POSITIEWE TERUGVOER KAN ONS KINDERS SE GEDRAG VERBETER

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Daar word beweer dat gemiddeld 80 tot 90% van die daaglikse kommunikasie van ouers met hulle kinders, negatief is: “Vee jou hare uit jou oë, moenie so snuif nie, hou dadelik op om jou klein sussie te terg” en so kan ons voortgaan. So probeer ouers om hulle kinders te leer om aanvaarbaar op te tree.

Ouers aanvaar aan die ander kant dat kinders veronderstel is om reg te doen en is geneig om nie erkenning te gee, aan te moedig of waardering uit te spreek vir die alledaagse dingetjies wat hulle reg doen nie.

Die volgende gesprek ten opsigte van Jannie, wat bekend is as die “stoutste” seuntjie in die familie, is tussen sy moeder en haar suster gehoor:  “Jy weet ek en die kinders het onlangs ‘n week by Lettie (hulle oudste suster) gekuier. In die tyd was Jannie nie een keer stout nie. Lettie het hom so geprys vir wat hy kan doen en soveel waardering teenoor hom uitgespreek dat hy homself net eenvoudig nie kon swak gedra nie.” Dit laat ‘n mens dink: Lettie het die wysheid gehad om waardering uit te spreek vir die dinge wat hy reg gedoen het, en het so daarin geslaag om sy gedrag ten goede te verander.

Daar is ook die mooi verhaal van die ma wat na ‘n kinderpartytjie om die eerste hoek stilgehou het en kommentaar gelewer het:: “Ek het julle dopgehou en is regtig trots op julle. Julle het nie teveel geëet nie, maar julle het die eetgoed geniet en dankie gesê daarvoor, julle was nie luidrugtig nie, maar het tog heerlik saamgespeel”, en so het sy voortgegaan. Natuurlik het die kinders goed gevoel oor hulself en sou hulle sekerlik by ‘n volgende geleentheid weer goed gedra. Dit is moontlik dat die moeder by geleentheid met die kinders gesels het oor wat aanvaarbare gedrag by partytjies is.

Verwoord ons waardering as Sannie haar bed opgemaak het, of lewer ons net kommentaar as sy dit nie gedoen het nie? Sal dit nie meer waarde hê as ons gereeld waardering uitspreek as sy dit gedoen het, selfs al was dit nie perfek nie? Sê ons vir tiener wat saam met maats uitgaan: “Ek weet dat ek jou kan vertrou”,of demonstreer ons dat ons bang is hy of sy doen verkeerd deur ‘n prekie te gee oor wat hy behoort te doen en nie behoort te doen nie?

Probeer gerus om die bewering wat aan die begin gemaak is, om te draai. Beklemtoon wat u kinders reg doen, bemoedig hulle en spreek vertroue in hulle uit (as ouers nie in hulle glo nie, wie sal?) sodat 80 – 90% van wat u sê positief is en net 10 – 20% negatief en kyk wat gebeur!

WEN-WEN DISSIPLINE

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Laat ons realisties wees: Konflik in gesinne is onvermydelik selfs in Jesus se gesin was konflik toe hy in die tempel agtergebly het. Konflik op sigself is nie noodwendig sleg nie.  Dit gaan eerder oor hoe die konflik hanteer word. Konflik kan lei tot groei of tot die vernietiging van verhoudings. Ons weet ook almal dat dit nie gesond is om konflik te onderdruk nie – bring dit eerder na die oppervlak en spreek dit aan.

Earl H. Gaulke noem sy kostelike boekie oor Christen ouerskap: “You Can Have a Family Where Everybody Wins”. Dit impliseer dat daar ook gesinne is waar almal nie wenners is nie.  Inteendeel! Daar is gesinne waar die ouers meesal as oorwinnaars uit die stryd (konflik) tree – dan is die ouers die wenners en die kinders die verloorders. Daar is ook gesinne waar die kinders meesal die oorwinnaars is – dan is die kinders die wenners en die ouers die verloorders.

Kom ons kyk na die drie moontlikhede:

Sannie:  Totsiens Mamma.  Ek gaan by Sannie speel.

Mamma: Dit is koud. Trek gou vir jou ‘n trui aan.

Sannie:  Ek wil nie ‘n trui aantrek nie.

Mamma:  Maar dit is koud.

Sannie:  Ek kry nie koud nie.

Mamma:  Natuurlik is dit koud.  Jy sal siek word as jy nie ‘n trui aantrek nie.

Sannie:  Ek haat dit om ‘n trui te dra.  Dit laat my sweet.

Mamma:  Jy verbeel jou.  Jy sal verkluim sonder ‘n trui.

Sannie:  Ek sal dit nie aantrek nie.  Ek HAAT dit!

Mamma:  Gaan dadelik terug en trek jou trui aan.  Ek sal nie toelaat dat jy op so ‘n koue dag sonder ‘n trui uitgaan nie.

Sannie:  ( tranerig) Maar ek hou nie daarvan nie.

Mamma:  Hou op met teëpraat of jy kry met my te make.

Sannie: Dan sal ek tog maar die simpel ding aantrek.

Hier het ons te make met ‘n wen-verloor oplossing – Mamma wen en Sannie verloor). Mamma kry haar sin maar Sannie is nie gelukkig nie en gee net in omdat Mamma dreig en sy het mag aan haar kant. Dit bevorder nie Mamma se verhouding met Sannie nie. Sannie voel veronreg en is nie gemotiveer om Mamma se opdrag uit te voer nie. Mamma sal moet polisieman speel om toe te sien dat sy nie die trui om die eerste draai uittrek nie. Sannie, aan die ander kant, leer nie selfdissipline nie.  Sy sal moontlik gehoorsaam wees omdat sy die gevolge van ongehoorsaamheid vrees

Die tweede Moontlikheid:

Sannie: Totsiens Mamma, ek gaan speel by  Annie.

Mamma: Dit is koud. Trek gou vir jou ‘n trui aan.

Sannie:  Ek wil nie ‘n trui aantrek nie.

Mamma:  Maar dit is koud.

Sannie:  Ek kry nie koud nie.

Mamma:  Natuurlik is dit koud.  Jy sal siek word as jy nie ‘n trui aantrek nie.

Sannie:  Ek haat dit om ‘n trui te dra.  Dit laat my sweet.

Mamma:  Dis nie so erg nie.  Jy sal verkluim sonder ‘n trui.

Sannie:  Ek sal dit nie aantrek nie.  Ek HAAT dit en ek haat  Mamma as Mamma so kerm.

Mamma: Ek gooi handdoek in. Jy kry nou jou sin en  ek was my hande in onskuld.

Hier is die konflik op ‘n toegeeflike, verloor – wen manier hanteer. Mamma het verloor en Sannie het gewen. As dit die patroon word is die moontlikheid dat Sannie in die gewoonte sal kom om impulsief op te tree, moeilik hanteerbaar sal raak, ongeskik sal wees en moontlik haar mag oor ander sal gebruik.  Sy sal dan gebruik maak van humeuruitbarstings (“tantrums”), sal ander “bully” en nukkerig wees.  Sulke kinders sal “ontvangers” wees eerder as “gewers”.  Hulle sal nie gewild wees by maats en onderwysers nie.  Die ouers aan die ander kant sal moontlik hulself jammer kry en ‘n “arme-ek” houding ontwikkel.

Gelukkig is daar ‘n derde moontlikheid:

Sannie: Totsiens Mamma, ek gaan speel by  Annie.

Mamma: Dit is koud. Trek gou vir jou ‘n trui aan.

Sannie:  Ek wil nie ‘n trui aantrek nie.

Mamma: Dit is regtig koud en ek is bekommerd dat jy ‘n verkoue sal kry en ons wil volgende week vir Ouma gaan kuier. (ek-boodskap)

Sannie:  Maar ek is nie lus om my trui aan te trek nie.

