{ARGIEF}

In hierdie laaste van my sewe blog bydraes oor Pinkstergemeenskappe – geinspireer deur Coenie Burger se werk oor gemeentes as bewegings in die kragveld van die Gees, en in teologiese gesprek met Peter Block se boek oor hoe gemeenskappe vorm en transformeer – is die fokus op gawes.  Ek verkies Coenie se voorkeur om te praat van begaafde mense (mense met gawes) eerder as bloot gawes (bl. 191), want dit verhoed ons om saaklik en instrumenteel oor gawes te dink, en dit herinner ons dat dit primer oor mense gaan wat met hulle Gees-gegewe gawes in verhouding met mekaar leef.  ‘n Fokus op begaafde mense verklaar ‘n erns oor die verskil wat God self maak as Hy nie maar bloot ‘n abstraksie, idee, of beginsel is nie, maar waar Hy werklik self teenwoordig en aktief is te midde van die morsigheid en tekortkominge waar gewone mense geloofsonderskeiding en bediening saam met mekaar beliggaam.  Coenie skryf:  “Ons glo dat die Gees nie net mense se gawes en planne in diens wil neem nie, maar dat Hy mense self (met hulle volle wese) wil intrek in die proses van die kerk en die koninkryk.”

Peter Block wys op ons natuurlike gewoonte om maar al te graag te wil fokus op probleme, tekortkominge, en behoeftes in gemeenskappe.  Hy skryf tong in die kies:  “The only cultural practices that focus on gifts are retirement parties and funerals.  We only express gratitude for your gifts when you are on your way out or gone.  If we really want to know what gifts others see in us, we have to wait for our own eulogy, and even then, as the story goes, we will miss it by a few days.” Vanuit teologiese uitgangspunt en die werklikheid van Christelike geloofsgemeenskappe is dit selfs ‘n nog groter aanklag, want dit beteken dat ons ook nie die teenwoordigheid en aktiwiteit van God in mense se lewens ernstig neem nie.  Ons realisme oor gebrekkige situasies en die sondige menslike natuur (wat natuurlik altyd so is) word dan al te maklik ‘n eensydige beklemtoning van wat nie moontlik is vanuit menslike oogpunt nie, sonder dat ons ewe gretig is om die beweging en gawes van die Gees as ‘n ewe groot realiteit in dieselfde situasies in ag te neem.  Dan bestaan die gevaar dat ons realisme bloot ‘n verskansing is van ‘n dieperliggende skaarsheidmentaliteit wat nie meer kan glo dat God ‘n verskil in en deur mense kan maak nie.

Block skryf:  “Instead of problematizing people and work, the conversation that searches for the mystery of our gifts brings the greatest change and results.” Pinkstergemeenskappe, met hul onwrikbare geloof in die misterie en realiteit van die beweging van die Gees waarvan hulle deel geword het, plaas hulle hoop op transformasie wat net in die kragveld van die Gees moontlik is, maar wat juis gebeur daar waar gewone, kwesbare mense met hul tekortkominge en swakhede worstel in alledaagse lewensituasies.