Donderdag 23 Aug: Hoe meet ek my geestelike diepte?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die skrywer Dallas Willard het my die afgelope week hard tussen die oë getref toe ek na die volgende opmerking van hom geluister het:

Hoe meet ek my geestelike diepte en of groei? Wel deur vir jouself te vra hoe maklik of hoe moeilik jy die radikale opdragte van Christus gehoorsaam. Dit is nou om jou vyande lief te hê, dié te seën wat jou vervloek en vervolg, nie jou humeur te verloor nie, maar in alle opsigte met selfbeheersing te lewe. Die lysie is veel langer.

Ek het net weer besef hoe onmoontlik is dit om self uit eie krag te bly groei. Daarvoor het ons die werking van die Gees en loutering, ja selfs pyn, nodig.

Woensdag 22 Augustus: Korrupsie

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Was vanoggend by die loodsing van `n anti-korrupsie veldtog in Khayelitsha. Teenwoordig was oa. Aartsbiskoppe Thabo Makgoba en Stephen Brislin. Egter ook pastore wat werk IN Khayelisha (Xola Skosana e.a), ander geloofsgroepe en die hoofrabbi van SA. Daar is hard en reguit gepraat.

`n Paar dinge het my bygebly:  Ons het n probleem en n groot probleem Korrupsie is ook n simptoom van dieper probleme. Daar is diegene (en dis ook gesê) wat bv glo dat korrupsie maar net een manier is om gelykheid in n korrupte ongelyke samelewing te bring.Daaroor sal mense hewig verskil.

Wat egter soos `n paal bo water staan is dat korrupsie vat aan die morele vesel en fondament van ons samelewing. Korrupsie bedreig nie net ons moraliteit nie. dit bedreig ons bestaan! Krummel ons morele vesel dan kan ons hele samelewing in duie stort.

Soos die Marikana tragedie `n simptoom is van veel groter breuklyne in ons samelewing is daar ook ander simptome wat nie slegs as simptome behandel kan word nie. Ons sal moet dieper grawe.

 

 

 

Woensdag 8 Aug: Natuurlik is daar nog hoop. Godsdiens Aktueel DB

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

`n Tyd gelede het ek die onbenydenswaardige voorreg gehad om saam met die polisie `n ou woonstelgebou in Hillbrow te besoek. Daar was geen elektrisiteit, water of sanitasie nie. Kinders het tot in groepe van vyftien saam in enkelkamers gewoon. Die toestande was haglik. Een vraag het by my bly opkom: Waarom hardloop hierdie kinders nie weg nie? Wat gebeur met jou denke en psige as hierdie hel jou huis word? Die antwoord is eenvoudig. Hulle het geen hoop meer oor dat daar enigsins iets beter daar buite vir hulle wag nie.
Verlede week was ek saam met Prof. Jonathan Jansen en `n paar kerkleiers in gesprek om saam oor die krisis in die onderwys te praat en wat die kerk se rol behoort te wees. Hy vertel toe dat hulle twee hoofde uit elke provinsie na Bloemfontein genooi het. Dit was hoofde wie se skole buitengewone verbetering in slaagsyfer getoon het. Hulle wou uitvind wat die hoofde gedoen het. Die antwoord was merkwaardig. Dit was nie nuwe rekenaars of kurrikulums nie. Dit was ook nie noodwendig sportvelde of nuwe klaskamers nie. Nee, op verskeie maniere , ook deur sprekers wat ingebring is, is die kinders gemotiveer en `n boodskap aan hulle oorgedra dat daar hoop vir hulle is!
Armoede is nie net `n gebrek aan geld nie. Dit is veral `n gebrek aan hoop. Daar is niks meer ellendig as wanhoop nie. Dit groei uit `n manier van dink wat jou gevange neem en verlam. Angs, vrees en bitterheid maak op `n ander manier van ons slawe. Ware rykdom groei uit hoop. Ware leiers is daarom ook altyd mense wat die werklikheid nugter in die oë kyk, maar dan ook altyd kan aantoon waar die pad na nuwe moontlikhede gevind kan word. Dit geld vir alle vlakke van die samelewing.
Dit is een van die redes waarom ek elke keer so graag terugkeer na die Evangelie van Jesus Christus. Al sê wie ook al wat, wil die gemeenskap van ware gelowiges `n veilige ruimte bied, wat stukkende en seer mense weer hoop en sin gee. Na die opstanding van Christus leef daar `n boodskap wat verkondig dat mense selfs in hul donkerste uur kan vashou daaraan dat `n nuwe dag weer sal aanbreek. Ons sal miskien nie vandag of môre lag nie, maar beslis weer. Ek glo dat ons almal voete van klei het, maar dat geen fout so groot is dat dit nie in Christus herstel kan word nie.
Verlede Vrydag het ek die voorreg gehad om tyd met `n hele aantal skoolhoofde by Goudini deur te bring. Hulle verteenwoordig kinders van alle bevolkingsgroepe en lae van die samelewing. Dit is laat Vrydagmiddag na `n lang week en Saterdagmôre sal hul weer daar wees. Hul sit bankvas in die saal. Ons praat reguit oor dissipline en werksetiek en die herstel van morele waardes. Maar ons praat ook reguit oor hoop en motivering en ek sien dit in hulle oë en gesigsuitdrukkings… Ons gaan nog baie goud wen!

