Dag vier: Mense van geregtigheid

Written by webmeester on . Posted in Geregtigheid

Om ‘n samelewing te bou wat waarlik ‘n habitat van geborgenheid is, het ons mense nodig met goeie habitus, mense van karakter en deug. Ons het mense nodig wat onder andere die deug van geregtigheid beliggaam.

Mense van geregtigheid, geregtige, regverdige mense hang nie net die waarde van geregtigheid aan as ‘n objektiewe waarde en beginsel nie. Nee, hulle beliggaam geregtigheid. Vir hulle is geregtigheid ‘n geinkarneerde waarde, ‘n deug, ‘n geneigdheid, ‘n intuїsie. Sonder refleksie en sistematiese nadenke soek hulle intuitiewelik en spontaan na geregtigheid in elke situasie, in elke saak, teenoor elke mens.

Geregtigheid word op verskillende maniere beskryf. Nuttigheidsteorieë sê ‘n samelewing is regverdig wanneer daardie dinge wat vir die meeste mense nuttig is, bereik word. Die sogenaamde kommunitaristiese teorieë meen dat geregtigheid deur solidariteit tussen mense bereik word. Sogenaamde gelykheidsteorieë meen geregtigheid word bereik wanneer alle mense gelyke toegang het tot lewensmiddele en geleenthede. Vryheidsteorieë meen weer dat geregtigheid geskied as allem mense die vryheid geniet om hul potensiaal te ontwikkel. Geregtigheid beteken vir sommige dat lewensmiddele eweredig na alle mense, veral na arm mense, versprei word. Bevrydingsteorieë meen geregtigheid vind plaas as die mees weerloses in die samelewing spesiale aandag kry.

Godsdienstig tradisies verryk ons verstaan van geregtigheid. Die Joods-Christelike tradisie  leer geregtigheid het sowel ‘n juridiese as ‘n opofferingsdimensie. Hiervolgens kry geregtigheid slegs gestalte waar mense bereid is om opofferings te maak ter wille van die ander. Hierdie geregtigheid word dan ook ontfermende geregtigheid genoem.Amos 5 vers 24 beskryf hierdie juridiese en opofferingsdimensies van geregtigheid …

‘n Groeiende verstaan van geregtigheid is dat dit in die geval van oortredings nie om vergeldende geregtigheid gaan nie, maar om geregtigheid wat rehabiliteer, vergeef, herstel en heel. Hierdie vorm van geregtigheid heet herstellende of helende geregtigheid.

Mense wat geregtigheid beliggaam en praktiseer help om ‘n land te heel en dit ‘n habitat te maak waar mens en omgewing blom.

Here, maak ons mense van ontfermende geregtigheid. Regverdig ons vir regverdige lewens. Amen.

Dag drie: Mense van matigheid

Written by webmeester on . Posted in Verantwoordelikheid

Om ‘n samelewing te bou wat waarlik ‘n habitat van geborgenheid is, het ons mense nodig met goeie habitus, mense van karakter en deug. Ons het mense nodig wat onder andere die deug van matigheid beliggaam.

Matigheid kom van die Latynse temperentia, wat letterlik regte maat, regte orde beteken. Matigheid beteken dus ons waak teen die oormatige, uitspattige  gebruik van middele. Ons  waak ook teen die onvoldoende toegang tot middele. Matigheid beteken ons streef in alles na die regte, orde, die regte maat – nie te veel nie en nie te min nie.

In Latyn word verskillende woorde gebruik om hierdie regte orde en regte maat op verskillende lewensterrreine aan te dui. Sobrietas, nugterheid, verwys na die regte gebruik van wyn. Castitas, oftewel kuisheid, verwys na die regte hantering van seksuele begeertes. Virginitas, maagdelikheid, verwys na die regte maat in seksuele gedrag. Ander gesigte van matigheid is Clementia (getemperdheid),  mansuetudo (teerheid en sagtheid), studiositas (die gewilligheid om onderrig te word), humilitas (nederigheid). ‘n Lewe van matigheid word bevorder deur  verecundia (positiewe skaamheid oor potensiele verkeerdheid) en honestas (die gepaste en nie wellustige genieting van goeie gawes).

