Preekstudies: Wat beplan ons?

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies

Welkom!

Ek hoop dat dit wat ons beplan, vir jou van groot waarde gaan wees.   

Uit
‘n onlangse gesprek met Eddie Orsmond en Johan Botha, die
eindredakteurs van die Preekstudies met liturgiese voorstelle, gebaseer
op die leesrooster vir lidmate, (daar word jaarliks ongeveer 1 000 van
hierdie bundels gebruik) het dit duidelik geword dat die preekstudies
in opsigte versterk kan word.
     

Omrede
preke tussen 8 en tot soveel as 20 maande voor dit gepreek word,
geskryf word, ontbreek dit (normaalweg) aan aktualiteit. As ons dít sê,
doen ons egter geensins afbreuk aan baie goeie eksegese, hermeneutiek
asook sinvolle preekvoorstelle in hierdie bundel nie.
 

§          Ons
wil tog poog om die tersaaklike weeklikse teksgedeelte te lees, nie
soseer met die oog op die prediking nie – alhoewel dit uiteraard
belangrik is – maar eerder met die oog op die gemeente. Wat dink ons
wil dit op “daardie oomblik” vir die gemeente sê.

§          Ons
wil met die teksgedeelte voor ons vra: Wat is huidig in die wêreld/in
ons land aan die gebeur? Wat is dit wat ons veral in gebed na God toe
wil bring? Ons wil die Bybel dus lees met die koerant oop langs ons.
Die prediking moenie net die deurgee van “teoretiese” inligting wees
nie – dit moet aktuele kommunikasie wees!
 

Ons
is besig om ‘n paneel van 8 persone uit die NG Kerk familie te
identifiseer om ‘n klompie kort (hoogstens 2 bladsye) aktuele
aantekeninge oor die spesifieke teksgedeelte van elke week te skryf. 
     

Hulle
opdrag is: As jý die spesifieke tersaaklike teks moet preek met dit wat
in die wêreld rondom jou gebeur, hoe sal jy die bestaande preekstudie
aanpas. Hoe sal jy vanuit die teksgedeelte kommentaar op die gebeure
van die dag lewer.
     

Die
bedoeling is nie dat hulle weer van voor af eksegese daaroor doen nie.
Dit moet ook nie teenoor die bestaande preekstudie staan nie, alhoewel
hulle met verduideliking tog “ander lyne”’ sou kon optel. En as hulle
liturgies kreatiewe voorstelle sou kon maak nav hul kommentaar, sal dit
uiteraard ‘n groot bonus wees!
     

Sodra ons die groep van 8 gefinaliseer het, sal ons hul name bekendmaak.     

Ons beplan om Maandag 11 Augustus hiermee af te skop. Die inligting sal daarvandaan elke Maandag (middaguur) beskikbaar wees.      

As
jy voorstelle of gedagtes hieroor het – veral dalk later ‘n mooi
gedagte of verhaal wat hierdie kommentaar verder kan versterk, reageer
asseblief. Dit kan vir ons almal van groot waarde wees. 
 

Dan gesels ons weer! 

Groete 

Chris Jones (ns Eddie Orsmond, Johan Botha en Coenie Burger)

Om deur Gebed om te gee!

Written by Besoeker on . Posted in Gebed en Spiritualiteit

Toe ons na kweekskool as finalejaarklas van mekaar afskeid neem, het ons in ons laaste gesprekke onderneem om elke Vrydag vir die res van ons bediening vir mekaar te bid. Ek moet bely – daar was ’n tyd toe ek dit nie gedoen het nie. As ons dit gereeld gedoen het, wonder ek of baie van ons se paaie dalk anders sou loop – ons glo mos aan die Bybelse belofte dat gelowige gebede groot krag dra.

Onlangs , met die afsluiting van ons ringsitting, vertel een van die leraars wat op aftrede staan, dat hy vir baie jare elke Woensdag vir al die kollegas in die ring bid… Verstaan ons nog dat gebed ook ’n bediening van voorbidding is? Voorbidding is om priesterlik by God vir mekaar in te tree. Die woord wat deur baie gebruik word, is intersessie. Voorbidding is om as’t ware as tussenganger op te tree – vir iemand in die bres te tree. Jy kom pleit by God vir die ander persoon of saak.

