Woensdag 16 Junie se sneeu…

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die koerant het ons vanoggend begroet met foto’s en berigte oor `n yskoue en prentjiemooi wêreld, als te danke aan die sneeu wat daar geval het. En dit is mooi. Dit laat jou hunker na die geborgenheid van `n warm kaggel, terwyl jy toegewikkel sit in `n lekker kombers. Tog was ek laasnag `n paar keer wakker en het ek lê en wonder oor die mense wat ek nog die week onder komberse op die sypaadjies van Kaapstad sien lê het. Ek het gewonder oor hoe koud, koud daar voel. Miskien moet ek net een nag, net een nag in so `n koue onder koerante en `n klam kombers buite gaan slaap…
Skuldig voel sal niks help nie. Dit help niemand nie. Miskien moet ek net êrens begin en aan een iemand se lewe `n verskil maak en `n bietjie meer sensitief en `n bietjie meer dankbaar self leef.

Jeugdag, ons kinders en die toekoms

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

In `n donker wêreld is daar `n lig wat kinders kan aansteek wat grootmense soms lank reeds verloor het. Vandag vier ons Jeugdag en onwillekeurig dink ek aan Hector Pieterson, maar in ons land met sy bewoë geskiedenis ook aan Racheltjie de Beer,  Nkosi Johnson en Japie Greyling. Sommige lesers mag dalk nie al die name ken nie, maar glo my, hulle verteenwoordig eintlik die duisende anonieme kinderhelde van ons land. Jeugdae word regoor die wêreld gevier. Angola, China, Indië, Singapoer, Turkye en talle ander lande het elkeen hul eie datum waarop Jeugdag gevier word. Die VN se internasionale Jeugdag val op 12 Augustus.  Maar hoe wel is dit met ons eie kinders en jongmense op hierdie dag?

Laat ek dit eers onomwonde sê: Ek is mal oor jongmense en kinders. Ons het hul hoop, energie en passie in dié dae baie nodig. Hulle verteenwoordig die helfte van ons bevolking, maar eintlik ons hele toekoms! Tog is daar op hierdie dag ook `n mismoedige kant aan my. Nou die aand se program op Carte Blanche doem weer voor my op: Kinders wat verkoop en verhuur word, sodat daar met hulle op straat gebedel kan word. Ja, sommige se toontjies is afgebrand sodat die simpatie wat gewek word, nog groter is en die “inkomste” vir die dag nog `n paar rand meer is. Daar is iets fundamenteel met ons samelewing verkeerd, het ek by myself gedink. Ek dink verder aan die duisende kinders wat moed opgegee het en nie meer glo dat hulle nog enige kans op `n toekoms het nie. Ek dink aan die duisende wat ouerloos en sorgloos op die strate van ons land leef. Ek dink aan die sogenaamde “lost generation”.

Ek dink aan die ryk kinders wat, om redes van hul eie, emosioneel flenters is en `n stukkie salwing in die donker wêreld van dwelms en alkoholvergrype gaan soek het. Ek dink aan die duisende wat met VIGS of FAS gebore word en gebroke die lewe begin. Ek dink aan die duisende kinders in ons land  wat voor die ouderdom van sewe jaar reeds kognitief gestremd is, gewoon weens ondervoeding. So baie van die programme wat begin is om die saak aan te spreek, is gestaak weens korrupsie.

Maar gelukkig is daar ook `n ander kant. Die afgelope paar jaar was ek `n paar keer by Die Burger se Jeugleierskonferensie betrokke. Wat `n inspirasie! Wat `n oomblik van energie en hoop. Ek wens meer mense kon dit beleef. Ek hoor weer vandag hierdie jong leiers se uitgesproke getuienisse oor hul geloof, hoop en drome. Ek sien die jong, opkomende sakelui, uit letterlik alle bevolkingsgroepe, wat die afgelope tyd voor my sit en praat het oor leierskap, hul bekommernis oor die aard van leierskap in die land en wat gedoen kan word om dit reg te maak.  Daar is veel meer voorbeelde.

