Kontak kommunikasie

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Die probleem is dat tegnologiese kommunikasie op ’n ander emosionele vlak lê as kontak-kommunikasie.  Veral as tegnologiese kommunikasie nie opgevolg of ondersteun word deur kontak-kommunikasie nie.  Dis nou as jy vir jou vrou ’n baie romantiese SMS gestuur het, maar as julle mekaar sien, jy geensins by die stemming van jou SMS aansluit of erken dat daar so ’n SMS was nie.

Die uitdaging is om die tegnologiese kommunikasie ondersteunend tot die kontak-kommunikasie te laat werk, maar dan moet jy die bruggie oorsteek as julle bymekaar is.  Praat jou praat en wys jou affektiwiteit.

Die rede vir die bruggie is die swak kontak-kommunikasie vaardighede wat ons het.  Ons kommunikeer baie keer bedreigend en luister formulerend.  

Bedreigende kommunikasie lê op drie vlakke. Lyftaal, stemtoon en woordkeuse.

  • Ons lyftaal verklap baie keer ons gesindheid – óf van irritasie óf van haastigheid óf van meerderwaardigheid. Hoe jy staan of sit of loop, kommunikeer afstand nie nabyheid nie.
  • Stemtoon verdoof die woorde.  Jy kan die volgende sin met verskillende stemtone sê en jou hoorder hoor twee totaal verskillende boodskappe: “Liefie jy weet mos dat ek jou liefhet.”  Ouers se stemtoon is baie keer net te hard of te sag of te versigtig of te selfversekerd dat dit die boodskap doodmaak.
  • Woordkeuses kan weer die hoorder of nader uitnooi of afstoot.  Woorde soos “nooit” en “altyd” en “nee” en “maar” is struikelwoorde – jy moet eers daar oorkom om weer aan te gaan.  Jy kan bloot met die keuse van ’n woord jou hoorder “shame” of verkleineer of blameer.  Byvoorbeeld: “Kan jy nie net die moeite gedoen het en vir ons gebel het om te sê waar jy jou bevind nie!” Teenoor. “Dis vir my baie lekker as jy bel, want dan weet ek waar jy is.”  Jy kan selfs dieselfde sin gebruik en net die struikelwoorde uithaal bv. . “Jy kon die moeite doen en vir ons gebel het om te sê waar jy is!” Al klaar beter en minder beskuldigend of bedreigend. 

Formulerende luister is weer ’n luister met die een oor. Terwyl jy luister is jy eintlik besig om ’n antwoord te formuleer.  Jy is besig om jou woorde agtermekaar te kry om, sodra die persoon ophou praat, gereed te wees met ’n antwoord. 

Daarom is dit goed om vir jouself sekere vaardighede in te oefen en gebruike aan te leer.  Alles om die persoon met wie jy kommunikeer die gevoel te gee jy luister intensioneel. Een so ’n vaardigheid is om jou gespreksgenoot te eggo.

  • Eggo klink vir jou baie kunsmatig en geforseerd en daarom oneg.  Die teendeel is egter waar vir jou gespreksgenoot. Hy/sy beleef dat jy regtig omgee en luister.
  • Eggo forseer jou om by die persoon te bly en om seker te maak jy het reg gehoor.  Dit gee jou gespreksgenoot ook kans om te hoor wat hy/sy gesê het en daarom om te herformuleer indien nodig.  Inkort dit kommunikeer dat jy begrip het.  Jy kan daarom selfs goed eggo waarmee jy nie saamstem nie, want eggo is nie ’n waardeoordeel nie. As jou naskoolse kind by die huis kom en sê: “Ek is nou so ontsteld en kan ’n bottel brandewyn uitdrink!” kan jy dit eggo sonder om te oordeel. Jy kan sê: “Klink vir my jy is so kwaad jy kan sommer aan die drink gaan.”  Jou seun sal voel my pa/ma hoor my en sal dan heel waarskynlik sê wat hom so ontstel.  As jou reaksie was: “Nee, kind, daar is baie beter maniere om ’n mens se woede te hanteer as om aan die drink te gaan.” Was sy reaksie seker: “Ja, Ma whatever!” en het jy nooit gehoor wat hom so ontstel het nie.

