Nuwe “Kloostergemeenskappe”: Gemeenskappe van Geregtigheid en Vrede

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

In die tweede aanbieding tydens vanjaar se byeenkoms van die American Society of Missiology (sien http://www.communitas.co.za/tussenin/?p=70 vir ‘n oorsig van die eerste aanbieding deur Alan Hirsch) vertel Jonathan Wilson-Hartgrove die verhaal van “The New Monastics: Mission Through Communities of Justice and Peace”. Dit is ‘n verhaal wat ten nouste gekoppel is aan sy persoonlike ervaring van “it is hard to be a christian in America”, en gebaseer op die vrae wat hy begin vra het oor Amerika se militere betrokkenheid in Irak. Dit het daartoe gelei dat hy ‘n lid geword het van die “Iraq Peace Team”, en daarna besef het dat ook ander “euwels” soos verbruikerisme, gierigheid, rassisme, ens. dit baie moeilik maak vir christene in die VSA vandag om hulle christelike oortuigings radikaal uit te leef. Hy vertel hoe hy homself kon begin identifiseer met die stelling, “if this is democracy, we don’t want it; if this is freedom, you can keep it”.

Dit alles het Jonathan begin inspireer om die kloosterbewegings van die vroee Christendom te begin bestudeer, en spesifiek te vra na wat dit vir christene in daardie tye beteken het om as minderheidsgroepe in die samelewing hulle christelike getuienis in die konteks van “Empire” uit te leef. Hy kom tot die konklusie dat die tendens in kloostergemeenskappe om die euwels van die tyd duidelik uit te spel en dit dan teen te staan as ‘n kontra-gemeenskap van gasvryheid relevant is vir vandag se post-christendom era. Die bedoeling van ‘n kloostergemeenskap is nie om ekslusief te wees in die lig van hierdie euwels nie, maar om juis oop, verwelkomende gemeenskappe te wees vir alle mense. Hy verwys na talle voorbeelde van hoe hierdie tendens telkens daarna in die geskiedenis nuwe gestaltes gevind het, en verwys veral na Dietrich Bonhoeffer wat vir die eerste keer die term “new monasticism” gebruik het in die tyd van Nazi-Duitsland.

Jonathan pleit dan vir die oprigting van soortgelyke gemeenskappe vandag as “tekens van die opstanding” in tye waar dit moeilik is om christen te wees. Hy argumenteer vir ‘n “tactics of subversion” (gebaseer op hoe hy Jesus se bediening op aarde verstaan) d.m.v. gasvrye gemeenskappe wat ‘n radikale etiek kontra die kultuur van vandag uitleef. Die oprigting van sulke gemeenskappe is belangrik, want “naming what is wrong is never good enough; you have to give people hope that another world is possible”. Hy dink aan sulke gemeenskappe nie as “nuwe kerke” nie, maar as “laboratoriums vir die institusionele kerk”.  Jonanathan se aanbieding is deurgaans gekleur deur die praktiese voorbeelde van so ‘n gemeenskap waarvan hy self deel is.  Alhoewel daar sekere teologiese vrae is wat ‘n mens in konstruktiewe dialoog met hom sou wou opper (ek doen dit later in ‘n bydrae oor my eie kritiese refleksie op al die ASM aanbiedings), is dit ‘n aangrypende verhaal vanuit ‘n jonger generasie Amerikaanse christene wat duidelike keuses gemaak het in verhouding tot die verbruikeristiese en militaristiese kultuur van hulle konteks.

Tags: , , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment