Gesamentlike Ringstoer – Tulbagh

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Ons besoek St.Geoges Katedraal en word oa bekendgestel aan ‘n Afrika Ikoon( sien foto). Verer besoek ons die Grootte Kerk en die  Wynberg Gemeente (VG en NG saam).

Ons wou ook Robbeneiland besoek maar dit reën uit. Verder besoek ons die Oseanarium, fliek, Groot Constantia kelder leer om wynwaardering te doen (sien foto langsaan), teater, en sluit die toer af met gesprekke by die Kweekskool met Media24 se hoor uitvoerende beampte (Francois Groepe), Prof Elna Mouton en Coenie Burger.

Al hierdie afsprake is vervleg met heerlike uiteet, saamkuier, bid en saamry in ‘n minibus! Ons het  in ‘n heerlike huis tuisgegaan op die besondere Schoenstatt klooster-landgoed in Constantia.

Wat het die ouens beleef?

  • Freddie Swart (Bella Vista VGK- Ceres): “Dit was vir my wonderlik om so saam met mede kollegas te wees.”
  • Mario Ferris (VGK – Op die Berg): “Dit was ‘n besonderse toer met vele hoogte punte. Twee staan uit: die saam kuier met eie en mede kollegas, ‘n ‘bonding’ ervaring waarsonder die herenigingsproses in eie kring veel armer sou wees. Tweedens was daar die besoek aan die Groote Kerk in Kaapstad. Die storie van die gemeente, oud en nuut, soos vertel deur  Andre Olivier het my met nuwe hoop gevul.”
  • Armand Crous (Wolseley): “Die kameraderie tussen die leraars.  Die heerlike saamkuier, lag, ernstig wees – in alles kon ‘n mens die eenheid wat ons in Christus is, ervaar.
  • Die besoeke aan die 3 gemeentes (St Georges Katedraal, Groote Kerk en Wynberg).  Die Here is so duidelik besig om elke gemeente binne hulle konteks te lei en te stuur soos wat Hy weet dit vir die Koninkryk die beste is.  Die gemeentes (al drie “stadsgemeentes”) is verskillend in hulle aanslag en bediening, maar eenders in hulle gesindheid: alles tot eer van die Here.
  • Frankie Gerber (Ceres-vallei): “Vir bou van eenheid tussen kerke is dit nodig dat predikante mekaar as mense leer ken wat saam lag, eet, ontspan, bly in eilandsituasies vir sessies van minimum 2-3 dae; Hieruit ontwikkel vriendskappe, ontdek mense mekaar as persone wat baie in gemeen het; So groei vertrouensbande waar mense kan oopmaak, vertroue kan groei en begrip vir mekaar kan ontwikkel.
  • Myns insiens was die grootste sukses dié week dat ons nie op formele manier per agenda teenoor mekaar gaan sit het om bepaalde probleme op te los nie, maar langsmekaar iemand anders ‘ontdek’ het wat baie nader aan jou is as wat jy wil besef; Formele samesprekings volg informele saamkuier, saamdoen en saam ervaar.
  • ‘n Mens besef met so ‘n geleentheid dat verskille relatief is. Om saam ‘n Anglikaanse Nagmaal te waardeer bind ons aan mekaar en sommer aan die band van ekumene. Die ryke tradisie van die Grootte Kerk (waar nog nie een VGK leraar van hierdie groep was nie) was treffend. En om te dink dat beide “kerke” soveel jare daar saam, as een ligaam aanbid het.
  • Om saam te eet in ‘n netjiese eetplek laat mens besef ons almal deel in gewone uitdagings van kinders wat studeer, rekeninge wat betaal moet word, uitdagings en verwagtings in die gemeente. Die bederf van ‘n gratis ete en vertoning in die Baxter maak die deure oop vir ‘n ander openheid. Gesprekke ontstaan sonder pretensie en daar word gelag oor gewone menslike goed wat nooit opduik by formele vergaderings nie.

Ons groet mekaar met warmte en besef die saamwees was goed. Die Pinkster moegheid het plek gemaak vir gedeelde ervarings wat niemand van ons kan wegneem nie. Die Gees se werking was dalk anders; nie te meet in ‘n besluit of belydenis nie maar in gewone broederskap en liefde… Jesus het immers opgemerk dat die mense sal weet wie se dissipels ons is as hulle sien hoe lief ons mekaar het.