Kommunikasie maak van iemand jou vriend of vyand!  ’n Ouer vertel nou die dag dat hy na die kursus ’n verkeerskonstabel wat hom vir spoed afgetrek het, ge-eggo het.  Die atmosfeer het so verander dat die konstabel hom net met ’n waarskuwing weggestuur het en duidelik in ’n beter bui was.

Gebrekkige kommunikasie is ’n groot aanklag van kinders aan ouers. Hier is sommer nog ’n paar wenke van ouers self wat volwassenes  kan doen om hulle kinders te laat beleef dat hulle wel luister.

  • “Ek moes eers leer om my mond toe te rits”, vertel die eerste ouer. As haar kind nog net begin het om van ‘n probleem te vertel, was sy gereed met ‘n moontlike oplossing.  Sy het gedink sy was ‘n puik ouer. Haar kind was nie dankbaar nie, en het meesal geïrriteerd reageer met: “Ma verstaan nie”.  Sy het nou geleer om enduit te luister en om nie altyd oplossings aan te bied nie.
  • Nog ‘n ouer vertel dat hy moes leer om op te hou om televisie te kyk – dit selfs af te skakel, om met volle aandag na sy kind te luister. Interessant genoeg word probleme nou gouer opgelos en los sy kind dikwels sy eie probleme op voordat hy ‘n woord sê. Bloot die feit dat sy ouer met onverdeelde aandag luister, help hom om self oplossings te vind. Hy bieg dat dit voorheen dikwels gebeur het dat hy later nie mooi kon onthou wat Jannie vertel of gevra het nie. Hy verstaan nou dat dit nie onmoontlik is om gelyktydig aan die televisieprogram en sy kind aandag te gee. Hy bieg ook dat hy nie altyd gedink het wat sy kind sê is so danig belangrik nie. Nou verstaan hy dat, al is dit nie vir hom belangrik dat Jannie se maatjie vandag by die skool lelik met hom was nie, is dit vir Jannie baie belangrik. Pay doen nou sy bes om met sy lyf, oë, ore en hart te luister.
  • ‘n Ma vertel dat sy moes leer om oogkontak te maak.  Voorheen het sy dikwels voortgegaan met kos maak, en terwyl sy met een oor na haar kind geluister het, het sy ook gekonsentreer op wat nog in die kospot moes kom. Grietjie het dan haar storie tot vervelens toe oor en oor vertel, omdat sy die gevoel gehad het dat haar ma nie werklik hoor nie. Nou skakel sy die stoof af, kyk vir Grietjie in die oë en luister met volle aandag. As dit nie moontlik is nie, belowe sy dat sy sal luister sodra die pot aan die kook is. Sy sorg dat sy dit nie  vergeet nie.
  • Nog ‘n ma vertel dat sy ‘n baie sensitiewe dogtertjie het. Sy weer, het ‘n baie sterk en harde stem en soms het haar kind gedink sy raas, terwyl sy eintlik net gepraat het. Sy let nou baie meer op haar stemtoon en vind dat Anke baie nader aan haar beweeg en haar storietjies met meer vrymoedigheid vertel. Sy het ook geleer om na haar kind se liggaamstaal te “luister”. Bloot deur te leer om goed na Anke se liggaamshouding te kyk, kry sy ‘n goeie idee van hoe dit in die skool gegaan het.

Kom ons sit kontak-kommunikasie by ons tegnologie en ons probeer so beter kommunikeer. 

Ouerskap of opvoeding?

Written by Gielie Loubser on . Posted in Positiewe Ouerskap

Opvoeding is iets wat ouers met kinders doen, maar dis ook iets wat kinders met ouers doen. Ek het die afgelope tyd baie bewus geword van my kinders wat my help met so baie goed en ek in een steil leer-kurwe is. Dit wil sê ek word ook opgevoed.

My oudste is nou 12 en ek weet nog regtig nie hoe om tieners naby te akkommodeer nie. Hy is besig om my op te voed. Vanoggend aan ontbyt-tafel het dit weer gebeur, toe ek te veel melk oor sy pap gegooi het en hy my daarop wys. Ek het myself verontskuldig en die rede daarvoor gekoppel aan ’n voorval net van te vore wat niks met die ontbyt te make het nie. Hy het toe bloot kalm vir my gesê dat dit nou niks met die saak te doen het nie en ek het baie “opgevoed” gevoel!?! Maar hy was reg en ek het geleer (gelukkig kon ek my mond hou en groter as die oomblik wees).
Die oomblik as ons besef dis ’n wedersydse verantwoordelikheid raak die las van ouerskap baie ligter en kan ons deelnemend wees.

Ek leer so baie van my kinders en dis so ’n voorreg. Ek moes net hulle amptelik die toestemming gee om vir my ook te help. Dan moet ek heeltyd werk aan my ego om dit te vat. Ek dink alle ouers moet dit probeer want dan eers kan ons die wysheid van Jesus ontvang as Hy ’n kind neem en tussen die Dissipels laat staan en vir hulle sê: “Word soos ’n kind om die koninkryk te beërwe.” Joël het jare terug dit ook gesê en Petrus het dit bevestig met sy eerste preek in Hand 2 dat die kinders en jongmense as Profete sal optree.
Ons moet dus die goeie verhoudings bou om die voorreg dit hê. Daarom moet ons met alles wat ons doen twee vrae vra: 1. Bou dit die verhouding! En as jou antwoord nee is die volgende vraag:  2. Kan die verhouding dit deurstaan (sustain) gaan die verhouding hou?

Kom bemagtig jou kind om jou te help.

HOE GEMAAK AS MY KIND “GEBOELIE” WORD OF SELF ’n “BOELIE” IS?

Written by Frederick on . Posted in Positiewe Ouerskap

Afknouery het volgens Nicolene de Wet verskillende vorme:

  • By skole kom verbale afknouery die algemeenste voor. Dit sluit afbrekende aanmerkings en tergery oor die slagoffer se persoon en fisieke voorkoms in.
  • Emosionele afknouery is volgende en sluit verwerping, terrorisering, vernedering en vermyding in. Sosiale afknouery is meer subtiel en lei dikwels tot die uitsluiting van die slagoffer uit sy of haar vriendekring. Dit het die mees skadelike gevolge en gee aanleiding tot die meeste afwykings in die kind se latere lewe.
  • Fisieke afknouery kan insluit dat ‘n kind geslaan, gebyt of gestamp word, dat sy hare getrek word of sy kos afgeneem word.
  • Seksuele afknouery of teistering soos byvoorbeeld ekshibisionisme of voyeurisme (afloerdery).

Kinders wat boelie is kinders wat nie empaties is nie. Sommige kinders het ‘n temperament wat hulle nie geneig maak tot empatie nie, maar hulle kan geleer word om dit aan te ontwikkel. Kinders wat boelie wil altyd in beheer wees, al is dit ten koste van ander. Vir elke boelie is daar gewoonlik ook ‘n aantal kinders wat , hoewel hulle nie self afknou nie, toekyk en die gedrag aanmoedig. Hoewel dit nie altyd beteken dat ‘n kind ‘n boelie is nie, moet ouers daarop bedag wees dat dit moontlik is as hulle kind op ‘n aggressiewe en neerhalende manier oor ander kinders praat en geld, speelgoed of ander items het wat nie aan hom behoort nie.