‘n Lewe van matigheid, van die regte maat en orde, staan teenoor ‘n lewe van gierigheid, konsumerisme en verbruikersmanie. Matige mense is needrig en dink nie van hulleself meer as van ander nie. Hulle jag nie teen elke prys na meer en beter nie. Hulle demonstreer ‘n gepaste vergenoegdheid en dankbaarheid. Hulle weerstaan die verleidinge van die hedendaagse publieke kultuur wat jou altyd laat voel:  ek besit nie genoeg nie, ek weet nie genoeg nie, ek presteer nie genoeg nie, ek is nie aantreklik genoeg nie, en my werk geniet nie genoeg status en aansien nie.

Matige mense pas selfbeheersing en selfbeperking toe. Hulle doen dit, want hulle word deur die Gees beheer. Soos Galasiërs 5 verse 16 en 17 dit stel: …

Waar matigheid gestalte kry word mense en samelewings bevry van die angs van onvergenoegdheid. Waar matigheid beoefen word, het  ‘n land soos Suid-Afrika ook nie meer die twyfelagtige status van land met die grootste kloof tussen ryk en arm ter wereld nie!

Liewe Here, maak ons mense wat matigheid beoefen. Laat ons maat-ig leef want ons is, met respek, God se maats, God se jongmense, God se vriende. Laat ons met selfbeheersing leef omdat die Gees ons beheer.

Dag twee: Etiese en morele waardes gaan oor mense met goeie habitus

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Morele waardes het te make met die samelewing as ‘n habitat waarin mense veilig voel en geborge is, en waar ons leef in geregtigheid, vrede en vreugde – ja, ‘n samelewing waar daar respek is vir lewe, die waarheid en vir ander mense en die res van die skepping.

Morele waardes het, benewens habitat, ook met habitus te make. Dit het dus te make met mense se habits, soos die Engelsman se, met ons gewoontes, met ons deugde en met ons karakter.

Deugde verwys na die geneigdhede en inklinasies, die predisposisies en intuїsie om in ooreenstemming met die goeie te handel en om die goeie te beliggaam.

Deugde kan ook as geїnternaliseerde, beliggaamde waardes beskryf word.Ons hang nie net ‘n waarde soos geregtigheid aan nie, ons beliggaam ook geregtigheid, ons praktiseer geregtigheid, ons leef geregtigheid uit, ons is mense van geregtigheid, ons is regverdige mense.

Deugde verwys na die goddelike energie en krag om die goeie te beliggaam. En inderdaad. Efesiers 2 vers 10 stel dit duidelik: …

Mense van deug is ook mense met goeie karakter. Karakter verwys letterlik na die goeie waardes wat by ons ingegraveer is. Hierdie goeie waardes is onlosmaaklik en wesenlik deel van ons. Mense met karakter is mense van eerlikheid en inbors. Hulle is opreg en eg. Hulle begeertes, woorde en handelinge is geїntegreerd. Hulle is dus mense met integriteit, mense wat  betroubaar is, mense op wie jy kan staatmaak.

Sonder mense met deug en karakter kan ons nie nuwe samelewings bou wat waarlik veilige habitatte vir alle mense en vir die natuurlike omgewing  is nie.

Die Griekse filosoof Aritoteles het vier sogenaamde kardinale deugde geformuleer. Dit is die deugde wat kardinaal is, wat die skarnier vorm waarom alle goeie geneigdhede en intuisies draai.Die vier deugde is geregtigheid, wysheid, moed en matigheid. Vanuit godsdienstige tradisies word drie deugde bygevoeg, te wete geloof, hoop en liefde.

Mense met hierdie sort habitus help om daardie soort habitat te bou waar die lewe waarlik blom.

Here, maak ons asseblief  mense van karakter en deug, mense wat help dat Suid-Afrika en die ganse wereld ‘n veilige habitat word, ‘n plek waar lewe blom en floreer!

Dag een: Etiese en morele waardes gaan oor veilige habitatte

Written by webmeester on . Posted in Verantwoordelikheid

Die woordjie, etiek , is afgelei van die Griekse woord ethos, wat habitat beteken. Die woord verwys oorspronklik na die habitat, die woonplek, van diere. In die habitat voel die diere veilig en geborge. Daar geniet hulle sorg en omgee. Daar kry hulle die geleentheid om te ontwikkel en om te blom. Hierdie veilige habitat herinner ‘n mens aan die woorde van Jesaja 32 verse 17 en 18: …

Wanneer ons vandag oor etiek en moraliteit praat, dink ons aan die soort samelewing wat ons graag wil hê. Ons droom van ‘n samelewing wat werklik ‘n habitat vir al die lede daarvan is. Ons stel as ideaal ‘n samelewing waar almal beskerming en veiligheid geniet, waar almal geborge voel en met menswaardigheid leef. Ja, etiese spreke verwys na die visie van ‘n samelewing van geregtigheid en vreugde vir alle mense en selfs vir die natuurlike omgewing ook.

