Waardes kweek verantwoordelikheid by kinders

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Volgens Dr  Ginott is ouers  geneig om baie konkreet te dink oor verantwoordelikheid. Hy  beklemtoon dat reëls ten opsigte van huishoudelike take soos om die kat kos te gee, die gras te sny, die motor of die skottelgoed te was, hoewel dit belangrik is vir die funksionering van die huisgesin,  ongelukkig nie van kinders verantwoordelike mense met positiewe waardes maak nie. Ouers is ook geneig om te dink dat ‘n deurmekaar kamer, onwilligheid om tuiswerk te doen en ongehoorsaamheid daartoe sal lei dat hulle kinders eendag onverantwoordelike mense sal wees en dat hulle, om dit te voorkom, met streng reëls en straf gedwing moet word om te verander.  Ouers het moontlik die mag en gesag om die uitvoering van take af te dwing en dit sal tot skoner huise lei, maar mag dalk nie soveel bydra tot die kinders se karaktervorming as wat ouers graag sou wou hê nie. Almal van ons wat ouers is, weet dat die afdwing van pligte soms lei tot mini-oorloë tussen ouers en kinders. Verantwoordelikheid kan nie van buite deur reëls en pligte geleer of afgedwing word nie.  ‘n Kind kan selfs goeie maniere hê, sy kamer aankant hou, gereeld musiek oefen en steeds onverantwoordelike besluite neem. Verantwoordelikheid  is iets wat van binne groei as dit gevoed word deur die waardes wat kinders van mense kry wat vir hulle omgee en vir wie hulle respek het. Kinders kan met kladpapier vergelyk word. Soos kladpapier ink absorbeer en die ink deel van die kladpapier word as dit daaraan blootgestel word, so absorbeer kinders die waardes waaraan hulle blootgestel word in hulle huise en omgewings, en word dit deel van hulle.

Verantwoordelikheid wat nie geanker is in positiewe waardes nie, kan van kinders anti-sosiale, destruktiewe mense maak. Dit is byvoorbeeld waar dat ‘n lid van ‘n bende misdadigers baie verantwoordelikheid aanvaar vir die ander lede in sy groep. ‘n Lid se waarde sal moontlik gemeet word aan sy vaardighede om in te breek in ‘n gebou.

Positiewe waardes en dissipline wat nodig is om tot verantwoordelikheid te ontwikkel kan slegs binne ‘n positiewe verhouding oorgedra word.  Die verantwoordelikheid daarvoor lê by die ouer. Daarom ondersteun POSPAR ouers om vaardighede te ontwikkel om ‘n positiewe verhouding met hulle kinders te bou deur onder andere in kontak te wees met hulle eie gevoelens en daaraan uitdrukking te gee sonder om te blameer en kritiseer, empaties en met aandag te luister, uniekheid te respekteer en te dissiplineer eerder as om te straf.

Volgende keer gesels ons verder oor waardes.

ONS GESELS VIR OULAAS OOR HUMEUR-VERWANTE PROBLEME

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Al kry sy kind nie woedeuitbarstings nie, is hy kwaad en kry homself jammer.

Wat kan die ouer doen?

Maak tyd om  na die kind te luister en vind uit waarin hy belangstel. Doen dinge saam met die hom of haar, veral aktiwiteite waarin die kind belangstel, selfs al is dit om na musiek te luister, terwyl jy einlik rugby of netbal verkies.

Wees empaties: Eerder as om die nors kind te betig oor sy houding, kan die ouer probeer uitvind waarom hy nors is. Probeer om jouself in die kind se skoene te plaas:  “Ek kan sien jy is ongelukkig.” Verseker hom dan van jou goeie bedoelings: “Ek wil graag verstaan. Dit sal help as ons daaroor kan gesels.” Help jou  kind om te verstaan dat dit in orde is om kwaad te wees, maar dat dit ook nodig is om probleme op te los. Probeer dan saam na ‘n oplossing soek.

Om hierdie onderwerp af te sluit: As jy jou kind wil help is dit nodig om ‘n goeie voorbeeld te stel. As jy in woede ontplof elke keer wanneer dinge nie na jou sin is nie, sal dit ongelukkig nie jou kind help om sy emosies te leer hanteer nie. Beskerm jou kind teen teveel frustrasie vroeg in sy of haar lewe. Maak seker dat eise wat gestel word ooreenstem met jou kind se ouderdom.

