Wanneer mense hul drome verloor…

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die woorde van `n pa wat sy talentvolle seun `n tyd gelede aan die dood moes afstaan, sal lank by my bly. Saam met al die rousmart wat hy moes hanteer, was daar een groot stuk seer wat hy so opgesom het: “Ek moes nie net my seun begrawe nie; ek moes saam met hom ook baie van my drome begrawe.” Wanneer drome in jou sterf, gebeur daar baie dinge met `n mens. Dit knou jou. Dit verlam jou. Dit maak die lewe taai en moeilik. `n Mens sou meer kon sê. Die feite is dat daar dalk op die oomblik meer drome om ons aan die sneuwel is, as wat mense wil erken.

In Amerika is die sogenaamde “Amerikaanse Droom” in sy spore gestuit. Eers met 9/11 en toe met die groot resessie wat die Amerikaners getref het. Nie almal dink dit is noodwendig net sleg nie, maar soms gaan nugterheid oor in pessimisme en verlamming.  Reg oor die wereld lyk dinge broos. In ons eie land lewe daar miljoene ontnugterde arm mense wat na 1994 groot drome oor `n nuwe, beter lewe gekoester het. `n Klein minderheid het welwaart geproe, maar vir die meerderheid lyk die toekoms steeds donker. Ontnugterde mense is dikwels bitter mense. Mense wat hul drome verloor, verloor dikwels daarmee saam ook energie, passie en hoop. Diegene wat al lande in Afrika besoek het, wat gebuk gaan onder intense hongersnood, sal weet dat wat jou die meeste tref, die gevoel is dat hier baie mense woon wat nie meer drome het nie. Jy kry sulkes egter ook om ander redes in ons eie gemeenskappe, onder alle bevolkingsgroepe, geslagte en ouderdomsgroepe.
 
Die Bybel vertel ons van `n soortgelyke situasie wat jare gelede afgespeel het toe `n klompie Joodse ballinge uit die Babiloniese ballingskap na Jerusalem teruggekeer het. Aanvanklik het hulle met groot drome geleef dat hulle hul land, stad en tempel gaan herbou. Spoedig het die werklikhede hulle oorval en het moedeloosheid ook die leierskap begin lamlê. Hul drome was aan die sterf. Die profeet Sagaria sien dan`n klompie gesigte wat nuwe hoop wil bring. Die plek ontbreek om alles hier te deel, maar `n paar beginsels wat Sagaria tuisbring, geld steeds. Baie jare gelede moes Sagaria reeds die kragtige werking van die Heilige Gees in oënskynlike hopelose situasies ontdek. Die Gees van God laat oud en jonk nuwe drome sien, ook in vasgeloopte situasies (Joël 2; Hand 2). Onthou egter dat die drome wat God gee, dikwels heelwat ruimer en anders is, as die verwagtinge waarmee ons leef.

Verder moes mense weer leer dat drome nie altyd eensklaps waar word nie, maar eerder stukkie vir stukkie waar word. Dalk leef ons na die geweldige rykdom wat mense in die vorige jare bymekaargemaak het, met die misplaaste verwagting en droom dat dit is hoe die lewe werk:  Oplossings kom maklik en eensklaps. Die boodskap van Sagaria is anders. “Moenie die dag van die klein dingetjies gering ag nie” (Sag 4:10). Gaan aan met jou werk, stukkie vir stukkie, tree vir tree, dag vir dag. Dit sal mense inspireer en nuut laat droom.

Leiers met Moed

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Leierskap sukkel maar om in hierdie dae uit die nuus te bly. Dit is ook nie sonder rede nie. Terwyl daar soms wyd kritiek oor leierskap uitgespreek word, voel  mense aan dat ons onsself by talle kruispaaie bevind en dat ons vaardige en waardige leierskap op elke terrein van die lewe baie nodig het. Die uitdagings waarvoor leierskap staan, is baie, maar mag ek een onderstreep. Leierskap het nie net die onderskeidingsvermoë en wysheid nodig om die regte ding te doen nie, maar ook die moed nodig om die regte ding te doen. Dit is nie altyd so eenvoudig nie. Talle leiers druip die karaktertoets, nie omdat hulle slegte mense is nie, maar omdat hulle bang is. Vrees laat ons vries en vrees laat ons faal.  Ons is dikwels bang vir mense. Ons is bang vir wat mense gaan sê. Ons is bang om aansien of ondersteuning te verloor.

