Vrydag 20 April: Die vroeë ontwikkeling van ons kinders

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Ek sit in `n konferensie oor vroeë kinder-ontwikkeling en raak al hoe stiller hoe langer die konferensie aangaan.
Ek is verwonderd oor wat die kerk en gewone gemeentes tans doen… ook en veral onder die armstes van armstes. Ek dink daar is seker ‘n paar duisend sulke crèche’s /kleuterskole/dagsorg sentrums wat deur kerke (meestal sonder subsidies) aan die gang gehou word. Daar is baie stories van hoop. Kinders wat liefde ontvang en ervaar, dikwels vir die eerste keer in hul lewe.
Maar ons hoor ook oor Fetale alkohol sindroom. SA se syfers is nou die hoogste in die wêreld. Ons hoor van die onomkeerbare simptome en die verskriklik impak op ons samelewing. Ja, kinders wat nie net “dom” is nie, maar ook nie kan onderskei tussen reg en verkeerd nie… en dan wonder ons waarom ons tronke so vol is.
En ten slotte hoor ons van outisme. Die syfer styg. Jare terug het hulle gesê daar is 1 uit elke 1000 kinders wat outisties is. Nou is dit 1 uit elke 150 kinders. Hoekom? Ons weet nie. … Is daar iets met ons wêreld verkeerd?
Ai, dit is tyd vir stil word en diep dink.

Woensdag 18 April: Wat sou die grootste sonde wees? Die Burger Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Soms hoor `n mens die vraag of daar sommige sondes is wat groter is as ander? Is daar dinge wat jou makliker vergewe word as ander? Vir Fiela Komoetie in Dalene Matthee se Fiela se kind, was een dink duidelik: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ‘n kind aandoen nie”. Die vroeë kerk het ook lysies van erge sondes gehad. “Doodsondes” is dit genoem. Dit is oor een van hulle wat ek vandag iets wil sê: Trots, of te wel hoogmoed. soos dit op verskeie plekke in die Bybel genoem word en wat deur die Here verafsku word. (Spreuke 6:17)

Laat ons dit dadelik sê, daar is sekerlik vorme van trots wat nie sleg is nie, maar dis die hoogmoed-ding waaroor die Bybel dit so ernstig het.

Hoogmoed het baie gesigte, maar sekerlik is die eerste wat ons moet weet, dat hoogmoed so gevaarlik is omdat dit so verskriklik moeilik is om self raak te sien. Daarby is die skade wat dit aanrig aanvanklik so subtiel, maar het dit `n manier om soos `n kanker al verder te versprei.

Nou die dag hoor ek iemand weer sê: “Daai ou praat nooit sleg van ander nie, want hy praat die hele tyd net oor homself!” Hoogmoed is natuurlik die tweelingboetie van ego en ego die alterego van selfaanbidding. Hoogmoedige mense aanbid eintlik hulself.

Maar daar is meer. Hoogmoedige mense lewe met meer moed as wat wenslik is. Hulle dink meer van hulself as wat in werklikheid geldig is. Hulle sien neer op ander en verstaan nie dat alles wat hulle is eintlik `n gawe is nie. Ander simptome sluit in: Ongeduld, onvriendelikheid, afguns, liggeraaktheid, grootpraterigheid en eiebelang. Klink dit bekend? Ja, ons lees hiervan in 1 Kor. 13. Hoogmoed is eie liefde wat direk staan teenoor die liefde vir ander. Hoogmoedige lewens raak al hoe meer ingewikkeld en dra swaar bagasie met hul saam omdat hulle altyd moet goed lyk. Hulle is nie maklik verkeerd nie en sê nog moeiliker hulle is jammer.

