Handelinge en Gestuurde Gemeentes

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Die Handelinge Konferensie wat vandag by die Kweekskool op Stellenbosch begin verteenwoordig ‘n prysenswaardige inisiatief tot grondige Bybelse gesprek in verband met Gestuurde Gemeentes (wens ek kon daar wees!).  Ek het die afgelope jaar hier in die VSA opgemerk dat daar nie alleen ‘n groeiende behoefte in die sg. “missional church” gesprek is vir grondliggende bydraes vanuit die Bybelwetenskappe tot ‘n beter verstaan van kerkwees in ‘n post-Christendom era nie, maar ook dat Ou Testamentiese werk (bv. Brueggemann en Fretheim) en Nuwe Testamentiese bydraes van veral iemand soos N.T. Wright toenemende aandag in hierdie kringe verdien.  Dit is veral wanneer hierdie soort noodsaaklike interdissiplinere akademiese gesprekke kan plaasvind vanuit gemeentelike realiteit waar gemeentelede die Bybel lees as God se lewende Woord vir hulle konkrete situasies dat daar die potensiaal is vir sosiaal-beliggaamde en geintegreerde ekklesiologie wat Bybels begrond is.

Baie van ons wat op ekklesiologiese vlak worstel met Gestuurde Gemeentes vanuit die praktyk en gewoontes van spesifieke gemeentes het veral ‘n behoefte aan kritiese Bybels-teologiese refleksie op hoe Bybelse interpretasie funksioneer in teologiese begrondings van missionale ekklesiologie in die sg. sendingteologie.  So bv. het David Bosch se fenomenale werk, Transforming Mission (wat steeds hier in die VSA, veral in Protestantse kringe, as die klassieke baanbrekerswerk vir ‘n nuwe sendingteologie beskou word), al dikwels kritiek ontlok vir die gebrek aan Ou Testamentiese begronding vir sy argument.  Hoe kan ons Bybels-teologies in gesprek bly met Bosch?  Maar gegewe die Handelinge konferensie, wil ek veral na een ander belangrike werk verwys wat so vyf jaar gelede uit die pen van twee Katolieke sendingteoloe verskyn het, en wat hier in die VSA gegroei het tot die status van ‘n soort Katolieke ekwivalent en aanvulling tot Bosch.  Ek verwys na Stephen Bevans en Roger Schroeder se Constants in Context: A Theology of Mission for Today (Orbis, 2004).  Die rede hoekom ek hierna verwys is dat Bevans and Schroeder in die eerste hoofstuk van hulle boek kies vir ‘n sending-teologiese begronding vir ekklesiologie vanuit Handelinge.

Bevans en Schoeder skryf, “Our thesis is that a study of Acts will confirm that the church only comes to be as it understands and accepts mission anywhere and everywhere in the world”, en dat “our contention is that the disciples really do not fully recognize themselves as church – a separate reality from Judaism – until they recognize that they are called to a mission that has as its scope ‘the ends of the earth'”.  Vir hierdie twee Katolieke sendingteoloe is sending nie alleen die moeder van all teologie nie (Martin Kahler), maar ook die moeder van die kerk.  En hulle beweer dat dit veral Handelinge is, meer as enige ander Nuwe Testamentiese boek, wat “points to the origin of the church as it engages in missionary activity“.  Hulle onderskei dan veral tussen sewe narratiewe fases in Handelinge, wat elkeen ‘n spesifieke moment in die vroee Christelike gemeenskap se selfverstaan as gestuurd en terselfdertyd as kerk verteenwoordig:  Voor-Pinkster (Hand. 1); Pinkster (Hand. 2-5); Stefanus (Hand. 6-7); Samaria en die Etiopier (Hand. 8); Kornelius en sy huishouding (Hand. 10 – 11:18); Antiochie (Hand. 11:19-26); die sending na die heidene (Hand. 12-28).  Hulle konklusie is dat “what we hope emerges from our reading of Acts is, first, a clear realization that the church, even at its origin, is ‘missionary by its very nature’; mission, in other words, is prior to the church; and, constitutive of its very existence.  Secondly… that the church’s missionary nature only emerges as the community engages with particular contexts, under the direction of the Spirit.”