Om werklik `n verskil te maak, gaan soms vra dat jy dinge sal doen waarvoor niemand anders kans sien nie. Leiers leef nie sonder vrees nie. Hulle weet net hoe om hulle vrees te oorkom. Om voor te loop, vra dikwels dat jy die onseker, onbewandelde en gevaarlike pad sal kies. Nie almal sien daarvoor kans nie. In beide die politiek, ekonomie en kerk is dit egter dikwels dié mense wat keuses gemaak het, waarvoor niemand anders kans sien nie, wat die verskil gemaak het.

Die vraag is waar die moed vandaan kom? Die bekende Duitse teoloog, Karl Barth, het op `n keer gesê: “Moed is vrees wat klaar gebid het.”  Dit klink na `n paradoks, maar moed vind jy op jou knieë! Gelowige leierskap bring baie ure op hulle knieë deur.
Tweedens. Jy sterf aan jouself, jou eie belange, jou ego en trots. Dit is vir ons as mense nie so eenvoudig nie, maar daar groei `n ongelooflike vryheid en moed in jou wanneer jy presies dit met die hulp van God regkry. Dit is eers as jy jouself verloor dat jy paaie begin loop, wat voorheen vir jou ondenkbaar was. Wie egter gedurig sy of haar eie belange eerste stel, loop die gevaar om vreesagtig en krampagtig te bly lewe.
Derdens. Jy leef uit die vriendskap en krag van gelowige vriende om jou. Goeie leierskap bou altyd goeie spanne. Dit is `n gawe, maar ook `n noodsaaklikheid vir goeie leierskap.  Terselfdertyd leef hulle met vertrouelinge en vriende om hulle, wat hulle in moeilike keuses bystaan. Sulke vriende is `n ongelooflike geskenk aan leierskap.
Vierdens. Jy leef met `n innerlike krag (Ef. 3) wat die Gees van God aan jou gee. Dit is `n kosbare ervaring wanneer jy besef en ervaar dat die Krag in jou, groter is as die storms om jou!
Vyfdens. Christen leierskap volg graag die voorbeeld van Christus na. Nêrens word dit duideliker geïllustreer as by Sy kruisdood nie. Natuurlik was Christus bang. Die Bybel vertel ons daarvan. Nogtans het Hy allereers God se wil gesoek en so die pad gestap wat Hy moes. Dit het die toekoms verander.

Mag leiers in ons land dit meer verstaan en leef.

Dr Hanekom is die moderator van die NG Sinode van Wes- en Suid-Kaapland

OOR DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Mediaberigte die afgelope maande het telkens verwys na gesprekke onder teoloë oor die opstanding van Christus, asook die aard daarvan. In die lig daarvan het die 10 moderators van die verskillende streeksinodes van die NG kerk `n gesamentlike verklaring uitgereik. Na aanleiding hiervan is ek deur `n joernalis genader met `n aantal vrae. Graag gee ek hier my antwoord:

Beste …

Dankie vir jou navraag. Ek reageer graag soos volg:

Ek dink dat ons reeds vinnig oor jou eerste vrae gesels het en dat ek jou die breë agtergrond gegee het. Miskien kan ek net byvoeg dat ons verklaring ten diepste bedoel is om `n pastorale getuienis teenoor onseker lidmate te wees. Ek meen dat die eerste paragrawe van ons verklaring tog duidelik sê hoe ons voel en ook nodige agtergrond gee. Ben du Toit se skrywe aan gemeentes antwoord ook jou vraag oor hantering.

Op jou 5e vraag antwoord ek graag soos volg:

Ek verwys jou eerstens na Francois Wessels se boek wat pas die Andrew-Murray prys gewen het: Wie was Jesus regtig? Ek dink dit dra besondere gewig. Hierin bespreek hy op opvattende wyse ook die opstanding van Christus en die historiese getuienis daarom.

Maar om by jou vraag oor die evangelies en die opstanding uit te kom. Ek verstaan die vraag dalk nie goed nie. As ek na al vier die evangelies kyk, is dit vir my baie duidelik dat al vier, weliswaar in verskillende woorde, na die een werklikheid kyk. Al vier evangelies getuig daarvan DAT Christus opgestaan het.  Nie een sê presies HOE dit gebeur het nie. Dit is deel van die Goddelike misterie – Die ondeurgrondelikheid van God self.

