{ARGIEF}

Gemeentes wat beweeg in die kragveld van die Gees is oop vir die inbreking van God se toekoms op enige gegewe oomblik (“God’s promised and preferred future”, soos Pat Keifert dikwels daarna verwys).  Gemeentes is vertrekke met oop vensters waar die Duif verrassend kan invlieg.  Dit is nie iets wat vanuit die vertrek self georkestreer kan word nie.  Dit is altyd die verrassende inisiatief van God self.  Die Christelike pneumatologie ken nie die teleologie van die moderne humanisme se drang tot liniere progressie en ontwikkeling nie.  Pneumatologie is ingebed in die Christelike eskatologie, wat iets heeltemal anders is as teleologie.  Dit is georienteer aan praktyke en gewoontes van geloofsonderskeiding rondom Woord en sakrament, en in verhouding met die ander, eerder as die gekontroleerde middele van strategiese beplanning (alhoewel oomblikke van beplanning belangrik kan wees op gegewe momente binne die groter prentjie van geloofsonderskeiding). 

Peter Block, in sy boek Community: The Structure of Belonging, onderskei tussen “possibility… which lives into the future” en “problem solving… which makes improvements on the past”.  Hy skryf:  “The possibility conversation frees us to be pulled by a new future…  The leadership task is to postpone problem solving and stay focused on possibility until it is spoken with resonance and passion”.  Block meen dit is fataal wanneer ons moontlikhede begin verwar met doelstellinge, voorspellings, en optimisme.  Lg. vorm eintlik niks nie.  Dit sus net ons gewetens dat dinge darem nou ‘n bietjie beter is, en dit lig net die gemoed so effens met die illusie dat ons die toekoms kan beheer.  Block skryf:  “Possibility is not about what we plan to happen, or what we think will happen, or whether things will get better…  Nor is possibility simply a dream.  Dreaming leaves us bystanders or observers of our lives.  Possibility creates something new.  It is a declaration of a future that has the quality of being and aliveness that we choose to live into.”  Teologies sou dit vertaal kon word tot ‘n radikale toespitsing op die nuwe moontlikhede van wat God in ons midde inisieer.

Ek doen tans navorsing in ‘n gemeente wat besluit het om te eksperimenteer rondom gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding as hulle eenvoudig die vraag, “when we bring our gifts and desires, how do we imagine the future God bringing forth among us?”, in hulle midde plaas vir ‘n jaar lange proses van gesprekke met mekaar en in die breer gemeenskap.  Dit is vroeg in die proses alreeds vir my duidelik dat ‘n organiese benadering van geduldig wag op wat God te voorskyn gaan bring rewolusioner is in verhouding tot die tipiese visie-gedrewe benaderings.  Block skryf oor visie:  “Even the creation of a vision is part of the problem-solving mentality.  A vision is something we must wait for to realize and is most often followed by an effort to make it concrete and practical.  Even a vision, which is a more imaginative form of problem solving, needs to be postponed and replaced with possibility.”  Dit voel vir my dat Pinkster ons help verstaan hoekom ons, wanneer ons oor gemeentes dink as bewegings in die kragveld van die Gees, ons meer energie behoort te spandeer aan die kweek van gewoontes en praktyke wat kan lei tot ‘n voortdurende postuur en kultuure van geloofsonderskeiding eerder as die implementering van ‘n instrumentele benadering gebaseer op visie-doelstellings-planne-bronne-oorreding.