Laat ek heel voor begin. Vandag erken ek, ek was een van dié wat gesê het ek wil nie juis deel hê aan dié hele sokker affêre nie, selfs uitlatings gemaak en gesê ek sou verkies om in die tyd weg te wees, in die buiteland iewers, weg van die spektakel en was heilig oortuig gewees dat dit tien teen een ook in elk geval een reuse flop gaan wees. Swaar moet ek nou sluk aan die woorde en vrede probeer maak in myself oor die negatiewe gedagtes.
Tydens ons Pinksterdienste vroeër die jaar het daar al iets in my lewe gebeur, is ek subtiel aangeraak deur die wyshede en openbarings wat die Gees en toe Dr. Frederick Marais hier weg is, was daar een gedagte wat my die hele tyd bygebly het; dat om elke dag terug te kyk, die dag te analiseer en te kyk waar daar geleenthede was om Sy liefde en Sy deernis en Sy daarwees met ander te deel, en een stappie verder te gaan, om die Here te vertrou vir sulke geleenthede. Natuurlik het ek ook, tipies mens, probeer om dié saak te manipuleer en vir die Here voor te skryf waarmee ek gemaklik sou wees. Laas Sondag preek Dr. Marius Nel ‘n preek wat my weer terug ruk aarde toe en ets hy weer die boodskap af, en laat ons met die gedagtes: Leef met intensie, vertrou Hom vir geleenthede, kyk uit vir dit en gebruik dit. Die gedagtes ry my, bly by my.