DAAR IS ’N DRAAI IN DIE GETY

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Die nuwe generasie ouers kan hulself op die skouer klop.
Ek haal aan en som op uit ’n onlangse skrywe van Frederick op die “Padlangs met Gemeentes” blog:

In die negentigerjare was daar ’n persepsie dat familielewe besig was om veld te verloor. Die oplossing? Tradisionele rolle van mans, vroue en kinders moes net herleef dan sou die Kaap weer Hollands wees. Dié siening was so gewild dat daar nie eintlik belangstelling was in navorsing oor die onderwerp nie. In gemeentes was die siening dat familielewe belangrik was, maar hulle het probleme ontken of dit afgeskuif op ander instansies, Hulle het ook nie raakgesien hoe die patriargale praktyke wat deur leiers bevorder is, nadelig was vir die vorming van verhoudings binne gesinne en families nie.

Hy skryf verder: Ek het die afgelope tyd tekens begin sien van ’n draai in die gety wat my baie opgewonde maak: ’n Gemeente in die Vrystaat vertel my hoe hulle junior kategese “afgeskaf” het en tuis- of familiekategese in die plek daarvan geïmplementeer het. Dit is met entoesiasme deur jong ouers begroet. Hy vertel die mooiste verhale van hoe hulle dit doen. In die verlede het verskeie gemeentes dit probeer, maar dit het nie geslaag nie.

Dit blyk dat ’n nuwe generasie ouers, die sogenaamde X-generasie (gebore tussen 1965 en 1979) die eerste generasie is waar Pa én Ma graag dinge saam met hulle kinders wil doen. Dit sluit deel wees van hulle geestelike ontwikkeling in. Marilyn Evans noem hulle die “Family first generation.”  (USA Today 12/12/2004). Roger Waite skryf in ’n onlangse artikel in The Sunday Times in London: “Found fathers nurture a family revival” (11/03/2009 p5). Hy beskryf die onverwagse wending treffend: “…even though we are now supposed to live in a ‘broken Britain” a report of the Oxford University researchers argue that for many of us, family life is likely to become more cohesive over the next 20 years.” Uit die navorsing blyk dit:
·    Nie alleen spandeer ma’s 25% meer tyd saam met hulle kinders as 20 jaar gelede nie,
·    Pa’s spandeer byna ’n derde meer tyd saam met hulle kinders as 20 jaar gelede.
·    In 1960 het gemiddeld 12% van alle families elke aand saam geëet, terwyl in 2002 20% dit doen.

Ek begin oplet wat rondom my aangaan en daar ontvou ’n nuwe wêreld voor my oë. Ek sien ouers in die kerk met hulle kindertjies (die ouer generasies verkies wel dat hulle moederskamer toe sal gaan). In my buurt gaan pa’s en ma’s gereeld saans geduldig met hulle kinders stap. Dit is duidelik dat hulle dit geniet om tyd saam met hulle kinders te spandeer. ’n Kollega vertel dat, terwyl hulle tot ’n paar jaar gelede gesukkel het om ouers by ouerskapskursusse te kry, daar nou waglyste is ten spyte daarvan dat hulle meer kursusse aanbied as voorheen.

Ek lees intussen nog goeie nuus: Marilyn Evans berig in USA Today dat generasie X en Y werknemers meer geneig is sal wees as die sogenaamde “boomer” generasie om familie bo werk te stel. The Families and Work Instituse van New York praat van ’n “generational shift” wat ten opsigte van familielewe besig is om plaas te vind. Die verandering in houding het onverwags gekom. Galinski sê: “What I hear all the time from young men is that they want to be different than their fathers, who often worked long hours. They want to be more involved in their children”s lives.” Die volgende verhaal illustreer: “Hoff, a chemist changed his work life to spend more time with his two year old son, Alexander. Hoff works at Abbott Laboroties, and until last April commuted with his wife, Elizabeth, another Abbott employee. But she often had to work late, so they didn’t see Alexander from 7a.m. to 7 p.m. Hoff’s own father, a computer programmer, had often travelled for weeks at a time. “My family is more important than work”, Hoff says. ”I got frustrated because I was missing a lot of quality time with Alex”. With his boss’s cooperation, Hoff started working a 6:30 a.m. to 3 p.m. shift so he could spend several hours with Alex before bedtime. They read, work puzzles, play baseball and just hang out. “Alex is happier now. He just glows and loves to talk about his time with daddy”, Elizabeth Hoff says.
Hier plaaslik weet ek van ouers, beide dokters, wat saam in ’n praktyk is. Hulle maak beurte om middae tuis te bly om by hulle kinders te wees.

NOG ’N TIENERMA VERTEL VAN HAAR ERVARINGS MET HAAR ONTLUIKENDE TIENERDOGTER

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

By ‘n ander geleentheid wou sy haar stukkende skoolskoen se sool vasplak. Amanda wou behulpsaam wees en het aangebied dat Pa dit kon doen. Gerda vervies haar toe en sê sy weet hy sal dit nie doen nie, want hy het mos nooit tyd nie en verwag Ma dat sy maar met die stukkende skoen moet loop? Ma voel seergemaak. Sy trap weer in die slagyster deur deel te neem aan ‘n emosionele gesprek en sê dat Gerda onbillik is. Gerda het haar opgeruk, die skoen neergegooi en weggeloop.

Na dié twee insidente het Amanda gaan sit en besin en ook weer die insetsel : “Help, ek dink ek het ‘n tiener” op die blog gelees. Sy het haarself in haar kind se skoene geplaas en beleef hoe haar kind “te midde van ‘n sikloon, sonder ‘n kompas, voortploeter op haar ontwikkelingspad.” Meteens is sy met groot deernis vervul.

Amanda het na Gerda gegaan en gesê dat sy jammer is dat sy skerp reageer het en het aan die hand gedoen dat hulle later, as Gerda kalm is, oor die insidente kan gesels. Twee dae later het Gerda kom sê dat sy jammer is oor haar optrede en toe kon ma en dogter ‘n sinvolle gesprek voer.

Amanda het uit die situasie geleer dat sy nie dit wat haar verwarde kind kwytraak, persoonlik moet opneem nie. Tweedens weet sy nou dit nie wys is om te reageer terwyl Gerda (en syself) in ‘n erg emosioneel toestand is nie, maar dat dit veel beter is om eers te wag tot Gerda weer kalm is en in staat is om logies te dink. Sy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Gerda nou nóg meer kwaliteit tyd nodig het as voorheen.

Hulle gesin probeer ook om deur middel van die waardes waarop hulle saam besluit het, ankers  daar te stel waaraan almal van hulle gedurende hierdie, soms stormagtige, tyd kan vashou. Hier volg hulle waardes:

  • Ons gesin gebruik woorde wat opbou.
  • Ons is lief vir mekaar.
  • Ons het respek vir mekaar.
  • Ons maak tyd vir mekaar.
  • Ons is bedagsaam teenoor mekaar.

‘n POSPAR MA STAAN HAAR ONTLUIKENDE TIENER BY

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Ek vertel vandag, soos ek beloof het, wat ‘n jong tiener se ma vertel oor wat sy doen om dié fase die hoof te bied. En ja, POSPAR-opleiding vrywaar nie jou kind van tipiese tienergedrag nie. Dit help jou wel om ‘n ‘n siening te ontwikkel oor hoe dit hanteer kan word en gee vir jou “gereedskap” daarvoor.

Sy vind dat Elmien meteens begin het om anders op te tree as voorheen.

Eerstens het sy periodiek onbeheerste emosionele uitbarstings. Ma Christa tree dan empaties, maar beslis op: “Ek weet dat jy ‘n behoefte het om te skree, maar ek wil dit nie in my ruimte hê nie. Jy is welkom om na jou kamer te gaan om te skree.” Sy het ook, by ‘n ander geleentheid, toe daar ‘n goeie oomblik tussen hulle was, haar begrip vir die uitbarstings uitgespreek en met Elmien ooreengekom dat sy enige tyd, as sy voel dat sy haarself nie kan beheer nie, na haar kamer mag gaan en dat niemand haar sal aanspreek as sy daar raas en te kere gaan nie. Sy vind dat dit nodig is om aan haar kind ruimte te gee om uitbarstings te hê.

Sy deel ook haar wenke in dié verband met ons: “Moenie met die kind wat ‘n uitbarsting het in ‘n gesprek of redenasie gaan nie. Die kind is nie op daardie stadium in staat om logies te dink nie. Dit is onnodig om jou eie emosionele energie te vermors op die situasie nie. Sien eerder die uitbarsting vir wat dit is, naamlik die reaksie van ‘n kind wat verwar word deur al die veranderinge wat in haar plaasvind. Dit gaan verby.”

Tweedens vind ma Christa dat Elmien skielik vergeetagtig en verstrooid is – veel meer as ooit tevore. Sy sê ook dat dagdroom op die oomblik vir haar die heel lekkerste aktiwiteit is. Elmien vergeet skielik haar sportklere of boeke by die huis en dit is vir haar ‘n verleentheid.

Christa het Elmien met POSPAR dissipline grootgemaak: Sy het vir haar keuses met logiese gevolge gegee en het haar laat ervaar dat gedrag gevolge het en dat as jy onverstandig optree, jy verantwoordelikheid moet aanvaar vir die gevolge van jou gedrag. As sy byvoorbeeld haar kosblik tuis vergeet het, moes sy die gevolge dra – Ma het nie huis toe gery om die kosblik te gaan haal nie. Hier aan die begin van Elmien se puberteit vind sy egter dat dit nodig is om ‘n bietjie skiet te gee, haar kind meer te ondersteun en om nie rigied te wees nie. Sy verstaan dat die vergeetagtigheid deel van haar huidige verwarring is en het aan ‘n manier gedink om haar kind te help “to save face”. Sy vra nou elke oggend as hulle ontbyt eet vir Elmien wat sy alles by die skool aan het: As sy netbal speel en die klere daarvoor vergeet het, kan sy dit gou gaan haal. Voordat sy by die deur uitgaan vra sy ook vrae soos: Het jy tande geborsel? Het jy jou kosblik? Het jy jou hare gekam? ensovoorts. Hulle het ook ooreengekom dat sy Elmien soggens 15 minute vroeër wakker maak sodat sy ‘n bietjie kan dagdroom.

Derdens het Elmien meer bewus geraak van haar voorkoms. Sy wou byvoorbeeld vir haar ‘n lipstiffie koop. Hulle is toe op ‘n inkopietog en by die eerste plek het die lipstiffie R60 gekos. Wetende dat Elmien nog glad reg was vir die lipstiffie-fase nie en waarskynlik net sou eksperimenteer, is hulle na ‘n volgende winkel waar hulle een vir R10 gekoop het. Toe sy na twee probeerslae belang verloor het, was die skade nie te groot nie. Die reël bly staan dat sulke luukses uit haar sakgeld gekoop word. Sy wou ook graag vir massering gaan en Christa masseer nou self elke aand die lyfie laventelolie te masseer. Dit maak Elmien rustig en verstewig hulle verhouding.

HELP, EK DINK EK HET ’N TIENER

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Gedurende die laaste week of twee het 3 verskillende ouers met my gepraat oor hulle kinders, toevallig almal dogters, wat skielik “anders” is as voorheen. Hoewel nog ‘n bietjie jonk daarvoor, vermoed hulle dat dit “tienergedrag” is.

Hulle is waarskynlik reg, want volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie begin puberteit vandag vroeër as ooit tevore, en wel rondom 10 jaar. Waarom? Ons het nog nie al die antwoorde nie. Onlangs het iemand genoem dat hulle vermoed al die hormone wat kinders saam met hulle kos inkry, ‘n rol kan speel. Dink maar aan waarmee hoenders deesdae gevoer word (ek neem egter nie verantwoordelikheid vir die uitspraak nie). Feit bly dat kinders “beroof” is van ‘n  latente fase tussen kind wees en puberteit waar die puberteit nog sluimerend was. Dit sal egter nie help om die hoenderboere of wie ook al te beskuldig nie. Die hedendaagse ouer staan voor die uitdaging om die situasie te hanteer.

Hoekom verander liewe kinders meteens in vreemde, moeilike wesens? Kom ons kyk waar puberteit en adolessensie vandaan kom:

  • Puberteit verwys na die fisiese veranderinge wat plaasvind om die kind te verander in ‘n seksueel ontwikkelde wese. Die brein en die pituïtêre klier stel hormone vry wat die voortplantingsorgane van seuns en dogters reguleer. Die proses se aanvang verskil van persoon tot persoon en dit kan van een tot ses jaar duur.
  • Adolessensie verwys na al die ander veranderinge- emosioneel, sielkundig, sosiaal en kognitief wat kort op aanvang van die puberteit volg.

Die effek van hierdie gebeure op die ontluikende tiener kan vergelyk word met ‘n serebrale sikloon. Die adolessent struikel te midde van die sikloon voort op sy of haar ontwikkelingspad, sonder ‘n kaart of kompas. Daar ontstaan konflik met ouers, broers en susters en hulle is besorg oor “peers”, die skool, hulle voorkoms en veiligheid. Drukgroepe speel ‘n belangrike rol.

‘n Groot komplikasie vir beide ouer en tiener is dat die brein nie teen dieselfde tempo verander as die liggaam nie. Die ouer ervaar dat die adolessent nie noodwendig na rede luister nie en  buie verander teen die spoed van lig. ‘n Emosionele uitbarsting kan gevolg word deur ‘n periode waarin hy of sy hulle “ou self” is. Hoe verwarrend!

Ouers weet dikwels nie vorentoe of agtertoe nie, maar kan ook nie anders as om simpatie te hê met die dilemma waarin die kind ongevraag as gevolg van al die liggaamlike veranderinge beland nie. Ons weet nou ten minste dat hulle “abnormale” gedrag, “normaal” is vir hulle ouderdom.

Volgende keer gesels ons met die drie gemelde ouerpare en met ander ouers wat wil saam gesels oor hoe hulle die saak die hoof bied.

WAT IS DIE LESERS VAN DIE BLOG WAT HANDEL OOR OUERSKAP SE BEHOEFTES?