Wat sal dit vir jou moontlik maak om terug te keer NG Kerk toe?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Dit is nou twintig jaar later. Die lewendige, ondeunde gelaat van die dinamiese man aan die oorkant van die ontbyttafel het sigbaar ouer geword, die plooie meer sigbaar. Maar die gesig wat pret en vreugde uitstraal, die spontane glimlag, het dieselfde gebly.

    Twintig jaar later. Vandag sit ons in ‘n plattelandse hotel en nuttig saam ontbyt. Twee dekades gelede was hy ‘n jeugdige ouderling, ongetroud, in die gemeente waar ek destyds gedien het. Sedertdien het hy verhuis na ‘n ander Oos-Kaapse dorpie, en woon nou al meer as 15 jaar hier.  Intussen is hy getroud, het die pa van vier kinders geword, en is lid, nee, ‘n senior leier, van ‘n groeiende charismatiese gemeente op hierdie plattelandse dorpie.

    Ons paaie het gisteraand onverwags weer gekruis. Gelukkig realiseer die impromptu ontbyt-uitnodiging.  Ek is nuuskierig en wil sommer vroeg in die gesprek weet waarom hy charismaties “gedraai het”?

    “Tien jaar gelede het ek en my vrou besondere dinge van die Here begin beleef”, kom die antwoord – sy gesig nou ernstig. “Die Here het ons diep bewus gemaak dat Hy beslag lê op ons lewens, dat ons nooit ware geluk sal smaak as ons onsself nie voeg in sy roeping vir ons lewens nie, dat ons Jesus radikaal moet navolg. Die honger om Hom te dien, het meer en meer intens geword.  Ons het as egpaar ‘n duidelike roeping ontvang: ons moes uitreik na kinders en hulle begelei in ‘n verhouding met die Here”.

    Is dit nuut?, vra ek.  Julle was tog destyds ook betrokke by die jeugbediening van ons gemeente?

    “Ja, maar nou het dit ‘n passie vir kinders van alle kleure en geure geword. Ons het bewus geword van die nood in die township, van jongmense en kinders wat prakties gesproke haweloos is, die slagoffers van bendegeweld, van verbrokkelde huise, kinders vir wie weinig mense werklik omgee, en na wie niemand uitreik nie. Kinders wat nooit spesiaal voel omdat hulle die onverdeelde aandag van belangstellende volwassenes beleef nie.  Kinders wat nie liefde ervaar nie.”

    In hierdie tyd het die Here ons sy liefde vir ons op ‘n werklik intense manier laat beleef. Ons kon bars daarvan: dat die grote God vir ons omgee. Ons liefhet!  Aanspraak maak op ons lewe. Vir ons liefde en seën gee sodat ons dit kan deel met ander.  Ons het spesiale ervarings met die Here gehad.”

    Ek is nou direk in my vrae – ons het mekaar immers goed geken, en vind steeds aanklank by mekaar: “Hoe vervreem so iets jou van die NG Kerk?”.

    “Eenvoudig”, sê hy. “Ek was naïef genoeg om hieroor te praat tydens kerkraadsvergaderings en by ander byeenkomste met gemeentelede. Ons het getuig, ons was opgewonde, ons het gebid dat ander ook hierdie soort ervarings met die Here sal hê.  Ons het vriende genooi om saam met ons uit te reik – om skole te besoek, met kinders te praat, geleenthede vir kinders uit ander dele van die dorp te reël….”

    “Toe kry ons die trekpas.  Tydens ‘n kerkraadsvergadering het een van die senior ouderlinge, ‘n boere-oom, vir my gesê ons hoort nie langer in dié kerk nie.  Ons skep onrus, ons moet gaan.”

    Ek kan my ore nie glo nie. “Moenie vir my sê julle het vir die omie geluister nie?”, sê-vra ek.

    “Jy weet dalk nie hoe dinge werk op ‘n konserwatiewe dorpie nie”, sê my vriend.  “Ons het geweet ons doppie was geklink. Dalk het ons oorreageer, maar ons het dadelik bedank.  Vir geruime tyd was ons prakties kerkloos, maar mettertyd het ons deel geword van ‘n nuwe, charismatiese kerkplanting op die dorp.”

    Nou loop ons gesprek baie draaie en hy vertel uitvoerig oor die groei van hul nuwe gemeente.  Interessant genoeg het hulle deur al die jare ‘n goeie verhouding met hul voormalige NG dominee behou. “Eintlik was dié dominee die afgelope tien jaar steeds my mentor, totdat hy ‘n ander beroep aanvaar het, ofskoon hy magteloos was om my as lidmaat te beskerm”.

