Waardes in families: Meditasie 2

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

In ons saamdink oor waardes die week gaan dit vanaand oor families as die primere plek waar waardes gevestig word.  Een van die belangrikste funksies van ‘n gesin is om karakter te bou en waardes te vestig in kinders en dit word al hoe moeiliker, want vir die eerste keer maak ons kinders groot in huise sonder mure. Gesinne word ingeneem deur die tegnologie, deur rekenaars en TV waar alles letterlik in huise instroom en kinders besoedel word deur gemors wat hulle nie op hul ontwikkelingsvlak kan hanteer nie

Hoe vestig ons waardes in gesinne? Eerstens deur goeie verhoudings te bou met ons kinders, want sonder liefde, omgee, vertroue en respek kan kernwaardes nie gevestig word nie. Kinders moet weet wat die kernwaardes van julle gesin is, maar hulle het veral waardes met ‘n vel om nodig, daarom is jou voorbeeld deurslaggewend en is wat jy elke dag doen baie belangriker as wat jy sê. Deur die gesprekke in julle gesin, dit waaroor gepraat word, die musiek waarna geluister word, die stories wat vertel en gelees word kan waardes gevestig en karakter gebou word. Deur die eeue was stories ‘n kragtige middel om karakter te bou. Wanneer ‘n gesin besig is met projekte, bv. om ‘n weeskind te borg of om indringerplante uit te roei kan die waarde van omgee vir ander en die omgewing gevestig word. Deur met jou kinders te gesels oor etiese dilemmas en ook na hulle opnies te luister of dit nou ‘n onregverdige skeidsregter is of ‘n boelie in die skool, kan jy hulle help om oor waardes te besin.

Die slaggate waarin ouers dikwels val wanneer hulle waardes wil vestig by hule kinders is:

  • om voorskriftelik waardes voor te preek wat hulle self nie leef nie
  • om te fokus op selfbeeld en nie op karakter nie.

Hulle besef nie dat ware selfagting juis kom van etiese gedrag en die resultaat is daarvan dat jy kernwaardes leef en daarom besig is om van die wêreld ‘n beter en leefbaarder plek te maak.

Ouers is dikwels meer ingestel op die prestasie as op die karakter van hul kinders en gee baie aandag aan dit wat hulle kinders moet weet en kan doen maar fokus nie op watter soort mense hul kinders word nie.

Ouers is ook dikwels te veel ingestel op reels en fokus negatief op die straf vir die oortreding van reels i.p.daarvan om te fokus op die die positiewe leef van waardes,

Spreuke 22: 6 staan Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Efesiers 6:4 Die Boodskap moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.

Laat ons bid.  Ag Heer, dit is nie vandag maklik om ons kinders se karakter te bou en kernwaardes te vestig nie.  Ons sukkel self om die waardes te leef en is nie eers altyd ‘n goeie voorbeeld vir ons kinders nie.  Ons het so dikwels nie die wysheid om aan ons kinders leiding te gee nie en ons maak foute, daarom kom ons na U toe want U beloof dat as ons wysheid kortkom ons dit van U kan bid en dat U die aan ons sal gee. Heer help ons asseblief en gee aan ons die wysheid om so leiding te gee aan ons kinders dat  kernwaardes deel van hul karakter sal word en hulle eendag, as ons nie meer daar is nie, hul lewens daarvolgens sal rig.

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk

Waardes: Meditasie 1

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Omdat ons die week in meditasie gaan fokus op waardes wil ek u graag die verhaal van ‘n seun vertel.

Kom ons noem hom Jan en kom ons sê Jan is gebore op ‘n groterige dorp in Suid Afrika met ‘n ma ’ n pa en ‘n ouer broer en suster.  Jan was ‘n gelukkige, gesonde kind wat soos enige ander kind baie geleer deur dit wat hy sien en hoor.  Een dag toe hy saam met sy ma gaan inkopies doen, het sy met ‘n tydskrif onder haar arm by winkel uitgeloop, en toe hulle in die kar kom het sy besluit om nie terug te gaan en daarvoor te betaal nie, want almal doen dit mos af en toe.  Sy suster het dikwels aan ontbyttafel gesê dat sy nie haar huiswerk gedoen het nie, maar dit is niks, want sy sal dit sommer pouse gou afskryf by haar maats, want almal doen dit. Sy broer het gespog dat hy en sy pelle hulself ouer voorgedoen om te kan drank koop, want almal doen dit so.   Sy gesonde pa het een aand aan tafel gesê dat hy nog siekverlof oor het by die werk die jaar en dat hy daarom vir die week by die huis gaan bly.  Sy vrou moes net die volgende oggend die werk bel en sê dat hy siek is, want eintlik doen almal dit so.  Wanner hulle met vakansie gegaan het het sy pa dikwels sy gejok oor sy kinders se werklike ouderdomme, sodat hy minder kon betaal.

