Schalk Kotzé

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

VBO 1: GEESTELIKE LEIERSKAP
11 – 13 MAART 2008
Schalk Kotzé – Oudtshoorn Moedergemeente

1. Wat het jy vir jouself geleer?
Die belangrikheid om my eie roepingsverhaal gereeld af te stof en ook na ander s’n te luister. Dit gee rigting, motivering en dankbaarheid in my bediening en help my om te sien hoe God besig is met my oor die tyd.

God is besig met my en die gemeente en wil hê dat ek saam met Hom besig moet wees. Daaglikse Stiltetyd is asemhaal.

Selfbestuur is ‘vital’ om koers te hou in die bediening.

Ek moet alles ingooi om lief te wees vir mense, veral in die gemeente (Leaders are lovers).

Dit is een van my prioriteite om ‘n mentor te hê, in spanne te werk en verantwoord-elik te bedien.

Maak tyd vir lees. Dis energerend.

2. Wat kan jy gemeente toe vat?
Ek behoort meer tyd aan leiers te gee. Meer tyd vir gebed en besig wees met die Woord (sonder om te probeer preekmaak). Ek moet oë oopmaak om besig te wees in die gemeente waar God aan die werk is met en tussen mense en daar wees en dien. Om te wees (Being) is belangriker as wat ek doen (Doing). Daarom moet ek baie aandag gee aan my wees-funksies. Ek is geroep om leiding te gee, maar dan spesifiek geestelike leiding. Ek gaan baie meer aandag gee aan selfdissipline en geestelike dissiplines. Ek gaan beslis meer tyd saam met leiers in die gemeente deurbring.

3. Waaraan sou jy graag saam met ander verder wou werk?
Ek sou graag meer rondom die taak van die predikant wou werk. Ek het ‘n vraag of medeleraarskap (soos tans binne die NG Kerk ‘bedryf’), met al sy verskillende nuanses binne verskillende gemeentes, nie dalk bydra tot ‘n konflikpotensiaal nie. Daar is wonderlike verhale van medeleraars wat mekaar aanvul en saamtrek, maar daar is (meer?) hartseer verhale. Ek het ‘n vermoede dit het ook te doene met ons ampsbeskouing – veral die amp van leraar. Bloot op sekulêre vlak sou ek my moeilik kon indink dat dit konflikvry sal gaan as twee persone op hoër bestuursvlak aangestel word in ‘n maatskappy met 60% dieselfde werksomskrywing. Dalk slaan ek die bal helemaal mis!

Coenie en Braam, baie dankie vir julle harde werk en toewyding. Ek weet die Here is hier besig met iets waaraan daar ‘n groot behoefte is in my eie lewe en in die lewe van baie van ons kollega’s in die kerk.

Ryk van Velden

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Verslag oor Voortgesette Bedieningsontwikkeling:
Geestelike leierskap

Die volgende aspekte of dimensies van geestelike leierskap het my aangespreek of vrae by my laat ontstaan oor myself of die aard van leierskap in ons gemeentes: (Wat hier volg is nie in ʼn spesifieke orde gerangskik en word nie in ʼn samehang aangebied nie)

Verskillende fasette van geestelike leierskap

Leierskap in ʼn gemeente het te doen met die dinamiese spanning tussen leier as profeet (fokus op God en sy wil); priester (fokus op diens aan medemens); koning (fokus op bestuur en orde in gemeenskap van gelowiges). Hierdie verskillende aspekte van leierskap vra verskillende vaardighede, maar mag ook nooit los van mekaar gedink en beoefen word nie. ʼn Groot leemte t.o.v. een van die dimensies sal noodwendig ander skipbreuk laat lei.

Gemeenteleraars kan maklik vanweë die aansprake wat gemeentelede en die samelewing op leraars plaas, hulle profetiese leiersfunksie verwaarloos (die soeke, verstaan en proklamasie van die wil van God in die lig van die Woord van God). Alhoewel dit veronderstel word dat predikante hulle verdiep in die Woord en God in die Woord hoor, getuig die praktyk anders. Predikante en ander leiers in die gemeente word so ingetrek deur die ander aspekte van leierskap dat hulle nie meer regtig die Woord hoor, die wil van God vir die tyd waarin ons leef onderskei en die Woord met oortuiging en gesag verkondig en lidmate daarin onderrig nie.

Leierskap as profeet, priester en koning vereis egter dat gemeenteleiers self eers dissipels van Christus word en hulle eie lewe orden vanuit ʼn lewende intieme verhouding met Christus. Geen geestelike leierskap is moontlik as die leier nie geestelik, fisies en emosioneel gesond bly nie. Dit is alleen moontlik wanneer leiers vanuit ʼn intieme verhouding met Christus kan onderskei waarop dit aankom en in die geloof doen wat reg is.

