Pinksterreeks: Noodkrete om ‘n Menslike Lewe

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies

Die Pinksterreeks van die Verenigde Diensgroep Diens en Getuienis (VDDG) vir 2014 deur prof Nico Koopman, dekaan van die Universiteit van Stellenbosch se Fakulteit Teologie is beskikbaar by Bybel-Media.

Klik hier: http://gemeentepakket.bybelmedia.org.za/noodkrete-vir-menswaardigheid/.

This 2014 Pentecost series is also available in English.

Please click here: http://gemeentepakket.bybelmedia.org.za/cries-for-a-humane-life/.

Die gebed wat alles sê

Written by Frederick on . Posted in Gebed, Gebede

My pa is ‘n lyer van Parkinson se siekte, nou almeer as ‘n dekade. Pa  is aan die verkeerde kant van tagtig. Die sieke eis sy tol. Hy word tuis deur my ma versporg.

Vanoggend het ek en Anika ingeloer. Dit was nie ‘n goeie oggend vir hom nie. Hy is moeg en het in die bed gebly en sommer daar ontbyt geëet. Om op te staan word al hoe meer van ‘n inspanning. Hy slaap groot dele van die dag en voel skuldig daaroor dat hy so min doen. My ma verseker hom dat hy maar mag rus, hy het hard genoeg in sy lewe gewerk om nou maar te kan rus.

Sy gaan haal die ontbyt en bring dit kamer toe om hom te voer. Die ontbyt is sorvuldig voorberei met presies wat hy nodig het, So berei sy elke ete met sorg voor. Sy vra of hy sal bid vir die ete? Hy maak sy oe toe en stadig bid hy met ‘n verbasende helder stem:

Vader wat in die Hemel is…daar is ‘n lang stilte
én ook hier by ons op aarde is…
dankie, dankie…dankie
amen

Daar was nie meer  woorde nodig nie, die gebed het alles gesê

‘n Ode aan my VG kollegas

Written by Frederick on . Posted in Padlangs met gemeentes, Transformasie

Verlede week was ek by ‘n geleentheid waar ‘n senior joernalis verwys het na die bekende essay van Samuel Scudder  “Take This Fish and Look at It,”  Dit is die verhaal van ‘n jong entomoloog (insektekundige)  wat van sy professor die opdrag kry om na ‘n vis te kyk en sy waarnemings neer te skryf.  Aanvanklik dink hy dit is ‘n maklike opdrag en skryf hy vinnig neer wat hy waarneem. Die professor in nie tevrede nie en hy moet weer na die vis kyk, sonder dat die professor tevrede is. Toe neem die porefessor die vis weg en vra hom om sy waarnemings neer te skryf  noudat hy nie meer fisies na die vis kan kyk nie. Die student begin noodgedwonge op ‘n ander manier “kyk” en nadink oor wat hy gesien het, en maak ontdekkings oor die vis wat hy nooit gedink het moontlik is nie.  Dit is by hierdie dieper kyk, wanneer ‘n joernalis gebore word, het die senior joernalis aan die nuwelinge gese.  Ek dink dit is goeie raad vir hoe ons uit die verskillende kerke na mekaar kyk.

Ons het nou ‘n 3-dag evangelie nodig

Written by Frederick on . Posted in Leierskap, Padlangs met gemeentes, Transformasie

Die optog van Distrik Ses tot by Parlement in  Kaapstad op Stil Saterdag was  ‘n baie hoopvolle dag vir almal wat vrede en geregtigheid in ons land soek.

stil-saterdagDit is vir my betekenisvol dat die optog op stil Saterdag was. Ons glo in ‘n 3dag evangelie, Goeie Vrydag-wanneer ons die kruisiging herdenk. Ons ontmoet dan dié God van deernis en opofferende diens. Op Paassondag herdenk ons die opstanding, die leë graf en is ons saam met Maria aan die soek na die liggaam van Jesus en kry ons net die doeke. Sonder stil Saterdag-die dag van die dood, sou die ander twee nie dieselfde betekenis kon dra nie. Op stil Saterdag slaan die werklikheid van die dood ons op die krop van ons maag. Golgota se drama lê nou agter ons en die finaliteit van die dood en die stilte daarvan ruk ons eintlik tot stilstand. Die drama van pase is geen speel-speel sprokie met ‘n gewaarborgde uitkoms nie. Op stil Saterdag het Christus die  dood betree. Ons kan nie anders as om dit vierkantig in die oë te kyk nie. Die dood is eenvoudig deel van die lewe en op stil Saterdag word ons daarmee gekonforteer. Gelukkig is dit tussen Goeie Vrydag en Paassondag, die kruis en die opstanding.

Die Tafel

Written by Manus Olivier on . Posted in Begelei mekaar, Blogs-Communitas

Die Tafel,
Dis nie sommer enige tafel nie, dis ʼn kombuistafel. Die tafel staan ook nie op enige plek nie, maar in ouma se kombuis op Theunissen. Dis so ʼn groen geverfde kombuis, met blink emalje, soos die oumense se kombuise gewoonlik geverf was. In die hoek staan die groen koolstoof, en net langsaan, so asof hulle hande vat, maar tog ver genoeg in jare verwyderd van mekaar, die nuwe blinke Defy elektriese stoof.