Hierdie soort sendingteologiese konklusies, wat in hierdie geval gegrond is op ‘n bepaalde lees van Handelinge, het verreikende implikasies vir ons denke oor die kerk en oor gestuurde gemeentes in spesifieke kontekste.  Ek het gewonder hoe Bybelwetenskaplikes sou reageer op hierdie soort verstaan van Handelinge?

Selfgenoegsame of Hoopvolle Geloofsgemeenskappe?

Written by webmeester on . Posted in Tussenin

Die New York Times publiseer soms insiggewende “opinion” artikels.  Vroeer hierdie week het daar ‘n bydrae verskyn met die opskrif “God Talk” (sien http://fish.blogs.nytimes.com/2009/05/03/god-talk/?ref=opinion&8ty&emc=ty) , waarin Stanley Fish verwys na ‘n nuut gepubliseerde werk van Terry Eagleton, Britse professor in Engelse Literatuur en Kulturele Teorie (die titel van die boek is Reason, Faith, and Revolution: Reflections on the God Debate, YaleeagletonUniversity Press, 2009).  In die boek vra Eagleton die vraag, “why are the most unlikely people, including myself, suddenly talking about God?” Sy antwoord is (in Fish se opsomming) dat “the other candidates for guidance – science, reason, liberalism, capitalism – just dont deliver what is ultimately needed.” Fish haal Eagleton aan:  ““A society of packaged fulfillment, administered desire, managerialized politics and consumerist economics is unlikely to cut to the depth where theological questions can ever be properly raised.”

Eagleton het dit veral teen die arrogansie van argumente wat beweer dat wetenskaplike verklarings en rede die noodsaaklikheid van godsdiens en geloof vervang, en skryf dan amper spottenderwys dat “It’s rather like saying that thanks to the electric toaster we can forget about Chekhov…  [B]elieving that religion is a botched attempt to explain the world . . . is like seeing ballet as a botched attempt to run for a bus.” Hy gaan dan voort om te wys daarop dat Christendom nooit in die eerste plek bedoel om enigiets te verklaar nie, maar dat dit die koninkryk van God in die oog het as iets “far beyond anything that might normally be considered possible or even desirable in the more well-heeled quarters of Oxford and Washington.” Oxford en Washington verteenwoordig “bondage to the false idols of wealth, power and progress,” en is ironies niks anders as ‘n bygelowigheid in die moderne droom en moontlikhede van vooruitgang nie.

Gegewe hierdie bygelowigheid se blindheid vir al die gruweldade wat in die naam van vooruitgang gepleeg is (net soos daar natuurlik in die geskiedenis ook baie gruweldade in die naam van godsdiens gepleeg is), vra Eagleton dan:  Hoe kan ‘n mensdom “which regards itself as pretty well self-sufficient” dan nog enige betekenis en sin vind in “faith or hope”? Dit is veral baie insiggewend dat Eagleton die kern van die probleem met liberale rasionalisme en die ideologie van wetenskap se triomfantalisme as “self-sufficient” beskryf, as ‘n alternatief vir hoop gegrond in die koms van God se koninkryk.  Die probleem kom in wanneer die skepsel oor hom-/haarself begin dink as “self-originating” en in terme van “self-authorship.” Hierdie klem by Eagleton laat my veral baie dink aan Dietrich Bonhoeffer se Ethics (volume 6 dietrichbonhoefferworksvol06van sy “Werke”) waarin hy die taak van Christelike etiek beskryf as “supersede” enige algemeen menslike kennis van goed en kwaad.  En die rede daarvoor is dat daar reeds aan die begin (Genesis 3) “a falling away from the origin” plaasgevind het wat daartoe lei dat “out of the original image of God has emerged a usurped equality with God,” en dat “having become equal with God, however, they have misappropriated the origin and made themselves their own creator and judge.” Moderniteit is in baie opsigte ‘n kulturele gestalte van die mensdom se illusie tot “self-originating”, “self-authorship”, en “self-sufficiency”.