Kinders wat geboelie word, is dikwels huiwerig om vir hulle ouers daarvan te vertel omdat hulle verleë en skaam voel oor wat met hulle gebeur. Hulle dink dat dit hulle skuld is, dat hulle nie hulle man kan staan nie en dat hulle ouers teleurgesteld in hulle sal wees. Hulle kan ook bang wees dat hulle ouers sal toetree as hulle praat en dat die boelie hulle dan nog meer sal afknou en verkleineer. Sommige is bang dat hulle ouers hulle nie sal glo nie of dat ouers hulle sal aanmoedig om terug te veg, terwyl hulle nie kans sien daarvoor nie. Die langtermyn skade van afknouery wat nie betyds stopgesit word nie, word grootliks onderskat. Dit kan in die later lewe lei tot ernstige angs en depressie. Ouers moet bedag wees daarop dat hulle kinders moontlik afgeknou word (hoewel die simptome ook soms ‘n aanduiding van ander probleme kan wees) as hulle gehawend en met onverklaarde beserings tuiskom, verskonings vind om nie skool toe te gaan nie, wanneer hulle gedrag en slaappatroon verander, hulle belang verloor, angstig voorkom en vriende vermy.

Die goeie nuus is dat daar deur navorsing vasgestel is dat ouers boelies kan help:

  1. As ‘n ouer uitvind dat hulle kind afknou is besondere vaardighede nodig om hom of haar te help. Opleiding help om ‘n doeltreffende ouerskapbenadering te handhaaf. Skakel vir Jan by Moederkerk of vir Gielie by die kerk se jeugkantoor om meer uit te vind oor die Padlangs na na Positief Deelnemende Ouerskapkursus. Dit mag ook nodig wees om ‘n berader te raadpleeg. Werk saam met die skool of kleuterskool om jou kind se gedrag te leer ken en aan te spreek.
  2. Daar is gevind dat ‘n toegeeflike ouerskapstyl (permissive style) waar nie grense gestel word nie en kinders min leiding ontvang en toegelaat word om hulle eie heil uit te werk, dikwels selfsugtige boelies tot gevolg het. Grense en dissipline verskaf sekuriteit. Dit moet egter nie verwar word met straf van ‘n fisiese aard nie wat afknouery bevorder eerder as om dit te voorkom. Dit is nodig dat ouers van kinders wat geneig is om te boelie leer om doeltreffend te dissiplineer. Dit is ook nodig dat ouers kinders leer hoe om konflik op te los sonder om af te knou. Dit beteken dat ouers sal leer om ook hulle eie konflik op ‘n konstruktiewe manier op te los sodat kinders nie geweld in hulle eie huise ervaar nie.
  3. Afknouery kan voorkom word deur ouers wat modelleer hoe om met mense oor die weg te kom, wat kinders leer om empaties te wees en hoe om vriende te respekteer en ondersteun.
  4. Kinders wat baie positiewe aandag van hulle ouers kry is minder geneig om te boelie. Aan die ander kant is kinders wat voel dat hulle ouers nie vir hulle lief is nie, omdat hulle nie tyd saam met hulle deurbring nie meer geneig om te boelie. Begroot vir genoeg tyd saam met jou kind.
  5. Dit help ook as ouers kinders help om goed te voel oor hulself deur hulle te ondersteun as hulle ‘n aktiwiteit van hulle eie keuse aanpak – sport, kuns of wat ook al. Moedig hulle ook aan om te eksperimenteer.

Boelies se slagoffers kan ook gehelp word:

