{ARGIEF}

Dit het my ‘n lang tyd gevat om weer aan die skryf te kom na die gejaag om my doktorale skripsie betyds klaar te kry vroeer vanjaar.  Die post-skripsie sindroom het beslis sy tol geeis.  Hoe meer ‘n mens mos lees en skryf, hoe meer kom jy agter jy het meestal nie ‘n idee waarvan jy praat nie!  Dan kom die gesukkel gewoonlik om te glo jy het enigiets betekenisvol om neer te skryf vir ander om te lees.  En toe kom die skok van terug beweeg van die akademie na ‘n gemeente.  Wel, dit is nou as ek nie eers praat oor die ontwrigtings en aanpassings van ‘n gesinsbesluit om langer in die VSA aan te bly nadat ons al vliegtuigkaartjies terug gehad het SA toe nie.  Nietemin, so eindig ek op in ‘n 300-400 lidmaattal gemeente van die Presbyterian Church (PCUSA) in ‘n plattelandse area in Noordwes Pennsylvania.

Nou leer ek van vooraf hoe om ‘n predikant te wees en worstel veral met die reusagtige gaping tussen akademie en gemeente.  Ek wil graag oor die volgende klompie weke my blog gebruik om te probeer nadink oor sommige van my ervaringe tussen akademie en gemeente.  Ek hoop dit sal ander kan inspireer om deel te word van die gesprek.  Hier is sommige van die vrae wat prominent in my gedagtes rondwoel na vier maande se terugwees in ‘n gemeente met ‘n Ph.D. agter my naam (en waaroor ek hier wil nadink en skryf):  

  • Hoe lyk die postuur, gewoontes, en gebruike van ‘n gemeentepredikant wat deel word van ‘n gemeente se reis om voortdurend God te ontdek as teenwoordig en aktief in die gemeenskap (breer as net die gemeente)?; 
  • Wat is die verband tussen die predikant se teologie/idees en die teologiese kultuur van die gemeente?; 
  • Hoe neem ‘n missionale proses van geloofsonderskeiding vorm aan in ‘n gemeentekultuur wat gedomineer word deur paradigmas wat oenskynlik lynreg daarteen werk?; 
  • Hoe funksioneer die Bybel, die Tafel, die Doopvont, en Gebed in die predikant se leierskapsbenadering?; 
  • Hoe beoefen die predikant leierskap om ‘n predikant-afhanklike gemeentekultuur te swaai na ‘n kultuur van groter bemagtiging en eienaarskap?  

En daar is meer… maar dit is meer as genoeg vir eers…