Ek wil Fish se bydrae oor Eagleton se nuwe boek, en in die lig van Bonhoeffer se beskouing oor die Christelike etiek, veral met twee ander gesprekke van die afgelope paar weke op die communitas webblad in verband bring:

  • Frederick Marais se bydrae oor “Waar en by wie leer gemeentes as hulle vasgeloop is?” (Padlangs met Gemeentes blog), waarin hy dit o.a. het oor ‘n kerklike kultuur waarin gemeentes heel dikwels dit nie kan waag om eerlik te wees oor hulle probleme nie, en daarom aan hulle eie lot oorgelaat is wanneer hulle sukkel.  Tot watter mate is dit nie ook ‘n simptoom van hoe gemeentes opgeslurp is in ‘n breer kultuur van selfgenoegsaamheid nie?  Dit is ewe relevant dat Bonhoeffer eerder oor nakedness” en “shame” praat as die konsekwensie van ons drang tot self-outeurskap en self-genoegsaamheid, eerder as bv. “guilt” en “remorse”.  Ons wil al te graag sterk, slim, en suksesvol oorkom by ander, eerder as gebroke, vraend, en soekend.  Dalk dink ons regtig dat gemeente-wees veronderstel is om saam met die res van vandag se moderne wereld ‘n suksesverhaal behoort te wees van wat ons self kan vermag in ons selfgenoegsaamheid, eerder as om gemeenskappe van gelowiges te wees wat weg wys van hulself na die hoop wat ons het in God self as die gawe vir die wereld.  Hoe kan ons meer oor God in die wereld praat as oor onsself?  Hoe kan ons ‘n postuur van luister (na Woord, mekaar, en wereld), gebed, en onderskeiding kweek?
  • Frederick Marais se bydrae oor “Wanneer liturgie na ons toe kom”, Cas Wepener se kommentaar hierop in “Moet haar dan nie verhinder nie”, en my en Chris van Wyk se daaropvolgende gesprek oor “Ons tref God in die wereld aan”.  Ek en Chris het spesifiek in ons gesprek verwys na selfgenoegsaamheid as ‘n onderliggende probleem wanneer gemeentes ‘n laer-mentaliteit uitstal in verhouding tot wat in die wereld rondom hulle gebeur, en dat ‘n belangrike deel van gemeentes se geloofsonderskeiding ook plaasvind “wanneer liturgie na ons toe kom” deur ander met wie ons in verhouding is in die wereld.  Hoopvolle geloofsgemeenskappe, eerder as selfgenoegsame gemeentes, vind hul roeping nie in wat hulle as gemeentes vir die wereld kan bied nie, maar in die hoop wat God in die wereld bied.  Die verskil is radikaal!  Watter soort gewoontes en praktyke help ons om hierdie skuif te maak?  Ons moet meer stories hier op communitas vertel van wat in gemeentes se “Wandel in die Woord” en “Wandel in die Wereld” gebeur wanneer die fokus verskuif na die hoop van God in die wereld.

Via die Gebrokenes

Written by webmeester on . Posted in Tussenin

So ‘n dertigtal Suid-Afrikaners het Saterdagaand hier in Minneapolis (Minnesota, VSA) bymekaar gekom om Vryheidsdag en die vierde demokratiese verkiesing te vier.  Dit was ‘n heeltemal ander groep landsgenote as die wat ek al hier in pubs raakgeloop het tydens die vertoon van verlede jaar se Wereldbeker rugbywedstryde, alhoewel die springbok/protea trui ewe dominant as partytjiedrag was.  Ons as gesin was die uitsondering tussen die res wat almal aan die ander kant van die apartheidskeidslyn groot geword het.  Ons kon saam braai op eg Suid-Afrikaanse manier, goeie Kaapse rooiwyn deel, en aansit by ‘n verskeidenheid uniek Suid-Afrikaanse disse soos pens-en-pootjie, bobotie, en bo-Kaapse kerrie.  Buitekant het die Suid-Afrikaanse vlag vrolik in die lentebriesie gewapper (net om die Amerikaners te wys ons het ook ‘n vlag!), en binnekant het gesprekke vrylik van Afrikaans na Engels en Engels na Afrikaans gevloei (net sodat die kinders kon sien baie van ons het nie Xhosa of Zoeloe of skool gehad nie).