Donderdag 2 Augustus: Die kerk is `n plek waar jy `n tweede kans kan kry.

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Gister moes ek een van die heel moeilikste begrafnisse van my lewe hanteer. Die begrafnis van Herman Pretorius, wat daarvan verdink word dat hy `n sake-vennoot eers geskiet het en toe homself. Daar word ook bespiegel dat miljoene rande in `n beleggingskema wat deur hom bedryf is, weg is en dat beleggers baie seer gaan kry. In vandag se Die Burger word enkele sinne uit die diens aangehaal. Ek het begrip daarvoor.
Ter wille van die groter perspektief volg wat eintlik in 80% van die diens gesê is.
Dat die kerk `n veilige ruimte vir stukkende mense wil wees.
Dat die kerk en die Evangelie `n plek vir 2e kanse is en dat miskien nie vandag nie, maar dat ons weer sal lag. Dat alles vir die wat agterbly nie verby hoef te wees nie. Christus het mos opgestaan!
Dat Christus `n andersoortige vrede nalaat – anders as die wêreld… (Joh 14:27)
Dat ons almal tot stilstand geruk word om ernstig na te dink oor Christus en waarmee ons werklik besig is. Oor eerlikheid en integriteit en dat halwe waarhede mense letterlik kan doodmaak.
Ek het na die tyd vir iemand gesê dat die Evangelie van Jesus Christus baie keer vir mense vervelig is, maar dat dit in oomblikke wanneer als vir mense so seer en stukkend is en lyk, dit die een ding is waarop ons kan terugval. Dan word die moeilikste dinge eintlik verstommend eenvoudig en maklik.
Vrede vir almal wat in die dae baie stukkend en seer is.

Dinsdag 24 Aug: Kan die NGK “omgedraai” word

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

`n Uittreksel uit `n brief wat hierdie week na alle leraars in die Wes-Kaap gegaan het:

’n Mens hoor deesdae dikwels die vraag of dit nie dalk net ’n kwessie van tyd is voor die NG Kerk haar deure toemaak nie? Dan word die krimpende getalle veral as rede aangevoer. Natuurlik is daar ook diegene wat graag sou wou sien dat dit gebeur en hierdie persepsies graag op verskillende maniere aanvuur. Vandag dus net ’n paar kort woorde hieroor.

Hier in die moderatuur glo ons dat ons eerlik, realisties en deursigtig moet wees. Een van leierskap se groot funksies is om die werklikheid so akkuraat en noukeurig as moontlik te probeer definieer. Dit help nie om mense ’n rat voor die oë te probeer draai nie. Dit mag op die korttermyn werk, maar op die langtermyn is dit nie volhoubaar nie. So wat dink en sê ons oor sulke praatjies?

In die eerste plek is ons baie realisties dat daar heelparty faktore is waaroor ons min beheer het en wat die getalle van die NG Kerk in die volgende jare nog negatief kan beïnvloed. Hier dink ons aan dinge soos demografie (dalende geboortes en emigrasie), sekularisasie, die negatiewe beeld wat die kerk weens apartheid saamdra en meer. Ons wil dit beklemtoon dat ons tans van ’n marginale daling praat. Verlede jaar was dit 2%! Wat wel waar is en ons weet dit, is dat veral van ons plattelandse gemeentes swaar trek. Dit het veral te doen met ’n massiewe verstedelikingsproses en dinamika wat veral in plattelandse skole afspeel.

Aan die ander kant is daar steeds meer as ’n miljoen lidmate wat die voorreg geniet van ’n uitgebreide infrastruktuur, wonderlike mense-kapasiteit, ’n lang tradisie van evangelisasie, woordverkondiging en naaste diens en veel meer. Ons oordeel dus nugter dat daar ’n verdere daling in getalle mag voorkom, maar dat enige stem wat dit tot die somtotaal van die NG Kerk se toekoms sou verhef met ernstige misleiding en vertekening van die werklikheid besig is.

Om verskeie redes glo ons egter ook vas dat die IMPAK wat die kerk op die Suid-Afrikaanse samelewing kan hê, in die volgende jare kan verhoog. Die vraag is dus nie net hoeveel mense daar ”op die kerk se boeke” is nie, maar belangriker nog, watter verskil die mense wat daar wel is, in die gemeenskap maak? As ons geen verskil maak nie, het ons geen bestaansreg nie.

