Kerkbegrip en Rolverwagtinge in die NG Gemeente Murray

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

OPSOMMING

Die sentrale probleem waarmee daar in hierdie navorsing gewerk word, is die volgende: Het daar ’n skuif in die kerkbegrip van lidmate in die NG gemeente Murray (De Doorns) gekom en hoe beïnvloed dit hulle rolverwagting van hulle leraars?   Die doel van die studie is om die kerkbegrip en rolverwagtinge van die lidmate van die gemeente vas te stel en om die gemeente te help om sy missionale identiteit te ontdek.  Die gemeente moet dus geleer word om in die geloof te kan onderskei.

Vir die doel van die navorsing word daar binne die veld van Praktiese Teologie aan die hand van die kruis metodiek van Hendriks se Studying Congregations in Africa (2004) gewerk.  Die prakties-teologiese metodologie wat gebruik word, sê dat daar die hele tyd ʼn  hermeneuties sensitiewe korrelasie tussen Woord en wêreld moet wees; met ander woorde tussen konteks en identiteit. Hierdie korrelasie word geloofsonderskeiding genoem en as dit gebeur, loop dit uit op ʼn  bepaalde strategie, ’n manier van lewe waar lidmate se dink nie institutêr is nie (betreffende die rol van die dominee), maar waar hulle self voor die Here staan en oop is vir sy leiding om in hulle konteks lig en sout te wees. Dit is die ideaal waarna gewerk word.

In hoofstuk 2 word die teologiese fondasie van die missionale teologie aan die hand van die leer van die Triniteit gelê en word die praktiese implikasies daarvan vir die kerk bespreek.  Hierdie is die normatiewe van die missionale teologie.

In die derde hoofstuk word die konteks van die gemeente bespreek aan die hand van die huidige situasie in die wêreld, die veranderinge binne die breë gemeenskap en die huidige situasie in die gemeente.  Daar word op gewys dat die wêreld tans groot, vinnige en onvoorspelbare veranderinge beleef.  Die gemeente sal die impak van hierdie veranderinge op ’n positiewe wyse moet benut deur ‘n alternatiewe identiteit in Jesus Christus te skep.

Die rolverwagtinge van die leraars staan sentraal in die navorsingsprobleem en om dié rede word daar in hoofstuk vier gefokus op wat die navorser beskou as die normatiewe rol van leraars, indien hulle die gemeente wil leer om geloofsonderskeidend te leef.  Leraars behoort bepaalde geloofsvormende gewoontes as prioriteit in hulle bediening te beskou.  Sonder die geloofsgewoontes sal die leraar nie die gemeente kan lei om geloofsonderskeidend te leef nie.

Die NG Gemeente Murray (De Doorns), wat die fokus van die navorsing was, is by wyse van ’n kwalitatiewe vraelys en deur etnografiese studie nagevors.  Die resultate is deur middel van triangulasie bespreek en daaruit het dit duidelik geword dat daar duidelike verskille is wat betref die kerkmodel van voorkeur en die rolverwagting van die leraars.  Dis egter duidelik dat daar wel ’n skuif gekom het in die kerkbegrip van die lidmate.  Hierdie skuif in kerkbegrip het egter nog nie so ’n groot effek op die rolverwagting wat lidmate van die leraars het nie.  Daar is dus ’n mate van konflik tussen kerkbegrip van lidmate en hulle verwagting van die leraars.  Indien dit nie aangespreek word en die rolle van die leraars nuut uitgeklaar word nie, sal die gemeente nie leer om geloofsonderskeidend te leef nie en kan die gemeente nie aansluit by die missio Dei nie.

Die spook van McGavran loop nog sterk

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Aan die einde van die 1800’s is die kerk gekenmerk deur ʼn ekklesiologie wat gevorm is deur ʼn tydperk waar die Christelike geloof eers die dominante geloof was (veral sedert Constantyn) en toe die ontnugtering van die verligting ervaar het. Langs díe pad het die kerk sy missionêre dryf verloor.
In die vroeë 1900 het daar ʼn vars wind in die kerk begin waai en teen die 1950’s was daar ʼn hernude klem op die missio Dei. Die missionêre ywer van die kerk word gesien in ʼn aantal sendingkonferensies wat gehou is, die ontstaan van verskeie sendingorganisasies en die evangelie wat tot aan die uiteindes van die wêreld geneem is. Sendelinge soos Leslie Newbigin, Donald McGavran en later David Bosch keer terug van die sendingveld en vind dat die Westerse samelewing arm aan die evangelie geword het. Hulle was profete in hulle eie tyd wat die kerk wys op sy onafgehandelde missionêre taak, veral in die Weste.