In Suid-Afrika se Handves van Menseregte word waardes uitgespel wat ons visie en droom vir Suid-Afrika weerspieel. Ons droom van ‘n Suid-Afrika waar alle mense se menswaardigheid erken en gerespekteer word. Ons droom van ‘n Suid-Afrika waar daar geregtigheid heers, ‘n Suid-Afrika waar almal vryheid en gelykwaardigheid ervaar, en ‘n Suid-Afrika waar die angswekkende klowe van ongelyke verspreiding van hulpbronne en basiese lewensmiddele  verdwyn en waar daar ekwilibrium en ewewig is. Ja, ons droom van ‘n Suid-Afrika waar mense hul verskillende talente kan ontwikkel en ontplooi ter wille van hul eie geluk, en vir die welwees van hul medemens.

Mense van verskillende godsdienstige en sekulêre gelowe betuig instemming met hierdie visie van ‘n samelewing wat ‘n habitat is vir al sy mense, en vir die natuurlike omgewing. Al hierdie godsdienstige en sekulêre tradisies stem saam dat veral drie sentrale waardes noodsaaklik is vir ‘n sogenaamde goeie samelewing. Die waardes is respek vir die lewe, respek vir die waarheid, en respek vir die ander persoon, vir haar liggaam en vir haar eiendom.

Alle gelowe, en alle samelewingsektore, onder andere skole en opvoedkundige instansies, die media, sport en kultuurliggamme, koester hierdie droom. Ons hou die visie lewendig van die samelewing as ‘n habitat vir almal, ‘n veilige hawe vir almal. En ons almal werk onverpoosd en met entoesiasme aan die bou van ‘n samelewing van geregtigheid, vrede en vreugde vir almal, ‘n samelewing van respek vir die lewe en vir die waarheid, en ‘n samelewing van respek vir mekaar.

<em>Liewe Heer, maak Suid-Afrika ‘n habitat waar almal blom, mens, dier en omgewing. Liewe Here, maak die ganse wêreld ‘n veilige habitat.</em>

Mans is meer moreel as vroue

Written by webmeester on . Posted in Geloofwaardigheid

Berig van Die Burger 7 Augustus 2009, geplaas met hulle toestemming

’n Ma staan byna trots by haar seun wat van moord aangekla word. ’n Ma vloek ’n vrou uit wat haar man van verkragting beskuldig. ’n Ma laat toe dat haar dogter deur ’n stiefpa of oupa seksueel misbruik word.

Is vroue minder moreel as mans?

Hoe besluit ons iets is reg of verkeerd?

Is die wet ons maatstaf? Die Bybel?

Die vraag oor wat reg is, hou die mensdom al vanselfsprekend eeue besig.

Sokrates het gesê: Ek tree met myself in gesprek oor my dade; as ek doen wat verkeerd is, kan ek nie met myself saamleef nie. Kant het gevoel: As jou kind steel, moet jy hom rapporteer.

In 1981 het ’n navorser bevind dat iemand wat moreel volwasse is altyd dit wat regverdig is teenoor almal as maatstaf gebruik. Hy het bevind dat regverdigheid die groot rigtinggewende beginsel is om die mens te lei om te doen wat reg is.

Skaars twee jaar later maak ’n vrouesielkundige, Carol Gilligan, ’n opspraakwekkende bevinding.

Nadat sy ’n groot groep vroue ondervra het, kom sy tot die gevolgtrekking dat vroue wel anders, maar net so volwasse en geloofwaardig oor moraliteit dink soos mans.

Hoewel daar later probleme met haar navorsing aangetoon is, bly haar bevinding interessant.

Sy sê vroue gebruik die taal van omgee soos dit uiting vind in die talle persoonlike verhoudings waarin hulle staan. Vroue is afhanklik van ander en ander is afhanklik van hulle – dit is hierdie interafhanklikheid wat bepaal wat ’n vrou laat besluit wat reg of verkeerd is. ’n Vrou is nie ’n self wat met haar gewete praat wat ’n natuurlik greep op geregtigheid het nie. ’n Vrou is ’n self-in-vele-verhoudings.

