Tweede Gedagtes: Jer 31:31-34

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 29 Maart 2009

Om onder ‘n nuwe verbond te lewe

Die kerk is te realisties.  Die kerk kyk hom vas teen die realiteite van die dag.  Die armoede wat ons inhaal, die markte wat val, die politiek wat ons onseker maak, mense wat al hoe meer moet kompeteer vir werk.  Die kerk het nie raad hiervoor nie.  Want die kerk is te realisties, en hoop te min.

Dis hierdie gedagtes wat deur ‘n mens se kop gaan wanneer jy die aangrypende stuk in Jeremia 31:31-34 lees.  Dis ‘n stuk waarin God sê dat Hy ‘n nuwe verbond met “Israel” sal sluit.  Dis ‘n stuk van ruwe hoop en nuwe toekoms.

En beslis was dit ‘n tyd toe “Israel” min hoop kon gehad het.  Dit was net na die jaar 587 vC.  Jerusalem het na ‘n lang beleg geval.  Die tempel was in puin.  Die mense van die Suidryk is weggevoer na Babilon.  Nebukadneser het geseëvier. 
Dít was die realiteite:  daar was van ‘n toekoms vir “Israel” geen sprake nie.  Hulle was bannelinge in ‘n land ver van hulle verwoeste tempel.

En hier kom Jeremia, die doemprofeet, die klaagliedskrywer – en hy sê vir die mense God sluit ‘n nuwe verbond met hulle.  Die toekoms behoort aan God, en Hy gaan dit met hulle deel. 

En dis groot woorde hierdie.  Hierdie is die enigste plek in die hele Ou Testament waar die uitdrukking “nuwe verbond” voorkom.  En wat is hierdie nuwe verbond?  Wel, skynbaar sal almal weet wat dit is, want die een sal dit nie meer vir die ander hoef te leer nie (Jer 31:34). 

En die nuwe verbond het nog ‘n ander wonderlike kenmerk:  dit is nie soos die vorige wet wat op kliptafels geskryf is en by Sinai aan die Israeliete gegee is nie.  Dit is op die harte van mense en in hulle gedagtes geskryf.  Vers 33 sê treffend: “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.”

Ja, inderdaad is die nuwe verbond glad nie eers ‘n wet nie. Dis nie ‘n nuwe stel reëls waartoe ons verplig word nie.  Inteendeel, dis ‘n nuwe stel insigte en dade waartoe ons bevry word.

Ja, Jeremia was ‘n doemprofeet.  Maar die hoop wat hy verdoem het, was valse hoop.  Valse hoop op die tempel as ‘n gebou.  Hoop op die ekonomie.  Hoop op die militêre. Hoop op die politiek van die dag. Hoop op die mens se trots en eie krag. Hoop dat jy die toekoms vir jou kan vat solank jy net die wet letter vir letter nakom.

En nou was Jerusalem verwoes.  Die tempel.  Die volk.  Die trots.  En nou bring Jeremia ‘n nuwe boodskap:  God sal ‘n nuwe verbond met julle sluit.  Alles is verwoes, maar nie die toekoms nie.

En wat beteken hierdie nuwe verbond nou vir ons vandag?  Kan ons ook opgewonde daaroor word?  Beteken dit ook vir ons dat God nog lank nie klaar is met ons nie? 

Dis belangrik om juis hierdie tyd van die jaar hieroor na te dink.  Want dis Lydenstyd.  Vandag, die 29ste Maart, is dit die vyfde Sondag in Lydenstyd.  Dis ‘n tyd waarin ons spesifiek daaraan dink dat Jesus gely het sodat ons onder die nuwe verbond kan leef. 

Dis net voordat hy gekruisig is, dat Jesus saam met die apostels aan tafel was om die paasmaaltyd saam met hulle te eet voordat Hy ly.  En na die maaltyd het hy die beker geneem en gesê (Lukas 22:20:  “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”

Hierdie nuwe verbond is ons s’n.  God het dit op ons harte geskryf, en Jesus het dit met sy bloed beseël. 

En om onder hierdie verbond te lewe, beteken dat ons elkeen besluit om lid van ‘n nuwe gemeenskap te wees.  ‘n Geloofsgemeenskap.  ‘n Gemeenskap wat homself rondom God se wil skaar.  ‘n Gemeenskap wat volgens Jesus se waardes lewe.  Elkeen van ons het die wil van God in ons harte en gedagtes ingeskryf, en kan daarmee lewe as verlostes. 

En ons durf in die Lydenstyd dink hoe ons as verlostes lewe.  Ons is mense wat lewe in genade en nie in oordeel nie, in die lig en nie in die donkerte nie, in die vryheid wat hoop bring, en nie in die gebondenheid van mense wat nie van sonde kan loskom nie.  En wat is hierdie sonde waarvan ons moet loskom?  Dis maar nog dieselfde as in Jeremia se tyd.  Dis selfverheerliking, valse trots, disrespek teenoor ander, vrees om te faal – al die dinge wat die lewe hier op aarde hel maak.

Maar veral is sonde om nie te hoop nie.  Om nie die nuwe verbond gestand te doen nie.  Om ons weg te draai van die nuwe verbond wat God met ons gesluit en Jesus met ons verseël het.

En daarom kan ons onsself hier met Lydenstyd afvra of ons werklik lewe soos gelowiges wat nuut verbind is aan God se wil. 

Miskien is ons te realisties, te bang om hoopvol te lewe.  Dan is dit tyd dat ons vry word, en soos verlostes lewe – wat hoopvol betrokke is by ons eie toekoms, en ook by ander se lyding. 

John Bright was vir 35 jaar lank professor in Ou Testament aan die Union Theological Seminary in Richmond, Virginia, in die VSA.  Hy is in 1995 op 86jarige ouderdom oorlede.  Hy was ook ‘n predikant van die Presbiteriaanse kerk, en kon op meesterlike wyse die insigte van die Bybel in preke vertaal.  Hy het ook ‘n kommentaar op Jeremia vir die bekende Anchor kommentaarreeks geskryf.  En dis hy wat ‘n mens se oë oopmaak vir Jeremia, die profeet van hoop, waarna ons vandag gekyk het terwyl ons oor Jesus se lyding nadink.

Dis dan seker gepas dat ons met ‘n aanhaling van Bright afsluit.  Dit kom uit ‘n artikel wat hy in Interpretation (20.2:188-210) geskryf het, lank terug in 1966 al.  Ons moet onthou dat Bright self opgekommandeer was om in die Tweede Wêreldoorlog as kapelaan diens te doen.  Bright weet dus hoe lyk die gesig van menslike ellende, veral ellende wat deur oorlog en verwoesting veroorsaak word – soos dit ook die geval was met die val van Jerusalem.  In hierdie aanhaling waarmee ons afsluit, beskryf Bright die nuwe gemeenskap van gelowiges wat onder die nuwe verbond lewe, wat nie net uit die hoop lewe nie, maar ook die samelewing radikaal met sy Jesus-waardes verander:

And we know that if there is any hope for this world, it lies in the direction of some community of (hu)mankind under a just and universally recognized law.  But we also know that it must be some greater community than any we have ever known.  And we sense that Jeremiah is telling us of it.  Here is no community of mutual interests, mutual defense; here is no colonial power imposing its will by force on subject peoples.  Here is a new and revolutionary society of faith, willingly organized under the law of God.  And here, we sense, is the hope of the world: that God’s rule come to (wo)men; that (wo)men accept his grace and willingly live in obedience to his law; that self-deification and the worship of false gods and goals, pride and complacency, the fear and contempt of others – the sins that turn this world into a jungle – be blotted out, and that (wo)men “know God” in every dealing with the brother/sister.  That is indeed our hope: the creation of a new society of redeemed (wo)men.”

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Geen verdere Leesrooster Preekriglyne oor Jer 31 beskikbaar nie.

Tweede Gedagtes: Ps 107:1-3, 17-22

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 22 Maart 2009

“Uit Wanhoop tot Hoop, lewegewende Hoop”

Die outeur maak dit duidelik dat Ps 107 oor restourasie gaan – ek bedoel, die volk kry kans om op te staan, van hul sonde verlos te word en in alle opregtheid, God weer te gehoorsaam, Hom in waarheid en toewyding te dien – en dit, nadat hulle in sonde verval het, hulle rug op die Here gedraai het. Dié sondige situasie word helder en duidelik geskets as een van verdwaaldheid en verlorenheid (v4,9), van ellende (v5,10 – 12, 17), van duisternis en gevangenskap (v10), van verset en opstandigheid (v11,17) – en dat hulle na aan die dood was (v18,20), benadruk eintlik hul situasie van wanhoop, van geen uitkoms of bevryding of van herstel en genesing nie.

Dít was hulle lewenservaring, in elk geval tot op daardie oomblik waar iemand, enkeling of familie, invidu of groep, God begin opsoek het, hulle tot God, hul Redder en bevryder gewend het.  Dis toe dat dit gebeur, dat tekens van wanhoop vervaag, tekens van verweer en verval verdof, en tasbare, sigbare bakens van hoop, lewegewende hoop verrys het uit die doem-agtige verlede.

Die oomblik toe hulle tot God roep (v13a), het Hy hulle bevry, (v13b) het Hy hulle uit die donker, uit die diep duisternis laat uitkom (v14) – hul boeie word stukkend gebreek (v14d), en nog sterker, die koperdeure en ystergrendels word stukkend geslaan (v16). Ja, met een enkele woord, het Hy hulle gesond gemaak (v20a) en hulle dus aan die dood laat ontkom (v20b). Hoe wonderlik die trou van God, hoe ondeurgrondelik die wyse waarop God hoop bewerk, hoe omarmend en alles-oortreffend is die ingrype van God nie!

Die graad van God se trou, verlossing en hoop, oortref die graad van wanhoop. Die vernietigende situasie van eie sonde en walglikheid, word in verre oortref deur die Woord van genesing, redding en hoop wat God spreek. Die wat die dood verdien, word genees, die terminale een, die een wat niks anders sien en verwag as die dood nie, vind hoop en lewe. Ja, selfs vir die skuldbelaaide een, die skuld-draende een, is daar hoop, is daar uitkoms en bevryding. Ja, vir die verkragter (soos die reeksverkragter – Tsediso Letsoenya) en familie-uitwisser (Marius van der Westhuizen), is daar hoop en kan die Lig van verligting, genesing en aanneming, vir hulle opgaan.

Dis daarom te verstane dat die vreugde wat diesulkes wat deur die Here bevry en verlos is, so oorweldigend is, dat dit die hele Psalm deurspek – want waar wanhoop al vorm van lewe was, daar heers lewe en hoop nou, daar waar daar geen ander uitsig as donkerte en duisternis was, daar heers lig en die Lig nou; daar waar gevangenskap, siekte en dood was, daar bestaan hoop, lewegewende hoop – die hoop wat mense transformeer, die hoop wat tot diens beskikbaar stel, die hoop wat God se trou, verlossing en hoop vreugevol besing, juis omdat dit kan getuig van hoe wanhoop in hoop wat lewe gee, oorgegaan het. Van hoe terminale siekte en dood omskep word in lewe en diensbaarheid. Dit is wat God in en deur Jesus Christus kan doen.

Ek het iewers gelees van ‘n skrywer wat meen, ‘n mens kan baie lank sonder kos leef, maar nie een enkele sekonde sonder HOOP nie. K. Gallahan skryf en sê: Hope is stronger than memory …  Die politieke en ekonomiese klimaat, die tienermoorde, skoolgeweld, die groeiende dwelm- en drankmisbruik onder veral jongmense, die cliché van streng kinders en gehoorsame ouers, asook die Malema’s  van ons dag,  laat ons soms sonder hoop -soms is ons meer sonder hoop as wat ons hoop het.  Die morele verval (korrupsie, wangedrag, seksuele misdrywe, noem maar op) waarvan ons daagliks in die koerante lees, laat ons verlang na uitkoms en bevryding –  die groeiende werkloosheidsyfer (wat jou laat wonder of jy nie dalk volgende is nie) wek nie hoop nie, die feit dat mense (onder wie geliefdes) by die honderde hul huise en motors maandeliks verloor, laat die hoop dikwels verdof en vervaag.

Die outeur van Psalm 107 wil ons help besef dat daar in enige situasie van wanhoop, dwaasheid, siekte, verlorenheid, rebelsheid en of dood, hoop is – want Jesus Christus self is ons Hoop, Hy het hoop verpersoonlik en vergestalt en daarom as enigiemand, familie of groep, enkeling of geloofsgemeenskap, hul toevlug tot God neem, hul te midde van hul terminale toestand tot God roep, Hy inderdaad sonder verwyl, tot ons bevryding en redding sal kom. Dat Hy, ongeag die graad van ons wanhoop, dit in liefde en genade sewevoudig sal oortref, want Hy begeer niks anders as lewe, ewige lewe vir ons nie. Daarom die lydenstyd, daarom die krusiging en die opstanding, die hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, en ja die vooruitsig dat Hy terug gaan keer aarde toe.

Kyk ons rond, sal ons te midde van ons wanhopige situasie, tog tekens van hoop en restourasie sien, klanke van hoop hoor, en dade van hoop beleef, soos kinders (wit en swart) wat mekaar omhels, vriendskappe wat tussen volwassenes oor die kleurgrens gesmee word, gemeenskappe wat oor ouderdom en kleur saamwerk om die morele verval aan te spreek, vaders wat rehabilitasie verwelkom en hul samewerking gee, onderwysers wat meer as wat hulle pligstaat voorskryf, doen om uit te reik na kinders in probleemsituasies. Eens afvallige gelowiges wat weer die samesyn van geloofsgemeenskappe opsoek, ens.

Hoop, die ware Christelike hoop wat nie beskaam nie, die hoop wat lewe wek en inspireer, die hoop wat aksie word en ewigdurend bly, kan verrys uit enige doemsalige situasie, want die Een wat Hoop beliggaam, is Jesus Christus self – ons bevryder, redder, hoopwekkende-en-hoop-onderhoudende God. Daarom kan ons juig, kan ons dien, en betrokke raak, kan ons uitsien na die toekoms, en kan ons Sy lof en aanbidding, altyd en voortdurend, onder enige omstandigheid, besing. Roep tot Hom en Hy sal jou oorskadu, red en uitlei.

Donald Katts ( Volkskerk van Afrika)
Seisoen van Luister PowerPoint

Geen verdere preekriglyne oor Ps 107 in Preekriglyne Argief beskikbaar.

Tweede Gedagtes: Eks 20:1-17

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 15 Maart 2009

Ek sou oorweeg om, in die lig van Eksodus 20:1-7 en die preekstudie, ‘n lyn te volg wat sterker aansluit by die feit dat ons in die lydenstyd staan.  Eksodus 20:1-7 is ‘n oproep om die Here alleen as God te vertrou en te dien; om Hom te aanbid “deur die Gees en in waarheid” (Johannes 4:24) en nie soos ons Hom graag sou wou uitbeeld nie; en om sy Naam aan te roep in lof, aanbidding en voorbidding en dit nie te misbruik nie.  Dit gaan hier nie net om die eksklusiewe aanspraak dat die Here alleen God is nie, maar ook om die vrae: “Wie (of hoe) is hierdie Here werklik?” en “Hoe word hierdie Here aanbid en gedien?”

Ons moet insien dat die stryd oor hierdie tipe vrae in die geskiedenis nie alleen tot wonderlike nadenke gelei het nie, maar ook tot verskriklike ellende.  Dit is immers nie vrae waaroor mense rustig kan verskil nie – behalwe as die antwoorde vir hulle eintlike relatief onbelangrik is.  Die “godsdienstige toleransie” waarop die moderne mense hulleself beroem, het weinig te maak met egte liefde vir mense wat anders dink oor God; dit het meestal veel meer daarmee te make dat denke oor God skadeloos en irrelevant geword het vir die meeste mense.  Watter God jy dien, hoe jy oor daardie God dink, hoe jy God aanbid – dit alles het volgens die dominante denkwyse van moderniteit ‘n kwessie van blote opinie en keuse geword. 

Slegs een moontlikheid word nie verdra nie, in elk geval nie in die moderne Weste nie – en dit is dat mense hulle geloof in God, siening van God en aanbidding van God só ernstig opneem dat hulle bereid sou wees om tot die dood toe te stry daarvoor.  Westerse liberalisme is merkwaardig intolerant teenoor mense wat die vraag na God werklik weer in die brandende middelpunt van die lewe stel.  Daarom kyk ons met onbegrip na alles wat as “fundamentalisme” bestempel word (‘n begrip wat dikwels slordig gebruik word om enige iemand wat geloof werklik ernstig opneem, te beskryf) en met afgryse na veral “Islamitiese fundamentalisme” wat selfs bereid is om terreur aan te gryp in die naam van godsdiens.

Westerse moderniteit se klem op toleransie is self ‘n reaksie op ‘n besondere vorm van intoleransie: die absolute aansprake wat die Middeleeuse kerk op die waarheid oor God gemaak het, met die teenaansprake wat in die Reformasie gemaak is in die naam van die evangelie – en die verskriklike vervolginge, oorloë en vernietiging wat daaruit voortgevloei het.  Die Verligting kan ten minste ten dele verstaan word as ‘n reaksie wat gebore is uit mense se afgryse oor godsdienstige geweldpleging.  Die probleem lê by die oplossing: om die lewensvrae waartoe die eerste deel van die dekaloog ons dring, te marginaliseer en skadeloos te maak.

Die vraag is: is daar ‘n ander weg?  Moet ons kies tussen die intoleransie – en dikwels geweld – van mense vir wie die lewensvraag na die een ware God van brandende belang is, en die toleransie van mense vir wie die vraag hoogstens van sekondêre belang is?  Anders gestel: moet ons kies tussen ‘n fundamentalistiese intoleransie en liberale toleransie – is dit die enigste twee moontlikhede wat vir die kerk oop is? 

Na my oordeel is dit juis waar die lydensverhale vir ons ‘n uitdagende, maar terselfdertyd bitter moeilike perspektief oopmaak.  Christus word eintlik twee keer veroordeel.  Die eerste keer word Hy skuldig bevind deur godsdiensleiers op die godsdienstige klag van godslastering.  Sy optrede en sy aansprake het hulle siening van die een ware God so bevraagteken dat hulle ter wille van hulle eie legitimiteit van Hom ontslae moes raak.  Dit is opvallend dat Westerse vertolkers, veral dié wat diep beïnvloed is deur moderniteit, dikwels wil ontken dat die godsdiensleiers Jesus hieroor ter dood sou veroordeel.  Is dit dalk omdat ons by voorbaat besluit dat die Godsvraag nie belangrik genoeg is om ‘n rol in Jesus se lyding te speel nie?  Ek dink dat dit juis vrugbaar sou wees om te sê: Jesus ly juis onder ons godsdienstige ongenaakbaarheid. 

Die ander vraag wat hier altyd na vore kom (soos in die debat enkele jare terug oor Mel Gibson se The Passion) is of die klem op die godsdiensleiers se veroordeling van Jesus ons nie onvermydelik tot anti-semitisme verlei nie.  Dit is beslis so dat die kerk in hierdie opsig gesondig het.  Maar ek sou, saam met die Katolieke teoloog Gregory Baum, wou argumenteer dat die kerk homself daarmee juis aan projeksie skuldig gemaak het: ons het die skade wat ons self deur godsdienstige intoleransie aanrig, op die Joodse leiers geprojekteer en hulle daardeur gedemoniseer.  Hoe dikwels tree die kerk self nie soos die Joodse Raad op nie!  Vanuit moderniteit word dikwels met reg gesê dat hierdie soort gewelddadige intoleransie dikwels juis voorkom by monoteïstiese godsdienste.  Jy sou dus met reg kon sê dat Eksodus 20:1-7 in die hande van onverdraagsame mense ‘n bloedspoor gelaat het deur die geskiedenis.

Beteken dit dan dat toleransie (en onverskilligheid oor Eksodus 20 se aansprake op ons) ons enigste ander alternatief is?  Volgens die lydensverhaal is Jesus ‘n tweede keer veroordeel – hierdie keer deur Pilatus, ‘n politeïs wat homself beslis nie gesteur het aan die Tien Gebooie nie!  Vir Pilatus is die Joodse beheptheid met die vraag na God en godslastering totaal irrelevant.  Hy is pragmaties: die vraag vir hom is of Jesus ‘n bedreiging inhou vir die Romeinse oorheersing (en die antwoord daarop, reken hy vanuit sy perspektief, is nee); of dit beter is om die mense hulle sin te gee ter wille van die orde (die antwoord daarop is ja) en of ‘n keuse om Jesus onskuldig te vind sy verhouding met die keiser en sy loopbaan sou kon benadeel (waarop die antwoord weer ja is).  Die punt is beslis nie dat Pilatus ‘n “liberalis” was nie, maar dat die pragmatiese denke en onverskilligheid teenoor die Godsvraag ook ‘n rol gespeel het in Jesus se veroordeling.  Dit is dus blykbaar nie so dat die marginalisering van die Godsvraag en die voorkeur vir pragmatisme noodwendig tot geregtigheid lei nie – iets waarvan die gewelddadige geskiedenis van die moderne Weste meer as genoeg getuienis bied.

Die kerk het ‘n ander roeping: om Jesus na te volg in die oortuiging dat Hy die waarheid is, en dat ons in Hom die een ware God leer ken, aanbid en dien.  Jesus is beslis nie, volgens die lydensverhaal, onverskillig oor die vraag na God nie.  Hy praat die waarheid, leef die waarheid, is die waarheid van God.  Vir hierdie waarheid verduur Hy verwerping, vernedering, veroordeling en dood.  Jesus “verdra” nie godsdiensleiers se siening van die waarheid nie en Hy “verdra” ook nie Pilatus se onverskilligheid oor die vraag: “Wat is waarheid?” nie (Johannes 18:38).  Hy opponeer dit tot die dood toe.  Maar die punt is: Jesus opponeer dit nie met sy eie gewelddadige intoleransie nie.  Hy begaan nie gewelddadige intoleransie nie, Hy ondergaan dit (wat die betekenis is van sy passio).  Hy deurkruis dit met sy gebed: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  (Lukas 23:34)  Hy seën hulle wat Hom vervloek en vervolg en vermoor – en juis só is Hy die waarheid oor God!

Ons vervul dus die eise van die dekaloog – om die Here alleen as God te dien, om Hom in Gees en in waarheid te aanbid, om sy Naam aan te roep – nie deur intoleransie of deur toleransie nie, maar deur ons kruise op te neem en Jesus na te volg; nie deur te vervolg of te ignoreer nie, maar deur te bid vir hulle wat ons vervolg (en vir hulle wat ons ignoreer …).  Die vraag is of die kerk hierdie waarheid al ooit regtig geleef het! 

Andries Cilliers

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere Preekriglyne_1 en Preekriglyne _2

Tweede Gedagtes: Rom 4:13-25

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 8 Maart 2009

1.  Rom 4 is nie die maklikste gedeelte om oor te preek nie. Dit vorm `n onderdeel van `n langer argument wat Paulus in die Romeine-brief voer en nie almal stem saam oor presies  hoe dit inpas in die geheelargument nie.  Verder is daar uitleggers wat meen dat die problematiek wat agter Rom 4 (en eintlik die hele eerste deel van Romeine) lê, `n eiesoortige Joodse vraagstelling was wat dalk nie so relevant is vir vandag se mense nie.
Al sou dit waar wees (wat die meeste van ons nie glo nie), maak dit nog nie Rom 4 onbelangrik nie.  Wel ingewikkelder om oor te preek.

2.  Die gebruik van die gedeelte vir Lydenstyd is ook nie so vanselfsprekend nie. Op`n manier kom die opstanding as sentrale tema baie sterker deur as die lyding en die kruis. Die keuse vir lydenstyd is gegrond op vs 25 waarin daar `n direkte verwysing na die lyding is.  Die hele tema van vryspraak en regverdiging (wat sentraal staan in die perikoop) is natuurlik ook gekoppel aan die lyding en kruis van Christus – hoewel die konneksie nie so direk in Rom 4 gemaak word nie.
 
3.  Floors Meyer het baie moeite gedoen met sy preekstudie en gee heelwat stof tot nadenke.  In sy preekvoorstelle benader hy die gedeelte uit die hoek van die vraag na vryspraak – `n goeie invalshoek. Beide sy voorstelle vir die prediking bied goeie moontlikhede en is heel bruikbaar. 

Ek het gehou van Floors se klem dat die vryspraak en sondevergiffenis nie die einde van die geloofstorie is nie, maar op `n manier die begin.  Die “vonnis” wat ons kry op grond van Christus se sterwe en opstanding is om `n nuwe lewe te lei vanuit die genade wat ons in Christus ontvang het.  Ek dink die konneksie tussen vergiffenis en `n lewe uit vergiffenis is baie belangrik – ook uit die konteks van Rom 4.  Die verwysing na Abraham in die gedeelte het nie gegaan oor net `n enkele geloofsdaad waaruit hy vryspraak ontvang het nie, maar oor `n totale lewe van vertroue op God se liefde en genade. 

Die klem wil ons vrywaar van `n goedkoop verstaan van geloof – Jesus het aan die kruis klaar vir al ons sondes betaal.  Ons kan dit nou net neem en hoef niks voor (of na die tyd!) te doen nie.

4.  Ek het jare gelede `n preekstudie oor die gedeelte geskryf vir Woord teen die Lig 1/5.  Die bundel het gehandel oor Doopprediking en hoewel ek meer preekmoontlikhede bespreek en suggereer, het die twee preekriglyne wat ek daar gee, beide gefokus op die doop (nav die terme teken en seël. in vs 11).

By `n herlees van die stuk, het ek gedink dat `n derde moontlikheid (dit is nou naas Floors se twee) sou wees om die preek in te rig rondom die tema van geloof.  Die hele hoofstuk is `n argument om te “bewys” dat Abraham geregverdig en vrygespreek is, nie deur wetswerke of op grond van sy besnydenis nie, maar omdat hy geglo het.

Nadat `n mens in die inleiding iets gesê het oor die tema (soos in die vorige paragraaf geformuleer), en oor die sentrale plek van geloof in die Bybel, sou `n mens drie punte kon maak ter verduideliking van hoe Rom 4 oor geloof praat.

  • In die eerste punt sou aan die hand van vs 1-8 (`n moralisering van geloof) en 9-12 (`n sakramentalisering van geloof) eers verduidelik kon word wat geloof nié is nie. Paulus verduidelik in die twee perikope dat Abraham nie deur God vrygespreek is omdat hy goeie werke gedoen het, `n goeie mense was (vs 1-8) of omdat hy besny is nie (vs 9-12).  Hoewel dit sekerlik so is dat die Christelike geloof `n morele en `n sakramentele (of rituele) kant het, en dat dié aspekte selfs belangrik is, kan ons nie geloof daartoe reduseer nie. `n Mens sou kon uitbrei daarop en met eietydse voorbeelde verduidelik hoe dit vandag nog gebeur.  Ek het geen twyfel dat die meeste Westerlinge, selfs dalk die meeste kerklidmate, geloof eintlik moreel verstaan nie.  Daar is verder ook vandag nog `n groep mense (en kerke) wat baie klem lê op die rituele en/of sakramentele kant van geloof.  Hoe gevaarlik en (steeds) aktueel die twee misverstande is, sien `n mens daarin dat daar `n sosiologiese teorie oor godsdiensontwikkeling is wat sê dat godsdiens in primitiewe gemeenskappe gewoonlik ritualisties verstaan word, en in meer ontwikkelde gemeenskappe moreel verstaan word.
  • In die tweede punt sou `n mens dan by `n positiewe verduideliking van geloof kon kom. Ek gaan hier vier kleiner punte probeer maak: 
    ~   Geloof gaan oor God.  `n Mens sou daarop kon wys dat geloof te doen het met hoe ons dink oor God en oor sy Woord en beloftes.  Geloof gaan nie in die eerste plek oor morele reëls of oor korrekte rituele nie, maar oor God en hoe ons Hom verstaan en met Hom leef.
    ~  Abraham het vryspraak van God ontvang en is regverdig verklaar omdat Hy in God geglo het en sy Woord en beloftes vertrou het. Dit is die kritieke saak in ons lewe hier op aarde – dat ons op `n punt moet besluit wat ons dink en sê van God en sy beloftes.  Jy kan dit glo en daarop vertrou – of nie …
    ~  Ons kan in Gen 12-25 die verhale gaan lees van hoe die Here na Abraham gekom het en Hom aan Abraham geopenbaar het, wat die basis gevorm het van Abraham se geloof en vertroue in God. Ons as NT gelowiges se verhale sal anders lyk.  Ons het egter een voordeel bo Abraham en dit is dat ons ook die verhaal van Christus ken.  NT kerkmense se geloof sal veral gebou wees op wat hulle van God gesien het in Jesus Christus se geskiedenis – veral in sy kruis en opstanding. Die kruis vertel vir ons die verhaal van God se vergewende en verterende liefde vir ons, en die opstanding sê vir ons dat die Here ook die krag en vermoë het om alles te doen wat Hy sê en beloof het. In die NT gaan geloof uiteindelik oor die vraag of ons in die kruis en die opstanding van Christus glo of nie. 
    ~  As ons oë het daarvoor, sal ons ook in die lewe rondom ons (en in ons eie lewe) soms bevestiging vind vir dit wat ons in die kruis en opstanding van Christus oor God gesien het.   Baie van ons kan uit ons eie lewensverhale vertel en getuienisse lewer oor die Here se liefde en sy krag.
  •  In `n derde punt kan hierdie laaste perspektief verder geneem word aan die hand van die interessante vertalingsprobleem in vs 19 (sien my stuk oor Rom 4, WtL 1/5, p 129)! Dit gaan oor `n moontlike “nie” in die tweede deel van die sin waaroor daar meningsverskil is.  Die 1933-vertaling het die “nie” gehandhaaf: “Sonder om te verswak in die geloof het Hy … nie gelet op sy eie liggaam wat al reeds verstorwe was nie”.  Die 1979-vertaling laat die “nie” weg en lees: “Sy geloof het nie verswak nie, al het hy terdeë besef dat sy liggaam reeds gedaan was”.  Die betekenisverskil is redelik groot!  As die “nie” behou word (soos in die 1933-vertaling) is geloof letterlik `n saak van blinde vertroue.  As die positiewe lesing verkies word (soos wat die meeste resente kommentare verkies) dan word die werklikheidsin en werklikheidsbesef van die geloof beklemtoon!  Dis nie dat Abraham nie geweet het en nie wou kyk nie; Hy het geweet van alles, maar God tog geglo! Nygren verduidelik die verskil baie mooi: …