Maar die hoogtepunt was toe ons vir ‘n aansienlike tyd kon saam bid.  Ons kon saam dankbaar wees vir bevryding en demokrasie, en saam vir ingrype vra te midde van al die probleme en uitdagings in die land.  Ons kon skuld bely, en vergifnis uitspreek.  Ons kon bid vir vriende wat verdwyn het tydens apartheid, en vir leiers wat na vore tree post-apartheid.  Ons gebede kon in God se Vrydag-Sondag teken staan van feesvieringe wat gebore is uit intense gebrokenheid.

Elizabeth was ook daar.  Ek het op die Caledonse ruens groot geword, en sy op die Kaapse vlaktes.  Ek het op Stellenbosch in teologie geswot, en sy by UWK in maatskaplike werk.  Ek het probeer om gemeentes (blanke NG gemeentes) in vennootskap te bring met gebroke werelde wat ons nie geken het nie, en sy het probeer om gebrokenes (vroue en kinders wat deur mans en pa’s mishandel is) herstel en heling te bied in kerk geinisieerde skuilings.  Ons het die voorreg gehad om saam te werk aan ‘n referaat wat ons twee naweke gelede saam in Chicago aangebied het by die Academy of Religious Leadership se konferensie oor “Leadership at the Margins: Reframing Center-Edge Dichotomies” (verskyn eersdaags in die Journal of Religious Leadership).  Sy wat feitlik niks anders as margins geken het nie, en ek wat nie ‘n idee het wat dit beteken nie.  Sy met haar praktiese ervaring te midde van gebrokenes, en ek met my teologie van die kruis.  Sy met haar sosiale teorie uit maatskaplike tradisies, en ek met my fenomenologiese filosofie uit kontinentale tradisie.

circles-of-dignity2Die ervaring van by mekaar leer tydens die proses van skryf aan die artikel was vir ons meer werd as wat die artikel waarskynlik is.  Saam kon ons die tipiese center-edge dichotomies goed relativeer.  Sy het my geleer tot watter mate ek ook ‘n victim van apartheid is.  Ek kon haar help verstaan hoe teologie in die sentrum van gebrokenheid staan.  Saam met ander Suid-Afrikaanse stemme, soos James Cochrane in sy boek Circles of Dignity: Community Wisdom and Theological Reflection (Fortress, 1999), kon ons ontdek hoedat ‘n “inward orientation of faith, often accompanied by a denigration of all that is external (body, world, material reality)… exclude the world from anything more than the occasion for the proclamation of what we already know (p.157).  En hoedat dit meewerk aan ‘n marginalisering van die gebrokenes, eerder as om geloofsonderskeiding in die midde van gebrokenheid te beoefen.

cross-in-contextSaam met stemme uit ander wereldkontekse, soos die Kanadese teoloog Douglas John Hall in sy boek The Cross in Our Context: Jesus and the Suffering World (Fortress, 2003), kon ons werk aan ‘n teologie van gebrokenheid wat die teenwoordigheid en aktiwiteit van die Gebrokene ernstig neem in die midde van die gebrokenes.  Ons kon debateer oor al die gestaltes van Luther se onderskeiding tussen ‘n triomfantlike teologie wat “calls evil good and good evil” en ‘n teologie van die kruis wat “calls the thing what it actually is” (21ste van sy 95 stellinge, soos aangehaal deur Hall, p.16).  Saam kon ons die weg van wysheid identifiseer as via die G(g)ebrokene.