Mamma:  Verstaan ek jou reg?  Dit klink asof jy regtig nie jou trui wil aantrek nie. (Maak seker dat jy weet wat die kind voel en bedoel)

Sannie:  Ja, ek haat ‘n trui.

Mamma:  Jy sê jy haat ‘n trui. (eggo)

Sannie:  Ja. Truie laat my sweet en dan krap dit my.

Mamma:  Ek sien. Ons het nou regtig ‘n probleem.  Jy wil nie jou trui aantrek nie, want dit laat jou sweet en dan krap dit jou, maar ek is bekommerd dat jy sal siek word en dan kan ons nie vir Ouma gaan kuier nie.  Kom ons sit ons koppe bymekaar en kyk of ons ‘n oplossing kan kry wat vir beide van ons sal werk (Ouer som die situasie op)

Sannie:  Ek sal  Pietie se sweetpakbaadjie  leen.

Mamma:  Sal dit nie krap nie?

Sannie:  Nee, dit is van gladde materiaal gemaak.

Mamma:  Dink jy hy sal dit vir jou leen?

Sannie:  Ek sal hom vra. (Sy kom na ‘n rukkie terug met ‘n te groot sweetpakbaadjie aan.)  Hy sê ek kan dit kry as hy Sondag die helfte van my nagereg vir hom sal gee.

Mamma:  Is jy seker jy voel gerieflik in die baadjie?

Sannie:  Ja, dis O.K.

Mamma:  Nouja, ek is seker jy sal nie koud kry nie.  Lekker speel.

Hierdie wen-wen manier is ‘n beter manier om konflik op te los. Die ouer wen omdat die kind iets warm aantrek en Sannie wen omdat sy iets aantrek wat sy self kies. Hulle verhouding bly ook goed.

PLAAS EERS JOUSELF IN JOU KIND SE SKOENE EN GEE DAN ‘N EK-BOODSKAP

Written by Frederick on . Posted in Positiewe Ouerskap

Dit help meesal om dan ‘n nog duideliker ek-boodskap te gee, maar eers nadat jy met volle aandag na jou kind se kant van die saak geluister het (jouself in die kind se skoene geplaas het) en verwoord het wat jy hoor:

Ma: “Ek verstaan dat jy so verdiep was in jou boek dat jy dit nie wou neersit nie en dat jy van mening is dat ek vitterig is oor die kombuis. Miskien is jy reg en ons kan later daaroor gesels, maar ek raak gefrustreerd as ek die ete wil voorberei en sommige van die gereedskap wat ek nodig het is nog vuil.”

Die kind sal voel dat sy gehoor is, terwyl jy nie veroordelend was nie maar terselfdertyd nie  jou gevoelens onderdruk het nie. Op die manier kommunikeer jy jou behoeftes terwyl jy terselfdertyd jou kind se behoeftes en gevoelens in ag neem.

As jy ‘n ouer is wat boonop sorg dat jou kind genoeg kwaliteit tyd kry, sal hierdie benadering meesal werk.

Straf en Dissipline is dit dieselfde ding?

Written by Frederick on . Posted in Positiewe Ouerskap

STRAF EN DISSIPLINE: IS DIT DIESELFDE DING?
Beste Gaynor en al die ander besoekers aan die deelnemende ouerskap Blog,

Ek is só beïndruk met moderne ouers wat, soos Gaynor tereg sê, alles in hulle vermoë doen om hulle kennis te verbreed omdat hulle doeltreffende ouers wil wees. Vandag se ouers weet dat tye drasties verander het en dat hulle nie kan voortgaan om hulle voorgangers se “resep” te gebruik nie. Dit werk net nie meer nie. Die magdom van kennis waartoe kinders toegang het en hulle bewustheid van hulle eie regte ten opsigte van wat hulle dink en doen bemoeilik die ouer se saak. Ouers is lankal nie meer kinders se enigste bron van kennis nie.

Tog is dit my ervaring dat die meeste ouers, soos Gaynor ook, dikwels onseker is oor of hulle “reg” optree of nie. In haar geval wonder sy wanneer en hoe sy haar kinders moet straf. Eintlik moes ek voorheen reeds gesels het oor die verskille tussen dissipline en straf, maar ek onderbreek nou ons reeks en voeg dit hier in. Dankie Gaynor dat jy my daaraan herinner het.