“Many have thought that it is characteristic of faith that it turns away from the actual, that it closes its eyes to sensible, tangible reality and soars another world … But Paul says quite the opposite. For him faith does not mean to close one’s eyes to the facts. Faith has no kinship with optimistic self-deception or with the easy idea that things always come through in one way or another. Abraham saw the situation as it really was, including that which seemed to make Gods promise absurd. But, Paul says, ‘He did not weaken in faith’ (19); ‘He grew strong in faith’, the next verse adds.”

Coenie Burger

Seisoen van Luister PowerPoint

Verdere Preekriglyne

Tweede Gedagtes: Markus 1:9-15

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Die koninkryk van God het naby gekom. Ons kan baie meer doen om ons lidmate te wys op konkrete tekens van die koninkryk wat naby gekom het.

Ds Stefan Louw is in September 2006 in sy huis in Johannesburg vermoor en die rowers is met net sy selfoon weg. Stefan was ‘n filmkenner en het graag van sy eie uitstekende filmanalises gebruik gemaak om sy preke te aktualiseer.

In April van daardie jaar maak hy ‘n preek waarin hy na aanleiding van twee films, Billy the Butcher en The gangs of New York, inligting benut om iets te laat blyk van die koninkryk van God wat naby gekom het. Ek gee dit hier weer met my eie gedagtes en aanpassings om dit meer toeganklik vir ons eie teks en tema te maak (amper soos die storie van die pyle wat eers teen die boom geskiet word waarna die teiken om die pyle geverf word!)

Verlede jaar se Oscar genomineerde film, The gangs of New York laat jou hierdie waarheid weer besef. Die film gaan oor die jong seun Amsterdam, wat as kind op die strate van New York groot word in die middel van die 19de eeu. Dis ‘n jong New York in sy geboortepyne. Die strate word effektief beheer deur bendes. Op jong ouerdom word sy pa, ‘n groot bendeleier, deur die berugte gangster Billy the Butcher voor sy oë vermoor. Tien jaar later is hy terug op die strate as ‘n jong man met een doel voor oë, om sy pa se dood te wreek. Deur ‘n vreemde sameloop van omstandighede word hy egter onder Billy the Butcher se vlerk geneem, wat hom nie herken nie, en so ontwikkel daar ‘n vreemde tipe vader-seun verhouding tussen hulle. Amsterdam bevind hom skielik in ‘n tipe liefde-haat verhouding. Aan die een kant het hy op ‘n vreemde manier sy pa teruggevind, aan die ander kant leef hy nou saam met sy pa se moordenaar. Sy innerlike stryd word geweldig. Hoe gaan hierdie liefde-haat verhouding uitdraai? In liefde, of in haat? In vergelding, of in vergifnis?

‘n Treffende oomblik in die film is waar Billy the Butcher vir Amsterdam wys hoe om met ‘n mes ‘n doodsteek toe te dien. Hy doen dit met ‘n demonstrasie op die karkas van ‘n afgeslagte vark. Die mes word dan vir Amsterdam gegee. Hy voer die steke perfek uit op die karkas en staan brandend van binne met die mes in die hand terwyl die niksvermoedende Billy hom lof toeswaai oor sy vernuftigheid. Tog weerhou hy homself van weerwraak. Later red hy selfs Billy se lewe toe ‘n sluipmoordenaar hom probeer skiet.

Die film se ontknoping gee ‘n antwoord op ons vraagstuk. Amsterdam kies die pad van vergelding. Hy bring sy pa se bende weer op die been. Aan die einde van die film lê hulle na hewige gevegte in mekaar se arms, Amsterdam en Billy the Butcher. Billy sterwend aan ‘n skrapnel wond. Daar’s geen verskil tussen hulle nie – Amsterdam en Billy the Butcher. Amsterdam dien hom die finale doodsteek toe.

Dit was makliker om dood te maak. Dis makliker om te vernietig, om af te breek, om met mag te beheer, om met vrees te regeer as om lief te hê. Liefde is baie moeliker. Wanneer die koninkryk van God naby kom, kom Jesus naby. En wanneer Jesus naby kom, kom onvoorwaardelike, selflose en selfopofferende liefde naby.

Die weg van die wêreld was nog altyd die maklike weg. Daarvan loop die geskiedenisboeke oor. Om jou te beskerm teen die monster word jy die groter monster. As iemand jou met ‘n klip gooi dan staan jy terug met ‘n ystervuis. Ons het dit onlangs weer helder sien afspeel in Amerika na 11 September. Om te vergewe, om jou vyande lief te hê – min sien daarvoor kans. Want dit sny teen ons grein in. Geweld vra vir geweld, vir weerwraak. Haat roep haat, bloed roep bloed. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Palestina en Israel, Amerika en Irak.

Maar ook nader aan ons. Dit kom natuurlik vir ons om dié lief te hê wie ons liefhet en te haat die wie ons te na kom. Ek onthou die dag toe hulle by my en Brenda se woonstel ingebreek het. Hoe ek die diewe in my gedagtes nie verwens nie!

Maar dis ‘n natuurlike reaksie. Hoekom kom dit so natuurlik dat ons makliker vergeld en moeiliker vergewe? Die Bybel wys dat die eintlike probleem ‘n diepgewortelde selfliefde is, ‘n ingebuigdheid op onsself. In die Griekse mite kyk Narsis in ‘n diep poel en raak verlief op sy eie weerkaatsing. Dis die probleem, sê die Bybel. Ons word ook gehipnotiseer deur hierdie poel. Ons raak te maklik gefikseerd met onsself, met ons eie begeertes. Dit kom vir ons natuurlik om die hele wêreld teen die agtergrond van ons eie belange te sien.

In ons teksgedeelte roep Jesus op tot bekering. Hy is beide die doel maar ook die inhoud van die koninkryk wat naby gekom het. Jesus se lewe is die koninkryk in aksie! Hierdie weg is die weg van die kruis. Vir ons wat weet wat hierdie koninkrykslewe van Jesus sou meebring, hang die kruis se skadu swaar oor hierdie gedeelte.

En dan sê Jesus vir hulle: Bekeer julle en glo die evangelie: Julle moet my volg. Daar waar ek is daar moet julle ook gaan. Die teksgedeelte is radikaal, want dit daag ons uit om die gewone gang van die wêreld teë te gaan. Dit daag ons uit om weer ons motiewe te ondersoek. Leef ons net vir onsself, of leef ons ook vir ander? Hoekom werk ek so hard? Vir wie werk ek? Watter ambisies dryf my? Wie kom ek te na? Hoe selfsugtig my motiewe? Waar pas God in my lewensstyl? Lyk ek nie maar net soos die res van die wêreld nie? Die gedeelte wil ons ook uit ons selftevredenheid uit ruk. Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit, sê Jesus hier, wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my lief het nie, sal dit vir die ewige lewe behou.

Om vir Christus te volg is nie sommer vir almal nie. Dis nie ‘n populêre tipe voel-goed-oor-jouself godsdiens nie. Dis nie ‘n I’m OK, you’re OK dingetjie nie. Dis nie ‘n resep vir sukses- en welvaart nie. Dit bied geen kitsoplossings nie. Dis die moeilike weg. Dit daag ons uit om meer as net mensekinders te wees, om meer te doen as wat mense maar doen. Dit daag ons uit om kinders van God te wees.

Die koninkryk kom naby wanneer ons in liefde kan gee, ons in liefde kan ontvang, dat om geweld met geweld te antwoord meer geweld kweek, maar om te vergewe die siklus van geweld deurbreek.

Die evangelie werk, gemeente, maar dis ‘n moeilike pad. Dis die boodskap van die kruis. Dis hoekom die kruis ons altyd weer dring tot selfondersoek, tot nuwe toewyding aan God.

Maar hier is die goeie nuus, gemeente. Daar is ‘n ligtheid in die swaarheid. Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is, sê Jesus. Neem my juk op julle en leer van my, want my juk is sag en my las is lig. Om kinders van God te word, is daad van God. Dis God wat ons na Hom toe roep, dis God wat ons aanneem, dis God wat ons gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. Die beste plek waar jy kan wees is juis daar waar jy ontdek hoe swak jy as mens is, hoe gebroke en onvolkome jy is. In hierdie oomblikke van eerlikheid, van sterf aan jouself, kan God oorneem om jou lewe te vernuwe.

Ek wil afsluit met ‘n tweede film wat saam met The gangs of New York uitgekom het met die naam Behind the sun. Dis die verhaal van twee families wat in ‘n jarelange vete gewikkel is om grond. Vir geslagte lank duur hierdie vete al voort. Iemand van die een familie word deur die ander geskiet, en dan moet die ander familie weer hierdie dood wreek. En so duur hierdie siklus van weerwraak eindeloos voort. Die verhaal gaan oor ‘n klein seuntjie – sy naam is net “the kid”. Die ouer een van sy twee broers word onder hom doodgeskiet toe dié hom deur die veld op sy nek gedra het. Die seuntjie se ander broer word dan deur hul onverbiddelike vader gedwing om hierdie dood te wreek, wat hy dan ook uiteindelik doen.

Die reël onder die families is dat daar na ‘n vergeldingsaanval een maansiklus lank vrede is tussen hulle. Dan kan die vergelding weer begin. Nadat “the kid” se oorblywende broer die seun in die ander familie geskiet het, gaan hierdie broer om te bid vir die gestorwene se siel by die begrafnis. Daar vra hy vir die ander Vader vir ‘n finale vrede tussen die families.

Die blinde ou man se woorde is treffend. Het jy al ooit ‘n vrou liefgehad? vra die vader hom. Nee, antwoord hy. Jy sal nooit nie, sê die ou man vir hom. Luister na daardie horlosie, sê hy. Elke slag sê “een meer”, “een meer”, “een meer”. Vir jou sê dit egter “een minder”, “een minder”, “een minder”. Dan sit die Vader vir hom ‘n swart band om sy arm as teken dat hy ‘n gemerkte man is, dat daar ‘n doodsvonnis oor sy kop hang.

The kid se broer gaan terug om sy laaste dertig dae uit te leef. Maar die verhaal gee tekens dat dinge die slag anders is. Daar kom ‘n jong sigeunervrou in sy lewe en hy raak verlief op haar. Die reën waarop almal wag, maar die hele tyd wegbly, begin val die aand voor sy grasietyd om is. Daardie aand bevestig hy sy liefde vir die sigeunervrou. Die oggend word hy in haar arms wakker met ‘n knal van ‘n skoot. Hy vind dat die swart armband om sy arm af is en dat sy hoed weg is.

Die storie eindig met “the kid” wat vertel hoe hy met sy broer se hoed en swart armband deur die bosse loop waar die jonger broer van die ander familie vir hom wag. In die reën en skemering word hy vir sy ouer broer aangesien en so sterf “the kid”. Hy gee sy lewe op in die plek van sy broer. Hy sterf sodat sy ouer broer kan lewe. Die siklus van vergelding word deurbreek. The kid se broer verlaat die familie en loop agter sy nuwe liefde aan om ‘n nuwe lewe te begin. ‘n Nuwe lewe wat baie duur gekoop is.

Die verhaal is die evangelie in ‘n neutedop. Dis wat die kruis vanoggend vir ons wil sê. Die pad van nuwe lewe is ‘n moeilike pad en dit is duur gekoop. Christus het gesterf sodat ons kan lewe. Kom ons volg ook hierdie weg van selflose liefde na.

 

 

André Agenbag

 

 

Seisoen van Luister PowerPoint

 

 

Tweede gedagtes – Markus 9:2-9

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Sondag 22 Februarie 2009

1. Ons is regtig gelukkig dat Marius Maree vir ons `n baie goeie stuk oor hierdie perikoop gegee het. Sy eksegetiese oorsig dek die wesenlike punte en sy preeklyn is baie bruikbaar en beslis verantwoord. Saam met Dirkie Smit se studie in Woord teen die Lig 1,8, kan predikers ver kom met hierdie materiaal.

2. Die belangrikste verkondigingsmotiewe van die perikoop is redelik voor die handliggend:

  • Die binnekring van dissipels kry die ongelooflike geleentheid om Jesus te sien vir wie Hy werklik is: in sy heerlikheid, in die geselskap van Moses en Elia. Jesus het dit meermale vir hulle gesê, maar hier sien hulle dit nou: Hy is die Heer! Alles wat Hy gesê het Hy is, en meer.
  • Die heerlikheid en grootheid van Jesus word verder bevestig deur die stem uit die hemel wat sê: “Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.”  Ek meen dat hierdie stelling en opdrag vanuit die hemel `n uiters belangrik rol in die perikoop speel en die hart van die boodskap van die gedeelte opsom.  Jesus is die Heer; en daarom moet en kan ons na Hom luister – sonder vrees of huiwering. Wat my betref sou hierdie twee punte die sentrale punte van `n preek oor die gedeelte kon wees (soos wat inderdaad die geval is in Marius se preekvoorstel).
  • Ewe belangrik is dat die evangelis ons waarsku dat die soort ervaring wat hier vir Petrus en die ander gegun word, verkeerd verstaan kan word.  Vir Petrus is die ervaring self so wonderlik dat Hy op die berg wil bly en aanbied om hutte te bou vir al die belangrikes.  Hy sien nie die verband tussen die openbaring wat hulle ontvang en egte dissipelskap nie. In die Bybel het openbarings en ander Godservarings selde `n waarde in sigself – dit word gegee met die oog op sterker geloof en beter gehoorsaamheid in die werklikheid van die lewe.
  • Dié deel van die verhaal illustreer die dissipels se stiksiendheid en hulle traagheid om te verstaan.  Dit wys ook dat hulle – soos ander mense – heerlikheid en glorie verkies bo diensbaarheid en lyding.  Dit is betekenisvol dat Petrus hierdie opgewonde woorde uiter enkele dae nadat Hy Jesus uitdruklik oor sy komende lyding hoor praat het.
  • In die laaste vers van die perikoop sien ons ook dat bergtopervarings verbygaan. In `n oogwink was die besondere ervaring “oor” – Elia en Moses was weg en Jesus se heerlikheid was nie meer fisies sigbaar nie.  Hulle het oorgebly – sê die teks veelseggend – met Jesus “alleen”. Die bedoeling is duidelik: die gewone lewe gaan nou weer aan en wat voorlê gaan toets of die ervaring `n verskil aan hul lewens gemaak het.

