Die Christen en kuns

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

Koning Dawid pleeg owerspel met Batseba die vrou van Urija’n soldaat in sy weermag. Dawid probeer sy seks met haar toe smeer. Sy raak swanger en Urija sterf. Die regerende party leier Zuma (vandag SA president) het seks met sy niggie en stort sy skuld af. Dit kom vir my voor dat pres. Zuma soos Dawid van ouds seksbehep en lief vir vroue is. Dan is daar tussen die twee tydperke die brutaliteit van Herodus se soldate wat onskuldige seuntjies doodmaak om sy mag te bekragtig en God se liefde wil ontmagti; dit herinner ook aan die Farao se kinder massamoord.

 

Daar bestaan ooglopende ooreenkomste in die drie verhale, maar ek wil nie die ooreenkomste oorbeklemtoon en geforseerde afleidings maak nie. Ek is nie ‘n kunskenner nie, kriminoloog of seksoloog nie, maar ‘n Bybelleser wat deeglik bewus is van al die magspel en vergrype wat in teks vir die leser geskets word. Verhale van korrupsie, onreg, moord en seksuele vergrype kom gereeld in die Bybel voor. Die mooi van ontblote liggaamlikheid en die lelike van blote sekslus en die deernis vir die geringstes en die boosheid van die verdrukkers word sonder om doekies om te draai in die Bybel duidelik uitgebeeld.

Ek dink ‘n sentrale tema van die drie skilderye is mag. Die preokkupasie van tradisionele mag word deur manlike vooroordele gevorm, as ‘n modus van dominasie en beheer. Die tipe mag het skadelike gevolge in die vorm van verdrukking en geweld. Dit word in religieuse taal as afgode van brutale krag, selfgesentreerdheid, onverskilligheid en perversiteit gereken.

Jesus in die Christelike geloof wys op die prysgee van mag, maar die gawe van bemagtiging wat tot vryheid, geregtigheid en transformasie van almal veral die geringstes, kwesbares, swakkes en weerloses lei.

Ons het ‘n vrye keuse! Ons kan saam met die ANC beswaardes of anti-naaktes teen Murray se Zuma beeld, protesteer en dit toesmeer; of ons kan die spirituele kommentaar van Murray raaksien, daaroor nadink en indien dapper genoeg standpunt teen magsmisbruik inneem.

Ek stem met Julian Müller saam:“ ’n Keuse vir Jesus en sy evangelie is ’n keuse teen elke oorheersende en onderdrukkende magsisteem. Dit vra standpuntinname teen die populêre tendense”.

Murray se kuns spieëlbeeld vir my iets van die realiteit van mag en die potensiaal van die misbruik van tradisionalisme, chauvinisme, gender diskriminasie en Leninisme. Dit is soos ‘n twee-snydende swaard, dit ontbloot seksuele en politieke mag en neem standpunt daarteen.

Die Bybel leer ons in die een kant om die gesag van die owerheid te respekteer (Rom 13); maar aan die ander kant om verdrukkers teen te staan (Openbaring 13), soos in die dae van apartheid. Deesdae behoort ons teen die magmisbruikers, homofobiste en sekslustiges standpunt in te neem en Murray se kuns op ‘n volwasse wyse te waardeer en te evalueer. Andersins hoef jy bloot net nie te kyk nie, hy het in die eerste plek nie vir ‘n kerkgehoor geskilder nie.

Terloops “The Spear” bestaan nie meer nie, Murray se storie is kort geknip.

Boksies

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

Wat ookal jy dit noem, dit geld egter nie net vir predikante nie, noem nou maar enige manier van menswees en iemand gaan ‘n bepaalde stereotiepe daaraan heg. Van motorwerktuigkundige tot prokureur, van doktor tot skoonmaker, van onderwyser tot orrellis. Zulu, Xhosa, Afrikaner. Ryk en arm, geleerd of ongeleerd. Bruin of wit, Afrikaans of Engels. Gelowige of ongelowige. Al hierdie name skep sekere prentjies in mens se gedagtes en maak bepaalde verwagtinge in ‘n mens los.

