Pinkstergemeenskappe 5: ‘n Vertrek waar ons verantwoordelikheid neem

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Iemand het gister ‘n kort, maar treffende, verhaal vertel van die merkbare verskil in die vertrek toe leiers begin verantwoordelikheid neem (sien http://www.communitas.co.za/index.php/dienste/gemeenteprosesse/314-bewegings-van-die-gees/1250-beweging-van-die-gees-8-die-gees-rig-leiers-op-wat-verantwordelikheid-neem?lang=).  Dit is presies hierna wat Peter Block verwys, in sy nuwe boek Community: The Structure of Belonging, wanneer hy skryf oor hoe belangrike die gesprek oor eienaarskap (“ownership”) vir enige gemeenskapsvorming en -transformasie is.  Aangesien Block nie as teoloog skryf nie, ontbreek die perspektief natuurlik dat God die Eienaar is, en veronderstel eienaarskap by hom ‘n optimisme t.o.v. die mens se konstruktiewe vermoens.  Daarom hou ek meer van die woord verantwoordelikheid as eienaarskap, want daarmee behou ons die teologiese fokus dat gemeentes deel word van ‘n beweging (die beweging van die Gees) wat reeds in volle swang is, nie deur onsself geinisieer word nie, en ook nie aan onsself behoort nie.  Ons deelname staan altyd in die lig van hoe ons onsself verantwoord ten opsigte van dit waarvan ons die voorreg het ontvang het om te kon deel word.  Paulus gebruik dikwels treffende metafore om hierdie aspek te verbeeld, soos bv. dat ons medewerkers (1 Kor. 3 & 2 Kor. 6) en bestuurders (1 Kor. 4) is van dit wat God reeds aan ons toevertrou het.

Block maak egter ‘n baie belangrike punt wanneer hy oor eienaarskap of verantwoordelikheid skryf:  “We have to realize that each time people enter a room, they walk in with ambivalence, wondering whether this is the right place to be.  This is because their default mindset is that someone else owns the room, the meeting, and the purpose that convened the meeting.  Every conventional gathering begins with the unspoken belief that whoever called the meeting has something in mind for us.  We are inundated with the world trying to sell us something, so much so that we cannot imagine that this time will be different.” In die vergadervertrekke van geloofsgemeenskappe is dit daarom uiters belangrik dat leierskap voortdurend ‘n klimaat skep waarin mense vertroue kan vind dat hierdie vertrek en vergadering aan God behoort (eerder as die vooraf bepaalde belange van diegene wat die mag het om die vertrek en vergadering te beheer met hul eie agendas), en dat dit gefokus is op die onderskeiding van wat God in gedagte het rondom wat ookal ter sake is (eerder as ‘n onderworpenheid aan die manipulasie en verkoopstegnieke wat die belange en agendas moet dien van diegene wat mag het in die vertrek).  Dit is wanneer leierskap die vermoee het om so ‘n klimaat te skep dat dit ‘n vertrek kan word waarin mense verantwoordelikheid neem.

Maar wat veral vir my treffend was toe ek gister die verhaal lees waarna ek reg aan die begin verwys, is dat verantwoordelikheid in daardie situasie die teenoorgestelde van blamering beteken, want “blame” is ook Block se teenoorgestelde van “ownership”!  Block skryf oor hoe werklike eienaarskap eers geskep kan word wanneer mense ophou om die blaam vir wat verkeerd is iewers anders te soek.  Block stel ‘n viertal vrae voor wat leierskap sou kon gebruik om die gesprek oor eienaarskap oop te maak en te fasiliteer, maar, skryf hy, “at some later point (nadat iets soos sy vier vrae reeds goed deur gepraat is), the essential question upon which accountability hinges needs to be asked:  What have I done to contribute to the very thing I complain about or want to change?” Ek wil suggereer dat Pinkstergemeenskappe, wat glo dat die Gees teenwoordig en werksaam is in hulle midde om voortdurend nuwe moontlikhede te skep en die toekoms oop te breek, is gemeenskappe in wie se vergadervertrekke die fokus weg skuif van ander blameer vir wat verkeerd is na ‘n klimaat van verantwoordelikheid aanvaar om deel te neem aan die moontlikhede wat die Gees skep.  Dit geld vir gemeentes se interne sake sowel as gemeentes se verhouding tot die lewe van die breer gemeenskap waarvan hulle deel is.