Mense het dadelik regop gesit. Hierdie bevinding bied twee radikale nuwe perspektiewe.

’n Duitse vroulike filosoof (die woord filosofin bestaan blykbaar slegs in Duits) het dit só gestel: Een van die sentrale waarhede van die etiek van omgee is dat dit die moontlikhede open vir verskillende waarhede waaruit verskillende moraliteite vloei.

Ons kan dink Hansie Cronjé was nie werklik skelm nie, ander mag verskil, en ons kan almal reg wees binne ons wêrelde van diegene vir wie ons omgee.

Dit staan in skerp kontras tot die idee dat elke mens ’n uitgemaakte greep op geregtigheid het wat gebaseer is op ’n teks wat net een interpretasie het.

Die tweede perspektief is dat moraliteit wat op verhoudings gegrond is, dalk nie net vir vroue geld nie, maar ook vir mans.

Wie vorm ten slotte hierdie mans wat op ’n dag as volwassenes besluit wat reg of verkeerd is?

Die Bybel of die wet mag wel gebruik word, maar dit is veral hoe die gemeenskap leef wat ons morele besef vorm. Daar bestaan dus nie iemand wat kan spog dat sy/haar oordeel oor wat reg en verkeerd is nie beïnvloed word deur die verhoudings waarbinne hy/sy staan nie.

Die uiteenlopendheid en apart gevormde gemeenskappe waarbinne Suid-Afrikaners staan, is een van die groot struikelblokke om ’n samehangende etiek te vorm waarbinne ons saamstem oor wat ons aanvaarbaar en onaanvaarbaar vind.

Gesprekke in die land word ernstig gekortwiek omdat mense dink dat hul norme die “ware” Christelike/Afrika- of internasionale norme is.

Twee dinge is nodig om te kom tot ’n konsensus oor wat reg en verkeerd is in die land: Minderhede moet leer om verhoudings te skep en sodoende integraal deel te word van die meerderheid. Dan benodig ons ’n gereelde instroming van mense uit Afrika om die geloof dat Afrika of swart een homogene groep is met een waarheid en een passiewe verlede van lyding, voortdurend te ondermyn.

Lees gerus  The Moral Maze: A Way of exploring Christian Ethics van David Cook Publisher: Abingdon Pr (Mar 1990)

Nadenke oor die hart van menswees

Written by webmeester on . Posted in Menswaardigheid

Ek moet iets vir die nuwe hart stigting oor medemenslikheid skryf en deel graag met jou die gedagtes:
Nadenke  oor die hart van menswees

‘n Sin sonder woorde bestaan nie. Gedagtes word met woorde geskep.  Woorde is boonop ryk aan betekenis. Neem nou die woord “medemenslikheid”. Die Tesourus beskryf medemenslikheid met woorde soos:

goedhartigheid, ruimhartigheid, verdraagsaamheid, vergewensgesindheid, vredeliewendheid, toegeeflikheid, welwillendheid,  onselfsugtigheid, vrygewigheid, onbaatsugtigheid, selfopoffering, genade, meegevoel, meelewendheid, medelye, Christelikheid.

Die Bybel beskryf medemenslikheid met woorde en gedagtes soos:

  • “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Lev. 19:18)
  • “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.” (Mat. 7:12)
  • “Moenie op julle eie belange ingestel wees nie, maar wees ingestel op wat vir ander die beste is.” (I Kor. 10:24)
  • “Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.” (I Pet. 3:8)
  • “Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra.” (Efes. 4:2)
  • “Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigste van my broers of susters te help, het julle versuim om My te help.” (Mat. 25:45)
  • “Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: … Hy (het) nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie, maar dit prys gegee: Hy het ‘n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Hom self nog verder verneder.” (Fil.: 5-8).

Die woorde en gedagtes wat medemenslikheid op Afrika-bodem beskryf is onder andere:

  • Ubuntu (Nguni) of Botho (Sotho) wat “saambind” beteken. Dit dui op medemenslikheid, ‘n meegevoel teenoor medemense en jy bevoordeel jouself nie ten koste van ander nie.
  • In die werkplek word medemenslikheid treffend beskryf deur die Tsonga-spreekwoord “Musemgo a nga langutiwi nonweni” (Jy kyk nie in die mond van die melkman nie.) Die Westerse konsep van werk en vergoeding is gegrond op mededinging tussen werkgewer en werknemer, op maksimum-profyt en sekuriteit vir die werkgewer. Die melkman is nie veronderstel om die melk wat hyself gemelk het te drink nie. Dit is die reg van die eienaar van die koei om die proses van die begin tot die einde te beheer. Die Afrika-beginsel is gebou op saamwees en op deel. Daar bestaan ‘n gedeelde verantwoordelikheid en respek tussen werker en eienaar. Die eienaar van die koei respekteer die reg van die melkman om bloot sy aandeel te vat; hy besit ‘n aandeel in die kapitaal finish en klaar.

