Tweede Gedagtes: Markus 1:9-15

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Die koninkryk van God het naby gekom. Ons kan baie meer doen om ons lidmate te wys op konkrete tekens van die koninkryk wat naby gekom het.

Ds Stefan Louw is in September 2006 in sy huis in Johannesburg vermoor en die rowers is met net sy selfoon weg. Stefan was ‘n filmkenner en het graag van sy eie uitstekende filmanalises gebruik gemaak om sy preke te aktualiseer.

In April van daardie jaar maak hy ‘n preek waarin hy na aanleiding van twee films, Billy the Butcher en The gangs of New York, inligting benut om iets te laat blyk van die koninkryk van God wat naby gekom het. Ek gee dit hier weer met my eie gedagtes en aanpassings om dit meer toeganklik vir ons eie teks en tema te maak (amper soos die storie van die pyle wat eers teen die boom geskiet word waarna die teiken om die pyle geverf word!)

Verlede jaar se Oscar genomineerde film, The gangs of New York laat jou hierdie waarheid weer besef. Die film gaan oor die jong seun Amsterdam, wat as kind op die strate van New York groot word in die middel van die 19de eeu. Dis ‘n jong New York in sy geboortepyne. Die strate word effektief beheer deur bendes. Op jong ouerdom word sy pa, ‘n groot bendeleier, deur die berugte gangster Billy the Butcher voor sy oë vermoor. Tien jaar later is hy terug op die strate as ‘n jong man met een doel voor oë, om sy pa se dood te wreek. Deur ‘n vreemde sameloop van omstandighede word hy egter onder Billy the Butcher se vlerk geneem, wat hom nie herken nie, en so ontwikkel daar ‘n vreemde tipe vader-seun verhouding tussen hulle. Amsterdam bevind hom skielik in ‘n tipe liefde-haat verhouding. Aan die een kant het hy op ‘n vreemde manier sy pa teruggevind, aan die ander kant leef hy nou saam met sy pa se moordenaar. Sy innerlike stryd word geweldig. Hoe gaan hierdie liefde-haat verhouding uitdraai? In liefde, of in haat? In vergelding, of in vergifnis?

‘n Treffende oomblik in die film is waar Billy the Butcher vir Amsterdam wys hoe om met ‘n mes ‘n doodsteek toe te dien. Hy doen dit met ‘n demonstrasie op die karkas van ‘n afgeslagte vark. Die mes word dan vir Amsterdam gegee. Hy voer die steke perfek uit op die karkas en staan brandend van binne met die mes in die hand terwyl die niksvermoedende Billy hom lof toeswaai oor sy vernuftigheid. Tog weerhou hy homself van weerwraak. Later red hy selfs Billy se lewe toe ‘n sluipmoordenaar hom probeer skiet.

Die film se ontknoping gee ‘n antwoord op ons vraagstuk. Amsterdam kies die pad van vergelding. Hy bring sy pa se bende weer op die been. Aan die einde van die film lê hulle na hewige gevegte in mekaar se arms, Amsterdam en Billy the Butcher. Billy sterwend aan ‘n skrapnel wond. Daar’s geen verskil tussen hulle nie – Amsterdam en Billy the Butcher. Amsterdam dien hom die finale doodsteek toe.

Dit was makliker om dood te maak. Dis makliker om te vernietig, om af te breek, om met mag te beheer, om met vrees te regeer as om lief te hê. Liefde is baie moeliker. Wanneer die koninkryk van God naby kom, kom Jesus naby. En wanneer Jesus naby kom, kom onvoorwaardelike, selflose en selfopofferende liefde naby.

Die weg van die wêreld was nog altyd die maklike weg. Daarvan loop die geskiedenisboeke oor. Om jou te beskerm teen die monster word jy die groter monster. As iemand jou met ‘n klip gooi dan staan jy terug met ‘n ystervuis. Ons het dit onlangs weer helder sien afspeel in Amerika na 11 September. Om te vergewe, om jou vyande lief te hê – min sien daarvoor kans. Want dit sny teen ons grein in. Geweld vra vir geweld, vir weerwraak. Haat roep haat, bloed roep bloed. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Palestina en Israel, Amerika en Irak.

Maar ook nader aan ons. Dit kom natuurlik vir ons om dié lief te hê wie ons liefhet en te haat die wie ons te na kom. Ek onthou die dag toe hulle by my en Brenda se woonstel ingebreek het. Hoe ek die diewe in my gedagtes nie verwens nie!

Maar dis ‘n natuurlike reaksie. Hoekom kom dit so natuurlik dat ons makliker vergeld en moeiliker vergewe? Die Bybel wys dat die eintlike probleem ‘n diepgewortelde selfliefde is, ‘n ingebuigdheid op onsself. In die Griekse mite kyk Narsis in ‘n diep poel en raak verlief op sy eie weerkaatsing. Dis die probleem, sê die Bybel. Ons word ook gehipnotiseer deur hierdie poel. Ons raak te maklik gefikseerd met onsself, met ons eie begeertes. Dit kom vir ons natuurlik om die hele wêreld teen die agtergrond van ons eie belange te sien.

In ons teksgedeelte roep Jesus op tot bekering. Hy is beide die doel maar ook die inhoud van die koninkryk wat naby gekom het. Jesus se lewe is die koninkryk in aksie! Hierdie weg is die weg van die kruis. Vir ons wat weet wat hierdie koninkrykslewe van Jesus sou meebring, hang die kruis se skadu swaar oor hierdie gedeelte.

En dan sê Jesus vir hulle: Bekeer julle en glo die evangelie: Julle moet my volg. Daar waar ek is daar moet julle ook gaan. Die teksgedeelte is radikaal, want dit daag ons uit om die gewone gang van die wêreld teë te gaan. Dit daag ons uit om weer ons motiewe te ondersoek. Leef ons net vir onsself, of leef ons ook vir ander? Hoekom werk ek so hard? Vir wie werk ek? Watter ambisies dryf my? Wie kom ek te na? Hoe selfsugtig my motiewe? Waar pas God in my lewensstyl? Lyk ek nie maar net soos die res van die wêreld nie? Die gedeelte wil ons ook uit ons selftevredenheid uit ruk. Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit, sê Jesus hier, wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my lief het nie, sal dit vir die ewige lewe behou.

Om vir Christus te volg is nie sommer vir almal nie. Dis nie ‘n populêre tipe voel-goed-oor-jouself godsdiens nie. Dis nie ‘n I’m OK, you’re OK dingetjie nie. Dis nie ‘n resep vir sukses- en welvaart nie. Dit bied geen kitsoplossings nie. Dis die moeilike weg. Dit daag ons uit om meer as net mensekinders te wees, om meer te doen as wat mense maar doen. Dit daag ons uit om kinders van God te wees.

Die koninkryk kom naby wanneer ons in liefde kan gee, ons in liefde kan ontvang, dat om geweld met geweld te antwoord meer geweld kweek, maar om te vergewe die siklus van geweld deurbreek.

Die evangelie werk, gemeente, maar dis ‘n moeilike pad. Dis die boodskap van die kruis. Dis hoekom die kruis ons altyd weer dring tot selfondersoek, tot nuwe toewyding aan God.

Maar hier is die goeie nuus, gemeente. Daar is ‘n ligtheid in die swaarheid. Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is, sê Jesus. Neem my juk op julle en leer van my, want my juk is sag en my las is lig. Om kinders van God te word, is daad van God. Dis God wat ons na Hom toe roep, dis God wat ons aanneem, dis God wat ons gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. Die beste plek waar jy kan wees is juis daar waar jy ontdek hoe swak jy as mens is, hoe gebroke en onvolkome jy is. In hierdie oomblikke van eerlikheid, van sterf aan jouself, kan God oorneem om jou lewe te vernuwe.