Groot vraag: Glo ons leiers regtig (nog) die evangelie? Die evangelie wat handel oor die goeie God wat nou leef en in die wêreld hier en nou handel. Getuig ons prediking en ons lewenshouding en dade dat ons dit werklik glo. Gee ons leiers aan die gemeente en die wêreld wat niemand ander hulle kan gee nie, nl. goeie nuus oor God? (Skuldgevoelens lei tot geen standhoudende motivering of mobilisering nie: dankbaarheid en verwondering oor God wel).

Ons bediening is ʼn derde orde bediening

God is aan die werk in die wêreld deur sy Woord en Gees. Ons kan nêrens bedien waar Hy nie reeds werksaam is nie. God werk primêr deur sy gemeente op wie die Heilige Gees met al sy gawes uitgestort is.

Lidmate van ʼn gemeente moet opgeroep en uitgedaag word om mekaar en die wêreld in onderlinge gemeenskap te bedien. Geestelike leierskap wat nie lidmate help om hulle gawes te ontdek, te ontwikkel en te ontplooi is gebrekkig en bankrot. Geestelike leierskap is nie bedreig deur die inisiatiewe van lidmate nie, maar probeer juis vir hulle ruimte skep om kreatief hulle gawes sonder beletsel uit te leef. Geestelike leierskap help gemeentes om hierdie dinamiek te verstaan en hulleself daaraan oor te gee: om self te dien en deur lidmate bedien te word.

Eers na die twee vorme van bediening kom die geestelike leiers aan die orde. Hulle is ʼn derde orde bediening. Hulle vind hulle leiersrol alleen binne die groter bediening van God en die gemeente. Ten einde hulle leierskap uit te leef moet hulle kan onderskei wat God in die wêreld doen en hoe Hy sy gemeente in die proses gebruik en toerus. Eers dan kan die geestelike leiers van “voor” leiding neem in ʼn gemeente.

Vraag: Luister en onderskei ons leiers in die gemeentes regtig die wil van God en sy werking deur die gemeente in die wêreld voor ons mense mobiliseer vir diens ens.? Watter vaardighede en praktyke of tradisies het leiers in die gemeente in plek om te verseker dat hulle regtig die wil en werking van God in die wêreld en die gemeente verstaan en volg? Wat doen ons as leiers konkreet op ʼn deurlopende vlak om dit te verseker.

Om Christus te ken beteken om deel te kry aan sy lyding en oorwinning

Fil. 3:1-10: Wie Christus werklik leer ken, se eie persoonlike kultuur en agtergrond word radikaal relativeer.
Christus verander alles en slegs in ʼn intieme verhouding met Hom ontdek ons die aard van ware lewe. Hierdie lewe is nie vry van lyding nie, maar word beleef in die spanning van lyding, oorwinning, hoop en volharding. Wie lyding ten alle koste probeer vermy, probeer die evangelie vermy want wie deel het aan Christus het deel aan sy lyding en oorwinning. In lyding leer ons onsself, ander en God op ʼn vlak ken wat sonder lyding nooit moontlik sou wees nie. Lyding moet positief waardeer word en lidmate moet gehelp word om lyding en broosheid te omhels in die teenwoordigheid van Christus en leer om oorwinnend te midde van lyding met hoop te leef.

Vraag: Help ons lidmate om lyding te aanvaar en toe te laat om ons lewens te vorm en ons te leer om oorwinnend te midde van die swaar te leef. Wat verkondig en leer ons mense in RSA vandag wat lyding ten alle koste probeer ontvlug? Hoe omhels ons lyding sonder om sonde wat tot baie lyding aanleiding gee goed te praat?

Geen bediening sonder liefde nie

As ons mense en ons gemeente nie lief het nie, kan ons hulle nie werklik bedien nie. (I1 Kor. 13). Die bediening gaan in die eerste plek oor verhoudings en nie om aksies en formele byeenkomste nie. Lg. kry slegs betekenis as die leiers regtig met die lidmate identifiseer en hulle liefhet soos hulle is.

Die belang van ʼn mentor

Mentorskap moet in die hele leierskapstruktuur van die kerk en gemeentes aangemoedig word. Mentorskap kan verskillende funksies vervul en dit is moontlik om meer as een mentor te hê. ʼn Vereiste vir enige mentorskap is dat daar respek vir mekaar en vertroue tussen die partye moet wees. Mentorskap gee ʼn oor en indien moontlik en wenslik ook leiding wanneer iemand sonder “maskers” voor die ander leef. Mentorskap gaan ook oor meerdere wysheid in enige bedieningsituasie sonder dat daar noodwendig ʼn krisis is of persoonlike swaar of probleme is.

Vraag: Watter “instruksies” of verantwoordelikhede verwag ons presies van ʼn mentor.

Lees en oordenking van die Bybel

Die gevaar bestaan dat ons oor die teks heers of staan omdat ons dit dikwels net lees om te verstaan of om ʼn preek vir ander te maak. Die uitdaging is om werklik God se stem in en deur die teks te hoor omdat ons nie soseer luister om te verklaar nie, maar om te hoor en te onderskei. Wat belangrik is, is om net met die Woord besig te wees in die verwagting dat die Here met ons persoonlik wil kommunikeer.