Die Here Jesus se voorbidding het behels dat Hy homself gegee het om as Hoëpriester namens ons by God in te tree. Hy het Homself gegee. ’n Voorbidder gee homself as hy intree vir ‘n ander voor God. Hy tree in met liefde, empatie, solidariteit , integriteit . Jy kan nie vir iemand voorbidding doen as jy nie bereid is om hom/haar lief te hê en te aanvaar nie. Voorbidding het die Here Jesus se lewe gevra – Hy het die offer gebring. In 1 Pet 2:9 word die volk van die Here ’n koninklike priesterdom genoem . God se volk is ’n volk van priesters – wat vir ander intree en voorbidding doen.

Voorbidding kan met reg ’n bediening van omgee genoem word. As jy dus aan iemand verklaar dat jy vir hom/haar bid – wys dit dat jy omgee en bereid is om voor God namens die persoon ’n offer te bring. Dit gebeur te veel dat sommige mense soms leë beloftes van voorbidding maak , miskien omdat dit die sosiaal korrekte ding is om te doen. Ek sou om daardie rede versigtig wees om vir almal te vertel dat ek vir hulle bid. Om vir mekaar te bid is ’n baie intense en ernstige saak. Dit is ’n bediening van omgee en van intree! Jy mag daarom nie leë beloftes vir iemand of vir ’n saak maak nie.

Persoonlik probeer ek ’n dissipline in my bediening van voorbidding handhaaf. Ek het ’n gebedsjoernaal waar ek agterin ’n basiese raamwerk vir elke dag se voorbidding het. Dit is goed om ’n gereelde voorbiddingslys te hê.

Ook vir gemeentes is ‘n gereelde voorbiddingslys nuttig. Tog word baie voorbiddingslyste van gemeentes eerder ’n inligtingstuk van lief en leed. Hoewel dit reeds die begin van ons omgee-gebed is, sal ons erns moet maak om vir mekaar voor God in te tree. Dit is dalk die moeite werd om met mekaar in gesprek te tree hoe ernstig ons dit bedoel as ons die woorde gebruik .. Ek bid vir jou……

Met al my erns oor voorbidding , het ek egter ook ’n klippie in my kerkskoen. Dalk is ek enig in my worsteling en het ek nog baie om in heligmaking te groei – maar ek is eerlik as ek sê : ek sukkel om vir iemand te bid vir wie ek nie ken nie. Ek sukkel om die offer van liefde te maak en vir hulle te pleit by die Here. Ek sukkel om net vir ’n naam te bid en nie regtig te weet waarvoor nie. Ek sukkel om te reageer op ’n onpersoonlike SMS. Dalk is my liefde vir die wêreld nie groot genoeg nie en hoop ek die Here sal dit vir my leer. Of miskien sê dit vir my iets oor die belangrikheid van die gemeenskap van die gelowiges…..?

Quintus

Dominee en gebed

Written by Besoeker on . Posted in Gebed

In my swerftogte deur ou stowwerige boekwinkels het ek op ’n stadium op die boekie “Power Through Prayer” van E M Bounds afgekom. Op daardie stadium het die naam Bounds niks vir my beteken nie en nog minder die titel – want het ek gedink – “die krag van gebed” is die titel van elke tweede boek oor gebed! ( Min het ek geweet dat ek later sou besef dat Bounds ( 1835-1913) vele geseënde boeke oor gebed geskryf het – daaroor op ’n ander stadium meer).

Wat my egter getref het in die boekie en my genoop het om dit te koop was die ou skewe stukkie papier wat voor in geplak was met die volgende inskripsie :

“ Dear Gerrie

I am sending you a little book for Xmas. I hope you will get a great, deep blessing from its pages. I have always longed for you to be the preacher described in it. “The praying preacher” May God make you a power for His Church through Prayer.

Susan”

Die woorde het my skielik so geraak dat ek eers moes sit en daaroor dink. Kan dit wees dat ek ’n dominee is wat verwag dat die Here kragtig deur my moet werk – sonder dat ek werklik ‘n gebedslewe het ? Hoe behoort die gebedslewe van ’n dominee te lyk?

Ek onthou dat een van my dosente altyd geweldig klem daarop gelê het dat ‘n predikant sonder gebed soos ’n motor sonder brandstof is. Hy word ’n motor genoem, hy het al die eienskappe van ’n motor , maar kan niemand iewers heen vervoer nie. Ek onthou dat hy altyd klem daarop gelê het dat gebed die werk van ’n predikant is. Dit is sy opdrag om te bid. Hy moet vir elke lidmaat by die naam bid , nie net in hulle teenwoordigheid nie , maar ook in sy eie persoonlike gebedstyd. Toe het ek besef dat my motor nie baie vinnig beweeg nie en soms sommer heeltemal gaan staan!

