Planning and the Budget

Written by Frederick on . Posted in Hulpmiddels

Die Alban Weekly het hierdie week ‘n interessante artikel van Dan Hotchkiss oor die begrotingsproses in gemeentes!

Congregations often plan and budget as though planning were one thing and budgeting another. Bringing the two together calls for a comprehensive calendar for goal-setting and evaluation.

A key event in the sequence is the annual planning retreat. Typically, this event includes the board and senior members of the staff, including lay staff as appropriate. Ideally, the group spends at least a day and a half off-site with a strict no-cell-phone rule. The agenda varies from year to year; the focus is always on discernment and strategy, the two zones of responsibility shared by board and staff. Some special attention to the mission is appropriate every year–but it is rarely a good use of time to tweak the wording of the mission statement that often. Once every five years is more than enough, unless something is terribly wrong with the existing statement.

A more necessary work product from the retreat and related activities is the annual vision of ministry, an answer to the question, “In what new and different ways will we transform lives in the next one to three years?” To put it differently, the vision of ministry is the board’s short list of priorities. Why a short list? Because when a list of priorities is long, they’re not priorities! The vision of ministry is a short list of things the board means to accomplish, no matter what. The fact that something does not make the list does not mean that it won’t happen. While creating the vision, the board will bank a number of ideas for the future: pieces of a long-term vision to which the board is not prepared to make an ironclad commitment now. There is no way to do this without sometimes saying no.

Om die voledige artikel te lees gaan na
http://www.alban.org/conversation.aspx?id=8485

Beweging van die Gees 13: Soms stadig soos ‘n skilpad soms soos ‘n vuurpyl

Written by Frederick on . Posted in Bewegings van die Gees

In die NGK Somerstrand gesels ons gereeld oor skilpad-geloof.  Iemand het êrens gelees dat die pad saam met die Here dikwels soos ‘n skilpad is.  Dit beweeg stadig voort, jy bid vir jare oor iets en dit voel vir jou dat niks gebeur nie, dat daar geen beweging is nie.  Dan, op ‘n dag, verander die skilpad ewe skielik in ‘n vuurpyl – en dan moet jy vashou!  Hierdie beeld beskryf baie goed ons gemeente se ervaring.  Ons gesels gereeld oor die geloof van ‘n skilpadjie en die vashou aan die vuurpyl.  Ons vra aanmekaar vir mekaar:  wat is ons nou – skilpad of vuurpyl?  En hoe moet ons in hierdie spesifieke fase optree? 

So praat ons al jare oor ons eredienste.  Ons wil graag families bereik en is oortuig dat daar veranderinge aangebring moet word om dit te doen.  So kom verskillende lidmate van tyd tot tyd saam om te gesels en bly dit ‘n staande item op die Kerkraad se agenda.  Ons bid ook elke week vir die Here se leiding hieroor. 

In 2008 het ons deur ‘n lang proses van bid en praat gegaan.  Daar is besluit dat ons by die Kerkraad gaan voorstel dat ons met twee eredienste gaan begin.  Almal op die Kerkraad, van die ouer, behoudende leiers tot die jonger, ongeduldige leiers, was ten gunste hiervan.  Al die vrae van vroeër was ewe skielik nie meer op die tafel nie.  Ons was oortuig dat dit die Here se wil is. 

By die betrokke Kerkraadvergadering beleef ons egter dat die Gees met ons werk.  Ons almal – elke enkele een – skuif tydens die vergadering in ons vooropgestelde idees.  Daar word besluit om nié nou te begin met ‘n tweede erediens nie, maar om baie meer moeite te doen met die kindertyd tydens die erediens en die toepassings wanneer die kinders die erediens verlaat. 

So gesê, so gedaan.  Dit het ‘n wonderlike impak gehad, die kinders het dit baie geniet en die erediensbywoning het gestyg.

In die tyd kry ons ‘n nuwe Bedieningsbestuurder vir ons jeugbediening.  Ian het as klein seuntjie in ons kategese tot bekering gekom, deur ons kinderkerk sisteem gekom, by ons belydenis afgelê en skakel by die studentebedienig in.  Die manier waarop die Here hom voorberei het vir sy huidige bediening, is ook ‘n storie op sy eie!  So praat Ian tydens ons laaste Kerkraadsvergadering oor die manier waarop die kinders elke Sondag grense oorsteek na die ouer mense en vra of die ouer mense nie ook soms grense kan oorsteek na die kinders nie.  Hy stel voor dat die Kerkraad daaroor begin bid om moontlik vroeg volgende jaar (2010) ‘n besluit te neem om twee maal per kwartaal ‘n informele diens te hou.