Die belangrikheid om die dele van die Bybel andersyds ook by tye baie doelbewus met ʼn sekere bril te lees ten einde op die spoor te kom van verskuilde waarhede en insigte: bv. om dele te lees ten einde te probeer bepaal wat die teks oor missionêre gemeentewees; God se teenwoordige handelinge; mense se reaksie op sy spreke ens. sê.

Vraag: Hoe vergroot ek tye vir die lees van die Bybel?

Onderskeiding as ʼn wesentlike deel van geestelike leierskap

Geestelike leierskap beskryf vanuit die hoek van onderskeidingsvermoë spreek my baie aan. Geestelike leiers verstaan die wêreld, die Bybel en mense en is in staat om die werklikheid te definieer en te beskryf. Geestelike leierskap moet onderskei wat dit beteken om vandag in hierdie tyd te verstaan wat God besig is om te doen en ook van ons verwag om te doen. Sonder onderskeidingsvermoë is geen leierskap moontlik nie, hoogstens goeie bestuur, maar waarheen? Ons het te veel goeie bestuurders en te min leiers wat kan onderskei in die kerk.

Vrae: Hoe ontwikkel ek my onderskeidingsvermoë en my geloof en gehoorsaamheid om paslik te reageer wanneer ek God se wil onderskei? Hoe ontwikkel ons ander leiers se geestelike onderskeidingsvermoë en ontwikkel ʼn kultuur in die gemeente om na God te luister en ook goed te “kyk” waar Hy in die gemeenskap aan die werk is en waar Hy en hoe Hy ons wil inskakel by dit wat Hy doen.

Karakter en integriteit is onverhandelbaar vir geestelike leierskap

Geestelike leierskap is onmoontlik as die integriteit van die leier onder verdenking is of wanneer ʼn leier duidelik oneerbaar opgetree het. Waar iemand se karakter of integriteit geskend is, laat dit ʼn permanente letsel op die bediening.

In leierskap gaan dit in die eerste plek om die nastreef van waardes en nie om tegnieke of resepte nie. Waardes bring energie en volhoubaarheid en die vestiging en effek van waardes in ʼn gemeente en gemeenskap vra tyd.

Visie kan net effektief beliggaam word deur spanne

Volhoubare verandering en vernuwing wat regtig die gemeenskap vir Christus transformeer kan nie deur ʼn (charismatiese) leier alleen teweeggebring word nie. God werk deur die gemeenskap van gelowiges en leierskap sluit in dat die gelowige gemeenskap in spanverband gemobiliseer en toegerus moet word. ʼn Gemiddelde span (in terme van vermoëns) wat goed saamwerk, bereik baie meer as ʼn klomp baie begaafde individue wat nie goed saamwerk in spanverband nie.

Visionering in die gemeente moet in spanverband geskied. Hoe ontwikkel ʼn gemeente ʼn span wat doelbewus en deurlopend onderskeidend die gemeente en gemeenskap in die lig van die Woord “lees”? Watter kommunikasiekanale word in ʼn gemeente geskep om te verseker dat die res van die gemeente kennis neem en aan die gesprek oor visie deelneem ?

Hand aan hand hiermee is die belangrikheid om leiers te kweek. Leiers word gekweek deur rolmodelle, toerusting en geleenthede om hulle gawes uit te leef en leiding te neem. Om leiers te ontwikkel moet mense aan leiers blootgestel word.

Ons is wat ons dink

Ons denke bepaal ons lewe en die van ʼn gemeente. Voer en bou ons mekaar op met positiewe en opbouende gedagtes en die evangelie, of kenmerk ons gesprekke en inhoud van preke ens. die negatiewe? Wat lê ons vas in die gedagtes van lidmate?

Philip Scholtz

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

KURSUS: GEESTELIKE LEIERSKAP:

1. WAT HET JY GELEER?
In die uitdagende tye waarin ons in Suid-Afrika en Afrika leef is dit van uiterste belang om as geroepenes van Jesus Christus te leef. Vir my was dit daarom waardevol om net weer bewus te word van Wie is die Een wat my geroep het en waarvoor. Dit was goed om jou eie roepingsverhaal te kon vertel en na die verhale van ander te luister. Om die spore van die lewende Christus in ander se lewens te sien, maak my opgewonde oor die God van die Bybel wat steeds werk en met mense bemoeienis maak.

Roeping gee nuwe energie en perspektief op situasies wat soms onoorkomelik en uitsigloos lyk. Dit is die trou van die lewende Here wat nuwe en krag en hoop gee, want Hy wat roep is ook getrou. Die teenwoordigheid van die Drie-Enige God wat gister, vandag en môre dieselfde is, gee die waag moed om die toekoms in die oë te kyk en deur die waters en vuur van geweld, korrupsie, vigs en armoede gedra te word. Om te kyk na die roepingsverhale van Bybelfigure, het gehelp om weer prioriteite te bepaal. Die God van Abraham trek saam die onbekende in. Jesaja ontdek dat God die nodige toerusting gee om uitdagings die hoof te bied. Petrus moet seker maak van sy liefde vir Christus. Daarsonder is ons roeping sonder inhoud en fut. Om die oog op Jesus gevestig te hou kweek juis volharding en ‘n leerbare gees met die oog op ‘n doelgerigte, geestelike lewenstyl.

