Wie of wat is die kerk in ‘n sekulere samelewing?

Written by Frederick on . Posted in Gemeentestories

Zebra Uitwisseling
Besoek aan Nederland November 2008
Jaco Coetsee


Hierdie verslag moet gelees word teen die agtergrond van die volgende addendums: “Wel en wee van n straatpastor in Urecht”   en “Verslag aan kerkraad van besoek aan Nederland November 2008”.


In hierdie verslag wil ek konsentreer op net een aspek van die besoek wat my die heeltyd laat nadink het, en dit is die vraag: Wie of wat is die kerk in n sekulere samelewing? Of anders gestel: Wat is die unieke en eiesoortige identiteit van die kerk binne n sekulere samelewing wat geen tekort het aan hulpdienste en skynbaar talle singewende instellings nie.


Die vraag het vir my gestalte gekry toe ek een aand saam is  met Erna  na n openbare vergadering  in n gemeenskapsaal binne die stadswyk waar sy werk. Die doel van die vergadering was om  inwoners bekend te stel of op te dateer oor die verskillende gemeenskapsdienste wat beskikbaar is.   So het instansies soos die volgende spreekbeurte gekry: polisiediens, maatskaplike werkers, jeugaksies, ondersteuningsdienste vir bejaardes, finansiele adviesdienste,  interkulturele ontmoetingsaksie,  oefeninggroep ensomeer.  Gemeenskapsdienste dus wat die volle spektrum dek van die fisieke en emosionele behoeftes wat binne n gemeenskap bestaan. My gevoel was dat daar geen skuiwergate in die behoefteprofiel is nie – alles wat KON is aangespreek deur een of ander hulpdiens.  


Erna is voorgestel as “buurtpastor” sonder enige verdere verduidelikings of kwalifikasies. Sy is duidelik tuis binne die kring van hulpdienste, het goeie kontak met die meeste verteenwoordigers of het die aand genetwerk met instansies.  Soos al die ander, het sy n minuut of wat geleentheid gekry om haarself en haar werk voor te stel en sy het iets gesê soos dat sy beskikbaar is vir enige persoon met enige probleem op enige tyd….sonder verdere kwalifikasie.   Ek het aanvaar dat die aanwesiges weet wat n buurtpastor is….en tog het ek later ook gewonder: wat IS in werklikheid Erna se identiteit?  (Terloops, sy is allerwee in die buurt bekend as “onze Erna” – dus bemind en geliefd en beslis n “teenwoordigheid”)


Terug nou by die vraag: wat IS n buurtpastor, wat IS die KERK binne die dampkring van allesdekkende gemeenskapsdienste wat vir alle praktiese doeleindes alle menslike behoeftes aanspreek?  Wat maak die buurtpastor ANDERS? Wat maak die kerk ANDERS? Wat bied die kerk wat die maatskaplike werker of enige ander diensinstelling nie beter kan doen nie? Wat bied die KERK by so n gemeenskapsvergadering wat sy eiesoortigheid bevestig en ast ware in relief bring teenoor ander instellings? Veral nog as dit binne n sekulere samelewing is wat nie “behoefte” het aan die sogenaamde geestelike nie?  Of, HET hulle dalk n behoefte……en by wie of wat sal hulle gaan kers opsteek?


Ek het meermale gewonder: wat sal gebeur in so n sekulere gehoor as een van die diensaksies  (in hierdie geval die buurtpastor, kerk) opstaan en iets sê soos: “Ek verteenwoordig ons soeke na die transendente, na dit wat ewig en geestelik is. Ek is daar vir elkeen wat vra na God, na sin, na vergifnes, na holistiese vernuwing van gees en liggaam. Ek is daar om te bid.  Dit is my vernaamste taak. Ek werk saam met al die diensinstellings waar nodig….en ek bid vir elkeen. Almal wat saam met my op reis wil gaan op soek na HIERDIE geestelike dimensie,  kom maak gerus na die tyd n afspraak en kry my visitekaartjie. “


Ek dink nie Erna kon haarself anders aanbied as wat sy gedoen het nie. Ek ken die mense en die gehoor nie goed genoeg nie.  Ek meen wel dat mense , OF op grond van vorige ondervinding OF op grond van intuisie sou weet dat Erna die transendente verteenwoordig.  AS dit so is,  waarvoor sou hulle haar kom besoek? Hoekom by haar en nie die talle ander dienste met uitstaande en gemotiveerde personeel nie?  Bloot omdat hulle van Erna as persoon hou……of omdat hulle in haar die KERK, die TRANSENDENTE,  die GEESTELIKE, die EWIGE verteenwoordig sien? Erna hou n nagmaalsdiens in die kapel in die middel van die buurt……en DIT doen geen ander instelling nie……


Erna is DAAR vir mense…..dink ek, soos sy bedoel: DAAR soos God DAAR is. Op watter oomblik gaan die saamwees met Erna vir n sekulere mens in n bewussyn oor van die DAARWEES van GOD in Christus ?  Is die swyende saamwees en daarwees genoeg…..of kom daar n oomblik dat die kerk, die pastor, verbaal die inhoud van die openbaring van God, die Skrif, begin kommunikeer?  En die oomblik as dit gebeur, sal jy die sekulere persoon vervreem …….of verbyster tot geloof?