Wanneer ons egter kyk na die stories wat vertel word oor die groot geeste van toeka tot nou, sien ons keer op keer mans en vroue wat teen die stroom op, die stereotipes van hul konteks afbreek en in die plek daarvan ‘n nuwe manier van menswees vir die res van ons wys. Van Ghandi tot Ingrid Jonker, van Antjie Krog tot Moeder Theresa, van Che Quervo tot Madiba, van Koos Kombuis tot Nataniel, van Aartsbiskop Tutu tot my buurman die kunsinnige Sandton prokureur wat in sy rooi volksie werk toe ry en skaamteloos tussen mercedes en porsch parkeer. 

Een van my gunsteling stories van een van hierdie tydlose geeste is die een waar ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie agterdogtige reputasie vir Jesus op ‘n snikhete Midde-Ooste middag by ‘n waterput ontmoet. Dis net hulle twee. Dis heeltemal ongehoord. As die kerkmense hiervan sou hoor, sou die tonge los wees.

En dan begin Jesus met haar gesels. Sy reageer met skok en verbasing: “Hoe vra wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou water om te drink?” Jesus is besig om die sosio en religiuese gedragskodes van sy Joodse identiteit te ondergrawe. Hy kan in groot moeilikheid beland. Skande op die huis, om die minste te verwag.

Maar so begin Jesus, met ‘n beker water die mure van stereotipes tussen hom en die vrou afbreek. Kort voor lank deel sy haar lewensverhaal met Jesus en voor sy (en die dorpie) en Jesus hulle oë kon uitvee, is almal se lewens vir goed verander!

Nog ‘n mooi storie wat vertel word is van die wit Anglikaanse priester wat tydens die storm en drang jare van ons land se geskiedenis, met ‘n doodgewone gebaar van hoflikheid die mure van rassisme afgebreek het. ‘n Swart vrou en haar seuntjie stap op die sypaadjie in die rigting van die priester, toe hulle groetafstand van hom is, haal hy sy hoed af en groet haar en haar seun vriendelik. Die seun word groot, hy word ‘n man, hy word ‘n profeet, hy word deel van die revolusie, hy is nog steeds die gewete van die volk. Die seun is Aartsbiskop Tutu.

Dis net tot ons eie nadeel wanneer ons kies om die stereotipes oor die sogenaamde ander in stand te hou. Ons verarm onsself en ontneem ons van die krag van die koms van die Koninkryk van Jesus wanneer ons te gou, te vinning iemand wat nie soos ons lyk, praat en dink nie, in ‘n boksie probeer sit. 

Zuma ontken die vrug van medemenslike Christene

Written by Frederick on . Posted in Menswaardigheid

Christene kan mense se harte verander en aan hul waardigheid gee. Die politieke kommentator Matthew Parris se artikel “As ateïs glo ek werklik Afrika het God nodig” (By van 21.2.2009) gee uit ‘n verrassende oord ‘n baie positiewe getuigskrif oor die Christelike geloof se impak op Afrika. Hy het as oortuigde ateïs onder die indruk gekom van die “enorme bydrae wat Christelike evangelisasie in Afrika lewer: dit is radikaal anders as die werk van sekulêre nie-regeringsorganisasies, regerings projekte en internasionale hulp pogings. Sulke pogings alleen werk nie. Opvoeding en opleiding alleen werk nie. In Afrika verander die Christelike godsdiens mense se harte. Dit bring geestelike transformasie. Die wedergeboorte is werklik.” Dis die vrug van die Christelike geloof: dienende medemenslikheid!