Jan het na skool in ‘n besigheid gegaan en gesien dat die meeste van sy kollegas in groot huise bly en met groot, blink motors ry.  Omdat almal so groot leef het hy eers op klein maniere en toe al meer sy inkomste op ‘n oneerlike manier begin “aanvul” en gedink dat hy dit later sal terugbetaal, want almal doen dit maar so, het hy gedink.  Ongelukkig vir Jan is hy uitgevang en gevonnis tot 6 jaar in die gevangenis omdat hy geld gesteel het.  Die kernvraag is nou:  Wie is almal skuldig?

Besef ons dat elke keer as ons as ouers nie in lyn met ‘n kernwaardes soos bv. eerlikheid, verantwoordelikheid en respek optree nie, dan breek ons ‘n stukkie van die morele vesel van ons samelewing  en  gee ons ‘n boodskap aan ons kinders, dat die waardes nie regtig belangrik is nie.

Aan die ander kant is een van die belangrikste dinge wat ons kan doen vir ons kinders se karakter en geluk, om positiewe kernwaardes te vestig en dit word veral gedoen deur die manier waarop ons elke dag leef, deur die klein en groot besluite wat ons maak, deur die dinge wat ons doen en nalaat om te doen.

Kinders is baie ingestel op dit wat hulle sien en hulle wil sien hoe die mense wat vir hulle belangrik is, hul ouers en onderwysers, kernwaardes  leef. So gesien beteken ouerskap om die mens te wees wat jy kan en behoort te wees en so na aan jou kind te leef dat dit afgee.

Die Boodskap:Spr 4 :23 Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap.  Jou manier van leef, bepaal jou geluk!

Gebed: Heer help ons asseblief om so te lewe dat dit aan ons kinders kan afgee.  Amen

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk

The Passion laat my aan die doodstraf-debat dink…

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

Die doodstraf bly steeds aktueel om selfs drie jaar of wat gelede se gesprek voort te sit. Iemand vertel my net Sondag dat as iemand iemand anders vermoor, moet hy/sy in die straat van die slagoffer tereg gestel word.

Terwyl ek na The Passion of the Christ gekyk het en die aangrypende visuele aanslag van die kruisiging aanskou het, het ek aan die doodstraf-debat gedink. Duisendes, waarskynlik die meerderheid Christene, wil die doodstraf heringestel hê. Twee nie-amptelike meningspeilings onder RSG Monitor luisteraars het 99% pro-doodstraf getoon. Adv. Francis Bosman, voorheen absoluut gekant teen doodstraf, voeg haar ook by die pro-doodstraf stemme. ”Tot hiertoe en nie verder nie. Die doodstraf is ál wat oorbly”, skryf sy. Mense is absoluut keelvol vir geweld.  Die ontstellende moordtoneel van die Sizzlers-masseersalon wys hoe min mense se lewe werd is. Dinge vererger met die uittog van bekwame polisiebeamptes. Slegs 10% van geweldmisdadigers word uiteindelik gevang.

Te midde van my begrip vir die magteloosheid van slagoffers van  verregaande boosheid, voel ek ontuis met die gedagte van doodstraf.  Dit is egter nie so eenvoudig om te sê dat die bloeddorstige misdadiger sy reg op die lewe verloor het en die enigste gepaste straf die dood is nie. Lê die toets van beskaafdheid nie júís in jou optrede teenoor onbeskaafde gedrag nie? Leer Jesus ons nie júís om nie ons gedrag te laat bepaal deur wat mense aan ons doen nie, maar deur God se Wil (Luk. 6:32)? Natuurlik is dit ‘n ingewikkelde etiese kwessie. So pleit prof. Etienne de Villiers met droefheid dat die doodstraf tydelik heringestel word, omdat omstandighede dit onvermydelik maak. Maar om aan jou nek te hang, toon niks van die “reddende genade van God Wie se genade altyd sterker as Sy oordeel is nie” (Anton van Niekerk). Die staat hét die reg tot die swaard – veral die plig tot beskerming van al sy burgers. Jan-Jan Joubert meen:  “Om iemand se lewe te neem is om sy menseregte op te skort in diens van ‘n groter doel. Dit is om iemand anders – die regter, die minister, die laksman – te kry om die lewe te neem. Elke voorstander van die doodstraf moet hom afvra of hy deur die verplasing van verantwoordelikheid nie maar moord met ‘n handskoen pleeg nie.”

