Soekers na en draers van die waarheid maar nooit besitters nie

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

Jannie jy open ‘n baie interessante perspektief op die Pinkstergemeenskap van Hand 2 as ‘n waarheid-soekende gemeenskap wat voortdurend vrae vra in hulle soeke na die waarheid. Dit is interessant dat Timotius na die gemeente verwys na draers van die waarheid- en per implikasie nie besitters daarvan nie. (Sien ook die publikasie van BUVTON Draers van die Waarhedi)

In terme van die gestuurdheid van die gemeente is dit mi baie belangrik. ‘n Gemeente wat dink hulle besit die waarheid sal altyd geneig wees om ander te wil leer en oortuig tot hulle waarheid. Om die rede sal hulle gasvryheid tot vreemdelinge beperk wees. Vreemdelinge sal vir hulle ‘n bedreiging inhou omdat hulle dalk met ander perspektiewe kan inkom wat ons beskouing van die waarheid kan bedreig. Vreemdelinge kan binne hierdie raamwerk net verwelkom word indien hulle bereid is om te “bekeer” tot ons waarheid.

Gemeentes wat weet dat hulle draers van die waarheid is (per implikasie altyd soekend na die waarheid) sal gasvryheid as ‘n baie belangrike deug beskou omdat die vreemdeling in vir hulle ‘n bedreiding hoef in te hou nie. Soekers en draers van die waarheid sou vreemdelinge met ander perspektiewe kon sien as ‘n bron van inspirasie in hulle soeke na die waarheid.

Multikulturele gemeente is wat ons nodig het!

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Mensig, maar dit is wat ons so nodig het in ons eie omgewings wat so drasties verander. Ons denke is steeds so versteen in die eksklusiwiteit van ons dag dat ons niks anders kan dink as blank en Afrikaans nie, terwyl die wêreld rondom ons aan die brand is en mense sonder God en God se genadige ingrype lewe omdat ons wat dit moet dra nie opdaag vir ons roeping nie. Ek sien ek neem in en ek bid dat die Here in my sal oorneem en in die gemeente waar ek dien sodat ons kan wakker word.

Geen titel net gewone kind van God

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Ek het nie n web of titel nie maar net n gewone kind van God. Daar is net een waarheid en dit is Jesus Christus buiten Hom is daar geen ander nie en daar is ook geen ander evangelie nie. Jesus is gekruisig en het opgestaan hy leef. Ek se dit omdat so baie siele moslems, hindoes, katolieke wat tot bekering gekom het se getuienise vertel hoe Jesus aan hulle verskyn het. Meer as dit hoef ek nie te weet nie net dat hy n liefdevolle God is wat mense liefhet. Jesus het met een doel na hierdie aarde gekom en dit is om verlore siele te red. Die Bybel is die enigste boek waaruit ons leer hoe om te lewe en wie Jesus is. Jesus het gese gaan heen maak dissipels van al die nasies doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle geleer het. Die kerk het in sy roeping gefaal omdat hierdie opdrag nooit uitgevoer was nie daarom loop alles skeef. Ongehoorsaamheid is aan die orde van die dag. Sondes word goedgepraat en die kerk word wereldvriendelik. Word wakker Jesus is op pad!

Vincent Brümmer sê: Gebed is noodsaaklik maar nie genoegsaam nie …

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Ek het onlangs Vincent Brümmer se boek What are we doing when we pray? gelees, wat moontlik ‘n antwoord in die regte rigting gee.

Hy fokus in die boek op gebed en die wese van geloofsvertroue. En hy identifiseer op uitstekende wyse die kompleksiteite wat inherent aan gebed en gebedsverhoring is (Die boek is ‘n hersiene en uitgebreide uitgawe deur Ashgate in 2008 van die oorspronklike boek van hierdie gebore Suid-Afrikaner, wat reeds in 1984 uitgegee is. Hy is ‘n afgetrede godsdiens-filosoof van Utrecht).