Ons leef in ‘n wonderlike tyd. Daar is ‘n nuwe entoesiasme vir geestelike diepte in die Christelike geloof. ‘n Eietydse, verantwoordelike manier van glo, vernuwing en gestuurdheid is aan die ontwikkel . Dis nie orals aanwesig nie en ook nie noodwendig tot die kerk beperk nie.

Medemenslik

Dis hoog tyd om dit hardop te sê: “Baie Christene is medemenslik, het deernis en stry vir reg en geregtigheid”! Hulle is besorg oor die welwese van die fauna en flora op die aarde, erken hul afhanklikheid van die natuur en ondersteun volhoubare en eko vriendelike ontwikkeling. Hulle waardeer die ontwikkeling van die wetenskap. Hulle respekteer mense met ander geloofsoortuigings en sal as gelykes in gesprek met hulle tree. Hulle is gelowiges wat nie dogmas op ander afdwing nie. Hulle deel ‘n gemeenskaplike menslikheid met ander en word nie deur die verskeidenheid en andersheid van ander bedreig nie, maar ervaar dit as verrykend. Hulle streef daarna om humaan op te tree, hulle erken die regte en vryheid van ander mense en ondersteun met ander belange-groepe ‘n vry en demokratiese wêreld. Hulle is Christen humaniste. (John de Gruchy, 2006. Being Human – Confessions of a Christian Humanist)

Apartheid

Die oudste kerk in die land, die NG/VG Kerk het in samewerking met ander geloofsgemeenskappe steeds baie te bied. Die spirituele diversiteit onder eie geledere; die nuwe politieke klimaat in die land, en die kulturele andersheid onder die inwoners daag nie net die oudste kerk uit nie, maar alle geloofsgemeenskappe om nie ter wille van hulself en hul eie ideale te bestaan nie. Dis wat Christelike medemenslikheid beteken.

Christene is in staat om met ander geloofsgemeenskappe versoenend te leef en geregtigheid te internaliseer en ander daarmee te bedien. Gelowiges is goed om mense met verskillende fisiese en emosionele seer pastoraal te ondersteun. Die herstel van menswaardigheid en geregtigheid geniet heelwat prioriteit.
Dit is so dat beginsels, waardes, oor dit waarin mense glo en nie glo nie vir Christene belangrik is. Maar die Christelike geloof gaan oor meer, oor menswaardigheid, medemenslikheid, verlossing wat gelowiges nie meer godsdienstig maak nie, maar meer volledig mens maak.

God word deel van die mensheid

Dit is die nuwe mensheid van Christene wat ‘n erkende ateïs soos Parris raak en ‘n verskil in ‘n onmenslike samelewing maak. Dié mensheid van die Christelike geloof bepaal die waarde wat die Goddelike oorsprong definieer. God word deel van die mensheid en deur Christus kry die mense deel aan die Godheid. God word sigbaar deur ‘n mens en deur die mens se lewe word God sigbaar, som myns insiens die Evangelie in ‘n sin op. Dis veral in hierdie Kerstyd dat ons hiervan bewus is. Daar is dokters, verpleegsters, sielkundiges, beraders, onderwysers, gemeenskapswerkers, regslui wat onder haglike omstandighede op grond van hul Christelike geloof wêreldwyd mense dien. Nelson Mandela is ‘n Christen humanis. Hy was tydens sy studente jare aan die Universiteit van Fort Hare lid van die Studente Christelike Vereniging. Hy het Bybellesse aan mense in gehuggies gegee.

Dis veral Christene en ander gelowiges wat weggooikinders en vergetebejaardes se waardigheid herstel. Ons kan gerus erkenning gee aan die verskil wat Christene aan mense se waardighed bring.

Vee eers voor jou eie deur

Dis jammer dat dat daar ouetehuise en kinderhuise is, dit is gewoonlik te geïnstitualiseerd en onpersoonlik. Wat moet ons doen as daar nie ‘n heenkome vir duisende noodlydendes en verstotelinge elders is nie, en mense boonop meer selfsugtig en geldgierig raak? President Zuma soek die oorsaak by die verkeerde plek, hy moet dalk eers voor sy eie deur vee, sy werf lê waarskynlik vol beendere van sy vorige feeste.