Donald McGavran keer terug uit Indië met ʼn brandende hart vir die evangelie en die siele van mense. Die kerk se gebrek aan sukses in die evangelisering van mense rus swaar op sy hart en hy word ʼn katalis in die soeke na effektiewe evangelisasie middele vir die Weste. Sy akademiese posisie by Fuller Theological Seminary World school of missions bied vir hom ‘n geleentheid om effektiewe metodes van evangelisasie te ontwikkel en te propageer. Hy stel sy visie vir die kerk soos volg: “The chief and irreplaceable purpose of mission is church growth” (McGavran, 1990: 22).  So ontstaan die Church Growth Movement wat ‘n groot impak ook in Suid Afrika gehad het. Hy inspireer ʼn generasie van kerkleiers om die Weste te evangeliseer.

In sy ywer vir die evangelie ontstaan ʼn ekklesiologie wat die kerk sien as die grond en die doel van die Groot Opdrag (Matt 28) – Jesus sterf sodat die kerk kan groei. Metodologieë uit die sosiale en ekonomiese wetenskappe word gebruik om die kerk meer effektief te maak. Strategiese beplanningsessies word gehou waar visie, missie en strategie bepaal word; sukses word gemeet aan getalle en balansstate. ʼn Gemeente struktuur word ontwerp waar elkeen sy plek en taak ken. Die dominee word bestuurder, strateeg en CEO. Ons beplan, delegeer en kontroleer – die kerkraadposisies word gevul deur suksesvolle manne uit die besigheid en nie noodwendig mense met geestelike onderskeiding nie.

Vir ʼn tyd werk die strategieë en ʼn aantal makrogemeentes ontstaan wat die vlag dra vir die Kerkgroei Beweging. Groot geboue word gebou, predikante en gemeente bestuurders word aangestel en glad geoliede bedienings en eredienste word geskep met die beste musiek en kommunikeerders wat geld kan koop.

ʼn Generasie ‘boomers’ floreer op die “BMW” teologie en praktyk van die Kerkgroei Beweging.

Die radikale pragmatisme van die Kerkgroei Beweging lei tot ʼn teologie (gebrek aan?) wat gewortel is in die sosiologie, populêre leierskap en bestuurstegniek. Van ʼn Trinitariese vertrekpunt en die missio Dei is daar min te sien. In die praktyk word die gemeente se korporatiewe identiteit sterker as hulle Trinitariese identiteit. ( In gesprekke met leiers en lidmate van een van die mega-kerke in die VSA hoor ek die volgende tema telkens: “My lewe het verander vandat ek by X gemeente aangesluit het”).

Dit is ongelukkig nie net ʼn ekklesiologie wat ons by mega-kerke kry nie. As ek kyk na ons kerkraadvergaderings, sien ek die hoë waarde wat geheg word aan die aantal lidmate, nuwe selgroepe en finansies. Van gehoorsaamheid aan God, deel wees van die missio Dei, fokus op die Koninkryk en geestelike onderskeiding is daar nie baie sprake nie.

Die oplossing kan gevind word in:

Koninkryksteologie 
Die herbevestiging en integrasie van Jesus se fokus op die koninkryk soos ons dit in die evangelies kry. Dat die kerk nie die Lig vir die wêreld is nie, maar slegs deel is van die getuienis van die Lig. Dat die kerk in solidariteit met die wêreld lewe, nie in opposisie nie. Die doel van die missio Dei kan nooit kerkgroei wees nie, maar die vestiging van die koninkryk. Laastens leef die kerk in die spanning tussen die koninkryk wat alreeds besig om deur te breek en die koninkryk wat in sy totaliteit in die toekoms sal kom. 

