Donderdag 4 Oktober: Weet ons regtig wat ons sing? Die Burger Godsdiens Aktueel Woensdag 3 Oktober

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Bono, die leier van U2, sou by geleentheid gesê het dat musiek die wêreld kan verander omdat dit mense kan verander. Daar is beslis ’n misterieuse krag opgesluit in musiek. Deur die eeue het dit mense gemobiliseer, getroos en gehelp om uiting te gee aan hul diepste emosies. Dit was so in Bybelse tye en is vandag nog so. Die toonaard van liedere mag verskil, maar dit roer op maniere wat woorde alleen nie kan doen nie. Ons sing as ons bly is en as ons treur.

Leonard Cohen sou waarskynlik nooit in La Scala gesing het nie en tog betower hy steeds, selfs jonger geslagte, met sy melancholiese musiek. Dalk ken en onthou jy die emosie belaaide woorde, “Do you hear the people sing…” uit Les Misérables. Ons weet hoe Europeërs voor rugbytoetse en tydens sokkerwedstryde kan sing. Ek raak elke keer jaloers as ek na die spontane, onbegeleide sang by sinodes en in kerke van my swart en bruin vriende luister.

Calvyn het gesê dat (kerk)musiek die tregter is wat die Woord tot in die hart van die mens moet stort. Dit is alombekend dat bloeitydperke in die kerk se geskiedenis altyd gepaard gegaan het met bloeitydperke in die kerkmusiek. Dwight Moody is byvoorbeeld tydens sy evangelisasie veldtogte, dikwels vergesel deur die sanger Ira Sankey. Dink ook maar aan ons eie Pinksterdienste en die rol wat die Hallelujas gespeel het.

Maar ook politici het dit goed verstaan. Vryheidsliedere het deur die geskiedenis al ’n groot rol gespeel. In ons eie land is dit tans kontroversieel. Dit is nie sonder rede dat “Skiet die boer” en “Bring my masjiengeweer” soveel emosie losmaak nie. Een ding is seker. Musiek is nie iets neutraal nie. Dit is nie sonder impak en effek nie. Dit geld op ’n manier vir alle musiek. Daar kan dus ongelukkig ook ’n donker kant aan musiek wees.

Musiek kan ook goedkoop word. Dink maar aan wat Boney M destyds met Ps 137 gedoen het. Een van die rouste treurliedere oor die Bibiloniese ballingskap is in dansmusiek verander. Die punt is heeltemal gemis.

Dus bly die vraag: Wat sing ons? Waaroor sing ons en watter boodskap dra ons uit as ons sing? Sommige wil beweer dat ons jongmense nie meer sing nie. Hulle luister musiek en kyk musiekvideo’s! Dis natuurlik net ’n halwe waarheid. Gaan kyk maar wat by die Sêr-kompetisies onder studente gebeur. Tog bly die vraag in die lug hang: Waarna luister ons regtig en wat sing ons? Dit verklap iets van ons diepste identiteit en sê iets oor waar ons onsself tans bevind.

Daarom, met erkenning aan al ons kontemporêre skrywers, wag ek op die volgende Afrikaanse Bob Dylan. Ek wag op `n nuwe Händel of Enoch Sontonga. Ek wag op gemeentes wat sommer net sing, sonder ’n kitaar of ’n drom of selfs ’n orrel, omdat die melodie en die woorde so sterk is dat mense gewoon losbars in Geesvervulde lofsang aan God.

Sondag 30 September: Is jy moeg gespartel?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Is jy moeg gespartel en gesukkel? Het jou lewe leeg en sonder betekenis geword? Is jy dalk diep ongelukkig en eensaam? Voel jy al geruime tyd dat God aan jou hart kom vat, maar dat jy om een of ander rede terughou? Dalk het die kerk jou teleurgestel en of seergemaak. Dalk het die lewe jou sommer net in `n verkeerde stroom laat beland.

Dalk lees jy baie, baie “toevallig” hierdie woorde vandag.

Dan wil ek jou uitnooi na `n nuwe lewe:

1. `n Lewe van gehoorsaamheid aan en volgelingskap van Jesus Christus.
2. `n Lewe van gemeenskap en deel wees van Sy Liggaam, die kerk.
3. `n Lewe van diens aan die wêreld.