    Aan die einde van ‘n lang gesprek, vra ek: “Wat sal dit vir jou moontlik maak om terug te kom NG Kerk toe?”

    Hy betrap my onkant:  “Dié dag dat die NG Kerk op hierdie dorp besef sy bestaan nie slegs vir haar lidmate op hierdie dorp nie, maar dat sy geroep is om die gemeenskap te dien.  Dié dag wanneer die kerk die Here se liefde ongekwalifiseerd met die mense rondom hulle begin deel, oop arms het vir diegene wat anders as hulle is, maar die kerk nodig het, en verstaan dat hulle geseën is om tot seën te wees.”

    “Ek dag jy sou verwys na ‘n leerstelling of twee, of na ‘n dramatiese geestelike ervaring?”, stamel ek.

    Die lagplooitjies trek saam en verlewendig die ondeunde gelaat. “Liefde, diens, en die seën van ons naaste IS mos die belangrikste leerstelling én die hoogste ervaring van ons geloof”, glimlag die man wat soveel vreugde uitstraal.

 

Vreemdeling-vriend ‘n Getuienis

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Vreemdeling-vriend : ʼn getuienis

Stan Voges

Tydens die Xenofobia het ons plaaslike N G Kerk veilige verblyf in een van ons lokale gebied aan ʼn aantal Zimbabwiërs.  Sodoende woon hulle ons eredienste by en gebruik ook Nagmaal saam met ons.
Tydens hierdie gebeure ontmoet ek vir Clifford en Sheila.  Ons begin ʼn verhouding bou en hulle word ons vriende.  Ek ontdek in hulle twee weergebore kinders van die Here met hulle vertroue net op die Here.  Dit was my voorreg om hulle van lewensmiddele te voorsien want hulle het regtig niks gehad nie.  Die dankbaarheid was onbeskryflik groot.  Die res van my familie het ook betrokke geraak,
Hulle is vir my so ʼn volmaakte voorbeeld van vertroue op God.  Hulle bedel nooit, al gaan dit hoe moeilik, en sodoende sien ek hoe God vir Sy kinders voorsien.  Hulle lewer ook getuienis tydens ʼn erediens en Clifford haal aan uit 1 Konings 1 : 50 waar Adonia aan die horings van die altaar vasgehou het.  So was ons gemeente en kerk ook vir hulle ʼn veilige vesting na al die ontberings in hulle eie land.  Hulle het skuiling kom soek en God se liefde aangevoel.
Ons tema van hierdie jaar is “God se liefde dring ons” en ek het dit nou ervaar in my verhouding met hulle.  Somtyds vra ek myself af “Hoekom uitreik”?, dan kom die antwoord net onomwonde:  “God se liefde dring my”.
“A stranger is just a friend you do not know”, maak nie saak wie of wat hy is nie of wat sy velkleur is nie.

Uitdaging van ‘n bekende uit die Vreemde!

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Donderdag, 26 Februarie 2009 04:00 
Om in ‘n bitter koue, sneeu bedekte Minnesota deur Vusi Mahlasela met eg Suid-Afrikaanse township folk, blues en soul musiek getrakteer te word is al klaar genoeg om jou siek van verlange huis toe te maak.  Maar as iemand jou nog boonop tydens die agterna ontmoeting met die orkes met ‘n verontwaardigende “Het ek reg gehoor dat julle ook Suid-Afrikaners is?” in Afrikaans groet, dan kry jou hart ‘n ekstra stuiptrekking.

Sy het aan die anderkant van die apartheidskleurgrens grootgeword as ek, en is nou ‘n Humphrey fellow by die Universiteit van Minnesota a.g.v. haar werk in homeless shelters en met domestic violence slagoffers (vroue en kinders) in die Kaap.  Terwyl ons mekaar in Afrikaans leer ken, hoor ek my dogter in Zoeloe gesprek voer met Vusi, en skielik is ek buitengewoon sentimenteel oor die uniekheid van Tutu se reenboognasie.

En nou, ‘n paar weke later, op ‘n Woensdagaand in my tuisgemeente hier in Minnesota (‘n Episcopal gemeente), sit ek en my nuwe vriend uit die Kaap langs mekaar in ‘n Aswoensdag erediens.  Sy met haar nuwe wortels in die Anglikaanse gemeenskap in die Kaap vanuit ‘n Baptiste agtergrond, en ek as ‘n NG predikant in ‘n liturgiese moment in die kerkjaar wat vreemd is aan my gereformeerde tradisie.  En skielik ervaar ek en my nuwe vriend uit Woodstock in die Kaap ‘n dieper identiteit wat veel meer kosbaar is as ons Suid-Afrikaanse konneksie.  Ons kan langs mekaar staan om die as-kruis op ons voorkoppe te ontvang, mekaar omhels eerder as met die hand groet tydens die “sharing of the peace”, en na mekaar uit dieselfde beker drink tydens die eucharist bediening.