Medemenslikheid is ‘n woord wat eers betekenis het wanneer dit in ons harte lewe  en tot doen lei. Ons is mense, daarom is ons mededeelsaam, mede- waardig, respekteer ons medemense se lewe en welsyn en het ons meegevoel met ander. Dit kom nie sommer vanself nie.

Christengelowiges glo God gee dit. Ons word hartgrondig van binne verander. God gee aan ons ‘n nuwe hart en gees, getuig die profeet Esegiël (36: 26-27). Dít hou ‘n nuwe verstand, wil, gevoel,  persoonlikheid en ‘n gesindheid wat omgee in. Sy Gees gee aan mense daadwerklike stukrag tot medemenslikheid.

Meer nog, die redding wat ons in Christus het bring ‘n nuwe mensheid tot stand wat deur die grense tussen arm en ryk; swart en wit breek. Hiérdie redding maak ons nie meer godsdienstig nie, maar meer mens, soos die oorspronklike bedoeling was.

Medemenslikheid is die hart van menswees.

Pieter van Niekerk

Bronne:

Being human-Confessions of a Christian humanist

Christelike Kernensiklopedie

Die Bybel – Nuwe Lewende Vertaling

Die Bybellennium: Een volume kommentaar

On being unemployed and religious

Tesourus van Afrikaans

‘n Ander variasie van Wolf en Rooikappie

Written by Admin on . Posted in Geloofwaardigheid

‘n Ander variasie van Wolf en Rooikappie (Hierdie bydrae het in BY 16 Mei 2009 verskyn)

Ons het as Suid-Afrikaanse samelewing ons morele kodes verloor. Daar is ‘n gat in die morele osoonlaag en ons is almal besig om seer te brand. Daar word dan ook vanuit verskillende hoeke oor die morele verval besin, soos Naas Ferreira in sy artikel in die By van Saterdag 9 Mei (“Rooikappie en Wolf”) tereg opmerk.  Die teorie van Clare Graves, wat reeds getoets is op meer as vyftigduisend mense in eerste, tweede en derde wêreldlande, bied ‘n baie interessante perspektief op die morele problematiek in Suid-Afrika.  Graves se werk is voortgesit en verfyn deur sowel Wilber as Beck en Cowan wat direk betrokke was by die Kempton Park onderhandelinge voor 1994 asook die “hearts and minds” strategie vir die Springbokspan wat die wêreldbeker in 1995 gewen het.

Volgens Graves vind menslike ontwikkeling plaas deur verskillende sisteme of golwe wat mekaar opvolg, namate ‘n individu se eksistensiële probleme verander.  Die golwe of memes is nie rigiede ontwikkelingsvlakke nie, maar vloeiende golwe wat oor mekaar kan spoel en verweef is in ‘n dinamiese spiraal van ontvouende bewussyn.  Elke volgende meme is meer omvattend en kompleks en omsluit en oorskrei alle vorige memes.  ‘n Meme is terselfdertyd ‘n psigologiese struktuur, ‘n waardesisteem en ‘n spesifieke wêreldbeskouing en daarom voel mense wat in dieselfde meme funksioneer, tuis by mekaar.  Waardesisteme is volgens Graves nie vas nie en verander namate jou omstandighede, kennis, ervaring en spiritualiteit verander.  Jy kan tussen verskillende memes beweeg, stabiliseer in een of aanbeweeg na die volgende as ‘n reaksie op veranderde omstandighede.  Die dominante meme kleur jou manier van dink en doen, jou waardes en etiek, die manier waarop jy glo en jou persepsie van jouself en ander. Beck en Cowan het dan ook ‘n kleur aan elke meme gegee en so die fokus verskuif van swart, bruin en wit mense na rooi, blou, oranje en groen mense.  Dit gee ook ‘n ander, meer genuanseerde perspektief op die dieperliggende diversiteit in ons land. 