Ouma kook op altwee van vroegoggend, sommer vir lank, want die pap moet ten minste twee en ‘n half ure kook, en die boontjies? Dié sommer van voor ses tot kort duskant aandete. In die koolstoof is ouma se bekende brood besig om stadig, al rysende te bak en die geur daarvan oortref enige ander geur, maar veral die hongerpyn van iemand wat hol tot by sy tone is. Die snye lê sommer ʼn hele bord vol. Met ouma se konfyt by, bobaas lekker.

Na ontbyt, dan word die tafel omskep in ʼn plek waar ouma haar koekiedeeg uitrol, en saam probeer ons ouma help terwyl sy met grootse geduld en liefde ons reghelp. Middagtyd is die brood darem al reg, maar as dit nog warm is, vergeet daarvan, want dit gaan jou maagpyn gee, sê ouma. Dan eet ons maar nog aan die vorige dag se baksel, terwyl die lus amper op die grond hang, aangesien die vars brood net oorkant op die kas onder die plaasbotter kreun van lekkerte en so aanloklik lyk.

Dan kom die beste deel, wanneer ouma vir ons plek maak om die tafel te gebruik vir die tafeltennis, waar ons net vanoggend sommer so twee spane en ʼn net met twee balletjies by die plaaslike Portugese algemene handelaar gekoop het. Terwyl aandete nog rustig voortprut, nou net op die koolstoof, speel ons kleinkinders tafeltennis en oupa en ouma loop maar draaie om ons om vir ons ruimte te maak. Dan as jy te ver terug staan, brand ouma se pot jou sommer wanneer jy net dink dis nou die wenhou, maar o weë, die pot brand jou so dat jou hou die balletjie doer oor oupa se kop laat trek.

As ons weer sien is die middag verby, dan moet ons tafel dek, want sien, oupa eet net na vyf, so was die gewoonte al die jare. Om die tafel kom ons almal byeen, hoe weet ek nie, want sien ek het daai ou tafel nou in my besit, en ek alleen pas skaars om die tafel. Tog, die herinnering, van nie net daar eet nie, maar ʼn tafel wat elke keer wanneer ek dit sien my herinner aan liefde, omgee, deernis, riglyne vir die lewe en ook voeding, nie net vir die maag nie, maar ook vir die siel met aandgodsdiens.

Sien, die tafel het nie net ons as kleinkinders rigting en liefde in die lewe gegee nie, maar dit was die tafel wat ook ses ander kinders grootgemaak het, om standvastig ook vir hulle kinders (vir ons, die kleinkinders) te sorg, liggaamlik en ook geestelik.

Omgee van een geslag na die volgende. Alles begin by ʼn tafel, ʼn kombuistafel en ons, ons as gemeente wil die kombuistafel weer in sy ereplek herstel, waar gekuier word – die hart gebaar word, raad gegee word, maar bo alles waar daar geluister word, en omgee en liefde, vanweë God se genade, gratis deur liefdevolle omgee ouers uitgegee word.

Dit alles word altyd begin deur ʼn ander tafel, dié Genadetafel wat God vir ons laat dek het deur Sy Seun se liggaam aan die kruis!

Dis dié Nagmaalstafel.

Bydraes vir Verder Geluister gestaak

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Na 267 bydraes die afgelope 5 jaar word die bydraes vir Verder Geluister vir eers gestaak.  Die terugvoer wat ons oor die jare gekry het, is dat dit waardevolle bykomende perspektiewe gegee het vir die preekriglyne volgens die RCL Leesrooster.  Ons sê baie dankie vir elke skrywer en ook vir Chris Jones wat die projek van die begin af gekoördineer het.  Julle het die fokusteks vir die week op besondere wyse vir ons geaktualiseer.

Ons is besig om met ander rolspelers te onderhandel oor hoe die RCL Leesrooster se preekriglyne beter gekoördineer kan word.  Die Seisoen van Luister se preekriglyne is steeds by gemeentes.co.zaseisoenvanluister.co.za en Bybel-Media beskikbaar, en die volle gemeentepakket by kontak.org.za.  Ons sal te gelenertyd die uitkoms van die prosesse bekendmaak.

Verder Geluister: Kol 1:11-20

Written by Marius Nel on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

24 November 2013 ~ Sewe en twintigste Sondag in Koninkrykstyd: Kolossense 1:11–20

 Die Kolossensebrief is geskryf aan gelowiges woonagtig in Kolosse wat in die provinsie Klein-Asië geleë was (vandag Turkye). Paulus, wat gewoonlik op die groter handelsentra gekonsentreer het, het nie self die gemeente daar gestig nie. Dit het blykbaar geskiet danksy die prediking van Epafras wat ‘n inwoner van Kolosse was (4:12). Hy was volgens Filemon 23 in hierdie stadium saam met Paulus in die tronk. Paulus skryf dus aan ‘n gemeente wat deur ‘n medegevangene gestig en bedien is. Daar was egter erge probleme in die gemeente met dwaalleraars en Paulus is vermoedelik versoek om aan hulle te skryf ten einde hulle met raad en die suiwer leer van die evangelie te bedien. Hy begin om dit te doen deur vir hulle te bid.