Ek wil afsluit met ‘n tweede film wat saam met The gangs of New York uitgekom het met die naam Behind the sun. Dis die verhaal van twee families wat in ‘n jarelange vete gewikkel is om grond. Vir geslagte lank duur hierdie vete al voort. Iemand van die een familie word deur die ander geskiet, en dan moet die ander familie weer hierdie dood wreek. En so duur hierdie siklus van weerwraak eindeloos voort. Die verhaal gaan oor ‘n klein seuntjie – sy naam is net “the kid”. Die ouer een van sy twee broers word onder hom doodgeskiet toe dié hom deur die veld op sy nek gedra het. Die seuntjie se ander broer word dan deur hul onverbiddelike vader gedwing om hierdie dood te wreek, wat hy dan ook uiteindelik doen.

Die reël onder die families is dat daar na ‘n vergeldingsaanval een maansiklus lank vrede is tussen hulle. Dan kan die vergelding weer begin. Nadat “the kid” se oorblywende broer die seun in die ander familie geskiet het, gaan hierdie broer om te bid vir die gestorwene se siel by die begrafnis. Daar vra hy vir die ander Vader vir ‘n finale vrede tussen die families.

Die blinde ou man se woorde is treffend. Het jy al ooit ‘n vrou liefgehad? vra die vader hom. Nee, antwoord hy. Jy sal nooit nie, sê die ou man vir hom. Luister na daardie horlosie, sê hy. Elke slag sê “een meer”, “een meer”, “een meer”. Vir jou sê dit egter “een minder”, “een minder”, “een minder”. Dan sit die Vader vir hom ‘n swart band om sy arm as teken dat hy ‘n gemerkte man is, dat daar ‘n doodsvonnis oor sy kop hang.

The kid se broer gaan terug om sy laaste dertig dae uit te leef. Maar die verhaal gee tekens dat dinge die slag anders is. Daar kom ‘n jong sigeunervrou in sy lewe en hy raak verlief op haar. Die reën waarop almal wag, maar die hele tyd wegbly, begin val die aand voor sy grasietyd om is. Daardie aand bevestig hy sy liefde vir die sigeunervrou. Die oggend word hy in haar arms wakker met ‘n knal van ‘n skoot. Hy vind dat die swart armband om sy arm af is en dat sy hoed weg is.

Die storie eindig met “the kid” wat vertel hoe hy met sy broer se hoed en swart armband deur die bosse loop waar die jonger broer van die ander familie vir hom wag. In die reën en skemering word hy vir sy ouer broer aangesien en so sterf “the kid”. Hy gee sy lewe op in die plek van sy broer. Hy sterf sodat sy ouer broer kan lewe. Die siklus van vergelding word deurbreek. The kid se broer verlaat die familie en loop agter sy nuwe liefde aan om ‘n nuwe lewe te begin. ‘n Nuwe lewe wat baie duur gekoop is.

Die verhaal is die evangelie in ‘n neutedop. Dis wat die kruis vanoggend vir ons wil sê. Die pad van nuwe lewe is ‘n moeilike pad en dit is duur gekoop. Christus het gesterf sodat ons kan lewe. Kom ons volg ook hierdie weg van selflose liefde na.

 

 

André Agenbag

 

 

Seisoen van Luister PowerPoint

 

 

Tweede gedagtes – Markus 9:2-9

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Sondag 22 Februarie 2009

1. Ons is regtig gelukkig dat Marius Maree vir ons `n baie goeie stuk oor hierdie perikoop gegee het. Sy eksegetiese oorsig dek die wesenlike punte en sy preeklyn is baie bruikbaar en beslis verantwoord. Saam met Dirkie Smit se studie in Woord teen die Lig 1,8, kan predikers ver kom met hierdie materiaal.

2. Die belangrikste verkondigingsmotiewe van die perikoop is redelik voor die handliggend:

  • Die binnekring van dissipels kry die ongelooflike geleentheid om Jesus te sien vir wie Hy werklik is: in sy heerlikheid, in die geselskap van Moses en Elia. Jesus het dit meermale vir hulle gesê, maar hier sien hulle dit nou: Hy is die Heer! Alles wat Hy gesê het Hy is, en meer.
  • Die heerlikheid en grootheid van Jesus word verder bevestig deur die stem uit die hemel wat sê: “Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.”  Ek meen dat hierdie stelling en opdrag vanuit die hemel `n uiters belangrik rol in die perikoop speel en die hart van die boodskap van die gedeelte opsom.  Jesus is die Heer; en daarom moet en kan ons na Hom luister – sonder vrees of huiwering. Wat my betref sou hierdie twee punte die sentrale punte van `n preek oor die gedeelte kon wees (soos wat inderdaad die geval is in Marius se preekvoorstel).
  • Ewe belangrik is dat die evangelis ons waarsku dat die soort ervaring wat hier vir Petrus en die ander gegun word, verkeerd verstaan kan word.  Vir Petrus is die ervaring self so wonderlik dat Hy op die berg wil bly en aanbied om hutte te bou vir al die belangrikes.  Hy sien nie die verband tussen die openbaring wat hulle ontvang en egte dissipelskap nie. In die Bybel het openbarings en ander Godservarings selde `n waarde in sigself – dit word gegee met die oog op sterker geloof en beter gehoorsaamheid in die werklikheid van die lewe.
  • Dié deel van die verhaal illustreer die dissipels se stiksiendheid en hulle traagheid om te verstaan.  Dit wys ook dat hulle – soos ander mense – heerlikheid en glorie verkies bo diensbaarheid en lyding.  Dit is betekenisvol dat Petrus hierdie opgewonde woorde uiter enkele dae nadat Hy Jesus uitdruklik oor sy komende lyding hoor praat het.
  • In die laaste vers van die perikoop sien ons ook dat bergtopervarings verbygaan. In `n oogwink was die besondere ervaring “oor” – Elia en Moses was weg en Jesus se heerlikheid was nie meer fisies sigbaar nie.  Hulle het oorgebly – sê die teks veelseggend – met Jesus “alleen”. Die bedoeling is duidelik: die gewone lewe gaan nou weer aan en wat voorlê gaan toets of die ervaring `n verskil aan hul lewens gemaak het.

3. Die moeiliker vraag by die perikoop gaan oor die verband, en oor die plasing en betekenis daarvan in die geheelverhaal van die evangelie.  Daar is baie menings hieroor (vgl Dirk Smit se stuk).  Ek gaan na twee verwys:

  • Daar is uitleggers wat meen dat Markus se intensie met die verhaal eintlik is om te wys op die beperkte waarde van bergtopervarings.  Daar is baie mense wat meen dat hulle geloof veel beter sou wees as hulle eerstehandse ervarings met Jesus self kon hê en iets van sy glorie kon sien.  Die perikoop wil vir ons sê dat die nie noodwendig so is nie.  Hier sien ons dat so `n ervaring nie die verskil maak wat ons sou dink nie.  Petrus sien Jesus se heerlikheid, verstaan dit verkeerd en – die mees teleurstellende – verloën Jesus nogtans die oomblik as hy getoets word.  Die positiewe klem in die gedeelte – sal dié standpunt sê – lê op die woorde: “Luister na Hom”.  Ons sien nie altyd die glorie nie en moet ons nie daardeur laat verlei nie.  Wat ons sien en het, is die “gewone” Jesus alleen.  Die vraag is wat ons gaan maak met sy woorde.  Só verstaan, is daar `n betekenisverband tussen hierdie perikoop en die gelykenis van Lasarus en die ryk man (vgl Smit). Ons moet  nie die woord van die Here wat na ons almal kom, onderskat of lig opneem nie.  Dit is wat ons kry.  Die vraag is wat ons daarmee gemaak het.
  • Persoonlik meen ek dat `n mens meer positief oor die bergtopervaring moet oordeel. Die bedoeling van hierdie ervaring – so glo ek – was dat `n sien van Jesus in sy werklike grootheid en heerlikheid die drie dissipels moes help om in die komende, moeilike dae van lyding wat voorlê, gehoorsaam aan Jesus se woorde te wees.  As `n mens dit gesê het moet jy onmiddellik byvoeg dat die ervaring self nie vir ewig bly nie, dat ons moet teruggaan na die gewone lewe, en hoogstens kan hoop dat die ervaring ons sal by-bly en inspireer tot gehoorsaamheid.
  • `n Mens sou bg interpretasie van die teks kon knoop aan vele ander gedeeltes in die NT waar dit duidelik is dat geloof en navolging van Jesus juis moontlik word wanneer mense gehelp word om iets meer in Jesus te sien of te hoor as wat ander klaarblyklik sien of hoor.  Aan die einde van die Bergrede lees ons dat mense verbaas was oor Jesus omdat Hy in sy lering `n gesag gehad het wat by ander ontbreek het.  In die Evangelie van Johannes speel die “tekens” wat Jesus gedoen het die rol.  Dit openbaar sy heerlikheid – vir die wat oë het om dit te sien.  In Hebreërs 11 word vir ons gesê dat hierdie “vermoë” om te sien of te hoor wat ander nie sien of hoor nie, bepalend is vir geloof en gehoorsaamheid.
  • Daar word soms verwys na die opvallende ooreenkomste tussen die verhaal oor die verheerliking en van die opstandingsverhale (vgl Smit en sien veral Mark 16:1-8).  Daar is egter ook `n interessante verband tussen die verheerlikingsverhaal en die Hemelvaart van Christus.  In daardie sin sou gesê kon word dat die verheerliking op die berg eintlik vooruitgryp na die verheerliking van Christus wat sou volg op sy Hemelvaart.
  • As `n mens hierdie verband aanvaar, dan word die interpretasie wat in die vorige paragraaf gegee is, nog meer aktueel.  Dit kom baie naby aan die geloofservaring van Christene in die na-opstandingstyd (dus ook mense in ons situasie):
    • Hulle (en ons) word ook soos die dissipels geroep tot die navolging van Christus (Mark 8:34-9:1);
    • Wat ons het, is in die eerste plek die woorde en opdragte van Jesus.  Ook ons word opgeroep om te “luister na Hom”.
    • Of ons gaan luister of nie, hang baie af van wat ons hoor en sien as ons die verhale en getuienisse oor Jesus lees.  Aan sekere mense doen dit niks nie.  Ander se lewens word egter verander wanneer hulle in die Bybel nie net gewone verhale en woorde hoor nie, maar gehelp word om die heerlikheid van die Lewende Christus te sien…

4. `n Mens sou in `n preek oor die gedeelte ook die volgende vloei kon gebruik.

  • `n Mens sou kon begin  met die vraag hoekom dit so moeilik is om te doen wat die Here in sy woord van ons vra.  Daar is so baie goed wat ons weet ons moet doen… en tog nie doen nie. `n Mens sou dit kon illustreer aan die hand van Jesus se oproep tot dissipelskap soos ons dit hoor in Mark 8:34-9:1.  Die verse is tog baie duidelik… Daar is min daar wat ons sal kan sê ons verstaan dit nie…En tog is dit nie maklik om te doen nie. Dit is waar wat Mark Twain gesê het:  Daar is mense wat sê dat onverstaanbare tekste in die Bybel dit vir hulle swaar maak om te glo; met hom is dit anders: dit is juis die tekste wat hy verstaan, wat baie duidelik is, wat dit vir Hom swaar maak!
  • Die waarheid is dat as die Here ons nie tegemoet kom en help nie, ons op ons eie nie by geloof en gehoorsaamheid aan Hom sal uitkom nie. Gelukkig weet die Here dit en doen Hy dit – in sy genade
  • Die punt kan dan geïllustreer word aan die hand van die teksverwysings bo (oor Matt 7, Johannesevangelie en Hebr 11) en dit wat in Mark 9 gebeur. Die dissipels word as’t ware `n kykie in die hemel gegee.  Hulle kry die kans om Jesus se heerlikheid te sien – in die hoop dat dit hulle sou help om tot `n dieper geloof en `n beter gehoorsaamheid te kom.
  • In `n volgende punt sou `n mens `n eerste toepassing kon maak na ons dag toe.  As kerkmense sukkel om gehoorsaam te wees aan Christus, gaan dit nie help om harder met hulle te raas of hulle ernstiger te waarsku nie.  Hulle moet gehelp word dat hulle oë oopgaan vir Wie Jesus regtig is.
  • Ek glo dit met my hele hart.  Ook van ons NG Kerk.  Ons gesukkel met `n klomp opdragte in die evangelie – van die eenheid van die kerk tot by `n eenvoudiger lewensstyl – het te doen daarmee dat ons nie verstaan hoe groot en magtig die God wat ons dien regtig is nie.  Ons probleem is – soos JB Philips destyds gesê het – dat ons God te klein is …
  • Daarom dink ek dat die Luisterseisoen die regte medisyne vir die kerk is.  Dit help nie mense word gevra om harder te probeer nie – dit sal nie help nie.  Ons oë moet oopgaan vir wie Christus regtig is en vir wat Hy kan doen.
  • So belangrik as wat hierdie bergtopervarings is vir ons geloof, moet ons weet dat dit van verbygaande aard is.  Uiteindelik moet ons afkom van die berg en Jesus kom dien en volg in die harde werklikheid van die lewe.
  • Hoewel hulle nie meer Jesus se heerlikheid fisies kon sien nie, was Hy steeds by hulle om hulle by te staan en te help.
  • Ons kan weet dat dit met ons nie wesenlik anders is nie.  Al sien ons Jesus glad nie met ons fisiese oog  nie, kan ons weet ogv Matt 28:20 dat Hy steeds elke dag ook by ons is en dat Hy deur sy Gees ons in al ons swakhede te hulp kan kom.
  • Iemand het gesê dat in Jesus se lewe die kruis eerste gekom het en die opstanding en verheerliking daarna.  As Jesus ons roep tot navolging is hierdie orde van eers kruis en dan opstanding te swaar: dit is moeilik om ja te sê vir die pad van die kruis as jy nie weet van die werklikheid van die opstanding nie.
  • As ons Jesus reg wil navolg, moet die orde omgeruil word.  As ons goed weet en oortuig is van Jesus se heerlikheid en die werklikheid van sy opstanding, dan raak dit moontliker vir ons om Hom na te volg op `n pad waarop daar ook vir ons kruise is…

Coenie Burger

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere Preeksketse oor Markus 9:2-9

Tweede gedagtes: 2 Kon 5:1-14

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 15 Februarie 2009

 Die preekstudie eindig met die voorstel: “Vertel die verhaal van 2 Konings 5:1-14 aan die gemeente en plaas die klem op God se teenwoordigheid (oral) in die gebeure: by die vyande van Israel sowel as by Israel.  God staan agter die sukses van die heer en waarskynlik ook agter die dogtertjie se vrymoedigheid om oor haar geloof te praat en so hulp aan die aggressor te bied.  Die verklaring deur die herstelde held (v 15) oor die enigste ware God van Israel, moet ook in fokus kom…”  Ook die ander preekvoorstelle wat bespreek word beklemtoon die beheer van God oor Israel en die wêreld (Michiel van der Merwe) en die vraag of die kerk se taak nie dalk is om die “siek” geskiedenis af te buig na die man van God en God self nie (Nicolai).

My aanvoeling is dat hierdie benadering meer vrae oproep as wat uit die preekstudie blyk.  Indien ‘n mens konstateer dat God in beheer is, is die vraag onmiddelik: Waarom lyk die wêreld dan so?  Waarom moet ‘n klein dogtertjie in slawerny weggevoer word en waarom moet weerlose mense ly onder die aggressie van magtige lande – en hoe kan sulke lande se oorwinning dan nog boonop aan die Here toegeskryf word?  Wat meer is: Wat presies is die punt van Naäman se genesing en bekering?  Naäman sluit ‘n vreemde kontrak met die Here waarin hy vra om by voorbaat vir afgodsdiens vergewe te word (vers 18).  Jy kan ook nie sê dat Naäman se bekering op die een of ander manier die Arameërs meer vreedsaam gemaak het of vir Israel enige ruskans gebring het nie – want net in die volgende hoofstuk is die Arameërs al weer op die oorlogspad en is daar van die bekeerde Naäman geen spoor nie!

Jacques Ellul skryf daarom: “Yet the really puzzling thing in the story is that finally it all seems to be to no purpose…”  Hy beklemtoon: “Historical events, then, are basically incomprensible even though historians can superficially link together causes and effects…”   Ons bely dat God die Here van die geskiedenis is – maar as ons nie die geskiedenis kan deurgrond nie, hoeveel minder kan ons eenvoudig die vinger wys en aandui waarmee presies God in die geskiedenis besig is!  Vir Ellul gaan die ondeurgrondelikheid van die menslike geskiedenis saam met die vryheid van God: vryheid om Homself te ontferm oor Naäman, ‘n mens wat as vyand van Israel en man van geweld en melaatse vir menslike gevoel buite die grense van ons meegevoel lê; die vryheid om Homself oor Naäman te ontferm op ‘n manier wat Naäman self aanvanklik as vernederend ervaar; die vryheid om gebruik te maak van wat Ellul treffend beskryf as “invisible, humble interventions” wat juis deur die magtiges van hierdie wêreld heeltemal nie begryp word nie.  (Die verwysings is na Jacques Ellul se The Politics of God and the Politics of Man, pp. 23-40).

Dit laat my as prediker nogal in die verleentheid!  Verre daarvandaan dat ek die “wissels” van die siek geskiedenis sou kon probeer afbuig na die man van God en God self, dwing die teks my tot die besef dat ek glo dat God betrokke is in ons verwarrende geskiedenis, dat ek glo in sy “invisible, humble interventions” maar dat ek sukkel om aan te toon presies waar in ons wêreld God op hierdie manier besig is; en veral sukkel om te verstaan hoekom selfs God se groot dade dikwels nie lyk asof dit werklik die soort vrug dra waarop ons hoop nie.  Ek kan maar net oorvertel sonder om heeltemal te verstaan: ‘n klein dogtertjie se woorde wat lei tot ‘n magtige man se genesing – omdat God hom wil genees.

 My vraag is of hierdie verleentheid as tweede gedagte nie dalk juis heilsaam is vir die prediker nie.  In die jongste tyd het sommige Christene met groot oortuiging die hand van God gesien in George Bush se presidensie en veral sy oorlog teen terrorisme; ander Christene glo met net soveel oortuiging dat Barak Obama God se man vir die oomblik is.  Die verwagtinge wat op Obama se skouers geplaas word, is genoeg om ‘n mens te laat duisel – al glo jy ook dat die Here sy oorwinning, soos Naäman s’n, gewil het, is die kanse goed dat dit gou sal blyk dat die nuwe president, soos die “gesiene man” en “dapper soldaat” van Aram, ook maar net ‘n brose mens is.  Dalk moet ons as predikers maar liewer in die verleentheid bly staan en nederig bely dat ook Israel dikwels nie presies verstaan waarmee die Here besig is in die wêreld nie…  Maar ook bely dat sy optrede so vry, so vreemd, so onverwags is – en dikwels so nederig en liefdevol teenoor mense wat nie by ons gewild is nie (as een van Mugabe se handlangers nou by die deursnee NG dominee kom aanklop vir voorbidding…) dat dit jou asem wegslaan.

 In Christian Century kry ek ‘n aanhaling wat my nadenke oor hierdie saak saamvat.  M Craig Barnes skryf oor die pastor as digter: “I want to suggest still another image: that of the poet. I present this not as the normative or even preferred image, but simply as another biblical description of the calling of those who have been blessed with a vision that allows them to explore and express the truth behind the reality. Poets see the despair and heartache as well as the beauty and miracle that lie just beneath the thin veneer of the ordinary, and they describe this in ways that are recognized not only in the mind, but more profoundly in the soul.” 

Die volledige teks kan gelees word by http://www.christiancentury.org/article.lasso?id=6315
Andries Cilliers

Seisoen van Luister PowerPoint

Sien verdere preeksketse

Tweede gedagtes: Jes 40:21-31

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 8 Februarie 2009


 


Sekerheid in tye van onsekerheid


 


Onsekerheid skep angs, om onseker te wees grens aan ongemak, dit lei baie maal tot wanhoop en het selfs die potensiaal om tot ongeloof oor te gaan. Onsekerheid knaag aan ’n mens se psige, emosie, en intellek. Dit maak dat ‘n mens alle rasionaliteit kan verloor en soms loop dit uit op haastige gevolgtrekkings wat, sodra ’n mens weer kalm en rustig oor die onsekere en of dreigende situasie top, jou gevolgtrekking(s) lagwekkend laat lyk.


 


Dit blyk die situasie in ons gelese gedeelte te wees – Israel wat klaarblyklik twyfel oor die mag van God, Israel wat kla en wonder of God hulle situasie raaksien, en hulself afvra “gaan my reg by God verby?” (Jes 40:27). Só dien die voorafgaande verse (Jes 40:12–20) ook om aan te toon hoe Israel wonder oor God se teenwoordigheid in hul lewe, hul wonder of God hulle nie aan vreemde magte soos byvoorbeeld die regeerders en (af)gode van Babel oorgegee het nie. Dus hul gevolgtrekking – God het hulle in die steek gelaat!


 


Dit is in hierdie onsekere omstandighede met sy nadelige en ongodsdienstige gevolgrekkinge dat die profeet dit onomwonde en helder duidelik maak dat God sy troon bokant die hemelkoepel het (Jes 40:22). Die skrywer gaan verder om hierdie gedagte dat God Sy troon bokant die hemelkoepel het, te onderstreep deur aan te voer dat die aardbewoners vir Hom soos sprinkane is, God die Hemel soos ’n tentdoek oopspan om daar onder te woon (22c), dat Hy die vername mense tot niks maak (23) en dan vra hy in vers 25, “Met wie kan julle My (God) dan vergelyk, Wie is soos Ek?” Selfs die res van die verse word gewy aan die sekerheid van God, die sekerheid van God se Almag, die sekerheid van God se onvergelykbaarheid, die sekerheid van God se ewigheid, die sekerheid van God se sorg en voorsienigheid. En dit is hierdie soort van argumente wat die skrywer doelbewus gebruik om die hoorders en lesers te oortuig van sekerheid in tye van onsekerheid.


 


Die eindlose argument van die skrywer om dit wat seker is (soos God se wese, God se Almag, God se sorg, ens) te onderstreep, bevestig inderdaad die lokale en universele of kosmiese heerskappy van God. “God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane …” onderlê juis die gedagte dat God se wil/heerskappy kosmies en aards tegelykertyd is. Dit bevestig vir die onsekere een, die een wat twyfel en angstig in onsekere tye word, dat God bemoeienis maak met die skepping, in die hemel en op die aarde.


 


Daarom kan ons verstaan dat die skrywer die volk en ook ons vandag oproep om as’t ware net na die hemel te kyk, en dat hulle en ons God dan sal sien. Ook deur net na Sy handewerk te kyk, sal hulle en ons God sien – en juis deur dit wat ons in ons sien en in ons kyk bemerk, sal ons vir God ontdek, sal ons God vind en ja, sal ons van al ons onsekerhede en valse gevolgtrekkinge waartoe ons dalk in ons wanhopige en angstige oomblik gekom het, ontslae raak.


 


Vandag is daar genoeg dinge wat ons tot onsekerheid en valse gevolgtrekkings kan lei. Om maar net ‘n paar voorbeelde aan te haal – daar is die swak en dreigende verswakking van die ekonomie; daar is die realiteit van voortdurende besnoeiing van die arbeidsmag, kos en petrolpryse wat weer die hoogte kan inskiet; wetgewing wat drankverkope op Sondae kan wettig; die uiteenlopende teologiese standpunte oor kerkeenheid, die doop, homoseksualiteit en die belang en nodigheid van die Belhar Belydenis; die  spanning rondom die onlangse politieke gebeure – onder meer die herroeping van die voormalige  president, Thabo Mbeki, die stigting van COPE, die geregtelike en morele wolk wat hang oor die ANC-president Jacob Zuma en sy aanspraak op die presidentskap van die land, asook  die vrees dat geweld nader aan die verkiesing kan eskaleer. Daar is die onmenslike lyding van die inwoners van Zimbabwe en die politieke twis wat nie tot ‘n humanitêre ooreenkoms kan gedy nie, en dan die Midde-Oosterse konflik wat teen hierdie tyd al meer as die twee groepe betrek het. (So kan die lys van dinge wat onsekerheid wek, aangevul word).


 


Dis alles dinge wat ’n mens kan noop om nie net onseker te wees oor die dag van môre nie, maar jou ook kan laat twyfel in die rol van Christene, Christelike gemeentes en die geloofsgemeenskap in die breë – en selfs in die bestaan, trou en sorg van God, wat weer kan bydra daartoe dat ons lagwekkende gevolgtrekkings sou kon maak. 


 


Dus geld die oproep van die profeet – kyk na die hemel … God het sy troon bokant die hemelkoepel – sy heerskappy geld in die hemel en op die aarde – sy sorg en trou is van krag in die hemel en op die aarde – ja weet God is ewig – Hy is die Skepper, Hy word nie moeg, en Hy raak nie afgemat nie, sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag en Hy versterk die wat nie meer kan nie – ja, jongmanne word moeg en raak mat, manne struikel en val, MAAR dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg, hulle loop en raak nie afgemat nie – want God het sy troon bokant die hemelkoepel en Sy heerskappy geld in die hemel en is van krag op die aarde.


 


Daarom kan ons in tye van onsekerheid, seker wees – oor God, sy heerskappy, sy sorg en trou. Kan ons hoop koester en mag ons reeds nou, te midde van al die onsekerhede, in blydskap en sekerheid oorgaan tot aanbidding van die sekere, troue en sorgsame God!


 


Donald Katts (Volkskerk in Afrika)


 


Seisoen van Luister PowerPoint

Tweede Gedagtes: Deut 18:15-20

Written by Admin on . Posted in Verder geluister


Sonder om breedvoerig te kommentarieer, is daar die volgende resente koerantartikels wat myns insiens die sentrale gedagtes van Deut 18 oor die ware en valse profete en die rol van profesie van verskillende kante af belig. Enige van hierdie artikels kan die teks aktueel maak binne ons eie konteks.


‘Churches should get their hands dirty’ – South African theologian


South African theologian Dr Nico Koopman believes churches need to expand their prophetic role in society.


Beyond offering public criticism and visions of a good society, Christians should engage in the analysis and work required to achieve it, he says.


Nico is professor of Public Theology and Ethics at the University of Stellenbosch’s Centre for Public Theology. He was in New Zealand in May.


He describes public theology as making public the rationality and relevance of the Christian faith.


“From a Christian perspective God created the whole world, God loves the whole world, and God is actively at work in the world. We must pay attention to what God is doing in the Church and in the world,” Nico says.


“Science, medicine, technology and other human achievements are wonderful gifts of God. The Church must celebrate them as part of the work of God.


“Theologians ask different questions than natural scientists. But the answer to these questions can help us understand and deal with the complexity of life.


“Christians cannot prove their faith through logic or science. The whole idea is that we believe, so we come from the position of faith. Today, however, most reliable scientists say there is more to truth and reality that we can empirically prove with our senses. Contemporary approaches to science recognise that if we cannot empirically prove something, it can still have meaning.”


In South Africa, Christianity has had a very public role. During the Apartheid years, one branch of the church supported Apartheid but Black and Coloured Reform Churches opposed it.


During the transition years in South Africa the churches also played important roles in the Truth and Reconciliation Commission and developed theologies of reconstruction to help build a new society. These theologies emphasise human dignity and human rights to overcome racism, classism, sexism, homophobia and xenophobia.


Nico says recent attacks on foreigners in South Africa have highlighted the problem of xenophobia. Churches need to reject what is happening but they cannot be watchdogs who just criticize.


“Churches need to work with other institutions in civil society such as government, business, trade unions and the media. We need to counter Afro pessimism that comes from the poverty gap between rich and poor. We need to work with other churches to help create jobs.”


Churches can also participate in policy making. The South African Council of Churches, Quakers, the Catholic Bishops’ Conference and the Reformed Churches all have offices at parliament and liaise with policy makers.


Churches also provide diaconal services and help government deliver resources to the poorest communities. They are the strongest NGOs and the most trusted institutions in South African society. They are also joined in the efforts to counter AIDS.


“Churches can have a priestly public role by the way they care for poor people and AIDS victims and express their solidarity. Churches can offer a vision of a new society and nurture hope,” Nico says.


“But we must think more comprehensively about how we are prophetic. Being utopian is not enough. We have to get our hands dirty, carry out technical, political and economic analysis, and participate in debates about policy making.”


 17/01/2009 11:59  – (SA)  
Bush, Obama en godsdiens
Danie Langner     


Met die einde van George W. Bush se verblyf in die Withuis in sig is dit duidelik dat hy veral vir drie dinge onthou sal word:


* Hy was op 11 September 2001 die man in die Withuis.


* Sy stryd teen terrorisme het die wêreldtoneel verander.


* Die rol wat konserwatiewe Christene in sy termyn gespeel het.


Laasgenoemde is nie so opsigtelik nie, maar het die wêreld nuut gedefi-nieer.


Ná Bill Clinton se Lewinsky-eskapades was die tyd vir Bush ryp om konserwatiewe Christene in ’n magtige politieke beweging te mobiliseer. Bush se visie om Amerika uit te bou as “ ’n huis van geloof” en sy belofte van morele herlewing is as evangelie verkondig.


Richard Nixon, Jimmy Carter en Clinton was ook onbeskaamd Christene, maar pragmaties met praktiese politiek. Bush het egter anders as sy voorgangers maatskaplike en wêreldvraagstukke met ’n konserwatiewe geloofsbril op benader. In g’n ander administrasie is soveel Bybelstudie gedoen en gebeds-byeenkomste gehou nie. Konserwatiewe kerkleiers is met ope arms verwelkom en wêreldleiers is gekonfronteer met hul persoonlike geloofsbeskouing. Bush se toesprake was deurspek met aanhalings uit Psalms en Christelike terme, soos “wedergebore, roeping, raadsplan, herlewing, krag van gebed”.


Geloof was vir Bush egter veel meer as ’n politieke strategie. Ná mislukte saketransaksies, huwelikspanning en amper-alkoholisme het Bush ná sy bekering op 40 prontuit getuig hoe geloof sy lewe verander het.


Dit was egter eers ná 11 September 2001 dat Bush se Psalm-geloof oorgegaan het in ’n vergeldingsteologie wat hy begrond het op sy begrip van Psalms. Wie nie vir ons is nie, sal die gevolge dra, het die grondslag geword van die Bush-doktrine.


Hy het verder gegaan deur God vir die Amerikaners toe te eien. Bush het Amerika getipeer as “die draer van God se lig” en “die bastion van die Christelike beskawing” wat “ ‘n Goddelike opdrag” het om die wêreld van “goddeloses” en “vyande van God”, soos Saddam Hoesein, te bevry. Selfs in die donkerste tye was Bush verseker van oorwinning, want “God sal in Sy toorn reg laat geskied aan die regverdige”.


Bush het Amerika voorts in die taal van die kerkvader Augustinus opgeroep vir ’n Christelike heilige oorlog teen “die magte van die duister”. Augustinus se kriteria vir ’n Christelike heilige oorlog was:


* Dit moet onder die gesag van ’n Christelike leier gevoer word;


* ’n Regverdige saak, soos selfbeskerming, moet die oorlog noodsaak, nie wraak of oorheersing nie;


* Daar moet ’n redelike kans op sukses wees; en


* Die skade van die oorlog moenie erger as die aanvanklike aggressie wees nie.


Carter het gewaarsku dat die Irak-oorlog nie ongekwalifiseerd voldoen aan Augustinus se kriteria nie, maar dit het op dowe ore geval. Bush se teologie het nie net Amerika nie, maar die wêreld op godsdienstig-ideologiese grondslag verdeel. Om dié rede leef ons vandag in ’n gevaarliker gepolariseerde wêreld.


Het die tyd vir genesing van hierdie godsdienstig-ideologiese verdeling aangebreek wanneer Obama die Withuis Dinsdag betree?


Obama het die invloed van godsdiens in die politiek beter as sy Demokratiese partygenote verstaan. Drie historiese skuiwe het dit vir Obama moontlik gemaak om ’n nuwe vorm van liberale geloofsgegronde politiek te ontwikkel in reaksie op die konserwatiewe Christene se godsdienstige monopolie:


* Bush het selfs onder konserwatiewe Christene toenemend ongewild geword;


* Die politieke mobiliseringsvermoë van konserwatiewe Christene is ondermyn weens ’n reeks skandale van hul kerkleiers:


* Die jonger postmoderne generasie het nie net weerstand teen die kerk as institusie ontwikkel nie, maar vir hulle is geloof meer informeel, verhoudingsgegrond en prakties. Meningspeilings het beduidend aangetoon dat die jonger Christene meer na die Demokratiese Party se oper, regverdiger en verdraagsamer samelewing neig.


Obama het die jong Christene ’n godsdienstige stem begin gee deur nie net die belangrike rol wat die Christelike godsdiens in die samelewing speel te erken nie, maar selfs te pleit dat geloof ’n groter rol behoort te speel in die vorming van kinders se morele waardes.


As kind het Obama juis godsdiens in sy eie opvoeding gemis. Sy Keniaanse pa, wat die gesin verlaat het toe Obama twee was, was ’n gebore Moslem wat later ’n ateïs geword het. Obama is grootgemaak deur grootouers wat kerkloos was. Sy ma was skepties oor georganiseerde godsdiens en het geloof bloot beskou as ’n belangrike krag in die geskiedenis. Tot in sy studentejare was dit ook Obama se siening van geloof.


Eers toe Obama as maatskaplike werker betrokke geraak het by kerke se opheffingsprogramme het hy bewus geword van sy eie geestelike honger. Hy het ’n lidmaat van die Trinity United Church of Christ in Chicago geword. In dié kerk het hy nie net tot bekering gekom nie, maar ook kennis gemaak met Jeremiah Wright se Afro-sentriese teologie.


Deur Wright se dinamiese preke is Obama gekonfronteer met die woede en frustrasie van swart Amerika teenoor wit Amerika. Hoewel Obama niks te doen wou hê met die radikale elemente van Wright se teologie nie, was die kerk vir hom ’n voorbeeld van ’n geloofsgemeenskap wat sy maatskaplike verantwoordelikheid teenoor behoeftiges nakom.


Die kerk se historiese betrokkenheid by die Amerikaanse burgerregtestryd en sy vermoë om linkse Christene aktivisties te mobiliseer was vir hom ’n bron van inspirasie.


Die liberale Afro-sentriese teologie het Obama ook ruimte gebied vir twyfel, die bevraagtekening van die Bybel se onfeilbaarheid en ’n gesamentlike soeke na die waarheid deur ander gelowe en groepe.


Waar konserwatiewe Christene fokus op persoonlike roeping, gebed en sending het Obama, en liberale Christene soos hy, geredeneer dat geloof eerder gefokus moet wees op praktiese dade wat ’n samelewing (en selfs ’n land) kan verander deur hoop te skep in wanhoop. Met dié boodskap van hoop het hy nie net die harte van ’n nuwe geslag jong Christene verwoord nie, maar ook die verkiesing gewen.


Met sy teologie wil Obama nie soos Bush God soseer aan Amerika se kant plaas nie, maar eerder aan die kant van die arme en verontregte.


Omdat individuele regte die uitgangspunt van sy teologie is en nie die gesag van die Bybel nie, bied die liberale teologie Obama ruimte om meer radikaal standpunt in te neem ten gunste van gay-huwelike en aborsie. Dit kan lei tot nuwe verdelingslyne in ’n samelewing wat die konserwatiewe godsdienstige front kan verenig.


Godsdiens het ’n kritieke faktor geword in die politiek van die 21ste eeu. Die godsdienstige uitgangspunte van Amerikaanse presidente het ’n groot invloed op wêreldpolitiek.


Gaan Obama daarin slaag om met sy geloof hoop te skep in ’n wêreld van oorlog en terreur? Gaan hy daarin slaag om die harde Amerikaanse kapitalisme se fokus te verskuif na armoedeverligting, maatskaplike opheffing en ’n groener samelewing? Gaan Obama met sy boodskap van hoop die kloof tussen konserwatiewe en liberale Christene oorbrug, of verder verdiep?


* Danie Langner het ’n doktorsgraad in kerkgeskiedenis en is uitvoerende direkteur van Solidariteit se Helpende Hand Fonds.


 


24/01/2009 21:18  – (SA)  
Nuwe besem in Withuis laat nie op hom wag…
Leopold Scholtz    


Brussel


Dit was reeds binne enkele ure ná sy inhuldiging die afgelope week in Washington duidelik: Die nuwe inwoner van die Withuis wil dinge laat gebeur – en hulle vinnig laat gebeur. En reg van die begin af het pres. Barack Obama laat blyk dat hy ’n heel ander rigting as sy voorganger oudpres. George W. Bush wil inslaan.


Onder die maatreëls wat hy in die eerste drie dae van sy bewind afgekondig het, is:


• Hy het die militêre vervolgingsgesag versoek om alle sake teen vermeende terroriste vir 120 dae te staak sodat elke geval afsonderlik bekyk kan word;


• Hy het aangekondig dat die gevangenis by die militêre basis Guantánamo in Kuba, waar vermeende terroriste al jare lank sonder verhoor aangehou word, binne ’n jaar gesluit sal word;


• Hy het bekend gemaak dat alle marteling van gevangenes onmiddellik ’n einde sal kry. Dit behels praktyke soos om mense dae lank wakker te hou, om hulle seksueel te verneder of om hul kop onder water te druk totdat hulle amper-amper verdrink;


• Nuwe, aansienlik strenger etiese reëls is afgekondig vir medewerkers van die Withuis;


• Twee veteraan-diplomate, mnre. Richard Holbrooke en George Mitchell, is aangewys as spesiale gesante om Afganistan/Pakistan en Israel/Palestina dop te hou; en


• Obama het intensief met sy eie raadgewers en kongresleiers beraadslaag om sy ekonomiese regrukplan ter waarde van $750 miljard deur die wetgewende gesag goedgekeur te kry.


Obama het reeds in sy inhuldigingstoespraak laat blyk dat die Amerikaanse buitelandse beleid afsien van die Bush-benadering om militêre dwang as oplossing vir alle probleme te beskou. Aan die Islamitiese wêreld het hy gesê Amerika strek ’n oop hand uit, en hy hoop die Moslems antwoord nie met ’n gebalde vuis nie.


Ian Nell


Seisoen van Luister PowerPoint



 

Tweede gedagtes: Jona 3:1-5

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 25 Januarie 2009


Inleidend


Eddie Orsmond skryf in sy werklik uitstekende preekstudie oor Jona 3:1-5, “Die fokus van Epifanie op God se verskyning in ons wêreld en die lig wat God in die donker van ons bestaan bring, daag die prediker uit om gestaltes hiervan in ons teks te ontbloot.”


 


Mense het nog altyd gewonder oor donker en lig. Hoe versoen ons lig en donker met mekaar? Hoe versoen ons God en die kwade met mekaar? Straf God?


 


In die geval van die verhaal van Jona lyk dit asof God wil afdreig deur die belofte van komende oordeel. Die gaping tussen ons wêreld en dié van Jona blyk dalk net té groot te wees. In vandag se tyd, waar almal ten alle koste polities korrek moet dink en leef, word die antieke tekste dikwels ‘n verleentheid. Tóg is die skoonheid en trefkrag van die Bybel juis daarin geleë dat dit nie die grille en giere van ons tyd slaafs navolg nie. Om die waarheid te sê, die andersheid van die Bybel en die komplekse web van tekste en hulle wêrelde kom juis na ons toe as Bevrydende Waarheid.


 


In hierdie ruimte wat Communitas geskep het, kan mens darem maar lekker speel! Waar Eddie se studie baie goeie teologiese perspektiewe genereer, wil ek nou so ‘n bietjie by die kunstenaars gaan kuier. Mens sê die onsêbare mos baie keer raak met die hulp van die kreatiewe gryptaal van die kreatiewes onder ons!


Binne hierdie speelse ruimte kies ek nou om my bydrae te fokus op die vraag of daar nog iets soos God se oordeel vir christengelowiges vandag is. Of is dit ‘n agtergehaalde en outydse, selfs bloot Ou-Testamentiese geraamte in ons Bybelse kas? Hier is my invalshoek dan nou:



Die waarheid: Lig én Donker – om die skerpioen se rug te streel


Wat beteken God se oordeel? As jongmens het dit vir my te dikwels gelyk asof gelowiges op ‘n soort masochistiese manier genot geput het uit oordeelsprediking. Miskien was dit maar omdat ek tot ‘n ander generasie behoort het, maar hierdie soort verstaan van God het my heeltemal afgesit. Maar hoe moet ek God se oordeel dan verstaan?


En toe dink ek aan ‘n toneel uit Etienne van Heerden se roman, Die swye van Mario Salviati.


Jonty wil hê Ingi moet ‘n ou verlate huis besoek wat aan sy voorgeslagte behoort het. Die mense sê dat ‘n mens die voorgeslagte se skaduwees nog daar kan sien rondbeweeg. Ingi is bang om te gaan.


“En nou?” Hy steek vas, want hy was al op pad na sy voordeur om die sleutel binne te gaan haal.


“Ek…ek…” stamel Ingi.


“Ja?” vra hy met opgetrekte skouers.


“Ek is nie goed met skaduwees nie.”


“Jy is ‘n skilder. Jy sal moet gaan kyk. Want as jy nie met skaduwees kan werk nie, kan jy ook nie met lig werk nie.”


Toe besef ek: Dít is wat dit beteken om te staan onder die oordeel van God. Om onder God se oordeel te staan beteken om na ‘n plek gebring te word waar ‘n mens met die waarheid van jou lewe gekonfronteer word. Om onder God se oordeel te staan, is om te gaan waar jy nog nooit was nie. Dit is om die huis van skadu’s van jou eie lewe binne te gaan… Dit is om die moed te hê om die skadu’s van jou eie lewe te konfronteer.


“Jy is ‘n skilder. Jy sal moet gaan kyk. Want as jy nie met skaduwees kan werk nie, kan jy ook nie met lig werk nie.”


Dit beteken dat God se oordeel vloei vanuit dieselfde bron as dié waaruit al sy ander Goddelike eienskappe vloei: Liefde, hoop, genade, vergifnis, en veral genesing. Om jou eie skaduwees raak te sien moet jy in die lig staan – God se lig. Op ‘n manier hoort lig en skaduwees saam. En dit is waar die waarheid van jou lewe gebeur. Almal skram maar weg van die waarheid van hulle lewens. Want die waarheid maak soms seer. Baie mense ontvlug. Ag, daar is soveel metodes: Drank, dwelms, ‘n geheime verhouding, my werk. Alles pogings om die skaduwees van my lewe te omseil.


Op negentienjarige leeftyd skryf Dylan Thomas die volgende in ‘n brief in 1933 aan ‘n vriend,


“Now I am telling you to delve deep, deep into yourself until you find your soul, and until you know yourself. The true search for the soul lies so far within the last circle of introspection that it is out of it. You will, of course, have to revolve on every circle first. But until you reach that little red hot core, you are not alive. The number of dead men who walk, breath, and talk is amazing.”


Dylan Thomas sê mense wat bang is vir hulle skaduwees is wandelende dooies. As jy ophou foute maak, as jy ophou pyn voel … is jy dood. “The number of dead men who walk, breath, and talk is amazing.”


In dié sin is om onder die oordeel van God te kom staan, om te lewe. Om jouself opnuut en kragdadig daaraan oor te gee deur te sê: Ek wil lewe! in God se lig… al beteken dit dat ek my skaduwees teen die mure sien.


Om onder God se oordeel te staan beteken om eerder jou skaduwees te konfronteer as om ‘n vinnige ompad te vind. Dit beteken jy kies om te lewe met pyn en seerkry… eerder as om daarsonder te wees en te ontdek – iets in my het al lankal gesterf.


Om te ervaar hoedat God aan my lewe skuur en skaaf is om te sê: Die lewe kan maar skop; ek skop terug!


Jy sien, uiteindelik is dit om te stry teen die dood self. En niemand sê dit beter nie as Dylan Thomas in sy gedig, Do not go gentle into that good night. Dié gedig skryf hy aan sy pa wanneer sy pa op sy sterfbed lê.


 


Do not gentle into that good night,


Old age should burn and rave at close of day;


Rage, rage against the dying of the light.


Though wise men at their end know dark is right,


Because their words had forked no lightning they


Do not go gentle into that good night.


And you, my father, there on the sad height,


Curse, bless, me now with your fierce tears, I pray.


Do not go gentle into that good night.


Rage, rage against the dying of the light.


 


Om onder God se oordeel te staan, is om onder die goeie God se genesende hand te staan. Soms maak dit seer. Maar dit maak gesond. Dit maak heel.


 


In Etienne van Heerden se Die swye van Mario Salviati, is Jonti ook bang vir sy verlede. Hy vermy dit, en hy ontvlug dit. Maar daar kom ‘n tyd dat hy ook sy skaduhuis moet binnegaan.


 


Hulle begin met die paadjie afstap. Hulle praat nie, maar hy kyk een keer, voordat hulle by die konsertinahek kom, om.


 


“Ek gaan die skerpioen se rug streel” sê Jonty.


 


Om onder God se oordeel te staan is om die skerpioen se rug te streel. Dit vra moed. Dit vra geloof.


Dit vra eerlikheid.


 


Streel die skerpioen se rug!


 


André Agenbag


 


Luisterseisoen PowerPoint


Verdere Preekverwysing

1 Sam 3:1-10

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Hoor God se stem in die jonges!


Eerste opmerkings
’n Week of so gelede ontmoet ’n paar van ons dominees vir Cassie Carstens. Hy vertel ons van sy roeping: Ubabalo eAfrica. (The objective is to transform African youth through whole life coaching. Aspiring young adults will be identified and trained to coach soccer skills). Carstens sê dat die gemiddelde ouderdom van al Afrika se inwoners 17 jaar is. Dit is so asof ek voorberei word vir Sondag se fokusteks uit 1 Sam 3.


Op Groot-Brakrivier het ek na tieners se vrye tyd besteding en behoeftes geluister … Die tieners se respons was skokkend. Sien artikel: Tieners drink, het seks in hul vrye tyd en droom oor ’n veilige plek. http://www.dieburger.com/Stories/Opinion/18.0.994940051.aspx.


My oog val Donderdag op dié berig met foto’s:


Gasastad. – Byna ’n derde van die 689 Palestyne wat tot dusver in die Israelse aanvalle gesterf het, is kinders, het mediese personeel gister gesê. http://www.dieburger.com/Stories/News/World/19.0.1201209020.aspx 



En Saterdag sien ek op Mail & Guardian – online die prentjie:
Building for the future Five-year-old Obvious Ncube of Krugersdorp builds blocks at the Johannesburg School for the Blind on Monday. Blind South Africa president Cathy Donaldson visited the school to mark the 200th anniversary of the birth of Louis Braille, inventor of the Braille raised-dot reading system for the blind. (Werner Beukes, Sapa)



Eerste beweging
Die boodskap kan afskop deur begrip vir en besorgdheid oor ons kinders/tieners (voortaan jonges) te toon.

Dit is nie maklik om hulle ervarings te verwoord nie. Die jonges moet geleentheid kry om dit self te vertel. Hulle word gekonfronteer met groepsdruk, selfmoordneigings, depressie, dwelmafhanklikheid, gesinsgeweld, ens. Dink ook aan die jong slagoffers van armoede, oorlog, seksuele misdryf, cholera, TB en HIV/vigs. Daar is wel die slegte goed wat die jonges self oor hulle bring of teenoor ander doen, soos die misdaad wat Eli se korrupte seuns gepleeg het (1 Sam 2). Maar dan is daar ook besonder mooi goed wat ek by die jonges sien. Hulle kan gesonde pret hê.
In die verhaal (1 Sam 3) rig die Here Hom tot ’n naïewe en bang seun. Sy wêreld is hard en onvergeeflik. Samuel word geroep in ’n tyd van geestelike leegheid, godsdienstige korrupsie, politieke gevaar en sosiale onrus (Daniël de Wet, Preekstudies 2008/2009.)


Tweede beweging
Die Here sien Samuel se potensiaal raak en waag dit om hom as ‘n “champion” aan te stel. Dit klop met God se geaardheid om op ‘n verrassende manier en op die oog af ‘n onlogiese keuse, Samuel as profeet te roep. Dink aan ander jonges soos Gideon, Dawid en Maria…
God se stem wat afwesig was, word weer deur die mond van ’n seun gehoor. Die verhaal ontwikkel vanaf die Woord van die Here wat min gehoor was (vers 1) tot waar Hy Hom aan Samuel deur sy woord geopenbaar het (vers 21). Die Here gebruik nie Eli as ervare priester van die tempel (dominee van die kerk) nie, maar ’n onervare kind as tussenganger.
Die verhaal staan nie stil by God wat Hom teen die korrupsie (hoofsaaklik die sonde van Eli se seuns in 2:17) verset nie, maar deur ‘n kind begin Hy weer nuut. So asof dit ’n oefenlopie is van Jesus se koms.
Die Here onderskat nie jonges se roepingsbewussyn en toewyding nie.


Derde beweging
God is getrou en instaatstellend. Ons as sy kinders kan Hom vertrou.
Ons volwassenes se roeping is dalk by uitstek om ruimte in die gemeente te skep om na ons jonges te luister. Met ons geloofwaardigheid wat vertroue inboesem, kan ons hulle geleentheid gee om met nuwe inisiatiewe te waag en in geloof en onderskeiding te groei. So begin ons saam as kinders van die Here weer nuut.
Ek kan nie anders as om God se stem in ons jonges te hoor nie, hoor jy dit?


Laaste opmerkings
’n Paar vriende het hul gedagtes oor die verhaal met my gedeel:
“God wys ons moet nie die jeug gering skat nie; God praat altyd met ons, ons weet net nie altyd dis Hy nie”, sê ’n sakeman.
“Samuel word as profeet van die Here beloon deur na Eli te luister” sê ’n tienerdogter.
“Die verwagting is dat die Here deur die strukture (priesterorde in die verhaal) werk, maar baie keer werk Hy buite dit. Ons moet versigtig wees om te sê dis nie die Here nie – ’n goeie voorbeeld is Angus Buchan; Die Here roep baie keer eenvoudige mense sonder aansien. Eli faal as ouer maar lei Samuel tot die Here. Dis nodig in die kerk dat volwasse gelowiges die jongmense se roeping herken en hul dissipel” sê ’n sendeling uit Mosambiek.
“As ma van twee sou mens dink jy het al genoeg gegroei in die Here om darem sy stem te kan hoor. En soms is dit tog steeds nie so maklik nie! My 8-jarige seuntjie, Timon kom vertel nou die dag in alle opregtheid dat hy dink die Here se wil vir hom is om rugby te speel. Ek glimlag en dink:” Ja my kind, dit sal die Here se wil moet wees as dit gebeur, want jy is nou nie die sportiefste nie!”. Dis so “cute” dat hy as agtjarige aan die Here se wil vir hom dink. Al “hoor” hy dalk verkeerd! En toe besef ek: “Ons sal dit ook soms mis, maar dit beteken nie ons Vader skryf ons af nie. Ek’s seker Hy dink ons is ‘cute’”.


Pieter van Niekerk – VGK Friemersheim


Seisoen van Luister PowerPoint