  1. In die beige meme (argaïes-instinktief, 0.1% van alle volwassenes) gaan dit slegs om fisiese oorlewing en voortbestaan, om kos, seks en veiligheid en dit word waargeneem by babas, die laaste fase van Alzheimers en verstandelike erggestremde straatmense. 
  2. Die wêreld van die pers meme (animisties-stamgebonde, 10%) word beheer deur goeie en bose magte wat vloeke en seëninge uitdeel, en waar die mens veiligheid soek in etniese stamme. Voorbeelde hiervan is voorvadergeeste, rituele, etniese bygelowe. Daar is groot agterdog teenoor vreemdes en sterk druk om te konformeer met die groep.  
  3. By die rooi meme (krag gode/egosentriese, 20% ) is die wêreld ‘n hond eet hond plek waar net die sterkes oorleef en die wenners al die mag beheer. Dit is impulsief en selfgesentreerd en sigbaar by bendeleiers, Lord of the Flies, despote en oral waar die wenner met aggressiewe ambisie oorheers sonder enige berou of gewete. 
  4. Vir die blou meme (mitologies konformerend, 40% ) word die lewe se sin, rigting en doel bepaal deur ‘n magtige Ander of Orde wat absolute beginsels van reg en verkeerd neerlê. Daar is net een regte manier van doen, wet en orde is ononderhandelbaar en gehoorsaamheid noodsaaklik.  Voorbeelde is puriteins Amerika, Dickens se Engeland, Voortrekkers en Boy Scouts.  Jy leer jou tafels en jou rape word eerste geëet.  Grys areas word nie goed hanteer nie, skuld en vrees funksioneer sterk en reëls en regulasies kan belangriker word as mense. Volgens Beck het Suid-Afrika na 1994 sy blou meme in die vorm van ‘n effektiewe polisiemag te gou afgetakel.  Ook in die onderwys is die blou meme van ken jou tafels, spelwoorde en die periodieke tabel, te vinnig vervang met die kritiese denke van die groen meme, sonder die nodige onderliggende basiese kennis.  
  5. Die oranje meme (wetenskaplik rasionele 30%), sien die wêreld as ‘n rasionele, goed geoliede masjien met natuurlike wette wat geken en gemanipuleer kan word vir eie gewin.  Dit is sterk prestasie-georiënteerd, materialisties en aksentueer persoonlike effektiwiteit, entrepeneurskap, status en selfverwesenliking.  Dit gaan nie om wat waar is nie, maar wat werk.  ‘n Stewige blou meme is ‘n voorwaarde vir enige oranje meme. Naas se opmerking dat die Afrikaner homself nie tuis voel in die rasionele nie, is eenvoudig nie waar nie.  
  6. Die groen meme (relativisties pluralistiese 10%) sien die wêreld as interafhanklik en elke vorm van lewe as kosbaar.  Ekologiese sensitiwiteit, netwerke, waarde-gemeenskappe en omgee vir mekaar vervang rasionaliteit en winsbejag.  Kenmerke is postmodernisme, eko-feminisme, diere-en menseregte, dekonstruksie, politieke korrektheid en subjektivisme. Meeste akademici funksioneer in groen en hulle is ironies genoeg ook die ongeduldigste met ander wat nie soos hulle dink nie.  Niemand spring van rooi na groen, sonder om deur die dissipline van blou en die harde werk van die oranje meme te gaan nie.  Daarom beskadig groen se voortdurende kritiek op blou en oranje homself en die spiraal, want slegs op ‘n sterk blou en oranje fondament kan enige van groen se ideale gebou word. In Suid-Afrika kan ons nie die groen ideale in die grondwet realiseer sonder dat mense vanuit die rooi meme beweeg deur blou en oranje na groen nie.  Naas se kritiek op die kerk en die Afrikaner is primêr kritiek vanuit groen op blou.  
  7. Na die sesde meme maak die mensdom ‘n reuse sprong na die tweede baan van integrerende(geel), holistiese (turkois) en spirituele (pers) denke waar slegs 2% van alle mense funksioneer. Wat hierdie mense soos o.a. Ghandi, Mandela, Moeder Theresa en Jan Smuts onderskei, is die feit dat hulle weet dat elke meme bydra tot die integriteit van die hele spiraal en dat mense ontmoet moet word op die vlak waar hulle is. Dit gaan om restorasie en heling van die totale mensdom en ‘n groter bewussyn van die verbondenheid van die geheel. Dit is vanuit die meme dat die morele problematiek van Suid-Afrika aangespreek behoort te word.
     

