Renovare. Roepings-retraite vir Leraars (en Gemeenteleiers)

Written by Joanie on . Posted in Roepingsvraelys

Tema:  Om weer jou roepingsfokus nuut en vars te ontdek of te bevestig

Renovare is ‘n ou latynse word in die kerk wat verwys na ‘n geloofsverhouding wat herstel is en daarom nuut beleef word.
Jou roeping as leraar (geestelike leier) is seker een van die kosbaarste, mees bepalende gebeure in jou lewe.  Omdat dit so ‘n persoonlike saak is, praat ons dikwels nie met mekaar daaroor nie.  Tog is dit goed dat ons van tyd tot tyd weer stil raak voor God en met mekaar oor ons roeping praat.
Dit is goed om weer ons rolle vanuit ons roeping te bevestig en die take wat daaruit voortvloei helder te formuleer.

Tydsduur:  Drie- tot vier-dag retraite.
Formaat:  Roeping- en leierskap-retraite.  Maak gebruik van stilte, luistergroepe (kleingroep) en grootgroep.
Materiaal:  Deelnemersgids beskikbaar.
Aanbieder:  Reël by Communitas.
Kontakbesonderhede: Joanie Batt; 021-808 3382; jcab@sun.ac.za


Hierdie is een van die gewildste retreat programme by Communitas wat baie lekker werk in Ringe, maar dit kan ook lekker werk vir ‘n kollega-span of leiersgroep in die gemeente. Groot dele van die program is gebaseer op Coenie Burger se boek: Ontmoetings met die lewende God. As jy voel jy het jou roeping ontgroei is dit dalk tyd om hierdie retreat te oorweeg.

Frederick Marais

Gesamentlike Ringstoer – Tulbagh

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Ons besoek St.Geoges Katedraal en word oa bekendgestel aan ‘n Afrika Ikoon( sien foto). Verer besoek ons die Grootte Kerk en die  Wynberg Gemeente (VG en NG saam).

Ons wou ook Robbeneiland besoek maar dit reën uit. Verder besoek ons die Oseanarium, fliek, Groot Constantia kelder leer om wynwaardering te doen (sien foto langsaan), teater, en sluit die toer af met gesprekke by die Kweekskool met Media24 se hoor uitvoerende beampte (Francois Groepe), Prof Elna Mouton en Coenie Burger.

Al hierdie afsprake is vervleg met heerlike uiteet, saamkuier, bid en saamry in ‘n minibus! Ons het  in ‘n heerlike huis tuisgegaan op die besondere Schoenstatt klooster-landgoed in Constantia.

Wat het die ouens beleef?

  • Freddie Swart (Bella Vista VGK- Ceres): “Dit was vir my wonderlik om so saam met mede kollegas te wees.”
  • Mario Ferris (VGK – Op die Berg): “Dit was ‘n besonderse toer met vele hoogte punte. Twee staan uit: die saam kuier met eie en mede kollegas, ‘n ‘bonding’ ervaring waarsonder die herenigingsproses in eie kring veel armer sou wees. Tweedens was daar die besoek aan die Groote Kerk in Kaapstad. Die storie van die gemeente, oud en nuut, soos vertel deur  Andre Olivier het my met nuwe hoop gevul.”
  • Armand Crous (Wolseley): “Die kameraderie tussen die leraars.  Die heerlike saamkuier, lag, ernstig wees – in alles kon ‘n mens die eenheid wat ons in Christus is, ervaar.
  • Die besoeke aan die 3 gemeentes (St Georges Katedraal, Groote Kerk en Wynberg).  Die Here is so duidelik besig om elke gemeente binne hulle konteks te lei en te stuur soos wat Hy weet dit vir die Koninkryk die beste is.  Die gemeentes (al drie “stadsgemeentes”) is verskillend in hulle aanslag en bediening, maar eenders in hulle gesindheid: alles tot eer van die Here.
  • Frankie Gerber (Ceres-vallei): “Vir bou van eenheid tussen kerke is dit nodig dat predikante mekaar as mense leer ken wat saam lag, eet, ontspan, bly in eilandsituasies vir sessies van minimum 2-3 dae; Hieruit ontwikkel vriendskappe, ontdek mense mekaar as persone wat baie in gemeen het; So groei vertrouensbande waar mense kan oopmaak, vertroue kan groei en begrip vir mekaar kan ontwikkel.
  • Myns insiens was die grootste sukses dié week dat ons nie op formele manier per agenda teenoor mekaar gaan sit het om bepaalde probleme op te los nie, maar langsmekaar iemand anders ‘ontdek’ het wat baie nader aan jou is as wat jy wil besef; Formele samesprekings volg informele saamkuier, saamdoen en saam ervaar.
  • ‘n Mens besef met so ‘n geleentheid dat verskille relatief is. Om saam ‘n Anglikaanse Nagmaal te waardeer bind ons aan mekaar en sommer aan die band van ekumene. Die ryke tradisie van die Grootte Kerk (waar nog nie een VGK leraar van hierdie groep was nie) was treffend. En om te dink dat beide “kerke” soveel jare daar saam, as een ligaam aanbid het.
  • Om saam te eet in ‘n netjiese eetplek laat mens besef ons almal deel in gewone uitdagings van kinders wat studeer, rekeninge wat betaal moet word, uitdagings en verwagtings in die gemeente. Die bederf van ‘n gratis ete en vertoning in die Baxter maak die deure oop vir ‘n ander openheid. Gesprekke ontstaan sonder pretensie en daar word gelag oor gewone menslike goed wat nooit opduik by formele vergaderings nie.

Ons groet mekaar met warmte en besef die saamwees was goed. Die Pinkster moegheid het plek gemaak vir gedeelde ervarings wat niemand van ons kan wegneem nie. Die Gees se werking was dalk anders; nie te meet in ‘n besluit of belydenis nie maar in gewone broederskap en liefde… Jesus het immers opgemerk dat die mense sal weet wie se dissipels ons is as hulle sien hoe lief ons mekaar het.

Veranderende wereld vol hoop en geleenthede vir gemeentes

Written by Frederick on . Posted in Verandering in gemeentes

Hoeveld Sinode het op 24 Januarie ‘n dagkonferensie aangebied oor die tema: Veranderende wereld vol Hoop en Geleenthede vir Gemeentes.  Frederick Marais het die konferensie aangebied. Die klankbaan van die konferensie is in 4 files opgeneem en kan hier na geluister word.

Klankbaan 1

Klankbaan 2

  • Ongemak van verandering
  • Jeremia 29 Wandel in die Woord
  • Misio Dei
  • Bewegings van die Gees
  • Geloofsonderskeiding

Klankbaan 3

Klankbaan 4

Vraelys om jou Spiritualiteitstyl te evalueer

Written by webmeester on . Posted in Spiritualiteit

Ek het so ruk terug ‘n uiteensetting van die verskillende spiritualiteite gegee (sien vorige blog). Jannie Hougaard het Corine Ware se vraelys in Afrikaans verwerk en aangepas.Hier is Jannie se vraelys:

Jou Spiritualiteitsstyl: Vraelys

ʼn Aanduiding van styl van geloofsbelewing. (Konsep ontwikkel deur dr. Corinne Ware Discovering your Spiritual Type. Bethesda: Alban Institute, 1995.
Instruksies:

Lees ʼn afdeling eers in geheel op ’n slag.  Maak seker dat jy elke stelling deeglik begryp.
Besluit watter stelling jy onder die meeste omstandighede die gemaklikste mee sou wees. Merk normaalweg  een stelling per afdeling MAAR – Jy mag in sekere gevalle meer as een merk, maar probeer om nie meer as twee per afdeling te merk nie.