Daar is beduidende verskille tussen straf en dissiplinering. Daar is ook ‘n ooreenkoms: In beide gevalle is die ouers se bedoeling om die kinders se gedrag te verbeter.  Ervaring leer egter dat ouers baie meer sukses behaal met dissiplinering as met straf. Dit is dus nodig om helderheid te verkry oor wat straf is en hoe dit van dissiplinering verskil:

  • Straf onderdruk swak gedrag, meesal tydelik. As ‘n kind byvoorbeeld ‘n appel steel en hy word gestraf (hy word geslaan of daar word op hom geskree of wat die straf ook al mag wees), sal hy  dit moontlik nie weer doen nie, omdat hy bang is vir die straf of hy sal vir homself sê dat hy volgende keer versigtiger moet wees sodat hy nie gevang word nie. Nie een van die gebeurlikhede leer die kind om verantwoordelikheid vir sy gedrag te aanvaar nie. Hy leer niks daaruit nie.
  • Seker die bekendste vorm van straf is lyfstraf en dit hou gevare in: Dit veroorsaak dikwels gevoelens van verontregting of gee aanleiding tot wraakgedagtes: “Wag net tot ek groot is dan wys ek julle”. Die grens tussen lyfstraf en mishandeling is ook baie fyn. As ‘n ouer kwaad is (beheer oor haar emosies verloor), is sy geneig om die grens te oorskrei en die verhouding met die kind kan moontlik skade ly. In die praktyk is die heel grootste probleem met straf dat die ouer nie soveel keer straf as wat hy dreig om dit te doen nie. Die kind waag dus kanse en gedrag verbeter nie.

Deelnemende ouers straf nooit hulle kinders nie – hulle dissiplineer hulle. Lees asseblief weer die vorige twee insette: “Dissipline is dikwels vir ouers ‘n kopseer” en “Deelnemende  ouerskap is nie vir die weekhartige ouers nie”. Die twee geskriffies is ‘n inleiding tot dissiplinering. Volgende keer meer daaroor.

DIE OUER HET OOK BEHOEFTE OM SY SÊ TE SÊ.

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Ons het gesien dat dit belangrik is dat ouers met volle aandag luister na wat kinders sê, dat kinders gereeld genoeg kwaliteit aandag kry en dat dit nodig is dat ouers hulself in hulle kinders se skoene plaas voordat hulle dissiplineer. ‘n Bekommerde ouer vra tereg: “Wat van my? Is dit billik dat ek altyd my kind in ag moet neem terwyl hy nie dieselfde aan my doen nie? Ek het ook behoefte om te sê hoe ek oor ‘n saak dink en voel en is van mening dat dit reg is om te verwag dat  my kind my ook  in ag sal neem.”

Natuurlik is ouers ook maar mense met behoeftes, gevoelens en probleme. Daar is tye wanneer ‘n kind se gedrag vir jou onaanvaarbaar is en jou irriteer of woedend maak:
Kobus luister na ‘n program op die televisie terwyl jy besig is om ‘n belangrike staat op te stel in die studeerkamer. Die volume is so hoog gestel dat jy nie kan konsentreer nie
Chris gebruik jou gereedskap om sy fiets te herstel en laat dit buite in die reën lê.
Anna het nie die skottelgoed gewas nie.

In bogenoemde gevalle behoort die probleem aan die ouer: Sy of haar behoeftes is nie bevredig nie en hy mag voel dat hy die “reg” het om die kind “by te kom”. Meesal reageer die beproefde ouer met iets soos die volgende:
“Skakel onmiddellik die televisie af.”
“Kan jy nie meer bedagsaam wees nie?”
“As jy nie nou die televisie afskakel nie, kom ek dit vir jou doen!”
“Hoe sou jy daarvan hou as ek dit aan jou doen wanneer jy met iets belangrik besig is?”

