Wat is daar vir die kerk en gemeentes uit die 2014 verkiesing te leer?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes, Gestuurdheid, Leierskap, Padlangs met gemeentes, Transformasie, Uncategorized

Ek waag vanaand! Daar is al heelwat ontleding oor die uitslag van die verkiesing gedoen. My bydrae probeer nie op die uitslag fokus nie maar op die prosesse in en rondom die verkiesing om te probeer verstaan wat in ons land aan die gang is.
1. Die persentasie kiesers wat gestem het, was wel ‘n bietjie laer as die verkiesing van 2009, maar het nogtans die verwagting van die OVK ver oortref. Die proses is gekenmerk deur lae vlakke van geweld as in ag geneem word hoe vel die verkiesingstryd was. Iemand het opgemerk dat daar minder geweldadige insidente was as in die VSA se laaste verkiesing! Die mense wat voorspraak gedoen het om stembriefies te bederf het nie hond haaraf gemaak nie. Die getal bedorwe briefies was klaarblyklik min of meer dieselfde gewees as met vorige verkiesings. Sou ‘n mens kon aflei dat mense oor ‘n breë spektrum genoeg omgee en glo in die toekoms van ons land dat hulle in groot getalle moeite gedoen het om te gaan stem? Indien ek reg is, wil ek voorspel dat gemeentes wat net vir eie belang en voortbestaan aanspraak maak op mense se ondersteuning en lojaliteit, minder en minder ondersteuning gaan kry.

2. Dit wil lyk asof Suid Afrikaners ‘n behoefte het aan publieke deelname van prosesse of byeenkomste van nasionale belang. Die Wereldbeker het dit in 2010 gewys, Madiba se begrafnis en nou weer met die deelname aan die verkiesing. Nie alleen het ‘n verassende persentasie mense deelgeneem nie, maar die oorweldigende kommentaar was dat mense dit “geniet” het om te stem. Ek kan my aan min ander lande indink wat mense met soveel vreugde stem en dit as lekker beskryf. Kan dit wees dat daar ‘n behoefte by Suid Afrikaners is om mekaar te ontmoet in publieke ruimtes waar ons saam deelneem aan prosesse? Ek onthou nog baie goed hoe Suid-Afrikaners mekaar omhels het toe Thabalala daardie eerste doel in die 2010 wêreldbeker geskop het. En die eerste keer toe die Blou Bulle in Soweto gaan rugby speel het, en nie net rugby gekyk het nie, maar heerlik gekuier het in Wilakazistraat se restaurant.

‘n Paar weke terug het ek dieselfde ervaar met die optog in Kaapstad voor die verkiesing. Ek hoor van ‘n groep predikante wat in Parow ‘n gesamentlike diens op Palmsondag gehou het waar ‘n tiental gemeentes van verskillende kante van die spoorlyn saam kerk gehou het en hoe lekker dit vir almal was toe ‘n paar honderd mense na die kerk op die grasperk saam geëet het.

Is dit nie nou tyd om uit ons woonbuurtes te kom en saam publieke prosesse te ondersteun wat die eenheid tussen Suid-Afrikaners verder bou nie?

 

Ons het nou ‘n 3-dag evangelie nodig

Written by Frederick on . Posted in Leierskap, Padlangs met gemeentes, Transformasie

Die optog van Distrik Ses tot by Parlement in  Kaapstad op Stil Saterdag was  ‘n baie hoopvolle dag vir almal wat vrede en geregtigheid in ons land soek.

stil-saterdagDit is vir my betekenisvol dat die optog op stil Saterdag was. Ons glo in ‘n 3dag evangelie, Goeie Vrydag-wanneer ons die kruisiging herdenk. Ons ontmoet dan dié God van deernis en opofferende diens. Op Paassondag herdenk ons die opstanding, die leë graf en is ons saam met Maria aan die soek na die liggaam van Jesus en kry ons net die doeke. Sonder stil Saterdag-die dag van die dood, sou die ander twee nie dieselfde betekenis kon dra nie. Op stil Saterdag slaan die werklikheid van die dood ons op die krop van ons maag. Golgota se drama lê nou agter ons en die finaliteit van die dood en die stilte daarvan ruk ons eintlik tot stilstand. Die drama van pase is geen speel-speel sprokie met ‘n gewaarborgde uitkoms nie. Op stil Saterdag het Christus die  dood betree. Ons kan nie anders as om dit vierkantig in die oë te kyk nie. Die dood is eenvoudig deel van die lewe en op stil Saterdag word ons daarmee gekonforteer. Gelukkig is dit tussen Goeie Vrydag en Paassondag, die kruis en die opstanding.