Pinkstergemeenskappe 4: ‘n Vertrek met oop vensters van moontlikhede

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Gemeentes wat beweeg in die kragveld van die Gees is oop vir die inbreking van God se toekoms op enige gegewe oomblik (“God’s promised and preferred future”, soos Pat Keifert dikwels daarna verwys).  Gemeentes is vertrekke met oop vensters waar die Duif verrassend kan invlieg.  Dit is nie iets wat vanuit die vertrek self georkestreer kan word nie.  Dit is altyd die verrassende inisiatief van God self.  Die Christelike pneumatologie ken nie die teleologie van die moderne humanisme se drang tot liniere progressie en ontwikkeling nie.  Pneumatologie is ingebed in die Christelike eskatologie, wat iets heeltemal anders is as teleologie.  Dit is georienteer aan praktyke en gewoontes van geloofsonderskeiding rondom Woord en sakrament, en in verhouding met die ander, eerder as die gekontroleerde middele van strategiese beplanning (alhoewel oomblikke van beplanning belangrik kan wees op gegewe momente binne die groter prentjie van geloofsonderskeiding). 

Peter Block, in sy boek Community: The Structure of Belonging, onderskei tussen “possibility… which lives into the future” en “problem solving… which makes improvements on the past”.  Hy skryf:  “The possibility conversation frees us to be pulled by a new future…  The leadership task is to postpone problem solving and stay focused on possibility until it is spoken with resonance and passion”.  Block meen dit is fataal wanneer ons moontlikhede begin verwar met doelstellinge, voorspellings, en optimisme.  Lg. vorm eintlik niks nie.  Dit sus net ons gewetens dat dinge darem nou ‘n bietjie beter is, en dit lig net die gemoed so effens met die illusie dat ons die toekoms kan beheer.  Block skryf:  “Possibility is not about what we plan to happen, or what we think will happen, or whether things will get better…  Nor is possibility simply a dream.  Dreaming leaves us bystanders or observers of our lives.  Possibility creates something new.  It is a declaration of a future that has the quality of being and aliveness that we choose to live into.”  Teologies sou dit vertaal kon word tot ‘n radikale toespitsing op die nuwe moontlikhede van wat God in ons midde inisieer.

Ek doen tans navorsing in ‘n gemeente wat besluit het om te eksperimenteer rondom gewoontes en praktyke van geloofsonderskeiding as hulle eenvoudig die vraag, “when we bring our gifts and desires, how do we imagine the future God bringing forth among us?”, in hulle midde plaas vir ‘n jaar lange proses van gesprekke met mekaar en in die breer gemeenskap.  Dit is vroeg in die proses alreeds vir my duidelik dat ‘n organiese benadering van geduldig wag op wat God te voorskyn gaan bring rewolusioner is in verhouding tot die tipiese visie-gedrewe benaderings.  Block skryf oor visie:  “Even the creation of a vision is part of the problem-solving mentality.  A vision is something we must wait for to realize and is most often followed by an effort to make it concrete and practical.  Even a vision, which is a more imaginative form of problem solving, needs to be postponed and replaced with possibility.”  Dit voel vir my dat Pinkster ons help verstaan hoekom ons, wanneer ons oor gemeentes dink as bewegings in die kragveld van die Gees, ons meer energie behoort te spandeer aan die kweek van gewoontes en praktyke wat kan lei tot ‘n voortdurende postuur en kultuure van geloofsonderskeiding eerder as die implementering van ‘n instrumentele benadering gebaseer op visie-doelstellings-planne-bronne-oorreding.