Ons vind ons eenheid in die begin van Lydenstyd met ‘n klem op verootmoediging, berou, en bekering.  Ons vind ons gesamentlike identiteit in die kruis van die doop.  En ons vind ons toekoms in die pynlike oorkoming van die 1857 oomblik van swakheid langs die nagmaalstafel.

Is ons gesukkel aan gemeentelike identiteitsvorming te wyte aan ‘n liturgiese verarming, wat ons nou probeer red met ‘n narcissistiese klem op self-ervaring en vermaak in ‘n pragmatiese kultuur van wat werk?
 

Wie of wat is die kerk in ‘n sekulere samelewing?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Zebra Uitwisseling
Besoek aan Nederland November 2008
Jaco Coetsee


Hierdie verslag moet gelees word teen die agtergrond van die volgende addendums: “Wel en wee van n straatpastor in Urecht”   en “Verslag aan kerkraad van besoek aan Nederland November 2008”.


In hierdie verslag wil ek konsentreer op net een aspek van die besoek wat my die heeltyd laat nadink het, en dit is die vraag: Wie of wat is die kerk in n sekulere samelewing? Of anders gestel: Wat is die unieke en eiesoortige identiteit van die kerk binne n sekulere samelewing wat geen tekort het aan hulpdienste en skynbaar talle singewende instellings nie.


Die vraag het vir my gestalte gekry toe ek een aand saam is  met Erna  na n openbare vergadering  in n gemeenskapsaal binne die stadswyk waar sy werk. Die doel van die vergadering was om  inwoners bekend te stel of op te dateer oor die verskillende gemeenskapsdienste wat beskikbaar is.   So het instansies soos die volgende spreekbeurte gekry: polisiediens, maatskaplike werkers, jeugaksies, ondersteuningsdienste vir bejaardes, finansiele adviesdienste,  interkulturele ontmoetingsaksie,  oefeninggroep ensomeer.  Gemeenskapsdienste dus wat die volle spektrum dek van die fisieke en emosionele behoeftes wat binne n gemeenskap bestaan. My gevoel was dat daar geen skuiwergate in die behoefteprofiel is nie – alles wat KON is aangespreek deur een of ander hulpdiens.  


Erna is voorgestel as “buurtpastor” sonder enige verdere verduidelikings of kwalifikasies. Sy is duidelik tuis binne die kring van hulpdienste, het goeie kontak met die meeste verteenwoordigers of het die aand genetwerk met instansies.  Soos al die ander, het sy n minuut of wat geleentheid gekry om haarself en haar werk voor te stel en sy het iets gesê soos dat sy beskikbaar is vir enige persoon met enige probleem op enige tyd….sonder verdere kwalifikasie.   Ek het aanvaar dat die aanwesiges weet wat n buurtpastor is….en tog het ek later ook gewonder: wat IS in werklikheid Erna se identiteit?  (Terloops, sy is allerwee in die buurt bekend as “onze Erna” – dus bemind en geliefd en beslis n “teenwoordigheid”)


Terug nou by die vraag: wat IS n buurtpastor, wat IS die KERK binne die dampkring van allesdekkende gemeenskapsdienste wat vir alle praktiese doeleindes alle menslike behoeftes aanspreek?  Wat maak die buurtpastor ANDERS? Wat maak die kerk ANDERS? Wat bied die kerk wat die maatskaplike werker of enige ander diensinstelling nie beter kan doen nie? Wat bied die KERK by so n gemeenskapsvergadering wat sy eiesoortigheid bevestig en ast ware in relief bring teenoor ander instellings? Veral nog as dit binne n sekulere samelewing is wat nie “behoefte” het aan die sogenaamde geestelike nie?  Of, HET hulle dalk n behoefte……en by wie of wat sal hulle gaan kers opsteek?