Wat maak ons nog hoogmoedig? Kennis kan ons hoogmoedig en beterweterig maak. So ook sukses en onbegrip vir ander en waar hulle vandaan kom. Mag kan ons hoogmoedig maak. Hoogmoediges kyk na die wêreld deur hul eie oë en sukkel om dit deur God se oë te sien. Hoogmoed maak seer, soms baie seerder as fisiese geweld, maar dit kom tot `n val! (Jesaja 5:15)

En wat sou help? Ootmoed. Dis nog `n woord wat ons nie meer baie gebruik nie. Dit is egter meer as blote nederigheid. Dit is `n lewensmoed wat vloei uit `n neerbuig voor God en ander, nie omdat jy minderwaardig is nie, maar juis omdat jy geleer het wat genade beteken. In die woorde van Romeine 11:17-18: Ons is wilde takke wat op `n mak tak ingeënt is. Onverdiend. Ons dra nie die wortel nie. Die wortel dra ons. Laat ons dit nooit vergeet nie.

Sondag 8 April: Die opstanding van Christus

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Vandag vier ons Opstandingsondag!
In meer as een opsig is hierdie die waterskeidingsoomblik in die geskiedenis. Jou siening van hierdie dag weerspieël jou siening van God.
Daar is diegene wat die opstanding sien as `n simboliese gebeure, metafories en met groot inspirerende waarde en betekenis vir almal sonder hoop. Die boodskap is eenvoudig. Daar is hoop. Byt net vas.
Dan is daar diegene wat glo dat die opstanding van Christus `n herskeppingsdaad van God self was! So ingrypend, bo-natuurlik en onverklaarbaar soos die skepping self.
Op die oog af kan die verskil in siening baie mense verby gaan, maar in werklikheid is die verskil ingrypend. Dit bepaal wesenlik hoe jy oor God dink, wie Hy was, is en sal wees.
Geseëde Paasfees.
Saam met gelowiges oor duie eeue heen bely ek graag: Jesus Christus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan!

Maandag 26 Maart: Nog oor wonderwerke

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die rubriek in DB oor wonderwerke het nogal reaksie tot gevolg gehad. Gaan loer gerus in by http://www.romereports.com/palio/the-67-miracles-of-lourdes-english-1605.html en lees oor die 67 wonderwerke (uit die 8000 aansprake) van Lourdes wat na intensiewe studie deur medici deur die RKK as wonderwerke verklaar is

Woensdag 21 Maart: Gebeur wonderwerke nog? DB Godsdiens Aktueel

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Anton Rupert het by `n geleentheid gesê dat “hy wat nie in wonderwerke glo nie, nie `n realis is nie.” Maar wat sou hy met “wonderwerke” bedoel het?

Vir jare reeds word daar debatte gevoer oor die vraag of wonderwerke werklik plaasvind. Aan die een kant was daar byvoorbeeld die wetenskaps-filosoof David Hume wat gesê het dat `n wonderwerk die verbreking van `n natuurwet veronderstel en dit nie kan nie. Sal God die wette wat hy self daar gestel het verbreek? Hume se beginsel van statistiese verifikasie het veronderstel dat, indien daar genoeg bewyse vir `n “wonderwerk” gevind kan word, dit slegs die formulering van `n nuwe natuurwet tot gevolg sou hê.

Aan die ander kant was daar diegene wat beweer het dat nuwe ontdekkings in die mikro-fisika daarop dui dat dinge nie heeltemal so rigied voorspelbaar is soos sommige dit wil hê nie. Die werk van De Broglie, Driac en ander (golfmeganika), Heisenberg (kwantummeganika) Max Planck (kwantum-teorie) en Einstein se relatiwiteitsteorie word dan aangehaal.

Kom ons by konkrete gevalle soos geloofsgenesing, is bevind dat psigosomatiese siektes (siektes wat in ons kop ontstaan) baie meer voorkom as wat ons besef. Daar is bevind dat ons denke `n veel groter invloed op ons liggaam het as wat ons ooit besef. “Geloof” kan dus ook `n ongelowige help om gesond te word.

Tog is dit nie al nie. Ek is skepties oor genesingsdienste, maar daar is ook gevalle waaroor medici gewoon kopkrap. So dink ek byvoorbeeld aan Eileen Vigus. `n Fetus wat 7 weke reeds in haar dood was voor dit ontdek is, het `n massiewe sepsis in haar liggaam veroorsaak, met oneindige komplikasies. 25 operasies en 12 jaar in `n rolstoel later, het sy een aand by `n genesingsdiens opgestaan. Personeel van die destydse J.G. Strydom hospitaal beskou dit as` n absolute wonderwerk. Daar is meer voorbeelde.