  1. Lees paragraaf 1 van hoe ouers hulle kinder wat boelie kan help, want dit geld ook vir ouers wie se kinders slagoffers is.
  2. Teen die tyd dat ouers vasstel dat hulle kind ‘n slagoffer van afknouery is, is die kind se weerstand gewoonlik baie laag. Wees beskikbaar. Maak dit duidelik dat hy of sy enige tyd na jou toe kan kom as hulle voel hulle kan dit nie verduur nie. Bring baie tyd saam met jou kind deur en doen dinge saam wat vir die kind aangeneem is.
  3. Moedig vriendskappe aan. Nooi moontlike maats, maak dit vir hulle aangenaam en help jou kind om weer omring te wees deur goeie vriende.
  4. Gesels gereeld met jou kind; gesels ook oor die verskynsel van boelies en slagoffers en dat daar baie mense is wat soos hy, ook slagoffers is.
  5. Oefen hoe om ‘n boelie te ignoreer en op ‘n waardige manier van hom of haar weg te stap. As die slagoffer nie reageer nie, hou dit nie vir die boelie wins in nie en hy of sy sal waarskynlik ophou met die treitering. Leer ook in die proses jou kind om die humor raak te sien. ‘n Lekker lagsessie tydens die rollespel help baie.
  6. Help jou kind om sy gevoelens te identifiseer. Jou kind kan waarskynlik nie ‘n naam gee vir sy gevoelens van angs en onsekerheid nie. Jy doen jou kind ‘n guns as jy deur empaties response name voorstel sodat jou kind in aanraking kan kom met haar innerlike self. Kleispel en tekeninge kan ook help om uitdrukking te gee aan sy gevoelens.
  7. Help jou kind om assertief te wees sonder om te daal tot die vlak van die boelie. Kyk die boelie in die oë en sê iets soos: “Ek gee nie om wat jy sê nie. Ek het beter dinge om te doen as om daarna te luister”.
  8. In geval van kuberboelies: Gebruik die blokkeer of verban funksies om dit stop te sit.
  9. Prys jou kind gereeld. Beklemtoon sy of haar sterk punte en help haar om te besef dat sy spesiaal is.

Lesers, help asseblief en gee wenke van hoe u die boelie-kwessie hanteer het.

Kinders meet kragte met ouers

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

2.  Luister eers empaties en met volle aandag na jou kind voordat jy, saam met hom, die probleem probeer oplos. Plaas jouself in sy of haar skoene en probeer verstaan waarom hy weier om die speelgoed op te tel en waarom sy weier om verskoning te vra. Op dié manier dra jy die boodskap oor dat jy waarde heg aan jou kind se siening en dat jy sy of haar redes respekteer. ‘n Mens kan nogal verras wees as jy by die rede “agter” jou kind se gedrag uitkom. Dit het geblyk dat die dogtertjie wat geweier het om verskoning te vra van mening was dat sy sou jok as sy verskoning vra. Sy was nie jammer oor haar gedrag nie, want haar boetie het haar dikwels getreiter en sy was bly dat sy ook ‘n slag met hom kon afreken!

Hoewel dit soms moeilik is om by jou kind se motiewe vir die ongewenste gedrag uit te kom, weet ouers wat die POSPAR-KURSUS voltooi het dat dit help  as jy eggo. Begin deur met ‘n belangstellende stemtoon alles wat die kind sê te herhaal:

  • Kind: “Ek wil nie die speelgoed optel nie”.
  • Ouer (met ‘n kalm, simpatieke stem): “Jy wil nie die speelgoed optel nie?”
  • Kind: “Ek wil nie en ek sal nie!”
  • Ouer, belangstellend: “Jy wil regtig nie die speelgoed optel nie”.
  • Kind: “Nee”.
  • Ouer: “Nee?”
  • Kind: “Hoekom moet ek dit nou optel en in die kamer bêre as ek netnou weer wil speel?”

Dan bevestig/ “validate” die ouer: “Ek kan verstaan dat jy dit nie wil optel as jy netnou weer wil speel nie. Kom ons maak ‘n plan. Sal dit help as ek vir jou ‘n doos gee om dit in te pak, want ek is bang as dit hier bly lê trap iemand dit stukkend. As jy ‘n ander plan het, kan ons dit bespreek.”