Roeping is ook te nouste verweef met leierskap. Gibbs se artikel is nuttig in die herdefiniëring van leierskap binne spanverband. Ons is nie in die tyd van individuele “verhoogpersoonlikhede” waar leierskap losstaan van die liggaam van Jesus Christus nie. Dinamiese leierskap wat verandering bewerk lê opgesluit in die vermoë om die “ledemate” van die Liggaam te mobiliseer in die uitleef van hulle gawes. Leierskap vra lidmate wat bereid is om agter die skerms te werk. “Some individuals exercise leadership behind the scenes by advising and mentoring other leaders who have a more public and extensive sphere of influence.” (Gibbs, Redefining leadership, p21). Geestelike leierskap is daarom ook ten diepste ‘n proses van beïnvloeding. Laasgenoemde veronderstel die skep en instandhouding van sinvolle verhoudings. “If by leader we mean one who holds position of authority and responsibility, then every Christian is not a leader. Some are – some are not. But if by leader we mean a person who enters into a relationship with another person to influence their behaviour, values or attitudes, then I would suggest that all Christians should be leaders. Or perhaps more accurately, all Christians should exercise leadership, attempting to make a difference in the lives of those around them.” (Gibbs, Redefining leadership, p22).

Die herontdekking van die dienskneg-leierskapstyl kan weer soos ‘n vars bries ‘n korreksie bring op die glans van die individuele “kalklig-leierskapstyl”. Maar dan moet die betekenis van die dienskneg-leierskapstyl korrek verstaan word, soos Gibbs in sy artikel argumenteer. “Sometimes the use of this servant concept has resulted in an abdication of leadership, particularly when it was mistakenly understood to imply that the servant’s primary role was to meet the demands of those he or she was called to serve … Jesus unswervingly sought his Father’s guidance for the direction of his ministry. Rather than simply responding to popular demand, he took the initiative in terms of his overriding purpose.” (Gibbs, Redefining leadership, p23). Hy volg dit op met die voorbeeld van die skare wat meer van sy tyd en aandag gevra het, nadat Hy gepreek en siekes in Kapernaum gesond gemaak het. Jesus wys egter hierdie aandrang van die skare af en onttrek Hom om in gebed die wil van sy Vader te soek. Om te dien beteken nie ‘n willose uitlewering aan die mense vir wie jy tot diens geroep word nie. ‘n Voortdurende soeke in gebed na die wil van God bly ononderhandelbaar.

Leierskap behels ‘n vryheid wat opgesluit is in die wete dat God my liefhet – dat ek, soos sy Geliefde Seun, ook sy geliefde kan wees. Dit moet ek vir my toe-eien dat Hy my onvoorwaardelik liefhet. Dit maak dat ek soos Henri Nouwen dit stel: “ … can confront, console, admonish, and encourage without fear of rejection or need for affirmation. As the Beloved, I can suffer persecution without desire for revenge and receive praise without using it as a proof of my own goodness.” (“Finding Freedom, p.55).

2. WAT GAAN EK DOEN?
Ek sal so gou as moontlik die volgende met die leierskap van die gemeente wil deel:
My dankbaarheid om as predikant van Durbanville-Bergsig my roeping te kan uitleef. Dit is ‘n kerkraad en gemeente wat nog altyd bereid was om my in staat te stel om nuwe uitdagings te identifiseer en te motiveer om dit aan te pak.
Die roeping van leiers en lidmate te (her)ontdek. Dit maak my opgewonde om gesprek aan die gang in die leierskap en gemeente aan die gang te kry oor: Waar het die Here my geroep en waarom en waarvoor het Hy my geroep. Ek sou hoop dat so ‘n gesprek weer nuwe entoesiasme en toewyding sal bring vir ons taak en roeping in ons eie omgewing, ons land en Afrika.

Philip Scholtz

NJ van As

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

GEESTELIKE LEIERSKAP 11-13 MAART 2008
VERSLAG AAN KERKRAAD
N.J. VAN AS

Ek is as predikant geroep om die gemeente te bedien as priester, profeet en koning en as dissipel.

As PRIESTER moet ek gedurig op God fokus en in ‘n noue verhouding met Hom leef deur gereeld Bybel te lees en in gebed met God te verkeer.

As PROFEET moet ek op mense fokus deur vir hul lief te wees, om te gee en hul te verstaan. “ Leaders are lovers” Jy bereik meer deur die hart (emosie) aan te spreek.

As KONING moet ek die gemeente bestuur en organiseer. Dit is eintlik die begeleiding van ‘n geloofsgemeenskap. As dissipel moet ek Christus navolg(die evangelie leef) sodat ander my weer kan volg. Die karakter en voorbeeld van ‘n leier speel ‘n geweldige groot rol in die gemeente en in die gemeenskap.