‘n Mensgerigte ekonomie broodnodig vir Suid-Afrika

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

In wese beteken ekonomie die wyse waarop mense in verhouding tot mekaar die beskikbare bronne benut. Kyk jy na die etimologie van hierdie woord, dan sien jy dit het te make met “huisbestuur”. Loer  jy verder, dan kom jy by die religieuse betekenis daarvan, naamlik “die geestelike bestuur van die wêreld”. Ekonomie het met verantwoordelike rentmeesterskap te make. Maar die hart, die gees, die menslikheid van die ekonomie is aangetas. Die ekonomie word tans deur meedoënlose kompetisie, ‘n uitermatige verbruikerskultuur en groot winsneming gekenmerk. Natuurlike en menslike bronne word uitgebuit ten spyte van wetgewing wat die ekologie en arbeiders probeer beskerm. Die ekologie het met ekonomie te maak (eko verwys na huis); ekologie en ekonomie is interafhanklik.

Die waardes van die heersende ekonomiese stelsel trek al hoe meer skeef – korrupsie is aan die orde van die dag. Die planeet se vermoë om mense te voed en te onderhou neem af. Dit is veral te wyte aan gierigheid, en aan die fel en genadelose wedywering om meer geld te maak. Reeds 350 jaar v.C. het die Bybelse filosoof Qohelet die volgende oor die sinloosheid van die sug na rykdom gesê: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit  genoeg in nie.” Hy wys daarop dat rykes aan slapeloosheid ly; hulle slaap onrustig, want hulle is nie seker of hul geld veilig belê is nie (Prediker 5).

Die liberale ekonomie fokus op die skep van welvaart – wat opsigself nie sleg klink nie. Maar dit lei in werklikheid tot ‘n ongesonde ekonomiese balans, want veral die menslike faktor word verwaarloos; dit is juis nie-materiële aspekte soos die psigologiese, spirituele en sosiale behoeftes wat volhoubare sin in die lewe gee. In Suid-Afrika raak armes armer en rykes ryker. Met swart ekonomies bemagtiging (SEB) word op skandalige wyse slegs ‘n klein groep uit die swart elite verryk. Werkloosheid neem toe. Die Gini-koëffisiënt wat materiële ongelykheid meet, kan wissel van 0 (heeltemal gelyk) tot 1 (wat beteken 1% van die bevolking verdien 100% van die inkomste). Suid-Afrika se Gini-telling was onlangs ‘n uiters hoë 0,6.

Die verbruikerskultuur gegrond op wedywering vererger die stand van sake. Ons stuur op ‘n rewolusie af. Die geldhebbers gaar meer rykdom op, terwyl die geldloses frustrasie beleef in hul sug na die luukse waaraan hulle op kunsmatige wyse blootgestel word (deur byvoorbeeld advertensies). Hoe hoër die mure om eiendomme in die voorstede gebou word, hoe laer raak die moed en geduld van die geldloses in die townships. Aggressie groei, en protes raak alledaags. Ons kan nie die gevolge van die soustrein op ons land se ekonomie en werkloosheidsyfer ontken nie. Die miljoene wat sommige amptenare en sportmanne verdien, maak mens klaar siek.

Voorstanders van die sogenaamde na-moderne ekonomie keer terug na die idee dat ekonomie ‘n menswetenskap en in diens van mensontwikkeling is; dit is aards en behoort iets van Afrika se gewaardeerde waarde van medemenslikheid (Ubuntu) te weerspieël. Medelye pleks van mededinging; samewerking in teenstelling met kompetisie het vroeër hier die voorkeur geniet.