3. Die moeiliker vraag by die perikoop gaan oor die verband, en oor die plasing en betekenis daarvan in die geheelverhaal van die evangelie.  Daar is baie menings hieroor (vgl Dirk Smit se stuk).  Ek gaan na twee verwys:

  • Daar is uitleggers wat meen dat Markus se intensie met die verhaal eintlik is om te wys op die beperkte waarde van bergtopervarings.  Daar is baie mense wat meen dat hulle geloof veel beter sou wees as hulle eerstehandse ervarings met Jesus self kon hê en iets van sy glorie kon sien.  Die perikoop wil vir ons sê dat die nie noodwendig so is nie.  Hier sien ons dat so `n ervaring nie die verskil maak wat ons sou dink nie.  Petrus sien Jesus se heerlikheid, verstaan dit verkeerd en – die mees teleurstellende – verloën Jesus nogtans die oomblik as hy getoets word.  Die positiewe klem in die gedeelte – sal dié standpunt sê – lê op die woorde: “Luister na Hom”.  Ons sien nie altyd die glorie nie en moet ons nie daardeur laat verlei nie.  Wat ons sien en het, is die “gewone” Jesus alleen.  Die vraag is wat ons gaan maak met sy woorde.  Só verstaan, is daar `n betekenisverband tussen hierdie perikoop en die gelykenis van Lasarus en die ryk man (vgl Smit). Ons moet  nie die woord van die Here wat na ons almal kom, onderskat of lig opneem nie.  Dit is wat ons kry.  Die vraag is wat ons daarmee gemaak het.
  • Persoonlik meen ek dat `n mens meer positief oor die bergtopervaring moet oordeel. Die bedoeling van hierdie ervaring – so glo ek – was dat `n sien van Jesus in sy werklike grootheid en heerlikheid die drie dissipels moes help om in die komende, moeilike dae van lyding wat voorlê, gehoorsaam aan Jesus se woorde te wees.  As `n mens dit gesê het moet jy onmiddellik byvoeg dat die ervaring self nie vir ewig bly nie, dat ons moet teruggaan na die gewone lewe, en hoogstens kan hoop dat die ervaring ons sal by-bly en inspireer tot gehoorsaamheid.
  • `n Mens sou bg interpretasie van die teks kon knoop aan vele ander gedeeltes in die NT waar dit duidelik is dat geloof en navolging van Jesus juis moontlik word wanneer mense gehelp word om iets meer in Jesus te sien of te hoor as wat ander klaarblyklik sien of hoor.  Aan die einde van die Bergrede lees ons dat mense verbaas was oor Jesus omdat Hy in sy lering `n gesag gehad het wat by ander ontbreek het.  In die Evangelie van Johannes speel die “tekens” wat Jesus gedoen het die rol.  Dit openbaar sy heerlikheid – vir die wat oë het om dit te sien.  In Hebreërs 11 word vir ons gesê dat hierdie “vermoë” om te sien of te hoor wat ander nie sien of hoor nie, bepalend is vir geloof en gehoorsaamheid.
  • Daar word soms verwys na die opvallende ooreenkomste tussen die verhaal oor die verheerliking en van die opstandingsverhale (vgl Smit en sien veral Mark 16:1-8).  Daar is egter ook `n interessante verband tussen die verheerlikingsverhaal en die Hemelvaart van Christus.  In daardie sin sou gesê kon word dat die verheerliking op die berg eintlik vooruitgryp na die verheerliking van Christus wat sou volg op sy Hemelvaart.
  • As `n mens hierdie verband aanvaar, dan word die interpretasie wat in die vorige paragraaf gegee is, nog meer aktueel.  Dit kom baie naby aan die geloofservaring van Christene in die na-opstandingstyd (dus ook mense in ons situasie):
    • Hulle (en ons) word ook soos die dissipels geroep tot die navolging van Christus (Mark 8:34-9:1);
    • Wat ons het, is in die eerste plek die woorde en opdragte van Jesus.  Ook ons word opgeroep om te “luister na Hom”.
    • Of ons gaan luister of nie, hang baie af van wat ons hoor en sien as ons die verhale en getuienisse oor Jesus lees.  Aan sekere mense doen dit niks nie.  Ander se lewens word egter verander wanneer hulle in die Bybel nie net gewone verhale en woorde hoor nie, maar gehelp word om die heerlikheid van die Lewende Christus te sien…

4. `n Mens sou in `n preek oor die gedeelte ook die volgende vloei kon gebruik.

  • `n Mens sou kon begin  met die vraag hoekom dit so moeilik is om te doen wat die Here in sy woord van ons vra.  Daar is so baie goed wat ons weet ons moet doen… en tog nie doen nie. `n Mens sou dit kon illustreer aan die hand van Jesus se oproep tot dissipelskap soos ons dit hoor in Mark 8:34-9:1.  Die verse is tog baie duidelik… Daar is min daar wat ons sal kan sê ons verstaan dit nie…En tog is dit nie maklik om te doen nie. Dit is waar wat Mark Twain gesê het:  Daar is mense wat sê dat onverstaanbare tekste in die Bybel dit vir hulle swaar maak om te glo; met hom is dit anders: dit is juis die tekste wat hy verstaan, wat baie duidelik is, wat dit vir Hom swaar maak!
  • Die waarheid is dat as die Here ons nie tegemoet kom en help nie, ons op ons eie nie by geloof en gehoorsaamheid aan Hom sal uitkom nie. Gelukkig weet die Here dit en doen Hy dit – in sy genade
  • Die punt kan dan geïllustreer word aan die hand van die teksverwysings bo (oor Matt 7, Johannesevangelie en Hebr 11) en dit wat in Mark 9 gebeur. Die dissipels word as’t ware `n kykie in die hemel gegee.  Hulle kry die kans om Jesus se heerlikheid te sien – in die hoop dat dit hulle sou help om tot `n dieper geloof en `n beter gehoorsaamheid te kom.
  • In `n volgende punt sou `n mens `n eerste toepassing kon maak na ons dag toe.  As kerkmense sukkel om gehoorsaam te wees aan Christus, gaan dit nie help om harder met hulle te raas of hulle ernstiger te waarsku nie.  Hulle moet gehelp word dat hulle oë oopgaan vir Wie Jesus regtig is.
  • Ek glo dit met my hele hart.  Ook van ons NG Kerk.  Ons gesukkel met `n klomp opdragte in die evangelie – van die eenheid van die kerk tot by `n eenvoudiger lewensstyl – het te doen daarmee dat ons nie verstaan hoe groot en magtig die God wat ons dien regtig is nie.  Ons probleem is – soos JB Philips destyds gesê het – dat ons God te klein is …
  • Daarom dink ek dat die Luisterseisoen die regte medisyne vir die kerk is.  Dit help nie mense word gevra om harder te probeer nie – dit sal nie help nie.  Ons oë moet oopgaan vir wie Christus regtig is en vir wat Hy kan doen.
  • So belangrik as wat hierdie bergtopervarings is vir ons geloof, moet ons weet dat dit van verbygaande aard is.  Uiteindelik moet ons afkom van die berg en Jesus kom dien en volg in die harde werklikheid van die lewe.
  • Hoewel hulle nie meer Jesus se heerlikheid fisies kon sien nie, was Hy steeds by hulle om hulle by te staan en te help.
  • Ons kan weet dat dit met ons nie wesenlik anders is nie.  Al sien ons Jesus glad nie met ons fisiese oog  nie, kan ons weet ogv Matt 28:20 dat Hy steeds elke dag ook by ons is en dat Hy deur sy Gees ons in al ons swakhede te hulp kan kom.
  • Iemand het gesê dat in Jesus se lewe die kruis eerste gekom het en die opstanding en verheerliking daarna.  As Jesus ons roep tot navolging is hierdie orde van eers kruis en dan opstanding te swaar: dit is moeilik om ja te sê vir die pad van die kruis as jy nie weet van die werklikheid van die opstanding nie.
  • As ons Jesus reg wil navolg, moet die orde omgeruil word.  As ons goed weet en oortuig is van Jesus se heerlikheid en die werklikheid van sy opstanding, dan raak dit moontliker vir ons om Hom na te volg op `n pad waarop daar ook vir ons kruise is…

