Eboeke in Epub formaat

Written by webmeester on . Posted in Inligting

Communitas

Communitas fokus op hulpverlening aan leraars en leiers in gemeentes.  Met Communitas word dit nou ‘n stappie verder geneem.  Ons wil produkte saam met rolspelers ontwikkel wat nie noodwendig kommersiële waarde inhou nie, en hoofsaaklik elektronies bemark word.  Dit sluit onder andere hulpmiddels, bedieningsmateriaal, hulpbronne, en prosesse vir gemeenteleiers en –groepe in.

Ons gaan op twee maniere te werk gaan. 

  1. Communitaspublikasies: Sommige publikasies sal aan die hand van ons eie interne prosesse voorberei word en sal ‘n Communitas ISBN nommer ontvang.  Ons dink hier aan nuwe produkte, maar ook ouer publikasies wat uit druk is.
  2. Selfpublisering: Ander publikasies sal sonder enige verandering geplaas word, om leraars en leiers geleentheid te gee om hulle materiaal vir ‘n wyer gehoor beskikbaar te stel.

Die hulpmiddels kan in enige elektroniese formaat beskikbaar gestel word.  Vir leeswerk sal ons aanvanklik met Epub werk, omdat Amazon nog nie Mobi formaat publikasies wat in Afrikaans geskryf is vir Kindle toepassings toelaat nie.  Vir Dataprojektors kan PowerPoint, videos en oudio gebruik word.  Ander produkte kan in Word en Pdf beskikbaar gestel word vir redigering en/of duplisering.  Uiteraard sal daar ook altyd die moontlikheid wees van bydraes op ons Blogs en Forums.

Ons nooi al ons leraars en leiers uit om dié geleentheid aan te gryp en óf publikasies aan ons voor te lê vir insluiting in ons Communitas prosesse óf die kans tot selfpublisering te benut.

Epub kan onder andere deur die volgende toepassings gelees word:

Kontak die webmeester.

Kindle lesers

Gebruikers wat met ‘n Kindle leser ‘n epub formaat wil lees, kan dit op verskeie maniere doen. Omdat daar nie DRM kopiereg ingebou is in die epub formate wat ons beskikbaar stel nie, kan jy ‘n epub dokument “convert” na enige ander formaat, onder andere die mobi formaat vir Kindle lesers. Hier is twee “converters” wat jy kan gebruik:

  • Daar is ‘n uitstekende online diens wat letterlik ‘n dokument van enige formaat na ‘n ander kan “convert”.  Gaan na Online-convert.com en volg die instruksies.
  • Of installeer die sagteware van Calibre om ‘n epub boek na Kindle (mobi) formaat te verander. Laai dit af by Calibre-ebook.com. Vir meer inligting hoe om presies te werk te gaan, kan jy hier kyk na ‘n deeglike verduideliking: How-to-read-epub-books-on-your-kindle.  (Dankie Danie Mouton vir die inligting!)

Wanneer hoop deurbreek

Written by webmeester on . Posted in Enuus

Hy was in ‘n ongemaklike situasie vanoggend, vertel ‘n vriend terwyl ons stap vir koffie.

Hy word gevra om ‘n egpaar in ‘n dissiplinêre verhoor te woord te staan. Alles dui daarop dat hulle die skuldige party is. Hulle kom in met aggressie en dreigemente om hulleself te verdedig. My vriend stuur die amptenaar van die instansie uit, maak die deur toe, gaan sit by hulle en begin luister… Stadig bedaar die agressie en raak die egpaar vrymoedig om hulle bekommernis oor die saak te deel.

Ons weet ook eintlik nie, begin hulle huiwerig te deel. Hy veroordeel nie, eggo hulle emosie, bly rustig teenwoordig in die angs wat na vore kom. En toe maak hulle heeltemal oop en raak eerlik. Daar word gehuil, planne gemaak, troos word uitgedeel. Wat ‘n tugverhoor moes gewees het, word ‘n ruimte waarin mense oor ‘n onwaarskynlike kloof na mekaar uitreik, en ‘n kind se lewe word “gered”!