Dit is wat ek glo. Ek glo onwrikbaar dat Christus opgestaan het. Dit maak saam met Sy kruisiging deel uit van die kern van ons geloof. Dit is ons hoop en open bonatuurlike moontlikhede ook in my alledaagse lewe. As jy dit wegneem, vervaag die Christelike geloof tot nog `n mooi ideologie met navolgenswaardige idees. Vir Christene was die opstanding oor eeue meer. Dit was `n besondere bron van hoop. Vra maar vir ons swart medegelowiges wat Paasfees vier op `n manier wat my inspireer en jaloers laat. Hulle sal dit beaam.

Vriendelike groete
 
BRAAM HANEKOM

Persentasies, getalle en vertroue

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die afgelope tyd het getalle `n groot rol in die gemoed van baie Suid-Afrikaners gespeel. In `n verkiesing gaan dit immers oor getalle en persentasies. Die uitslae het `n invloed op mense. Die mistroostige brief in `n Sondagkoerant die naweek, van `n leser wat gemeen het die ANC gaan `n tweederde meerderheid kry, is maar `n enkele bewys hiervan.  Ekself het die uitslae van vroegdag tot laataand gevolg omdat dit inderdaad op `n manier die kontoere van ons veranderende samelewing definieer.

Daar is egter ook ander getalle waaroor daar gerapporteer is. Vooraf is gespekuleer oor hoeveel mense by die Mighty Men-saamtrek sou opdaag. Dit is noodwendig so dat die belangstelling wat die byeenkoms by die media gaande maak, onder andere verband hou met die duisende wat dit bygewoon het.

Ander getalle wat my aandag getrek het en wat dalk by die meeste Suid-Afrikaners verbygegaan het, is die “skuldmeter” wat SKY TV soms vertoon, wat vir jou wys hoe die skuld van die Britse regering by die minuut vermeerder. Toe ek `n week of wat gelede gekyk het, was dit om en by 200 miljoen pond per dag! In Desember 2008 het die Britse regering se skuld reeds meer as 750 biljoen pond beloop.  Indien hul nuwe begroting en gepaardgaande lenings goedgekeur word, sal dit teen 2013/2014 1,370 biljoen pond beloop. Wie hierdie rekening gaan betaal weet niemand nie, maar dit verbaas `n mens nie dat belastingkoerse in Brittanje onlangs na 50% verhoog is nie. Naas sommige van ons Super-14 uitslae, is dit nou `n syfer wat jou mismoedig kan laat.

Gelowiges moet hulself egter die vraag afvra of hierdie persentasies en getalle allesbepalend is. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink dit is ontsaglik belangrik, maar ek meen as gelowige dat daar ander persentasies is wat op die ou end van groter belang is. So byvoorbeeld die persentasie steun wat God van jou verkry. 2 Kron 16:9 stel dit mooi: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Die belangrike woorde hier is “hele hart”. Wie daardie geskiedenis ken, sal weet dat dit gegaan het oor `n goeie koning, wat mooi godsdienstige hervormings ingebring het, maar op die kritiese oomblik meer bekommerd was oor verdrae en koalisies as oor sy vertroue op God. Sy einde was nie goed nie.

Koning Dawid het in die moeilikheid by God beland omdat hy die volk laat tel het. (2 Sam. 24). By `n vinnige lees van die verhaal, wonder `n mens wat die probleem was, aangesien Dawid maar net `n sensus gehou het. Wie fyn daarna kyk, sal sien dat daar in Dawid se hart `n verandering plaasgevind het. Sy fokus was nou anders. Op `n tyd was `n slingervel, `n paar klippies en sy vertroue op God vir hom genoeg. Nou wou hy weet hoeveel mense hy agter hom het.
Om te groei as gelowige beteken nie altyd dat ek vromer word nie. Ek sukkel self maar baie daarmee. Dit beteken dat ek groei in afhanklikheid, oorgawe en vertroue. Dit is genade. Saam met die klipharde werk wat vir ons almal voorlê in die land, het ons dit veral nodig.

Barack Obama en Helen Zille

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die verkiesing in Suid-Afrika het gekom en gegaan en daar sal seker nog lank nabetragting gehou word oor die implikasies van alles wat gebeur het. Vergun my twee kort stukkies kommentaar.

