Jesus se onverhoorde lydens-gebed.

Written by webmeester on . Posted in Spiritualiteit

Lydenstyd is ‘n tyd waneer ek meer as normaalweg bewus is van my eie broosheid en nietigheid. Dit is juis die bewustheid van my eie onvolmaaktheid dat ek die oorwinning van die opstanding na lydenstyd met soveel vreugde kan vier. Verskeie gebeure rondom my, het my die afgelope tyd meer intens bewus gemaak van die mens se feilbaarheid, dat ons menswees soms maar sinoniem is met nietigheid. Ek dink ons voel ook soms dat ons  net nie kan verstaan waarom God nie vir ons Ja sê nie. In ons eie oë voldoen ons gebede en lewenstyl dan aan al die voorwaardes wat die Woord vra. Verder verstaan ons nie waarom slegte dinge met godvresende mense gebeur nie. Dit hoort mos nie so nie. Ten spyte van al die dinge ervaar ons dat God soms vir ons “Nee” sê. Met ander woorde, die beantwoording van ons gebede hang nie af van hoe volmaak ons bid of lewe nie. Dit het eerder alles met God te maak!!

In sulke tye word ons gedwing om verder te kyk. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing  waar wou laat word. Al is dit vir ons moeilik,  moet ons  “onverhoorde gebede”  in die raamwerk van God se genade geplaas word en moet ons in ons eie lydenstyd ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie raak of sal ons dit ook nie raaksien nie. Dit is wat lydenstyd so intens maak. Dit is ‘n tyd om sonder antwoorde voor die gekruisigde Jesus te buig en ons lewe in sy hande te gee.

Miskien kan ons in die lydenstyd perspektief kry oor ons eie gebede in die woorde waarmee Jesus sy gebed afgesluit het

“ Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”

‘n Geseënde Paastyd vir almal!

Quintus

Vreemdeling-vriend ‘n Getuienis

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Vreemdeling-vriend : ʼn getuienis

Stan Voges

Tydens die Xenofobia het ons plaaslike N G Kerk veilige verblyf in een van ons lokale gebied aan ʼn aantal Zimbabwiërs.  Sodoende woon hulle ons eredienste by en gebruik ook Nagmaal saam met ons.
Tydens hierdie gebeure ontmoet ek vir Clifford en Sheila.  Ons begin ʼn verhouding bou en hulle word ons vriende.  Ek ontdek in hulle twee weergebore kinders van die Here met hulle vertroue net op die Here.  Dit was my voorreg om hulle van lewensmiddele te voorsien want hulle het regtig niks gehad nie.  Die dankbaarheid was onbeskryflik groot.  Die res van my familie het ook betrokke geraak,
Hulle is vir my so ʼn volmaakte voorbeeld van vertroue op God.  Hulle bedel nooit, al gaan dit hoe moeilik, en sodoende sien ek hoe God vir Sy kinders voorsien.  Hulle lewer ook getuienis tydens ʼn erediens en Clifford haal aan uit 1 Konings 1 : 50 waar Adonia aan die horings van die altaar vasgehou het.  So was ons gemeente en kerk ook vir hulle ʼn veilige vesting na al die ontberings in hulle eie land.  Hulle het skuiling kom soek en God se liefde aangevoel.
Ons tema van hierdie jaar is “God se liefde dring ons” en ek het dit nou ervaar in my verhouding met hulle.  Somtyds vra ek myself af “Hoekom uitreik”?, dan kom die antwoord net onomwonde:  “God se liefde dring my”.
“A stranger is just a friend you do not know”, maak nie saak wie of wat hy is nie of wat sy velkleur is nie.

Uitdaging van ‘n bekende uit die Vreemde!

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Donderdag, 26 Februarie 2009 04:00 
Om in ‘n bitter koue, sneeu bedekte Minnesota deur Vusi Mahlasela met eg Suid-Afrikaanse township folk, blues en soul musiek getrakteer te word is al klaar genoeg om jou siek van verlange huis toe te maak.  Maar as iemand jou nog boonop tydens die agterna ontmoeting met die orkes met ‘n verontwaardigende “Het ek reg gehoor dat julle ook Suid-Afrikaners is?” in Afrikaans groet, dan kry jou hart ‘n ekstra stuiptrekking.