Ek het meermale gewonder: wat sal gebeur in so n sekulere gehoor as een van die diensaksies  (in hierdie geval die buurtpastor, kerk) opstaan en iets sê soos: “Ek verteenwoordig ons soeke na die transendente, na dit wat ewig en geestelik is. Ek is daar vir elkeen wat vra na God, na sin, na vergifnes, na holistiese vernuwing van gees en liggaam. Ek is daar om te bid.  Dit is my vernaamste taak. Ek werk saam met al die diensinstellings waar nodig….en ek bid vir elkeen. Almal wat saam met my op reis wil gaan op soek na HIERDIE geestelike dimensie,  kom maak gerus na die tyd n afspraak en kry my visitekaartjie. “


Ek dink nie Erna kon haarself anders aanbied as wat sy gedoen het nie. Ek ken die mense en die gehoor nie goed genoeg nie.  Ek meen wel dat mense , OF op grond van vorige ondervinding OF op grond van intuisie sou weet dat Erna die transendente verteenwoordig.  AS dit so is,  waarvoor sou hulle haar kom besoek? Hoekom by haar en nie die talle ander dienste met uitstaande en gemotiveerde personeel nie?  Bloot omdat hulle van Erna as persoon hou……of omdat hulle in haar die KERK, die TRANSENDENTE,  die GEESTELIKE, die EWIGE verteenwoordig sien? Erna hou n nagmaalsdiens in die kapel in die middel van die buurt……en DIT doen geen ander instelling nie……


Erna is DAAR vir mense…..dink ek, soos sy bedoel: DAAR soos God DAAR is. Op watter oomblik gaan die saamwees met Erna vir n sekulere mens in n bewussyn oor van die DAARWEES van GOD in Christus ?  Is die swyende saamwees en daarwees genoeg…..of kom daar n oomblik dat die kerk, die pastor, verbaal die inhoud van die openbaring van God, die Skrif, begin kommunikeer?  En die oomblik as dit gebeur, sal jy die sekulere persoon vervreem …….of verbyster tot geloof?


Vir MY (maar ek is nie sekuler nie) IS Erna as buurtpastor, IS Carol as gemeentepastor en IS Wieke as straatpastor die lewende kerk.  Maar, hulle IS dit ook in die sekulere samelewing waar hulle elkeen , op hulle eie manier en op hulle eie tyd (God se tyd?) die transendente en onsigbare God LEWEND maak vir mense in daad….en woord,  in gesprek en gebed.  n Moeilike taak, sou ek sê.  Maar, was die kerk nie maar altyd net soutkorrels in n groot mengbak nie? En beweeg die lewende Here nie in en deur hierdie drie getuies deur die strate van Utrecht nie?


Dit lyk my, na alles, asof die kerk se UNIEKHEID steeds en altyd daarin sal lê, al lewer jy watter wonderlike maatskaplike diens, om uiteindelik heen te wys na die transendente, na God….beter nog God in Christus.

Energiepunte in gemeentes

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Waar en hoe het die Here op verrassende maniere deur gemeentes gewerk in 2008?

Tydens die Communitas-spanvergadering-in Nov 2008 het ons nagedink oor tendense wat ons in gemeentes waarneem. Ons het besluit om oor die volgende geloofsonderskeidende vraag na te dink en verhale te vertel: Waar en hoe het die Here op verrassende maniere deur gemeentes gewerk vanjaar?

Ons ervarings en verhale is natuurlik gestempel deur ons dienslewering aan gemeentes die afgelope jaar. Ons is as span genooi om vanjaar met ‘n verskeidenheid van gemeentes en predikante in verskillende kontekste op pad te gaan. Ons het dieper probeer kyk as die voor-die-hand-liggende na nuwe tendense of energiepunte of punte van dinamiek wat ons kan help om te besluit waarin ons moet belê vir die toekoms. As Communitas Netwerk vat ons mekaar se hande om in ons dienslewering te fokus op hierdie tendense en geleenthede as gawes voortspruitend uit die werk van die Gees.

Ons is deur hierdie verhale geïnspireer en het weer ontdek:

  • dat gemeentes hulleself nie kan bou nie, maar dat gemeentes gebou word deur die werk van die Drie-enige God;
  • at ons tyd nodig het om daaroor na te dink, daaroor te bid en insig te ontwikkel nie, want dis nie iets wat ons doen nie, maar wat die Here onder ons aan die doen is.

Die hoop wat voortspruit uit die werk van die Gees is dikwels ‘n “skugter” hoop.  Jy kan dit maklik miskyk, veral as jy te besig is met jou eie agenda. As jy dit opmerk, kan jy dit as gawe ontvang en sodoende vennote word van die Drie-enige God. Dan sal ons ontdek dat sy las lig en sy juk sag is.

Lees verder oor ons bevindinge op die blog  Padlangs met Gemeentes.