Wat het dit met nou met Rooikappie en wolf te doen? Naas het met breë hale die voorafgaande teorie gebruik om die Afrikaner en veral die kerk te kritiseer. Die afleiding kan gemaak word dat hy geïrriteerd is met die kerk, Rooikappie se ma, omdat sy haar dogter so weerloos-naïef deur die woud laat stap, terwyl sy bewus is van die wolf.  Die kerk is egter deel van die samelewing waarbinne hy funksioneer en bestaan uit mense in verskillende memes en hulle het verskillende vorme van spiritualiteit. Die kerk kan nie vanuit ‘n punt êrens buite die samelewing mense motiveer of manipuleer om vinniger deur die verskillende memes te beweeg nie.  Natuurlik het die Afrikaanse kerke growwe foute gemaak in die verlede, maar die kerk het ook intussen voortbeweeg.  ‘n Voorbeeld hiervan is dat daar nou ‘n veel groter erkenning en beoefening van verskillende vorme van spiritualiteit in die kerk is.     
Diegene wat fyn waarneem sal weet dat daar nie nou net ‘n vakuum is soos wat Naas beweer waarin die Afrikaner rondval nie, maar wel ‘n kerk wat nie meer gefokus is op mag nie, maar op diens, wat nie meer opgaan in strukture nie, maar waar gawes sonder ophef gedeel word en mense mekaar se voete op grondvlak was.  Waar die fokus nie meer val op hiërargiese bestuur van bo af en sinodes nie gaan om posisies nie, maar waar mense hul weerloosheid erken en hul interafhanklikheid van mekaar en hul afhanklikheid van hul God bely. Dit is miskien juis ‘n goeie teken dat die kerk stil geword het Naas, want nou praat hulle minder en doen meer. 
Een van die talle bewyse dat die Afrikaner nie vasgevang is in die mitologiese vlak nie, is die Manifesto van ‘n nuwe stadsgemeente wat deur jong Afrikaners self geformuleer is en wat toon dat hulle al die sprong na die tweede baan maak, nie omdat hulle soos Naas voorstel, yoga en tantriese seks beoefen nie, maar a.g.v. eerlike denke binne die spiritualiteit van die kerk en ‘n opregte soeke na “… wat dit beteken om saam met Jesus te leef.”   Die manifes verklaar ook : (Die gemeente)…” is bedoel vir mense wat soek en nie settle nie, vir brawe praters en roekelose doeners en nie net getroue troosters of ‘n bevoorregte binnekring nie, want op die pad is die binnekring ook die buitekring … Ons verstaan van God is dikwels anders as wie God regtig is en daarom ook in ons verstaan van God erken ons dat ons nog op pad is. Ons aanbid nie ons idee van God nie, maar die God wat ons idees gee … Ons strewe om aan die een kant die verrassende vrye paaie van die Gees te beleef, aan die ander kant omarm ons die rustige ritmes van orde en oor-en –oor doen, van duidelike vaste, eeue-oue spore… Ons loop die pad van liefde, vrede en regverdigheid … Die aarde moet weer rus anders sal ons kinders nie hier kan woon nie. Ons is nie net op pad hemel toe nie maar ook terug aarde toe…” 
 
Miskien sal mense nou begin raaksien dat Rooikappie se ma saam met haar deur die bos stap.  Dat hulle langs die pad ouma se kos met die honger wolf deel en hom dalk selfs saamnooi om by ouma te gaan kuier, want as die wolf nie meer honger is nie en as hy kan lees, skryf en werk, hoef niemand meer vir hom bang te wees nie. Maar terwyl dit gebeur moet die houtkapper (die reg) asseblief steeds in die bos wees!!

Bronne:
Beck D E en Cowan C 1992 The human Spiral and the emergent flow of Value Systems development. Denton Texas National Values Centre.
Beck D E & Linscott G 1991 The Crucible: forging South Africa’s future. Denton Texas, New Paradigm Press.
Graves C W 1974 Human nature prepares for a momentous leap. The Futurist April.
Wilber K 2000 Intergral Psychology Shambhala Boston.
Wilber K 2001 A Theory of Everything. Gateway Boston.

Jeanette de Klerk-Luttig

Jeanette is ‘n buitengewone senior dosent by die Fakulteit Opvoedkunde en navorsingsgenoot by Communitas/Buvton, Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch.