NAGMAAL IN SOWETO

Written by Frederick on . Posted in Wêreldbeker Sokker 2010

My eerste ontmoeting met Soweto was in 1982. ‘n Groep sosiologie studente het ‘n toer na Soweto gereël. ‘n Wit amptenaar van die destydse departement gemoeid met naturelle of lokasies (ek kan nie die departement se naam onthou nie, dit kon plurale sake gewees het) was ons toergids. My indruk was dat niemand in die bus bang was om in Soweto te ry nie, ons het in elk geval nie uitgeklim nie en klipgooiery was aan ons onbekend. Die toergids het ons na mooi huisies geneem en gesê hulle moedig die inwoners aan om hul huisies gereeld te verf en ‘n tuintjie te maak, so steek hulle mekaar aan. “Dis nie lank nie dan het ‘n straat klomp mooi huisies” het hy trots verduidelik. Daar was geensins na die onreg van apartheid verwys nie, maar na alles wat die NP regering vir die inwoners in Soweto doen. Op een stadium het ons verby ‘n begraafplaas gery. Ek sal die woorde van die amptenaar wat dít as die beste plek vir die inwoners beskou het, nooit vergeet nie. Dit was blatante rassisme/haatspraak. Niemand het hom daaroor aangevat nie. Apartheid was in ons gewortel en getak.

’n Paar jaar daarna aanvaar ek ‘n beroep na ‘n NGKA gemeente in Alexandra – ‘n township in die noorde van Johannesburg. Ek was gereeld in Soweto vir kerkbyeenkomste. Townships is glad nie vir my ‘n vreemde plek nie, maar verlede Saterdag se Orlando-ervaring was iets besonders. Dis asof ‘n nuwe wêreld vir my oop gegaan het.

Ek wonder hoeveel mense het oogklappe van vooroordeel en stereotipering op gehad en by Orlando het hul oë oopgegaan. Dit herinner aan Paulus. Hy moes op die bekeringspad na Damaskus tot stilstand gebring word. Drie dae lank het hy met oopoë nie gesien nie. Waarskynlik was dit nodig sodat hy kon transformeer en ‘n nuwe lewensoriëntasie aanneem. Hy laat sy boosheid teenoor die navolgers van Christus staan en skryf ‘n aantal verrykende briewe aan geloof gemeenskappe. Hy breek deur ras grense heen, skryf ‘n bekende gedig oor God se liefde en praat ‘n geloofstaal van eenheid, geregtigheid en versoening.

As ons rassisme in hierdie land wil doodmaak, sal almal dit moet doodleef of is dit nou doodblaas. Ons sal aan mekaar se wêrelde bloot gestel moet word, dit is veral witmense wat onbekend aan swartmense se leefwêrelde is. Ons ken mekaar nie en fokus te veel op mekaar se skadukolle. Die ooglopende goedgesindheid van die meerderheid Suid-Afrikaners word misgekyk. Ons sal mekaar nooit ken as ons nie bereid is om opofferings te maak nie.

Afrika se hartlikheid klop in die townships. Dié vriendelikheid behoort op grondvlak ervaar te word, soos die baie Blou Bul en Stormer ondersteuners vandag kan getuig. Duisende wit gesigte het kleur in die vaal township strate gegee. Die vuvuzela het die nie-amptelike nasionale blaasinstrument geword en het met groot lawaai klank aan die geleentheid verleen. Black Label bier, pap en vleis was op straat en ander gehuggies en gangetjies verkoop.

‘n Groepie van ons het na die wedstryd in die donker ‘n paar kilometer na Orlando se “Backpackers Inn” gestap. Die mense het op pad ons vriendelik gegroet en die paar kindertjies wat nog buite was het opgewonde ons met “Blue Bulls” verwelkom. In die tuin van die Backpackers brand die dongas langs tafeltjies gesellig met ‘n plaaslike musiekgroep wat die gaste met musiek en dans vermaak. Ek en my broer eet kerriehoender met rys en slaai en drink iets saam, ‘n Nagmaal in die kleine. Terwyl ons eet, dink ek aan die volgende dag se nagmaal wat ons gemeente met ‘n wit gemeente het. ‘n Ontspanne atmosfeer onder die Afrika hemel heers, op een stadium word die volkslied uit volle bors saam gesing, sommige gaste staan soos in my Voortrekkerdae op aandag. Die grense is oorgesteek, vrede en vreugde heers. Saam word fees gevier, wit en swart vier hul mensheid. Die land se probleme en uitdagings lyk sommer kleiner.

Die vreugde en vrese by mense is universeel, die andersheid normaal. Dit is bevrydend om die andersheid van jou mede-landsburger te erken en te weet jy hoef nie sy/haar kultuur deur joune te vervang nie. Niemand hoef die ander te oorheers nie. Dit kan mekaar verryk en mekaar dien. Ons mis baie om nie mekaar te ken nie. Nog erger, ons besef nie dat ons mekaar nodig het nie.

Daar bestaan disfunksionele kante in alle kulture. Daarom is dit belangrik om te weet kulture is nie staties nie, dit kan transformeer as dit die demokratiese gees verrinneweer, en vrede en voorspoed beduiwel. Kultuur kan volgens die teoloog Albert Nolan soos ‘n tweede natuur aangeleer, afgeleer, ontwikkel en verander word.

Paulus vergelyk die volgelinge van Jesus met ‘n boom wat goeie vrug dra. Hulle respekteer ander mense. Hul hart en hande is oop, hulle is geduldig en vriendelik en dink nie te veel van hulself nie. En hulle is ook in staat om hulself te beheer. Die goeie vrug sien jy by verskillende mense raak, mense wat in Jesus glo en ander wat nie in Hom glo.

Die invloed wat veral sport soos rugby op versoening onder Suid-Afrikaners en nasiebou het, behoort nie onderskat te word nie. Dit is goed dat mense gedwing word om grense oor te steek, soos wat met die Blou Bulle gebeur het, toe Loftus nie beskikbaar was nie. Dit is belangrik om te weet dat dit gewoonlik ‘n prys vra om aan ander Suid-Afrikaners se leefwêrelde te betree. Jy moet grense oorsteek, jou geriefsone prys gee en waag, maar dis belangrik vir nasie bou, ons is dit aan ons land en nageslag verskuldig.

Die nuwe mensheid waarvan Paulus praat, was in ‘n nie kerklike gedaante in Orlando sigbaar. Wie weet God gebruik dalk rugby en die komende sokker wêreldbeker om sy doel met Suid-Afrika te bereik en so sy koninkryk uit te brei.

Die kerk se werk gaan voort. Ons nagmaal met ‘n NG gemeente was Gees verrykend. Terloops daar was meer NG lidmate as VGK lidmate in die VGK-kerkie. My Orlando-ervaring vorm deel van die Nagmaal liturgie, daar was blydskap in my hart terwyl ek die brood breek. Daar was vrede in my gemoed toe ek die wyn uit die beker skink. Daar is hoop vir ons land, dis genoeg rede om fees te vier.

Pieter van Niekerk{jcomments on}