Dalk moet hierdie dag vir ons almal `n biddag, dankdag en dinkdag wees… Dalk moet ons hierdie dag gebruik om veel dieper te dink oor wat Jesus Christus bedoel het toe Hy gesê het: “Laat die kindertjies na my toe kom.” Dalk verstaan ons nog heeltemal te min van sy hart. Dalk moet almal wat kan, `n verbintenis maak om, naas jou eie kinders, vir net nog een of twee kinders `n toekoms te help skep.

Soms moet ons bome plant, maar soms moet ons kinders help. Dit weerklink helder in Christus se stem.

As die reën begin val

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Verlede week word ek een oggend op George wakker, met reën wat onophoudelik val… en so lê ek en dink aan al die morbiede gesprekke oor die verskriklike droogte die afgelope tyd. Ja, daar was goeie rede tot bekommernis. Terwyl ek egter later die oggend deur George se strate ry sien ek al die plakkate teen die lamppale wat waarsku dat dit `’n waterskaars gebied is. Die plakkate het deurdrenk en half mistroostig daar gehang na al die reën. Strome water het in die voortjies langs die pad afgeloop en later die middag het die voëls met ’n uitbundige gekwetter losgebars in sang. Toe dink ek so. Van ons grootste moeilikheid is dat wanneer ons soms midde in ons groot lewenskrisisse beland , dit vir ons voel asof alles verby is. Die wiel draai egter een of ander tyd en wanneer die reën kom, kom dit behoorlik. Die wiel draai egter op God se manier en soos Hy dit wil. Dit voel soms of dinge handuit ruk, maar dit word nooit heeltemal uit Sy Hand geruk nie. Nie almal sien dit so nie, maar gelowiges wel en dit bring ’n diep vrede.

God sal nooit te veel van jou vra nie

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Was jy al ooit in ’n situasie waar jy met nood of seer gekonfronteer was, geweet het jy moet help, maar self so vuisvoos was dat jy net nie kon nie. Lewensdruk en soms net “te veel” bring jou by ’n punt waar jy net nie die energie en  krag het om te help nie. Dit kan selfs gebeur dat jy ’n irritasie ontwikkel vir die situasie wat na jou roep. Ek weet dit klink na ’n flou verskoning, maar ongelukkig gebeur dit.

Met die wêreldbeker wat nou vinnig nader kom, is die woord gasvryheid op almal se lippe, maar soms wonder ek hoe dit met gasvryheid in ons eie midde gaan. Eens op `n tyd was dit deel van die hartklop van al die gemeenskappe in ons land. Google jy vandag die woord “hospitality” dan sien jy dat dit steeds vrylik beskikbaar is, maar teen `n prys. Jy sien “gasvryheid” het soos die meeste dinge `n “bedryf” geword! Waar die woord Ubuntu ons nog `n paar jaar gelede gefassineer het, het die woord “xenophobie” nou in ons gedagtes kom woon.

Gasvryheid is `n eg Bybelse begrip. Wie vir `n oomblik teologies daarna  kyk, begin verstaan dat ware gasvryheid daar groei wanneer jy verstaan wie God is, hoe Sy hart klop en hoe Hy opereer. Gasvryheid is beslis nie net nog `n wet nie, dit is `n diep geestelike saak, wat blom in die lewe van Geesvervulde mense.

In `n moderne wêreld begin gasvryheid, soos gesê, `n al skaarser item word. Stephen Covey voer aan dat daar onder ons `n “skaarsheid mentaliteit” ontwikkel het. Miljoene mense wedywer om beperkte bronne, hetsy geld, grond, skoon water en veel meer. Dit maak ons angstig en laat ons eerder vashou as deel. Ek sê weer, gasvryheid groei wanneer  jy God se wese en hart beter leer ken. As Jesus sy eerste wonderteken doen dan maak Hy nie verniet 600 liter van die beste wyn nie. Hoekom? Omdat Hy ons iets wil leer van die heerlikheid (Joh 2:11) en oorvloed wat daar in Hom te vinde is.

Daar is egter ook iets anders wat ons moet raaksien. Dit bring my weer by die opmerking waarmee ek begin het. In `n moderne wêreld is dit nie net die bronne wat opraak nie, maar ook onsself en ons tyd wat opgeraak het. Uitgebrande, vuisvoos mense sukkel om gasvry te wees. Dit is sekerlik een van die grootste siektes van ons tyd. Daar is gewoon net nie meer energie oor om te gee nie.