Sy het aan die anderkant van die apartheidskleurgrens grootgeword as ek, en is nou ‘n Humphrey fellow by die Universiteit van Minnesota a.g.v. haar werk in homeless shelters en met domestic violence slagoffers (vroue en kinders) in die Kaap.  Terwyl ons mekaar in Afrikaans leer ken, hoor ek my dogter in Zoeloe gesprek voer met Vusi, en skielik is ek buitengewoon sentimenteel oor die uniekheid van Tutu se reenboognasie.

En nou, ‘n paar weke later, op ‘n Woensdagaand in my tuisgemeente hier in Minnesota (‘n Episcopal gemeente), sit ek en my nuwe vriend uit die Kaap langs mekaar in ‘n Aswoensdag erediens.  Sy met haar nuwe wortels in die Anglikaanse gemeenskap in die Kaap vanuit ‘n Baptiste agtergrond, en ek as ‘n NG predikant in ‘n liturgiese moment in die kerkjaar wat vreemd is aan my gereformeerde tradisie.  En skielik ervaar ek en my nuwe vriend uit Woodstock in die Kaap ‘n dieper identiteit wat veel meer kosbaar is as ons Suid-Afrikaanse konneksie.  Ons kan langs mekaar staan om die as-kruis op ons voorkoppe te ontvang, mekaar omhels eerder as met die hand groet tydens die “sharing of the peace”, en na mekaar uit dieselfde beker drink tydens die eucharist bediening.

Ons vind ons eenheid in die begin van Lydenstyd met ‘n klem op verootmoediging, berou, en bekering.  Ons vind ons gesamentlike identiteit in die kruis van die doop.  En ons vind ons toekoms in die pynlike oorkoming van die 1857 oomblik van swakheid langs die nagmaalstafel.

Is ons gesukkel aan gemeentelike identiteitsvorming te wyte aan ‘n liturgiese verarming, wat ons nou probeer red met ‘n narcissistiese klem op self-ervaring en vermaak in ‘n pragmatiese kultuur van wat werk?
 

Wie of wat is die kerk in ‘n sekulere samelewing?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Zebra Uitwisseling
Besoek aan Nederland November 2008
Jaco Coetsee


Hierdie verslag moet gelees word teen die agtergrond van die volgende addendums: “Wel en wee van n straatpastor in Urecht”   en “Verslag aan kerkraad van besoek aan Nederland November 2008”.


In hierdie verslag wil ek konsentreer op net een aspek van die besoek wat my die heeltyd laat nadink het, en dit is die vraag: Wie of wat is die kerk in n sekulere samelewing? Of anders gestel: Wat is die unieke en eiesoortige identiteit van die kerk binne n sekulere samelewing wat geen tekort het aan hulpdienste en skynbaar talle singewende instellings nie.


Die vraag het vir my gestalte gekry toe ek een aand saam is  met Erna  na n openbare vergadering  in n gemeenskapsaal binne die stadswyk waar sy werk. Die doel van die vergadering was om  inwoners bekend te stel of op te dateer oor die verskillende gemeenskapsdienste wat beskikbaar is.   So het instansies soos die volgende spreekbeurte gekry: polisiediens, maatskaplike werkers, jeugaksies, ondersteuningsdienste vir bejaardes, finansiele adviesdienste,  interkulturele ontmoetingsaksie,  oefeninggroep ensomeer.  Gemeenskapsdienste dus wat die volle spektrum dek van die fisieke en emosionele behoeftes wat binne n gemeenskap bestaan. My gevoel was dat daar geen skuiwergate in die behoefteprofiel is nie – alles wat KON is aangespreek deur een of ander hulpdiens.  