Al kan ons nooit die stryd vir vryheid afwater nie, en al behoort ons altyd die bereiking van die demokratiese ideaal te vier, behoort daardie selfde stryd en ideaal ons voortdurend sensitief te hou vir enige triomfantlike gestaltes van vryheid waarin ons blind word vir die talle on-vryhede in ons midde (sien bv. http://www.facebook.com/ext/share.php?sid=75555149284&h=ttDsS&u=KjiBJ&ref=nf).  Die pad van vryheid loop via die G(g)ebrokene…

Verbeeldingryke Gemeentes

Written by webmeester on . Posted in Tussenin

Ek onthou nog goed hoe uit die veld geslaan ek was met die reaksie van ‘n groep lidmate in een van my vorige gemeentes toe ek die vraag vra oor wat hulle dink God se droom vir ons gemeente is.  Ek het gedink ek is nogal oulik om die “droom” metafoor te gebruik eerder as een of ander swaar teologiese formulering oor “God’s preferred and promised future” (om Pat Keifert aan te haal).  Maar die onmiddellike reaksie van die groep lidmate was ‘n teenvraag:  is dit moontlik dat God kan droom?  Ek het dadelik besef dat die populere assosiasie in ‘n moderne wereld met droom en iets soos verbeelding (imagination) is dat dit ‘n fantasie is wat geensins met die werklikheid verband hou nie.

In ‘n onlangse praktiese teologie publikasie, For Life Abundant: Practical Theology, Theological Education, and Christian Ministry (Eerdmans, 2008: redakteurs, Dorothy Bass en Craig Dykstra), skryf Craig Dykstra die volgende oor “Pastoral and Ecclesial Imagination”: “Typically, we associate the word ‘imagination’ with ‘creativity’ or even ‘fantasy’.  Imagination, in this sense, is all about creating  – in our minds or with clay or paint or in work with other people – for-life-abundantthings that do not exist.  It means seeing what is not, and then, perhaps, bringing it into being…  But there is another meaning of ‘imagination’ that is closer to what I have in mind.  It involves what one might call ‘seeing in depth’.  It is the capacity to see beneath the surface of things, to get beyond the obvious and the merely conventional, to note the many aspects of any particular situation, to attend to the deep meanings of things.  Imagination is what makes human life meaningful and engagement with the world possible.”

In die sin is verbeelding, as “the capacity to see beneath the surface of things, to get beyond the obvious and the merely conventional,” van kritiese belang in enige gemeente se prosesse van geloofsonderskeiding.  Verbeelding is die benaming van die diepte-dimensie van gelowiges se deelname aan wat God alreeds met Sy teenwoordigheid en aktiwiteit tussen hulle tot stand gebring het.  As dit in ‘n sekere sin die oomblik verteenwoordig waar God se agentskap tussen mense (deur die werk van die Gees soos geopenbaar in Woord, sakrament, die ander) integraal deel word van hulle verstaan van Sy teenwoordigheid in hulle midde (geloofsonderskeiding), het verbeelding primer ‘n reseptiewe eerder as konstruktiewe funksie in Christelike geloofsgemeenskappe.  Die kuns van verbeelding is die skep van ‘n openheid in gemeenskap met ander waar daar ruimte kan wees om die diepte-dimensies van die rykdom van God se teenwoordigheid en aktiwiteit as ‘n gawe in ons werklikheid te kan ontvang.  Dit is om van die dieper dimensies as die blote oppervlakte aannames tussen mense bewus te word waarin God reeds en aanhoudend skep en vorm, en om te leer hoe om onsself in te leef in daardie werklikheid.  In die sin beteken verbeeldingryke gemeentes nie soseer hoe gemeentes kreatief in hulself kan wees nie, maar hoe gemeentes die rykdom kan ontdek van wat God reeds in hul midde openbaar en wat nie altyd raakgesien word nie.