 

Pinkstergemeenskappe 3: ‘n Vertrek waar mense graag WIL wees

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Coenie Burger se beskrywing van gemeentes as bewegings, wat beteken dat dit nie maar net statiese voorwerpe is waarop seker dinge toegepas kan word nie, het my verder laat dink aan hoe Peter Block skryf dat ‘n gasvrye gemeenskap gevorm word d.m.v. ‘n uitnodigende kultuur.  Hy onderskei uitnodiging van meer tipiese maniere waarop leiers dikwels transformasie wil bewerkstellig, nl. mandaat en oorreding.  Hy beskryf dit soos volg:  “The belief in mandate and persuasion triggers talk about how to change other people and how do we get those people on board, how do we make showing up a requirement, all of which are simply a desire to control others.  What is distinct about an invitation is that it can be refused, at no cost to the one refusing.”  ‘n Ware uitnodiging geskied nie op die basis van “promising incentives or rewards” nie, skryf Block, want “when we try to induce people to show up through strong selling or the language of enrolling, we are adding subtle pressure that, in a small but important way, blurs the freedom taken decision to say yes.”

‘n Uitnodigende kultuur is riskant, want niemand mag dalk opdaag nie.  Dit hou verband ons vrees dat ons nooit genoeg ondersteuners gaan vind om saam met ons die een of ander ideale wereld te skep nie, en lei daarom maklik tot subtiele vorme van manipulering en afdwinging om mense in die vertrek te kry.  Dit is die soort van versoeking wat baie gemeenteleiers aan onderworpe is t.o.v. gemeentelede se lojaliteit en commitment, veral wanneer hulle voor die uitdagings te staan kom van kwynende getalle en die dringendheid om lidmaatgetalle ten alle koste hoog te hou.  Wanneer dit gebeur voel dit hopeloos te riskant om te fokus op die klein persentasie van mense wat wel graag in die vertrek WIL wees, en bly ons op soek na die wonderstrategiee wat die stilswyende massa weer in beweging kan dwing (bv. “as ons net die jeug weer sover kan kry om…”)  Selfs evanglisasie- en sendingbenaderings tot diegene buite die gemeente kan ten diepste gebaseer wees op subtiele dwang en manipulasie eerder as ‘n ware uitnodiging.  Baie gemeentes dink selfs ook dat ordentlike bemarking van wie hulle is en wat hulle kan bied die deurslaggewende faktor kan wees vir oorlewing of herlewing.  Maar, as ek Block reg verstaan, is gasvryheid en ‘n ware uitnodigende kultuur iets totaal anders as bemarking en ‘n beloningskultuur (wat fokus op “what’s in it for me”).  Nee, skryf Block, “when we believe that barter or subtle coercion is necessary, we are operating out of a context of scarcity and self-interest, the core currencies of the economist.”  Uitnodiging bring ware transformasie mee, want dit werk met die energie van diegene (al is dit maar min in die vertrek) wat ‘n passie het vir iets groters as net hulle eie selfbelange.

Die energie in die Handelinge 2 vertrek was ewe energerend en uitnodigend.  Teologies het gelowiges deur die eeue heen die Gees se beweging geassosieer met ‘n onkeerbare energie wat aanloklik en aansteeklik genoeg was om ander te kan meevoer sonder dat hulle daartoe gedwing word.  Leierskap wat energie volg, ry die golwe van die Gees se wind… ‘n beweging wat nie gestop kan word nie, al tel die getalle soms daarteen.  Daar was tye in die geskiedenis van die Kerk dat dit die kragtigste getuienis kon lewer toe Christene in die minderheid was en als oenskynlik teen hulle getel het… ‘n krag ingebed in die uitnodigende kultuur van Gasvryheid eerder as die dwingende kultuur van Mag.  Dit is die nuwe missionale uitdaging in ‘n post-Christendom era.

Pinkstergemeenskappe 2: ‘n Vertrek waar vrae gevra mag word

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het in my bydrae van gister vertel hoedat Peter Block, in sy nuwe boek Community: The Structure of Belonging, begin deur aan te toon hoe belangrik twee spesifieke vrae vir die vorming en transformasie van gemeenskappe is (sien Pinkstergemeenskappe 1:  Jy is nie al een in die vertrek nie).  Vrae speel ‘n belangrike rol in Block se verstaan van hoe gemeenskappe transformeer.  ‘n Hele hoofstuk in sy boek handel oor “questions are more transforming than answers” (hoofstuk 10).  En wanneer een van sy twee belangrike vrae gaan oor “what is the new conversation that we want to occur?”, dan beweer hy so ‘n gesprek behoort in sig self meer uit vrae as antwoorde te bestaan.  Hy skryf:  “The community does not shift by having any new conversation.  Nothing will change if the new conversation is a discussion about better language, or if we work harder on analyzing or explaining the issue at hand.  Studying, trying harder to understand, seeking better programs or tools – these have no power.  They are only interesting.  Without a conversation that has accountability build into it, we may build relatedness and the room may become gentler, but the community and how it constructs itself do not shift.  Conversations that evoke accountability and commitment can best be produced through deciding to value questions more than answers, by choosing to put as much thought into questions as we have traditionally given to answers.”

Dit is opmerklik hoe die oorweldigende Pinksterervaring van verrassing en verbasing (Handelinge 2:1-13) alleen maar kon lei tot ‘n “nie-weet” (vers 6) en die vra van vrae (vers 8: “hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?; vers 12: “wat kan dit tog beteken?”).  Die Pinkstergemeenskap van Handelinge 2 kan net sowel as ‘n waarheid-soekende gemeenskap gesien word (met apologie aan een van my mentors, Pat Keifert, wat dikwels die Hans-Georg Gadamer taal van “truth seeking” gebruik wanneer hy die aard van geloofsgemeenskappe se prosesse van geloofsonderskeiding beskryf).

 

 

Pinkstergemeenskappe 1: Jy is nie al een in die vertrek nie

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het in my vorige bydrae begin wonder wat dit in hierdie Pinkstertyd sou kon beteken as ons opnuut weer nadink oor die plaaslike gemeente as ‘n beweging in die kragveld van die Gees (n.a.v. Coenie Burger se gebruik van hierdie twee Pinkster metafore in sy boek Gemeentes in die Kragveld van die Gees, asook hoe die “force field” metafoor funksioneer in werke van Michael Welker en Wolfhart Panneberg). Ek wil veral Coenie se stelling, dat “gemeentes is nie statiese voorwerpe op wie jy sekere goed kan toepas of aan wie jy sekere goed kan doen nie… (dit) is ‘n dinamiese beweging wat nie twee dae lank presies dieselfde bly nie, wat altyd aan die skommel en die beweging bly en nooit stilstaan nie” (bl. 147) in teologiese gesprek bring met insigte uit ‘n redelike nuwe boek van Peter Block (konsultant wat veral in die opleidingsveld werk – sien sy web sites by www.designedlearning.com, www.peterblock.com, en www.asmallgroup.net).  Die boek se titel is Community: The Structure of Belonging (Berrett-Koehler, 2008)waarin hy die vraag vra oor hoe outentieke gemeenskap (om te behoort) gevorm word, en hoedat dit transformeer.

In hierdie Pinkstertyd fokus ons immers opnuut weer op ons belydenis dat geloofsgemeenskappe gevorm, instandgehou, gelei, en getransformeer word deur die Heilige Gees.  Maar hoe lyk die gemeentelike gestaltes van hierdie belydenis, veral wanneer ons dit waag om ons pneumatologie en ekklesiologie hieroor krities te integreer met insigte oor gemeenskapsvorming en -transformasie in die tydsgees en kulturele bewegings van ons hedendaagse gemeentekontekste?  Ek wil in die verband eerstens verwys na die interessante manier waarop Block die eerste hoofstuk van sy boek begin:  “Social fabric is created one room at a time.  It is formed from small steps that ask ‘Who do we want in the room?’ and ‘What is the new conversation that we want to occur?’  In community building, we choose the people and the conversation that will produce the accountability to build relationships, structure belonging, and move the action forward.”  Wat Block hier skryf mag dalk baie vanselfsprekend klink, maar die feit dat juis hierdie twee vrae vir hom so sentraal staan reflekteer ‘n fundamentele uitgangspunt vir gemeenskapsvorming en -transformering, asook die leierskapsbenadering wat daarby pas.  Hiermee beweer Block dat “the way (my kursivering) we bring people together matters more than our usual concerns about the content (weereens my kursivering) of what we present to people.  How we structure the gathering is as worthy of attention as grasping the nature of a problem or focusing on the solutions that we seek.”

Die fokusverskuiwing weg van ‘n oorwegende klem op inhoud na die manier waarop ons mense bymekaar bring onderstreep presies Coenie se stelling van hierbo, nl. dat ons nie gemeentes benader as objekte van ons goed uitgewerkte inhoud (selfs teologiese verstaan!) en strategiese planne oor hoe ons die gemeente sover moet kry om ons idees te implementeer nie.  Block noem dit “an argument for collective intelligence… against expensive studies and specialized expertise,” en skryf dan, “the essential insight is that people will be accountable and committed to what they have a hand in creating… this insight extends to the belief that whatever the world demands of us, the people most involved have the collective wisdom to meet the requirements of that demand… and if we can get them together in the room, in the right context and with a few simple ground rules, the wisdom to create a future or solve a problem is almost always in the room.”  Teologies verwoord:  dit veronderstel juis ‘n vertroue en respek vir wat ons in Pinkster bely, nl. dat die Gees reeds aan die beweeg is waar gelowiges rondom die Woord en in sy Naam bymekaarkom om geloofsonderskeiding in ‘n spesifieke konteks te beoefen.

Dit suggereer verseker nie dat inhoud onbelangrik is, of dat leiers nie ‘n besonderse bydrae kan maak tot gesprekke nie, maar dit verteenwoordig beslis ‘n relativering van eie agendas, opinies, en strategiee ter wille van ‘n verhoudingskultuur waarin almal teenwoordig deel kan wees van die onderskeidingsproses.  Soos Block inderdaad skryf (sonder dat hy dit waarskynlik pneumatologies of eskatologies bedoel!), “the future begins to show up as we gather.”  Dit vra van ‘n leier om te besef dat hy/sy nie al een in die vertrek is nie (my kinders hou daarvan om vir my te vertel “it’s not about you dad!”), en dat sukses nie afhang van hoe goed hy/sy gesprekke kan beheer of uitkomste kan manipuleer nie.  Block skryf, “it is the insight that authentic transformation does not occur by focusing on changing individuals or being smart about political processes, which are based on advocacy of interests, hardball negotiation, or finding where the power resides and getting them on your side.”  Van gemeenteleiers vra dit veral ‘n volle vertroue in die Gees wat die vertrek vul met energie en wysheid soos wat dit gestaltes vind in bewegings van verhoudinge en interaksies tussen mense.  Dit bied die uitdaging vir ‘n leierskapsensitiwiteit van hoe om deel te word van die vloei van energie, en hoe om die wysheid wat tussen mense tot stand kom te volg.

Inderdaad, in Handelinge 2 is dit duidelik dat die ontdekking van nie al een in die vertrek te wees nie tot grootskaalse verbasing gelei het!  Ek kon gister Handelinge 2 hardop in Afrikaans lees in ‘n erediens waar niemand anders dit kon verstaan nie, en terwyl meer as 10 ander tale terselfdertyd aangehoor is.  En alhoewel dit lekker was om my eie moedertaal deel van die oomblik te kon maak, is dit terselfdertyd opgeneem in die Gees se simfonie wat geskep is uit die groot verskeidenheid van ander wat saam met my in dieselfde vertrek was.

Dinamiese Pinkster Gemeentes

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek mis die tipiese Pinksterweek gebruike en aktiwiteite van meeste NG gemeentes hierdie tyd van die jaar.  Maar hier in ons gemeente in St. Paul (Minnesota, VSA) is daar die treffende gewoonte op Pinkstersondag om op ‘n gegewe moment in die erediens Handelinge 2 hardop te lees in soveel moontlik tale as wat daar in die erediens teenwoordig is.  So ons as gesin kan ook Handelinge 2 hardop lees uit ons Afrikaanse Bybels saam met ‘n tiental ander tale (ons het die voorreg om in ‘n besonderse diverse gemeente te kon tuiskom).

Die rektor (dominee) van ons gemeente vertel juis hierdie week in haar epos aan die gemeente die volgende storie:  “I’ll never forget the Sunday that an unsuspecting worshipper walked into church ten minutes late on Pentecost.  It was clear she had no clue about what was going to happen.  All of a sudden, as she tried to sneak down the aisle, about ten members of St. Matthew’s stood up and began to read the lesson from Acts (2:1-21) in ten different languages.  One of them read loudly in German, which, to be honest, sounded frightening.  The service took on an other-worldly tone – which in some way captured the otherworldliness of the original Pentecost event.  For imagine what it must have been like to be gathered together with Jesus’ followers after his departure when the Holy Spirit was unleashed.  They heard a strange sound like rushing wind (not hard for Minnesotans to imagine) and then saw ‘divided tongues, as of fire’ resting on each person.  Imagine this group speaking in multiple languages simultaneously.  This is what the unsuspecting visitor experienced.  The look on her face was priceless – confusion, concern, near-panic.  The pouring out of God’s Spirit is not something normal or contained, not something that can be domesticated or made charming or palatable for a worship service.  It should provoke confusion, concern and near-panic.  It should also provoke new energy, new life and new ideas, as God’s people perceive, claim and proclaim God’s vision for their life as a community.  The Holy Spirit both comforts and disturbs, it encourages us to leave our comfort zones, it encourages us to take risks, and it unleashes the creativity that helps us see God and God’s purpose for our lives in new and life-changing ways.”

Coenie Burger het ons tien jaar gelede, met die publikasie van sy Gemeentes in die Kragveld van die Gees (1999), ‘n groot guns bewys deur vir ons ‘n prakties-teologiese prentjie te skets van gemeente-wees as ‘n dinamiese beweging in die kragveld van die Gees.  [Terloops, sy gebruik van die kragveld metafoor herinner aan hoe Michael Welker ‘n klompie jare vroeer, in sy God the Spirit (Fortress, 1994), oor die werk van die Gees skryf as “force fields” waarvan gelowiges deel word; asook Wolfhart Pannenberg se verwysing in die eerste volume van sy Sistematiese Teologie oor die Gees as wind en asem in verhouding tot Plato, Aristoteles en die Stoisyne]. Twee Pinkstermetafore:  beweging en kragveld.  In Coenie se boek (op bl. 147) vertel hy dat die insig van ‘n gemeente as ‘n beweging “‘n soort Kopernikaanse omwenteling” in sy eie denke oor kerkwees teweeg gebring het, en dat dit “‘n reusagtige verskil maak (maak) aan die manier waarop ‘n predikant of leier die gemeente benader”.  Hoe lyk so ‘n Pinkster-benadering tot leierskap in gemeentes?  Coenie skryf, “gemeentes is nie statiese voorwerpe op wie jy sekere goed kan toepas of aan wie jy sekere goed kan doen nie.  Die gemeente… is ‘n dinamiese beweging wat nie twee dae lank presies dieselfde bly nie, wat altyd aan die skommel en die beweeg bly en nooit stilstaan nie”.  Dit lyk asof so ‘n benadering tot leierskap nie-objektiverend en minder beheer-georienteerd behoort te wees.  Dit stel die uitdaging om deel te neem aan, en meegevoer te word deur, ‘n vloei en energie wat nie in die eerste plek deur leierskap geskep of geinisieer is nie.  Hoe lyk so ‘n leierskappostuur?  Ek sal graag oor die volgende klompie weke teologies hieroor wil nadink in gesprek met ‘n nuwe boek uit die pen van die konsultant Peter Block oor Community: The Structure of Belonging.

 

Apostels van die Onmoontlike

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Ek het verlede week, in my blog bydrae getiteld Selfgenoegsame of Hoopvolle Gemeentes?, verwys na Stanley Fish se New York Times artikel oor ‘n nuwe boek van Terry Eagleton (sien http://fish.blogs.nytimes.com/2009/05/03/god-talk/?scp=4&sq=stanley%20fish&st=cse).  Na aanleiding van heelwat reaksie op sy artikel het Fish dit vroeer hierdie week opgevolg met ‘n tweede bydrae tot die gesprek (sien http://fish.blogs.nytimes.com/2009/05/17/god-talk-part-2/?scp=3&sq=stanley%20fish&st=cse).  In hierdie opvolg artikel vat Fish die oorweldigende reaksie van New York Times lesers aan wat ‘n skerp onderskeiding wil handhaaf tussen godsdiens en wetenskap, of geloof en rede.  Die argument van diegene wat so reageer reflekteer dan gewoonlik die tipiese moderne “feite-waardes” onderskeiding, asof wetenskap/rede gegrond is op waarneming en godsdiens/geloof gegrond is op opinie.

Nadat Fish sorgvuldig wys hoedat die rede nooit neutraal is asof dit nie alreeds gevorm word deur bepaalde waardes en keuses in die geloof nie, skryf hy die volgende paragraaf:  “If there is no thought without constraints (chains) and if the constraints cannot be the object of thought because they mark out the space in which thought will go on, what is noticed and perspicuous will always be a function of what cannot be noticed because it cannot be seen. The theological formulation of this insight is well known: Faith is the substance of things hoped for, the evidence of things not seen (Hebrews 11). Once the act of simply reporting or simply observing is exposed as a fiction — as something that just can’t be done — the facile opposition between faith-thinking and thinking grounded in independent evidence cannot be maintained.”

caputoFish se New York Times bydraes reflekteer ‘n breer filosofiese beweging wat vir ‘n tyd lank al moderniteit se aannames dekonstrueer (sommige noem dit “postmodernisme”, alhoewel dit vir allerlei komplekse redes ‘n problematiese term is), en gevolglik nuwe moontlikhede open vir gesprek met teologie.  ‘n Baie interessante gesprek in die verband het 10 jaar gelede plaasgevind tussen twee prominente filosowe, Jean-Luc Marion (bekend vir sy fenomenologie van die gawe) en Jaques Derrida (bekend vir sy dekonstruksie filosofie), met noemenswaardige bydraes deur teoloe soos David Tracy.  Die gesprek is opgeneem in ‘n bundel wat deur John Caputo en Michael Scanlon geredigeer is, met die titel God, the Gift, and Postmodernism (Indiana University Press, 1999).  Die bedoeling met hierdie gesprek was o.a. “to seize the contemporary moment which has loosened the grip of the old Enlightenment, questioned its intimidating authority, complained about the exclusionary force of its certainties and axioms (among which secularism has enjoyed pride of place), and thereby made some room for a religious discourse and restored the voice of a religious imagination…”

Wat ek veral interessant vind van hierdie gesprek is dat Marion en Derrida deur Caputo beskryf word as apostels van die onmoontlike, met ‘n uitgesproke bedoeling van die gesprek “of restoring the good name of the impossible” (wat deur die rede onmoontlik verklaar is).  Caputo som dit soos volg op:  “Like any sensible, law-abiding adult, he (die mondige, moderne mens) disciplines himself to abide by the conditions that make things possible, to drive within the yellow lines, to keep the rules that are programmed in advance to produce what is possible”.  Hierteenoor, skryf Caputo, “the new Enlightenment would constitute a second childhood (herinner aan Paul Ricoeur se “tweede naiewiteit” – JS) which is given over to dreaming of the impossible, arising from a deep desire for what, given the constraints and conditions imposed by modernity, is precisely not possible, which for that reason is precisely what we most deeply desire.”  Hebreers 11 se hoop (waarna Fish verwys) is inderdaad in wat nie gesien/waargeneem/beredeneer kan word nie, en daarom volgens die kriteria van die blote oog en rede onmoontlik blyk te wees.

Hoe lyk gemeentes wat apostels van die onmoontlike is in hulle spesifieke buurte en gemeenskappe?  Hoe beliggaam sulke gemeentes in vandag se wereld die verrassing van die opgestane Here wat hulle so pas saam met Maria Magdalena (Johannes 20) beleef het, of die verbasing van die uitstorting van die Heilige Gees wat ons nou oor die volgende klompie weke saam met die Handelinge 2 skare gaan vier?  Kan ons meer spesifiek wees oor sulke hoopvolle geloofsgemeenskappe se postuur van bewondering, verwagting, en bowenal dankbare afwagting vir die Bybelse God se gawe wat altyd die mondige mens se moontlikheidsvoorwaardes oorskry?  Hoe lyk dit in ons liturgie, ons bedieninge, ons verhoudinge met die ander in ons gemeenskappe, en ons prosesse van geloofsonderskeiding?