Tweede gedagtes: Mat 16:21-28

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

(Laai die PowerPoint/Word aanbieding van die Seisoen van Luister hier af)

Ek het Andries Hoffman se stuk in die Leesrooster goed en deurdag gevind en kan dit regtig aanbeveel.

1.  Onder Teks en konteks
gee hy `n goeie gebalanseerde weergawe van die belangrikste groter
kwessies wat in die stuk aan die orde kom en ek het gedink dat sy preek
(gerig op Barmhartigheidsondag) ook baie bruikbaar en verantwoord is.  Ek
het gehou van die manier waarop hy Jesus se lyding en ons bereidheid
tot lyding, kruisdra en opoffering koppel aan die barmhartigheid van
Jesus teenoor mense in nood. Hy verbind dit aan ander gedeeltes in die
Matteus-evangelie nl 25:31-46.  `n Mens sou ook die
perikoop aan die einde van Matt 15 (net voor die huidige hoofstuk) wat
gaan oor die vermeerdering van die brood hiervoor kon gebruik.

2.  Ons het hier inderdaad met `n belangrike perikoop in die Matteus-evangelie te doen.  Van
die kommentare meen dat die groot verdeling in die boek tussen hierdie
perikoop en die vorige een lê. Die vorige deel (Matt 1-16:20) handel
oor die eerste deel van Jesus se lewe en kulmineer in Petrus se
belydenis dat Jesus die Christus is.  By 16:21 begin die
tweede deel van die boek:wat vertel van Jesus se pad na die kruis – en
die “onbegryplike onbegrip” van die dissipel wat nou net sy naam reg
bely het.  Ander kommentare wys weer op die verband van
die twee perikope waarin eers die belangrikheid van `n regte leer en
belydenis (vs 13-20) en dan die belangrikheid van `n regte lewe en
etiek (vs 21-28) beklemtoon word.

3.  Ek kon aan `n hele paar temas vir die preek dink.  Benewens
Andries se lyn sou `n mens die temas van regte leer en lewe (soos bo)
kon neem. Dit is ook moontlik om aan die hand van die beroemde vs 24 te
preek oor dissipelskap en die eise van dissipelskap. In die verband kan bronne soos Bonhoeffer se “The Cost of Discipleship geraadpleeg word. 

4. Vir my was dit nie verband nie maar die kontras tussen die twee perikope in vs 13-28 wat opvallend was.  In die eerste perikoop kry Petrus dit reg om Jesus te herken vir wie Hy is – iets wat vir vlees en bloed nie moontlik is nie.  Dit wil lyk of Jesus se plan werk en vrugte afwerp…  Jesus
gaan so ver om Petrus en sy belydenis deel te maak van sy plan en die
sleutels van die koninkyk aan hom te oorhandig. `n Ontsaglike
verantwoordelikheid en eer.

 

En
dan – in die volgende toneel – as Jesus oor sy verdere pad praat en sy
lyding aankondig, is dit dieselfde Petrus wat in sy pad kom staan en
vir Hom en sy koninkryk `n probleem en `n struikelblok word.  Dit
is sterk taal wat Jesus hier gebruik: Petrus is nie net niks werd vir
Hom nie; Petrus het inderdaad `n skandalon, `n verleentheid,  `n probleem, `n steen van struikeling geword. Die woordspeling met rots is hier duidelik bedoeld. Die “rots” kan (en het!) `n “steen van aanstoot” geword.

 

Dit is verskriklik ontstellend dat dit moontlik is. En as dit in Jesus se tyd met een van die dissipels kon gebeur, kan dit seker ook in ons tyd met ons gebeur.

 

Dit kan gebeur dat Jesus se kerk sy grootste probleem word…

 

5.      Lyn vir preek:

As ons diè invalshoek vir die preek gebruik, sou die volgende lyn gevolg kon word:

a.      Onverwagse moeilikheid: die bedreiging kom nie altyd van buite nie

In
die eerste punt sou `n mens in lyn met die paragrawe bo by pt 4 die
verhaal van vs 13-23 kon vertel en wys hoe maklik Christene wat die
Here reg bely, in die pad van sy wil en weg kan kom

 b.      Dit gebeur as ons die dinge van mense en nie die dinge van God bedink nie

Ek
het nogal gedink dat Jesus se woorde aan die einde van vs 23 baie mooi
en raak formuleer wanneer en hoekom goed verkeerd loop.  Ons word `n probleem en verleentheid vir die Here en sy kerk as ons nie God se dinge bedink nie, maar die dinge van die mense. 

Ons almal weet hoe maklik dit kan gebeur. Ons wil Christene wees, maar ons het die wêreld met al sy verleidings nog so lief.  Die
dinge waaroor ons dink en droom, waarna ons verlang en wat ons begeer,
is nie altyd die dinge van God nie maar dikwels die dinge van die mens.

Augustinus help ons om ons fout hier te verstaan as hy `n onderskeid maak tussen “gebruik” en “geniet”.  Die
Here se gedagte was, sê Augustinus, dat ons die dinge van die wêreld
sal gebruik om die Here en sy goedheid te geniet. Ons draai dit om en
gebruik die Here en sy goedheid om die dinge van die wereld te kry en
te geniet.

Dit kan ons ook  help
om te verstaan dat ons navolging van Christus `n pad is waarop die Here
ons aanmekaar na dieper vlakke van gehoorsaamheid lei.  Om op die uitkyk te wees hiervoor en leerbaar te wees is `n baie groot deel van dissipelskap.  Ek
dink hier aan die onderskeid wat Kierkegaard gemaak het tussen
bewonderaars van Jesus, leerlinge van Jesus en dissipels van Jesus.  Op die lange duur soek Jesus nie net bewonderaars en leerlinge nie, maar dissipels.  Dis hulle wat Hom help en regtig `n verskil maak. 

 c. Die groot moeilikheid is dat ons verkeerd dink oor lyding

In hierdie gedeelte het Petrus se huiwering te doen met hoe hy dink oor lyding.  Hy
verstaan nie dat die Messias moet ly nie en probeer heftig om Jesus te
keer. Uit Jesus se nog heftiger reaksie is dit duidelik dat die lyding
nie iets is waaroor daar ander opsies sal wees nie. Lyding is eenvoudig
deel van die lewe – en deel van die verlossingsplan.

Waaroor gaan hierdie lyding?  Dit
gaan nie bloot toevallig oor lyding of daaroor dat Jesus `n heroise
tragiese held wil wees. Hoewel dit nie in die perikoop duidelik gesê
word nie, weet ons dat Jesus se lyding te doen het met mense se lyding
en ons verlossing uit die lyding.  Dit is op die punt dat
ek baie waardering vir Andries Hoffmann se konneksie tussen Jesus se
lyding en die nood van die wêreld gehad het.

Ons sou kon sê dat ons hier die hart van God sien.  Ons God is `n God wat nie kan verbystap by nood, seerkry, ellende en wanhoop nie. Hy kan
nie sy oë daarvoor sluit nie; Hy moet gaan help – al kos dit Hom ook
pyn en lyding en die dood. As ons die hart van God sien, sien ons ook
waaroor die lewe gaan.  Die lewe gaan nie oor plesier of prestasies of oor topervarings of geld nie.  Die groot vraag is of ons kon omgee vir mense in nood soos Jesus dit gedoen het. As ons dit nie kan doen nie, verstaan ons min van die lewe.

Die
toepassing op ons situasie sal nie swaar wees nie: Dit is presies ons
huiwering en vrees vir lyding wat maak dat ons soms in die pad van die
evangelie kom. Ons wil `n lekker goeie gemaklike lewe hê en is nie lus
vir sukkel nie.  Doug Hall praat van ons Westerlinge se
“incapacity to suffer”. Vir baie mense is die vermyding van lyding die
belangrikste motiveerder of dryfveer van hul lewens.  Baie van ons dink dat mense `n reg het om nie te hoef ly nie. 

As dit is waar ons is, is ons in groot moeilikheid.

 d. Dissipelskap: Christus se lyding en ons s’n

In
vs 24 spel Jesus dan vir die dissipels uit wat Petrus heimlik gevrees
het en wat die ander begin vermoed het: as daar `n kruis op sy pad is,
moet ons nie te groot skrik as daar ook kruise op ons pad kom nie.  Ons
kry dan die beroemde verduideliking van wat dissipelskap beteken:
selfverloëning, kruisdra en die navolging van Jesus. Dit sal goed wees
as ons `n oomblik by elkeen van die uitdrukkings kan stilstaan.

As
Jesus se lyding nie maar `n vorm van masochisme is nie, maar te doen
het met die lyding van mense, is dit ook waar van ons kruisdra en
lyding.  Dissipelskap het nie te doen met irrasionele eise
wat bloot ons gehoorsaamheid en offervaardigheid toets nie, maar onder
die eis van Jesus sal altyd die vraag sit hoeveel ons omgee vir ander.  Die
vraag is nie net of ons Jesus sal navolg nie, maar of ons soos Hy sal
omgee en help tot op die punt waar ons seerkry en gevra word om onsself
te verloën.

 e. `n Weg na die lewe

Dat
hierdie oproep tot dissipelskap nie `n sware eis is nie, maar deel van
die evangelie, verstaan ons uit die volgende twee verse: vs 24 moet
altyd gelees word saam met vs 25 en 26. Hier spel Jesus vir ons een van
die vreemde reëls van sy koninkryk uit: wie sy lewe wil wen gaan dit
verloor; wie sy lewe om Christus ontwil verloor, sal dit wen.

Hierdie reël sluit presies aan by die agt saligsprekinge.  Die
saligspreking was ook `n pleidooi vir presies die teenoorgestelde
waardes as die waarin die wêreld glo en wat vir mense logies gelyk het.
Dit is hoe die koninkryk werk!

Deel
van hierdie troos en “lewe” lê in die belofte dat Christus by ons
teenwoordig is. Dissipelskap beteken om agter Hom aan te loop en so
naby aan Hom te bly as wat jy kan.
Dit beteken ook dat Hy ons nie sal stuur na plekke waar Hy nie is nie
of waar Hy nie eerste sal ingaan nie. As dit beteken dat ons soms deur
water of deur die vuur moet gaan, of deur dale van doodskaduwee, dan kan ons altyd weet – die Here is saam met ons.  Dit is wat ons reeds in Ps 23 gehoor het – en ook weer in die heel laaste verse van Matteus se evangelie (28:18-20).

Coenie Burger

Tweede gedagtes: Mat 16:13-20

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

Ons hoop hierdie aantekeninge gaan jou hierdie week help in jou
nadenke oor hierdie teksgedeelte asook die spesifieke preekstudie.
Indien jy enige verdere gedagtes/voorstelle het, hoor ons graag van
jou.  Laai die week se Seisoen van Luister PowerPoint aanbieding hier af.