Daar is tans ‘n rykdom van multi-dissiplinere bronne wat wag om ontgin te word en in konstruktiewe gesprek geplaas te word met teologie oor die belangrikheid van so ‘n verstaan van imagination in die alledaagse lewe (insluitend die lewe van gemeentes as geloofsgemeenskappe in samelewingskonteks).  Dit het, eerstens, alles te make met van die mees being-given1grondliggende filosofiese ontwikkelings in die twintigste eeu (veral in hermeneutiese fenomenologie) waar die sentrum van kennis stelselmatig geskuif het weg van die innerlike bewussyn, ervaring, en rede (Husserl, Schleiermacher, Kant) na ‘n onlosmaaklike deel wees van die wereld (Heidegger) waar allerlei tradisionele horisonne (Gadamer) en tekste wat van buite mense tot hulle spreek (Ricoeur) skeppend deel word van onderskeiding tussen mense, en waar hierdie tussen-in ruimtes die vanselfsprekende transendeer met die “donasies/gawes” (Marion) wat in hierdie ruimtes geopenbaar word aan mense.

Vanuit ander dissiplines, soos kulturele of sosiale antropologie, kom daar tans insiggewende navorsing oor hoe kulturele verskuiwinge in vandag se globaliserende wereld (deur bv. die vloei van migrasie en media) die social imaginaire in die alledaagse lewe van gewone mense vorm (Arjun Appadurai, Charles Taylor).  Gemeentes bevind hulself midde-in die realiteitemodernity-at-large van hierdie sosiale konstruksies wat mense se wereldbeskouings vorm, en het dit as taak om die Christelike bronne van Woord, sakrament, en tradisie in gesprek te plaas met hierdie realiteite as ‘n voortdurende uitdaging tot geloofsonderskeiding in vandag se wereld.  Vir elke gemeente beteken dit iets baie besonders in die unieke situasies van spesifieke dorpe, buurte, en gemeenskappe, maar die uitdaging tot die kweek van gewoontes van verbeeldingryke geloofsonderskeiding is dieselfde vir almal.

Die “Wanneer”-vraag eerder as die “Hoe”-vraag

Written by webmeester on . Posted in Tussenin

Tydens ‘n onlangse fasiliteringsessie met ‘n Episcopal gemeente se kerkraad (“Vestry” genoem) hier in Minnesota was daar ‘n verrassende moment wat die fokus van die bepaalde gemeente se beplande proses van geloofsonderskeiding beslissend geskuif het.  Ek was gevra om ‘n sessie te fasiliteer waarin hulle wou probeer om groter duidelikheid te kry oor hoe om die gemeente te begelei in ‘n proses van geloofsonderskeiding rondom die vraag oor hoe om ‘n gestuurde (“missional”) gemeente te wees in hulle buurt en breer gemeenskap.  ‘n Verskuiwing in fokus van wat die relevante vraag is om te vra het begin met een van die kerkraadslede wat vertel het van “Grandma’s Rule” oor hoe ‘n ouer maksimum samewerking van ‘n kind kan kry.  “Grandma’s Rule” lui soos volg:

Kind:  “Kan ons in die park gaan speel?”

Ouer se outoritere reaksie:  “Nee!  Jy moet jou kamer aan die kant maak!”

Of, Ouer se afpersende reaksie:  “As jy jou kamer aan die kant maak, dan kan ons park toe gaan!”

Of, Ouer se dreigende reaksie:  “As jy nie jou kamer aan die kant kan maak nie, dan gaan ons nie park toe nie!”

Ouma (“Grandma”) se alternatiewe reaksie:  “Ja sekerlik, wanneer jy jou kamer aan die kant gemaak het, dan gaan ons park toe!”

Die betrokke kerkraadslid (‘n onderwyser van beroep) het dit agterna soos volg verwoord in verhouding tot die gemeente se vraag waarmee hulle gekonfronteer word:  “Grandma is brilliant!  Grandma’s Rule affirms that all the potential is there and is moving toward fulfillment; good things are already in progress, and we just need to step up our participation.  I would love for our question to affirm that God is already at work and that we need only to bring ourselves more fully, and with greater focus, into that work.”  Dit het uiteindelik daartoe gelei dat die kerkraad hulle “hoe”-vraag waarmee hulle die sessie begin het heeltemal verander het na ‘n “wanneer”-vraag:  “When the people of (gemeente se naam) bring together our deepest desires and our greatest gifts as we follow the Way of Jesus, what kind of future will God bring forth among us?”

Behalwe vir die eksplisiete “missional” taal waarin God as die primere, lewende, teenwoordige en aktiewe agent in hulle midde verstaan word (eerder as ‘n Deistiese Godsbeeld), en dat die gemeente gesien word as deelnemers in waarmee God alreeds besig is in die gawes van die gemeente (eerder as ‘n instrumentele kerkbegrip), is daar ‘n uiters belangrike eskatologiese dinamika wat na vore kom in die kerkraad se uiteindelike perspektief op waaroor dit eintlik gaan.  Die skuif van ‘n “hoe”-vraag na ‘n “wanneer”-vraag het hulle in staat gestel om temporeel eerder as saaklik te dink oor hulle roeping.  Die “wanneer”-vraag verskuif die fokus na “what kind of future will God bring forth among us” (soos dit aan die einde van hulle vraag gestel word).  Dit verteenwoordig ‘n betekenisvolle skuif weg van hoe ons as gemeente dinge doen na wanneer God inbreek in ons midde met Sy toekoms vir ons.  Dit skep ‘n verwagting en afwagting dat, wanneer ons gewoontes van geloofsonderskeiding kweek in gemeentes, die lewende God self deur Woord, sakrament, en Gees in ons midde kan verskyn as die fasiliteerder van ons roeping.

Jurgen Moltmann, The Church in the Power of the SpiritEk dink onwillekeurig aan die eskatologiese dimensie in die teologiese werk van iemand soos Jurgen Moltmann.  Wanneer hy oor die koninkryk van God skryf in sy boek, The Church in the Power of the Spirit, dan beskou hy “the first mediating category which must be mentioned in the messianic sphere is anticipation.”  Hy skryf dan verder hieroor:  “An anticipation is not yet a fulfilment.  But it is already the presence of the future in the conditions of history…  it is a defence against both fervent enthusiasm – ‘the kingdom of God is already present and we are already risen’ – and tragic resignation – ‘the world is unredeemed and everything is still ambivalent'” (bl.193-4).

As gestuurde gemeentes leef ons altyd in hierdie eskatologiese spanning van die moment waarin God teenwoordig en aktief is in ons midde om ons te verras, vernuwe, verander…

Die “Wie”-vraag eerder as die “Wat”-vraag

Written by webmeester on . Posted in Tussenin

Jannie Swart is tans met Phd studies besig in St Paul Minnesota oor Missionale Gemeentes en Leierskap. Op die nuwe blog TUSSEN-IN gaan Jannie sy tussen-in posisie benut om vars perspektiewe oor gemeente-teorie en bediening met ons te deel.

Ek het die afgelope twee jaar die voorreg gehad om deel te kon wees van twaalf Presbiteriaanse gemeentes in Pennsylvania (VSA) se proses van geloofsonderskeiding om hulle gestuurde roeping van God beter te verstaan.  Wanneer ons nou terug kyk op hierdie opwindende ontdekkingsreis is daar redelike konsensus oor ‘n moment in die proses wat ‘n bepalende verskil gebring het in hoe meeste van hierdie gemeentes oor hulle roeping begin dink het.  Dit was die moment van ontdekking dat die primere vraag nie ‘n “wat”-vraag is nie, maar ‘n “wie”-vraag.