Ore om God se alternatiewe Storie te hoor

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Ore om God se alternatiewe verhaal te hoor

Artikel vir Kruisgewys – Bydrae uit ’n Werkswinkel van die Seisoen van Luister, soos gereë deur Verantwoordelike Vernuwing

Chris van Wyk

 

Die afgelope paar dekades was daar ‘n ontploffing in die belangstelling in narratiewe in ‘n wye reeks van navorsingsdissiplines.  Dit is onder andere gestimuleer deur die werk van Franse filosowe (Ricoeur Time and Narrative), linguistici (de Saussure) en strukturaliste (Barthes, Greimas).  Dit is uitgebrei deur sosioloë (Berger) en later ook poststrukturalistiese narratiewe terapeute (Epston, White) en ‘n wye reeks ander interdissiplinêre navorsing.

Een van die redes vir die wye aanvaarding van narratiewe as ‘n navorsings- en lewensoriënteringsmetodiek is dat verhale gesien word as ‘n basiese menslike behoefte en strategie om sin te maak uit die impak en verloop van tyd, prosesse en verandering.  

Die voordeel van dié strategie is dat dit verder gaan as ’n blote “wetenskaplike” verklaring van gebeure na die narratiewe betekenis wat aan die gebeure gekoppel word.  

In plaas daarvan om gebeure as toevallige insidente te verklaar wat deur universele wette beheer word en tot modelle gereduseer kan word, word gebeure op ’n storielyn met mekaar verbind ten opsigte van die betekenis daarvan vir die unieke identiteit en selfbewussyn van die karakters/storievertellers en as alternatiewe toekomsmoontlikhede ontgin.

Geen wonder dat daar nou reeds ‘n geruime tyd in die teologie en veral die praktiese teologie ‘n herontdekking is van verhale en die impak wat dit maak op ons denke oor byna elke vlak van ons bestaan.  

Hoewel dit ooreenkomste toon met die narratiewe metodieke wat reeds twee eeue lank deur die bibliologiese dissiplines van die Ou en Nuwe Testament gebruik word, bv die historiese-, genre- en vormkritiek, sluit dit eerder aan by die oer-oue menslike dissiplines van mondelinge oordrag, wat tot vandag toe in sekere voorgeletterde gemeenskappe gevolg word.  

‘n Verdere voordeel van die fokus op verhale, is dat verhale die gemeenskaplike waardes in ‘n gemeente ontwikkel en ontbloot, waardeur ‘n spesifieke wêreldbeeld tot stand kom en in stand gehou word.  Dié waardes kom na vore in die uitsprake, praktyke en institusionele strukture wat in ‘n gemeente as “diskoerse” funksioneer.

Deur die verhale op te diep en binne die dinamiek van verhoudings in ‘n gemeente te vertel, kan standhoudende waardes bevestig word, stagnante waardes bevraagteken en versaak word, sowel as nuwe waardes ontwikkel word.

Maar die belangrikste voordeel van verhale is dat dit ons nie alleen help om terug te kyk nie, maar dat dit juis in die herroeping van die verhale van die verlede is, wat die toekoms raakgesien word.

Die hede – by implikasie die begrip oor wat ons in die hede ervaar en wat ons daarvan verstaan – staan onafwendbaar in interaksie met die verlede.  Die hede word immers verstaanbaar gemaak met gereedskap en taal wat in die verlede ontstaan het. Dit is deur terug te kyk wat ons die hede verstaanbaar maak.  

Anders gesê, dit is alleen met behulp van ‘n historiese bewussyn wat ons werklik kan verstaan wat in die hede aan die gang is, wat ons “ore” ontwikkel om God se alternatiewe verhaal vir die hede  te ontdek.  Sonder ‘n historiese bewussyn is ons in die hede afgesny van hierdie interpretasie gereedskapkis en is ons soos ‘n drenkeling wat op ‘n eiland afgesny van die gemeenskap onsself probeer verstaan.  Deur die dissipline van storievertelling word die verlede geaktiveer as ‘n hermeneutiese kragbron wat lig werp op die hede.

Een praktiese manier om deur storievertelling die toekoms in die verlede te ontdek – en al met baie vrug in tientalle gemeentes en sinodale groepe gebruik is –  is wat Alice Mann noem: die skep van ‘n “History Grid”.  Dit is ‘n metodiek om die roepingsverstaan van ‘n gemeente/groep gelowiges uit die verhale uit die verlede te ontdek.  