Nadat Obama as die eerste swart (ja, kom ons vergeet vir die oomblik maar hoe swart), president van Amerika gekies is, het `n mens besef dat deel van die betekenis van die verkiesing daarin gelê het dat die Amerikaners, waarvan die meerderheid wit is, hul heel kosbaarste simbool aan `n swartman toevertrou het. Jy moet die presidentskap as simbool, in die VSA goed verstaan om die gewigtige betekenis hiervan goed te begryp.

Ek dink nie vir `n oomblik dit lê heeltemal op dieselfde vlak nie, maar in die Wes-Kaap het `n groot getal bruin en swart kiesers, dieselfde gedoen deur vir Helen Zille aan bewind te plaas. Wittes kon haar nie alleen instem nie. Hulle is gewoon nie genoeg nie. Dit bring egter `n verantwoordelikheid mee. Min dinge weeg so swaar soos die hoop en verwagting wat mense in jou stel. As dit gepaard gaan met `n klomp sosiale weerstandsgrense wat deurbreek word, raak die verantwoordelikheid nog groter.

Die verantwoordelikheid rus egter nie net op `n individuele persoon nie, maar op alle ondersteuners van die leier wat uit die staanspoor ander oorreed het om die brawe stap te neem en `n nuwe politieke tuiste te vind. In die Wes-Kaap is daar duisende mense vir wie politiek nie net `n luukse is nie, maar vir wie die optrede van politieke leiers, oorlewingsimplikasies het. Dit is hulle wat so vasgevang is in armoede en gepaardgaande sosiale euwels, dat die hoop eintlik nie meer bestaan nie en politieke keuses, wanhoopskeuses geword het. Mag beide die twee vermelde leiers die genade ontvang om mense wat werklik swaarkry, nie teleur te stel nie.

HET DIE KERK NOG BELYDENISSE NODIG?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Lesers het dalk kennis geneem van die voorstel van die moderamen van die sinode van Wes- en Suid-Kaapland dat die NGK die Belydenis van Belhar aanvaar. Oor `n baie belangrike deel van die besluit is daar nie in die pers gerapporteer nie. Die moderamen is ook bekommerd oor die rol, wat ons bestaande belydenisse tans in die kerk speel of nie speel nie. Ons is byvoorbeeld daarvan oortuig dat min lidmate regtig nog vertroud is met die inhoud daarvan. Die vraag word ook veral deur sommige jonger lidmate gevra of die kerk in die dae nog erns moet maak met belydenisse.  Die moderamen het gevoel dat die tyd aangebreek het dat die kerk ernstig hieroor praat. In tye waar daar talle kompromieë aangegaan word oor die waarheid, is daar gevoel dat daar ook padlangs gepraat word oor ander kernsake van die geloof.

Wie die geskiedenis ken, sal weet dat daar van die vroegste tye, juis vanweë die uitdagings wat die oomblik soms rig, groot erns in die kerk met belydenisse gemaak is. Nie alle gelowiges het altyd eenders oor belydenisse, belydende verklarings en die status daarvan gedink nie. Oor alle eeue heen het dit egter die kerk vergesel en begelei. Vir lank het die oer-Christelike belydenis: Jesus Christus is die Heer, die vroeë kerk gerig. Daar was ook die belydenisse van Athanasius, Nicea en Chalcedon. In die Gereformeerde wêreld spesifiek, vind ons die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls). Binne die Lutheraanse tradisie vind ons die Augsburgse Konfessie en Luther se Kategimus. Dan is daar nog die Barmenverklaring van 1934, en die Presbyterian Confession van 1967. Hierdie is maar enkele voorbeelde.

In die Formuliere van Eenheid word omskrywings gegee van hoe die kerk onder andere dink oor God, die persoon van Christus, die Heilige Gees, die Skrif, die skepping en sondeval, maar dan ook die verlossing in Christus, die kruisiging en opstanding, die uitverkiesing, die wet en tug, heiligmaking, volharding, die ware kerk en die sakramente. Hierdie “antwoorde” is veral gegee in reaksie op wat die kerk gemeen het dwalinge hieroor was. Die kerk het gevoel dat die hart van die evangelie op die spel is en dat daar ernstig en reguit hieroor gepraat moet word.

In die jare tagtig het daar `n belydende stem uit ons eie konteks weerklink wat onomwonde sê dat die kerk ewe reguit en padlangs moet praat oor eenheid, die versoening van mense onderling met mekaar en geregtigheid. Dit word nie tans so in ons bestaande belydenisse omskryf nie.  Soos oor alle eeue glo ons egter dat die Skrif ons rig en dat die kerk `n verantwoordelikheid het om helder en duidelik te getuig oor sake wat ons lewe en samelewing  tot op die been raak. Ook hieroor wil ons dus praat en bely.