Hierdie is almal outokratiese response wat die kind afkraak – dit word ook “jy boodskappe” genoem. Die boodskappe het gewoonlik nie ‘n goeie nadraai nie. Dit gee gewoonlik aanleiding tot ‘n magstryd. “Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Ek kan nie die televisie verskuif nie, hoekom kan Ma nie op ‘n ander plek gaan sit nie.” Die kind beleef dat hy in sy ouer se oë nie goed genoeg is nie – dat daar ‘n fout met hom is en hy voel magteloos, skuldig en moontlik opstandig. Die ouer voel ook moedeloos en ontoereikend.
Dit sou ook nie help om na die ander uiterste te gaan en permissief op te tree nie: “Kobus, my liewe seun, jy is altyd so goeie kind. Pappa sal baie daarvan hou as jy die televisie se volume sal afdraai.”

Die effektiewe manier om die probleem te hanteer is om ‘n boodskap te gee wat direk maar nie veroordelend is nie: :
•    Sê eerlik hoe jy voel.
•    Beskryf die probleem.
•    Beskryf die gevolge wat die probleem inhou.

“Kobus, ek raak nou paniekerig, want ek moet hierdie staat voor vanmiddag afhandel en TV wat so hard praat trek my aandag af.”
“Chris, dit maak my woedend as die gereedskap in die reën lê, want dit roes.”
“Anna, as die skottelgoed nie gewas is nie, is ek teleurgesteld, want dit is onnet en nie higiënies  nie.”

Wanneer ‘n ouer ‘n “jy Boodskap” gee voel die kind gewoonlik jammer vir homself.
In teenstelling daarmee voel die kind jammer oor sy gedrag die ouer ‘n “ek boodskap” gee. Volgende keer gesels ons weer oor ek boodskappe,

STRAF EN DISSIPLINE: IS DIT DIESELFDE DING?

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

Tog is dit my ervaring dat die meeste ouers, soos Gaynor ook, dikwels onseker is oor of hulle “reg” optree of nie. In haar geval wonder sy wanneer en hoe sy haar kinders moet straf. Eintlik moes ek voorheen reeds gesels het oor die verskille tussen dissipline en straf, maar ek onderbreek nou ons reeks en voeg dit hier in. Dankie Gaynor dat jy my daaraan herinner het.

Daar is beduidende verskille tussen straf en dissiplinering. Daar is ook ‘n ooreenkoms: In beide gevalle is die ouers se bedoeling om die kinders se gedrag te verbeter.  Ervaring leer egter dat ouers baie meer sukses behaal met dissiplinering as met straf. Dit is dus nodig om helderheid te verkry oor wat straf is en hoe dit van dissiplinering verskil:

Straf onderdruk swak gedrag, meesal tydelik. As ‘n kind byvoorbeeld ‘n appel steel en hy word gestraf (hy word geslaan of daar word op hom geskree of wat die straf ook al mag wees), sal hy  dit moontlik nie weer doen nie, omdat hy bang is vir die straf of hy sal vir homself sê dat hy volgende keer versigtiger moet wees sodat hy nie gevang word nie. Nie een van die gebeurlikhede leer die kind om verantwoordelikheid vir sy gedrag te aanvaar nie. Hy leer niks daaruit nie.

Seker die bekendste vorm van straf is lyfstraf en dit hou gevare in: Dit veroorsaak dikwels gevoelens van verontregting of gee aanleiding tot wraakgedagtes: “Wag net tot ek groot is dan wys ek julle”. Die grens tussen lyfstraf en mishandeling is ook baie fyn. As ‘n ouer kwaad is (beheer oor haar emosies verloor), is sy geneig om die grens te oorskrei en die verhouding met die kind kan moontlik skade ly. In die praktyk is die heel grootste probleem met straf dat die ouer nie soveel keer straf as wat hy dreig om dit te doen nie. Die kind waag dus kanse en gedrag verbeter nie.