Die hartseer is dat dit nie net  ons optrede teen mede-gelowiges en vreemdelinge raak nie, maar dikwels die mense baie naby aan ons. Jy sal sukkel om hulle seer en pyn raak te sien en daarop te reageer. Dit gebeur nie omdat ons nie wil nie, maar omdat ons gewoon nie meer kan nie.
Daarom die volgende. Vir lank het ek gedink dat dissipline en selfbestuur wesenlik belangrik is vir goeie leierskap en sukses in die lewe. Dit is ook. Vandag verstaan ek dat dit ook noodsaaklik is om `n volgeling van Christus te  wees, soos Hy dit bedoel het. Mag ons in die dae God se stem fyn hoor, veral om met die regte dinge besig te raak. God sal nooit te veel van jou vra nie. Veral nie op so `n manier dat daar niks oor is om aan ander te gee nie.

Helder antwoorde in komplekse situasies?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die Evangelie van Jesus Christus hanteer dikwels oënskynlike teenstrydighede, of te wel paradokse.  Na hierdie kernbeginsel het ons reeds voorheen verwys. In `n wêreld van groeiende kompleksiteit is dit `n kosbare geskenk. In `n land soos Suid-Afrika, kan ons nie daarsonder nie. Nie almal verstaan dit nie, maar ek voel al meer dat `n begrip vir kompleksiteit jou help om jou Suid-Afrikaanse paspoort met waardigheid te dra.

Verlede week het ek die voorreg gehad om Dr. Joel Hunter, een van president Barack Obama se persoonlike raadgewers, te ontmoet. Hunter is in eie woorde `n uitgesproke Evangeliese Christen (“Evangelical”) wat die sluitingseremonie by die Demokrate se nasionale konvensie in 2008 gelei het. Wie Amerika goed ken, sal weet dat dit opsigself al vir sommige `n paradoks verteenwoordig. Enkele opmerkings uit die oggend se gesprek bly my by. Die eerste is dat dit wil voorkom of al meer en meer Evangeliese kerke, of te wel kerke uit die sogenaamde “evangelical movement”,  publieke teologie begin bedryf. Kortliks kom dit daarop neer dat kerke wat eens bekend was dat hulle min met die sosiale- en geregtigheidskwessies van die dag te doen wou hê, nou aktief daarby betrokke is. `n  Onlangse artikel in Time Magazine oor Bill Hybels, die Willow Creek Community Church en hul onvermoeide ywer om rassegrense te deurbreek, is hiervan `n sprekende voorbeeld.

`n Ander groot kwessie in die VSA is die sogenaamde “pro-lewe” of te wel die aborsie-kwessie. Dit is presies hier waar daar ook `n nuwe denke begin groei het wat op `n fassinerende manier wys hoe die Evangelie `n antwoord kan gee wat polarisering wil ontlont.

Vir lank was hierdie `n onverkwiklike vir-en-teen-gesprek tussen Christene. Tans vind ons egter al meer kerke wat sê: Ons verstaan die kompleksiteit van die kwessie. Ons wil lewe in alle vorme as heilige geskenk van God respekteer. Ons wil ook nie meer stry nie. Bring daarom die baba’s asseblief vir ons. Ons sal vir hulle sorg en in liefde grootmaak. Dit is nie `n antwoord sonder sy eie kompleksiteite nie, maar `n antwoord wat `n prys van jou vra en my in die hart gryp. Dit wys die gesig van Christus op besonderse wyse.

