Woensdag 13 Junie: Is daar `n lang winter op pad? Die Burger Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Verlede week het die eerste regte groot koue fronte van die winter ons getref. Tog was dit nie al koue waaroor berig is nie. `n Opskrif in die Sake Burger het `n andersoortige koue rilling by my veroorsaak: “Koue wind waai in April.” Baie slegte ekonomiese groeisyfers uit die verskillende streke van ons land, was verantwoordelik daarvoor. Die vraag waaroor ekonome nou meermale bespiegel, is of daar nie inderdaad `n lang en koue winter vir die wêreld op pad is nie? Die eerste fronte het ons immers al getref. Daar was die resessie van 2008. Die huidige krisis in Europa is nog met ons en nou word gewaarsku dat China sy groeimodel sal moet aanpas om volhoubaar te wees. Indië het onlangs die laagste groeisyfers sedert 2003 aangekondig. Beteken dit alles dat ons ons moet regmaak vir nog groot koue?

Anders gestel. Is daar `n tyd op pad, amper soos die Middeleeue was, waar die rykes in groot kastele wegkruip, terwyl die armes mekaar uitroei in `n poging om skaars middele in die hande te kry? Logika en rede kwyn in so `n tyd en oorlewing word die wagwoord. Alreeds sien ons dat baie welsynsorganisasies se begrotings onder groot druk is. Die oorvloed van groeitye is net nie meer daar nie. Ja, in “wintertye” is dit altyd die armes wat die swaarste kry. Die vraag is wat `n mens in so `n winter doen en wat gelowiges behoort te doen?

Die eerste is `n natuurlike reaksie. Jy trek terug in die veiligheid en snoesigheid van jou eie huis. Jy steek die vuur aan en sorg vir jouself. Die tweede is `n verantwoordelike reaksie. Jy beplan en beplan goed. Jy leef sober en eenvoudig en beplan vir die lang winter. Selfs die eekorinkies is slim genoeg om akkers bymekaar te maak.Wintertye is ook snoeityd. Jy snoei met `n plan en maak skoon sodat daar genoeg plek vir groei in die lente sal wees. Die derde is `n prysenswaardige, menslike reaksie. Jy verhoog jou sensitiwiteit vir die armes. Jy raak meer bewus van hulle en dink oor hulle. Jy ry verby iemand wat in `n vullisdrom krap en jou maag gee `n ekstra draai. Die vierde, so wys die statistieke, is die reaksie van die minderheid. Jy doen meer as die eerste drie reaksies. Jy doen iets! Dit mag klein wees, maar jy doen iets.

Dit is al meermale gesê. `n Land word nie gered deur een of twee groot wonderwerke nie, maar deur `n omgee-kultuur van duisende mense wat stukkie vir stukkie, met oënskynlik onbenullige klein dade `n groot verskil maak.

Winters is nie net sleg nie. Ons het hulle nodig. Selfs ekonomieë moet soms afkoel. Daar is in die woorde van N.P. van Wyk Louw, `n vreemde rykdom opgesluit in wintertye se stille rus en geheimenisvolle groei. Dit vra egter geduld en wysheid om daardeur te kom. Mag ons inderdaad deur Sy Gees groei in wysheid en aanvoeling om dit hierdie winter met waardigheid reg te kry.

Dinsdag 22 Mei: Pinkster, renosters en die onderwys

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Ek hou tans Pinkster op Kroonstad en is weg van die geroesemoes van elke dag se uitdagings op kantoor. Ek het dus bietjie meer tyd om te dink.

Ek dink oor die kerk en het meer tyd om tyd met God deur te bring,
Ek dink oor die Heilige Gees en al die beloftes van vreugde en vrede wat Christus oor Pinkster en die Gees gemaak het.

Tog luister ek so tussendeur na die nuus en hoor van die 133 renosters wat reeds vanjaar in die Nasionale Kruger Wildtuin gestroop is. Nou wonder ek.
Is daar regtig soveel skurke?
Is dit `n “inside job”?
Of is dit net totale onbevoegdheid van die owerhede?

Jammer dat ek so reguit is, maar op meer punte moet ons seker maar wees.

En die regering het aangekondig dat hulle R8 miljard oor die volgende drie jaar gaan spandeer om klaskamers, biblioteke, rekenaarsentrums en sportvelde by skole te vestig. Prysenswaardig! Maar as daar nie bestuur en leierskap is om dit in stand te hou nie, is dit geld in die water! As daar nie goeie toegewyde onderwysers is nie, gaan dit niks help nie.

In die ou dae was daar ook baie arm skole wat maar karige geriewe gehad het, maar as daar onderwysers was wat hul ding met toewyding kon doen, was die uitkomste fantasties.

Lyk my die regering begin steeds op die verkeerde plek!