Maar onthou tog, Jesus het telkens vir sy volgelinge gesê dat hul sy wondertekens moet stil hou, omdat selfs wondertekens alleen nie die ongelowige sal oortuig nie.

Ek glo in die wonder van die rede en die wetenskap, maar ek glo ook in God wat `n ondeurgrondelike bo-natuurlike dimensie aan ons voorhou. Hier is nie alles redelik verklaarbaar nie.

Ek glo egter ook dat daar meer wonders om ons gebeur as wat ons raaksien en erken. Ons politieke oorgang in 1994, terwyl Rwanda gebrand het, was `n wonder. Dade van versoening wat elke dag gebeur, is `n wonder. As ek sien hoe dinge in my lewe soms heel “toevallig” saamval en gebeur, groter as wat ek kon dink, beplan of bid, dan weet ek dit was `n wonder. Die skepping om my sien ek as `n wonder.

Ja, as ek opkyk en herinner word dat daar meer sterre aan die hemel is as al die sandkorrels op ons strande, dan weet ek, ek leef en dink in `n baie klein wêreldjie. Wonderwerke vind nie bloot op aanvraag plaas nie, maar moenie te verras wees as daar dinge gebeur wat ons nie altyd kan verklaar nie.

Dinsdag 20 Maart: DB Ons kinders is op die spel (Ons onderwys in `n krisis)