It is time the heroes go home

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes, Leierskap, Padlangs met gemeentes

De La Rey sal nie die boere meer kan lei nie

Gemeente leierskap vir vandag

De La Rey, De La Rey
sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal
soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey

Generaal, generaal
sal jy die Boere kom haal?

Die sentimente van Bok van Blerk se lied leef dalk nog sterker in ons as wat ons dink. Hoe baie sê ons nie vir mekaar dat die Afrikaners nie meer leiers het nie. Tog bly daar maar steeds die strewe om iemand te volg, ‘n leier te hê. Gemeentes soek na predikante met sterk leiersvaardighede: om die gemeente te lei, vernuwing te bring en die kerk weer vol te preek (Die ironie is dat dieselfde gemeentes dan weerstand bied teen die verandering).

Hoop wat ons taai maak om aan te hou

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

My entrepeneur/vriend vertel oor ‘n koppie koffie van sy moedeloosheid. Sy besigheid is so 4 jaar oud. Soos enige nuwe besigheid in die boubedryf is hy konstant onder kontantvloei druk, maar hy is van die beste in sy veld, goed opgelei, tegnies van die beste wat jy kan kry en goed genetwerk. Met innovering ontwikkel hy die hele tyd nuwe produkte, skep nuwe geleenthede. So het hy kon groei sodat hy tans ‘n 15-tal mense in diens het.  Maar hy moes weer iemand aflê, omdat die man gesteel het, vertel hy. Die werknemer se verweer is eenvoudig: “Meneer, almal steel tog”. My vriend is moedeloos: “Die morele vesel van ons samelewing torring uit, en ons kry nie ‘n skoon naat gestik om dit te keer nie” sê hy toe hy nog ‘n stuk hout op die vuur gooi. Almal steel tog meneer!

 

Die beste mense in ons gemeenskap is besig om moedeloos te raak. Die dokters, die onderwysers, die entrepeneurs. Hulle verloor hoop.  In hulle koppe is die bedankingsbriewe al geskryf en moet nog net ingegee word.

 

Wat moet gemeentes maak in so ‘n tyd? Ons kan tog nie al die toilette gaan skoonmaak nie – al moet ons dit ook meer gereeld doen – of almal wat steel vervolg nie – al moet ons ook opstaan teen korrupsie. Ons kan nie almal gaan klas gee nie – al moet ons ook meer by die onderwys betrokke raak en dalk as gemeente ‘n onderwyser of skool aanneem. Hoewel dit dinge is wat ons ook moet doen, dink ek dat ons nog ‘n veel belangriker taak het:

 

Ons kan hoop bring vir mense wat hoop verloor het. Gemeentes is immers draers van Hoop.

 

My entrepeneurs vriend gaan nie sy besigheid se deure toemaak nie.  Die onderwyseres sal Maandag weer voor die klas staan, en ek hoop dr Penzhorn gaan haar bedanking terugtrek. Nou wonder ek, of hoop ek, dat hulle Sondag in geloofsgemeenskappe sal wees wat in méér as betrokkenheid in die gemeente belangstel. Gemeentes behoort in hierdie tyd  juis vir hulle wat op die voorste loopgrawe werk, wat op die punt is om handdoek in te gooi en die tou te los, hoop te bring. Ons het ‘n besondere rol om in hulle lewens te speel. Om aan hulle die goeie nuus van die evangelie te bring. Goeie nuus wat vir hulle ‘n  ánder perspektief kan gee. Nancy Ammermann, vertel in haar boek Pillars of Faith (University of California Press, 2005) dat as mense inskakel in gemeentes, die kanse veel beter is dat hulle betrokke sal wees in die gemeenskap, en meer nog, dat hulle betrokke sal bly, al word dit moeilik. Ons weet dit nie altyd nie, skryf sy, maar as mense aan die evangelie blootgestel word, ontvang hulle geloof en hoop wat hulle taai maak en laat hulle aanhou en volhard.