Die ryke gevolge van samewerking word wonderlik deur die moderne biologie geïllustreer. Ons liggame is ‘n uiters goeie voorbeeld van samewerking tussen selle en organe. Terwyl verskillende groepe selle in harmonie funksioneer, bly die liggaam gesond. Met kanker woeker party selle ten koste van ander, en word die oorlewing van die liggaam bedreig. ‘n Ander voorbeeld is die eensellige amoeba. Amoebas “vreet” apart wanneer die woud se vloer ryk, groen en sappig is. Met droogte maak hulle nie soos mense tipies sou reageer nie, maar groepe “smelt” as ‘t ware saam en oorleef as ‘n tipe slak.

Die Tsonga- spreekwoord “Jy kyk nie in die mond van die melkman nie” verwys na die verhouding tussen werkgewer en werknemer. ‘n Werkgewer wat met ander meeding, wil natuurlik nie sy profyt deel nie – maar dit is kortsigtig. Die moderne ekonomie laat nie die melkman toe om van die melk wat hyself gemelk het te drink nie. ‘n Mensgerigte ekonomie gegrond in Afrika – gewortel in samewerking en deling – sal op die lang duur die samelewing heel. Die spreekwoord dui op ‘n koöperatiewe verhouding, mede-verantwoordelikheid en  wedersydse respek tussen werker en eienaar.

Die ekonomie van ons land behoort aan almal, ook aan gewone en arm mense. Almal is gelas met die saak. Ons moet hart, gees en menslikheid in die ekonomie terugbring, sodat die Afrika-son op almal skyn, anders kom daar nag!

Vyf redes waarom ek dink armoede konferensies werk nie

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

2. Toewyding

Die Kraaifontein konferensiegangers het ‘n verklaring as toewyding uitgereik. Dit is deeglik deur dink en staan as die Kraaifontein Commitment bekend. Lees gerus die verklaring. Daar het na my wete niks konstruktief ten opsigte van armoede bestryding uit die dokument voortgespruit nie. Ek was gelukkig om die dokument na ses jaar in die hande te kry. In vergelyking met die insette voor en na die konferensie was die uitkoms indien enige minimaal.

3. Raadsaal teologie

Die gepratery oor armoede bevoordeel nie die massas nie. Alhoewel dit nie vir die Kraaifontein konferensie gegeld het nie, vind dié teologie gewoonlik in lugversorgde goed toegeruste en veilige omgewings plaas. Dit dien as goeie bemarking vir die maatskappye en sus die gewete van donateurs. Dis gewoonlik raadsaal teologie wat op intellektuele vlak nie die grondvlak bereik nie.

4. Sonder basuin

Ek herinner my aan moeder Teresa se besoek in Suid-Afrika en haar nederige verskyning by die skilpadsaal, in Pretoria. Sy was deur my senior kollegas (kerkleiers) oor haar onkunde oor apartheid gekritiseer. Wat sy in haar bediening in die stegies van Kalkutta gedoen het, kan min nadoen. Sy het nie gepraat oor, maar sy het haar hande vuilgemaak vir die herstel van God se mense se Godwaardigheid. “‘Geliefde sieke’, sal ek sê, ‘jy is dubbeld kosbaar vir my, omdat jy Christus vir my verpersoonlik; en wat ‘n voorreg is dit nie vir my om jou te mag versorg nie” (uit ‘n gebed van Moeder Teresa). Dit wat sommige gemeentes en lidmate buite die kerkmure doen saam met lydendes gaan waarskynlike sonder basuingeklank mee. Ek herinner my aan ‘n gemeente wat ingegryp het toe die xenofobie slagoffers in die skiereiland moes vlug het. Binne 24 uur was ‘n hele noodkamp opgerig. Die ANC regering en ander politieke partye het eers later wakker vanaf die soustrein wakker geskrik.