Die Kerkraad se onmiddellike reaksie was:  “Wat wou volgende jaar – volgende week!”

Met groot opgewondenheid en spanning het ons dus die afgelope Sondag ons eerste informele “gesinsdiens” gehad.  Wat ‘n heerlike, geseënde ervaring!  Almal, van die jongste kind tot die oudste oupa, vertel hoe hulle die diens geniet het.  Ons het saam gesing (met orrel, baskitaar, blokfluite, voorsangers, ens.), gesels, handbewegings gedoen en in verwondering voor die Here gestaan.

Nou wag ons om te kyk wat die Here vorentoe gaan doen…  Is dit nou vuurpyl-tyd of weer skilpad-tyd?

Gesamentlike Ringstoer – Tulbagh

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Ons besoek St.Geoges Katedraal en word oa bekendgestel aan ‘n Afrika Ikoon( sien foto). Verer besoek ons die Grootte Kerk en die  Wynberg Gemeente (VG en NG saam).

Ons wou ook Robbeneiland besoek maar dit reën uit. Verder besoek ons die Oseanarium, fliek, Groot Constantia kelder leer om wynwaardering te doen (sien foto langsaan), teater, en sluit die toer af met gesprekke by die Kweekskool met Media24 se hoor uitvoerende beampte (Francois Groepe), Prof Elna Mouton en Coenie Burger.

Al hierdie afsprake is vervleg met heerlike uiteet, saamkuier, bid en saamry in ‘n minibus! Ons het  in ‘n heerlike huis tuisgegaan op die besondere Schoenstatt klooster-landgoed in Constantia.

Wat het die ouens beleef?

  • Freddie Swart (Bella Vista VGK- Ceres): “Dit was vir my wonderlik om so saam met mede kollegas te wees.”
  • Mario Ferris (VGK – Op die Berg): “Dit was ‘n besonderse toer met vele hoogte punte. Twee staan uit: die saam kuier met eie en mede kollegas, ‘n ‘bonding’ ervaring waarsonder die herenigingsproses in eie kring veel armer sou wees. Tweedens was daar die besoek aan die Groote Kerk in Kaapstad. Die storie van die gemeente, oud en nuut, soos vertel deur  Andre Olivier het my met nuwe hoop gevul.”
  • Armand Crous (Wolseley): “Die kameraderie tussen die leraars.  Die heerlike saamkuier, lag, ernstig wees – in alles kon ‘n mens die eenheid wat ons in Christus is, ervaar.
  • Die besoeke aan die 3 gemeentes (St Georges Katedraal, Groote Kerk en Wynberg).  Die Here is so duidelik besig om elke gemeente binne hulle konteks te lei en te stuur soos wat Hy weet dit vir die Koninkryk die beste is.  Die gemeentes (al drie “stadsgemeentes”) is verskillend in hulle aanslag en bediening, maar eenders in hulle gesindheid: alles tot eer van die Here.
  • Frankie Gerber (Ceres-vallei): “Vir bou van eenheid tussen kerke is dit nodig dat predikante mekaar as mense leer ken wat saam lag, eet, ontspan, bly in eilandsituasies vir sessies van minimum 2-3 dae; Hieruit ontwikkel vriendskappe, ontdek mense mekaar as persone wat baie in gemeen het; So groei vertrouensbande waar mense kan oopmaak, vertroue kan groei en begrip vir mekaar kan ontwikkel.
  • Myns insiens was die grootste sukses dié week dat ons nie op formele manier per agenda teenoor mekaar gaan sit het om bepaalde probleme op te los nie, maar langsmekaar iemand anders ‘ontdek’ het wat baie nader aan jou is as wat jy wil besef; Formele samesprekings volg informele saamkuier, saamdoen en saam ervaar.
  • ‘n Mens besef met so ‘n geleentheid dat verskille relatief is. Om saam ‘n Anglikaanse Nagmaal te waardeer bind ons aan mekaar en sommer aan die band van ekumene. Die ryke tradisie van die Grootte Kerk (waar nog nie een VGK leraar van hierdie groep was nie) was treffend. En om te dink dat beide “kerke” soveel jare daar saam, as een ligaam aanbid het.
  • Om saam te eet in ‘n netjiese eetplek laat mens besef ons almal deel in gewone uitdagings van kinders wat studeer, rekeninge wat betaal moet word, uitdagings en verwagtings in die gemeente. Die bederf van ‘n gratis ete en vertoning in die Baxter maak die deure oop vir ‘n ander openheid. Gesprekke ontstaan sonder pretensie en daar word gelag oor gewone menslike goed wat nooit opduik by formele vergaderings nie.