Ek glo dat Belhar ons op `n vreemde manier kan help om oor veel meer as net Belhar te praat. Gelowiges skuld mekaar die gesprek dringend. Ek glo dat Belhar ons kan help om met `n evangeliese stem reguit te praat oor die uitdagings van ons dag, maar terselfdertyd die kernwaarhede van ons geloof te herwin. Hieroor is ek diep dankbaar.

Die wêreld het nuwe energie nodig

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die meer as $60 miljard verlies wat AIG Maandag aangekondig het, is maar net nog `n aanduiding van die groot ekonomiese verknorsing waarin die wêreld tans is.  Ons het reeds in September 2008  na die Amerikaanse beleggingsbank, Lehman Brothers,  se bankrotskap verwys. Intussen word dit al hoe duideliker, dat ons nog nie die laaste pyne van die krisis gevoel het nie. Baie miljoene mense kan nog hulle werk verloor, met noodwendige implikasies vir ons almal.

Aanvanklik is die hoop op reddingspakkette geplaas. Al groter wantroue bestaan tans of dit die werklike langtermyn oplossing is. Die vraag word boonop ook gevra of die wêreld vanuit `n ekologiese perspektief die voorafgaande jare se ekonomiese groei sou kon volhou. Opeenvolgende jare van groei het die manier om eksponensiële druk op ons hulpbronne te plaas.

`n Onlangse gesprek met `n gerekende ekonoom het my kop aan die dink gesit. Sy oortuiging  is dat verhoogde produktiwiteit en `n nuwe skoon energiebron ons kan help om in `n nuwe siklus van groei te stimuleer. Twee vrae het egter in my kop bly maal. Verhoogde produktiwiteit vra onder andere dat ons harder, vinniger en slimmer sal werk. Ons kan seker slimmer werk, maar is daar nog energie oor om harder te werk? Kan ons gees dit hou? Is daar nie `n groot deel van ons samelewing wat reeds by `n punt van uitbranding gekom het nie? `n Nuwe energiebron klink dalk na `n logiese oplossing. Die meerderheid van ons huidige energiebronne is beperk en laat die wêreld redelik vuil. Dit is ook so dat feitlik elke nuwe fase in die wêreldgeskiedenis gepaard gegaan het met die ontdekking van `n nuwe energiebron of tegnologiese uitvinding. Dink maar aan vuur, stoom, elektrisiteit, olie en in die laaste dae die internet as drywer van `n nuwe wêreld. Gaan dit ook nou die geval wees? Die vraag is waar kry ons so `n bron?

Ek wil pleit dat ons en veral `n jonger geslag nie sal ophou soek nie. Elke keer wanneer ek met jongmense in aanraking kom, word ek opnuut geïnspireer deur hul passie, kreatiwiteit en vermoë om in groter moontlikhede te bly glo. Hulle glo nog dat dinge anders kan wees. Dalk is daar onder ons neuse iets wat ontdek moet word.

Daar is egter nog twee “energie”-bronne wat die wêreld anders kan maak. Die eerste is `n nuwe waardesisteem. Ons ekonomiese stelsels het `n wind gesluk omdat ons waardestelsels begin sneuwel het. Dalk moes ons na die Enron-debakel al fyner geluister het. Sommige mag dink dat `n waardestelsel binne die ekonomie `n remskoen is. Op die ou end is dit juis dit wat die water vry en vinnig laat vloei.

Die tweede bron is `n teenmiddel vir `n ernstige virus wat in so `n krisis soms kop uitsteek, naamlik verlamming! Mense verloor moed.  Rom 4:18 vertel van `n voorvader met die naam Abraham wat nog gehoop en geglo het toe daar “geen hoop meer was nie…” Ja, daar is iets wat jou laat aangaan en moed hou as almal om jou dink dat alles verby is. Die energie wat ons soek, lê nie net in nuwe bronne, stelsels en sisteme daarbuite nie, maar veral in die geloof en hoop wat jy in jou omdra. Dit is nie `n kitsantwoord na nuwe rykdom nie, maar beslis `n energiebron wat jou sinvol laat lewe te midde van moeilike tye. Mag ons geloof in hierdie dae steeds sterker word.