Coenie Burger

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere Preeksketse oor Markus 9:2-9

Tweede gedagtes: 2 Kon 5:1-14

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 15 Februarie 2009

 Die preekstudie eindig met die voorstel: “Vertel die verhaal van 2 Konings 5:1-14 aan die gemeente en plaas die klem op God se teenwoordigheid (oral) in die gebeure: by die vyande van Israel sowel as by Israel.  God staan agter die sukses van die heer en waarskynlik ook agter die dogtertjie se vrymoedigheid om oor haar geloof te praat en so hulp aan die aggressor te bied.  Die verklaring deur die herstelde held (v 15) oor die enigste ware God van Israel, moet ook in fokus kom…”  Ook die ander preekvoorstelle wat bespreek word beklemtoon die beheer van God oor Israel en die wêreld (Michiel van der Merwe) en die vraag of die kerk se taak nie dalk is om die “siek” geskiedenis af te buig na die man van God en God self nie (Nicolai).

My aanvoeling is dat hierdie benadering meer vrae oproep as wat uit die preekstudie blyk.  Indien ‘n mens konstateer dat God in beheer is, is die vraag onmiddelik: Waarom lyk die wêreld dan so?  Waarom moet ‘n klein dogtertjie in slawerny weggevoer word en waarom moet weerlose mense ly onder die aggressie van magtige lande – en hoe kan sulke lande se oorwinning dan nog boonop aan die Here toegeskryf word?  Wat meer is: Wat presies is die punt van Naäman se genesing en bekering?  Naäman sluit ‘n vreemde kontrak met die Here waarin hy vra om by voorbaat vir afgodsdiens vergewe te word (vers 18).  Jy kan ook nie sê dat Naäman se bekering op die een of ander manier die Arameërs meer vreedsaam gemaak het of vir Israel enige ruskans gebring het nie – want net in die volgende hoofstuk is die Arameërs al weer op die oorlogspad en is daar van die bekeerde Naäman geen spoor nie!

Jacques Ellul skryf daarom: “Yet the really puzzling thing in the story is that finally it all seems to be to no purpose…”  Hy beklemtoon: “Historical events, then, are basically incomprensible even though historians can superficially link together causes and effects…”   Ons bely dat God die Here van die geskiedenis is – maar as ons nie die geskiedenis kan deurgrond nie, hoeveel minder kan ons eenvoudig die vinger wys en aandui waarmee presies God in die geskiedenis besig is!  Vir Ellul gaan die ondeurgrondelikheid van die menslike geskiedenis saam met die vryheid van God: vryheid om Homself te ontferm oor Naäman, ‘n mens wat as vyand van Israel en man van geweld en melaatse vir menslike gevoel buite die grense van ons meegevoel lê; die vryheid om Homself oor Naäman te ontferm op ‘n manier wat Naäman self aanvanklik as vernederend ervaar; die vryheid om gebruik te maak van wat Ellul treffend beskryf as “invisible, humble interventions” wat juis deur die magtiges van hierdie wêreld heeltemal nie begryp word nie.  (Die verwysings is na Jacques Ellul se The Politics of God and the Politics of Man, pp. 23-40).

Dit laat my as prediker nogal in die verleentheid!  Verre daarvandaan dat ek die “wissels” van die siek geskiedenis sou kon probeer afbuig na die man van God en God self, dwing die teks my tot die besef dat ek glo dat God betrokke is in ons verwarrende geskiedenis, dat ek glo in sy “invisible, humble interventions” maar dat ek sukkel om aan te toon presies waar in ons wêreld God op hierdie manier besig is; en veral sukkel om te verstaan hoekom selfs God se groot dade dikwels nie lyk asof dit werklik die soort vrug dra waarop ons hoop nie.  Ek kan maar net oorvertel sonder om heeltemal te verstaan: ‘n klein dogtertjie se woorde wat lei tot ‘n magtige man se genesing – omdat God hom wil genees.

 My vraag is of hierdie verleentheid as tweede gedagte nie dalk juis heilsaam is vir die prediker nie.  In die jongste tyd het sommige Christene met groot oortuiging die hand van God gesien in George Bush se presidensie en veral sy oorlog teen terrorisme; ander Christene glo met net soveel oortuiging dat Barak Obama God se man vir die oomblik is.  Die verwagtinge wat op Obama se skouers geplaas word, is genoeg om ‘n mens te laat duisel – al glo jy ook dat die Here sy oorwinning, soos Naäman s’n, gewil het, is die kanse goed dat dit gou sal blyk dat die nuwe president, soos die “gesiene man” en “dapper soldaat” van Aram, ook maar net ‘n brose mens is.  Dalk moet ons as predikers maar liewer in die verleentheid bly staan en nederig bely dat ook Israel dikwels nie presies verstaan waarmee die Here besig is in die wêreld nie…  Maar ook bely dat sy optrede so vry, so vreemd, so onverwags is – en dikwels so nederig en liefdevol teenoor mense wat nie by ons gewild is nie (as een van Mugabe se handlangers nou by die deursnee NG dominee kom aanklop vir voorbidding…) dat dit jou asem wegslaan.

 In Christian Century kry ek ‘n aanhaling wat my nadenke oor hierdie saak saamvat.  M Craig Barnes skryf oor die pastor as digter: “I want to suggest still another image: that of the poet. I present this not as the normative or even preferred image, but simply as another biblical description of the calling of those who have been blessed with a vision that allows them to explore and express the truth behind the reality. Poets see the despair and heartache as well as the beauty and miracle that lie just beneath the thin veneer of the ordinary, and they describe this in ways that are recognized not only in the mind, but more profoundly in the soul.” 

Die volledige teks kan gelees word by http://www.christiancentury.org/article.lasso?id=6315
Andries Cilliers

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere preeksketse