Erna is voorgestel as “buurtpastor” sonder enige verdere verduidelikings of kwalifikasies. Sy is duidelik tuis binne die kring van hulpdienste, het goeie kontak met die meeste verteenwoordigers of het die aand genetwerk met instansies.  Soos al die ander, het sy n minuut of wat geleentheid gekry om haarself en haar werk voor te stel en sy het iets gesê soos dat sy beskikbaar is vir enige persoon met enige probleem op enige tyd….sonder verdere kwalifikasie.   Ek het aanvaar dat die aanwesiges weet wat n buurtpastor is….en tog het ek later ook gewonder: wat IS in werklikheid Erna se identiteit?  (Terloops, sy is allerwee in die buurt bekend as “onze Erna” – dus bemind en geliefd en beslis n “teenwoordigheid”)


Terug nou by die vraag: wat IS n buurtpastor, wat IS die KERK binne die dampkring van allesdekkende gemeenskapsdienste wat vir alle praktiese doeleindes alle menslike behoeftes aanspreek?  Wat maak die buurtpastor ANDERS? Wat maak die kerk ANDERS? Wat bied die kerk wat die maatskaplike werker of enige ander diensinstelling nie beter kan doen nie? Wat bied die KERK by so n gemeenskapsvergadering wat sy eiesoortigheid bevestig en ast ware in relief bring teenoor ander instellings? Veral nog as dit binne n sekulere samelewing is wat nie “behoefte” het aan die sogenaamde geestelike nie?  Of, HET hulle dalk n behoefte……en by wie of wat sal hulle gaan kers opsteek?


Ek het meermale gewonder: wat sal gebeur in so n sekulere gehoor as een van die diensaksies  (in hierdie geval die buurtpastor, kerk) opstaan en iets sê soos: “Ek verteenwoordig ons soeke na die transendente, na dit wat ewig en geestelik is. Ek is daar vir elkeen wat vra na God, na sin, na vergifnes, na holistiese vernuwing van gees en liggaam. Ek is daar om te bid.  Dit is my vernaamste taak. Ek werk saam met al die diensinstellings waar nodig….en ek bid vir elkeen. Almal wat saam met my op reis wil gaan op soek na HIERDIE geestelike dimensie,  kom maak gerus na die tyd n afspraak en kry my visitekaartjie. “


Ek dink nie Erna kon haarself anders aanbied as wat sy gedoen het nie. Ek ken die mense en die gehoor nie goed genoeg nie.  Ek meen wel dat mense , OF op grond van vorige ondervinding OF op grond van intuisie sou weet dat Erna die transendente verteenwoordig.  AS dit so is,  waarvoor sou hulle haar kom besoek? Hoekom by haar en nie die talle ander dienste met uitstaande en gemotiveerde personeel nie?  Bloot omdat hulle van Erna as persoon hou……of omdat hulle in haar die KERK, die TRANSENDENTE,  die GEESTELIKE, die EWIGE verteenwoordig sien? Erna hou n nagmaalsdiens in die kapel in die middel van die buurt……en DIT doen geen ander instelling nie……


Erna is DAAR vir mense…..dink ek, soos sy bedoel: DAAR soos God DAAR is. Op watter oomblik gaan die saamwees met Erna vir n sekulere mens in n bewussyn oor van die DAARWEES van GOD in Christus ?  Is die swyende saamwees en daarwees genoeg…..of kom daar n oomblik dat die kerk, die pastor, verbaal die inhoud van die openbaring van God, die Skrif, begin kommunikeer?  En die oomblik as dit gebeur, sal jy die sekulere persoon vervreem …….of verbyster tot geloof?


Vir MY (maar ek is nie sekuler nie) IS Erna as buurtpastor, IS Carol as gemeentepastor en IS Wieke as straatpastor die lewende kerk.  Maar, hulle IS dit ook in die sekulere samelewing waar hulle elkeen , op hulle eie manier en op hulle eie tyd (God se tyd?) die transendente en onsigbare God LEWEND maak vir mense in daad….en woord,  in gesprek en gebed.  n Moeilike taak, sou ek sê.  Maar, was die kerk nie maar altyd net soutkorrels in n groot mengbak nie? En beweeg die lewende Here nie in en deur hierdie drie getuies deur die strate van Utrecht nie?


Dit lyk my, na alles, asof die kerk se UNIEKHEID steeds en altyd daarin sal lê, al lewer jy watter wonderlike maatskaplike diens, om uiteindelik heen te wys na die transendente, na God….beter nog God in Christus.