Woensdag 16 Mei : Watter seer is die seerste? : Die Burger Godsdiens Aktueel (Ware vrede word in die siel gevind)

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

In `n wêreld vol lyding en seer het ek al dikwels gewonder watter tipe lyding die heel seerste maak. Op `n manier sou jy seker kon sê, dat dit die seer is wat jy op die oomblik ervaar. Seer is in elk geval relatief en moet tog nooit iemand probeer troos deur vir hom of haar te vertel hoe swaar ander mense eintlik kry nie. Die lysie van seer is eindeloos. Daar is siekte en dood. Miljoene mense ly onder fisiese chroniese pyn. Ek dink aan die dood van `n vriend of `n familielid en veral die dood van `n kind. Kan daar iets swaarder wees? Ek wens dit niemand toe nie.
Maar soms is die dood genadig. Dit sal mense jou ook kan vertel. Vir baie mense is daar erger dinge as die dood. Daar is verwerping en werkloosheid, armoede, honger en eensaamheid. Ja daar is die verskriklike pyn van egskeiding en gebroke verhoudings. Daar is fisiese geweld. Daar is die pyn van verlang na iets wat jy nooit sal kan hê nie. Daar is depressie en angs. Wie sal dit ooit kan verstaan as jy dit nog nie ondervind het nie?
Maar vandag wil ek oor iets anders `n paar woorde sê, naamlik: Die hel van onsekerheid. `n Kind raak weg of word ontvoer en niemand weet of hy of sy nog lewe nie. Ek ken ouers wie se kinders so weggeraak het en nooit ooit gevind is nie. Jy hoor dat jy dalk jou werk gaan verloor of vermoed dat jy aan `n ongeneeslike siekte ly , maar niks is seker nie. Daar is `n hangende hofuitspraak wat jou lewe ingrypend kan raak. Jy vermoed dat jou kinders met verkeerde maats deurmekaar is en dalk dwelms gebruik. Die onsekerheid wat die ekonomie, die politiek en die ekologie inhou, is maar effe gemeet teen bogenoemde. Ons sou die lysie veel langer kon maak.
Verskillende mense hanteer hierdie onsekerheid op verskillende maniere, maar op die ou end val hulle uiteen in twee groepe. Aan die een kant is daar diegene wat die wêreld om hulle krampagtig probeer verander. Aan die ander kant is daar diegene wat daarna soek om die rus en kalmte in hulle binneste te herstel. Innerlike en uiterlike vrede staan nie noodwendig teenoormekaar nie, maar ware vrede word bitter selde buite jou siel gevind.
Donderdag vier ons die aspoestertjie van alle Christelike feesdae: Hemelvaart. Voor sy hemelvaart het Jesus aan sy dissiples gesê: Vrede laat Ek julle na, my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee is nie die soort wat die wêreld gee nie… (Joh 14:27) Die ou kerkvader Augustinus het na `n bedenklike jeug en baie gebede van sy moeder Monica `n ander pad ingeslaan en die beroemde woorde nagelaat: “My hart is onrustig tot dit rus vind by God.” My geloof in God haal beslis nie alle onsekerheid uit my lewe nie, maar wat dit wel doen, is om die wanhoop uit my onsekerheid haal.

Maandag 14 Mei: Het ons nie dalk kibboetse in SA nodig nie?

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Verlede week beland ek op ’n vliegtuig langs ’n Israeli wat geruime tyd reeds in Suid-Afrika woon. Hy is besig om ’n spanningsverhaal te lees oor moderne Israel. Dit is in Hebreeus geskryf, nes ons op kweekskool geleer het, van agter na voor en regs na links. Die voorblad is die agterblad en ek is dadelik geïnteresseerd. Ons begin gesels oor Israel en ek vra hom half moedeloos, waarom daar nie tog maar `n versoeningspad soos in Suid-Afrika geloop kan word nie. Later praat ons egter oor Israel se kibboetse en ek begin wonder: Het ons nie dalk baie daarvan in Suid-Afrika nodig nie?
Kibboetse is destyds begin as gemeenskappies wat op plase saam gewoon en gewerk het en so, nie net ’n bestaan gemaak het nie, maar eintlik met groot dissipline en harde werk ’n nuwe gemeenskap help bou het. Vandag is daar meer as 270 sulke gemeenskappe, wat nie net uit landbou ’n bestaan maak nie, maar sommige ook uit hoogs tegnologiese industrieë.
Die navorsing wat ons die afgelope tyd oor armoede in Suid-Afrika gedoen het, wys dat armoede veral vier oorsake het. Eerstens is daar is die ekonomiese stelsels waaroor ekonome en politici stry. Tweedens is daar ons gebrekkige onderwys. Derdens word armoede dikwels in die denke van mense gebore. ’n Slagoffermentaliteit of ’n sogenaamde armoede kultuur ontstaan dan. Hoop-loosheid is een van die belangrikste simptome en mense gly so al dieper in die put. Gebrekkige waardes is die vierde pilaar. Korrupsie en ’n gebrek aan werksetiek gedy in so ’n omgewing. Ons sien dit oral om ons.
Natuurlik sal ’n kibboets-stelsel vir Suid-Afrika verinheems moet word en baie belangrik, daar sal gewaak moet word teen eksklusiewe, sektariese gemeenskappies waarbinne ideologiese virusse so maklik gedy. Tog meen ek dat al vier genoemde uitdagings in so ’n stelsel aangespreek kan word. Die konsep is ook nie heeltemal nuut aan ons land nie. In die dertiger jare het die kerk na die Carnegie-verslag ’n aantal werkskolonies gestig, wat `n groot impak op armoede gemaak het.
Dalk moet die kerk dit weer doen. Die keer mag dit nie net vir `n bepaalde rassegroep wees nie, maar behoort ware inklusiewe gemeenskappe gestig te word. Ek droom van ’n plaas of twee as loodsprojekte waar mense saam woon en werk. Waardes behoort duidelik uitgespel te word en die kinders sal nie wonder of daar vanaand kos op die tafel is nie. As die kerk dit doen, sal ons nie skaam wees om dit vanuit ons geloof te doen nie. Daar sal dus goeie Hulp beskikbaar wees. Ek glo dat so `n droom met goeie bestuur en leierskap wel moontlik is. Die kinders kan geleer word en dié wat hard wil werk, sal ’n tuiste hê. Wie weet, dalk oortuig ons die regering om dit ook met van hul onbenutte grond te doen. Maar iemand moet die weg wys. Jy sien, wie armoede probeer verlig sonder om ’n nuwe gemeenskap te bou, bou maar ’n mankoliekige huis.