Dit is sterk woorde en vra baie, maar wil jou verseker van die liefde van Christus en die hoop wat Hy vir jou wil gee.

Dalk gee hierdie woorde vir jou aanstoot en maak dit jou kwaad. Dalk laat dit jou koud. Maar dalk, net dalk het die Heilige Gees jou al voorberei vir hierdie woorde.

As jy verder hulp soek, kontak my by braam@kaapkerk.co.za en maak jou reg vir die reis van jou lewe!

Maandag 17 September: Ewige reisigers

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

`n Klompie dae gelede het ons `n paar gedagtes gewissel oor `n oorgangstyd. Dalk tog nog net dit. Dit kan ook `n erge misleiding wees deur te dink dat ons binnekort sal uit die oorgangstyd sal “arriveer” in `n nuwe tyd en in `n nuwe utopia. As ek na die Bybel kyk dan lyk dit vir my of ons inderdaad “vreemdelinge en bywoners” (1 Pet. 2:11) is en of dit ook nie maklik verander nie. Hierdie is geen hoop-lose boodskap nie.

Die kuns van Christen-wees is juis die kuns van gelukkige pelgrimskap. Ons kan gelukkige reisigers wees. Daarvoor moet ons lig reis en nie te swaar dra nie. Ons moet `n goeie Gids hê en natuurlik goeie geselskap op die pad hê. Ja, ons moet goeie vriende hê wat saam met ons reis. Dit maak die reis soveel lekkerder. Dit is wat die kerk veronderstel is om te wees.

Vrydag 7 September : Vrede

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Om oor “ware en egte vrede” binne die bestek van `n paar woorde iets sinvol te skryf, is moeilik. Daarom het ek dit goed gedink om doodeenvoudig `n paar stellings en aanhalings op die tafel te sit wat hopelik verdere gedagtes en gesprek sal stimuleer:
Daar is `n wesenlike verskil tussen die vrede wat die wêreld probeer bewerkstellig en die vrede wat God in Christus bring. Dit geld vir die “wêreld” in ons en om ons. Die lewe raak draaglik wanneer die vrede in ons groter is, as die storms om ons. Vrede beteken daarom nie noodwendig die afwesigheid van probleme nie, maar die oorwinnende teenwoordigheid van God in ons lewe.

Ware vrede – soos beskryf deur die oorspronlike Ou Testamentiese term “sjalom” veronderstel `n omvattende vrede, wat ook konsepte soos heling, balans, sinergie, versoening, geregtigheid en veel meer insluit. Dit moet ook op verskillende vlakke gestalte aanneem. Hier dink ons aan die persoonlike-emosionele, sosiaal-maatskaplike, politiese-, ekonomiese- en bowe-al geestelike dimensies van ons samelewing en menswees.

Daar is dus `n besliste verskil tussen `n goedkoop, valse, vrede en `n duur, egte, volhoubare vrede, wat, gebou is op eerlikheid, ware konsekwente geregtigheid, liefde, wedersydse aanvaarding en vergifnis. Laasgenoemde, so glo ek, bly `n gawe van die Heilige Gees.

Vrede bring vryheid, maar vryheid beteken nie noodwendig vrede nie. Vryheid wat nie ingebed is in dissipline en morele waardes nie, is gedoem tot `n nuwe vorm van slawerny en konflik.

Konflik en onvrede is een van die logiese gevolge van swak en integriteitslose leierskap. Dit gaan onmoontlik wees om volhoubare vrede in ons land te skep indien ons leiers nie tot verantwoording geroep word nie. Die huidige hebsug, gierigheid en begeerte na mag, wat gepaard gaan met korrupsie, `n gebrek aan dissipline, `n gebrek aan werksetiek en morele vesel, vernietig vrede.

Daar is `n verskil tussen vredemakers en vredeliewende mense. Vredemakers gaan na die konflik toe. Hulle wens dit nie weg nie, want dit werk gewoonlik nie. Hulle aanvaar realiteite en gee hul tyd en energie om konflik te help oplos, al vra dit `n prys.

Vrede groei ook daar waar mense `n gesamentlike doel en strewe ontwikkel. Waar sektoriese belange bly domineer, sal vrede moeilik groei. Vrede groei daar waar mense werklik in mekaar se skoene probeer staan.