AANTEKENINGE BY MATT 16:13-20 

  • Ons
    is nog in die proses om die “formaat” van hierdie bydraes uit te
    sorteer in terme van lengte, inhoud en dies meer. Maar soos ek dit
    verstaan, is die doel van dié pogings om veral by die derde afdeling
    van die preekstudies (die homiletiese deel) ‘n paar opmerkings te maak
    wat verder met die aktualisering van die teks kan help. Meeste van die
    studies is ‘n jaar gelede geskryf, voorbeelde wat gebruik is,
    toepassings wat gemaak is, kan dus reeds gedateer wees.
  • Ek dink die skrywer van die preekstudie vat in die heel eerste paragraaf  van
    sy studie die kernmomente van die teks vas as hy noem dat dit veral oor
    twee sentrale identiteitsvrae gaan: Wie is Jesus en wie is die kerk?
    Die antwoord op beide vrae word ten diepste deur mense se konteks
    bepaal. Jesus en die dissipels se eerste eeuse konteks (met die
    voorrang van die groep bo die individu) en óns konteks (met die
    voorrang van die individu bo die groep) kleur ons antwoorde dikwels
    onbewustelik (vgl. die dissipels se verkillende antwoorde – Johannes
    die Doper, Elia, Jeremia).
  • Terwyl
    ek hierdie aantekeninge skryf, is ek saam met die M Div-klas van
    Stellenbosch in Kleinmond (waar daar terloops ‘n week gelede die
    tragiese moord op ‘n bejaarde egpaar plaasgevind het). Ons is besig met
    ‘n “healing of memories” werskwinkel waar ons die hulp het van ervare
    fasiliteerders van die “Institute for the Healing of Memories”. Die
    doel van die werkswinkel is om die studente te help om hulle verhale in
    kleingroepies vir mekaar te vertel. Maar dié verhale word vertel teen
    die agtergrond van die politieke en ekonomiese situasie van die tyd en
    land waarin hulle groot geword het. In die groep is daar swart en wit
    studente, uit die VGK, NGK, Presibiteriaanse Kerk, Lutherse Kerk en
    onafhanklike kerke. Daar is ook vier studente uit Duitsland. Die
    ouderdomme van die studente wissel tussen 23 en 53. Dus ‘n diverse
    groep met diverse agtergronde – kinders van beide “perpetrators” én
    “victims”, verhale van eer en skaamte, van gedurende en ná apartheid.
  • Die
    verhale wat hulle eers op ‘n groot stuk papier moes skets en dan in ‘n
    kleingroep moes vertel, gaan oor elkeen se identiteit (wie is jy?),
    maar ook oor die gemeenskap en veral oor die geloofsgemeenskap (wie is
    die kerk?) waar hulle groot geword het. Die volgende vraag wat hiermee
    verband hou, is hoe hierdie geloofsgemeenskap se lewe en werk deur die
    groter gebeure in die land geraak is? In hierdie verhale is daar ‘n
    paar interessante goed wat na vore gekom het. Ek noem ‘n paar wat dalk
    met die aktualisering van die preek kan help.
  • Eerstens,
    is daar die onderliggende behoefte by elkeen van ons om groter
    klarigheid oor hierdie “wie” te kry, maar dit is baie duidelik dat ons
    almal daarvoor terugdeins. Selfs net om te begin om ‘n skets van jou
    verlede te maak, of ‘n aspek daarvan te herbesoek is nie eenvoudig nie.
    En dit bring my by ‘n tweede aspek van ons besig wees met dié soeke na
    identiteit, en dit is naamlik dat daar dikwels baie pyn in hierdie
    verhale opgesluit lê. Verskillende vorme van pyn – die pyn van
    menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van wat sisteme van
    onderdrukking en geweld aan mense gedoen het, die pyn van sonder een óf
    albei ouers groot te word, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn
    van verwyte en agressie, die pyn van stereotipering, die pyn van
    uitsluiting en marginalisering, die pyn van verbrokkelde gesinne en
    afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n
    verskeidenheid van maniere.
  • Dit
    lyk vir my, behalwe vir die terapeutiese waarde van pyn wat in
    vertroulikheid met ander gedeel word, lê die betekenis van hierdie tipe
    van aktiwiteite ook op ‘n paar ander vlakke. Die studente leer mekaar
    se agtergronde beter ken, ontwikkel begrip en sensitiwiteit vir dit wat
    positief én negatief hulle lewens- en geloofsvorming beinvloed het.
    Hulle leer om mekaar se kwesbaarheid (mekaar se eer en skaamte) te
    beskerm, hulle leer om te luister – om mekaar se vreugdes, hartseer en
    vrese te hoor. Daar vind “bonding”, “bridging” én “linking” in terme
    van sosiale kapitaal plaas. “Belonging, believing and behaving” kom op
    interessante maniere bymekaar uit.
  • Ek
    dink dit is presies op hierdie punt wat Matt 16:13-20 ‘n sleutelrol in
    dié hermeneutiese proses kan speel, want ons soeke na identiteit (deur
    ons besig wees met die verlede) kry ‘n nuwe fokus as ons dit op ‘n
    kreatiewe manier verbind aan die twee onderliggende vrae wat die teks
    op die tafel plaas: Wie is Jesus en wie is die kerk? Anders gestel: as
    ek my vir ‘n oomblik in Petrus se skoene moes plaas, wat sou ék
    antwoord op Jesus se vraag: Wie sê jy/julle is ek? En wat sou Jesus van
    mý belydenis sê. In die lig van die teks lyk dit vir my of ons eers
    klarigheid begin kry oor “wie ons is”, as ons geantwoord het op die
    vraag “wie Jesus is”? My eie menswaardigheid kry nuwe betekenis as die
    besef by my deurdring dat God die mens waardig geag het om onder ons te
    kom woon. Meer as dit, dat Hy as Seun van God ons menswaardigheid kom
    herstel het. Wie ek dus “in Christus” is (Paulus), bepaal ten diepste
    my identiteit, my keuses en my gedrag – my “believing, belonging and
    behaviour”.
  • Die
    rede waarom dié vrae belangrik is? Ons weet mos uit ervaring dat ons
    beeld van God en van Christus, ons beeld van die mens en van die kerk
    bepaal. Christologie, antropologie en ekklesiologie is hier
    onlosmaaklik aan mekaar verbonde.
  • In
    ‘n tyd van transformasie, van liminaliteit, van onsekerheid en
    xenofobia is dit noodwendig dat ons dié vrae vra. En dit is gewoon nie
    wys om so vinnig as moontlik die spreekwoordelike gate wat ons in ons
    agterplase gegrawe  het (foute van die verlede,
    apartheid, ongeregtigheid) te probeer bedek nie – ons kinders en
    kleinkinders gaan in daardie gate val. Daar is genoeg voorbeelde van
    lande waar dit met slegte gevolge gebeur het, dalk op die oomblik besig
    is om te gebeur, as ons maar net aan Zimbabwe dink. Op die lang duur
    werk dit nie. Daar is natuurlik ander uitweë om verby hierdie
    hindernisse te probeer kom – Australië, die VSA en Engeland kan dalk
    vir ‘n tydjie ons laat glo dat ons verby dit gekom het. Die ongeluk is
    egter, waar daar nie ‘n “healing of memories” plaasgevind het nie, het
    dié verhale ‘n manier om jou selfs na hierdie lande te agtervolg. Een
    of ander tyd haal dit ‘n mens in en moet jy noodgedwonge daarmee deel.
  • Een
    van baie aktuele voorbeelde wat ons sou kon gebruik, is die tragiese
    gebeure van die vier seuns van Waterkloof wat verlede week 12 jaar
    tronkstraf gekry het. Ons almal weet dat hulle misdaad binne ‘n groter
    sisteem verstaan moet word. Die onderliggende rassisme wat in baie
    ouerhuise nog aan die orde van die dag is, het dikwels hierdie tipe
    optrede tot gevolg. Die tragiek is, ons herken dit so pynlik in ons eie
    lewens – daarom waag ons nie om die “eerste klip op te tel nie”.
  • Ander
    bronne wat ons moontlik verder in ons nadenke kan help is onder andere:
    Ernst Conradie se boekie “Christian Identity”; Castells se “The power
    of identity”; ‘n onderhoud wat ‘n verslaggewer van Die Burger met Deon
    Snyman op 1 Augustus (van die Institute for Restitution) gevoer het;
    die nuutste uitgawe van die VGK se koerant met die veelseggende opskrif
    “The Tears of Xenophobia” met ‘n verskeidenheid artikels wat spesifiek
    met die identiteitsvrae worstel; Coenie Burger se publikasie “Ons weet aan wie ons behoort” (Lux Verbi).

 Ian Nell