Ons groet mekaar met warmte en besef die saamwees was goed. Die Pinkster moegheid het plek gemaak vir gedeelde ervarings wat niemand van ons kan wegneem nie. Die Gees se werking was dalk anders; nie te meet in ‘n besluit of belydenis nie maar in gewone broederskap en liefde… Jesus het immers opgemerk dat die mense sal weet wie se dissipels ons is as hulle sien hoe lief ons mekaar het.

Beweging van die Gees 12: Die Gees trek mense op

Written by Frederick on . Posted in Bewegings van die Gees

 

Oor die 15 miljoen mense in Malawi, Zambië, Mosambiek, Zimbabwe, en tot ‘n handvol in Suid-Afrika, praat Chichewa (in Zambië ook genoem Chinyanja). ‘n Goeie 12 miljoen van hierdie sprekers leef onder die “amptelike” broodlyn van minder as R 8 (1 US$) per dag. Getalsgewys is hierdie ‘n taal van die armes. Ons moet dus goed luister as hierdie ongeveer 12 miljoen mense vir ons in hulle eie idioom sê wat armoede en wie arm mense is:  “osauka”, “dié wat nie opstaan nie”.
Ons dogter kuier bietjie by ons. Raai wat was haar reaksie toe ek haar dit vertel?  “…omdat hulle te lui is?!”  Niemand kan my dogter beskuldig van luiheid, traagheid, swak waarnemingsvermoë, of swak menseverhoudinge nie. Sy is hardwerkend én het ‘n hart vir mense in nood – waaronder baie armes tel. Haar reaksie was impulsief, eerlik, maar ook ‘n tong-in-die-kies vraag. Want die gemeenskap waarin sy grootgeword het, is nie ‘n gemeenskap wat probleme het met opstaan nie, maar wel met dié wat níé opstaan nie.
Is armes arm omdat hulle te lui is om op te staan en te werk?  Maar was dit dan nie ook die wysheidsleraar van Spreuke se eerste reaksie nie? Ek het so gedink, maar ek was toe al die tyd verkeerd. Dis andersom:  Spreuke 10:4 sê dié wat lui is, wat nie hulle hande uitsteek uit hulle moue om te werk nie, is in vir armoede (net so ook dié wat geskenke aan rykes gee! – 22:16).  Wanneer Spreuke in die 31 ander teksverwysings van die armes praat, is dit met die grootste simpatie vir hulle harde lewe, en met die hoogste respek as mense wat ten diepste erken moet word as skepsels van God – vir wie God beskerm! Die enigste keer waar Spreuke blykbaar negatief van armes praat, is van dié wat mede-armes afdruk, sodat niemand ‘n kans het op opstaan nie, en almal op die ou end verhonger gaan lê (28:3).
Wanneer sowat 12 miljoen Chichewa-sprekendes sê arm wees is om nie op te staan nie, bedoel hulle uit eie ervaring jy kom net nooit op jou eie voete nie, jy is maar altyd weer terug op jou knieë – voor die mense. En voor God. Altyd weer terug op die aarde, gelyk met die grond. Dis jou plek, waaraan jy altyd weer herinner word, en waarna jy keer op keer teruggedruk word. Deur mense, vreemdelinge, magtiges, jou eie mense wat “bo” uitgekom het. En deur die stelsel, die bose bo-menslike, almagtige, alomteenwoordige, blykbaar ewige gees van hierdie wêreld.
Daar is gelukkig ‘n ander Gees. Die Heilige Gees, die Gees van die Lewende, Opgestane, Here Jesus –wat die opstandingslewe inblaas in lam en lewelose mense. Soos die man waarvan Lukas in Handelinge 3 vertel wat sy lewe lank nooit opgestaan het nie; net maar dag vir dag moes opkyk vir ‘n volgende jammer-kry-fooitjie. Toe wek die Heilige Gees hom op, deur die hande van Petrus en Johannes wat kort tevore deur dieselfde Gees op hulle voete gebring is. En hy staan regop, loop die tempel binne, spring, prys God! 
So lyk die kerke waar ‘n wonderbaarlike groot getal van die 12 miljoen Chewa-sprekende armes Sondag vir Sondag aanbid. Sonder orrels of orkeste, sonder sagte kerkbanke (soms sonder enige sitplekke!), in geboue sonder plafon (soms sonder dak!), sonder glasvensters of verf of selfs gepleisterde mure, soms sonder ‘n gebou; in ‘n diens sonder fynuitgewerkte liturgie en prediking wat meestal veel te wense oorlaat. Maar dis ‘n belewenis – van ‘n wonderwerk: dat “die wat nie opstaan nie” opgewek is, regop staan voor die mense en voor God, God prys. En inderdaad hulle hande uitsteek na dié wat nog lam is, en kan gee – (uiteraard!) nie silwer en goud nie, maar Jesus se opstandingslewe.
‘n Geweldig omvangryke en diepe wonderwerk!  Op ons drumpel. Elke Sondag. As ons goed kyk: elke ganse dag van die harde werklikheid!  – die beweging van die Gees.