Deelnemende ouers straf nooit hulle kinders nie – hulle dissiplineer hulle. Lees asseblief weer die vorige twee insette: “Dissipline is dikwels vir ouers ‘n kopseer” en “Deelnemende  ouerskap is nie vir die weekhartige ouers nie”. Die twee geskriffies is ‘n inleiding tot dissiplinering. Volgende keer meer daaroor.

DEELNEMENDE OUERSKAP IS NIE VIR DIE WEEKHARTIGE OUERS NIE!

Written by webmeester on . Posted in Positiewe Ouerskap

As jy seker is dat jou kant “reg” is – dat jy ‘n verhouding met elkeen van jou kinders bou deur genoeg kwaliteit tyd saam met hulle deur te bring, met volle aandag  luister as hulle praat en  jouself in hulle skoene  plaas voordat jy reageer –  dan is jy gereed om te dissiplineer.

Begin deur kinders te help om te verstaan dat keuses wat hulle doen gevolge inhou. Voordat ‘n ouer dit kan doen, is dit nodig dat sy verstaan dat sy moet ophou om haar kind te beskerm teen die gevolge van sy optrede. Jannie, drie jaar oud, wil ‘n vol glas koeldrank hê en nie die halwe glas wat sy ma geskink het nie. Dit blyk dat hy nie alles kan behartig nie. Ma kan nou sê: “Sien, ek het geweet jy kan nie alles uitdrink nie. Nou mors jy dit.” Sy kan ook stilbly en die glas in die koelkas bêre. As Jannie later in die oggend ‘n koekie of ‘n piesang kom vra, haal sy die glas uit die koelkas en sê: “Jannie, jy het gevra vir ‘n vol glas en jy kan nie iets ander kry voordat jy dit uitgedrink het nie”. Sy gee nie maar ter wille van vrede die koekie as hy bitterlik begin huil nie.
Ma het ‘n ooreenkoms met Pieter en Elsa dat hulle alle los papiere uit die motor verwyder as hulle middae van die skool  af kom. Die oggend na die ooreenkoms gesluit is, is die motor egter alles behalwe skoongemaak. Ma kan sê: “Ek kan ook nooit op julle staat maak nie” en verwoed die motor begin skoonmaak. Sy het egter  stilgebly en voortgegaan met haar werk. Toe Pieter benoud skree: “Wat gaan aan? Ons gaan laat wees,” was Ma se respons: “Die motor is nie skoon nie.” Nog nooit vantevore het Pieter en Elsa die motor so gou skoongemaak nie. Toe hulle boonop ‘n paar minute laat by die skool aankom, was dit vir hulle bitter moeilik om in die saal in te stap terwyl die ander kinders reeds hulle plekke ingeneem het.

Die middag na skool het Pieter gevra dat sy ma  asseblief ‘n lysie moet maak van alles wat hulle voor skool moet doen. Hy het beslis iets waardevol geleer uit die ervaring. Hy het geleer dat ‘n tweede ding nie gaan gebeur voordat die eerste afgehandel is nie. Elke ouer kan sekerlik vele voorbeelde hierby voeg. Dink aan Andries wat nie die gras op die tyd, soos ooreengekom sny  nie en dan by sy vriend wil gaan swem of die tieners wat saam met hulle vriende tee en beskuit in die kombuis geniet het en vuil koppies en krummels  netso agtergelaat. Ma het toe ‘n tydskrif in die woonkamer gelees. Toe die honger tieners begin kos soek, het sy doodluiters gesê sy kan nie kos maak nie, want die kombuis is omgekrap. Om so op te tree kos moed.

Volgende keer gesels ons verder oor dissipline waaruit kinders iets leer.

Gedurende ‘n POSPAR kursus is daar voortdurende interaksie binne groepsverband wat uit die aard van die saak nie moontlik is as ‘n mens net ‘n inset lees nie.  Ek vertrou dat die wenke op die blog sal help , maar vind by Communitas uit wat die moontlikheid is om ‘n kursus op u tuisdorp te reël. Moederkerk op Stellenbosch bied vanaf 19 en 26 Februarie 2009  en 12,19, en 26 Maart (19:00 – 21.00) hul eerste kursus vir die jaar aan.