reis, eerder as ‘n gearriveerde gemeenskap.  En wanneer jy op reis is kan jy nie altyd so baie bates saamvat of dit regtig opbou nie.  Maar jy kan wel die bates wat jy saam met jou op pad neem opnuut waardeer vir die waarde wat dit vir die doeleindes van die reis self het, en dit maksimaal aanwend in verhouding met diegene wat jy op reis ontmoet.  Dit maak van hoop ‘n hoop in aksie.  Toe 7 prominente teoloe in 2000 in Atlanta (onder voorsitterskap van die Ou Testamentikus, Walter Brueggemann) besin het oor die vraag, “What is the mission of the church in the 21st century?”, het hulle na maande se besinning tot die volgende antwoord gekom:  “The mission of the Christian Movement in the 21st century is to confess hope in action.” Hoop is altyd aan die beweeg in die rigting van diegene wat God se geregtigheid, heling, en vrede die meeste nodig het.  ‘n Gemeenskap van hoop wat altyd aan die beweeg is kan nooit bates opgaar vir die doeleindes van die bates self nie, maar kan wel die Batebouer vertrou dat Hy altyd op pad sal voorsien wat nodig is om saam te bou aan die Koninkrykswerk waarmee die Batebouer alreeds besig is in die wereld.