Met die laaste respons bekragtig / “validate” die ouer. By implikasie sê sy dat die kind ‘n punt het en dat sy dit respekteer (selfs al dink sy anders daaroor). Vervolgens gee sy ‘n rede waarom dit belangrik is om die speelgoed op te tel. Sy doen ook ‘n moontlike oplossing aan die hand en luister indien hy ‘n alternatief aanbied. So maak hulle saam ‘n plan om die saak op te los. Beide trek voordeel uit so ‘n oplossing- die ma, omdat die speelgoed opgetel word en die seuntjie omdat sy beswaar in ag geneem is en die speelgoed moontlik op ‘n plek is waar hy dit makliker in die hande kan kry.

3.  Neem die kind se ouderdom is ag. Jong kinders hou meesal nie daarvan om ‘n taak soos speelgoed optel alleen uit te voer nie. Dit help dikwels as die ouer aan die hand doen dat sy dit saam met hom sal doen.

4. Besluit wie se probleem dit eintlik is. Daar kan byvoorbeeld besluit word dat klere of speelgoed wat in ‘n kind se kamer rondlê sy probleem is en dat die ouer nie sal inmeng nie, maar wanneer dit in die woonvertrek rondlê is dit die ma se probleem, want dit is vir haar belangrik dat die vertrek netjies moet wees.

5. Lewer positiewe kommentaar as ‘n kind ‘n taak verrig. Noem wat gedoen is en gee ‘n rede om aan te dui waarom dit goed is: “Jy het jou speelgoed/ klere/ boeke/ CD’s opgetel. Dankie. Dit lyk netjies”. Ons is geneig om aandag te vestig op ongewenste gedrag en aanvaar dit as vanselfsprekend as take wel uitgevoer word.

Ek vertrou dat die wenke sal help om die klein rakkers se weerstandigheid te beheer. Dit sal gaaf wees as ouers kommentaar lewer en ook hulle wenke vir ons stuur.

Wenke wat help vir raadop ouers

Written by Frederick on . Posted in Positiewe Ouerskap

Daar is niks wat vergelyk kan word met die vreugde van ouerskap nie. In ons familie ervaar ons dit op die oomblik in oorvloed. Ons eerste agterkleinkind is pas gebore en natuurlik is klein Cobus die pragtigste, slimste en voorspoedigste baba ooit. Hy is nog ongeskonde en sonder die letsels van die lewe wat geen kind misloop nie, selfs al het hy ouers wat hom wil toevou in hulle liefdevolle beskerming. Om doeltreffende ouers te wees sal hulle ongetwyfeld ‘n hele reeks vaardighede bemeester. Ek kan egter onthou dat ek soms net aan ‘n reddingstou in die vorm van een of ander wenk wou vashou as alles nie volgens plan verloop het nie. Vanaand dink ek aan wenke wat moontlik jong ouers (en ander ouers) kan help:

• 1 Gee liefde
 

Vertel vir hom en vir haar hoe spesiaal en uniek elkeen is. Wees kwistig met drukkies en soentjies. Wees “daar” as jou kind jou nodig het.

• 2 Spandeer tyd saam met elkeen afsonderlik.

Doen saam met jou kind dié dinge wat hy of sy graag wil doen (dit sal nie altyd die aktiwiteit wees waarvoor jy lus is nie). Dit kan wees om saam wegkruipertjie of Monopoly te speel. Dalk wil hy gaan fietsry of wil sy ‘n musiekkonsert bywoon. Kinders floreer op ouers se aandag en as daar twee ouers is, benodig hulle beide se tyd en aandag.

• 3 Praat minder en luister met volle aandag

As ouers empaties luister; met oë, ore en hart, help dit hulle om begrip te ontwikkel vir hul kinders se gevoelens en ervarings. Dit is vir die kind makliker om te vertel wat haar kwel wanneer die ouer die aktiwiteit waarmee hy besig is staak en regtig luister. Ouers wat met volle aandag luister dra sy twee boodskappe oor: “Jy is belangrik genoeg” en “ek gee om”. ‘n Kind se grootste behoefte is nie dat sy ouer vir hom moet raad gee nie, maar dat sy ouer sal hoor wat hy sê.