TRANSFORMATION FOR LEADERS

Written by webmeester on . Posted in Spiritualiteit

I was reading Timothy Geoffrion’s new book, The Spirit-Led Leader, where at the end he talks about hearing a lecture on shame that changed his life. The teacher talked about shame being different from guilt. Guilt is the result of wrongdoing about what we have done. Shame is feeling bad, terrible, about who we are.  Tim said that he was aware of his over-functioning as a leader, desperately wanting affirmation with education and working hard. He also realized that shame was also the driving power beneath addictions. I have recognized that much of my work has been an addiction. I have recognized shame in my life.

His revelation struck me because in the last meeting of my men’s group, we were studying shame because of the suicide of a relative of one of our members. This young man couldn’t face the chaos in his personal life, couldn’t admit to his loneliness with anyone. He was popular and successful, but addicted. We, the men in our group, have struggled with our shame together for twenty years. We have varied ministries, but continue to meet together for support.

The answer to shame, says Ernie Kurtz in his book, Shame and Guilt, is mutual caring. Caring makes us whole from within. It is turning ourselves over to the care of God. It is mutuality which is always the hallmark of love. The bridge between people is vulnerability. In Alcoholics Anonymous people confront their powerlessness, and admit to God, self, and another person the exact nature of their wrongs. But above all, they are in a weekly group where there is mutual vulnerability and support.  Each fulfills the other. There is mutual dependency, always a hallmark of love.

Where do we learn this as leaders, congregations, and people who practice justice and mercy?

We have learned in seminary that the intellect is the most important of the human ways of perception. Not faith, prayer, or healing. I have continually been with seminary students who lost a vital relationship with God because of their seminary training which stressed them out with demands for studies and fieldwork. And where there was a course or two on spirituality, this was usually a course for the spiritually mature, which most people are unable to do or appreciate.

We repeat this with leaders in church, who are usually successful and stressed out, who run the church like a poorly designed business and may have a brief prayer at the beginning and end of the meeting. In worship we preach sermons addressed to the intellect, and lead only prayers which are nice talks to God. Not much passion, not much listening to God which is fostered.

Recently a columnist in the New York Times, said that this appeal to rationality has misguided economists and regulators about the stock market. The idea is that rational people would self-correct. But it hasn’t worked. Reason does not control us. All sorts of emotions like greed and fear do. We need structures to protect us.

There are many ways to help produce passion, compassion, love, transformation.

But ways I know about are:

1. Groups in which there is mutuality of discovering spirituality and the lack of it. Instead of just feeling guilty, people can learn to be open about their longing and about their pilgrimage. Staying in Touch is one introduction to this.

I facilitate groups for pastors that combine some individual spiritual formation with  attention to ministry. This is not an academic adventure of studying a book or looking at the writing of sermons: it is sharing with mutual vulnerability where and how we are caught by shame of being alone and vulnerable, and  seeing how our ministry might become transformed. This is not just a case study approach or a spiritual direction group, but a group characterized by openness to each other, to the Spirit, and to questions. There are three focal points: the Spirit within, among, and in ministry and justice.

2. I see pastors individually for what I used to call “spiritual direction.” The heart of this is discernment about where God is calling, moving, nudging the directee. But instead of the therapeutic model of a therapist who does not become involved personally, I am becoming more and more a friend to my directee, more sharing of my struggles. I am more like a sponsor in AA, more like a mentor or coach. I believe that this is mutual vulnerability. It seems to produce results.

3. I continue to teach and practice a daily exercise that helps us learn to recognize God’s activity and receive God’s grace. I have taken this practice from the Jesuits and alcoholics, but added one critical element: receiving onto only forgiveness and direction, but allowing grace and love in. This was the result of being in South Africa. There, the Africaans church were practicing a season of listening, and talked about “Rest, Receive, and Respond.” Rest is taking Sabbath time. Receive is being open to God’s gifts of love. Respond is just that: doing and being.

I have tried to incorporate their emphasis by encouraging thanksgiving for blessings received. But more than that, it is to recognize God in everything  Not just spiritual highs and feelings of love. Not just belonging and communion, but because of these, through all of life.

Energiepunte in gemeentes

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Waar en hoe het die Here op verrassende maniere deur gemeentes gewerk in 2008?

Tydens die Communitas-spanvergadering-in Nov 2008 het ons nagedink oor tendense wat ons in gemeentes waarneem. Ons het besluit om oor die volgende geloofsonderskeidende vraag na te dink en verhale te vertel: Waar en hoe het die Here op verrassende maniere deur gemeentes gewerk vanjaar?