Ja – vandag dink ek dat gebed te min aandag kry in die opleiding van predikante, want in die etiek van Geesink is gebed as een van die asketiese dissiplines behandel . In Karl Barth se Dogmatiek word gebed as een van die loci hanteer.

Ek wonder soms wat het gemaak dat dit later nie meer gebeur het nie , dat dit verlore geraak het. Ek wonder ook of predikante weet watter krag en seën daar in gebed is.

…..Het Gerrie “the praying preacher” geword en God se volle krag deur sy gebedslewe ervaar?

 

Quintus

Doel van die blog oor gebed

Written by Besoeker on . Posted in Gebed en Spiritualiteit

Gebed is die een saak in die Christelike lewenstyl waar die ware verstaan daarvan nie van die kennis van teoloë, filosowe en geestelike voorgangers afhanklik is nie, maar van die verhouding en lewenswyse wat elke gelowige  persoonlik in die aangesig van God beleef.

Met hierdie blog wil ek poog om ’n openhartige gesprek oor gebed en spiritualiteit aan die gang te kry. Ek wil jou uitnooi om saam met my te dink, te gesels en te groei oor en in die praktyk van gebed.  Hierdie is nie ’n voorbiddingsblog waar gemeentes en indiwidue verskeie gebedsversoeke plaas nie –  daarvoor het gemeentes hulle eie sisteme.  Die oop gesprek in die blog moet juis inspirerend meewerk om  gemeentes en gelowiges inligting te gee en te motiveer om ’n gebedskultuur te vestig.

Die blog wil onder andere aan twee sake aandag skenk.

  • Die een is ’n oop gesprek oor gebed en spiritualiteit. Neem asb. deel aan die gesprekke oor verskeie temas en gedagtes wat gereed  in die blog sal verskyn.
  • Die ander is om ’n ruimte te skep  sodat gemeentes en gelowiges oor die kragtige werking van gebed kan getuig.  Kyk by die kategorieë en klik op “Getuienisse”

Groete

Quintus Heine

Welkom by Padlangs

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Die bedoeling met die blog is om met wie ookal wil in gesprek te tree oor my ervarings met gemeentes soos wat hulle oor my pad kom.  Dikwels sal daar meer vrae wees as antwoorde maar met die bedoeling om gesprek aan die gang te sit. Ek vermoed dit sal meestal verwonderinge wees oor wat in gemeentes so onder ons neuse gebeur. Na ‘n dekade se intensiewe werk met gemeentes as fasiliteerder, let wel nie konsultant nie daarvoor weet ek eenvoudig te min, is ek meer as te vore gefasineer deur wat in gemeentes gebeur.  Ek bly eenvoudig byna daagliks verras ten diepste oor hoe die Here deur sy Woord en Gees mense inspireer om selfloos te lewe, ‘n tweede myl te loop, dieper te luister as die eerste keer, op te offer al is daar geen ooglopende dividende nie, alles dinge wat ek in my eie lewe moeilik vind om te doen.
Met padlangs bedoel ek ook dat dit op die grond eerste gedagtes gaan wees van wat ek ervaar, gelees het, oor wonder en my verwonder.
Ek hoop daar sal van julle wees wat lus het om te deel in hierdie padlangse gesprek en dit sal aanvul met julle eie verwonderinge en vrese. Ek sien baie uit na julle opmerkings
Frederick Marais

Of is die weerstand teen die Evangelie, Roelf?

Written by Frederick on . Posted in Transformasie

My pad kruis gister met ‘n predikant wat in Mosambiek werk. Sy opmerkings oor die Afrika kultuur waarin Hy die evangelie bring, het my weer laat dink oor my twee-gesprek met Roelf en ander oor die weerstand teen verandering. Ek dink daar is ook ‘n ander vorm van werstand wat nie in die eerste plek met transformasie te make het nie maar wel met die Evangelie.  Op ‘n vreemde manier is ek bevry toe ek hiervan ‘n paar maande gelede in Andrew F. Walls se

The Cross-Cultural Process in Christian  History (2005 Orbis Books) gelees het oor sy teorie van die vertaling van die evangelie in ‘n bepaalde kultuur.