Oor preke…

1.    Vir my is ’n preek goed wanneer dit goed gestruktureer is en ek werklik iets kan leer daaruit.
2.    Ek wil tydens  ʼn preek ervaar dat die Here my hartsnare geroer het en ek iets van die warmte van sy
liefde ervaar het.
3.    ʼn Preek moet my laat dink en nie alles in detail uitspel nie. God se teenwoordigheid is vir my baie
meer belangrik.
4.    ʼn Preek moet my motiveer om iets in die koninkryk van die Here te gaan doen!

Oor Bybelstudiegroepe…

5.    Wat ek hou van gesamentlike Bybelstudie, is om die planne te ontdek wat God vir die wêreld het – en      dat ons deel daarvan kan wees!
6.    Die lekkerte van saam Bybelstudie doen bly my langer by as die inhoud wat ons behandel. God se liefde in ons saamwees, is wonderlik.
7.    Ek hou daarvan om studie van die Bybel te doen en iets te leer. Die byeenkoms moet goed gestruktureer wees
8.    Die lekkerste van Bybelstudie doen lê in die verwondering oor die grootsheid van God wat in ons groep  teenwoordig is en met ons praat.

Oor vernuwing en verandering …

9.    Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ʼn gevoel van warmte inbring tussen mense en God.
10.   Nuwe dinge in die erediens moet daartoe bydra om die gemeente te laat besef dat ons die liggaam, die  stem, hande en voete van God in die wêreld is.
11.  Nuwe dinge in die erediens moet eers goed deurdink word voordat dit ingevoer word.  Ek wil ook graag      vooraf weet hoe dit gaan verloop.  Vreemde nuwe dinge maak my effens gespanne.
12.  Nuwe dinge in die erediens is in orde wanneer dit ons onder die indruk bring van  God se heiligheid en   grootsheid.  Dit moet my op God help fokus.

Oor gebed…

13.  Wanneer ek bid is ek soms net stil voor God.  Ek hoef nie altyd so baie met Hom te praat nie.
14.  ʼn Mens praat respekvol en weldeurdag met God as jy bid.
15.  As ek bid, moet ek vóél ek praat met God.
16.  Wanneer ek bid doen ek graag voorbidding vir mense in nood en vir die heidene wat nog nie van God  gehoor het nie.

Oor God…

17.  Ek ken God veral as my Hemelse Vader. God sorg.
18.  Ek ken God veral as die Koning. Hy heers oor die hele aarde.
19.  Ek ken God veral as my Vriend.  God praat met my.
20.  Ek ken God veral as die Heilige. God is groot, groter as wat ek besef.

As ʼn klomp gelowiges bymekaar is…

21.  Die byeenkoms van gelowiges moet my motiveer om iets vir die Here te doen. Ons moet kan planne maak,  want ons is deur die Here gestuur.
22.   ʼn Byeenkoms van gelowiges moet soos ʼn fees wees, ek wil my uitleef in die byeenkoms.  Ek wil deel          voel van Jesus se mense.

23.    In ʼn byeenkoms van gelowiges het ek behoefte daaraan dat ons rustig saam die teenwoordigheid van die  God beleef.  Deur die rustigheid van musiek en simboliek praat God met ons en verkwik Hy ons.

24.    ʼn Byeenkoms van gelowiges moet nie uitrafel nie.  Ek wil nie voel ek word in ’n rigting gedruk nie. Ek wil graag meer van die Here leer.

Oor God se skepping…

25.    Ek wil graag verstaan hoe die Here die aarde geskep het.

26.    As ek na die mooi natuur om my kyk, is ek opnuut gemotiveerd om iets aan die bewaring van God se groot handewerk te doen.
27.    Dit maak nie veel saak hoe die aarde ontstaan het nie, maar dit laat my baie goed voel as ek sien hoe    wonderlik alles in die skepping is.
28.    Die grootsheid van die skepping laat my iets van die Skepper daarvan ken.

As ek ’n geestelike boek sou lees, dan…

29.    wil ek graag lees van die sukses van wat mense gedoen het en hoe mense se toewyding aan die Here hulle     lewens verander het.
30.    wil ek besef dat Jesus die mense baie liefhet en dat ek een van hulle is!
31.    moet dit my meer kennis van die Bybel gee wat ek vir my lewe kan gebruik.
32.    verstom dit my dikwels dat God, wat so wonderlik is, ook in my ook belangstel.

My gunsteling liedere is…

33.    liedere wat my laat voel ek is deel van die Here se kinders.’n Byeenkoms sonder sang voel koud.
34.    liedere wat jou help om ’n keuse vir die Here te maak. As ons dit sing motiveer dit ons en help dit        ons om ons weer aan die Here te wy.
35.    liedere wat my help om te besef dat ons in God se teenwoordigheid is.  ’n Lied is vir my eintlik ’n         gebed.
36.    liedere waarvan die lirieke se boodskap goed deurkom. Ek hou nie van ’n klomp herhalings sonder dat  dit betekenis het nie.

Oor tyd voel ek …

37.    Hou by die afgespreekte begin- en afsluitingstyd van ʼn erediens of byeenkoms.
38.    Dit is belangrik om die tyd van die byeenkoms te verleng as ʼn mens voel dat dit nodig is.
39.    Al die tyd behoort aan die Here.  ʼn Gevoel van tydloosheid is belangrik.
40.    Vergader wanneer nodig en so lank as wat nodig is om die taak van die byeenkoms af te handel.

Oor die klem in godsdiens …

41.    Dis belangrik dat ons God se wil heeltemal gehoorsaam.
42.    Dis belangrik dat ons leer wat ons roeping in die wêreld is en dit verstaan.
43.    Dis belangrik dat ons ʼn heilige lewe saam met die Here leer leef.
44.    Dis belangrik dat ons in ʼn eenheid met ons Skepper beleef.  Alles van my dag is eintlik godsdiens.

As ek kritiek oor my godsdiens kry …

45.    sê mense soms ek is te droog en op die verstand en kennis ingestel.

46.    sê mense soms ek is nie realisties nie en probeer van die werklikheid van die lewensomstandighede  deur  middel van godsdiens te ontvlug.
47.    sê mense soms ek is te emosioneel en net op gevoel en belewing ingestel.
48.    sê mense soms ek het tonnelvisie en is te gesteld net op wat mense doen.

Belangrike temas / onderwerpe in die godsdiens:
(As jy nie dadelik kan besluit wat om te kies nie, merk die woorde wat vir jou belangrik is en kies dan die nommer met die meeste gemerkte woorde)

49.    Liefde, bekering, getuienis, spontaniteit, heiligmaking.
50.    Onderskeidingsvermoë, dissipline, kennis, orde, genade, regverdigmaking.
51.    Eenvoud, suiwerheid van hart, aksie, gehoorsaamheid, om te ly vir die saak.
52.    Nie materialisties, nederigheid, wysheid, om jou denke vry te laat dwaal, om eenheid met ʼn hoër wese         te ervaar.

In verband met godsdienstige gebruike en seremonies …

53.    Godsdienstige gebruike help mens weet waar ons vandaan kom (ons geestelike wortels).  Dit help mens  die teenwoordigheid van God beleef en dit lê tradisies vas.

54.    Godsdienstige gebruike is ʼn manier om jou standpunt oor innerlike geloofsoortuigings te wys (demonstreer).
55.    Godsdienstige gebruike is maniere waarin ons God se teenwoordigheid ervaar.
56.    Godsdienstige gebruike is nie so belangrik nie.

Begrip van God

57.    God word deur die Bybel, in die sakramente (doop en nagmaal) en Jesus Christus en sy kruis geken.
58.    Ek kan voel dat God werklik bestaan en dat Christus in my hart lewe.
59.    God is ʼn misterie, ons kan na Hom uitreik in geloof, maar Hy is groter as wat ons kan ken.

60.    Wanneer ons “mede-skeppers” saam met God in die wêreld word en van die wêreld ʼn beter plek help maak, deel ons in die misterie/grootsheid van God.