Woede is nie iets wat jy uit jou kind se lewe kan of wil verwyder nie, maar jy kan hom of haar help om dit te hanteer en bestuur.

MY KWAAI KIND SE UITBARSTINGS (VERVOLG)

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Dit help ouers ook om hulself daaraan te herinner dat stadiums verbygaan – hierdie een sal ook.  Ouers kan ook saamwerk om die stadium gouer te laat verbygaan. As die ouer verstaan waarom sy kind nou weer geneig is tot uitbarstings, is dit makliker om met begrip op te tree. En onthou dat om begrip te openbaar nie beteken dat reëls opgehef word nie. Die onbegrypende ouer sal gewoonlik sy humeur verloor en sê: “Kom dadelik bad of jy kry met my te make.” As die ouer sy humeur verloor, sal die kind se weerstand vermeerder. Die begrypende ouer, wat in staat is om hom- of haarself in die kind se skoene te plaas, sal sê: “Ek verstaan dat dit ‘n groot prestasie is dat jy geleer het om fiets te ry en dat jy graag nog ‘n bietjie wil oefen, maar dit is nou badtyd. Jy kan môre weer ry.”

Die kind sal dikwels, maar nie altyd nie, positief reageer op sy ouer se empatiese response. Dit mag ook wees dat dit nie gebeur nie en dan kan dit help om hom heel kalm aan te sê om kamer of badkamer toe te gaan totdat hy “reg” (kalm) is. Dit is nie nodig om te reageer as hy uit sy plek van afsondering skree: “Ek haat jou,” nie. Dit is moontlik om terselfdertyd lief te wees vir iemand en hom te haat en dit is beter dat jou kind uitdrukking gee aan sy tydelike haat, anders krop hy dit op en word dit ‘n permanente wrewel. As die storm uitgewoed is, sal hy gewoonlik terugkom en gereed wees om te gaan bad. Ontvang hom met liefde en dit is beslis nie dan tyd vir ‘n prekie nie. Mettertyd sal u kind die humeuruitbarstings ontgroei en sy ouers se hoflike manier van doen en praat oorneem.

Volgende keer gesels ons weer oor hierdie baie aktuele onderwerp.

HOE KAN EK MY KWAAI KIND SE UITBARSTINGS BEHEER?

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

As jou kind weerstand bied en nie sekere kossoorte wil eet of die klere wil aantrek wat sy ouer gekies het nie, of as hy nie ‘n voorwerp wat hy beet kry wil afgee nie, het die ouer twee keuses: Dwing hom om te doen wat van hom verwag word. Dit sal erger weerstand uitlok, maar nou ja, as die kind klein is, kàn die ouer hom nog forseer, want hy beskik oor mag. Die ander moontlkheid is om jouself in jou kind se skoene te plaas en deur sy oë te kyk en waardering te kry vir sy poging tot: “Ek wíl sélf.” As dit nogtans nodig om op te tree, kan die ouer ferm maar vriendelik  wees. Die weerstandige kind sal gewoonlik opdragte respekteer as die ouer die probleem aanspreek en nie die kind nie. Wag net ‘n oomblik en skei eers die probleem van die kind. Sê vir jouself: “Jannie is goed, maar wat hy doen is nie reg nie.“ Verwoord dit dan: “Jannie, die probleem is dat as die bekertjie val sal dit breek, kom ons gee vir jou ‘n ander bekertjie wat nie sal breek nie.”

Om ‘n positiewe verhouding te bou en jou kind se samewerking te verkry is die mikpunt eerder as om ‘n antagonistiese verhouding te skep en ontwikkel. Daar is ongelukkig nie kortpaadjies nie. Dit neem TYD en is ‘n stadige en dikwels vermoeiende proses vir die ouer.

Selfs tydens ‘n humeuruitbarsting help dit dikwels om op ‘n rustige manier die klein kind se aandag op iets anders te vestig waarin hy belangstel – hom te help om sy aandag te verplaas. Dit help ook om sy omgewing te verander. Neem hom na ‘n ander vertrek, bly by hom en kry hom geïnteresseerd in iets nuuts.

Die klein kind met ‘n gebrek aan sekuriteit is geneig tot uitbarstings. Hy het ‘n begrypende volwassene nodig wat altyd binne bereik is. Straf is geneig om die gevoel van onveiligheid te vererger, ook woorde soos “jy is stout”, wat die boodskap oordra dat die kind nie goed genoeg is nie..

Om humeuruitbarstings te voorkom is ‘n veel beter opsie as om dit behandel. Die kind wat honger of moeg is sal makliker uitbarstings kry. Dit help om te sorg dat kinders op gereelde tye eet en genoeg slaap kry. ‘n Kind het ook maatjies nodig en speelgoed wat pas by sy ontwikkelingsfase (dit hoef nie duur te wees nie).

Ons gaan volgende keer voort met humeuruitbarstings by groter kinders.

DIE “STEMME WAT IN OUERS SE KOPPE PRAAT”

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Die berader wonder of Grietjie werklik in haar hart saamgestem het met haar ma se voorstel en Sarie onderneem om daaroor met haar te gesels. Hulle het ook gesels oor Sarie se gesin van oorsprong. Sy kom uit ‘n hegte gesin. Haar ma is ‘n merkwaardige vrou en sy is baie lojaal aan haar, al vind sy dit moeilik dat sy gereeld, nadat Grietjie by haar gekuier het, kritiek het op hoe sy haar kind grootmaak. Dit laat haar ontoereikend voel, asof sy op ‘n ramp afstuur met haar kind se opvoeding. Meteens het sy verstaan dat die stemmetjie in haar kop eintlik haar ma se stem is, wat as gevolg van haar vrees dat sy nie aan haar verwagtinge sal voldoen nie, in haar gedagtes ontstaan het. Deur te luister na die verkeerde stemmetjie, het sy heeltemal ontoepaslik reageer. Sarie het ook verstaan dat die wêreld verander het en dat sy nie meer haar kind kan grootmaak soos haar ma haar grootgemaak het nie. Dit is nodig dat sy haar eie ouerskapsiening ontwikkel en leer om te luister na haar eie innerlike stem wat gegrond is in haar eie wysheid vir die tyd waarin sy en haar gesin leef.

Sarie het besluit om drie dinge te onderneem en het dadelik daarmee begin:

Sy het met haar ma gesels en uitgevind dat sy heimlik baie trots is op haar kleinkind, maar dat dit vir haar moeilik is dat Sarie en haar man vir Grietjie anders grootmaak as wat sy haar kinders grootgemaak het. . Sarie het verduidelik dat hulle in ander tye leef en dat en dat daar as gevolg daarvan ander eise aan hulle gestel word. Haar ma het sekerlik ook nie vir haar grootgemaak presies soos haar grootouers kinders grootgemaak het nie. Vir die eerste keer het hulle soos vrou tot vrou gesels en dit was bevrydend.

Tweedens het sy met Grietjie gesels en om verskoning gevra dat sy so heftig reageer het. Sy kon haar eerlik verseker dat sy haar vertrou. Sy het ook geluister na Grietjie se kant van die saak en het gehoor dat sy ingestem het oor die grimering omdat sy haar ma wou tevrede stel. Beide het verlig gevoel. Grietjie het ‘n uitnodiging na ‘n “meisie” partytjie gehad en Sarie en haar dogter het ‘n heerlike tyd gehad toe hulle saam baie ligte grimering uitgesoek het vir die geleentheid. Toe Sarie vir Grietjie by die partytjie aflaai het, het Grietjie gestraal. Sarie was kalm. Sy het geweet sy kan haar dogter vertrou. Dit was wat haar eie innerlike stem waarna sy diekeer geluister het.

Derdens is Sarie van oordeel dat hulle moet werk aan eie, ‘n goed gedefinieerde ouerskapsiening. Hiervoor kan sy en haar man, Pieter, by Communitas aanklop om in te skryf vir die POSPAR (Positiewe Ouerskap) kursus.

WAT HELP MY OM HOOP VIR DIE TOEKOMS TE HERWIN?

