Christo Botha

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

Geestelike leierskap 11 – 13 Maart 2008

• Wat het jy (vir jouself) geleer?

› Ons gesprek oor en besoek by ons roeping help my baie op die oomblik. Aanvanklik het ek nie geglo dat daar iets is wat ek nie al gesien of gehoor het nie (rondom my roeping).

MAAR, hoe meer ek daaroor gepraat en gedink het, het ek besef dat God my nie net geroep het nie, Hy het my geroep met ’n spesifieke werk. Op die oomblik verstaan ek dit so:

God is besig met sy mense (ons / gemeente / gemeenskap) en sy skepping (natuur).

Hy is besig om dit / ons nuut te maak (om ons te help om te wees soos hy dit oorspronklik bedoel het).

In die proses gebruik hy mense (vir my ook).

Hy roep my om deel te wees van hierdie proses.

Hy roep my om:
◦ mense na plekke toe te vat waar hulle nog nooit voorheen was nie;
◦ mense na plekke toe te vat waarheen hulle nie op hulle eie kan of noodwendig wil gaan nie.

◦◦ Die Eksodus storie is my storie en ek is dankbaar dat ek weer kon dink en praat daaroor, want God het my op ’n nuwe manier daarmee kom vat.

› Om mense daarheen te lei het ek nodig om genoeg tyd te maak met:
◦ God (ek wil mense lei as navolger van God)
◦ die Mense (Jesus het nie ’n boek geskryf nie, Hy het ’n gemeenskap gevorm)
◦ myself (bestuur van myself, my energie, kreatiewe rus, musiek, stilte ens.)

• Wat kan / wil ek gemeente (Kerkraad) toe vat?

Ons land en ons kerk gaan deur moeilike tye en in tye soos hierdie gaan dit Geestelike-leiers vra wat met visie, passie en energie die wolk kan raaksien en volg (Numeri 9, deel van ons gemeete se storie).

Daarom is ons besig met ’n proses om die te sorg dat ons die wolk sien en deel van ons proses was om reeds op die 17de Maart te begin kyk na Braam se DVD reeks (Gereedskap vir geestelike leierskap).

Ons het ook besluit om vir Frederik te kry om ons te help met hierdie proses.

◦ Ongelukkig is die Kerkraad nie altyd die vaardigste leiers of die ouens met die passie, visie en energie nie, daarom wil ek probeer om die Kerkraad te help (vir nou met die DVD van Braam) sodat die Kerkraad die span/leiers kan word/wees wat nodig is om ons gemeente en gemeenskap te lei deur moeilike tye.

◦ Die ander idee wat ek het is dat ek en my 2 kollegas met mekaar gesels oor ons roepingsverhale. Ek dink die persoonlike aard van elkeen se storie gaan ons help om mekaar beter te ken (en te vertrou). Daarna is my hoop dat ons die stories van met ons Kerkraad kan deel sodat hulle ons ook beter kan leer ken en verstaan.

• Waaraan sou jou graag verder wou werk?

Ek lees op die oomblik: The Starfish and the Spider (The unstoppable power of leaderless organizations) van Brafman & Beckstrom. Dit is ‘n boek met vars perspektiewe op leierskap binne organisasies in ‘n nuwe tyd. Ek weet daar is baie ander ouens wat ook besig is om goeie goed te lees, dit sou lekker wees om saam met ander ouens te lees en te werk.

Waaoor spesifiek? Ek is nie seker nie, maar sou wou hoor waarmee groepe besig is en sal wil deelneem aan ’n gesprek iewers.

Christo Botha
(Toringkerk, Paarl)
021 8720275
0844900923
christo@toringkerk.co.za

Carel Smith

Written by webmeester on . Posted in Vorige kommentaar

VBO Werkswinkel 11-13 Maart 2008 Stellenbosch
Geestelike leierskap

Laat ek begin deur te sê baie dankie vir Coenie, Braam en almal wat betrokke was by die skep van VBO vir ons predikante. Dit is so nodig om ons ingelig, opgeskerp en bemoedig te hou vir die tyd waarin ons lewe!

Ek lig ‘n paar sake uit wat my besonders geraak het.

Oit was vir my uiters sinvol om my storie as geroepene met die ander manne in my kleingroep te deel. Ek het weer die hand van die Here in my lewe en roeping bemerk en dit het my geloof versterk. Dit was ook geweldig bemoedigend om die ander manne se stories in die groep te hoor! Ek was werklik verras en versterk deur te hoor hoe die Here hulle geroep het en wat Hy besig is om in hulle bedienings te doen. Dit het my hoop vir my eie bediening versterk en ek het sommer ook ‘n paar goeie kontakte opgebou vir die pad vorentoe. Ek kon ook dinge waarmee ons tans in die gemeente besig is met hulle toets en uit hulle ondervindings leer.

Coenie, baie dankie vir die dinge wat jy uit jou hart met ons gedeel het. Die egtheid en deurleefdheid daarvan in jou eie lewe het my opgeval!

Jou paar opmerkings oor Iyding en ‘n dieper vertrou op die evangelie daardeur was vir my ‘n bevestiging van persoonlike geloofslesse wat die Here my leer.
Woorde soos, “Lyding help my onderskei tussen ware en valse hoop” en “ons leef minder uit die Woord van God as wat ons voorgee.” Jou eerlikheid en vaderlike openheid was vir my goed.

Dankie ook vir die lig wat jy op Purves se perspektiewe in verband met Christus se bediening onder ons nou, gewerp het en die kruisiging van ons eie bediening. Die diep geheimenis van die evangelie nl. Christus onder ons, is ‘n geestelike realiteit waarvan ons beslis te min hoor en waarin ons te min glo! Dankie ook vir jou vir jou kinderlike geloof in die Skrif as die Woord van die lewende God! Dit doen my hart goed om te weet daar is leiers in ons kerk wat in hulle hart steeds by die Sola Scriptura staan!

Dan het die belangrikheid van ‘n mentor vir my uitgestaan. Ek besef dit al meer maar moet meer doen om sulke mense in my eie lewe ‘n groter rol te laat speel.
Beter prioritisering en dissipline is nodig.

Jou perspektiewe op ons bediening in ‘n Afrika-konteks het ook sterk met my gepraat. Ek kon nie help om die diep kommer van moeilike dae wat vir hierdie land voorlê in jou te lees nie. Maar, ja, soos reeds gesê, Iyding is nie net sleg nie, dis soms brood nodig! Dit was ook bemoedigend om te hoor dat die senterpunt van die Christendom vir die volgende 50+ jaar in Afrika en Suid-Amerika Iê.

Dankie ook vir jou Braam dat jy die wye veld van leierskap vir ons meer oop gebreek het.
Dit was inderdaad ‘n voëlvlug oor sake waaroor mens baie langer sou kon gesels.

Sake wat my geraak het is dat ons in die kerk soms baie swak leierskap het en dit dan met allerhande verskonings pro beer verbloem. Dit is goed om te weet dat ons as leraars ook leiers is, en dat ons daardie verantwoordelikheid moet nakom na die beste van ons vermoë.

Dit was ook goed om weer te hoor dat ons konteks gedurig aan die verander is en dat dit beteken dat ons ook moet verander. Stagnasie in die bediening is ‘n groot gevaar en kursusse so os die VBO en ander help mens om in pas te bly.

Die gedeelte oor emosionele intelligensie was baie insiggewend. Ja die rooi ligte van uitbranding flikker ook vir my en dit was nodig om dit te verstaan en daadwerklik iets daaraan te doen, sonder om skuldig daaroor te voel! Dis nie so maklik nie!

Ek sal so bly wees as ons kerk meer kan maak van die Sabbatsrus beginsel, waar leraars byvoorbeeld na 10 jaar in die bediening ‘n jaar van rus en input moet neem! Die 2 ure per dag vir 12 weke was ook ‘n rein gedagte en Fanie se gedagtes rondom af tye was goed om van kennis te neem.

Braam ek is ook bly dat ons by die saak van konflik stilgestaan het, omdat dit ‘n baie groot realiteit is binne ‘n makrogemeente! Misverstande, swak kommunikasie, swak leierskap, swak bestuur en vertroue wat geskend is, is dinge waarmee ek baie te doen kry in die bediening.

Ek sal dit baie sinvol vind as ons dalk vorentoe by sake soos die hantering van konflik en El langer kan stilstaan en ‘n bietjie dieper kan werk, met ‘n paar oefeninge in die kleingroep byvoorbeeld.

Nogmaals Braam en Coenie, dankie vir julle insette. Ons het dit nodig en dit was beslis ‘n geslaagde wegspring vir die VBO!

Carel Smith (Suider-Strand)

Wonderlike boek

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

Ek het die boek gelees en ek moet se dit het my verstaan van die Afrika wortels van die Christendom radikaal verander. Vir ons tuiskoms in Afrika geestelik en teologies is hierdie ‘n wonderlik toetrede. Ek kan eenvoudig na die boek nie mer oor die Christendom dink as ‘n Westerse godsdiens nie.
Frederick Marais

Ons kan mekaar inspireer

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Jy het my saam met jou op reis geneem na Ellisras se mense, ‘n oorsig gegee oor klomp menslike temas, geloof, swaarkry, hoop, verandering, diversiteit, aanvaarding. Jy maak my weer bewus dat ek nie maar net preek en huisbesoek doen en begrafnisse hou nie, maar waarnemer en deelnemer is aan die beweging van die Gees deur mense, ook deur gemeentes. Ek moet self meer sensitief wees as geestelike leier, meer hoopvol, meer bereid om te bly glo, te bly werk, risiko’s te neem, meer te luister, meer lief te he, meer te onthou ek is deelnemer aan God se magtige beweging deur mense en die geskiedenis, deur Afrika en die Afrikaner wie ons bedien. Dit is inspirerend geskryf en hoopvol. Dankie. Leon Venter

Waardes van Communitas en kommentaar op www.communitas.co.za

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

www.communitas.co.za is ‘n oop ruimte waar predikante en gemeenteleiers oor gemeentebediening en roeping by mekaar kan leer.

Ons is baie opgewonde oor die toename in gesprek die afgelope tyd op die webblad. ‘n Oop ruimte kan egter net oop en veilig bly, indien die waardes van die ruimte eerbiedig word. Ons waardes is

  • ‘n Waarderende en leerbare ingesteldheid teenoor die gemeente
  • Deernis & egtheid in ons begeleiding en ondersteuning van predikante en gemeenteleiers
  • Uitnemendheid tov die kwaliteit van ons dienslewering
  • Geloofsverwagting en –afwagting t.o.v. wat die Drie-enige God in en deur gemeentes kan doen
  • Die stel van voortdurende uitdagings
  • Onderlinge goeie verhoudinge

In onlangse kommentaar in die gesprek oor Roeping en die werk van Allan Hirsch is die waardes nie eerbiedig nie. Wanneer standpunte gestel word deur ander se bydrae te diskrediteer, word ons waardes oortree. Deur bv. na mense verwys word as “new age” of “kwasi new age” sonder om inhoud aan die stellings te gee nie, word die oop en veilige ruimte bedreig.

Ons sal soos in die verlede oop gesprek aanmoedig ook en juis as ons van mekaar verskil.

Bydraes sal in alle gevalle gemeet word aan bg. waardes van www.communitas.co.za.

Moralisering maak ons emosioneel onintelligent

Written by Frederick on . Posted in Vorige kommentaar

Jampie verwoord m.i. die uitdaging vir ouers uitstekend – ook ons onvermoë om emosioneel intelligent te probeer optree as ons kinders met ons in gesprek is. In aansluiting by Jampie vind ek dat die verstek posisie van ons as “gelowige” ouers die van ‘n moralisering is. Ons onvermoë om die emosies te hoor, is omdat ons onwillekeurig neig daarna om ons kinders se kommunikasie moreel/eties te beoordeel. Byna asof ons dink die belangrikste ding wat ouers doen, is om te be-oordeel en dikwels te ver-oordeel of ons kinders reg of verkeerd is en dat dit ons taak as ouers is om hulle vernaamlik te wys op waar hulle verkeerd is. Ons sal ‘n nuwe verbeelding moet ontwikkel van ouerskap wat bevry word van hierdie moralistiese verstekposisie. Jampie en Alta is korrek, as ek hulle reg verstaan, dat ons eerste taak is om goed te luister en veral die emosies van ons kinders te verstaan en te verwoord. Eers dan ontstaan die moontlikheid dat ons saam met hulle – dit is die punt van positiewe ouerskap se deelnemende ouerskap – ook kan en moet dink oor moraliteit. Ek vind dit besonder moeilik om bv. oor die TV kultuur van die nuwe generasie – sluit ook maar Face Book ens. in, is ek vanuit my generasie eintlik uit beginsel geneig tot ‘n negatiewe instelling hieroor – dit is vir my tydmors – maar vir my kinders is dit ‘n lewensnoodsaaklike deel van hulle sosialisering. Indien ek nie bereid is om vanuit die ervaring van my kinders daarna te kyk nie, sal ek dit moeilik vind om te verstaan hoekom dit vir hulle so belangrik is. Ek druip gewoonlik die toets.