Nasien sleutel:

Die vraagnommer is eerste en die stylnommer wat die antwoord verteenwoordig 2de bv 1=4 beteken : Indien jy vraag 1 geantwoord het verteenwoordig dit die 4de styl)

Omkring die stelling wat jy gemerk het by elke afdeling.

Preke:1= 1/ 2=2/3=3/4=4

Bybelstudie:5=4/6=2/7=1/8=3

Vernuwing:9=2/10=4/11=1/12=3

gebed : 13=3/14=1/15=2/16=4

God: 17=1/18=4/19=2/20=3

Gelowiges: 21=4/22=2/23=3/24=1

Skepping: 25=1/26=4/27=2/28=3

Geestelike boek: 29=4/30=2/31=1/32=3

Liedere: 33=2/34=4/35=3/36=1

Tyd: 37=1/38=2/39=3/40=4

Godsdiens: 41=4/42=1/43=2/44=3

Kritiek: 45=1/46=3/47=2/48=4

temas: 49=2/50=1/51=4/52=3

Seremonies: 53=1/54=4/55=3/56=2

Begrip van God: 57=1/58=2/59=3/60=4

(Tel nou al die no 1’s bymekaar , al die 2’s bymekaar , al die 3’s bymekaar en al die 4’s bymekaar. Die een wat jy die meeste van het is die spiritualuiteitstyl van jou keuse )- Onthou jy kan meer as een styl hê!

Styl 1 = Kop of Teologiese styl

Styl 2= Hart of gevoelstyl

Styl 3= Mistieke of Geestesoog styl

Styl 4= Aktiewe of koninkrykstyl (crusaders)

Vir verdere verduideliking van style – sien vorige blog oor spiritualiteitstyle.

Sisteemdenke en gemeentes: ‘n Inleiding

Written by Frederick on . Posted in Toolkit

GDN Forum

Stellenbosch

11-13 Februaire 2009

Frederick Marais gee ‘n inleiding tot die wyse waarop Sisteemdenke van Peter Senge van toepassing gemaak kan word op gemeentes. Die klankbaan van die voorlegging kan hier afgelaai word. (9.5MB) Frederick behandel ‘n aantal archetipes aan die hand van gevallestudies uit gemeentes. Die voorlegging moet liefs geluister word met die Power Point wat hy gebruik het tydens die aanbieding.

{gallery}/sisteem{/gallery}

Wat sal dit vir jou moontlik maak om terug te keer NG Kerk toe?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Dit is nou twintig jaar later. Die lewendige, ondeunde gelaat van die dinamiese man aan die oorkant van die ontbyttafel het sigbaar ouer geword, die plooie meer sigbaar. Maar die gesig wat pret en vreugde uitstraal, die spontane glimlag, het dieselfde gebly.

    Twintig jaar later. Vandag sit ons in ‘n plattelandse hotel en nuttig saam ontbyt. Twee dekades gelede was hy ‘n jeugdige ouderling, ongetroud, in die gemeente waar ek destyds gedien het. Sedertdien het hy verhuis na ‘n ander Oos-Kaapse dorpie, en woon nou al meer as 15 jaar hier.  Intussen is hy getroud, het die pa van vier kinders geword, en is lid, nee, ‘n senior leier, van ‘n groeiende charismatiese gemeente op hierdie plattelandse dorpie.

    Ons paaie het gisteraand onverwags weer gekruis. Gelukkig realiseer die impromptu ontbyt-uitnodiging.  Ek is nuuskierig en wil sommer vroeg in die gesprek weet waarom hy charismaties “gedraai het”?

    “Tien jaar gelede het ek en my vrou besondere dinge van die Here begin beleef”, kom die antwoord – sy gesig nou ernstig. “Die Here het ons diep bewus gemaak dat Hy beslag lê op ons lewens, dat ons nooit ware geluk sal smaak as ons onsself nie voeg in sy roeping vir ons lewens nie, dat ons Jesus radikaal moet navolg. Die honger om Hom te dien, het meer en meer intens geword.  Ons het as egpaar ‘n duidelike roeping ontvang: ons moes uitreik na kinders en hulle begelei in ‘n verhouding met die Here”.