Herontdekking van die Immanente Triniteit.
In die Westerse teologie was daar tradisioneel baie klem gewees op die Ekonomiese Triniteit (uitwaartse beweeg van die Triniteit en God se reddende handelinge in die wêreld, m.a.w. die ‘sigbare’ Triniteit), wat in lyn was met die siening van Augustinus. Die klem was op die hiërargiese orde in die Triniteit – God wat vir Jesus stuur en Jesus wat die dissipels stuur en die Heilige Gees wat hierdie stuurproses moontlik maak. Daar lê egter baie waarde vir ons as kerk in die herontdekking van Immanente Triniteit, veral die verhoudingskarakter (perichoreses) van die Triniteit. Miroslav Volf (After our likeness: the church as the image of the trinity, 1998) teoloog van die Yale University Divinity School stel dit soos volg:

Because the Christian God is not a lonely God, but rather a communion of three persons, faith leads human beings into the divine communio.  One cannot, however, have a self-enclosed communion with the triune God – a ‘foursome’, as it were – for the Christian God is not a private deity.  Communion with this God is at once also communion with those others who have entrusted themselves in faith to the same God.”

Die besonderse en onbegryplike verhoudingskarakter van die Triniteit het implikasies vir die selfverstaan van die kerk asook vir sy taak in die wêreld. Ons word nie alleen gestuur na die wêreld toe nie, maar God se koninkryk word gevestig deur die verhouding wat ons met God, met mekaar en ook met die buite die kerk het. Dit is juis verhoudings wat die ruimte skep vir die transformering van lewens, nie dinamiese argumente of tegnieke nie. Die gemeenskapskarakter van die kerk moet gevestig wees in die Immanente Triniteit en ons dring tot gemeenskap met die hele skepping.

Omvattende karakter van redding
Een van die kenmerke van die Kerk Groei beweging was dat redding (salvation) baie eng gesien is – as bloot die deel kry aan die ewige lewe. Ons siening van redding beïnvloed ons siening van God, die missio Dei, asook die strategieë wat gemeentes sal gebruik in die uitleef van hulle missionêre taak.
Chris Wright (The mission of God; Unlocking the Bible’s grand narrative, 2006: 264) meen dat  “The scope of our mission must reflect the scope of God’s mission, which in turn will match the scale of God’s redemptive work”.  God se reddingswerk in die Bybel getuig van baie ‘n meer omvattende verstaan van redding. Die Eksodus narratief wat gebruik word as ʼn basis narratief vir ʼn groot deel van die Bybel getuig hiervan.
Israel se redding het politieke (hulle was immigrante wat as ʼn minderheid onderdruk is), ekonomiese (hulle besit geen grond en word uitgebuit in die werk wat hulle doen), sosiale (hulle basiese familie en gemeenskap struktuur word vernietig deur die harde werk, onderdrukking en die vrees waarbinne hulle leef) en geestelike (hulle kultiese praktyke word oorgeneem deur diens aan Farao) implikasies. Al hierdie dimensies word aangespreek deur die Eksodus narratief.

In Jesus se bediening sien ons dieselfde omvattende verstaan van redding. Hoeveel keer gaan geestelike verlossing gepaart met verlossing van fisiese probleme (bv. Markus 2:1-10). Verlossing in die Bybel word omvattend gesien binne die konteks van die koninkryk wat besig is om deur te breek.
Hierdie omvattende siening van verlossing het baie praktiese implikasies vir wat ons gaan preek, wat die fokus en taak van die “sendingkommissie” gaan wees, en hoe ons as gemeente ons sukses gaan meet.

Die spook loop:
Ons kan net ons kerkraadsagendas en -notules deurkyk om te sien of McGavran se spook nog loop. As hy nog vrees, benoudheid en werksdruk veroorsaak by die leiers van die gemeente, wil  die Drie-enige God weer hoop en bevryding bring deur sy Koninkryk te laat deurbreek waar mense die omvattende goeie nuus van verlossing hoor.

Christo R. Benadé

Leraar: Suid Afrikaanse Gemeente Londen

Kerklike leierskap in ‘n era waar die kerk nie meer belangrik is vir mense nie

Written by Frederick on . Posted in Gestuurdheid

In die gesprek met die terugkom, merk iemand op: Iemand het gese die kerk is belangrik nie! en skynbaar was niemand van ons werklik verras nie.