John F. Kennedy het by geleentheid gesê dat as ons nie die konflik (“oorlog”) beëindig nie, die konflik ons einde gaan beteken. Die geskiedenis bewys dit. Ek is absoluut oortuig daarvan dat ons inderdaad al nader aan `n nuwe breekpunt en kruispad in Suid-Afrika kom. Emosies onder die oppervlak is besig om by die dag al hewiger te word. Kom ons neem hierdie emosies oor die hele spektrum van landsburgers ernstig, maar buig voor en bid tot God om werklik van my en jou vredemakers te maak.

Wanneer mense werklik nader aan die kruis van Christus beweeg sal hulle noodwendig ook nader aan mekaar beweeg. Vrede kan nie bloot vergeestelik word nie, maar ek glo opreg dat Christus die sleutel tot ware vrede is.

Woensdag 5 September: Die pyne van `n oorgangstyd. Godsdiens Aktueel Die Burger

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

`n Boekresensie – Woordeloos tot verhaal, trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans en `n brief in reaksie daarop in DB verlede week, verdien verdere kommentaar. Oor die betrokke skrywes wil ek my nie uitlaat nie, maar oor die saak van liminaliteit waaroor die skrywers dit het, wel.
Die term liminaliteit kan in gewone taal ook vertaal word met `n oorgangstyd of `n “tussentyd”. Die antropoloog Victor Turner het dit reeds jare gelede gebruik om die “nog-hier-nog-daar” ervaring in oorgangsrituele te beskryf. In so `n ritueel word mense van alles gestroop: mag, status, identiteit, en as’t ware uit die samelewing verban om daar `n nuwe identiteit en toekomsvisie te ontdek. Tradisionele inisiasie seremonies is goeie voorbeelde hiervan.
Dalk verkeer die hele Suid-Afrika tans in liminaliteit. Die oue is verby, maar wees ons genadig as dit wat ons tans ervaar, die finale nuwe produk is. Oorgangstye gaan dikwels gepaard met `n verlies aan orde en moraliteit. Dit is baie gepas dat Abraham Phillips se Die Verdwaalde Land, verlede week `n lank uitgestelde erkenning gekry het.

Baie blanke Afrikaanssprekendes ervaar liminaliteit tans intens. Hulle is gestroop van baie sekuriteite en probeer hulself verder stroop van enige iets wat aan die verlede herinner. Dit geld vir party, kerk en feitlik elke vorm van institusie wat eens op `n tyd die basis van die gemeenskap gevorm het.

Dit is `n tyd van malende, bitter en aggressiewe emosies. Kyk maar na wat alles op ons sosiale webwerwe en selfs in briewekolomme kwytgeraak word. Dit is verstaanbaar, maar ons moet verstaan dat ons onsself moeilik sal reinig deur net weg te stap en te maak of die verlede niks met ons te make het nie. Verskoon die parodie, maar `n stort-vloed van woorde alleen, sal nie help nie.

Ons is soos sweefstok-artieste. Die een stok is gelos en nou trek ons in `n duiselingwekkende oomblik tussen hemel en aarde, met min werklike vastigheid. Predikante en sielkundiges wat met trauma in ons gemeenskappe werk, sal vir jou sê dat die psigologiese letsels van apartheid nog `n hele ruk met ons sal wees. Oorgangstye waai nie oornag oor nie. Die plek ontbreek om Israel se veertig jaar in die woestyn te bespreek. Dit bly `n klassieke voorbeeld van liminaliteit.

Die vraag is waar mense in oorgangstye hul identiteit moet soek. In ons eie land wil dit soms lyk asof mense ontvlugting soek in `n strewe na geld, `n stywe dop en sport as strooisuiker daaroor. Die vraag is of dit ons sal help om `n nuwe stabiele, ge-ankerde identiteit te vind? Die Breivik-sage in Noorweë het gewys wat `n gevaarlike konkoksie uitbroei wanneer `n beheptheid met nasionalisme, vermeng word met `n skewe evangelie. Terloops, onthou tog dat Rudolf Hess, na sy verhoor oor die massa-moord op die Jode, ook as “normaal” geklassifiseer is.

My gebed is dat ons in hierdie dae die radikale boodskap van die Evangelie opnuut sal hoor. Mag dit ons help om ons dieper identiteit in God en ware medemenslike bestaan te herontdek.

Maandag 3 September: Oor ego’s en Dagbreek

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Sommer net twee los gedagtes vir die dag.

’n Opgeblase ego is ’n vreeslike ding. Dit veroorsaak ook baie stres. Stel jou voor jy is met ’n groot balon in ’n oorvol stadion en elkeen sit met ’n spelt in die hand! Om in die dae `n te groot ego te probeer beskerm kan jou nogal moeg maak. Enige iemand kan dit prik.
Iets anders. Die mans-koshuis Dagbreek het weer die nuus gehaal. Die keer oor ’n verskoning. Toe dink ek: Prof. Willie Jonker het ook namens die NGK verskoning gevra by Rustenburg, sonder dat hy die kerk in die saak geken het. Die reaksie was baie dieselfde as vandag. Maar prof. Willie word vandag as ’n held onthou….

 

Maandag 27 Augustus: Die evangelie volgens Anders Breivik

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die hofuitspraak in Noorweë dat die massamoordenaar Anders Breivik nie `n geestesversteuring het nie, “normaal” is en daarom tronkstraf behoort uit te dien het my gedagtes ver laat teruggaan. Dit was die soortgelyke bevinding van die hof wat Rudolf Hess verhoor het vir sy aandeel in die massamoord op miljoene Jode tydens die tweede wêreld-oorlog.

In `n amptelike verslag aan President Franklin Roosevelt het Winston Churchill geskryf: “Dit kom voor of Hess in goeie gesondheid is… geen tekens van geestesversteuring kan by hom bespeur word nie.”

As “normale”mense dit doen, moet die vraag gevra word, wat dan die eintlike ding is waarteen ons samelewing beskerm moet word. Die bose manifesteer in baie vorme in ons samelewing, maar dalk help die twee voorbeelde ons om te besef hoe gevaarlik `n nasionalistiese ideologie word, wat in die naam van geloof, eintlik maar net eie belange vooropstel en van medemenslike menswaardige bestaan niks wil weet nie. Ek gebruik die term geloof omdat hierdie uitwassinge oral voorkom. Islamietiese fundamentalisme is hier net so skuldig en gee ook aan baie Moslem-gelowiges, onverdiend, `n slegte naam. Die komplekse situasie in Palestina illustreer dit verder. Moet ook nie van die stryd tussen Indië en Pakistan of Bosnië vergeet nie

Die punt is eenvoudig. Wanneer geloof vermeng raak met selfsugtige nasionalistiese ideologiee word dit n gevaarlike konkoksie. Die ironie is dat ware geloof ons juis daarvan wil bevry. Christene verstaan dat Christus dit self ervaar het. C.S. Lewis het by geleentheid gesê dat die Jode Christus gekruisig het sodat hulle eie (nasionalistiese –eie invoeging) verstaan van wie die Messias vir hulle was, kon bly leef. Genadiglik het Hy opgestaan!

Waar laat dit ons? Niemand van ons is gevrywaar hiervan nie. Dit is hoekom `n helder en duidelike verstaan van wat die Koninkryk van God behels so ontsaglik belangrik is. Sommer kras gestel: Mag ons beskerm word teen die evangelie volgens Breivik. Die Evangelie wat Christus kom verkondig en beliggaam het staan direk daar teenoor. Dit verkondig waardes soos: Seën, die wat jou vervloek, wees lief vir jou vyande, verloor liewer jou eie lewe vir ander. Vir hierdie en ander stellinge is Jesus doodgemaak. Dit voel vir my of Hy vandag steeds deur mense wat hulself Christene noem, “vermoor” word.

`n Laaste opmerking. Dallas Willard vra die vraag hoe jy weet hoe diep jou geestelike groei en ontwikkeling regtig is. Die antwoord? Wel, sê Willard, nie hoeveel keer jy in die kerk sit nie, maar hoe maklik of hoe moeilik jy ja sê sê vir die radikale eise van die Evangelie. Hiervan het ons net `n paar hierbo reeds genoem. As ek dit hoor besef ek opnuut waaroom ons almal baie genade nodig het.