Ons ervarings en verhale is natuurlik gestempel deur ons dienslewering aan gemeentes die afgelope jaar. Ons is as span genooi om vanjaar met ‘n verskeidenheid van gemeentes en predikante in verskillende kontekste op pad te gaan. Ons het dieper probeer kyk as die voor-die-hand-liggende na nuwe tendense of energiepunte of punte van dinamiek wat ons kan help om te besluit waarin ons moet belê vir die toekoms. As Communitas Netwerk vat ons mekaar se hande om in ons dienslewering te fokus op hierdie tendense en geleenthede as gawes voortspruitend uit die werk van die Gees.

Ons is deur hierdie verhale geïnspireer en het weer ontdek:

  • dat gemeentes hulleself nie kan bou nie, maar dat gemeentes gebou word deur die werk van die Drie-enige God;
  • at ons tyd nodig het om daaroor na te dink, daaroor te bid en insig te ontwikkel nie, want dis nie iets wat ons doen nie, maar wat die Here onder ons aan die doen is.

Die hoop wat voortspruit uit die werk van die Gees is dikwels ‘n “skugter” hoop.  Jy kan dit maklik miskyk, veral as jy te besig is met jou eie agenda. As jy dit opmerk, kan jy dit as gawe ontvang en sodoende vennote word van die Drie-enige God. Dan sal ons ontdek dat sy las lig en sy juk sag is.

Lees verder oor ons bevindinge op die blog  Padlangs met Gemeentes.

Jou spiritualiteitstyl beïnvloed jou gebedslewe

Written by Besoeker on . Posted in Spiritualiteit

As daar een saak is waaroor mense maklik krities raak, is dit dat ander mense nie die Here op “die spesifieke manier waaraan ons gewoond geraak het aanbid nie. Maar hoekom bid ons op verskillende maniere ? Hoekom is daar gelowiges wat in een gemeente is, maar verskillend dink oor gebed en eredienste? Daar is ‘n verskeidenheid redes: die een is dat persoonlikhede en temperamente verskil. Mense het ook verskillende talente en gawes. Mense het egter ook verskillende spiritualiteitstipes.

In hierdie artikel gaan ek ‘n kort oorsig gee oor mense se verskillende spiritualiteitstipes. Oral waar ek nog in gemeentes en groepe hieroor gepraat het, het ek gevind dat gemeentes en gelowiges meer begrip vir mekaar se andersheid kry as hulle verstaan dat daar meer as een manier is om tot God te bid, erediens te hou en saam met God te leef!

 

Wat is spiritualiteit? Dit is die mens se diepste dors / hunkering na God. Dit is elke mens se styl hoe hy voor die aangesig van God wil wandel – hoe hy wil bid en leef. Spiritualiteit verwys na ons ervaring en wandel met God : waar en hoe ons die teenwoordigheid van God beleef.

In Corinne Ware se boek “ Discover Your Spiritual Type: a guide to congregational growth” identifiseer sy vier verskillende spiritualiteittipes. Dit het my baie gehelp om mense, wat anders as ek bid, te verstaan. Sy gebruik ‘n spirituele tipologie van Urban Holmes en onderskei vier tipe spiritualiteitstyle. Sy onderskei tussen (1) ‘n Intellektuele /denkende tipe wat sy ook kortliks “head” noem; (2) ‘n meer charismatiese of hart spiritualiteitsgroep, (3) die mistieke spiritualiteit en (4) die koninkryks of visionênere spiritualiteit. Elke tipe het ‘n sekere rol wat dit in ‘n gemeente speel en elke tipe het ‘n eie gebedstyl.

 

Ek verduidelik dit kortliks:

Spiritualiteits tipes, soos beskryf deur Corinne Ware and Urban Holmes

· Tipe 1: Kopspiritualiteit (Teologies georiënteerde mens)

Die kopspiritualiteit is ‘n denkende en intellektuele spiritualiteit . Die realiteit van ons geloofslewe is vir hulle belangrik.  Hulle druk hulle teologie in vaste konsepte uit bv. God as Vader. Die letterlik geskrewe Woord van God ( Bybel) is vir hulle die essensie. Hulle hou van alledaagse aktiwiteite en ook van die samekoms van die gemeente. Hulle is soms gemaklik met ‘n formele preekstyl in die erediens en geniet studiegroepe en goeie teologiese preke. Hulle bydrae tot die gemeente is gewoonlik op die terrein van sistematiese teologiese nadenke oor leerstellige en etiese kwessies. Hulle sorg ook vir struktuur in gemeentes. Hulle verkies om slegs die Bybel as bron van hulle spiritualiteit te gebruik (ervaring is nie vir hulle prioriteit nie).

Gebedslewe: Hulle gebedslewe is vir hulle ‘n uitdrukking van hulle eerbied aan God. Hulle beleef God deur hulle verstand. Hul gebed is gewoonlik goedgeformuleer. Hulle sal van gebede hou wat uitgeskryf is en gelees kan word. Hulle hou daarvan om met God te praat. Hulle gebedsstyl is gewoonlik gedissiplineerd, afgerond en met goeie teologiese inhoud. Hulle kan baie baat vind by die Lectio Divina.

· Tipe 2 : Hartspiritualiteit (Charismaties georiënteerde mens )

Die hartspiritualiteit (katafaties/affektiewe) hou van warm uitdrukkings van geloof en interpersoonlike warmte binne die gemeente. Hulle stel die Woord ook sentraal, maar vir hulle is die uiterlike uitdrukking van emosies ewe belangrik. Gewoonlik is dit die spiritualiteitsytipe wat makliker sy goddiensbelewing tentoon sal stel. Dit word gewoonlik gedoen met ‘n gesigsuitdrukking of handgebare of lewenshouding. Persoonlike getuienis, musiek en evangelisasie is vir hulle belangrik –– Hulle verkies tipe prediking wat van ander se getuienisse of ervaring praat. Persoonlike getuienisse is vir hierdie groep baie belangrik. Gewoonlik is hulle warmte, entoesiasme en gemoedelikheid aansteeklik in ‘n gemeente. Hulle is gewoonlik ook voorstanders van informele manier van dinge doen.

Gebedslewe: Hierdie tipe spiritualiteit voel hulle tuis met baie emosie en gevoelsvolle uitdrukkings in hulle gebedslewe, asook binne die eredienste.Hulle hou daarvan om met God te praat, maar minder formeel as die eerste groep. Hulle hou van vrye en spontane gebede.

· Tipe 3: Mistieke spiritualiteit (Mistiek georiënteerde mens)

Die mistieke (affektiewe /opofaties) hou daarvan om aan God se voete te sit en luister. Die affektiewe (emosie) is vir hulle ook belangrik, maar hulle emosie is na binne gekeer. Hulle luister eerder na God as om met hom te praat. Hulle soek die teenwoordigheid van God. Stiltes in erediens is belangrik. Simbole speel ‘n belangrike rol in hulle geloofsvorming. Hulle hou ook van meditatiewe dissiplines en die lees van die Bybel help hulle om nader aan God te groei. Stilgebed is vir hulle belangrik. Hulle sal die mense wees om die gemeente te herinner aan die heiligheid van God te midde van die alledaagse.

Gebedslewe: Gebed is vir hulle eerder om na God te luister, as om met Hom te praat. Hulle hou nie van klaar uitgewerkte antwoorde nie en wil hê dat God Homself aan hulle moet openbaar deur gebed. Gebed is ‘n fokus op die teenwoordigheid van God. Dit is soms genoeg om bloot in stilte aan God se voete te sit. Kontemplatiewe (na binne gerigte gebed)gebed spreek hulle aan

· Tipe 4: Koninkrykspiritualiteit ( Baanbreker georiënteerde mens)

Die koninkryksspiritualiteit ( spekulatief/apofaties) hou daarvan om aktief by sending, barmhartigheid asook die sosiale aksies, betrokke te wees. Dit is vir hulle belangrik om met medewerkers saam te beplan aan die aksies waarby hulle betrokke is en saam te bid daarvoor. Hulle is dikwels die sosiale gewete van die kerk en bring die gemeente tot aksie. Hulle is die mense wat durf en selfopoffering uitstal in hulle navolging van die koninkryk se doelwitte. Hulle skaar hulle gewoonlik by menseregtegroepe en hulp aan vigswesies. Gehoorsame en ywerige mense. (Sommige mense noem hierdie ook die Hand spiritualiteit. Die praktyk het my geleer dat  mense die benaming “hand” misverstaan – hulle dink dit gaan oor basaar hou en koekies bak . Daarom verkies ek eerder Corinne Ware se formulering van :koninkrykspiritualiteit)