Nou is die vraag hoe bedien ons mense in ‘n gemeenskap vir wie die kerk nie belangrik is nie, God is wel en ‘n hele klomp ander sake in hulle lewens, maar nie die kerk nie. Die volgende Sondag sit ek in die erediens. Daar is ‘n hele reeks afkondigings en reelings wat van die veronderstelling uitgaan dat mense wel in die kerk belangstel, of ten minste deur ons oortuig moet word dat die kerk belangrik behoort te wees. Daar is reelings oor ‘n komende basaar, wyksbyeenkomste, geleenthede om betrokke te raak by gemeentelike uitreike. hoe gaan ons die mense met wie ons gister gepraat het oortuig om hierby betrokke te raak, wonder ek in die bank? Moet ons? Danie Mouton preek pragtig oor Saggeus, en hoe Jesus self uitgereik het na Saggeus en by hom gaan eet het, dit help my om te wonder oor as Jesus nou hier in die Grensgebied sou rondloop en mense sou bedien en ‘n hele nuwe prenjie begin ontvou. ‘n Gemeenskap van mense wat ophou om mense aan te moedig om aan te sluit by hulle gemeenskap, maar wat uitreik en aansluit by mense daar waar hulle is. die karwagte en enkel ma’s in hulle bekommernisse oor hulle kinders, by werkloses wat hoop en droom van ‘n vaste inkomste. Ons sluit soos Jesus by Saggeus-hulle aan: Ek moet vanaand by jou eet! en dan luister ons na  hulle en nie hulle na ons nie en ons vra onsself af oor hoe God Drie-eenig oor hulle sou dink en met hulle in gemeenskap wees.

Jesus kom mos naief voor. In ‘n tyd met groot sosiale probleme gaan eet Hy by ‘n tollenaar, spandeer tyd met kinders, by ‘n verworpe vrou by die put. So ‘n ad hoc strategie kan tog nie ‘n verskil maak nie, en tog is dit juis dit wat ‘n beweging begin het wat die wereld onherroeplik sou verander. Daaruit het ‘n gemeenskap ontstaan wat die verbeelding so sou aangryp dat dit die geskiedenis sou verander.

Ons kry in die evangelies heelwat voorbeelde van hoe Jesus met mense in gemeenskap getree het, en di t behoort ons verbeelding te prikkel oor hoe ons ins ons gemeenskappe met mense in gemeenskap kan tree. Ons uitdaging is dat daar ‘n ander verbeelding is wat ons gedagtes en ons programeer en  domineer- die kerk en gemeentes soos wat ons dit   ken. Georganiseerde godsdiens met wyke, ampte, basaars, kampe, kursusse en uitreike. Ons organiseer dit en nooi dan mense uit om daarby in te val. Die probleem is al hoe minder mense stel belang om so ge-organiseer te word- as ons geloofsonderskeidnd daarna kyk is die Here nie daarin besig om ons agenda te verander nie- van ge-organiserde godsdiens na geestelike leieskap of dissipelskap. ‘n Gemeenskap van volgelinge van Jesus, wat in die  ontmoetings van elke dag, soms gaan stilstaan en se: Vanaand wil ek graag by jou eet, wat luister en hoor, wat deel word van die karwag se lewe en dien met die bronne en gawes wat hulle van die Here ontvang het sodat gebroke verhudings kan herstel en geregtigheid kan kom.

Aan die einde van die erediens is daar brood en wyn oor op die tafel, simbole van God se omgee vir verlore gebroke mense, nog voor die seen behoorlik uitgespreek is begin die diakens opruim- goed georganiseer soos ons hulle geleer het.

Sal ek (ons) ooit georganiseerde godsdiens- die in-be-heer wees, die mag van geordendheid, kan afsterf om die onlogiese van die omgee en liefde van die kruis op ons te neen?

Ek het die nawwek gemeenteleiers in die Grensgebied ontmoet wat begin sien het daar is ‘n groot verskil tussen kerklike leierskap wat godsdien organieer en geestelike leierskap wat waag om buite die gemak van die kerk ‘n wereld ontdek het met wie hulle graag in gemeenskap wil tree.

Hulle gee my hoop…

Vyftien maniere waarop gemeentes skole kan ondersteun

Written by Frederick on . Posted in Gestuurdheid

Danie Mouton skryf die volgende op sy Blog: Reisgeselskap:

Onderwys is in ‘n krisis in Suid-Afrika.  Dit het met interne probleme te doen, maar ook met die verbrokkeling van die vesel van die gemeenskap.