Die doodstraf-debat is inderdaad kompleks. Dit is ‘n etiese kwessie wat nie deur die kerk verpolitiseer mag word nie. Die kerk is by die slagoffer en misdadiger onderskeidelik betrokke en behou haar geloofwaardigheid in die proses.

Ek moes jare gelede, terwyl ek die Curriebeker-eindstryd wou kyk, vir die naby familie van bekende anti-apartheidstryders gaan bid twee dae voordat hulle gehang sou word. “Wat bid ek? Ek ken hulle glad nie”, het ek gewonder.  Toe sien ek ‘n beeldjie met Jesus aan die kruis in die gebedskamer. Dit herinner my aan Sy vergifnis en Paulus se advies: Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Rom. 12:21). Uiteindelik is hulle begenadig.

Maar eers moet ek nog herstel van die onstellende kruisgebeure in The Passion.

Pieter van Niekerk (VGK Friemersheim)

GLANS PASTOOR EN SKITTER KOMMUNIS IS KOP IN EEN MUS

Written by webmeester on . Posted in Geregtigheid

Pastoor Ray McCauley en Minister Blade Nzimande se uitspattige lewenstyl maak ’n bespotting van armoede. Terwyl die helfte van Suid-Afrikaners  armlastig is, lewe die twee leiers en hul maters in weelde. Mens sou verwag dat die twee vanuit hul “geloof” goeie nuus aan die armes verkondig en  geïntegreerd leef; dat hulle in solidariteit met armes sensitief sou wees en ‘n eenvoudige lewenstyl volg.

McCauley se welvaart teologie het hom in die steek gelaat. Sy  uitgawes oorskry sy maandelikse inkomste. Sy salaris is blykbaar R100,000 per maand. Al is dit 50% minder bly dit ‘n skreiende skande. In die welvaart teologie word gelowiges wat finansieel swaar trek se geloof onder die vergrootglas geplaas. Volgens dié teologie is dit God se wil dat almal welvarend sal wees, anders is daar iets fout met jou geloof. Jy eis jou behoeftes van God met gesag af.

Terwyl Jesus die armstes van die armstes sy broers (susters) noem (Matteus 25) en hulle vir ‘n feesmaal uitnooi(Lukas 14), nooi McCauley net die invloedrykes na sy feeste. Hy het onlangs met sy sestigste verjaarsdag blykbaar nie een van sy kerkpersoneel uitgenooi nie.

Die twee se gejaag na rykdom is ironies. Materialisme en verbruikerisme is vreemde bedmaats van die  Bybelse evangelie. Dieselfde geld vir kommunisme. Ek wonder of Nzimande en sy magnate nie besig is om ‘n moderne voorspoed kommunisme te ontwikkel nie. Hy het dit dalk by McCauley geleer, wat in pro- ANC-regeringskringe hoog gereken word.

Terwyl die welvaart teologie die evangelie van Jesus as ‘n medium gebruik om  geldelike gewin, is die aanhangers van die “voorspoed kommunisme” se verweer die herstel van die onreg van die verlede. Dit ten koste van hul ondersteuners. Die SAKP en COSATU se beleid van vinnige herverspreiding ongeag hoe die ekonomie daarop reageer, het vir  ‘n handjie vol kommuniste bevoordeel.

Nzimande dring daarop aan dat hy steeds ‘n kommunis is en hom vir die werkersklas beywer, ten spyte van sy R1.1 miljoen luukse staatsmotor berig media 24 .

“Ek het nie my waardes laat vaar nie. “Ek dink ook nie ek het my morele leierskap prysgegee nie. Die lot van die werkersklas is nog steeds my prioriteit,” het hy gesê.