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Dit word verder gestaaf deur die feit dat daar onder andere by ‘n Stellenbosch gemeente vertel word dat daar vir die eerste keer waglyste is van ouers wat ‘n POSPAR-kursus wil volg. Dit is ouers wat gewillig is om te erken dat die kennis wat hulle geërf het nie voldoende is om die uitdagings van ouerskap in ‘n snel veranderende wêreld die hoof te bied nie. Hulle het die moed van hulle oortuiging om Paulus se opdrag uit te voer, naamlik: “…. laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” (Romeine 12:2(a)). Paulus help egter nie net deur te sê mense, ook ouers, moet nuut dink sodat hulle kan verander nie, maar hy sê ook hoe hulle kan verander en hy bid dat dit sal gebeur: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling , sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom….” (Filippense 1:9). Paulus bid dat mense, ook ouers, meer empaties sal word; sal probeer verstaan wat hulle kinders se behoeftes is, die dinge waarop dit regtig aankom.

Gesinne is die boustene van die gemeenskap en as ouers hierdie twee opdragte uitvoer, en dit lyk asof hulle wil, sal hulle gesindheid soos suurdeeg deurwerk om die wêreld gesond te maak.

Dit is wat my hoop laat behou. Hierdie ontwaking van die ouers, meer as enigiets anders, gee my moed vir die toekoms.

Alta Marais

 

ONTWIKKELING GEDURENDE DIE TIENERJARE

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Vroeë adolessensie

10 – 15


Middel adolessensie

14 – 17

Laat adolessensie

17 tot vroeë twintigs

Mees algemene kwelling

Is ek gewild?

Mees algemene kwelling

Waar hoort ek tuis?

Mees algemene kwelling

Waarheen is ek op pad?


Ontwikkelingsmylpale

Ontwikkelingsmylpale

Ontwikkelingsmylpale

Verwerk fisiese, emosionele en kognitiewe veranderinge


Aanvaar groter verantwoordelikheid binne die gesin.

Raak onafhanklik van volwasse versorgers.

Stoei om weg te breek van ouers, veral moeder

Word bewus van seksuele begeertes

Fisies volwasse.

Realistiese selfbeeld met inagneming van fisiese voorkoms en vaardighede.

Intense betrokkenheid by vriende


Om aan ‘n intieme groepie vriende te behoort is belangrik. “As ek iets vir jou doen, wat doen jy vir my?” word vervang met ‘n begeerte om goedkeuring te kry van vriende en volwassenes.


Eksperimenteer meer met bv kleredrag, hare ens.

Mag dwelms en drank beproef.

.

Aanvaar seksuele identiteit en het bevredigende, meer intieme verhoudings met die ander geslag.


Aanvaarding deur ouderdomsgroep is belangrik

Minder egosentries met toenemende begrip vir abstrakte waardes.




Kognitiewe Ontwikkeling

Kognitiewe Ontwikkeling

Kognitiewe Ontwikkeling

Dink nog konkreet


Begin rasioneel en abstrak dink

Oorweeg moontlikhede, begin om in skakerings te dink en nie meer net in wit en swart nie.

Dink meer logies


Dink abstrak. Ontwikkel emosioneel en kognitief oneweredig – sal terselfdertyd morele waardes aanhang en oortree.


Het nog nie begrip vir subtiele verskille nie

.

Individuele vryheid van denke en optrede is belangrik

Langer aandagspan

Dagdroom baie graag


Verstaan dat keuses gevolge het en begin verantwoordelikheid daarvoor aanvaar


Kan inligting saamvat en verwerk (sintetiseer)



Kan vooruit dink – na die toekoms




Ouers se verantwoordelikhede

Ouers se verantwoordelikhede

Ouers se verantwoordelikhede

Verseker tiener dat vergeetagtigheid, ongeorganiseerdheid en emosionele labiliteit normaal is hierdie ouderdom. Beplan saam om maniere te vind om dit te hanteer.

.

Respekteer haar behoefte aan privaatheid.

Help beplan sodat die hoeveelheid energie wat spandeer word aan  taak in verhouding is met die uitkoms.

Wees kwistig met positiewe terugvoer as sy iets reg doen.


Besweer haar lae selfbeeld deur elke klein prestasie te beklemtoon.

Help om mikpunte te stel

Vermy redenasies. Gee “ek- boodskappe” met kort, duidelike redes.


Beloon haar (moontlik met meer vryheid as sy by die reëls hou).

Help om strategieë te beplan

Sorg vir duidelike grense ten opsigte van haar veiligheid.

Onderhandel oor reëls ten opsigte van veiligheid.


Dit is ‘n aanpassing van die tabel op p 27 van Michael Carr-Gregg se boek, The Princess Bitchface Syndrome