Tydens ‘n ekumeniese gebedsgeleentheid  vir die onderwys in Port Elizabeth, het me NGI Bashman, hoof van die distrikskantoor van Onderwys in Uitenhage, die volgende wyses gedeel waarop gemeentes skole kan ondersteun:

1.  Neem ‘n skool aan

Gemeentes word aangemoedig om inisiatief te neem om ‘n nabygeleë skool aan te neem deur belangstelling te toon en vriendskapsbande te smee.  Die Onderwysdepartment en skoolhoof is vennote in die proses.  Gemeentes vermy beterweterigheid, en is eerstens ingestel op die smee van verhoudinge en die betoon van opregte belangstelling.

2.  Ondersteun huishoudings waar kinders in beheer is

Daar is talle huishoudings in talle gemeenskappe waar volwassenes afwesig is.  Die huishouding word deur kinders bestuur.  In sommige gevalle is die ouers oorlede, in ander gevalle weens ekonomiese of ander omstandighede afwesig.  Gemeentes kan help om hierdie verskynsel in gemeenskappe te oudit.  Hoeveel van hierdie huishoudings is daar, en hoe kan die gemeenskap mede-verantwoordelikheid neem om die lot van hierdie kinders te verlig?

3.  Verhoed kinderswangerskappe

Gemeenskappe moet doelgerig saamstaan teen kinderswangerskappe.  Gemeentes kan veral fokus op die bemagtiging van ouers om kinders te begelei rondom hul seksualiteit

Laai die hele artikel hier af

Navorsing oor Evangelicals in UK

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Aan die einde van 2010 het die eerste van baie interessante navorsing oor die oortuigings, geloofsingesteldhede en gewoontes van Evangelikale in die UK die lig gesien.

The  Evangelical Alliance het die studie onderneem. Dit is die eerste van ‘n reeks studies.

Kommentaar op die verslag plaas die klem op die diversiteit onder evangeliese gelowiges,  maar ter selfdetyd ook die uniekheid en toewyding van gelowiges vanuit hierdie tradisie.

Echurch Christian Blog lig bv die volgende uit:

BELIEFS: 98% agree that their faith is the most important thing in life and 96% that it is the key factor in their decision-making. 96% believe that Jesus is the only way to God. 96% consider the Bible to be the inspired word of God and 82% say that, in its original manuscript, it is without error. 92% believe in miraculous gifts of the Spirit. 59% believe in a physical hell, but 27% are unsure and 14% disbelieve. 39% think evolution and Christianity are incompatible, 43% that they are not.

Die dokument kan hier afgelaai word (die dokument is 3 Mega Grepe groot en mag ‘n tydie neem om af te laai)

Is Roeping ‘n bestemming of ‘n leefstyl?

Written by Frederick on . Posted in Leierskap

Wel ek dink ons weet almal dinge werk nie so eenvoudig nie- die lewe is veel meer kompleks of nie-linier- ons lafreuer maar meestal soos ‘n seilboot teen die wind en voel dikwels ons is nie lekker op koers nie. Dit furstreer ons leierskap en ontmoedig ons dikwels so dat ons kapituleer. Ek dink die probleem is dat ons ‘n basiese fout maak in ons denke oor Roeping- Roeping is ‘n Reis en nie ‘n bestemming nie. As ons so daaroor begin dink dan kom daar groter ruimte om te verstaan dat roeping dinamies is en my/ons insig oor ons roeping kan en moet ontwikkel.

Ons moet natuurlik verder gaan- Roeping ontstaan in ‘n verhouding met die Een wat ons roep- Jesus Christus. Dit is Sy roeping vir ons en nie andersom nie. So ek sal moet leer om geloofsonderskeidend te dink oor my roeping en groei in my verstaan van my roeping soos wat Christus dit aan my bekendmaak. Ek/ons kan elke dag nuwe ontdekkings maak oor ons Roeping want ons staan in ‘n lewende verhouding met Christus, die een wat ons Roep.

As ek so dink daaroor, dan is die vraag nie of ek ‘n doel bereik nie, maar of ek in ritme is met die Roeping wat en van Christus ontvang het. Of die Roeping al ‘n leefwyse geword het. Of ek toelaat dat soos wat Christus aan my ge-openbaar word deur die Gees en die Woord binne die gemeenskap van die gelowiges, my lewe daardeur gevorm word.