Ray McCauley se   pro-ANC houding laat my wonder waaroor sy geloof regtig gaan. Geld en mag? McCauley se Rhema Kerk het die ANC in gebed geword. Hy is die stigtervoorsitter van die National Interfaith Leaders Council en het nie die grootste ekumeniese liggaam van Suid-Afrikaanse Kerke (SARK) na die stigting uitgenooi nie. Die SARK trap dalk te hard op sy Italiaanse invoer skoene Terwyl homoseksualisme as groot sonde met hand en tand beveg word, hoor ek nie sy profetiese stem oor die groot korrupsie binne die ANC geledere en die groter groeiende gaping tussen arm en ryk in ons land nie.

McCauley die super kapitalis en Nzimande die materialistiese kommunis deel dieselfde geloof in die geldgod mammon. McCauley hou dit seker nie teen Nzimande dat hy pro-gay is nie.

Pieter van Niekerk

Written by webmeester on . Posted in Lewenswaardes

pietervanniekerkPieter van Niekerk is ‘n plattelandse entrepreneur dominee en voetsoolteoloog. Hy is vir twee dekades lank reeds by armoede bestryding betrokke. Hy het sy doktorsgraad onder leiding van prof Dirkie Smit verwerf. Hy het ‘n studiebeurs ontvang en vir drie maande aan die Universiteit van Utrecht navorsing gedoen.

Pieter het met sy doktorale navorsing  die verhouding tussen geloof en bemagtiging by plattelandse VGK lidmate ondersoek.  Hy was  by ander nasionale en plaaslike maatskaplike navorsing projekte betrokke.  Pieter was al dominee in swart, bruin en wit gemeentes. Kerkherening lê na aan sy hart. Hy was die dominee van dr. Beyers Naude in Alexandra gewees. Hy bedien die afgelope tien jaar ‘n klein gemeente op Friemersheim, ‘n kerkdorpie op die tuinroete en is voorsitter van die plaaslike kindersorg vereniging. Hy skryf graag oor aktuele kwessies in nuusblaaie en stories van besondere plekke en mense.

Pieter hou van goeie flieks en lewer gereeld resensies daarop. Hy is getroud met Hetta ‘n sielkundige en hulle het ‘n tienerdogter Sonét.

Dag ses: Mense van moed en sterkte

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Om ‘n samelewing te bou wat waarlik ‘n habitat van geborgenheid is, het ons mense nodig met goeie habitus, mense van karakter en deug. Ons het mense nodig wat onder andere die deug van wysheid, van onderskeidingsvermoë, beliggaam.

Volgens die filosoof Aristoteles kan mense met moed vrees oorwin, ook die vrees om ‘n sogenaamde edele dood te sterf ter wille van die oorlewing van ander mense. Ook die middeleeuse teoloog, Thomas Aquinas, verwys na die moed wat nodig is om ‘n martelaarsdood te sterf ter wille van ‘n goeie saak. Hierdie martelaarsterftes wil nie in diens van die dood staan nie, maar in diens van die lewe. Dit is sterftes wat God se koninkryk wil dien. Dit is sterftes wat hoopvol is. Sulke martelare weet God sal nie die werk van sy hande laat vaar nie.Sulke sterftes en opofferinge staan in diens van die koms van die dag dat alle mense en die natuur volle vriendskap met God geniet.Mense wat met oorgawe en vreesloos soveel opoffer, selfs hul eie lewens, is morele helde.

Dit is egter nie net in sulke uitsonderlike situasies waar moed gevra word nie. Ons het moed meermale in die gewone gang van die lewe nodig. Ons word geroep om morele helde te wees in die alledaagse lewe. Morele helde is mense wat die nood raaksien en met krag handel en iets daaraan doen. Morele helde is mense wat die regte ding raaksien en dit ondubbelsinnig verkondig, selfs al sou hulle daaroor benadeel word. Morele helde is mense wat nee sê vir die verkeerde selfs al sê almal rondom hulle ja vir wat verkeerd is.Hulle stry die goeie stryd op ‘n liefdevolle konstruktiewe wyse. Johannes Calvyn noem hulle stoeiers vir die regte saak, soldate wat slegs God se woord as swaard het, en morele helde wat te midde van die moeilikste omstandighede soek na wat reg is in God se oë.