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Vanaand is ek ‘n opregte twyfelaar. Ek skryf gereeld oor die POSPAR benadering tot ouerskap en volgens die mense wat meer van blogs weet as ek, word dit gereeld deur ‘n aansienlike klompie mense gelees. Dit weet ek en daarvoor is ek opreg dankbaar. Ek hoop en vertrou ook dat dit vir sommige mense wat die blog besoek iets beteken, maar ek weet nie regtig nie. Wat ek vermoed is dat daar mense is wat wonderlike wenke sal kan byvoeg – dinge wat in hulle gesinne werk. Laat assebllief van julle hoor. Ek vermoed verder dat daar mense is wat behoefte het om oor iets anders te gesels as waaroor daar geskryf word.

Ek wonder juis of ons ‘n slag oor tieners moet gesels? Dan sou dit help as ouers hulle spesifieke behoeftes wil verwoord. Of is daar iemand wat wil gesels oor wedywering tussen broers en susters of oor depressie? Ek hoor juis vanoggend oor die radio dat daar ontstellende syfers aangehaal word oor hoeveel kinders depressief is.

Ek vermoed ook dat daar mense is wat verskil van die POSPAR benadering en ons sou ook graag van hulle wil hoor en met hulle gesels. Natuurlik is daar verskillende standpunte en elkeen het die reg om sy saak te stel.

Liewe lesers, help my asseblief. Ek het nie al die kennis in pag nie, maar dit sal werk as ons saam na antwoorde soek.

Alta Marais

ALTERNATIEWE VIR STRAF

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Gee ‘n ek-boodskap: Druk jou afkeuring op ‘n besliste manier uit en gee ‘n rede oor waarom jy so voel, maar sonder om die kind se persoonlikheid aan te tas:

Straf:  Ma: “Jy gaan soos ‘n mal ding te kere. Wag net tot jou pa vanaand by die huis kom dan sal jy sien wat gebeur,”

Alternatief: Ma (sy praat beheersd en ernstig): “Dit Maak my baie skaam en kwaad as jy so te kere gaan, want dit ontstel die ander mense wat inkopies doen en jy kan iemand seermaak. Jy kan my help as jy vir ons drie lekker lemoene uitsoek.”

Gee ‘n keuse.

Jannie hou aan om tussen die rakke rond te hardloop.

Straf: Ma: “As jy aanhou hardloop gee ek jou ‘n pak.”

Alternatief: “Mense hardloop nie in winkels rond nie. Jannie, jy het ‘n keuse: Jy loop saam met my of ek tel jou  in die waentjie. Jy kan self besluit wat jy gaan doen.”

Gaan oor tot aksie:

Jannie hou aan met hardloop.

Straf: Ma: gee vir Jannie ‘n stywe klap.

Alternatief: Ma tel Jannie in die trollie en sê met ‘n kalm maar besliste stem: “Ek sien jy het gekies om in die waentjie te sit.”

Laat die kind die gevolge van sy gedrag dra:

(‘n Week later) Ma: “Jannie, ek gaan winkel toe.

Jannie: “Ek wil saamgaan.”

Ma: “Nie vandag nie.”

Jannie: “Hoekom nie?”

Ma: “Hoe dink jy?”

Jannie: “Omdat ek in die winkel rondgehardloop het.”

Ma: “Reg geraai”.

Jannie: “Ek sal nie weer nie. Gee my nog ‘n kans.”

Ma: “Jy kan volgende keer weer probeer.”

Voorbeelde uit: “How to talk so kids will listen and listen so kids will talk”: Adele Faber and Elaine Mazlish

DAAR IS PRYS ÉN PRYS – DIE EEN MANIER IS BETER AS DIE ANDER

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Wat moet ons vermy? Dit is vir die kind ‘n verleentheid as sy persoonlikheid geprys word en woorde soos jy is wonderlik, ongelooflik, ‘n regte engel, so vrygewig of ‘n staatmaker gebruik word.

Lof moet eerder te make hê met sy pogings en met wat hy bereik. As hy sulke terugvoer kry, begin hy vanself goed voel oor sy homself.

Gertjie, sewe jaar oud het sy pa gehelp om ‘n klipmuurtjie in die tuin te pak. Hy het die klippe aangedra:

Pa: “Die klippe is nogal swaar.”

Gertjie (trots): “Ek kan hulle optel en dra.”

Pa: “‘n Mens moet nogal vasbyt om sulke swaar klippe te dra.”

Gertjie: “Ek kan. Ek is sterk!”

In kontras hiermee sou die kind nie dieselfde afleiding oor homself kon maak sy pa die volgende sou gesê het nie:

“Jy is my staatmaker”

“Jy is ongelooflik”

“Jy is wonderlik”

Die geheim? Beskryf op ‘n realistiese manier wat die kind reg gedoen het en vermy dit om sy persoonlikheid te prys.