‘n Leier moet ‘n visie of prentjie hê van waarheen hy wil of wat hy wil bereik. Jy moet kan vas stel wat aan die gang is. Lees die patrone van wat gebeur. Kyk terug in die verlede. Hoe het dit 30 jaar terug gelyk? Hoe moet dit 30 jaar vorentoe lyk? Daarvoor het jy stilte en afsondering nodig. Om jou doel te bereik moet jy in spanne werk. Dit wil sê jy moet die regte mense om jou vergader om saam met jou die doel te verwesenlik. Praat met mense wat slimmer as jy is of wat meer ervaring as jy het en hoor wat hulle dink. ‘n Leier laat dinge deur ander mense gebeur. Jy moet dus die vermoë hê om leiers op te lei en te kweek wat die dinge laat gebeur. Ons moet lidmate bemagtig om dinge te doen en te laat gebeur.

Motivering is nodig om te lei sodat jy energie kan los maak by ander mense. Jy moet ‘n visie hê wat hoop gee. Jy moet bekend wees as iemand met ‘n goeie karakter en iemand met integriteit. Jou bekwaamheid moet respek kweek. Gee erkenning aan jou span. Jy moet konflik kan bestuur,maar ook jouself. Jy moet ook verandering kan bestuur

Wysheid is nodig om die geloofsgemeenskap volgens God se wil te begelei. Geestelike leierskap is Geesvervulde leierskap. Leierskap wat optimale blootstelling aan God en die wêreld het. Geestelike toewyding is noodsaaklik. Die Here het ons lief net soos ons is ,maar los ons nie so nie. Dit gaan hier nie oor teologiese opleiding nie, maar oor ‘n evangeliese ywer en ‘n passie vir Christus.

Selfbestuur van jou eie lewe is noodsaaklik. ‘n Mens noem dit emosionele intelligensie. Ja om emosioneel die mas op te kom en die pas vol te hou. As jy nie balans in die lewe het nie kan jy jouself uitbrand. Tekens hiervan is min intimiteit met God en swak menseverhoudinge. Jy moet eerlik bewus wees van jouself . Luister na eerlike mense om jou soos jou vrou of vriende wat jou baie goed ken. Soms dink jy dat jy nog alles kan hanteer,maar dan hardloop jy reeds al net op adrenalien. Dis wanneer die adrenalien die nodige seratanien gebruik.
Wat is nodig vir emosionel intelligensie?
1. Positiewe denke. Paulus sê nie verniet in Fil 4:9 dat ons dit wat mooi en goed is moet bedink nie. Bitterheid is die gif wat jy self drink in die hoop dat iemand anders daarvan doodgaan.
2. Positiewe vriende. Negatiewe mense dra negatiwiteit oor sonder dat jy dit agterkom.
3. Gesonheidheid en balans. Daarvoor is basiese disiplines nodig soos : stilte, gebed, goeie dieet, eenvoud, oefening, balans en ritme.
Jy moet kan nee sê.

Drie poot beginsel:
1. Elke dag ‘n ontmoeting met die Here.
2. Elke dag ‘n ontmoeting met jou medemens.
3. Vreugde in jou bediening.

Ek hoop om bogenoemde in my eie lewe toe te pas en om die kerkraad en leiers in die gemeente ook met die inligting te motiveer.

Monty Sahd

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Verslag aan die Bestuursraad/Bedieningskomitee oor die VBO-werkswinkel oor Geestelike Leierskap gehou te Stellenbosch-Wes op 11-13 Maart 2008

1. Aanbieders en Inhoud

Coenie Burger en Braam Hanekom het die werkswinkel oor die twee en ’n halwe dag aangebied. Coenie Burger het die volgende temas behandel:

 Om weer ja te sê vir Christus en die evangelie
 Om weer ja te sê vir my roeping as predikant
 Om weer ja te sê vir my roeping in my gemeente in Afrika

Braam Hanekom het weer op sy beurt oor die volgende onderwerpe gepraat::

 Basisteorie oor leierskap en die plek van visionering
 Spanne, konflik en kommunikasie
 DVD oor ’n onderhoud met Warren Bennis
 Emosionele intellegensie, selfbestuur en wysheid

Daar was geleentheid vir kleingroepgesprekke waar die aanwesiges in groepe van vyf persone verdeel het vir Wandel in die Woord en vir bespreking rondom die roepingsverhale van die persone in die kleingroep. Die materiaal wat by die VBO-geleentheid uitgedeel is, het ook bepaalde artikels oor leierskap en die rol en funksie van predikante bevat.