 

Beweging van die Gees 11: Die Heilige Gees beweeg ook deur kinders!

Written by Frederick on . Posted in Bewegings van die Gees

In ons gemeente het ons die afgelope jaar ‘n bediening vir jeugdiges van 18-35 wat ons Crossings noem. Spesiale eredienste word in die aande vir hulle gehou in die taal en terminologie, konteks en karakter van jongmense in daardie ouderdomsgroep. Musiek word verskaf deur ‘n orkes wat van krag tot krag gaan en die prediking word gedoen deur iemand wat wéét hoe om hierdie ouderdomskategorie aan te spreek. Die hele fokus van hierdie bediening is op gestuurdheid. Die byval wat dit vind in die gemeente is baie goed.
Verlede Vrydag klop iemand aan my pastorie se voordeur. Ek maak oop en voor my staan Waldo. Hy is 12 jaar oud en een van ons baie gereelde en getroue kerkgangers – kom selfs as pa en ma nie wil kom nie. In sulke gevalle loop hy kerk toe en dit geld oggend en aand. Hy is geklee in sy Sondagklere en staan ewe formeel met ‘n aktetas in sy hand.
“Dominee, ek wil dominee graag spreek.” Vol selfvertoue, assertief – ek hou daarvan.
“Kom in Waldo, kom sit. Waarmee kan ek jou help vandag?”
Waldo antwoord plegtig “Dominee ek kom toestemming vra vir iets wat ek ongelukkig klaar gedoen het. Mag ek vir dominee daarvan vertel?”Die afwagting op sy gesig spreek boekdele.
Ek bly so rukkie stil om enersyds die moment te koester en andersyds om die plegtigheid daarvan te beklemtoon en toe sê ek formeel “Ja, dit is goed. Jy mag my maar vertel.”
En Waldo begin vertel:
“Dominee, ek het ‘n junior-Crossings by die skool gestig. Ons is al 14 kinders wat betrokke is. Ons kom elke dag bymekaar, lees uit die Bybel, gesels oor wat dit vir ons beteken en dan gaan ons na ons verskillende klasse. Is dit OK as ons daarmee aangaan?”
My hart swel van trots op hierdie klein mannetjie: “Natuurlik mag julle Waldo!”
“…maar Dominee dis nie al nie – ons gaan van nou af elke Sondagaand se Crossings ook kom bywoon en twee van die kinders behoort nie aan ‘n kerk nie. Hulle het gesê hulle wil graag by ons kom inskakel. Sal dit goed wees as ek Sondag-aand vir tannie Thea vra vir vorms vir hulle om in te vul?”
Teen hierdie tyd wil my mond al begin oophang – “Dis goed so Waldo – gaan voort!”
“Dominee, dan nog ‘n ding…” En hy maak sy tas oop en uit die tas kom ‘n legger en in hierdie legger is van hierdie plastiek vouers en uit een van hulle haal hy ‘n met potlood handgeskrewe vel papier. Uit die hoek van my oog kan ek sien dit is ‘n lys van goed wat daar neer geskryf is en ek wonder …
“Dominee kan ons die Koffiekroeg Saterdag middae huur vir ons byeenkomste?” Ek val amper van my stoel af!
“My liewe Waldo julle hoef dit nie te huur nie – kom haal net die sleutel by my dan kan julle dit gratis gebruik” sê ek.
“Dankie Dominee. O ja – nog iets. Ons het met die skoolhoof gesels en het toestemming gekry om briefies onder die leerlinge te versprei waarin ons hulle uitdaag om Maandag elkeen ‘n kombers te bring vir die Winterhoopprojek waarvan ons in die Kerk gehoor het. Is dit OK as ons dit oor twee weke kerk toe bring Dominee?”
Teen hierdie tyd kan ek net my kop glimlaggend knik …
“Dominee ons gaan Sondag by die kategese die ander skole ook uitdaag om dieselfde te doen. Dalk kry ons nog komberse en nog mense vir die junior-Crossings!” sê hy met oortuiging.
Toe hy later na ‘n koppie koffie en stuk beskuit uitstap, is dit asof ‘n stukkie van die Lig in hom in my sitkamer agterbly … en ek besef so duidelik soos daglig dat die Gees beweeg ook in kinders en stuur hulle net soos Hy ons stuur!