• 4 Skep struktuur
 
‘n Kind voel geborge as daar gereelde eet- en slaaptye is, selfs al skop hulle soms daarteen. Dit skakel konflik uit as daar roetine handelinge is soos dat skoolklere uitgetrek word as hulle van die skool af kom en dat huiswerk afgehandel word voordat hulle gaan speel. Waak terselfdertyd daarteen om rigied te wees

• 5 Laat kinders toe om keuses te maak

Die blote kans om ‘n keuse uit te oefen verminder by ‘n kind weerstand om ‘n taak uit te oefen, want dit laat hom in beheer en belangrik voel: “Wil jy jou blou broek of jou groen broek aantrek?” of “wil jy Weet Bix of Post Toasties hê?” of “wil jy jou medisyne met koeldrank of ‘n lekkertjie afsluk”.

• 6 Probeer om nie uit gewoonte “nee” te sê nie

Nee is vir ‘n kind soos ‘n rooi doek vir ‘n bul. Sy vra: “Kan ek gaan speel?” Sê eerder: “Ons eet oor 5 minute” as “nee, ons eet oor 5 minute”.

• 7 Behou hoop

Kinders het dikwels ‘n droom van wat hulle wil word en bereik. Jou kind wil ‘n sanger, dokter, polisieman, onderwyser of beroemde sportman word. Droom saam eerder as om hom wreed te ontnugter. Hy sal wel mettertyd realisties word en ontdek wat sy werklike aanleg is.

• 8 Moenie blameer nie

Wanneer ‘n kind ‘n fout maak en jy blameer of verkleineer hom, voel hy vir homself jammer. Verduidelik eerder waarom dit ‘n fout was en wat ‘n beter opsie sou wees. Spreek die fout aan en nie op die kind nie.

• 9 Moenie dreig nie.

Ouers is geneig om baie keer te dreig voordat hulle optree. Dit maak kinders ouerdoof. ‘n Kind weet dat hy byvoorbeeld maar met sy voete op die bank kan sit, want ma en pa dreig, maar tree nie regtig op nie. Gee liewer ‘n keuse met ‘n logiese gevolg: “As jy aanhou om met jou voete op die tannie se bank te sit, sal jy op die vloer moet sit”.
Wenke help baie, maar ‘n mens kan ook verstrik raak in al die wenke as jy nie oor ‘n ‘n goed-gedefinieerde ouerskapsiening beskik nie. Gelukkig is daar kursusse, soos POSPAR wat daarmee help. Vir meer inligting gaan na “Positiewe ouerskkap” op die Communitas webblad.

Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

 Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Die afgelope week was ‘n hartseer tyd. Dit gons in ons land en die moord op  Eugene Terreblanche is ‘n gespreksonderwerp in bykans elke huis. Mense soek na  ‘n simplistiese oorsaak daarvoor: Is hy vermoor  omdat ‘n leier ‘n liedjie gesing het wat ruimte skep vir die minagting van mense se lewens? Het dit gebeur omdat mense wat betaal moes word, nie betaal is nie?  Was alkohol die oorsaak van die tragedie? 

Ouers se bespiegelinge en uitsprake oor die aangeleentheid sal ‘n blywende indruk op hulle kinders maak. Afhangende van wat hulle sê, sal hulle bydra tot die skep van óf ‘n versoenende óf ‘n haatdraende gesindheid in hulle gesinne. Die gesindheid wat geskep word sal ook soos suurdeeg verder versprei, want elke gesin beïnvloed ook ander mense en gesinne.  Wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid het ouers.