Vincent sluit aan by die gedagte van Gerard Ebeling dat gebed die sleutel is om die wese van God te verstaan. Hy werk met ‘n oop perspektief op God, wat sommige “open theism” noem, omdat hy reken dat gebed nie eintlik met ‘n ander perspektief, bv. dat God nie kan verander nie, nog gebed genoem kan word nie. Daarby voeg hy by dat gebed ook gesien moet word as die “language game of faith” op voetspoor van Anthony Thiselton.

In die afdeling, Asking an omnipotent God, haak hy dan aan by die idee van Geach, God and the Soul, dat gebed ‘n “two-way contingency” (voorwaardelikheid of gebeurlikheid) het, 1. God se antwoord is nie onmoontlik óf onvermydelik nie 2. Gebed is ‘n noodsaaklike maar nie ‘n genoegsame voorwaarde vir God se antwoord nie.

En dit is hier waar die pennie vir my drop!

Gebed is VIR ONS noodsaaklik, maar nog steeds onderworpe aan God se soewereiniteit.

Gebed is egter ook VIR GOD nodig, nie omdat sy wese onvolledig is en Hy dus ‘n aanvulling nodig het om volmaak te word nie, maar omdat Hy ‘n God is wat kan verander, ‘n mens sou selfs kon sê, wil verander, omdat Hy in ‘n egte verhouding, as ‘n persoon!, met ons is.

Dit beteken ook, dat só ‘n siening van die voorwaardelikheid van ons gebed, implisiet en eksplisiet die grense bepaal van wat betekenisvol van God gevra kan word. God kan bv. 1) nie logies-onmoontlike dinge verhoor nie (bv. om te vra dat iets beide wit as swart gemaak moet word) of 2) iets wat teen sy eie natuur is nie (bv. om te vra dat Hy sondig).

Aan die ander kant het God Homself ook beperk. Die feit dat God Hom in liefde aan mense verbind het, is ‘n illustrasie hierdie self-opgelêde beperking. God het Homself uit vrye keuse beperk in die mate van invloed wat Hy op mense kan uitoefen om met hulle in verhouding te kan lewe. Hy sal dus niemand dwing om met Hom in ‘n liefdesverhouding te staan nie, anders sal dit nie meer ‘n liefdesverhouding wees nie.

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent dan uit hoe gebed baie spesifiek die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het. (On)veranderlikheid is gevolglik altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede. Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra. Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word (hier werk hy met Eleonore Stump, “Petitionary prayer” in American Philosophical Quarterly 16 [1979] se gedagtes).

In verband met Intersessie maak hy eers die stelling dat hy God se optrede as die primêre oorsaak beskou wat Hy bemiddel deur sekondêre oorsake, waarvan die belangrikste mense se optredes is. Dit maak daarom van Intersessie ‘n gebed wat primêre optrede van God vra, maar ook ‘n gebed word wat die bidder beskikbaar stel om een van die sekondêre redes te word waardeur God die gebed kan beantwoord.

Dit beteken dat die gebed van meer intersessors meer effektief is, nie omdat hulle meer druk op God kan plaas nie, maar omdat dit meer mense intrek wat God se wil kan uitvoer! Nogal ‘n antwoord op die vraag wat sommige van ons vra oor uitsprake van gebedsaksies in ons land (Transformation, Jerigo Mure ens.).

Dit bring ons terug by sy idee van noodsaaklikheid en genoegsaamheid. Vincent haal John Lucas (Freedom and Grace) aan wat die briljante voorbeeld het wat ‘n metafoor vir hierdie samewerking tussen ons bemiddeling en God s’n verskaf, dié van Persiese tapytmakers.

In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant. Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers. Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Ons gebede is dus noodsaaklik vir God, nie omdat Hy in sy wese dit nodig het nie, maar omdat Hy in ‘n verhouding is met ons en ons dus nodig het om saam te werk aan die tapyt van die lewe wat Hy (en ons) weef. Maar ons gebed is altyd ook weer onderworpe aan God se soewereiniteit, en daarom net genoegsaam, as Hy dit so maak.

Lees ook my verdere opsomming van sy gedagtes by www.gemeentes.co.za/index.php . Chris van Wyk