Om draers van Hoop te kan wees, sal vra dat gemeentes se verbeelding nie primêr gevoed kan word deur die effektiwiteit al dan nie van die regering nie. Ook nie deur die  stand van die ekonomie nie. Die hoop wat ons dra, is ook nie gebou op politieke stabiliteit of politieke  onrus nie. Die hoop wat ons bring, kom vanuit ‘n ander verbeelding wat in die opstanding van Christus gegrond is. Gemeentes wat hierdie hoop dra, kan oor God praat as een wat lewend teenwoordig is in die chaos. Dié Een wat lewend teenwoordig is in die kliniek waar die toilette nie skoongemaak gemaak is nie, en die leggers onvolledig is. Die God wat in die wiskunde klas lewend teenwoordig is, en deurbrake gee ten spyte van die onverstandigheid van die departement. Dié God wat sy lewe gegee het vir geregtigheid ten syte van groeiende korrupsie in ons samelewing. Dié God wie se teenwoordigheid ons laat volhard, lank nadat die optimiste en die realiste die verhoog verlaat het.

As ons klaar gekla het oor korrupsie, ons onvergenoegdheid uitgespreek het oor oneffektiwiteit; As ons die stand van die ekonomie geanaliseer het en ons politieke voorspellings gemaak het; As ons dit alles klaar gesê het, het ons dan nog iets om te sê oor die hoop wat nie van ons af kom nie, maar gebore is in ‘n leë graf?

 

Ek daag myself en jou uit om vir hulle wat moed verloor van hierdie hoop te vertel.

 

Omgekeerde mentorskap

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

Omgekeeerde mentorskap kan energie ontsluit waarna baie gemeentes op soek is …

Ek het die afgelope tyd met ‘n aantal jonger predikante en studente te doen gehad. Die naweek was die eerste kamp van die Semianrium op Stellenbosch ‘n 30tal teologiese studente van die VG en NG kerke gewees. Ek het soveel by hulle geleer dat ek wonder of ek kan voortgaan in my bediening sonder om gereeld te leer by mense wat jonger as ek is.

Hier is ‘n klompie dinge wat ek van myself en die lewe geleer het in die proses:
1.    Omgekeerde mentorskap kan nie gebeur as ek myself sien as die kenner by wie die jonger generasie moet leer nie. As ek bewustelik die skuif maak om nuuskierig te wees oor wat ek by ‘n jonger generasie kan leer is dit asof dit ‘n ruimte open waar daar  ‘n vloei van nuwe idees kan plaasvind wat nie kan gebeur as ek dink ek moet die leraars wees en hulle die leerders nie.
2.    Hulle vra dikwels vrae wat my dwing om ‘n ander en meestal bevrydende prespektief te ontwikkel. Neem maar bv die gesprekke oor Belhar by die sinodes. Dit is die jonger mense wat ons gehelp het om te verstaan dat Belhar ‘n gawe is vir die toekoms en nie net ‘n kritiese stem uit die verlede nie. My generasie sal nie daardie prespektief kan ontwikkel nie. Ek is redelik seker dat ons nie sonder hierdie perspektief enige vordering sou kon maak nie. My generasie was vasgeloop in die gesprek en het die nuwe perspektief nodig gehad om vorentoe te kan gaan.
3.    Die jonger generasie kry dinge reg wat vorige generasie nie kan of wou doen nie. Ons praat bv al lank oor ‘n geintegreerde familie bediening. Ek sien die afgelope 3 jaar deurbrake hiervan by gemeentes wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, en by elkeen van die gemeentes is daar leiers uit die jonger generasie wat praktyke ontwikkel wat ons nooit sou waag of so kon regkry nie.
4.    Ek is deel van ‘n generasie wat eintlik “belydenismoeg” is. Ons moes nog worstel deur die laaste belydenispreke en het ‘n afkeur aan belydenisskrifte as ‘n stok waarmee mense geslaan word om binne die kraal te bly. Vir ons is gesprekke oor gereformeerde identiteit geforseerde gesprekke wat nêrens gaan as na die verlede waarvan ons wil wegkom nie.  Ek was die afgelope tyd gereeld deel van gesprekke waar jonger mense met vrymoedigheid praat oor hulle gereformeerde identiteit en hoe hulle positief daarmee identifiseer. Ek luister na hulle in verwondering en weet ek moet doodstil bly en luister en leer, want hulle gaan my leer om weer met my eie tradisie te konnekteer op ‘n manier wat ek self met die best wil in die wêreld nie kan nie.
5.    Ek leer by die jonger generasie wat dit beteken om ‘n inklusiewe gemeenskap te wees. Daar is by hulle ‘n ongeforseerde konneksie met mense buite die geloofsgemeenskap wat ek bewonder. My generasie wil eers weet of iets reg of verkeerd is voordat ons mense kan aanvaar. Dink maar aan die gesprekke die afgelope week oor die sanggroep  Die Antwoord en die gesprek die naweek met Ben du Toit een van die ouers van die groep. Sy onvoorwaardelike aanvaarding en liefde vir sy kinders gryp die verbeelding aan van ‘n hoe ons as ‘n inklusiewe gemeenskap kan funksioneer.
6.    Dit laat my wonder, wat sal gebeur as ons in die gesprek die manier waarop ons gay en lesbiese mense aanvaar en insluit in ons gemeentes en kerk vir die jonger generasie kan gee mag ons dalk verder kom…of die doop…