Met die storie neem hy my gedagtes terug na hoe my eie dag begin het. ‘n Moeilike vergadering, wat my vannag laat rond rol het, het skielik onverwags ‘n baie goeie wending geneem. Ou klowe is skielik oorbrug en welwillendheid is gebore. Dit was nie my vernuf of enige ander leierskapstegniek nie.  HOOP het soos ‘n geskenk na my gekom.

Later vanmiddag kry ek berig van nog meer deurbrake oor die saak wat my laat wakker lê het. Die woorde van Sheila Cussons, die sendelingdogter van Piketberg, kom by my op: “Wat roer in die wortel, stoot in die sap, besige Christus …” en dan later in die gedig, “en hoe kon ek so afwesig staar na my?”

Mag ek, ons, haar woorde én die verhale onthou môre as ons ons vasloop in die vasgelooptheid van oënskynlike hopeloosheid.

Wat laat mense in verandering vassteek by die bekende?

Written by Besoeker on . Posted in Enuus

  • Ek dink die “hulle” is hier eintlik ons almal.  Is dit nie waar dat ons almal instinktief versigtig raak as ons voor die onbekende te staan kom nie?  Laat iemand maar net vir jou blinddoek en oor ‘n hindernisbaan begelei  Almal raak stadig, bang en selfs angstig, want ons weet nie waarheen ons geneem word nie.  Wat mense soos my vriend en ekself moet onthou, is dat ons meestal in prosesse in beheer wil bly.  Ons voorstelle word die pad wat ander moet loop.
  • Om te verlang na die bekende het baie keer te make met die spoed en intensiteit van die proses.  Hoe vinniger en dieper die proses loop, hoe groter is die kans dat ons transformasie-moeg sal raak, en dan is die bekende eenvoudig die maklikste of selfs die enigste manier om te oorleef.  Ek was onlangs verstom oor my eie reaksie toe ek na ‘n flim gekyk het oor apartheidskuld.  Daar het ‘n diep moegheid en moedeloosheid oor my gekom – net nie nog ‘n keer nie – was my gevoel.  Dit terwyl ek gewoonlik die een is wat mense sal aanmoedig om met ‘n oop gemoed en onbedreigd na die verlede te kyk! Die punt is eenvoudig, ek was emosioneel te moeg om die pad weer te loop. As mense seer gekry het – emosioneel seergekry het – en dit word nie geheel nie, is die emosionele energie net nie genoeg om weer oop te maak nie.
  • Van myself weet ek dat ek gewoonlik eenvoudig te vinnig is, en dit maak dat ek nie genoeg na mense luister nie. As mense dan nie inval nie, doen ek die onvergeeflike ding om mense wat nie met my saamstem nie te beskaam. Hoe kan jy nie die verandering steun nie, sal my lyftaal en stemtoon wees. Van mense naby aan my, hoor ek dat ek dan ‘n blindekol het en sonder dat ek dit weet dikwels geneig is om dan mense te laat voel hulle is net nie gehoorsaam genoeg, slim genoeg, gelowig genoeg of wat ookal is nie. Dit is dan wat ek begin preek, en hoe meer ek preek in so ‘n sitausie, hoe meer beskaam ek hulle!!! En hoe meer bou die “resenment” op in hulle, hoe onveiliger word dit om ons broosheid teenoor mekaar te wys. Morele hoë grond en die gepaardgaande beskaming is ‘n sonde wat ons as gemeenteleiers maklik in die naam van die HERE pleeg. Om mense te beskaam – hoe reg jy ookal mag wees – is nie van God nie, maar eerder gebore in eiegeregtigheid.

Dit help my ontdek dat die probleem nie met “hulle” te make het nie, maar met myself, wat nie genoeg luister nie, myself te ernstig opneem, en deur my ongeduld op ‘n subtiele manier in beheer wil bly. Ja, ek weet dit is nie die hele storie nie, maar kom ek vertel vir jou nog ‘n storie:

Ek is onlangs in ‘n klas, ‘n student vra ‘n vraag, ietwat lomp. Hy het die saak duidelik nie heeltemal deurdink nie. Ek sien die gat is sy argument en slaan toe. Binne enkele sinne sien ek hom reg. ‘n Vriend reageer gelukkig rustiger. Ek dink nie ons het alles gehoor wat jy wil sê nie, vra hy aan die student. Luisterend begelei hy die student verder, dieper.  Hy raak vrymoedig en begin voel-voel die eintlike saak wat hy op die tafel wil sit, oopmaak. Dit word ‘n wonderlike, lewensveranderende gesprek. Ek kon hom nie begelei nie, want ek was te gou met my antwoord, en te stadig om te luister …

Maar, ek ken hierdie moedeloosheid waarvan jy praat baie goed, en om die waarheid te sê, as ek eerlik moet wees, my moedeloosheid is dikwels ‘n vrees om te misluk wat ek projekteer op die “hulle” wat halstarrig is. Ek kan hulle nie verander nie, maar ek kan rustiger word, dieper luister, meer bevestig as beskaam, veilige ruimtes skep, sonder om op enige manier prys te gee op my visie. Dit is dan wat ek deur skade en skande leer, waar die teenwoordigheid van die Gees beleef word, waar die Koninkryk inbreek.

Soms breek die genade deur, ten spyte van myself, en lei ek nie vanuit vrees nie, maar vanuit die onvoorwaarlike beloftes van God, kry ek my ego oorwin en regtig gefokus op die ander in my teenwoordigheid. Dit is dan wat ek verstom is oor alles wat tussen mense kan gebeur. Dit is hierdie oomblikke van verwondering wat my ‘n volgende keer weer laat probeer.

{jcomments on}

Vraelys om jou Spiritualiteitstyl te evalueer

Written by webmeester on . Posted in Enuus

Ek het so ruk terug ‘n uiteensetting van die verskillende spiritualiteite gegee (sien vorige blog). Jannie Hougaard het Corine Ware se vraelys in Afrikaans verwerk en aangepas.Hier is Jannie se vraelys:

Jou Spiritualiteitsstyl: Vraelys

ʼn Aanduiding van styl van geloofsbelewing. (Konsep ontwikkel deur dr. Corinne Ware Discovering your Spiritual Type. Bethesda: Alban Institute, 1995.
Instruksies:

Lees ʼn afdeling eers in geheel op ’n slag.  Maak seker dat jy elke stelling deeglik begryp.
Besluit watter stelling jy onder die meeste omstandighede die gemaklikste mee sou wees. Merk normaalweg  een stelling per afdeling MAAR – Jy mag in sekere gevalle meer as een merk, maar probeer om nie meer as twee per afdeling te merk nie.

Oor preke…

1.    Vir my is ’n preek goed wanneer dit goed gestruktureer is en ek werklik iets kan leer daaruit.
2.    Ek wil tydens  ʼn preek ervaar dat die Here my hartsnare geroer het en ek iets van die warmte van sy
liefde ervaar het.
3.    ʼn Preek moet my laat dink en nie alles in detail uitspel nie. God se teenwoordigheid is vir my baie
meer belangrik.
4.    ʼn Preek moet my motiveer om iets in die koninkryk van die Here te gaan doen!

Oor Bybelstudiegroepe…

5.    Wat ek hou van gesamentlike Bybelstudie, is om die planne te ontdek wat God vir die wêreld het – en      dat ons deel daarvan kan wees!
6.    Die lekkerte van saam Bybelstudie doen bly my langer by as die inhoud wat ons behandel. God se liefde in ons saamwees, is wonderlik.
7.    Ek hou daarvan om studie van die Bybel te doen en iets te leer. Die byeenkoms moet goed gestruktureer wees
8.    Die lekkerste van Bybelstudie doen lê in die verwondering oor die grootsheid van God wat in ons groep  teenwoordig is en met ons praat.

Oor vernuwing en verandering …

9.    Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ʼn gevoel van warmte inbring tussen mense en God.
10.   Nuwe dinge in die erediens moet daartoe bydra om die gemeente te laat besef dat ons die liggaam, die  stem, hande en voete van God in die wêreld is.
11.  Nuwe dinge in die erediens moet eers goed deurdink word voordat dit ingevoer word.  Ek wil ook graag      vooraf weet hoe dit gaan verloop.  Vreemde nuwe dinge maak my effens gespanne.
12.  Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ons onder die indruk bring van  God se heiligheid en   grootsheid.  Dit moet my op God help fokus.

Oor gebed…

13.  Wanneer ek bid is ek soms net stil voor God.  Ek hoef nie altyd so baie met Hom te praat nie.
14.  ʼn Mens praat respekvol en weldeurdag met God as jy bid.
15.  As ek bid, moet ek vóél ek praat met God.
16.  Wanneer ek bid doen ek graag voorbidding vir mense in nood en vir die heidene wat nog nie van God  gehoor het nie.

Oor God…

17.  Ek ken God veral as my Hemelse Vader. God sorg.
18.  Ek ken God veral as die Koning. Hy heers oor die hele aarde.
19.  Ek ken God veral as my Vriend.  God praat met my.
20.  Ek ken God veral as die Heilige. God is groot, groter as wat ek besef.

As ʼn klomp gelowiges bymekaar is…

21.  Die byeenkoms van gelowiges moet my motiveer om iets vir die Here te doen. Ons moet kan planne maak,  want ons is deur die Here gestuur.
22.   ʼn Byeenkoms van gelowiges moet soos ʼn fees wees, ek wil my uitleef in die byeenkoms.  Ek wil deel          voel van Jesus se mense.

23.    In ʼn byeenkoms van gelowiges het ek behoefte daaraan dat ons rustig saam die teenwoordigheid van die  God beleef.  Deur die rustigheid van musiek en simboliek praat God met ons en verkwik Hy ons.

24.    ʼn Byeenkoms van gelowiges moet nie uitrafel nie.  Ek wil nie voel ek word in ’n rigting gedruk nie. Ek wil graag meer van die Here leer.

Oor God se skepping…

25.    Ek wil graag verstaan hoe die Here die aarde geskep het.

26.    As ek na die mooi natuur om my kyk, is ek opnuut gemotiveerd om iets aan die bewaring van God se groot handewerk te doen.
27.    Dit maak nie veel saak hoe die aarde ontstaan het nie, maar dit laat my baie goed voel as ek sien hoe    wonderlik alles in die skepping is.
28.    Die grootsheid van die skepping laat my iets van die Skepper daarvan ken.

As ek ’n geestelike boek sou lees, dan…

29.    wil ek graag lees van die sukses van wat mense gedoen het en hoe mense se toewyding aan die Here hulle     lewens verander het.
30.    wil ek besef dat Jesus die mense baie liefhet en dat ek een van hulle is!
31.    moet dit my meer kennis van die Bybel gee wat ek vir my lewe kan gebruik.
32.    verstom dit my dikwels dat God, wat so wonderlik is, ook in my ook belangstel.

My gunsteling liedere is…

33.    liedere wat my laat voel ek is deel van die Here se kinders.’n Byeenkoms sonder sang voel koud.
34.    liedere wat jou help om ’n keuse vir die Here te maak. As ons dit sing motiveer dit ons en help dit        ons om ons weer aan die Here te wy.
35.    liedere wat my help om te besef dat ons in God se teenwoordigheid is.  ’n Lied is vir my eintlik ’n         gebed.
36.    liedere waarvan die lirieke se boodskap goed deurkom. Ek hou nie van ’n klomp herhalings sonder dat  dit betekenis het nie.

Oor tyd voel ek …

37.    Hou by die afgespreekte begin- en afsluitingstyd van ʼn erediens of byeenkoms.
38.    Dit is belangrik om die tyd van die byeenkoms te verleng as ʼn mens voel dat dit nodig is.
39.    Al die tyd behoort aan die Here.  ʼn Gevoel van tydloosheid is belangrik.
40.    Vergader wanneer nodig en so lank as wat nodig is om die taak van die byeenkoms af te handel.

Oor die klem in godsdiens …

41.    Dis belangrik dat ons God se wil heeltemal gehoorsaam.
42.    Dis belangrik dat ons leer wat ons roeping in die wêreld is en dit verstaan.
43.    Dis belangrik dat ons ʼn heilige lewe saam met die Here leer leef.
44.    Dis belangrik dat ons in ʼn eenheid met ons Skepper beleef.  Alles van my dag is eintlik godsdiens.