 

Beweging van die Gees 10: Die Gees oorwin vrees en bring so heling

Written by Frederick on . Posted in Bewegings van die Gees

‘n Verhaal wat uitstaan en waar die bewegings van die Gees duidelik beleef is, is die verhaal van ’n dame in die gemeente (ongeveer 70jaar oud).  Sy is deel van die span van die gemeente wat weekliks uitreik en betrokke is by ’n vroue-Bybelstudie-groep in Heidedal.  Na afloop van die uitreik, toe sy wil huis toe ry, kom ’n bruin man na haar toe.  Sy sit reeds in haar voertuig en is effe huiwerig om die venster oop te draai, want dit is in die buurt, waar dit bekend is dat misdaad, prostitusie, verkragting en dwelms floreer. 

Sy draai egter die venster op ’n skrefie oop.  Die man vra haar of sy hom kan help, want hy het ’n drank-en dwelmprobleem.  Sy sê vir hom sy sal gaan hoor by Aurora-kliniek of hulle kan en dan sal sy terugkom na hom toe.  Sy reël toe ’n tyd met hom.

Die volgende kom sy terug – en hy wag vir haar presies soos afgespreek.  Sy sê toe aan hom dat sy plek gekry het, maar eers heelwat later, want hulle neem net 2 staatspasiënte per maand in.  Intussen bid die dame en haar span vir hierdie man. 

’n Dag of wat later bel Aurora en sê dat hulle hom die volgende dag kan inneem.  Die dame spoor hom op en hy is maar te bly om opgeneem te word.
 
Sy gaan haal hom toe by sy huis om hom Aurora toe te neem. Op pad daarheen, vertel hy aan haar dat hy nie ’n kind van die Here is nie en vra haar of sy hom kan help.  Op die parkeerterrein van die kliniek lei sy hom na die Here en maak hy ’n oorgawe aan die Here – voordat hy opgeneem word.

Hy is tans in die finale fase van sy behandeling.  Dit gaan baie goed.  Die dame besoek om feitlik daagliks en hy is besig om in die kliniek geestelik te groei.  Ons bid dat hy, na afloop van die behandeling, ingeskakel sal word by ’n ondersteuningsgroep en dat hy in ’n gemeente ’n geestelike tuiste, wat hom sal ondersteun, sal kry.

Beweging van die Gees 9: My totale uitkyk op die lewe het verander

Written by Frederick on . Posted in Bewegings van die Gees

Ek het met elke diens deel gevoel van dit wat plaasvind in die kerk.  My totale uitkyk op die lewe het verander weens die feit dat `n gesprek met ander net nie meer `n normale gesprek kan wees nie.  Ek het werklik dinge om my begin waarneem en het met elke gesprek my daarop toegespits om werklik te luister. Ek het vir die eerste keer besef met hoeveel openheid ander mense my nader en in die proses het ek geweldig baie van myself en van hulle geleer.  Hierdie benadering het my ook gehelp om oor kultuur-, kerk-  en kleurgrense te beweeg wat ek nie voorheen so maklik sou kon doen nie en daardeur het ek ook toegelaat dat ander my grense oorsteek.

 Ek het ook `n opgewondenheid in die kerk en by ander lidmate van die gemeente  beleef tydens die Pinksterdienste en getalle wat elke aand gegroei het, was `n bewys dat mense net nie kon stilbly oor wat hulle ervaar het nie-hulle moes dit deel en het daardeur ander nuuskierig gemaak. Dit kan nie anders dat ek hierdie as `n lewensstyl moet implementeer in my lewe nie, want dit gaan nie net oor wat ek leer uit die proses nie, maar ook om die wil van die Here te doen.