Mense met moed is ook mense wat geduld beoefen.  Hulle wag op die Here. Hulle raak nie gejaagd en oorhaastig en angstig nie Hulle weet God sal voorsien. Hy sal oorwinning skenk.

Mense met moed verdra ook lydingsituasies op moedige wyse. Hulle weet in ons lyding is ons nie alleen nie. In die vuuroonde is God saam met ons. Hy is saam met ons in die stormwaters. Hy dra ons deur die vlamme en deur die stormwaters. Sy teenwoordigheid by ons is ‘n heilsame, reddende, vernuwende, hoopgewende teenwoordigheid – ‘n teenwoordigheid wat donker verander in lig, stryd in vrede, trane in glimlag, gekryt in sang, bitter Maras in soete Elims

Liewe Here, gee ons krag om nee te se waar ons moet. Gee ons krag om ja te se waar ons moet.Gee ons geduld omdat on sweet God sal voorsien. Gee ons krag in lyding en swaarkry omdat on sweet wie met ons is. Immanuel, die Een wat alles regmaak.

Dag vyf: Mense van wysheid en onderskeidingsvermoë

Written by webmeester on . Posted in Verantwoordelikheid

Om ‘n samelewing te bou wat waarlik ‘n habitat van geborgenheid is, het ons mense nodig met goeie habitus, mense van karakter en deug. Ons het mense nodig wat onder andere die deug van wysheid, van onderskeidingsvermoe, beliggaam.

Mense met wysheid ondrskei tussen reg en verkeerd, goed en kwaad, heilig en onheilig, tussen getrouheid aan God en ontrouheid aan God, tussen gehoorsaamheid aan God se wil en ongehoorsaamheid aan sy wil. In ‘n modern-postmoderne globaliserende samelewing het ons verstommend en verlammende keuse-moontlikhede. In so ‘n konteks van byna onoorsigtelike moontlikhede waarvan ons kan kies, het ons mense met wysheid en onderskeidingsvermoe so baie nodig.

Meer nog. Ons leef in ‘n wereld van sondigheid, tragiek en sogenaamde aporia. Aporia beteken dat ons dikwels in doodloopstrate beland. In so ‘n aporetiese situasie, in so ‘n doodloopstraat, het ons nie die luukse om tussen reg en verkeerd te kies nie. Ons kan slegs kies tussen meer verkeerd en minder verkeerd, of tussen meer reg en minder reg. Sommige wat deur egskeidings gaan weet jy moet kies tussen die breek van die huweliksbelofte en die voortsetting van ‘n huwelik wat man en vrou en kinders vernietig. Hulle wat aborsies moet oorweeg weens die bedreiging van die lewe van beide ma en kind weet jy moet kies tussen die moontlike dood van ma en kind, of die dood van slegs die ongebore baba. Hulle wat beleid moet maak oor regstellende aksie in ons land weet jy moet kies vir geen regstellende aksie en die voortsetting van ‘n situasie van ongelykheid en moontlike geweld as gevolg daarvan, of jy moet onvermydelik vir ‘n interimperiode restellende aksiemaatreëls regverdig toepas en vir ‘n interimperiode onvermydelik nog faktore soos ras en gender in ag neem.

W ysheid vra dat ons soms vir die minste van meer euwels moet kies. So ‘n keuse doen ons met konfessie en nooit met konsessie nie. Ons doen die keuse vir die minste van meer euwels met die wete dat dit steeds ‘n verkeerde keuse is, dat dit steeds afwyk van wat ten diepste reg is, dat dit die keuse is vir ‘n kwaad is, al is dit ‘n noodsaaklike en onvermydelike kwaad. Daarom doen ons hierdie harde keuse met konfessie van skuld, skaamte en pyn, want ons wyk af van wat ten diepste reg is. Maar ons doen dit ook met konfessie van geloof en hoop op herstel en heling.

Om die minste van meerdere euwels in ‘n tragiese doodloopstraat raak te sien, vra vir wysheid. Net so word vir wysheid gevra wanneer ons tussen twee goeie sake moet kies. Ons moet dan peil wat is die mees regte ding om te doen.

Ons vorder op die weg van wysheid as ons met sensitiwiteit en liefde leef. Volgens Filippense 1 vers 9 en  bid Paulus mos juis dat ons sal groei in liefde. Waar daar liefde is, daar groei wysheid en onderskeidingsvermoë.

Kom ons bid die gebed van die apostel: …