2. Persoonlike indrukke en perspektiewe

Dit was goed om die geleentheid by te woon al het ’n mens die indruk gekry dat die aanbiedings nie voldoende met melaar geïntegreer is nie. Die blootstelling, saam-wees en saam-praat was stimulerend en opbouend. Ek het die leesmateriaal interessant en prikkelend gevind. Volgens my eie oordeel sou daar selfs meer leesmateriaal voorsien kon word. Ek het die volgende waardevolle persektiewe uit die aanbiedings en leesmateriaal gekry:

 Craig Dykstra se klem op “multiple intelligences” waaroor die predikant moet beskik. Hy wys ook treffend op die verstaan van die gemeente en die konteks waarbinne die gemeente bestaan.
 Verder het ek die opmerkings oor predikante as “Reflective practititioners, colloborative leaders en formative learners” insigegewend gevind. Die leierskap wat volgens my die kerk benodig word, is juis een van span-leierskap waar elkeen sy/haar gawe ontdek en op die terrein wat die Here uitgewys het, implimenteer. Die predikant is dus ’n leier, maar nie ’n alleenleier of professsionele leier nie. Hy of sy lei saam met ander in navolging van Christus. Hierdie aspek sou ek graag in die gemeente verder wou uitbou.
 John Stott se nadenke oor sy volgelingskap van Christus en die drie oortuigings wat hy oorgehou het, was baie sinvol nl die oortuiiging van prioriteite, gehoorsaamheid en nederigheid. Wat my veral hier getref het, is sy verwysing na Johannes 14:21 waar Jesus sê dat Hy homself aan die wat hom liefhet, openbaar. Sy belofte is dus voorwaardelik nl aan dié wat Hom liefhet.
 Lesslie Newbigin se omskrywing van die gemeente as ’n gemeenskap van lof, waarheid, gemeenskapsbetrokkenheid, manne en vroue wat voorberei word vir die beoefening van die priesterskap van die wêreld en van wedersydse verantwoordelikheid, het my diep laat nadink oor die gemeente waar ek tans werk.. Wat ek graag na die gemeente sou wou terugneem, is dat die gemeente die draers en vertlokers van die evangelie is.
 Wat my persoonlik verder geraak het, was die vraag wat ’n mentor aan ’n predikant gevra wat sy hulp en leiding gesoek het nl “What presently is defining your life?” (In die hoofstuk: Defining One’s Self deur Wesley Granberg-Michaelson) Die gevaar wat hierdie vraag uitwys, is dat dit so maklik gebeur dat ons toelaat dat ons identiteit bepaal word deur wat ons doen, eerder as wie ons is.
 Die vraag in die DVD wat aan Warren Bennis gevra is, het ook by my bly hang nl “Are you enjoying what you are doing?”. Daar is bepaalde aspekte van die bediening wat makliker vreugde verskaf as ander.
 Verder het Coenie Burger se klem op die predikant wat met die Woord besig moet wees en wat bereid moet wees om bepaalde teksverse met ander te deel, ook vir my getref. Braam Hanekom se opmerkings dat leiers goeie luisteraars moet wees, het ook by my aanklank gevind. So ook sy klem dat leiers lief moet wees vir die mense aan wie hulle leiding verskaf.

Oor die algemeen was die VBO- geleentheid sowel as die dagkonferensie wat die voorafgaande Maandag plaasgevind het, opbouend en leersaam.

Monty Sahd

Johannes Nortier

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Vir aandag van dr CW Burger

16 Maart 2008
Verslag : VBO Kursus Een: Geestelike Leierskap: 11-13 Maart 2008
Kursusganger: Johannes Nortier

Beste Coenie

Baie dankie vir ‘n wonderlike drie dae saam met jou en Braam. Dit was die eerste keer in ‘n lang tyd dat ek ‘n kursus enduit só geniet het. Dankie veral vir die ruim geleentheid tot interaksie met ander kursusgangers. Ek dink nie julle ouens wat gereeld in die geselsskap is van ander opgeleide teoloë en vakkundiges besef hoe dit voel om die meeste van die tyd alleen met jou eie teologiese denke besig te wees nie. Dit is veral waar van ouens soos ek wat in ‘n eenman-gemeente is.

Ek skryf vir jou hieronder (bls 2,3) ‘n meer eksistensiële verslag om te wys dat ek regtig die kursus ge-internaliseer het. Hierdie verslag gaan nét so na my kerkraad en gemeente. Ek moet sê dat dag 1 se roepingsgesprek vir my makliker was. Dit het my regtig baie diep geraak en alle (?) twyfel oor waarmee ek besig is uit die weg geruim. Dag twee en drie was baie goed, maar ek wonder tog steeds oor die eie aard van leierskap in die kerk. Ek leer byvoorbeeld die gemeente dat ons nie vir mekaar dankie sê nie, omdat Jesus ons geleer het dat dankie-sê in sy dampkring, onnodig is en selfs ‘n steler van ware vreugde kan wees. Nou hoor ek dat ‘n leier is ‘n “one-man-thanking-machine” en dit klink mooi en goed binne die algemene sielkunde van interpersoonlike verhoudings, maar is dit regtig toepaslik in die hart van die kerk. Net soos wat ek tans baie katvoet is vir partypolitiek in die kerk is ek ook versigtig vir die reëls van die algemene besigheidsbestuur in die kerk. Tog weet ek dat die twee sake nie noodwendig teenoor mekaar staan nie. Wat ek eintlik maar net wil sê is dat die insette tov roepingsbewustheid vir my makliker is om met oortuiging huis toe te bring as die insette tov algemene leierskap.