‘n Ontstellende berig soos die moord op Eugene Terreblanche kan egter ook ‘n geleentheid wees om saam met ons gesinne introspeksie te doen binne ons godsdienstige perspektief. In ons gesin het ons geworstel en gepraat en ons eie gesindheid onder die vergrootglas geplaas. Om sin te maak uit  die ontstellende gebeure was ent-ent ‘n pynlike proses. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n gebrek aan respek teenoor mekaar moontlik een van die oorsake van die tragedie was: As ‘n mens nie respek vir ander het nie, sing jy liedjies soos  “Kill the boer, kill the farmer” en “Bobbejaan klim die berg” om mekaar te tart. Ons het die hand in eie boesem gesteek en erken dat ons ook nie altyd genoeg respek teenoor alle ander mense betoon nie. Eindelik het  ons by die punt gekom waar ons ooreengekom het dat ons graag ‘n klein bydrae tot die voorkoming van geweld in die land wil maak. Ons  het twee voornemens vir onsself geformuleer:

1. Ons gaan daarna streef om alle mense met respek te behandel – selfs al handhaaf ons verskillende standpunte.

2. Ons gaan mense respekteer deur nie onsself hoër as enige ander mens te ag nie.

OORLAAIDE OUERS ERVAAR SPANNING

Written by Alta Marais on . Posted in Positiewe Ouerskap

 

Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers voel asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee.

Toe ek baie jare gelede ‘n kind was, het ek skool toe en terug gestap en namiddae self gesorg dat ek by buitemuurse aktiwiteite uitkom – ook te voet. Selfs wanneer daar saans aktiwiteite by die skool was, het ons gestap. Ouers was nie bekommerd oor ons veiligheid nie. Gedurende daardie tyd was ma’s oor die algemeen tuisteskeppers van beroep en baie min van hulle het buitenshuis gewerk.

Tye en omstandighede het intussen ingrypend verander. Vandag beklee beide ouers gewoonlik beroepe. Om eerlik te wees verkies die meeste van ons die nuwe bedeling – ook om ons konfyt en vrugte in blikkies te koop. Daar is egter ook ‘n skadukant: Ouers is besiger, nie net omdat beide werk nie, maar ook omdat dit nie meer vir kinders veilig is om alleen op straat te beweeg nie en hulle vervoer moet word. Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee. Dit is onrusbarend hoeveel medikasie gebruik word vir toestande wat aan spanning gekoppel kan word, soos hoofpyne, buikpyne, slaaploosheid, hartkloppings en brandpyne in onder andere jou nek en skouers.

Die antwoord vir die probleem is nie om:
•Op die bank te gaan lê en slaap nie.
•Sommer net lui te wees nie.
Ontspanning is:
•‘n Doelbewuste aksie.
•Dit word die beste gedoen terwyl jy helder wakker is.
•Daar is verskeie ontspanningstegnieke en dit kan
aangeleer word.

Ouers kan nie altyd die spanning vermy nie, maar kan leer om die negatiewe gevolge uit te skakel.

Ek deel met julle ‘n aantal kits ontspanningstegnieke Besluit self wat vir jou die beste werk.

•Trek jou asem diep in; hou dit vir ‘n paar sekondes en sug dit uit.
Trek weer jou skouers op tot by jou ore terwyl jy jou asem diep intrek en in hou; buig die skouers agtertoe totdat dit voel asof jou blaaie aan mekaar raak. Sug jou asem uit en laat jou skouers slap val. Jy sal aangenaam rustig en ontspanne voel en die nare brandpyn in jou nek en skouers sal mettertyd verdwyn.

•Aan die agterkant van jou nek is loop twee senings van jou skedel na jou skouers. Aan die buitekant, alkante daarvan, is twee holtetjies. Gebruik jou middelvingers en vryf liggies, met sirkelbewegings in die holtetjies. Daar sal ‘n ontspanne gevoel deur jou hele lyf versprei.

•Gebruik jou duime en voorvingers om net bokant jou oorbelletjies met sirkelbewegings te vryf.

•Klem jou vingers ineen en plaas jou geklemde hande agter jou nek. Hou jou kop regop en trek jou ken in. Trek jou asem diep in en hou dit so. Beur teen jou hande, so hard as wat jy kan, vir ‘n paar tellings en laat skiet terwyl jy terselfdertyd jou asem uit sug. Herhaal 10-keer.