Alice het die metodiek eers gepubliseer in Raising the Roof: The Pastoral to Program Size Transition (hoofstuk 4 – Alban 2001) en nou ook saam met Gil Rendl in Holy Conversations: Strategic Planning as Spiritual Practice for Congregations  (Bylaag N – Alban 2003 – Indien jy dié boek aankoop, kan jy dié bylaag elektronies aflaai by Alban.com!)

‘n Belangrike perspektief op die metodiek, is dat ‘n mens moet onthou dat jy hier primêr werk met die informasie wat mense in hulle geheues koester.  Die metodiek bring dus indrukke na vore – die betekenis wat mense aan sekere verhale en gebeure heg – en nie noodwendig akkurate feite nie.  

Gaan as volg in jou gemeente met ‘n groep (kerkraad- of gemeentekamp – hoe meer divers, hoe beter) te werk:

1.    Skep vooraf ‘n basiese storielyn van die gemeente.  Vra die hulp van ‘n ouer lidmaat of historikus in die gemeente.  Dit het twee doelwitte: dit help die groep om ’n raamwerk te hê om vandaan te werk én dit help die historici om nie die gesprek te domineer nie.
2.    Verdeel ‘n “storiemuur” (op ‘n blaaibord) vertikaal in hooftydperke aan die hand van dié storielyn: bv afstigting en vestiging, bloeitydperk, vanjaar.  Daar kan ook twee bloeitydperke wees.
3.    Verdeel dit ook horisontaal in drie areas: breë konteks (gemeenskap, kultuur, breë kerk), gemeenteroeping (roepingsverstaan – dink aan naam, plek, geboue, personeel, programme), gemeente grootte (in verhouding met konteks en roeping).  Dit lyk dan min of meer as volg:

    Afstigting en vestiging    Bloeitydperk    Vanjaar
Breë konteks:
•    gemeenskap,
•    kultuur,
•    breë kerk            
Gemeenteroeping
•    naam,
•    plek,
•    gebou,
•    personeel,
•    programme            
Gemeente grootte
in verhouding met:
•    naam,
•    konteks en
•    roeping            
4.    Deel die groep op sodat daar ‘n goeie mengsel van ouer en jonger lidmate van die gemeente in drie groepe is.  Een manier is om mense op te deel volgens die aantal jare wat hulle al in die gemeente is.  Nommer dan 1,2,3,1,2,3,1,2,3 (of soveel tydperke as wat jy ingedeel het) en vorm die groepe van 1’s, 2’s en 3’s.  Dit gee ’n goeie mengsel van ouderdomme en lidmaatskap.
5.    Gee aan elke groep ‘n tydperk om op te fokus met die volgende opdrag: Vertel vir mekaar verhale van die wyse waarop die gemeente oor hulle roeping gedink het in die spesifieke tydperk.  Herinner hulle daaraan dat dit hulle indrukke is wat tel en nie dit wat in argiefmateriaal geskrywe is nie.  Deur die metodiek wil ons juis die betekenisse agterkom, wat mense aan die verhale heg.
6.    Een persoon in die groep teken dié indrukke/betekenisse/verhale op die relevante plekke in die storiemuur aan.
7.    Elke groep deel nou hulle indrukke met die groot groep.  Notuleer kern indrukke op ‘n gemeenskaplike “storiemuur”.
8.    Verken die betekenis van die indrukke in die groot groep (identiteitsvorming).  Laat ouer lidmate/historikus perspektiewe byvoeg
9.    Omkring die probleem verhale én die hoopvolle (alternatiewe) verhale (al is dit min).
10.    Gesels saam oor die impak wat ‘n fokus op die probleem of hoopvolle verhale op die toekoms van die gemeente kan hê.
11.    Gesels (en bid) saam oor die moontlikheid dat die hoopvolle verhale (voorkeurverhaal) God se alternatiewe verhaal kan word!
12.    Skryf ’n verslag waarin die belangrikste bevindinge met almal in die gemeente gedeel word.

Juis omdat ‘n mens in dié metodiek met indrukke werk, sou dit ‘n fout wees om te dink dat met só ‘n terugkyk na die verlede elke keer dieselfde perspektiewe oopbreek.  Almal van ons wat die Bybel lees, weet dat dit gelukkig nie so eenvoudig is nie, want ons onthou word weer bepaal deur die perspektief van die hede.  Dink maar hoe nuut die geskiedenis skielik geword het met die koms van die demokratiese Suid-Afrika.  Dit is dus ‘n dinamiese interaksie tussen hede en verlede waar die nuwe konteks van die hede help skryf aan die verhaal van die verlede en dit op sy beurt weer nuwe en ook alternatiewe betekenis gee aan die hede.  