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Skokkende statistiek oor die stand van onderwys in Suid-Afrika het verlede week vir die soveelste keer op die tafel gekom tydens `n konferensie oor armoede en onderwys wat deur die diensgroep Armoede & Sorg van die NGK en VGK gereël is.
Van die statistiek is reeds bekend, maar miskien was dit die intensiteit waarmee `n erkende paneel sprekers hierdie, soms verbloemde werklikheid aangebied het, wat my laat besef het dat ons inderdaad met ’n krisis sit. In die woorde van Prof. Piet Naudé is dit `n krisis wat die vigspandemie in erns kan verbygaan.
Wanneer daar na die geletterdheidsvlakke van die 25% armstes in die samelewing gekyk word, vaar SA swakker as lande soos Malawi, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Uganda, Zimbabwe, Kenia en Swaziland.
Wat wiskunde en wetenskap betref, sal slegs 6% van ons bevolking internasionaal kan meeding (TIMMS-evaluering).
Geld is daar genoeg (R207 biljoen in 2012/13), maar wat uitkomste betref, tel ons onder die onderste 10 uit 140 lande. Ons spandeer baie geld met min effek.
Jare gelede is stadige en stout leerlinge in die hoekie staan gemaak met `n kegelhoed (die sogenaamde “dunce” hoed) op hul kop. Die uitvalsyfer van kinders in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel lyk tans soos so `n hoed! (sien grafika) Ons het ’n 70% slaagsyfer in matriek, maar dit is 70% van die derde wat geskryf het. Twee derdes van ons potensiële matrieks het êrens langs die pad uitgeval.
Die implikasie is dat nagenoeg 500 000 ongeskoolde leerders, met min of geen vaardighede, elke jaar tot die groep werksoekers gevoeg word. Werkloosheid, misdaad en sosiale toelaes (15,6 miljoen ontvangers vanjaar) word dan die ongelukkige gevolg hiervan.
Die reuse gebrek aan kolleges en ambagskole help ook nie. 150 kolleges is in 50 gekonsolideer en boonop dui alles daarop dat slegs enkeles hiervan kan meeding op internasionale vlak.
Die idee het verder posgevat dat die enigste pad uit armoede deur ’n universiteit loop. Die gevolg is dat te veel studente wat nie daar hoort nie, by universiteite opdaag. Dit lei tot enorme teleurstelling en frustrasie by studente en hoë koste vir die staat. Sedert 1994 was daar ’n geleidelike afname in die groei van die aantal gegradueerdes. Hierdie groeikoers is selfs laer as die ekonomiese groeikoers.
Ernstige vrae word gevra oor die kundigheid van onderwysers in veral vakke soos wiskunde en wetenskap. In `n studie wat die WKOD onder graad 6-wiskunde onderwysers gedoen het, is bevind dat meer as 50% gesê het dat `n groei van 60 na 75, 15% is!
Statistiek dui ook daarop dat die vaardigheidsvlakke van die oorgrote meerderheid leerlinge in die intree fase slegs 30% van die aanvaarbare vlakke is. Ons faal reeds daar.
`n Verdere skokkende bevinding was dat die wegblysyfer onder arm dogters hoër is as by seuns. Die rede? Hul menstrueer. Hul het nie doekies nie, verstaan nie wat met hul gebeur nie en daar is haglike toilette by hul skole. Waar die probleme aangespreek is, het bywoning dramaties verbeter.
Waar laat dit ons?
Uit al die aanbiedings by die konferensie het dit baie duidelik geword dat daar ’n direkte verband gelê moet word tussen gebrekkige onderwys en armoede.
Daar het egter deur die loop van die twee dae ook `n ander prentjie ontwikkel. Dit gaan nie net oor gebrekkige infrastruktuur en kapasiteit nie. Tot `n groot mate weerspieël die stand van onderwys die morele toestand waarin die land verkeer. Daar hang ’n groot vraagteken oor die werksetiek en roeping van talle onderwysers. Gebroke of eintlik totaal afwesige gesinstrukture verhoog die krisis. Dit moet dadelik beklemtoon word dat daar ook duisende onderwysers is wat uitstekende en onbaatsugtige diens lewer. Hulle werk egter tans onder baie groot druk.
Die vraag moet ook reguit gevra word of ons skole nie politieke speelballe geword het nie? Regdeur die konferensie was die vakbonde, en in die besonder `n vakbond soos SADOU, die spreekwoordelike olifant in die vertrek.
Die rol wat vakbonde in ons demokrasie speel, word volledig erken. Tog word daar ernstige vrae gevra oor die rol en selfs destruktiewe rol wat SADOU (van die grootste groeperinge binne COSATU) speel. As kinders in die Kaap opgeroep word om teen `n tolstelsel in Gauteng te betoog is daar êrens `n skroef los. Dringende gesprek hieroor is nou nodig.
Die bepalende rol wat skoolhoofde speel, kan ook nie onderskat word nie. Dit is duidelik dat infrastruktuur alleen nie die sukses van skole bepaal nie. In baie arm woongebiede vaar sommige skole vrot en ander goed. Waarom? Leierskap speel ’n deurslaggewende rol. Programme vir die verdere opleiding en bemagtiging van hoofde moet versnel word. Indien dit nie slaag nie, moet afleggings oorweeg word.
Die onderwys sal ook nie slaag sonder groter betrokkenheid van ons ouergemeenskappe nie. Groter betrokkenheid by bestuursliggame, maar ook direkte dienslewering aan skole, moet deur kerke aangemoedig word.
Die vraag is ook gevra of kerkskole nie weer op groter skaal gestig moet word nie. Dit is ’n komplekse saak waaroor daar gedink sal moet word. Daar was `n tyd toe kerkskole `n reuse rol in ons land gespeel het. Ons eie president Mandela is `n produk van so ‘n skool. Met die geld wat tans betrokke is, wonder `n mens of die kerk nie eerder `n groter ondersteunende en profetiese rol moet speel nie. Op `n vraag of kerke nog mag, het Minister Manuel geantwoord: “You don’t need to ask anyone permission!” Die skep van aanvullende onderwys- en mentorskap-programme deur kerke moet nou ernstig oorweeg word. Daar bestaan steeds enorme kapasiteit binne kerke om dit te doen. So kan kundigheid kinders byvoorbeeld voorberei met die oog op naskoolse onderrig, universiteite, beurse, ens.
Daar is gelukkig ook reeds talle stories van hoop. Die wiel hoef nie weer uitgevind te word nie. Ons het ’n verantwoordelikheid om hierdie sogenaamde “beste praktyk” verhale so wyd as moontlik te versprei.
Kerke sal ’n baie sterk profetiese stem oor dissipline, morele gedrag, roeping van onderwysers, die etos van onderwysers en veel meer, moet laat hoor. Laat ons dit weer sê: Die stand van ons onderwys het baie te doen met die gebrek aan morele vesel onder baie onderwysers en ouers. Kerke mag nie hul roeping en opdrag in die dae geringskat nie. Die lewe van ons kinders, nou en môre – ons toekoms – is op die spel.
Ons dank nogmaals aan die volgende inleidende sprekers wat die konferensie moontlik gemaak het: Prof Nico Koopman, minister Trevor Manuel, Paul Colditz, provinsiale minister Donald Grant, Christo van der Rheede, Proff. Servaas van den Berg en Piet Naudé, Dr. Theuns Eloff, Chris Klopper, Randall van den Heever en Rhoda Kadalie