Waar Paulus vanaf 1:3-7 die redes uitgespel het waaroor hy vir God oor sy werk in die gemeente in Kolosse bid, gee hy vanaf vers 9 tot 14 die inhoud van sy voorbidding vir die gemeente weer. Paulus bid dat hulle kennis, wysheid en insig sal ontvang (vers 9). Die kennis waarom Paulus vir die gemeente bid was ingestel op die wil van God. Dit was nie ‘n gnostiese of spekulatiewe vorm van kennis nie. Die passiewe vorm van die werkwoord dui daarop dat dit God is wat die kennis in hulle sou bewerk. Die kennis van God se wil moet in gelowiges se alledaagse lewens neerslag vind en daarom bid Paulus dat die kennis aangevul sal word met wysheid en insig. Hierdie drie vorme van kennis hoort volgens die Ou Testament bymekaar (vgl. Eks 31:3 – “Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen”). Wysheid en insig moet gesien word as praktiese bekwaamheid om reg en verkeerd te onderskei en gaan dus om die kennis van wat God se wil (sy etiese eise) is.

 Die belangrike van die gedeelte is hoedat Paulus nie kan raad gee anders as in ‘n konteks van gebed nie. Ten diepste is die heiligmaking van die gemeente immers God se werk. Paulus bid in vers 10 dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke en dat hulle sal toeneem in hul kennis van God. Ten einde dit te bereik bid Paulus dat God deur sy wonderbare krag aan hulle die sterkte sal gee sodat hulle nie moed verloor nie, maar in alle omstandighede geduldig kan volhard. Hy vra ook dat hulle dit met blydskap sal doen. Blydskap was dan ook ‘n wesenskenmerk van die vroeë kerk (vgl. Hand. 2:46; Fil. 4:4-6; 1 Tess. 5:16-18).

 Saam met verse 13-14 vorm vers 12 ‘n oorgang van Paulus se gebed vir die gemeente in Kolosse na die lied wat in verse 15-20 volg. Vir Paulus is gemeenteteologie – hoe ons as gelowiges saam leef -altyd ‘n saak van reg bid en reg sing. In antwoord op die dwaalleraars wat hulle verwar verwys Paulus die Kolossense na ‘n Vroeë Christelike lied, waarmee hulle moontlik bekend was, om die reikwydte van die heilswerk van Jesus bekend te maak.

 Ons moet dus vra hoe ons bid en sing as gemeenskap van God?  Getuig ons gebede van ‘n verwagting dat Jesus steeds in ons en die kerk werksaam is?  Dat dit net Hy is wat ons nuut kan maak?  Getuig ons liedere verder oor die volle omvang van God se heilswerk – of net van ons verlange na persoonlike vergifnis en versorging?

 Die lied waarna Paulus verwys getuig van veel meer as dit. Let op die volgende:

 ● Vers 15a – Die Seun is die beeld van God. Waar die OT leer dat God onsigbaar is maak Kolossense dit duidelik dat ons in Jesus vir God kan sien. Jesus het naamlik dieselfde identiteit as God en daarom kan Hy Hom volmaak voorstel.

 ● Vers 15b – Die Seun is die Eerste. Nie in terme van volgorde nie, maar in rangorde. Hy is dus nie geskep nie. Trouens God het juis deur Hom alles geskep (vers 16). Jesus is voor die skepping en hy onderhou dit (vers 17). Jesus en die natuur is dus nie gelyk nie. Baie mense praat van Jesus in die natuur ontmoet asof die natuur en Hy dieselfde is. Kolossense leer ons dat Jesus is nie geskape nie. Hy is eerder die skepper van alles.

 ● In vers 18 verskuif die fokus van die heelal na die kerk om Jesus se verhouding met die kerk duidelik te maak. Ook hier is dit duidelik dat Jesus nie alleen die Hoof van die kerk nie, maar ook die oorsprong daarvan.

 ● Vers 19 verwys na die werk van Jesus. Let op die uitdrukking dat alles in Jesus met God versoen is (vers 20).

 In kort leer Paulus die gemeente en ons om weer daaroor te sing dat God sy ganse skepping gaan nuut maak soos wat Hy ons nuut maak. Net soos Hy ons nie afskryf nie, maar nuut maak en verheerlik, sal God die aarde nuut maak en verheerlik. Jesus wat met die skepping van alles betrokke was sal ook by die herskepping van alles betrokke wees. Dis waarvoor ons moet bid en waaroor ons moet sing met blydskap.

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: GEEN

Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/839_c6c68ae0c46e239ab740706d1c69de63