As ek kritiek oor my godsdiens kry …

45.    sê mense soms ek is te droog en op die verstand en kennis ingestel.

46.    sê mense soms ek is nie realisties nie en probeer van die werklikheid van die lewensomstandighede  deur  middel van godsdiens te ontvlug.
47.    sê mense soms ek is te emosioneel en net op gevoel en belewing ingestel.
48.    sê mense soms ek het tonnelvisie en is te gesteld net op wat mense doen.

Belangrike temas / onderwerpe in die godsdiens:
(As jy nie dadelik kan besluit wat om te kies nie, merk die woorde wat vir jou belangrik is en kies dan die nommer met die meeste gemerkte woorde)

49.    Liefde, bekering, getuienis, spontaniteit, heiligmaking.
50.    Onderskeidingsvermoë, dissipline, kennis, orde, genade, regverdigmaking.
51.    Eenvoud, suiwerheid van hart, aksie, gehoorsaamheid, om te ly vir die saak.
52.    Nie materialisties, nederigheid, wysheid, om jou denke vry te laat dwaal, om eenheid met ʼn hoër wese         te ervaar.

In verband met godsdienstige gebruike en seremonies …

53.    Godsdienstige gebruike help mens weet waar ons vandaan kom (ons geestelike wortels).  Dit help mens  die teenwoordigheid van God beleef en dit lê tradisies vas.

54.    Godsdienstige gebruike is ʼn manier om jou standpunt oor innerlike geloofsoortuigings te wys (demonstreer).
55.    Godsdienstige gebruike is maniere waarin ons God se teenwoordigheid ervaar.
56.    Godsdienstige gebruike is nie so belangrik nie.

Begrip van God

57.    God word deur die Bybel, in die sakramente (doop en nagmaal) en Jesus Christus en sy kruis geken.
58.    Ek kan voel dat God werklik bestaan en dat Christus in my hart lewe.
59.    God is ʼn misterie, ons kan na Hom uitreik in geloof, maar Hy is groter as wat ons kan ken.

60.    Wanneer ons “mede-skeppers” saam met God in die wêreld word en van die wêreld ʼn beter plek help maak, deel ons in die misterie/grootsheid van God.

Nasien sleutel:

Die vraagnommer is eerste en die stylnommer wat die antwoord verteenwoordig 2de bv 1=4 beteken : Indien jy vraag 1 geantwoord het verteenwoordig dit die 4de styl)

Omkring die stelling wat jy gemerk het by elke afdeling.

Preke:1= 1/ 2=2/3=3/4=4

Bybelstudie:5=4/6=2/7=1/8=3

Vernuwing:9=2/10=4/11=1/12=3

gebed : 13=3/14=1/15=2/16=4

God: 17=1/18=4/19=2/20=3

Gelowiges: 21=4/22=2/23=3/24=1

Skepping: 25=1/26=4/27=2/28=3

Geestelike boek: 29=4/30=2/31=1/32=3

Liedere: 33=2/34=4/35=3/36=1

Tyd: 37=1/38=2/39=3/40=4

Godsdiens: 41=4/42=1/43=2/44=3

Kritiek: 45=1/46=3/47=2/48=4

temas: 49=2/50=1/51=4/52=3

Seremonies: 53=1/54=4/55=3/56=2

Begrip van God: 57=1/58=2/59=3/60=4

(Tel nou al die no 1’s bymekaar , al die 2’s bymekaar , al die 3’s bymekaar en al die 4’s bymekaar. Die een wat jy die meeste van het is die spiritualuiteitstyl van jou keuse )- Onthou jy kan meer as een styl hê!

Styl 1 = Kop of Teologiese styl

Styl 2= Hart of gevoelstyl

Styl 3= Mistieke of Geestesoog styl

Styl 4= Aktiewe of koninkrykstyl (crusaders)

Vir verdere verduideliking van style – sien vorige blog oor spiritualiteitstyle.