Via die Gebrokenes

Written by webmeester on . Posted in Tussenin

So ‘n dertigtal Suid-Afrikaners het Saterdagaand hier in Minneapolis (Minnesota, VSA) bymekaar gekom om Vryheidsdag en die vierde demokratiese verkiesing te vier.  Dit was ‘n heeltemal ander groep landsgenote as die wat ek al hier in pubs raakgeloop het tydens die vertoon van verlede jaar se Wereldbeker rugbywedstryde, alhoewel die springbok/protea trui ewe dominant as partytjiedrag was.  Ons as gesin was die uitsondering tussen die res wat almal aan die ander kant van die apartheidskeidslyn groot geword het.  Ons kon saam braai op eg Suid-Afrikaanse manier, goeie Kaapse rooiwyn deel, en aansit by ‘n verskeidenheid uniek Suid-Afrikaanse disse soos pens-en-pootjie, bobotie, en bo-Kaapse kerrie.  Buitekant het die Suid-Afrikaanse vlag vrolik in die lentebriesie gewapper (net om die Amerikaners te wys ons het ook ‘n vlag!), en binnekant het gesprekke vrylik van Afrikaans na Engels en Engels na Afrikaans gevloei (net sodat die kinders kon sien baie van ons het nie Xhosa of Zoeloe of skool gehad nie).

Maar die hoogtepunt was toe ons vir ‘n aansienlike tyd kon saam bid.  Ons kon saam dankbaar wees vir bevryding en demokrasie, en saam vir ingrype vra te midde van al die probleme en uitdagings in die land.  Ons kon skuld bely, en vergifnis uitspreek.  Ons kon bid vir vriende wat verdwyn het tydens apartheid, en vir leiers wat na vore tree post-apartheid.  Ons gebede kon in God se Vrydag-Sondag teken staan van feesvieringe wat gebore is uit intense gebrokenheid.

Elizabeth was ook daar.  Ek het op die Caledonse ruens groot geword, en sy op die Kaapse vlaktes.  Ek het op Stellenbosch in teologie geswot, en sy by UWK in maatskaplike werk.  Ek het probeer om gemeentes (blanke NG gemeentes) in vennootskap te bring met gebroke werelde wat ons nie geken het nie, en sy het probeer om gebrokenes (vroue en kinders wat deur mans en pa’s mishandel is) herstel en heling te bied in kerk geinisieerde skuilings.  Ons het die voorreg gehad om saam te werk aan ‘n referaat wat ons twee naweke gelede saam in Chicago aangebied het by die Academy of Religious Leadership se konferensie oor “Leadership at the Margins: Reframing Center-Edge Dichotomies” (verskyn eersdaags in die Journal of Religious Leadership).  Sy wat feitlik niks anders as margins geken het nie, en ek wat nie ‘n idee het wat dit beteken nie.  Sy met haar praktiese ervaring te midde van gebrokenes, en ek met my teologie van die kruis.  Sy met haar sosiale teorie uit maatskaplike tradisies, en ek met my fenomenologiese filosofie uit kontinentale tradisie.

circles-of-dignity2Die ervaring van by mekaar leer tydens die proses van skryf aan die artikel was vir ons meer werd as wat die artikel waarskynlik is.  Saam kon ons die tipiese center-edge dichotomies goed relativeer.  Sy het my geleer tot watter mate ek ook ‘n victim van apartheid is.  Ek kon haar help verstaan hoe teologie in die sentrum van gebrokenheid staan.  Saam met ander Suid-Afrikaanse stemme, soos James Cochrane in sy boek Circles of Dignity: Community Wisdom and Theological Reflection (Fortress, 1999), kon ons ontdek hoedat ‘n “inward orientation of faith, often accompanied by a denigration of all that is external (body, world, material reality)… exclude the world from anything more than the occasion for the proclamation of what we already know (p.157).  En hoedat dit meewerk aan ‘n marginalisering van die gebrokenes, eerder as om geloofsonderskeiding in die midde van gebrokenheid te beoefen.

cross-in-contextSaam met stemme uit ander wereldkontekse, soos die Kanadese teoloog Douglas John Hall in sy boek The Cross in Our Context: Jesus and the Suffering World (Fortress, 2003), kon ons werk aan ‘n teologie van gebrokenheid wat die teenwoordigheid en aktiwiteit van die Gebrokene ernstig neem in die midde van die gebrokenes.  Ons kon debateer oor al die gestaltes van Luther se onderskeiding tussen ‘n triomfantlike teologie wat “calls evil good and good evil” en ‘n teologie van die kruis wat “calls the thing what it actually is” (21ste van sy 95 stellinge, soos aangehaal deur Hall, p.16).  Saam kon ons die weg van wysheid identifiseer as via die G(g)ebrokene.

Al kan ons nooit die stryd vir vryheid afwater nie, en al behoort ons altyd die bereiking van die demokratiese ideaal te vier, behoort daardie selfde stryd en ideaal ons voortdurend sensitief te hou vir enige triomfantlike gestaltes van vryheid waarin ons blind word vir die talle on-vryhede in ons midde (sien bv. http://www.facebook.com/ext/share.php?sid=75555149284&h=ttDsS&u=KjiBJ&ref=nf).  Die pad van vryheid loop via die G(g)ebrokene…

Trackback from your site.

Leave a comment