    Is dit nuut?, vra ek.  Julle was tog destyds ook betrokke by die jeugbediening van ons gemeente?

    “Ja, maar nou het dit ‘n passie vir kinders van alle kleure en geure geword. Ons het bewus geword van die nood in die township, van jongmense en kinders wat prakties gesproke haweloos is, die slagoffers van bendegeweld, van verbrokkelde huise, kinders vir wie weinig mense werklik omgee, en na wie niemand uitreik nie. Kinders wat nooit spesiaal voel omdat hulle die onverdeelde aandag van belangstellende volwassenes beleef nie.  Kinders wat nie liefde ervaar nie.”

    In hierdie tyd het die Here ons sy liefde vir ons op ‘n werklik intense manier laat beleef. Ons kon bars daarvan: dat die grote God vir ons omgee. Ons liefhet!  Aanspraak maak op ons lewe. Vir ons liefde en seën gee sodat ons dit kan deel met ander.  Ons het spesiale ervarings met die Here gehad.”

    Ek is nou direk in my vrae – ons het mekaar immers goed geken, en vind steeds aanklank by mekaar: “Hoe vervreem so iets jou van die NG Kerk?”.

    “Eenvoudig”, sê hy. “Ek was naïef genoeg om hieroor te praat tydens kerkraadsvergaderings en by ander byeenkomste met gemeentelede. Ons het getuig, ons was opgewonde, ons het gebid dat ander ook hierdie soort ervarings met die Here sal hê.  Ons het vriende genooi om saam met ons uit te reik – om skole te besoek, met kinders te praat, geleenthede vir kinders uit ander dele van die dorp te reël….”

    “Toe kry ons die trekpas.  Tydens ‘n kerkraadsvergadering het een van die senior ouderlinge, ‘n boere-oom, vir my gesê ons hoort nie langer in dié kerk nie.  Ons skep onrus, ons moet gaan.”

    Ek kan my ore nie glo nie. “Moenie vir my sê julle het vir die omie geluister nie?”, sê-vra ek.

    “Jy weet dalk nie hoe dinge werk op ‘n konserwatiewe dorpie nie”, sê my vriend.  “Ons het geweet ons doppie was geklink. Dalk het ons oorreageer, maar ons het dadelik bedank.  Vir geruime tyd was ons prakties kerkloos, maar mettertyd het ons deel geword van ‘n nuwe, charismatiese kerkplanting op die dorp.”

    Nou loop ons gesprek baie draaie en hy vertel uitvoerig oor die groei van hul nuwe gemeente.  Interessant genoeg het hulle deur al die jare ‘n goeie verhouding met hul voormalige NG dominee behou. “Eintlik was dié dominee die afgelope tien jaar steeds my mentor, totdat hy ‘n ander beroep aanvaar het, ofskoon hy magteloos was om my as lidmaat te beskerm”.

    Aan die einde van ‘n lang gesprek, vra ek: “Wat sal dit vir jou moontlik maak om terug te kom NG Kerk toe?”

    Hy betrap my onkant:  “Dié dag dat die NG Kerk op hierdie dorp besef sy bestaan nie slegs vir haar lidmate op hierdie dorp nie, maar dat sy geroep is om die gemeenskap te dien.  Dié dag wanneer die kerk die Here se liefde ongekwalifiseerd met die mense rondom hulle begin deel, oop arms het vir diegene wat anders as hulle is, maar die kerk nodig het, en verstaan dat hulle geseën is om tot seën te wees.”

    “Ek dag jy sou verwys na ‘n leerstelling of twee, of na ‘n dramatiese geestelike ervaring?”, stamel ek.

    Die lagplooitjies trek saam en verlewendig die ondeunde gelaat. “Liefde, diens, en die seën van ons naaste IS mos die belangrikste leerstelling én die hoogste ervaring van ons geloof”, glimlag die man wat soveel vreugde uitstraal.