Ideologisering vind plaas wanneer hierdie proses nie vrylik kan plaasvind nie, maar beheer word deur een of ander meester narratief wat in der waarheid voorskryf oor hoe die verlede gelees moet word.  Behalwe dat dit natuurlik geweld doen aan die verlede en die veelheid van die moontlikhede van interpretasie, kan dit met die beste wil van die wêreld nie in stand gehou word nie, want ‘n resitasie wat te veel opgesê word, verloor sy seggingskrag en aantrekkingskrag en daar word uiteindelik uit verveling met die afgesaagde storie opgehou om dit nog ‘n keer te vertel.

Wanneer die dinamiese interaksie tussen hede en verlede plaasvind, spring daar ‘n vonk oor na die toekoms en word nuwe alternatiewe visioene van die toekoms oopgesluit.  Waneer die verhaal van die geloofsgemeenskap vertel word met ‘n minimum van doelbewuste manupilasie om ‘n bepaalde standpunt te dien, ontstaan daar nuwe insig en betekenis wat nog nie voorheen bestaan het of raakgesien is nie, en kan daar met behulp van die herinneringe van die verlede en die ervarings van die hede gedroom word oor ‘n nuwe toekoms.

Die verhale van die bannelinge in die Bybel is uitstekende voorbeelde hiervan. Wanneer hulle gekonfronteer word met ‘n byna ondraaglike hede word daar uit die verlede verhale opgediep wat as inspirasie dien vir die verstaan van die hede en die toekoms.  Dit is trouens die verhaal van die profetiese tradisie.  Anders as sommige groepe se byna magiese verstaan van profesie, is profesie Bybels gesproke ‘n tradisie met ‘n diep en duidelike  historiese oriëntasie (Breuggemann Prophetic Imagination).  Dit is juis uit die “hi-story” wat die kritiese komponent na vore kom om die geloofsgemeenskap van die hede uit te daag om hulle verhaal nie te vergeet nie.  In die woorde van Julian Müller: “Om te onthou is om tot verhaal te kom”.

Tot verhaal kom in ons Suid-Afrikaanse situasie, moet egter baie eerlik geskied.  Dikwels is die versoeking groot in die eerste vertel van sulke verhale, om die skandes wat daarin opgesluit lê, te vermy.  Kortom gestel: ons vier maklik ons oorwinnings en begrawe ons skandes.  

Maar dis juis wanneer ons ons skandes verberg wat dit ‘n sonsverduistering van hoop tot gevolg het. Daarom moet ál die verhale van die verlede vertel word – die probleemverhale én die alternatiewe hoopvolle verhale – om tot die regte verstaan van die hede te kom.  Só kry ons ore om God se alternatiewe verhaal reg te kan hoor en kan die alternatiewe verhaal die nuwe verhaal van die geloofsgemeenskap word.

Sonder al hierdie verhale kan geen gemeenskap egter geskep of instand gehou word nie.  Die effek hiervan op dele van die geloofsgemeenskap van die NG Kerk is duidelik sigbaar. Die skande van die verhaal met apartheid is in baie gevalle so pynlik dat die gemeenskap moeite vind om mense by mekaar te hou.

Pogings om ‘n nuwe identiteit te skep sonder om met moed die skandes in die oë te kyk, sal kosmeties bly omdat dit dan die geloofsgemeenskap beroof van die belangrikste gemeenskapskeppende kapasiteit van sy verhaal.

Wanneer sommige verhale vermy word, gebeur daar meer as net ‘n verlies aan gemeenskapskeppende identiteit.  Daar vind ook ‘n verlies aan getuienis plaas. Wanneer die skande van die verlede nie verwerk word nie, vind daar ‘n privatisering van die geloofsgemeenskap plaas (Fowler Faithful Change).  Dit ontbreek die geloofsgemeenskap eenvoudig die moed van hulle oortuiging om in die publieke arena getuienis te lewer.

Oorlewing word dan die missie van die geloofsgemeenskap. Hoewel min gemeentes dit amptelik sal erken, word dit duidelik wanneer hulle besluite neem, dat oorlewing die dominante motivering geword  het. Die ironie is dat hierdie privatisering van die lewe en die getuienis van die geloofsgemeenskap juis kontraproduktief  tot die herstel van hulle selfwaarde is.  Dit is alleen indien die gemeente kan uitbreek uit hulle ghetto dat die moontlikheid bestaan dat hulle weer hoop kan begin sien.

Volgende keer … Hoe werk ons met verhale?