Daar is veel meer kwessies vandag waaroor Christene stry, sonder om na jare se stryd by `n finale antwoord te kom. Dalk is dit omdat ons almal soms goedkoop en maklike  antwoorde op ingewikkelde vraagstukke soek. 
Oor `n week of wat vier ons Paasfees. Van die kleinste kerkies in die Transkei tot in die katedrale van Rome sal miljoene Christene die bekende sinnetjie uitroep: Jesus Christus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan! Ja, sommige sal steeds stry oor die aard van Sy opstanding, so al of ons met ons klein verstandjies en verstaanshorisonne presies kan ontrafel hoe hierdie ondeurgrondelike, groot gebeure plaasgevind het. Tog sal die meeste Christene heel eenvoudig nie die hoe van Christus se kruisiging en opstanding vier nie, maar wel die dat daarvan. Vir baie sal dit `n groter fees as Kersfees wees, omdat dit die hart, die kernboodskap van die Evangelie vier. Jy sien, dit is inderdaad `n kruis-boodskap. Wie fyn na die simbool van die kruis kyk, sal ook `n plus of selfs `n brug daarin sien. Dit wil nie verdeel nie. Dit wil bymekaar bring. Dit dra `n radikale versoeningsboodskap, juis in `n wêreld van kompleksiteit.

Lewe in `n seks-seer land

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Twee onlangse opmerkings van vroue het my kop aan die dink gesit. Albei is kennisse, wie se aanvoeling ek nogal vertrou. Die eerste opmerking was spesifiek na aanleiding van ons president se doen en late die afgelope tyd. “Jacob Zuma”, sê sy, “laat my as vrou geweldig bang, broos en onseker voel.” Die tweede opmerking was: “Ek dink ons het ons innerlike kompas verloor. Dit gaan soos `n woer-woer tekere, omdat daar net te veel ‘magnetiese’ kragte daarop inwerk.” Hierdie twee opmerkings het `n hele bondel vrae by my wakker gemaak.

Wat is aan die gang wanneer Tiger Woods, ander sportsterre en bekendes, die voorblaaie van ons koerante met eentonige reëlmaat versier, maar dan nie om die eintlike rede waarvoor hulle bekend geword het nie?
Wat doen jy wanneer die bewering gemaak word dat daar op hierdie oomblik waarskynlik meer mense as gevolg van mensehandel in slawerny is, as toe slawehandel dekades gelede op `n hoogtepunt was?  Die verskil is net dat die meeste vroue en kinders wat slagoffers hiervan is, nie  in fabrieke of op plase gaan werk nie. Ons weet wat gebeur.

Hoe dink ons oor die VIGS-pandemie wat steeds soos `n somerveldbrand in die Kaapse fynbos maai? Ek wonder of ons nog genoeg daaroor wonder en bereid is om eerlik genoeg daaroor te wees.

Ek wonder wat die effek van die sestien dae-veldtog teen geweld teen vroue was. Wat het dit regtig aan die verkragtingsyfers in ons land gedoen? Of het ons net weer “gewoond” geraak daaraan? Ek twyfel of die slagoffers het. Hierdie is kwessies waarvan die breë publiek weet. Dit dra egter ook vir my `n persoonlike gesig.

Ek dink terug aan die dae toe ek studenteleraar op Stellenbosch was en die jong meisie wat twee dae lank in die pastorie kom wegkruip het, kombers oor die kop, na `n “date-rape”. Dis al jare gelede, maar sekerlik was en is sy nie die enigste nie. Ek dink aan die mansstudent wat voor my sit en huil het omdat hy uitgevind het dat die meisie vir wie hy so lief is, voor hul verhouding seksueel aktief was. Dit terwyl hy sy eie seksuele aktiwiteite teenoor my bely het. Dubbele standaarde? Sekerlik, maar steeds seer.
Ek dink letterlik terug aan die kinders wat oor jare in my studeerkamer snikkend sit en huil het oor die buite-egtelike ontrou van `n ouer. Ek hoor van al meer tienermeisies wat dink hulle het `n ontsteekte buik en dan agterkom hulle dra eintlik `n  sepsis, wat die gevolg is van roekelose seks. Wat sê ek vir die goeie, getroue en lojale ma nadat sy hoor dat die groeisels en letsels aan haar vrouedele eintlik die gevolg is van haar “fatsoenlike” man se rondslaap en `n “nuwe” virus wat die rondte doen?