Vir ‘n lang ruk tydens allerlei eksperimentering in die proses het baie gemeentes gedink dit gaan oor die vraag, “Wat vra God van ons om te doen as gestuurde gemeentes in die samelewing?”  Dit het daartoe gelei dat hulle meestal hulle gestuurde roeping verstaan het as die toevoeging van nog ‘n ekstra klomp projekte en aktiwiteite tot hulle reeds bestaan “te-doen” lys.  Gevolglik was vreemdelinge hoofsaaklik objekte van hulle goeie dade, as mense na wie toe gemeentes gestuur word om vir hulle iets te doen.  Die deurbrake het eers begin kom toe ontdekkings gemaak word dat die eintlike vraag ‘n verhoudingsvraag is, nl. “Wie is die mense na wie toe God ons stuur in die samelewing” om saam met hulle in verhouding te leef.  Die energie en aktiwiteite het begin skuif na verhoudingsbou sonder om voorbedagte rade oor wat die ander nodig het.  Die tekens van transformasie in gemeentekultuur tussen hierdie twaalf gemeente draai amper sonder uitsondering almal rondom aangrypende verhale van nuwe energie wat voortspruit uit gemeenskapsvorming met ander wat nie vantevore deel was van die gemeente nie.  Dit sluit in sommige gevalle nuwe projekte in, maar die verskil is dat dit projekte is wat gebore is vanuit nuwe verhoudinge eerder as vooraf bepaal deur die gemeente.

velingVir baie mense sal hierdie skuif soort skuif seker nie aardskuddend of iets nuuts wees nie, maar in die Amerikaanse samelewing verteenwoordig dit ‘n groot skuif.  Die pragmatiese kultuur van “wat werk” is oorweldigend.  Om teologies na te dink vanuit alledaagse verhoudinge met mense wat God oor ons pad stuur, eerder as vanuit dit wat die gemeente volgende kan beplan om te doen vir ander mense, kom nie vanselfsprekend nie.  Dit stel groot uitdagings aan ‘n nuwe soort praktiese teologie wat deur Terry Veling, in sy boek Practical Theology: On Earth as It Is in Heaven (Orbis, 2005), soos volg beskryf word: “It is not so much to ask about the ways that theology can be made practical; rather, it is to ask how the practices of my life can be made theological.”

So ‘n skuif in ons praktiese teologie en gemeentebediening vra van ons om met nuwe waardering te besin oor die bronne tot ons beskikking in teologiese tradisies wat ons help verstaan dat die lewe primer relasioneel is.  Ek sal gereeld op hierdie blog verwys na betekenisvolle werk in die verband vanuit trinitariese teologie oor ekumeniese grense heen.  ‘n Mens dink o.a. aan die teologie van Jurgen Moltman (Gereformeerd), Robert Jenson (Lutheraans), Catherine LaCugna (Rooms-Katoliek), en John Zizioulas (Ortodoks).  Hierdie trinitariese tradisies kan ons dalk help met die vorming van ‘n antropologie (mensbeskouing) in ons gemeentes wat minder indiwidualisties en pragmaties georienteerd is, en daarom ook vir ons help om minder instrumenteel te dink oor geloofsgemeenskappe.

grenzEen so ‘n invloedryke teologiese stem wat ‘n meer relasionele teologie in verband bring met antropologie is die van Stanley Grenz, veral in sy boek The Social God and the Relational Self: A Trinitarian Theology of the Imago Dei (Westminster John Knox, 2001).  Grenz wys hoe ‘n imago Dei (beeld van God) beskouing nooit los van die Triniteit en buite verhoudinge met die ander gedink kan word nie.  Dit was veral Karl Barth (asook Dietrich Bonhoeffer) wat in die twintigste eeu aangetoon het hoedat die imago Dei in die Bybel altyd in verhoudingkonteks ter sprake kom.  Dit geld vir die imago Dei in Genesis sowel as in die Nuwe Testamentiese briewe, asook wanneer die Nuwe Testament oor Christus as die imago Dei praat.

Ek dink die uitdaging vir ons in die vorming van gemeente- en gestuurde-identiteit is om gewoontes te kweek en praktyke te skep waar lidmate iets hiervan kan ontdek in ‘n verhoudingsgerigte gemeentebediening en roepingsbewustheid (eerder as om dit aan te bied as ‘n teorie oor wat waar is), en dan te sorg dat Bybels-teologiese refleksie altyd integraal deel is van nuwe gemeenskapsvorming in verhouding met die ander.