Maar hoe dit ookal sy, hierdie drie dae sal in my bedieningsgeskiedenis opgeteken staan as van die hoogtepunte. Kan ‘n mens sê dat dit ‘n misterieuse ontmoeting was wat ek nie op hierdie tyd en veral nie op hierdie plek verwag het nie? Miskien is dit wat ek al my jare op kweekskool gesoek het, maar nooit gekry het nie. Nou verstaan ek sommer ook skielik hoekom ek die koshuis bó die kweekskool gekies het, want daar het ek meer van God geleer en ervaar ! Ek sal nooit weer die name, Theunis Botha, Christo van Staden, Phillip Scholtz en Schalk Kotze hoor sonder om ‘n bepaalde konneksie te ervaar nie. In ons groepie het ons regtig ‘n vreemde ontmoeting met God en mekaar gehad.

Groete
Johannes Nortier

Liewe Gemeente van Agter-Paarl

Ek skryf vir julle ‘n brief na dag een van die geestelike leierskapkursus waarheen julle my gestuur. Ek het goed geluister wat die dosente sê en God se stem verrassend helder gehoor. Ek wil vir julle, as gemeente, kom dankie sê:
• dankie dat ek mag ervaar dat julle regtig vir God self en eenvoudige ontmoetings met Hom soek;
• dankie dat ek mag ervaar dat julle rondom die evangelie bymekaar kom en dat julle die Woord soek wat soms gemaklik en soms ongemaklik is;
• dankie dat julle die afgelope 3 jaar julleself oopgestel het met ‘n leerbare gees vir die nuwe weg wat God met ons wou loop en dat julle met geloofswaagmoed julle styl daardeur laat verander het;
• dankie dat julle in my ‘n nuwe geloof geplant het dat gemeentes kan verander en dat gemeentes hulle gemeenskappe kan transformeer;
• dankie dat julle verstaan dat om kerk te wees is om God in gedagte te hou daar waar julle is en dat julle op God se ritme met die lewe dans;
• dankie dat julle nie die kerk en God met mekaar verwar nie en dat julle nie liewer vir die kerk is as vir God nie;
• dankie dat julle deur julle aanvaarding van my en deur julle gebruik van my, elke dag my roeping herbevestig;
• dankie dat ek saans moeg huis toe kan kom en kan weet my lewe onder en saam met julle het ‘n bepaalde “significance” wat vir my die lewe die moeite werd maak en my laat voel dat ek regtig nog steeds besig is met my oorspronklike roeping;
• dankie dat julle bereid is om my en my gawes weg te gee vir die wêreld buite die gemeente se grense wat vir my sê dat dit julle verstaan dat my roeping op die koninkryk van God gemik is;
• dankie dat só baie van julle funksies by my oorgeneem het waarin julle beter en waarmee julle gemakliker is as ek;
• dankie dat julle my in Februarie 2008 as julle dominee beroep het, want ek weet inderdaad dat ek vandag saam met julle op die regte tyd op die regte plek is;
• dankie dat ek ervaar dat ons saam intuïtief ‘n klomp dinge reg gedoen het sonder dat ons dit toe geweet het – duidelik begelei die Gees van Christus, op ‘n geheime manier, ons op die nuwe weg;
• dankie dat julle dit vir my moontlik maak om van harte vir julle te kan sê: Ek het julle lief !
• dankie dat ons saam die Vader, Seun en Heilige Gees met vreugde kan dien.