Sondag 6 Mei : Zimbabwe die NGK en ons toekoms

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Sondagaand

Ek sit op die vliegtuig terug van Harare na Johannesburg en dink diep oor my ervarings van die afgelope naweek. Ek het die honderd-jarige viering van die CCAP Harare (Church of Central Africa Presbyterian) bygewoon. ‘n Eeu gelede is die kerk gestig nadat ‘n aantal trekarbeiders uit Malawi ‘n pleidooi gerig het om bedieningshulp. ‘n Ene ds. T. B. C. Vlok van die NGK het die bediening begin, wat later voortgesit is deur o.a. ds. M.S. Daneel. Sy ou pastorie is vandag die kerk se hoofkantoor in Harare.

Die vieringe is vol toesprake en gaste uit Amerika en Malawi. Dit word by ‘n kampterrein buite Harare gehou, wat eers ‘n plaas van Bouwers was en later deur hulle aan die kerk geskenk is. Kore is volop en sing pragtig en die meeste van die ouer mans dra (ou) pakke.

Dis warm, maar die veelkleurige doeke wat spesiaal laat druk is vir die geleentheid gee kleur aan als …. en ek dink diep:

• Baie van die ou tradisies staan nog steeds net so. Die liedere se wysies is bekend.

• Die mense (soos Zimbabwe) is steeds baie arm, maar diep gelowig.

• Daar is jong en ou mense.

• Dis ‘n kerk wat ons gestig het, maar verinheems het.

• Ons gee steeds groot ondersteuning, maar mag nie meer voorskryf en dinge vir hulle doen nie.

• Hulle moet nou hul eie storie skryf!

Die 91-jarige ds. Hannes Londt (op krukke) was ook daar en vertel kosbare stories van die ou, ou jare. Ds. Kobus Minaar het gepreek en praat, soos oom Hannes, steeds vlot Chichewa. Sy teks was: 1 Kor. 3:11. Laat ons op geen ander fondamente bou as Jesus Christus nie! Sekerlik ‘n teks vir die NGK vandag!

Ek het lang gesprekke gehad met die PCUSA (Presbiteriane in VSA). Waaroor gaan hul sinodes deesdae? Oor Belhar en gays en ek leer baie…

Ek dink oor die pragtige Zimbabwe- landskap. Aan bome en grasvelde . Ek dink oor die nostalgie wat hang oor Harare. Afrika het dit weer in besit geneem, maar dit is nou ook ‘n nuwe Afrika, een vol materialisme en hebsug.

Waarheen is ons almal op pad? Die tyd sal leer. Ek wil egter hierdie pad nie sonder Christus stap nie. Al sê wie ook wat, al word ons oor en oor daarvoor vergruis.

…….’n Laaste waarskuwende woord. Ek dink iets mag dalk iewers in die nabye toekoms knak: Ekologies, sosiologies, polities, ekonomies?…. ek weet nie.

Ons wêreld het te vinnig en te vol geword… selfs ook in Zimbabwe.

Mag God ons genadig wees.

Woensdag 2 Mei: Swart of wit standpunte

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die teoloog NT Wright het tereg opgemerk dat daar in om die kerk vandag twee groot storms woed. Aan die een kant is daar regse fundamentalisme en aan die ander kant is daar vrysinnige liberalisme. Dit is asof sommige wil beweer dat daar net nie meer plek is vir enige iets tussen in nie. Jy moet jou plek vind in een van die groeperinge en dan deel word van die konflik. Die NG Kerk het – tot baie groot frustrasie van albei groepe die afgelope jare – gekies om nie deel te wees van hierdie polarisasie nie. Natuurlik beteken dit nie dat daar nie lidmate binne die NG Kerk in albei hierdie groepe is nie. Tog dui die besluite van sinodes die afgelope jare dat die breë middelgrond voortdurend gesoek word. Sommige beskou dit as `n gebrek aan standpunt inname. Dalk is dit juis `n moedige plek om te wees waar mense sake so maklik wil vereenvoudig en wit of swart antwoorde soek.