Is omgekeerde mentorskap nie die energie waarna daar in baie gemeentes gesoek word nie?

Is die dominee die kaptein of die afrigter?

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

Leraars voel dat omdat hulle betaal word deur die gemeente en die gemeentelede “vrywilligers” (sic) is, behoort hulle darem die mense te wees wat “presteer “ en harder werk as die res. Hulle val dan maklik in die “activity-trap” waar hulle waarde gemeet word aan hoe besig hulle is. So verdien ek my geld, troos die Leraar hom/haarself. Kort voor lank is hulle in beheer van omtrend alles in die gemeente, en word hulle dikwels sonder om dit te bedoel die prop wat ander weerhou om ook inisiatief te neem. Ek doen dit maar liewer self, as wat ek moet sukkel om die foute wat ander maak reg te stel- hoor ek baie dikwels predikante bieg- of is dit nou brag?  Hoewel hier sistemiese en strukturele redes voor is, dink ek moet ons dieper kyk na onsself. Ons is soos ons kultuur ons leer maar te geneig om ons selfwaarde te meet aan wat ons doen en nie aan wie ons is nie. Baie leraars het nog nie tuisgekom in hulleself nie en moet besig bly om emosioneel uit die moeilikheid te bly.  Geen hersturkturering of selfs nuwe visie in die gemeente gaan daarmee help as jy nie self die reis na binne onderneem en tuis kom in jouself nie.  Ons waarde lê tog nie is wat ons doen en hoeveel ons doen nie, maar in wie ons is, soos gevorm deur ons verhouding met die Drie-enige God. Dit sal vir ons moeilik bly om ons rol nuut te verstaan as hierdie tuiskoms nie plaasvind nie.

Aan die ander kant is gemeenteleiers ook genee om met die prestasie-klosules te omhels want dan bly hulle in beheer en kan hulle die Leraar makliker “bestuur”. Die probleem hiermee lê nie in die poging om ‘n sisteem van verantwoordbaarheid te skep nie. In gemeentelike sisteme, soos enige ander sisteem, waar daar nie verantwoordbaarheid is nie, ly die verhoudings uiteindelik daaronder. Om mekaar te verskoon van afgesproke verantwoordelikhede het niks met ‘n christelike lewenswyse te make nie en is ook nie ‘n be-oefening van genade en liefde nie. Om verantwoordbaar gehou te word vir ooreenkomste is ‘n goeie en belangrike gewoonte in geloofsgemeenskappe omdat dit die uitlewing is van waardes soos betroubaarheid en respek. Die styl waarin ons dit doen behoort te getuig van genade.

Die vraag is wel: wat is die rol wat die Leraar moet vervul, en waaraan behoort ons hom of haar verantwoordbaar te hou?