Vrydag 24 Feb: Die vier pilare van armoede

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Die ontrafeling van sosiale probleme is kompleks en antwoorde nie eenvoudig nie. As daar eenvoudige antwoorde op die probleem van armoede was, was dit sekerlik al op die tafel. Die afgelope maande, sedert ons vorige konferensie oor armoede, het die NGK en VGK koppe bymekaar gesit om wel ernstig na die sistemiese oorsake van armoede te kyk. Veralgemening is altyd gevaarlik, maar terselfdertyd is dit soms nodig om `n greep op die problematiek te probeer kry. Na baie gesprekke met kundiges is vier eenvoudige pilare geïdentifiseer waarop armoede onder andere rus. Waarom die kerk so ernstig oor juis hierdie sake is, is omdat van die sake wat geïdentifiseer is, juis sake is wat sonder enige twyfel op die kerk se agenda behoort te wees.

1. Strukturele oorsake
Hier verwys ons veral na makro ekonomiese beleid. Uiteraard is hierdie nie die kerk se kundige gebied nie, maar dit word al duideliker dat daar beter en vrotter ekonomiese beleid is wat op armoede impakteer. Dit veral ook die wyse waarop begrotings hanteer word en beskikbare geld bestee word.

2. Gebrekkige onderwys
Die bou van sosiale kapitaal het een van die grootste uitdagings van ons dag geword. `n Matriek sertifikaat is lank nie meer genoeg nie en dit gaan oor veel meer as net matriekuitslae. Die ontwikkeling van vaardighede en persoonsontwikkeling, die vermoë om te dink en te kan onderskei en veel meer behoort op die agenda te wees. Die kerk is al vir meer as 200 jaar by die onderwys in SA betrokke. Hierdie ideale was deel van die agenda. Die plek ontbreek om in detail op hierdie uitdaging in te gaan. Daar word amper weekliks hieroor in die media gepraat. Een kwessie wat egter dikwels nagelaat word, is die kritieke rol wat die ouerhuis en ouerondersteuning speel in die daarstel van ’n suksesvolle onderwysstelsel van enige aard. Daar is uitsonderings, maar in die reël baar stabiele ouerhuise suksesvolle studente. Ook hier behoort die kerk ’n rol te speel.
.
3. Psigologiese gevangenskap
`n Derde pilaar waarop endemiese armoede swaar steun, is wat ons psigologiese gevangenskap wil noem. Mense se denke bepaal hul lot. Minderwaardigheid, `n slagoffermentaliteit, selfregverdiging en bo alles `n gevoel van hopeloosheid, kan mense inderdaad binne `n armoede kultuur gevange hou. Dit is hier waar die kerk `n enorme rol te speel het. Paulus se woorde in Romeine 12:2: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe, is ook hier van toepassing.

4. Etiese oorsake
Korrupsie, `n gebrek aan dissipline en werketiek en gemeenskapswaardes voed armoede soos kunsmis ook met onkruid. Ons kan armoede maklik toeskryf aan breë algemene vae terme wat oor en oor gehoor word, maar miskien moet ons `n slag reguit praat. Drankmisbruik, buite-egtelike swangerskappe, dwelms, gebrek aan dissipline en veel meer voed ewe-eens armoede.
Die kerk is veronderstel om die bewakers (custodians) van waardes te wees. Laat ons hierdie taak met groot integriteit uitvoer.