Tweede gedagtes: Luk 1:47-55

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Ons dra God ín ons

God hou baie van gewone mense.  Dis waarom Hy so baie van ons gemaak het.  So sê iemand nou die dag.  En ons weet almal sommer hy is reg.  Ja, God dink inderdaad baie van ons.  Ons het waarde in Sy oë, sommer hoë waarde.

En nou met Kersfees aan die kom, kan ons gewone mense ons ook aan iets anders herinner:  dat God ‘n gewone mens, Maria, gekies het om Hom in haar te dra.

En dis waaroor vandag se preek gaan, hier op die vooraand van Kersfees, terwyl ons in Advent is:  God het elkeen van ons gewone mense gekies om Hom in ons te dra. 

En dis wat ons ons vandag kan afvra:  Hoe gedra ons ons met dié dat ons God in ons dra?

Wat nou wonderlik is, is dat ons ‘n riglyn in die Bybel het van hoe ‘n mens jou kan gedra wanneer jy God in jou dra.  En dit is die lied wat Maria sing wanneer sy weet dat sy Jesus verwag.  Dis vir ons opgeteken in Lukas 1:46-55.

En dis nogal besonders dat ons hierdie lied van Maria het om ons te lei.  En ons opgewonde te maak oor wat dit aan ons doen  – wanneer ons besef dat ons God in ons dra.   Matteus vertel van die geboorte van Jesus met bonatuurlike verskynsels en engele, wonderbaarlike geskenke uit die Ooste,  en politieke intriges met ‘n kindermoord.  Maria se naam word net ‘n keer of wat skrams genoem.  Markus vertel nie eers van die geboorte nie en gee nie verdere gedagte aan Maria nie.  Selfs Paulus noem Maria nie eers nie, en verwys net daarna dat Jesus uit ‘n vrou gebore is.  Maar hier in Lukas word die verhaal van Jesus se geboorte vanuit die menslikheid van mense vertel.  En die een wat aan die woord is daaroor, is die mens Maria.

God het die risiko geneem om ‘n mens te word – tussen mense.  Dit is wat Lukas vir ons wil vertel.

Só menslik en intiem is die verhaal wat Lukas vertel, dat geleerdes dink dat Lukas die verhaal by Maria self gehoor het.  En wat ons as die eerste twee hoofstukke van Lukas vandag het, terugherlei kan word na Maria self.

En so staan Maria se lied dan binne mense se ervaring, en binne ons ervaring van God in ons dra.  Van ons behoefte aan ‘n Verlosser.  En van die hoop wat God ons gebring het deur in ons midde gebore te word.

Kan ons waag om Maria se lied saam met haar te sing?  Kom ons kyk waartoe bevry haar lied ons:

1        Om God te prys (vers 46, 47:  “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser”):  Dis vir my een van die wonderlikste dinge wat Maria se lied aan my doen:  Dit herinner ons daaraan dat ons God kan prys, al is die lewe om ons donker.  Maria is swanger, ongetroud, en bitter arm.  Maar sy prys God.  Al die ellende om ons kan nie God se glans wegneem nie.  In die prysing self, lê genesing – en die hoop dat God die onverwagte sal doen – en gedoen het.  Omtrent elke sinsnede uit hierdie lied kom iewers uit die Ou Testament uit.  Die lied – wat ook die Magnificat genoem word omdat dit in Latyn die eerste woorde is wat Maria sing – prys God omdat ons ons daaraan kan herinner dat Hy groot goed in die verlede gedoen het. 

2        Om te hoop (vers 49: “omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het”):  Maria se lied staan in ‘n lang tradisie van vroue-liedere waarvan ons (ten minste) vier in die Bybel het.  Die ander is Mirjam se lied in Exodus 15, Debora se lied in Rigters 5, en Hanna se lied in 1 Samuel 2.  En in al hierdie liedere jubel die vroue – en die mans saam met hulle – omdat God nie die hoop beskaam het nie.  Dink maar aan die voorheen onvrugbare Hanna wat in haar lied iets sê soos:  As God my ‘n kind kan gee, kan Hy my enigiets gee.

3        Om hoop te doen (vers 53:  “Behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes”):  Ek dink dat, as ons God in ons dra, ons die dinge sal probeer doen wat God doen.  En waarvan Maria ons vertel:  Hy oorlaai behoeftiges met goeie gawes.  Advent is dan ook ‘n tyd om voorraadopname te maak van die goeie gawes wat ons van God ontvang het die afgelope jaar.  En Kersfees is by uitstek die tyd wat ons hoop vir ander kan doen, deur hulle behoeftes raak te sien en te help waar ons kan.

4        Om waardes te hê (omsien, ontferm, verhoog, oorlaai…):  Ja, watter waardes het ons wat God in ons dra?  Maria se lied vertel ons waaraan God waarde heg/gee:  nederigheid aan die een kant, maar aan die ander kant, aksie om die wêreld in ‘n beter plek te verander.

5        Om toegang tot God te hê (vers 54: “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming”):  Verby is die tyd dat ons deur priesters of rabbis of offerandes tot God moes kom.  Omdat Jesus gekom het, het ons vrye toegang tot God.  En ons verhouding met God is een van belofte.  En liefde.  Dit was nie onder die ander godsdienste so nie.  Die Romeine, byvoorbeeld, sou nooit daaraan gedink het om vir hulle god Zeus lief te wees nie.  Zeus sou nie aan hulle enige beloftes doen nie.  Nee, die mense moes Zeus net paai en please, sodat Zeus hulle nie verbrysel nie.  Maar met ons God is dit anders:  Ons kan lief wees vir hom.  En Hy is lief vir ons.  Hy doen beloftes aan ons, en Hy bly getrou.  Lekker om onsself in Advent daaraan te herinner.

6        Om vry te word (vers 47:  “Ek juig oor God, my Verlosser”).  God maak ons vry.  Hy verlos ons.  Dis hoekom Maria die Kind in haar “Jesus” moes noem.  Dit beteken “Die Een wat ons verlos het”.  Dis hoe Mirjam God loof in haar lied (Ex 15) nadat God hulle uit Egipte verlos het.  Dis hoe Debora God eer (Rigters 5) nadat God hulle uit die vyand se hand verlos het.  Daardie vryheid is ook ons s’n – en Kersfees wil ons daaraan herinner.

7        Om lief te hê:  Met Kersfees is Jesus Christus gebore, die Een wat die mensdom weer kom herinner het wat liefde is:  liefde tussen God en mens, liefde tussen mense. 

Mag u hierdie Kersfees God weer in u dra.  Dat u weer Maria se lied sal kan sing.

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien Preekriglyn oor Lukas 01:39-55; 46-55

Tweede Gedagtes: Psalm 85

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Die boeiende van die preekstudie oor Psalm 85 is dat dit ons wys op die spanning tussen Israel se geloofsherinnering (Wat God in die verlede gedoen het) en dit wat hulle tans ervaar (Nou gaan dit nie meer so goed nie), met die belangrike stelling daarby dat nuwe lewe net van God kom en ons dit nie self kan bewerkstellig nie.  Ek sou veral, in die lig van die liturgiese voorstelle oor die “Sondag van Vrede”, fokus op ons vredesdrome wat altyd weer skeefloop, sodat ons teruggebring word na die werklikheid dat God alleen vrede bring deur die Vredevors.

Een manier om dit te aktualiseer, is om te vra: Wat het geword van ons reënboogdroom?  Ons het, met die politieke omwenteling van 1994, hoog opgegee oor die nuwe “reënboognasie,” waarin mense van verskillende rasse en oortuigings in harmonie sou saamwoon?  Daar is tans ‘n film hieroor, Behind the Rainbow, wat in die Mail and Guardian geresenseer word deur Shaun de Waal onder die opskrif At the Rainbow’s End.  (“Kersfees aan die einde van die reënboog…” sou dalk ‘n goeie preektema wees!)  Hier is ‘n aanhaling uit dié resensie (wat ook ‘n vergelyking met Leon Schuster se Mr Bones 2 insluit):
“On the way we have the arms deal, the carnage of Polokwane, and so forth, finally ending with a little note to say that the ANC has discharged Mbeki from his duties as president. On the arms deal, the narrator of Behind the Rainbow uses Mark Gevisser’s phrase, “the poisoned well of South African politics”, without direct acknowledgement. Perhaps it would be better to talk about how the ANC lost — or sold — its soul.” 
Die volledige resensie kan gevind word by http://www.mg.co.za/article/2008-11-28-at-the-rainbows-end

In dieselfde trant kan gekyk word na ‘n berig oor hoekom mense Suid-Afrika steeds verlaat, ten spyte van die feit dat werk elders in die wêreld al hoe moeiliker word om te kry.  Hier is ‘n uittreksel:
Advertising executive Penny Holt loves her native South Africa but power cuts, a murky political climate and widespread violent crime made her think about leaving the nation she once viewed as a beacon of hope.
A robbery at her office was the last straw.
“There’s a brutality, an anger that worries me,” said the 32-year-old executive at Saatchi & Saatchi as she finished packing up her house in the well-heeled northern suburbs of Johannesburg ready to move to London, England.
Holt’s decision reflects what appears to be an accelerating trend in Africa’s biggest economy. Professionals, often young and in middle management but increasingly senior executives too, are leaving, adding to a skills shortage that is already acute.
Even though the global financial crisis is cutting job opportunities abroad — prompting some South Africans to consider moving home to take them up — at least eight top-level executives at listed companies have resigned this year to emigrate.
Die volledige berig kan gevind word by http://www.mg.co.za/article/2008-12-01-jobs-scarce-abroad-but-south-africans-move-away

Teen hierdie agtergrond is dit opvallend dat die “reënboognasie” blykbaar op soek is, nie net na nuwe politieke moontlikhede nie (die stigting van Cope), maar ook na ‘n soort verlossersfiguur:
“Zuma se lyding is soos Jesus s’n, verduidelik Vrystaatse partyleier
Mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, word aan dieselfde soort lyding as Christus onderwerp, sê mnr. Ace Magashule, voorsitter van die ANC in die Vrystaat.
“Jesus is vervolg, Hy is name genoem en verraai. Dit is dieselfde soort lyding wat mnr. Zuma die afgelope tyd moes deurgaan, maar hy staan steeds sterk. Hy gee nie moed op nie,” het Magashule gister gesê.
Hy het by navraag ’n soortgelyke stelling verduidelik wat hy Vrydag aan ’n skare Zuma-ondersteuners gedoen het toe Zuma die appèlgeding van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) bygewoon het. Die NVG appelleer teen die uitspraak wat regter Chris Nicholson vroeër vanjaar in Zuma se korrupsieverhoor gemaak het.
Dit is die soveelste keer dat ’n ANC-hoë ’n Bybelse vergelyking met Zuma of die ANC tref.”
Die volledige berig kan gevind word by:
 http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.1124029638.aspx.

Laastens: Ook die kerk as volgelinge van die Vredevors, ons wat geroep is om vredemakers te wees, stel keer op keer teleur:
Leraar steek man glo by kerk
Die Sondagdiens van die VGK-gemeente in Ceres het nie gister plaasgevind nie, nadat ds. Billy Rayners, wat die diens moes lei, na bewering ’n ouderling van die kerk met ’n mes gesteek en nóg ’n lid omgery het.
Die voorval kom nadat Rayners glo geweier het om die ouderling, mnr. Piet Witness, aan die kerk voor te stel nadat Witness onlangs deur die kerkraad as ouderling verkies is.
Daar word beweer dat Rayners en Witness baie jare al nie oor die weg kom nie…
Die volledige berig is by http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.1124029763.aspx

Andries Cilliers

Seisoen van Luister PowerPoint

Tweede gedagtes: Ps 80:1-8

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Sal jy God se glimlag herken hierdie Advent?

 

Eerskomende Sondag, die 30ste November, is die eerste Adventsondag. Aggenee, sal julle sê, watse Roomse spulletjies is dit nou weer? Maar, sou ek sê, ons moet hier by die Rooms-Katolieke leer, want hulle hou gebruike van die kerk wat eeue oud is, en wat ons Gereformeerdes gerus ook weer kan optel. Baie van ons gemeentes het al, en met goeie vrug, die kerklike gebruike begin terugbring wat eeue gelede aan die hart van die kerk se skoonheid en lieflike samesyn gelê het. Ons noem dit die “ancient future”. Met die óú gebruike van die kerk beweeg ons die toekoms in.

Die vier weke voor Kersfees, is Advent. Dis ‘n tyd waarin ons onsself op Kersfees moet voorberei. Nie met Jingle Bells, drankaankope en oordrewe geskenke nie. In Advent kyk ons na ons eie en ander mense se pyn. Ons neem weer die gebrokenheid van die lewe in oënskou. En ons kan maar – want ons weet dat die uitkoms naby is, dat die Lig weer gaan skyn. Want Kersfees kom.

Kom ons berei onsself hierdie Sondag op Kersfees voor met Psalm 80:1-8. Die psalm praat met ‘n mens uit baie rigtings, en tref jou op baie sagte plekke. Maar kom ons laat hierdie psalm oor drie dinge met ons praat:

Die eerste ding wat hierdie psalm vir ons oor onsself sê, is dat dit ‘n “community lament” is. Dit is die klaaglied van ‘n gemeenskap. Dis ‘n hele gemeenskap wat na God toe uitroep in pyn.

Ons het nou onlangs 9000 – ja, nege duisend – vraelyste na gelowiges in Suid-Afrika uitgestuur waarin daar onder andere een vraag was waarvan die antwoord ons verras het. Ons het gevra waarvan hulle wil hê Jesus Christus hulle moet verlos. En wat antwoord ‘n groot meerderheid van die mense toe? Van seerkry. Dit was asof ek Psalm 80 hoor. ‘n Hele samelewing van gelowiges roep uit na God om hulle van seerkry te verlos. Van politieke seerkry. Van ekonomiese seerkry. Van seerkry in hulle intieme spasies.

Ja, ons is weer waar die seer mense van Psalm 80 was.

Maar Psalm 80 praat nog ‘n tweede praat ook met ons. Dit vra God om te verskyn. Die psalm weet God is die Een wat Sy gesig wys. God is die Een wat Sy glimlag laat skyn. God is nie soos die ander se gode wat uit klip gekap is nie. Ons kan altyd weer hoop dat dit sal skyn.

Soos ‘n refrein kom dit in Psalm 80 voor: vers 2, vers 4, vers 8, vers 12: O God, verskyn tog tot ons redding! Glimlag tog vir ons, dat dit weer met ons goed kan gaan.

Dan is daar nog ‘n derde manier waarop Psalm 80 met ons praat. Al is dit ‘n klaaglied, is dit vol hoop. Die psalm hoop daarop dat God weer Sy glimlag sal wys – omdat God dit in die verlede weer en weer gedoen het.

Israel se geskiedenis met God bewys dit: net wanneer die donkerte op sy donkerste was, het God die lig gestuur. Die psalm herinner God juis aan Josef: Josef se broers het hom in ‘n put gegooi, ‘n gat in die grond waar hy tien jaar gesit het. En toe die donkerste op sy ergste was, het God vir Josef uit die put gehaal om hom tweede in bevel van Egipte te plaas. Sodat Josef op sy beurt sy broers kan help wat in die donkerte van hongersnood was.

En dit kan ons ook weet terwyl ons tranebrood eet: wanneer dinge op hulle donkerste is, is die lig die naaste.

Soos Jesus se woorde aan die kruis (wat ook uit die psalms kom, naamlik Psalm 22:2): My God, my God, waarom het u my verlaat? En net nadat Jesus dit gesê het, het dit weer lig geword.

Lig in die Bybel is baie belangrik. Dis een van die woorde wat die meeste in die Bybel voorkom. Lig is die eerste ding wat God volgens Genesis 1 maak.

En Kersfees is ook die fees van die ligte.

Hoe sal ons ons dan in Advent voorberei op die Lig van Kersfees? Deur onsself te leer om God se glimlag raak te sien te midde van die donker. Deur God se glimlag te LAAT skyn in die donker.

Dis wanneer jy na iemand wat in nood is, uitreik – dat jy skielik op daardie oomblik bewus word van God se glimlag. Dis wanneer jy terugdink aan die jaar, en tussen baie terugslae en swaarkry, skielik onthou van iets wat jy reggekry het, dat jy skielik God se glimlag sien. Dis soos die blinde vrou wat nou die dag oor die radio vertel hoe sy dit reggekry het om die geel en die wit van ‘n eier te skei – en toe skielik “gesien” het hoe glimlag God vir haar. Dis die man wat dink die saad in sy tuin is dood, en skielik staan die groen lewe daar vir hom en glimlag saam met God.

Advent is ‘n goeie tyd van die jaar om vir mekaar in die kerk te vertel van ons vrese en verliese. Maar ook van die kere wat ons God se glimlag in ons lewens ervaar het. En waarom ons hoopvol uitsien na die Lig wat weer met Kersfees gaan verskyn.

Dis ook ‘n tyd van die jaar wat ons vir mekaar kan vertel hoe ons al God se glimlag geblok het. Hoe ons vir God ‘n strak gesig gegee het, soos ‘n afgodsbeeld, en geweier het om Sy glimlag raak te sien.

En dan is dit ook ‘n blye tyd wanneer ons vir mekaar kan sê: God is die een wat by jou bly. Hy steek soms Sy gesig weg, maar jy kan altyd weer Sy glimlag soek en kry. God is nie soos ‘n kêrel wat jy nie weet of hy weer sal kom nadat hy vir jou geglimlag het nie. God is nie soos ‘n vrou wat nie by jou wil bly nie.

Dat God daar is, en dat Hy glimlag, is een van die seker feite van ons lewens – waaraan ons mekaar weer in Advent kan herinner.

Mag jy God se glimlag sien hierdie Advent. En mag jy opnuut weer daarvan bewus raak hierdie Kersfees. En mag dit by jou bly, die hele jaar lank.

 

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Kom ons sit Christus terug op sy troon

Written by Admin on . Posted in Preekstudies

Kom ons sit Christus terug op sy troon

Blaai ‘n bietjie deur Johannes se evangelie.  Nee, ons is nog nie by Matteus se evangelie nie.  Blaai eers deur Johannes.  En wat sal jy daar sien?  Jy sal sien dat die hele evangelie van Johannes eintlik gerangskik is rondom ses feeste wat Jesus bygewoon het.  En dit is nou lekker:  Johannes se evangelie is ‘n feeste-boek!  Die feeste waarna verwys word, was die Joodse feeste van die tyd.  Maar wat merkwaardig is, is dat Jesus elke keer iets nuuts doen wanneer hy ‘n fees bywoon.  Iets helends, iets wat daarop dui dat Hy ‘n goeie boodskap vir die mensdom bring.

Kom ons stap gou saam met Jesus deur hierdie ses feeste, want dit bring ons dalk net by die fees uit waarvan ons teksgedeelte praat.

In Johannes 2:13 lees ons Jesus gaan na die Paasfees in Jerusalem.  En wat doen hy daar?  Hy maak die tempel skoon!  In Johannes 5:1 gaan Jesus na ‘n fees waarvan ons die naam nie ken nie.  En wat doen hy daar?  Hy maak ‘n man gesond wat 38 jaar lank siek langs die bad van Betesda gelê het.  Johannes 6:4 vertel ons van ‘n derde fees waarheen Jesus gegaan het.  Dis ‘n jaar later en Jesus gaan weer na die Paasfees.  En wat maak hy daar?  Hy vermeerder kos vir die mense.  Die vierde fees waarheen Jesus gaan (Joh 7:2), is die fees waarop dankie gesê word vir die oes (die huttefees).  En Jesus leer terselfdertyd sommer sy broers iets oor geloof.  Die vyfde fees is die fees van die tempelwyding (Joh 10:22-23).  By hierdie fees het die Jode elke jaar weer vir God op sy troon gesit.  Oftewel, die Jode het eenmaal per jaar by die tempel bymekaargekom om te erken:  God sit op sy troon.  En nou ja, die sesde fees waarvan Johannes (11:55) praat, is die derde Paasfees waarheen Jesus gaan.  En nou word hy gekruisig.  Maar Jesus doen nou die unieke en nuwe ding waaroor ons vandag nog duiselig voel van opgewondenheid:  Hy staan op!

En nou kom ons by ons teksgedeelte in Matteus (25:31-46).  En dit praat van ‘n sewende fees!  Daar sal weer ‘n fees wees, sê hierdie verse, wanneer Jesus terug gaan kom en die gelowiges gaan beloon vir hulle sorg aan die samelewing!

Maar hoe kan ‘n mens nou hierdie gedeelte preek?  Dit vertel van die Seun van die Mens wat gaan kom, op sy troon gaan sit en die mense in skape en bokke gaan verdeel.  Die skape is hulle wat God se wil gedoen het.  Vir hulle kan die Een op die Troon sê (:35,36):  “ Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet;  Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink;  Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves;  Ek was sonder klere, en julle het vir My klere geee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.”

Hiervan sou ‘n mens ‘n wederkoms-preek kon maak, om mense lus te maak vir wanneer Jesus weer kom.  Of ‘n oordeelspreek, om mense bang te maak vir wanneer Jesus weer kom.  Of ‘n prekerige preek, om mense aan te moedig om vir die kerk by te dra.

Maar al hierdie soort preke is al soveel keer gepreek.  So, kom ons doen iets anders met hierdie stuk.  Kom ons preek dit met hierdie tema:  Sit Christus terug op die troon.

Ek wou al so lankal juis dit preek.  Vandat ek gelees het in Johannes 10:22-23 van die fees waarheen Jesus gegaan het waar die Jode God elke jaar weer teruggesit het op sy troon in die tempel.  Van daardie tyd af wens ek dat Christene ook so ‘n fees kan hê, waar hulle Christus weer en weer, elke jaar, troon. Plaas ek net my oë oopgemaak het:  want hier staan die fees dan reg voor ons in Matteus 25:31-46!  Die wonderlikste van alle feeste:  om Christus te troon.

Maar nee, sal julle sê, hoe kan ons Christus nou troon?  Die teksgedeelte sê dan hy kom self en kom sit op sy troon.  En hoe troon ‘n mens dan nou ook vir Christus?

Ek sal sê die teksgedeelte gee ons ‘n clue hoe om Christus te troon:  deur hoop te doen.  Ja, deur te sorg vir mense wat honger en dors en eensaam is, doen jy hoop – en troon jy Christus.

Ons teksgedeelte is amper iets soos ‘n gelykenis.  Dit vertel ons hoe die koninkryk van God is.  Die koninkryk van God is daar waar mense vir mekaar sorg, waar hulle uitreik na mekaar se pyn en behoeftes.  Ons kan nou al die koninkryk van God hier op aarde sien waar daar liefde en sorg en omgee is.  Maar die koninkryk van God sal eers heeltemal hier op aarde gekom het wanneer omgee en sorg vir mense belangriker geword het as eiebelang en wegkyk.

Die 23ste November is die Sondag waarop ons Christus se koningskap oor die hele aarde vier.  Dis die Sondag waarop ons Hom weer op sy troon gaan sit, soos hy in ons teksgedeelte ons vra om te doen.  En ons kan dit doen, deur die liefde en die respek en die sorg wat ons aan die mense om ons kan betoon.  Waar ons dit aan die minste van mense doen, doen ons dit aan Christus – en troon ons hom elke keer wanneer ons liefhet en omgee.

So, ons kan op hierdie Sondag feesvier, want Christus is op sy troon.  Maar ons moet nog iets op hierdie Sondag doen.  Ons moet kans maak om met mekaar oor ons pyn vandag te praat.  So gee ons vir ons teksgedeelte vandag se gesig.  Kom ons praat oor hoe mense se honger vandag lyk.  Waarna dors hulle?  Hoekom kry hulle koud?  En waarvan is hulle siek?  Hoe lyk die tronke waarin hulle vasgevang sit? 

En hoe lyk die goeddoen, die sorg, wat ons vandag aan mekaar verskuldig is?  Miskien is dit die luister na iemand se pyn.  Miskien is dit die gaping wat jy iemand moet gee om te sê watter pyn jy hom of haar aangedoen het.  Miskien is dit die kans wat jy soek om iemand om verskoning te vra. 

So, kom ons troon Christus hierdie Sondag weer.  En word so die community of care wat die koninkryk van God naby sal bring.

Christina Landman

PowerPoint van die Seisoen van Luister

 

Tweede gedagtes: Matteus 25:14-30

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Ek dink mens sou ‘n preek oor hierdie teksgedeelte as volg in drie kon verdeel:

1.  Die koninkrykslewe: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan God.

2.  Die selfbehepte lewe: Om God te reduseer tot slawedrywer, die self tot slaaf en die gawe tot besitting.

3.  As Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels.

Die koninkrykslewe: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan God.

Die lewe is wat met ons gebeur tussen die krip en die graf. Vir Christene is dit nie bloot die biologiese oorlewing wat een jaar in die volgende laat vloei nie. Na aanleiding van die gelykenis van die goue muntstukke kan ons sê dat Christene hierdie lewe ten diepste as gawe van God sien. Die slawe ontvang die muntstukke. Nie een weier dit nie. Dit was nooit hulle s’n nie. Dit sal ook nooit hulle s’n wees nie. Van die begin af verstaan ons ons lewe as God s’n. Maar dit kom met ’n opdrag, ’n roeping: Gaan maak wins daarmee. Woeker. Lééf nou! Dit is die koninkrykslewe. Die koninkrykslewe is die lewe van die nuwe mens. Die eerste twee slawe leef die koninkrykslewe. Hulle gaan elkeen en verdubbel dit wat hulle ontvang het.

Ons leef in ‘n samelewing wat o.a gekenmerk word deur verbruikerism en narcisisme. Die gelykenis van die goue munstukke keer ons wêreld se waardes kop-onderstebo: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan God. Alles wat ons is en het, kom van God.

Die selfbehepte lewe: Om God te reduseer tot slawedrywer, die self tot slaaf en die gawe tot besitting.

Die derde slaaf is ons “Most Peculiar Man”. Hy is die snaakse mannetjie van ons tyd wie se lewe toegesluit is in hom, in die illusie dat die sleutel binne-in hom opgesluit lê. Sy lewe is ’n voortsetting van die benoude godsdienstige wêreld waarbinne hy hom bevind. Hy is bang vir die gewer van wie hy die gawe ontvang het. Hy weet dat daar van hom rekenskap geverg gaan word. Van die begin af verstaan hy die lewe ook heeltemal verkeerd. In sy kop is die eienaar ’n slawedrywer – kwaai en veroordelend. Dit maak van hom noodwendig ’n slaaf. Só skryf hy eintlik sy eie verlossingsleer: My god is ’n slawedrywer en ek ’n slaaf. My verlossing lê daarin dat ek in my slawerny die bietjie wat ek het ten alle koste bewaar.” Die derde slaaf se keuses het opgedroog. Vir hom was die gewer eintlik die hebsugtige – die een wat net vat – die dief: “Meneer, ek ken u as ’n harde man, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie” (25:24). Hy ontwikkel ’n obsessie met die gawe wat hy ontvang het. Hoe groter die afstand tussen sy gawe en die Gewer, hoe banger word hy. Uiteindelik is hy só deurdrenk van die vrees, dat hy maar sy gawe begrawe: Liewer bang Jan as dooie Jan. My god is ’n dief en dus word ek ook een. Lewenslus en kreatiwiteit is daar nie meer by hom nie. Die heel veiligste is om niks te doen nie. Die lewe is mos soos ’n geslote ekonomiese sisteem waarin alles (en almal!) verbruiksartikels is – daar kan mos nooit genoeg wees vir almal nie! Op die ou einde breek alles in die lewe gelyk. Daarom is die beste strategie om dit wat ek het eenvoudig weg te steek en dit nie aan die lewe bloot te stel nie! Van die koninkryk en van die evangelie is hier nie sprake nie!

As Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels.

Vanuit die perspektief van die derde slaaf breek die kwade dag van die eienaar se terugkeer aan. Vir hom is dit ’n dag gevul met angs. Vir die twee slawe wat hulle gawes gaan verdubbel het, is dit ’n blye dag. Om die waarheid te sê, hulle het gelewe vir hierdie dag. Hulle het niks gehad nie en hulle eienaar het hulle vertrou met sy skatte. Hieroor was hulle só bly dat hulle nie anders kon nie as om uit te gaan en dit nóg meer te maak nie. Vir hulle was hulle lewe soos dié van konings. Om met soveel vertrou te word as jy niks van jou eie het nie, maak jou vry – maar verantwoordelik. Jy wil mos nooit jou eienaar teleurstel nie. Jou lewe is nie meer jou eie nie. As dit nie vir my eienaar was nie, het ek nooit hierdie lewe gehad nie! Die derde slaaf word ten sterkste veroordeel. Hy word ontmasker as die een wat van die begin af geweet het wie sy gewer is. Hy het die gawe aktief ontvang, maar toe heeltemal in ’n bedompige, benoude en selfgerigte lewe verval: Die “homo incurvitas.” Mens op hom ingebuig – die lui mens, die dief. Die derde slaaf se oordeel wys ook dat die lewe is soos om bergop fiets te ry. As jy ophou trap, stop jy nie – jy gaan agteruit. Daar is nie ’n geslote sisteem met ’n beginsel van gelykbreek waarmee jy jou van die lewe kan weerhou om jou só te bewaar nie. “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word” (25:29). Alle gawes kom van die Gewer af. Dis nooit joune om weg te steek nie. Daar is ook nie neutrale grond nie. Die “homo novus” – die nuwe mens – sien ons in die slawe wat hulle gawes verdubbel het. Hulle deel in die vreugde van hulle eienaar. Hy beloon hulle deur hulle oor nóg meer aan te stel. Vir hulle ken die ekonomie van God se genade geen perke nie. Vir hulle is dit asof die koninkrykslewe ’n vreemde en bevrydende teenstrydigheid is: Eers het hulle niks gehad nie. Alles was gawes – alles is vir hulle gegee. Nou word hulle met nóg meer vertrou. Maar eintlik het hulle nog steeds niks nie. Alles is nog steeds die Gewer s’n. Dit is die koninkrykslewe.

André Agenbag

PowerPoint van die Seisoen van Luister

Maandelikse fokus – begrafnispreek

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies

VERANTWOORDING

Die situasie

Mev M., ‘n weduwee en moeder, was ongeveer 63 jaar oud toe sy aan komplikasies wat na ‘n operasie ingetree het, gesterf het. Die pastor was dit dus te wagte dat daar in die pastorale situasie hewige rousmart na vore sou kom, gesien die onverwagsheid van die sterfte en die relatiewe jong ouderdom van die oorledene. Al die “gewone” vrae het in die voorafgesprekke opgeduik: Hoekom? Hoekom nou? Hoekom sý? Hoekom óns?

Die Woord

Psalm 4 is gekies omdat hier – soos trouens in die meeste van die Bybelse psalms – sprake is van ‘n geloofsreis: Die skrywer – oftewel digter/bidder/sanger – gee aan sy aangesprokenes ‘n kriptiese geskiedenisles oor sy ondervindinge met die Here in tye van nood en ontsteltenis. Tussendeur spreek hy die Bron van sy troos direk aan, al is dit bloot om Hom daaraan te herinner dat Hy nog altyd ‘n luisterende oor en ‘n wonderwerkende hand gebied het. Só hoor die eerste luisteraars, en die lateres, wát die genadige, troostende gevolg is wanneer die Here “hoor as ek na Hom roep” , “dit weer met ons goed laat gaan”, “(my) laat … veilig woon”.

Dié Woord in dié situasie?

Dit ís so dat die Psalmboek nie ‘n preekbundel is nie; eerder ‘n gebedeboek, of dan ‘n liederebundel. Dit maak dit dus uiters geskik om tydens ‘n begrafnisdiens te lees, as daar van die veronderstelling uitgegaan word dat bedroefdes geen begeerte het om be-preek te word nie, eerder begryp, en dus getroos. Die aangewese modus waarin die prediking dus aangebied behoort te word is dié van solidariteit – ‘n vereenselwiging van die prediker met die bedroefdes. Daar is weinig Skrifgedeeltes wat hulle beter daartoe leen as die Psalms.

Preek

“Ek hou van die Psalms. Dit is vir my goed om te lees dat daar baie lank gelede ook mense was wat gesukkel het met hulle geloof, mense wat gesukkel het met God se doen en late in hulle lewens. Kortom: mense wat getwyfel het wanneer dit met hulle sleg gegaan het, en nie bang was om te vra nie: Hoekom, Here?

“En hierdie hakkelende digters, twyfelende bidders, stamelende sangers, gaan skryf dit toe alles neer. Of: hulle skreeu so hard of sug so aanhoudend dat ander mense dit neergeskryf het. En tot vandag toe lees ons van hierdie geloofsworsteling. In die Bybel, van alle boeke. Ja, die Boek van die geloofskampioene, die helde van die kruis, het hier – reg in die middel – ‘n plek waar ons lees van … mense soos ons. Dít is hoekom ek van die Psalms hou.

“Juis op ‘n dag soos vandag. Hier is dan soveel seer, soveel stukkendheid in dié kerkgebou, veral by julle hier in die voorste banke. Soveel onbegrip en onvrede, ook op die kansel, dat ek my dit nie kan voorstel dat ons nou uit iets anders kan lees as die Bybel se Psalmboek nie. Luister:

(Skriflesing volg)

“Onbesorg gaan lê. Dadelik aan die slaap raak. Die wete dat dit die Here alleen is wat jou veilig laat woon. Só sluit ons Psalm af. Maar … hoe kom ‘n mens dáár? Is ek verkeerd as ek vanoggend reken dat ons nog ‘n bitter ver ent het om te gaan voordat ons sal kan sê: onbesorg; dadelik aan die slaap raak. Of: Dankie, Here, dat dit U is wat my veilig laat woon? Weer: Hoe kom ons daar? En: Sal ons dit kan maak? Vanaand nog? Hoegenaamd? Ooit?

“Dit lyk asof die man wat hier skryf heelwat ondervinding het van die soort swaarkry en seerkry wat ons ook vandag hier byeengebring het. Luister hoe hy sommer reg aan die begin soebat dat die Here hom moet hoor: Antwoord my! Wees my genadig! Hoor my gebed!

“En dan doen hy ‘n baie interessante – eintlik besonder dapper – ding; iets wat ons in baie van die Bybel se psalms sal teëkom: hy sê die Here moet asseblief onthou dat Hy (hierdie Here) al vantevore gehelp het. Here, onthou ons loop al ‘n lang paadjie saam, ons het ‘n geskiedenis met mekaar. U hét mos al gehelp! U hét my al soveel vreugde laat belewe.

“Dan, asof hy nuwe moed gekry het noudat hy dit so pront gesê het, loop hy die kwaadpraters ook sommer trompop. Moenie die Here onderskat nie! waarsku hy hulle. Besef tog Wie Hy is: die Wonderwerkende Verbondsgod. Bring dus julle offers; vertrou op Hom!

“En só, so tipies menslik, praat hy homself kalm. Woed hy hom uit. Raak hy opnuut daarvan oortuig dat die Here wat altyd dáár vir hom was, hom nooit as te nimmer sal vergeet nie. Vind hy oplaas rus in die wete dat die Here-van-altyd steeds die Here-van-vandag is. Nou kan hy maar ophou wonder, kan hy in vrede gaan lê, oorgegee aan die Een wat hom nooit sal los nie, wat hom sal oppas. Rustig in die wete dat hy in die hande is van die Bewaarder van Israel wat nie insluimer of slaap nie. Só is dit nou met hom, hierdie bidder.

“Die vraag bly nou: Help hy ons? Hierdie man wat nou so rustig geword het – kán ons, die onrustiges op hierdie dag, iets by hom leer?

Miskien tog.

“Kyk, daar is die kwessie van die adres. Dit is baie duidelik dat hy nie in die lug in roep nie, hy skreeu nie sommer die niet in nie. Hy roep uit die staanspoor “O God!” Hy weet dus, van die begin af, daar is vir hom ‘n plek waar hy kan gaan aanklop. En dan nie noodwendig ‘n sagte, hoflike kloppie nie, o nee: hy val as’t ware met die deur in die huis.

“En dit is maar reg so. Te meer nog vir mense soos ons: kinders van die Nuwe Testament. Ons ken hierdie God as die Vader van Jesus Christus. Wanneer ons met Hom praat, noem ons Hom: ‘Ons Vader’. Ag, en dit is nie regtig nodig om te skreeu nie (ons mág maar; Hy sal nie skrik nie. ‘n Pa skrik mos nie vir sy kinders nie!). Die feit van die saak is dat die Gees van God, Hy wat by ons bly, selfs ons sugte hoor en dit voor die Vader bring.

“Skreeu dus maar, dit is reg só. Maar as jy vandag hier in die voorste banke sit en net saggies sug – God hoor. En soos die destydse psalmdigter weet ons ook dat ons nie ‘n hele optog hoef aan te pak om by ‘ons Vader’ uit te kom nie. Hy is nie daar vér nie. Om te praat van “die man daarbo” is doodgewoon foutief. Deur sy Gees woon Hy by ons in. Sy adres is dus welbekend.

“Dan kan ons ook maar ‘n verdere les by die digter van Psalm 4 leer: sy troosbaarheid. Hy wil gehelp word. Hy soek ernstig na perspektief op sy omstandighede. Keer op keer herinner hy die mense wat na hom luister, en dus homself, aan die genadige ingryping van God. Luister: toe ek in die nood was; as jy ontsteld raak; as jy vra wié sal dit weer met ons goed laat gaan … is die antwoord keer op keer dieselfde: Daar is ‘n Here. Hy hét mos in die verlede. Hy sal weer.

“Uiteindelik is dít dus hoe hierdie bidder by sy laaste vers uitkom; dít is hoe hy, nou onbesorg, in die bed kruip. Tog heel eenvoudig, nie waar nie? Hy weet by Wie om te gaan huil, en dan eien hy die troos wat na hom toe kom vir homself toe. Eers: Hier is ek, Here, met my trane, my vrese, my ontsteltenis. Dan: Dankie dat U my gehoor en gesien het, en ‘n plan gemaak het. Ek weet dit nou.

“Miskien is dit die vernaamste rede hoekom ek van die Psalms hou: Of die digters/bidders/sangers opkyk na die berge, of diep in hulle eie harte kyk, gil of fluister, roerend weeklaag of saggies sug, uit volle bors sing of bloot hartseer neurie, daar is ‘n God wat hoor. Dit kan ek maar glo.”*

** En as dit – hierdie stokou psalm – vir ons vandag op die pad na vrede help, dink net vir ‘n oomblik watter verdere implikasies dit het vir mense soos ons. Ons wat nou, 2000 jaar na Christus, soveel meer weet as wat die destydse digter kon vermoed. Luister, byvoorbeeld, Nuwe Testamentiese volgelinge van Jesus Christus, vir oulaas na die laaste vers:

Lees weer vers 9

Onbesorg gaan lê. Dadelik aan die slaap raak. Die wete dat dit die Here alleen is wat jou veilig laat woon. O, die fenomenale wete dat daar ‘n Jesus was wat toe nié bly lê het nie. Hy het opgestaan; Hy het waarlik opgestaan! Is dít nie die allertroostendste rede om tot te kom nie? Die Here het opgestaan, en jy sal ook!

* Na my oordeel behoort die preek hier te eindig.

** Sommige predikers sal straks gemakliker voel met ‘n laaste paragraaf, wat só kan lui:

Barend Vos

Tweede gedagtes: Matt 25:1-13

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Gereedheid vir die wederkoms van Christus, die tema wat die preekstudie oor Matteus 25:1-13 tereg beklemtoon, is om verskeie redes nie maklik om te preek nie. Een rede is omdat baie van ons lidmate nie regtig ‘n lewende eskatologiese verwagting het nie; hulle is redelik tuis in die wêreld soos dit is en hulle toekomsverwagtings (en –vrese) word dikwels bepaal deur dit wat in die politiek en ekonomie gebeur, eerder as deur die beloftes van God. Aan die ander kant leef sommige mense met ‘n oorspanne eskatologiese verwagting wat sterk apokalipties gekleur is. Só ’n verwagting floreer op slegte nuus as teken dat “die einde” naby is en soek naarstiglik na tekens dat die wederkoms naby is.

Dit beteken vir my dat ‘n mens nogal versigtig moet werk met “koerantnuus” in hierdie preek. Os Guinness maak in sy boek, Prophetic Untimeliness, die punt dat ‘n oorspanne soeke na relevansie – veral relevansie soos wat die media met hulle kort aandagspan wil dikteer – die kerk juis irrelevant kan maak, omdat ons (om ‘n ander, bekende teenstelling te gebruik) onsself haas van die een “dringende” kwessie na die volgende, terwyl “belangrike” sake verwaarloos word. Ek haal Guinness kortliks aan omdat ek dink dit wat hy sê, van uiterste belang is vir die tema van hierdie preek:

By our uncritical pursuit of relevance we have actually courted irrelevance; by our breathless chase after relevance without a matching commitment to faithfulness, we have become not only unfaithful but irrelevant; by our determined efforts to redefine ourselves in ways that are more compelling to the modern world than are faithful to Christ, we have lost not only our identity but our authority and relevance. Our crying need is to be faithful as well as relevant. (Prophetic Untimeliness, p.15; beklemtoning in die oorspronklike)

Die vraag na getrouheid aan Christus en die vraag na gereedheid vir die wederkoms hang ten nouste met mekaar saam. Gereedheid is nie om koorsagtig somme te maak of donker, apokaliptiese vrese op te jaag nie; gereedheid is om in die wêreld hier en nou getrou te bly aan Christus. As ons dus kyk na wat in die nuus gebeur, dan is dit nie om ons eie toekoms te probeer peil of ‘n bietjie troos te soek daarin dat dit darem nou weer effens beter gaan met die ekonomie nie, of vrese op te jaag oor moontlike politieke konflik in ons land na die Sandton-konvensie nie, maar om te vra: Wat beteken dit om getrou te bly aan Christus in hierdie tyd? Want juis in ons getrouheid sal ons regtig relevant wees.

Teen hierdie agtergrond kan ‘n mens kyk na ‘n beriggie uit Die Burger wat tot nadenke stem:

Bybelstudie verander nie mense se gedrag, sê kenner uit VSA

Bybelstudie help nie veel om kerkmense se gedrag te verander nie. Dít is die boodskap wat dr. Ron Martoia, ’n kerklike transformasiekonsultant uit Amerika, hier aan die e-kerk se Reformasiekonferensie gebring het. Hy is een van ’n groep vernuwende denkers uit verskeie wêrelddele wat deur die e-kerk hier byeengebring is om te besin oor hoe ’n nuwe kerklike hervorming in die 21ste eeu behoort te lyk. Martoia se kritiek het een van die hoekstene aangeraak van die wyse waarop Protestantse kerke oor die eeue heen die toerusting van hul lidmate benader het. Dié benadering was om mense met kennis te voer, hetsy deur Bybelstudies of deur middel van ander opleidingskursusse. Martoia het egter gesê “weet” lei nie tot “doen” nie. Inligting lei nie tot transformasie nie. Kerke het wegbeweeg van die vol liggaamlike belewenis van die wêreld, na ’n intellek­tuele benadering. Daarmee het benaderings soos aanvoeling en intuïsie verdag geraak.

Jesus se voorbeeld was egter anders, het Martoia gesê. Vir hom was aanvoeling en die regte beskouing van ’n situasie belangriker as om bloot dinge te weet. Martoia het as voorbeeld daarna verwys dat Jesus, toe hy na ’n skare gekyk het, nie net ’n groot groep mense gesien het nie. Hy het die aanvoeling gehad om te sien dat hulle soos ’n groep skape was wat ’n herder nodig gehad het. Martoia het vertel hoe hy self besef het hy gaan blind vir sulke dinge deur die lewe. Hy het in ’n supermark in die ry gestaan agter ’n vrou wat nie haar twee balhorige kinders in bedwang kon bring of dit eens probeer doen het nie. Hy was vies vir die situasie, totdat hy hoor hoe die vrou vir die kassier om verskoning vra en verduidelik dat haar man haar daardie week gelos het, dat sy haar sterwende ma versorg en dat sy deur ’n verskriklik moeilike tyd gaan. Toe het hy besef hy het geen begrip vir die vrou se situasie gehad nie. Martoia het gesê hy het niks teen kennis nie, maar kerke moet maniere ontwikkel om hul mense te leer om met ’n groter aanvoeling vir hul omgewing te leef. Hy het voorgestel dat kerke meer gebruik maak van meditasie, dat mense doelbewus gesprekke aanknoop met mense wat anders is as hulle sodat hulle as’t ware in dié ander mense se skoene kan staan, en dat mense meer in die natuur stil word.

http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.1037726530.aspx

Op ‘n ligter toon: ‘n Ander beriggie wat dalk as beeld gebruik kan word om die uitdaging van getrouheid te illustreer – en wat goed inpas in die huweliksbeeld van die gelykenis – is die volgende:

Studie toon romanse verflou met tyd

’n Britse studie het getoon romanse in die deursnee- ­huwelik blom gewoonlik nie langer as 31 maande en 25 dae nie. Hierna begin die vuil sokkies oral rondlê en doen min mense nog moeite om grimering te dra of die toilet se deksel te laat sak, toon die peiling deur OnePoll. Altesaam 5 000 egpare wat langer as ’n dekade getroud is, het daaraan deelgeneem en meer as die helfte het gekla hulle voel hulle word nie waardeer nie.

Altesaam 7 uit 10 mans het erken ná ’n tyd is hulle so gemaklik met hul wederhelfte dat hulle gereeld sokkies, broeke en ander vuil wasgoed in die huis laat rondlê. En 79% doen ná ’n paar jaar nie die moeite om die toilet se deksel te laat sak nie. Twee derdes van vroue doen op hul beurt nie meer ter wille van hul maat moeite met hul kleredrag nie, en 54% sukkel nie langer met grimering nie. Verder spring 61% in sweetpakbroeke of pajamas sodra hulle saans van die werk af kom. En teen die derde huweliksherdenking vier die meeste nie meer hul troudag nie. Dít is in skerp teenstelling met die eerste paar maande in die huweliksbootjie wanneer 83% gereeld hande vashou in die openbaar. Ná ’n dekade doen slegs 38% van egpare dit nog en 60% sê hulle is nog laas op die wittebrood verras met ’n romantiese aandjie uit. Die berugte stryd om die televisie se afstandbeheer is skynbaar ook geen mite nie. ’n Volle 75% van deelnemers het gesê hulle weier om dit aan hul man of vrou af te staan – selfs al vra die een mooi.

http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.1037726596.aspx

Dalk is dit die groot rede hoekom ons getrouheid vervaag en ons nie gereed is vir Christus se koms – of selfs daarna verlang nie: ons eerste liefde het vervaag en ons verhouding met Christus het vanselfsprekend geword!

Indien jy wel voel om iets te maak van hierdie week se nuusgebeure, sou ek oorweeg om dit oor die boeg te gooi daarvan dat die wêreld waarin ons leef, baie meer broos en verganklik is as wat ons graag wil besef – soos die politieke woelinge in ons land, die ekonomiese krisis in die wêreld en die impak van die Amerikaanse presidentsverkiesing maar te goed wys. ‘n Goeie stuk kommentaar uit Mail & Guardian oor die Amerikaanse verkiesing en ons eie situasie onder ‘n nuwe president kan dien om lig hierop te werp. Dit kan gevind word by http://www.mg.co.za/article/2008-10-31-reviving-the-american-dream onder die titel: “Reviving the American Dream.” Juis in hierdie onseker, verganklike wêreld is dit belangrik dat Christene standvastig en getrou sal bly en nie moeg sal word om goed te doen nie, omdat ons weet dat die toekoms behoort aan Hom wat op sy tyd en sy manier na ons toe kom.

 

Andries Cilliers

 

PowerPoint Seisoen van Luister