Ek gaan probeer om ‘n invalshoek te probeer. Ef 4:11-12 sê dat daar aan die gemeente herders, leraars, apostels,profete  en evangeliste gegee is om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk in die opbou van die gemeente. Die leraars rus dus ander toe vir hulle dienswerk. Die leraars se primêre funksie is daarom nie om self die dienswerk te verrig nie maar ander toe te rus- of af te rig vir hulle dienswerk. Die Leraar speel dus nie in die span as daar ‘n wedstryd is nie, hy of sy rig die ander af vir die eintlike wedstryd. Die eredienste, kleingoepe en vergaderings is oefenruimtes waar ons voorberei word vir die wedstryd op die markplein.  Kyk ‘n bietjie wat doen afrigters anders as kaptiens. Kapteins lei op hulle beste van voor af, deur hulle voorbeeld, deur harder te speel as die res en so die span te motiveer.  Die afrigter staan op ‘n afstand en kyk, sien die kwaliteite en gebreke van die spelers raak. Ja die afrigter werk op hulle manier ook baie hard, maar hulle werk anders, en kyk anders as kapteins. Want sien, ‘n agrigter mag nie op die veld gaan nie, sy of haar sukses lê nie in hoe goed hulleself die bal kan skop (die Bybel kan uitê nie) maar hoe goed hulle spelers die bal kan skop ( die Bybel kan uitlê).

Mahedra Singh Dhoni, kaptein van die Indiese krieketspan wat die naweek in die ICC Wêreldbeker se eindstryd teen Srilanka  te staan kom, vertel is vanoogend se koerant die volgende van sy afrigter, Gary Kirsten:
“Sedert Gary oorgeneem het, het dié span soos ’n gesin geword,” het die Indiese kaptein, Mahendra Singh Dhoni, gister gesê. “Die manier waarop hy elke individu bestuur het, die manier waarop hy ons laat oefen het en die manier waarop hy elkeen van ons in onsself laat glo het, word weer­spieël in die manier waarop ons speel en dis ’n fantastiese gevoel.”

Ek sit onlangs by ‘n kursus en ons praat hieroor. Een van die kursusgangers begin vertel van die inpak wat Doc Craven op hom gehad het. Hy vertel van sy kennis van die spel, sy intense belangstelling in elke speller, hoe hy een-op-een met hulle gesit ‘n strategie bespreek het en hoewel hy streng was en jou goed die waarheid kon vertel, het jy nooit getwyfel daaraan dat hy in jou glo nie! “Ek weet daar is niemand wat in my lewe ‘n groter invloed gehad het as hy nie, nie eers ‘n dominee nie”, sluit hy af.

Ek wonder of ons nie op ‘n verkeerde manier “verlief” of afhanklik is van ons werk as leraars nie. Of wat sal die rede wees waarom ons, ons “kansels” so beskerm. Ek wonder of ons dink daar sal nie meer vir ons werk wees as ons begin afrigters raak nie, of wat is die vrese wat ons weerhou daarvan om te begin glo dat die Here regtig gawes gegee het aan elk van die lidmate in ons gemeente, en dat ons die mense is wat mense moet help om die gawes raak te sien, dit te be-oefen sodat hulle in die raadsale van die lewe die Woord kan begin bring en leef.

Is Roeping ‘n bestemming of ‘n leefstyl?

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

Wel ek dink ons weet almal dinge werk nie so eenvoudig nie- die lewe is veel meer kompleks of nie-linier- ons lafreuer maar meestal soos ‘n seilboot teen die wind en voel dikwels ons is nie lekker op koers nie. Dit furstreer ons leierskap en ontmoedig ons dikwels so dat ons kapituleer. Ek dink die probleem is dat ons ‘n basiese fout maak in ons denke oor Roeping- Roeping is ‘n Reis en nie ‘n bestemming nie. As ons so daaroor begin dink dan kom daar groter ruimte om te verstaan dat roeping dinamies is en my/ons insig oor ons roeping kan en moet ontwikkel.

Ons moet natuurlik verder gaan- Roeping ontstaan in ‘n verhouding met die Een wat ons roep- Jesus Christus. Dit is Sy roeping vir ons en nie andersom nie. So ek sal moet leer om geloofsonderskeidend te dink oor my roeping en groei in my verstaan van my roeping soos wat Christus dit aan my bekendmaak. Ek/ons kan elke dag nuwe ontdekkings maak oor ons Roeping want ons staan in ‘n lewende verhouding met Christus, die een wat ons Roep.

As ek so dink daaroor, dan is die vraag nie of ek ‘n doel bereik nie, maar of ek in ritme is met die Roeping wat en van Christus ontvang het. Of die Roeping al ‘n leefwyse geword het. Of ek toelaat dat soos wat Christus aan my ge-openbaar word deur die Gees en die Woord binne die gemeenskap van die gelowiges, my lewe daardeur gevorm word.