Liewe Gemeente van Agter-Paarl

Ek skryf vir julle ‘n brief na dag twee en drie van die geestelike leierskapkursus waarheen julle my gestuur. Ek het goed geluister wat die dosente sê en God se stem verrassend helder gehoor. Ek wil vir julle, as gemeente, kom sê:
• Leaders are Lovers: ek verstaan dat ons in die gemeente nog meer klem kan lê op die onderlinge verhoudings en dat ek om hierdie rede nog meer geleenthede moet soek vir persoonlike kontak (nog meer huisbesoek ?); ek verstaan dat ons eers mekaar se harte moet verstaan voordat ons mekaar se woorde kan verstaan; ek het gehoor dat ‘n leier eintlik “a one-man-thanking-machine” is, en dat ek meer aandag sal moet gee om mense te laat goed voel oor hulleself (in die verlede het ek altyd geglo dat ogv Jesus se instruksies dankie-sê eintlik ongewens is … ek is nog steeds nie só seker oor hierdie saak nie, maar ek hoor tog dat mense ‘n behoefte het aan erkenning …)
• Leading is the act of enabling: ek is geneig om my eie gawes met oorgawe te beoefen en is nie eintlik daarop ingestel om leiers te kweek nie en besef dat ek hieraan sal moet werk / op ‘n manier is ek in hierdie saak eintlik ‘n bietjie selfsugtig deurdat ek té veel tyd aan my eie ontwikkeling gee en té min aan die ontwikkeling van ander
• Leading is being and doing: in my bediening tot op hede het “being” ongebalanseerd meer prioriteit geniet bo “doing” en ek besef dat ek tog meer dinge in die gemeente sal moet struktureer en organiseer, al hou ek nie daarvan nie ! Ek is natuurlik bang dat ek in die proses die ongesondheid van besige, gejaagde en doelwitgedrewe proffesionele dominees sal opdoen !
• Leaders need other leaders and feedback: ek besef die noodsaaklikheid daarvan om ‘n kleiner groep gemeenteleiers bymekaar te kry om gereeld vir my te help om te verstaan wat in my lewe en in die lewe van die gemeente aan die gang is / ek verstaan ook dat ek tog vir myself ‘n “amptelike” mentor moet kry wat my ook hierin kan begelei / ek wonder wel nog oor die verskil tussen ‘n goeie vriend en ‘n mentor
• Leaders lead best when focusing on their strong points: ek besef dat wanneer ek aanpassings aanbring in my leierskap ek versigtig moet wees dat ek nie só op my swak punte konsentreer dat ek uiteindelik my natuurlike sterkpunte verwaarloos nie – in só ‘n proses is die eindresultaat nie vooruitgang en groei nie !
• Ek sal baie hard moet gaan dink aan die gesegde: “God vat ons soos ons is, maar los ons nie soos ons is nie”. In lyn met die MBTI-uitgangspunt dat ons persoonlikhede geneties bepaal is, sal ek weer moet gaan kyk na die hele saak van herskepping. Ek is dalk té geneig om myself en ander toe te laat om genetiese bepaaldheid as ‘n verskoning te gebruik waarom ons nie hoef te verander nie !

Slot:
My roeping as gewone gemeente-dominee wat deur sy gemeente as ‘n gestuurde gesien word, is opnuut vasgemaak. Ek besef dat itv die algemene bestuurswetenskappe ek bepaalde tekortkominge het. Ek weet egter dat ek liewers as onvolmaakte op die regte tyd en op die regte plek met my Godgegewe roeping besig wil wees as om as “volmaakte” op die verkeerde tyd en op die verkeerde plek met my eie ding besig te wees. En dit is baie goed om dit te weet !

Christo van Staden

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

VBO 1

Geestelike Leierskap

1. Wat het jy vir jouself geleer?

Dit was vir my baie kosbaar om maar net weer te besef dat die Here my geroep het teen alle natuurlike aanlegte en verstaan van myself in!.Dit was lekker om dit met ander te kon deel en dit sommer weer vir myself af te stof.
Ek het die groepie waarin ek was verskriklik geniet, daar het ‘n baie diep band tussen ons ontwikkel.

Ek is so ontsettend dankbaar dat ek weer die onbeskryflike voorreg het om voltyds in die bediening in ‘n gemeente te staan. Ek het maar net weer ontdek dat die bediening my gekies het en dat ek dit beslis nie self gekies het nie. En,ja…om maar net weer te besef dat my roeping my in ‘n leierskapsrol geplaas het waar ek ander mense positief kan beïnvloed.

Ek wil graag nog sommer baie lees oor leierskap.

2. Wat kan of moet jy gemeente toe vat?

In ‘n makro-gemeente soos ons loop jy maklik die gevaar om in ‘n onpersoonlike bedieningstyl te verval en net te sorg dat strukture in plek is. Vir die ontwikkeling van leierskap, is en bly verhoudings sekerlik die mees belangrike omgewing waarbinne leierskap ontwikkel kan word.

Ek sal graag vir my die “luukse” wil gun om met ‘n paar mense in die gemeente op ‘n gereelde basis bymekaar te kom en te gesels oor die gemeente en God se pad met ons.

Daarom sal ek graag baie meer tyd wil spandeer met sekere spanne in die gemeente en veral met die omgeegroepleiers waarvoor ek verantwoordelik is. Ek sou graag wou sien dat daar baie meer ontwikkeling van leierskap in die gemeente is. Ek is opgewonde en dankbaar oor die hoë vlak van leierskap wat alreeds in die gemeente is en funksioneer.

Ek sou graag wou sien dat die kerkraad ‘n baie meer doelgerigte visioneringsrol vervul en dat die daaglikse bestuursgoeters op ‘n ander vlak hanteer word. Kerkraadsvergaderings se inhoud moet ook in lyn hiermee gebring word.

3. Waaraan sou jy graag saam met ander verder wou werk?

Daar was tydens die kursus ‘n te groot gaping tussen die twee dele( Coenie en Braam). Ek sou graag die twee velde meer geïntegreerd wou sien.

Ek hou van die goeters oor roeping en die verhoudingsaspekte binne leierskap en sou meer daaroor wou werk.
Baie dankie vir ‘n uiters verrykende ervaring. Dit het vir my baie beteken!