Vir MY (maar ek is nie sekuler nie) IS Erna as buurtpastor, IS Carol as gemeentepastor en IS Wieke as straatpastor die lewende kerk.  Maar, hulle IS dit ook in die sekulere samelewing waar hulle elkeen , op hulle eie manier en op hulle eie tyd (God se tyd?) die transendente en onsigbare God LEWEND maak vir mense in daad….en woord,  in gesprek en gebed.  n Moeilike taak, sou ek sê.  Maar, was die kerk nie maar altyd net soutkorrels in n groot mengbak nie? En beweeg die lewende Here nie in en deur hierdie drie getuies deur die strate van Utrecht nie?


Dit lyk my, na alles, asof die kerk se UNIEKHEID steeds en altyd daarin sal lê, al lewer jy watter wonderlike maatskaplike diens, om uiteindelik heen te wys na die transendente, na God….beter nog God in Christus.

Kom eet saam met ons

Written by webmeester on . Posted in Advent

27ste Adventverhaal van Hoop – 25 Desember 2008 Kersfees.
In ‘n plattelandse dorp is daar ‘n sopkombuis vir haweloses soos in baie dorpe en voorstede van ons land. By hierdie een word daar een middag sop opgeskep, een van die bedienaars wonder hardop – waarom bedien ons elke dag sop vir die mense, dit is nie wat ons tuis sou eet nie. Die argumente oor finansies en tyd word ge-opper, maar sy hou voet by stuk en oortuig die bediening, kom ons gee vir hulle kos soos wat ons tuis sou eet. Dit is tog gasvryheid.

Die eerste anders-as-sop-ete word voorgesit. Die haweloses begin eet aan die kos. Skielik staan een van die haweloses op en kom na die groepie bediennaars: Die kos is heerlik vanmiddag, sê hy, wil julle nie saam met ons kom eet nie?

Nie lank daarna nie is daar uit hierdie ete, ‘n kerk vir haweloses in die gemeente begin, waar ryk en arm saam ‘n nuwe gemeenskap van gelowiges vorm.

Oë van hoop en verwagting kan alles verander

Written by webmeester on . Posted in Advent

26ste Adventverhaal van Hoop – 24 Desember 2008
In een van die werkkamers van ons sentrum vir intellektueel gestremdes het daar vanjaar ‘n “engel” betrokke geraak wat met ander oë kyk as gewone mense.

Ons het materiaal as geskenk gekry en een van die vrywilligers wat intussen by ons kom werk het, moes van ons dames leer om daarvan fantasierokkies te maak vir kinder partytjies. Sy het eenvoudig onwrikbaar geglo dat die dames dit gaan regkry.  Eers het hulle geleer knip en stik op koerantpapier, toe moes hulle begin werk op die materiaal.  Een van die dogters steek vas – ek kan dit nie doen nie, sê sy oor en oor, ek sal die materiaal mors en dan is julle kwaad vir my.  Dit is nie ‘n probleem nie, verseker die vrywilliger met die anderse oë haar. Ons het in elk geval die materiaal persent gekry.  Probeer maar.  Versigtig begin sy knip en stik en kort voor lank was die eerste rokkie klaar en nog een en nog een.

Toe sy ‘n paar dae later vir haar ma die rokkies wys en haar ma sprakeloos vra of sy dit regtig gemaak het, kon sy met trots sê: “EK HET DIT SELF GEMAAK EN ONS HET NIE EEN WEGGEGOOI NIE!”

As ons maar met ander oë, die oë van hoop en verwagting na mekaar kon kyk, sou ons soveel meer in onself en mekaar kon ontdek.