5. Voel vere

Ek het met kollegas die dag snoek, brood en chips met die kar se enjinkap as tafel geëet toe ‘n bedelaar weggejaag word. Ek hoor eendag ‘n dominee skree op straatkinders wat sy ou 323 met hul hande vuil vat. Ek is nie oortuig of konferensies oor armoede mense se harte en gesindhede, dominees se teologie en lidmate se geloofsoortuiging verander nie. Dit mag wel gebeur, as die Heilige Gees ingryp, maar dit lyk of hy eerder op Damaskuspaaie blootgestel aan wind en weer, waai. Jesus het sy tent tussen die armes kom opslaan.

Miskien het die onlangse Unyameko konferensie in sy doel geslaag, ek weet nie want ek woon nie maklik armoede konferensies by nie.

Pieter van Niekerk

Respek – 1ste RSG-onderhoud vir Sondag Aktueel

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

 In Latyns beteken respek om weer te kyk, amper soos oor-kyk. Letterlik beteken dit om te “re-spect” soos in spectacles. Dit vra vir ‘n ander, tweede en dieper kyk. Dit vra veral om deur die oë van Jesus te kyk, met ander woorde, respek vra dat ons geestelik kyk en dat ons deur die kruis van Jesus kyk. Hierdie betekenis van respek verweef daarom die kyk en die hoe – kyk (wat ons gesindheid, ingesteldheid en houding kan verraai), met ons optrede, of ons handeling op dit wat ons sien. Respek vra dus van ons om nuut te kyk, weer te kyk, deur Christus se oë te kyk, anders te kyk en daarom ook om anders te doen, anders op tree, anders te handel. Dus respek eis ten diepste dan om anders te leef.

Vraag 2 Hoe kan respek ons moreel sukkellende samelewing help.

As ons Respek verstaan, as weer-kyk of oor-kyk : Dan help dit ons klaar met ons verskillende verhoudinge. As respek ons basis van ons verhoudinge en sakebedryf word,  dit die gom van ons burgerlike samelewing word, dit die moraal tussen verskillende godsdiens-aanhangers en die norm in konflikhantering, dan vorder ons beslis in die morele opbou proses. So word dit ons vervoermiddel tot ‘n menswaardige samelewing en die etiese bedryf van sake.

Vraag 3. Hoekom is respek vir Christene so belangrik?

Vanuit ‘n Christelike perspektief, het ons respek en toon ons respek omdat ons glo almal in die beeld van God geskape is en ons daarom die beeldskap in die ander erken. So gesien, moet ons weet dat, wanneer ons respek aan ander toon, ons eintlik respek aan God in die persoon toon.

Vraag 4. Watter ander voordele hou dit vir ons in as ons mekaar respekteer?

Deur mekaar te respekteer, mekaar se besittings, verantwoordelikhede en veral lewe te respekteer, kan ons bevry word van al ons vooroordele, afguns, en stereotiperinge – Kan respek ons weglei en uitlei oor ons valse persepsies na vele moontlikhede van saamgroei, saamleef en samehorigheid,  saamdoen en saamleer tot die daarstel van ‘n beter veiliger gemeenskap waar respek in al ons wedervaringe soos ‘n kol op ‘n bruid se rok sal uitstaan. Want u sien, respek pleeg nie diefstal, verkrag nie, mishandel nie, is nie skuldig aan korrupsie nie, maak nie dood nie). Respek wek, respek skep, respek doen goed, erken en respek gun).

Respek wat in familie verband bloot gelê word, kinders wat van kleinsaf hierin onderlê word, skole wat  waardesisteem en waardebeoefeningsprogram ter inskerping ondesteun kan ’n onmeetbare bydra lewer in die skep van goeie en gesonde menseverhoudinge. Respek as bousteen kan ons beskerm teen onnodige seer, kommer, vrese, spanninge en konflik. Dit het die potensiaal om die onbekende aan ons te ontsluit en mense te transformeer tot vreedsame, omgee en respekvolle burgers.