Ons is dus baie dankbaar oor die passie en ywer waarmee soveel gemeentes steeds hul evangeliese roeping in ons land leef. Ons glo dat die verlossingsboodskap van Jesus Christus ’n daadwerklike verskil in mense se lewens kan maak. Ons glo dat ons die kapasiteit het om ’n enorme konkrete verskil aan die nood in ons land te maak. Ons glo dat ons steeds ’n versoeningsrol kan en moet speel. Ons glo dat ons eilande van hoop in ’n broos konteks kan wees.

Dit gaan van ons ‘n paar goed vra. ’n Toegewyde fokus op en verbintenis aan die Drie-Enige God. ’n Nuwe dissipline, werketiek en morele waardestelsel. ’n Verbintenis tot gesamentlike en persoonlike geloofsonderskeiding om regtig te bepaal wat die belangrike goed is wat ’n verskil kan maak en wat die minder belangrike goed is, wat ons soms baie besig hou, maar wat geen werklike verskil maak nie.

Dinsdag 17 Julie: Die verskil tussen `n profeet en `n leier

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Het jy al ooit gewonder wat is die verskil tussen ’n profeet en ’n leier? Wel, ’n profeet het die vermoë om die waarheid helder en duidelik te praat. Ook daardie waarhede wat mense nie wil hoor nie en hulle ongemaklik laat. Hulle is dikwels randfigure in die samelewing wat juis dinge sien en kan sê omdat hulle afstand en perspektief het.
’n Leier praat ook die waarheid maar op so ’n manier dat mense dit hoor en hom of haar volg. Leiers bring mense in beweging en maak ’n konkrete verskil!

Woensdag 11 Julie: 6 Lesse geleer op die Camino: Die Burger Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

In Spanje is daar `n bekende pelgrimsroete, die Camino de Santiago de Compostela, of sommer net die Camino, soos die duisende stappers dit noem. Volgens oorlewering sou die apostel Jakobus dit gestap het. Hoe waar dit is, weet ons nie. Vandag is daar talle roetes uit verskillende lande wat na Santiago gevolg kan word. Die hoofroete begin by St Johns in Frankryk en eindig ongeveer 700 km verder in Santiago in Spanje. Ek en my vrou het onlangs die voorreg gehad om die laaste 200 km van die roete saam met vriende te stap.
Die Camino gaan letterlik oor skilderagtige berge en dale, vlaktes en groter dorpe, maar ook deur die allerfraaiste klein dorpies waar dit vir jou voel of jy honderde jare terug in tyd stap. Saans slaap jy saam met mede-pelgrims in die Albergues, waar saam die pelgrimsete van die dag gedeel kan word. Seer voete raak `n belangrike gesprekspunt. Voete sonder blase en gesondheid, is kosbare artikels op die Camino.
Pelgrimsroetes bestaan reeds vir eeue. Vandag is dit nie net Christene wat die Camino stap nie. Die eindpunt bly egter die groot katedraal in Santiago, waar daar elke dag om twaalf-uur `n diens vir die pelgrims gehou word. Duisende woon dit by. Daar is iets besonders aan pelgrim-wees. In die sweet en swaarkry van elke dag se stap word daar wonderlike lesse vir die pelgrimstog van die lewe geleer. Hier volg `n paar lesse wat ek opnuut op die Camino geleer het:
Een: Baie lag saam met goeie vriende maak enige lang en moeisame reis korter en makliker. Twee: Die meeste van ons dra hopeloos te veel goed saam! Drie: Almal van ons kry soms onverwagse, erge pyne langs die pad. Aanvaar dit as deel van die reis en hanteer dit op `n slim en geduldige manier. Vier: Daar is `n vreemde samehorigheid en gemeenskap wat groei tussen mense, ongeag taal, afkoms, ouderdom, geslag of wat ook al, wat saam swaarkry! Wanneer die persepsie egter groei dat dit net party is wat swaarkry, groei gevaarlike irritasies wat tot konflik kan lei. Dalk is dit een van die groot probleme met ons eie land.
Vyf: Langs die pad het `n mede-pelgrim my hierdie wysheid gegee: “As jy die Camino soos `n ou man begin stap, mag jy dit dalk soos `n jong man klaar maak”. Onthou, almal voel goed die eerste dag. Na `n paar dae word die reis lank. Almal het dan soms rusdae nodig, `n Sabbat as jy wil. Daarsonder raak enige reis te lank.
Ses en dalk vir my die belangrikste: As jy weet wat die eindbestemming van jou lewe is, maak dit die opofferinge en swaarkry veel maklikliker en sinvol. Santiago was `n groot motivering vir ons. Ons wou daar kom. Tog het ek bly dink aan die woorde van Laurika Rauch se Hotgates: “But there’s another city, so I am told…” Is ons soontoe op pad, of net stappers met groot blase, op pad na nêrens?