Wanneer ons mekaar waardeer, ontvlam die Hoop

Written by webmeester on . Posted in Advent

25ste Adventverhaal van Hoop – 23 Desember 2008
Die gemeente se energie was min, hulle was op soek na ‘n volgende bedieningsresep om energie terug te kry. Na ‘n paar maande se gesprekke identifiseer ons ‘n “kanker”in die verhoudingstruktuur van die gemeente.  Sonder dat die leiers bewus was daarvan het daar ‘n kultuur van beskaming ontstaan. Eerder as om mekaar te bemoedig, het leiers mekaar afgebreek, en beskaam. Om die rede het verhoudings moeilik gevlot en telkens weer vasgehaak by verskille. Beskaming het die verstekposisie geword.  As dinge vasgehaak het, is daar in die groep gesoek vir die volgende een wat ons kon “uitvat”.  Nodeloos om te sê, minder en minder leiers het na vore gekom.

Toe ons dit raaksien, het ons saam besluit om dit te verander.  Ons gaan mekaar gereeld bevestig deur waarderende opmerkings teenoor mekaar te maak eerder as om die foute uit te lig.  Ons doen dit in groepies van 5 om tafels.  Een van die leiers kom be-angs na my en sê dat hy nie kan deelneem nie, want in sy groep is daar iemand met wie hy oor byna twintig jaar in konflik is; hy het werklik  geen waarderende opmerking om teenoor hom te maak nie.

Ek stuur hom terug na die groep: “Die Gees sal vir jou iets gee om te sê; wees maar net daar en oop vir die leiding van die Gees.” Die Gees het toe die deurbraak gegee, hulle kon mekaar vir die eerste keer in twintig jaar waardeer!

Interessant dat ses maande later soveel nuwe jong leiers na vore kom in die gemeente.  Ek dink daar is ‘n verband met hierdie deurbraak.

‘n Oomblik van vrede in konflik

Written by webmeester on . Posted in Advent

24ste Adventverhaal van Hoop – 22 Desember 2008
Ons was nie voorbereid op die intensiteit van die konflik in die gemeente nie; eintlik was niemand nie, maar toe ons begin om te praat het die sweer oopgebars. Later is van die leiers gevra om uit te gaan, sodat daar nog eerliker en openliker gepraat kon word. Daar was ‘n angstigheid om net weer gemeenskap van die gelowiges te ervaar, maar vir  meer as drie ure was dit die verdeeldheid wat na vore gekom het. Die situasie het aan desperaatheid gegrens.

Aan die einde van die gesprek vra ek, wat sal ons eerste stappe wees vorentoe. Die reaksie het my laat besef watter kwaliteit mense hierdie is. Ons gaan ons eie skuld hieraan bely voor die Here en aan die leiers met wie ons so in konflik is, erkenning gee vir wie hulle is, en wat hulle ook vir die gemeente beteken. Ons het dit terstond gedoen, net daar en dan.

Die konflik is nie opgelos nie, nog lank nie, maar hoop het vir ‘n oomblik deurgebreek toe een na die ander gemeentelede opstaan en hulle voor die Here verootmoedig en aan mekaar erkenning en respek betoon.

Vir ‘n oomblik was dit vrede op aarde.

‘n Span wat mekaar optel

Written by webmeester on . Posted in Advent

23ste Adventverhaal van Hoop – 21 Desember 2008
Ek het vanjaar ‘n predikantespan leer ken wat my hoop gegee het. Hulle is nie in ‘n resies gewikkel teen mekaar nie, maar ‘n span wat mekaar ondersteun. Die 4 van hulle is baie uiteenlopend en het verskillende geskiedenisse in die gemeentes op die dorp; sommige is langer en ander korter daar.

Nie al die gemeentelede hou van almal nie – soos dit maar gaan met mense. Ek was verbaas oor hulle volwassenheid om die soort spanninge, waarvan sommige nogal erg kon raak, en geraak het in die verlede, onder mekaar deur te praat. Ek kon sien hoe hulle mekaar gaan haal het as die een agter geraak het. Die feit dat een van die spanlede die VGK leraar op die dorp is, en die ander een ‘n kapelaan by die lugmag het hulle met gemak hanteer soos mense wat besluit het die span is belangriker as dit wat hulle uitmekaar hou.  Ek het gewonder wat hulle geheim sou wees? Watter tegniek hulle gebruik?

Dit is eenvoudig, vertel hulle, ons gaan gereeld ten minste een keer ‘n maand en sonder ons as span af in gebed en stilte voor die Here.  Dit was nie vir almal van ons ewe maklik aan die begin nie, maar nou weet ons as ons dit nie doen nie, hoor ons die Here en daarom mekaar nie so goed nie.

Wanneer kinders ons bedien, is daar altyd Hoop

Written by webmeester on . Posted in Advent

22ste Adventverhaal van Hoop – 20 Desember 2008
Dit is om een of ander manier so dat in ons gemeente die grootmense oor al die jare die Kersspel opgevoer het. