Buig-die-boompie-solank-hy-jonk-is, is nie ‘n Bybelse beginsel nie

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

Frederick, baie dankie vir jou kommentaar op die insetsel oor positiewe terugvoer. Ek is bly om te kan bevestig dat dit inpas by die POSPAR- kursus se benadering. Jy is reg: Die rede waarom ons goed kan voel oor onsself (‘n goeie selfkonsep kan hê) is omdat elkeen van ons na die beeld van God gemaak is. Dit maak nie saak of ons manlik of vroulik, lank of kort, wit of bruin, gesteld op fyn besonderhede of net op die groot prent, ‘n dromer of doener, jonk of oud,siende of blind, intellektueel flink of gestrem is nie. Ons kinders is ook na die beeld van God gemaak. Ons is net geneig om dit te vergeet en dan dink ons dat dit ons taak is om hulle te verander na die beeld van god. Ons verbeel ons dat daar in die Bybel staan: “Buig die boompie solank hy jonk is”. Die waarheid is dat ouers die voorreg het om die boodskap by kinders tuis te bring dat hulle beelddraers van God is en om hulle te ondersteun om te groei om al meer God se beeld te vertoon. As ons dit onthou sal dit ons help om te fokus op ons kind se sterktes (wat moontlik baie van die ouer s’n sal verskil, want God maak mense na sý beeld en dié beeld het baie fasette). Dit maak dit ook vir ons maklik om ons kinders lief te hê. Daar is die mooi definisie van ‘n liefdesgemeenskap (‘n huisgesin is ook so ‘n gemeenskap) wat sê: “Liefde is wanneer elkeen alles in sy vermoë doen om die ander te laat groei tot die maksimum van sy godgegewe potensiaal”. Christene dien mekaar.

Ons tref God in die wêreld aan …

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Bernd Oberdorfer skryf oor ons beskouing van “personhood” in “The Holy Spirit – A Person?” (in The Work of the Spirit. Pneumatology and Pentecostalism. Michael Welker ed., 2006) aan die hand van Pannenberg se filosofiese antropologie. Daarvolgens is ‘n persoon “not an isolated, immutable entity but rather comes into being, develops, and is formed by a social context. Persons exist only in relations, and their personality is not independent of these relations.” (p. 36 – ek sou met hom wou gesels oor sy “only” beskouing, maar dit eers daar gelaat!) Hy pas dit toe op die wyse waarop ons praat oor die Triniteit en wys hoe ook die Triniteit gedefinieer word in hulle verhouding met mekaar. Op ongelooflike boeiende manier wys hy hoe die Gees die differensiasie EN eenheid van die Vader en die Seun konstitueer.

En ek dink dit is iets wat ook in God se verhouding met mense gebeur. Hy kan verander in terme van sy verhouding met ons, al bly Hy dieselfde in terme van sy wese (liefde, lig, lewe). Vincent Brümmer (What are we doing when we pray?) wys pragtig uit hoe dit ons gebede sinvol maak, want God kan in ‘n verhouding met ons verander. God is dus nie “self-sufficient” nie. En ons ook nie! En die Gees is ook in die wêreld besig. En dit beteken dat ons Hom ook juis in die wêreld gaan aantref as ons die moeite doen om ons laertrek mentaliteit op te skort …

Batebouers begin by hulleself

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

Dit was ‘n wonderlike konferensie…Uit die konferensie was dit duidelik dat hoop uit ons self moet kom! Ek was tydens die konferensie die hele tyd in trane. Ek het later besef dat ek nie eintlik vir die mooi stories van hoop huil nie maar vir myself. Ek het besef dat ek eintlik hoop in myself verloor het en as gevolg van die ongemak om dit aan myself te erken op al die swaar dinge in ons land geprojekteer. Al die mooi stories, het my nie net weer hoop vir ons land gegee nie maar belangriker nog MYSELF! Weereens baie dankie Groete Godfried

Elke lidmaat se verantwoordelikheid

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Henry T Blackaby en Claude V King skryf in “Beleef God” Bl 103 – God praat deur die Gemeente “As deel van ‘n gemeente kan ek op ander lidmate steun om my te help om God se Wil te verstaan.” Ek glo as elke lidmaat verantwoordelikheid neem om betrokke te raak by mede lidmate ons wedersydse vertroue sal skep en so ‘n omgee gemeente sal word.

Nog voorstelle op vrae oor huisbesoek

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

Ek reageer op Rethie en “gewone stadsdomine” se vrae en opmerkings:

1. Hoe begin ‘n mens die gesprek?

Jy spreek die voorveronderstellings wat geldig of ongeldig oor huisbesoek mag wees aan- my oorspronklike artikel oor huisbesoek was besoel om so-iets te wees. Die rede hoekom mense so emosioneel word oor huisbesoek dui op heelwat vooropgestelde idees- waaroor daar op ‘n verantwoordelike manier gereflekteer moet word. Dalk wil julle my bydrae verbeter- dan skep ons iets wat ander ook kan gebruik.

2. Wat is voorveronderstellings/vrae oor huisbesoek waaroor ek wonder:
a. Dit is die beste manier om ‘n verhouding tussen dominee en lidmaat te bou?
b. Wat is die soort verhouding wat oor die langtermyn ontstaan met roetine huisbesoek?
c. Moet die dominee die primere pastorale versorger vir al die lidmate in die gemeente wees.
d. Kan huisbesoek meer doen as versorging/instandhouding van ‘n lidmaat verhouding- of kan dit ook bemagtigend wees.
e. Is huisbesoek ‘n werklike behoefte of ‘n aangeleerde behoefte van lidmate?

Hoekom sal lidmate dikwels uit ons kerk na ander kere beweeg en in die nuwe kerk waar daar nie huisbesoek is nie- nooit daaroor kla nie?

3. Ek vind in beide van julle geldige vrae dat julle vertrekpunt kom vanuit die werk en taak van die dominee- hoe sal dit lyk as ons die hele saak bekyk vanuit die oogpunt van die lidmate, of nog beter in terme van die ontwikkeling van ‘n sorgkultuur in die gemeente?

4. Die oorgangsfase:

a. Dit is altyd ‘n goeie idee om ‘n gevestigde praktyk wat uitgedien geraak het te vervang met iets anders wat in die nuwe konteks meer betekenisvolle verhoudings kan stimuleer. Ons sit in gemeentes waar daar geweldig behoefte is aan verdiepte verhoudings, maar mense weet dikwels nie hoe om hierdie verhoudings te ontwikkel en instand te hou nie. Ek het by baie gemeentes geleer dat hulle met hierdie uitdagings kreatief omgaan en met wonderlike versorgingsplanne of strategie na vore kom. . Dit sal in julle gemeente ook waar wees. Hou op om te dink , of deur ander voorgeskryf te word, dat julle as dominees die eintlike versorgers in die gemeente moet wees. Rethie se idee oor verjaarsdae is ‘n voorbeeld van ‘n kreatiewe alternatief

b. enige oorgang wat nie goed deurdag en beplan is nie- is gedoem om terug te keer na die verstekposisie.

c. Voordat ek in ‘n gemeente wat gewoond is aan roetine huisbesoek sou dink daaraan om huisbesoek te vervang sou ek met ‘n proses van opleiding van beraders begin sodat daar genoeg leiers in die gemeente is om ‘n sorgkultuur te demostreer en uit te leef.

d. Luister baie goed na mense oor wat hulle versorgingsbehoeftes is- ek bedoel die werklike behoeftes en nie die aangeleerde kerklike behoeftes nie

e. Na jy dit alles gedoen het- moet jy in die gesprek Godsvrae begin vra- wat is God se roeping vir die gemeente en hoe pas die versorging- ingesluit huisbesoek- hierby in

5. Verhouding met die dominee: Die realiteit is dat julle as dominees meestal in gemeentes is waar die getalle te groot is om met al die lidmate betekenisvolle verhoudings aan te knoop-of julle “diens” almal en dit bly ‘n oppervalkkige verhouding- of julle is in wese net in “verhouding”met ‘n 20-30 mense. Gewone stadsdominee se: En vir baie lidmate gee die feit dat ons nog (probeer) huisbesoek doen, ‘n mate van troos dat die dominee darem iewers besig is. Jy is reg- maar as dit die rede is waarom ons huisbesoek doen- dan moet ons weer dink en ek bedoel saam met ons leiers dink wat ons eintlik aan die doen is.

6. Ek hoor by beide julle vrae ‘n behoefte om in julle pastoraat eintlik in ‘n nuwe verhouding met julle lidmate te tree waar hulle nie van julle afhanklik is nie maar waar julle saam met hulle groei in julle vermoe om as gemeente te sorg vir mekaar en vir die mense wat die Here oor julle pad stuur. Hoor ek reg of lees ek goed daarin? Indien wel is dit ‘n keuse- wat gaan op die langtermyn die gemeente se kapasiteit die beste bou om in die wereld die sorgsame weerlose liefde van christus 24/7 uit te leef die beste bou- ek het in my artikel probeer aantoon dat roetine huisbesoek alleen dit nie gaan doen nie! Indien ek reg is- hoekom hou ons dan daarmee aan?