Ek wonder diep oor dit alles. Ek wonder oor wat my oupa sou gesê het. Hy sou waarskynlik gesê het: “Laat staan julle gestry oor Bybeltekste en gebruik julle gesonde verstand! So kan dit nie aangaan nie.” En ek onthou die woorde van my pa die dag nadat ek as kind my been totaal verbrand het na `n gespeel met bensien. “Nou verstaan jy waarom ek gewaarsku het. Ek wil nie hê jy moet seerkry nie, my kind. Ek het jou baie lief.”

Ek dink God sê dit nog steeds.

VRYLATING, GENADE EN GEREGTIGHEID

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die prominensie wat die moontlike vrylating van Eugene de Kock en Shabir Shaik die afgelope tyd in die media verkry het, is verstaanbaar. Diep en rou emosies is in die proses blootgelê. Intuïtiewelik voel `n mens aan dat hier veel meer op die spel is as maar net die presidensiële kwytskelding van twee politieke simbole. Dat dit nie `n eenvoudige saak is nie, blyk uit die verskeidenheid standpunte wat die rondte doen. As Christen-gelowige is ek egter in die proses met heelwat vrae en konsepte gekonfronteer wat onlosmaaklik deel van my geloofstradisie is. Ek dink veral aan konsepte soos reg en geregtigheid, genade, vryspraak, vrylating en vergifnis. In Luk 4 lees ons dat Jesus gekom het om die “vrylating van gevangenes uit te roep… om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Was dit `n blote metaforiese geestelike  verwysing, of het dit implikasies vir hulle wat letterlik in die tronk sit? 

Ons weet dat daar binne die Evangelie heelwat sogenaamde paradokse aangetref word. Gee jou lewe en jy sal dit terugkry. Ons lewe uit genade, maar terselfdertyd in gehoorsame uitlewing van die wet. So kan ons aangaan. Hoe egter konkreet gemaak met bogenoemde situasie? Wat die sage nog meer sensitief maak, is dat die vraag al meer gevra word, of De Kock inderdaad nie maar net die rookskerm vir Shaik se vrylating is nie? Word daarmee saam nie `n katnes van gebeure onder die mat ingevee nie? Dit hef egter nie eersgenoemde vrae op nie. Mag ek met huiwering, te midde van die kompleksiteit, vir `n oomblik hardop oor die saak dink?

In die eerste plek weet ek dat die Evangelie ons juis die Boodskap bring dat tweede kanse in die lewe moontlik is. Christus maak dit vir die grootste sondaar moontlik. Dit is juis die wonder van die evangelie. Natuurlik mag dit nooit in die woorde van Dietrich Bonnhoeffer `n “goedkoop genade” wees nie. Genade en vrylating moet altyd gepaard gaan met berou, eerlike erkenning en `n eie pleidooi om vergifnis. Vrylating en genade binne Bybelse konteks geskied altyd binne hierdie raamwerk. Dit geld vir almal van ons.

Terselfdertyd praat die Bybel baie hard en duidelik oor geregtigheid. Ek dink nie ons verstaan altyd hoe belangrik konsekwente geregtigheid vir God is nie. Om geregtigheid te laat geskied vra soms byna bomenslike wysheid. Ons lees reeds in die Ou Testament hoe Salomo se wysheid hom in die regspraak moes help. Groot onreg kan baie maklik in die naam van geregtigheid plaasvind. In die Christelike tradisie word daar egter groot gewag gemaak oor die moontlikheid dat die “Son van geregtigheid” oor ons almal kan skyn. Dit is `n omvattende konsep met baie kante, maar hou onder andere die belofte van Goddelike insig en wysheid in, wat veel meer is as menslike slimmigheid en rede. Ons het dit bitter nodig, veral omdat menslike selfsug en eie belang ons denke so maklik beïnvloed.

Ons het almal verder `n duidelike opdrag ontvang om te vergewe, om te versoen en inderdaad vredemakers te wees.  Hoe kry ons dit reg? Alleen wanneer die Gees ons broos en nederig maak. Wanneer ons sensitief raak vir slagoffers, wie hulle ook al is en waar hulle hulle ook al bevind.

Die debatte oor De Kock en Shaik lê noodwendig ook die geestelike kontoere van die Suid-Afrikaanse psige bloot. Mag ons onthou dat enkelvoudige antwoorde in `n gebroke wêreld skaars is.