Reaksie van Communitas vriende op Eugene Terre’Blanche se moord

Written by Frederick on . Posted in Menswaardigheid

Eugene Terre’Blanche is op Stil Saterdag, soos Chris Hani 17 jaar tevore vermoor. Vir baie van ons het Opstandingsondag aangebreek met die aanhoor van hierdie ontstellende nuus. Hier volg die kommentaar van Communitas vriende op Facebook ( die Kommentaar is nie in enige volgorde nie) Lees ook gerus Jannie Swart se bydrae hieroor Tussen Vrydag en Saterdag Voeg gerus jou kommentaar hierby sodat ons mekaar kan bemoedig.

Eugene Terre’Blanche oor Paasnaweek vermoor, soos Chris Hani 17 jaar tevore. Op menslike vlak is dit ewe tragies. Op politieke vlak verskil dit egter hemelsbreed van mekaar. Terre’Blanche het nie meer enige beduidende politieke rol gespeel nie. Neels Jackson

Die spiraal van wanhoop, polarisasie en onderdrukte agressie in ons land sal slegs gebreek word deur gelowiges wat doelbewus beign om die waardes van die Koninkryk te lééf al kos dit hulle alles. Dis wat Jesus gedoen het. Dis die prys wat ons ook te betaal het as ons die kruis wil opneem en Hom volg.Pieter steyn

Met Eugene dood en Malema singend, is ons grootste vyand nie ander of mekaar nie, maar ons eie irrasionele gedagtes. Probeer om nie te oorveralgemeen nie, weet ons is een nasie wat wil streef na vrede en gelykheid.Hennie Pienaar

Paanaweek is anders as enige ander naweek, ook al gebeur ontstellende dinge soos nou. Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” het Hy al ons benoudheid, al die krete om geregtigheid van alle eeue namens ons uitgeroep. Toe Hy die Sondag uit sy graf die vroegoggend binnestap, het …Hy ons opgetrek uit alle donker + ons voete op die vaste rots van ‘n oopbrekende hoop geanker.Johan van der Merwe

Dinge lyk bietjie anders van die kant, veral as dit 3 km van jou af gebeur…..Of dit nou oor geld was of oor Malema se uitsprake, ‘n boer is vermoor, toevallig een wat baie sterk voel oor die Afrikaner Marius Combrink

Alhoewel ek dit kan verstaan, is daar vandag op menigte ander plek ander mense ook vermoor, waarskynlik binne 3 km van waar ek is, en niemand gee om nie. Dit gaan defnitief nie die koerant se voorblad haal nie.

Of dit nou ‘n boer is, iemand wat sterk voel oor die Afrikaner of ‘n swart bedelaar van Zimbabwe in die strate van Soweto wat sterk voel oor oorlewing, ‘n politiese figuur of onskuldige mense in ‘n woongebied, iemand wat vir die ANC stem of vir die DA; moord is verkeerd.

Ons gaan alleenlik vooruit beweeg as ons alle moord, alle misdaad, alle ongeregtigheid veroordeel op dieselfde vlak. Dit gebeur nie in die media nie en dit is (myns insiens) deel van die probleem…. Hanno Langenhoven

Die bedelaar verkoop ongelukkig nie koerante of ideologiee nie; die moord van Eugene Terblanche gaan ongelukkig beide baat.

Persoonlik dink ek nie hierdie hartseer gebeurtenis kon op ‘n veel slegter tyd in ons politiese klimaat gebeur het nie. Hanno Langenhoven

Dis is vreeslik. ´n Mens hoef dit nie eens te wees met ET se standpunte nie, maar hy was ´n prototipe ´Boer´ wat op die verkeerde plek op die verkeerde oomblik daar was.Marcel Bas

Ek betreur die wreedaardige moord op ‘n Afrikanerleier, taalgenoot, strydgenoot en vriend Eugene Terre’Blanche en bsekou dit as ‘n politieke moord aangestig deur Julius Malema, die jeugleier van die ANC. Andre Alkema