Gebedslewe: Hulle bid as hulle besig is om iets vir die Here op die sendingveld te doen. Hulle gebed is baie ingestel dat die koninkryk van God sal groei. Vir hulle word gebed en teologie die beste in hulle praktiese dade getoon. Is ook gerig op wat God in die wêreld moet doén om die koms van die koninkryk te bewerkstellig. Hulle doen graag voorbidding vir die sending en barmhartigheidsaksies van die gemeente.

Corinne Ware wys daarop dat elke tipe sy eie klem plaas op gebed: Tipe 1 kan baie baat vind by die Lectio Divina. Tipe 2 mense het dit nodig om te ekperimenteer in gebed, liturgie en gevoelsvolle musiek. Tipe 3 hou weer van stilgebed en hou ook daarvan om sy gebedslewe privaat te hou. Tipe 4 mense bid weer graag as daar ‘n veldtog gehou word. Tipe 1 en 2 mense hou van programme, sprekers en veldtogte.

Corinne Ware

IN WATTER VAN DIE 4 STYLE SOU JY INPAS? Onthou jou styl beinvloed die manier hoe jy bid, eredienste beleef en jou daaglikse godsdientige belewing. Jy kan ‘n kombinasie van twee style hê.

Hoe hanteer ons die vier spiritualiteits style ?

Ons hoef nie baie rigied met die indeling saam te stem of dit presies so toe te pas nie, maar dit help ons om onsself en ander wat van ons verskil se godsdiensbelewing te verstaan. Dit help ons ook om groei-areas te identifiseer. Elke spiritualiteitstipe maak ‘n onmisbare bydrae tot die gemeente. Elke tipe moet die ander help om meer gebalanseerde spiritualiteitslewe te hê. Sodra slegs die een tipe oorbeklemtoon word lei dit maklik tot eensydigheid. Soms wonder mense waarom een prediker en sy styl hulle aanspreek en ‘n ander weer nie- wel die antwoord is dat mense verskillende spiritualiteitstyle het en dat predikante verskillende style het. Dit sal gemeenteleiers loon om navorsing te doen na die gemeente se spiritualiteitstipes. Dit kan net wees dat die bediening van die gemeente net een groep in gemeente aanspreek. Indien dit vir gemeenteleiers belangrik is om ‘n geestelike tuiste vir almal te bied, moet hulle seker maak dat daar ruimte vir al vier spiritualiteitstipes in ‘n gemeente is .


Die wete dat ons vir God verskillend aanbid, moet mense tot begrip en dankbaarheid teenoor mekaar stem.

Dit is ook die rede waarom mense verskillend oor gebed dink. Die een persoon het ‘n meer charismatiese styl(emosie en ophef van hande), terwyl die ander ‘n meer mistieke styl(simbole en stiltes ) het. Die een wil ‘n goed voorbereide gebed bid (kopspiritualiteit) en die ander verstaan nie hoekom almal nie vir die sending voorbidding doen nie(koninkrykstyl). Die geheim is dat ons vir mekaar ruimte moet gee en eerder die verskeidenheid vier en waardeer, as wat ons te krities met verskille omgaan. Daar is nie ‘n regte en verkeerde styl nie. Soms maak ons die fout om te dink dat net die mistieke tipe of net die koninkrykstipe mense is wat baie bid.

Die waarheid is dat elke tipe spiritualiteit ernstig is oor gebed – hulle beoefen dit net anders

Kom ons dank God dat ons nie almal dieselfde is en Hom op dieselfde manier aanbid nie. Kom ons dank Hom dat ons vir mekaar het om vir ons ‘n ryke en geseende gebeds- en spirituele lewe te gee.

Quintus

Breda Ludick het destyds saam met Nico Simpson ‘n verwerking van Corinne Ware se boek in ‘n kursusvorm aangebied. Dit het by Buvton (Communitas) verskyn onder die kursusnaam: Koeltebome.