In ‘n neutedop is Walls se argument die volgende:  Die evangelie wat verkondig word in ‘n bepaalde kultuur kan nie anders as om in daardie kultuur vertaal te word nie. Daar kan tog nie met die mense binne die bepaalde kultuur gekommunikeer word sonder om die boodskap van die evangelie in daardie bepaalde kultuur te “vertaal” nie.  Natuurlik beteken dit ook dat die kultuur op sy beurt weer die Evangelie vertaal. In ‘n bepaalde kultuur sal aspekte van die evangelie makliker begryp word, terwyl ander aspekte weer moeiliker ingang vind in die kultuur.  Sendingkundiges vertel dat daar soms eenvoudig nie woorde in ‘n bepaalde taal is om begrippe van die Bybel mee te vertaal nie.

Daar vind dus ‘n wydersydse vertaling van die Evangelie en die kultuur plaas. Verder se Walls op voetspoor van Newbigin, is daar natuurlik bepaalde kulture wat meer weerstandig is tot die evangelie as ander… en dan die sinnetjie wat ek lank an gekou het, van al die kulture wat aan hom bekend is, is die Westerse kultuur die mees weerstandige kultuur ten opsigte van die waardes van die Evangelie! Want sien, se Walls, ons moet verstaan dat Europa, die kontinent wat geboorte gegee het aan die Westerse kultuur soos wat ons dit vandag ken, het vir die Christendom gekies, maar nie noodwendig vir die Evangelie nie!

Ek het onmmiddelik besef hier steek groot waarheid in, ons sal in gemeentes baie mooi moet onderskei tussen die Evangelie en die kultuur waarbinne die Evangelie aan ons bekend geword het.  Watter een dra en beskerm ons nou eintlik ten diepste. Ons weet dat daar so maklik verwarring tussen die twee ontstaan.  Laat ek een voorbeeld noem, waarop ek baie graag julle kommentaar sal wil hoor.  Is die doel van groei en volwassewording in die Westerse kultuur nie eintlik maar om selfstandige en in-beheer mense te kwek nie. Die Evangelie aan die ander kant se:  Gelukkig(salig) is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Beheer, bemagtiging teenoor afhanklikheid en broosheid. Tog duidelik teenoorstaandes en as ek so om my kyk is dit vir my baie duidelik wat die Westerse kultuur ‘n meer vormende invloed in my gemeenskap se lewe gehad het as die Evangelie op hierdie punt. Ja natuurlik ook in my eie lewe.

Nou hoekom het ek bevry gevoel hierdeur.  Ek het dieper insig ontwikkel in die ‘valsheid” van die aanname dat die Westerse kultuur christelik is.  Dat ons mense, soos wat ons so maklik se, christelik is? kan dalk so wees, maar of hulle (en ek) gekies het vir die evangelie weet ek nie. Dit het my gehelp om ‘n gesonde suspisie te ontwikkel oor wat ons in gemeentes doen en verkondig.  Natuurlik is die Westerse kultuur beinvloed deur die Envagelie, maar die eintlike proses was en is andersom, dit is die Westerse kultuur wat die evangelie gebruik om haar kultuurdoelwitte te gebruik, en waar dit nie inpas nie, word die evangelie eenvoudig mak gemaak en gebuig totdat ons weer gemaklik daarmee is. Of soos watprof jonker altyd gese het, ook ons sou Christus uiteindelik gekruisig het!

Dit het my gehelp om meer onderskeidend te dink tov die heersende kultuur van die gemeenskap waarin ek leef en die Evangelie. En dit was bevrydend, want skielik het ek wer nuuskierig geraak oor wat die Evangelie dan werklk is, oor Jesus, oor na-volgingskap van Jesus, oor God, oor die einskappe van die Sy gemeenskap en sommer nog ‘n hele boel ander dinge.  As dit waar is dat die kultuur waarin ons (natuurlik nie net ons nie, maar almal wat in ‘n bepaalse ons leef) leef, ons blind en weerstandig maak tov soveel kante van die evangelie, le daar mos ‘n goudmyn van ontdekkings om te maak indien ons dapper genoeg is om te onderskei oor waarop dit werklik aankom.

‘n Volgende keer skryf ek oor Walls se idee dat ‘n gemeente net werklik hierdie onderskeidingswerk kan onderneem indien hulle oor die grens van hulle heersende kultuur bou aan gemeenskap.

Terloops ek sien Sharon- snaude@sun.ac.za  het nog ‘n paar kopie van Walls se boek in die boekwinkel- jy sal nie spyt wees nie.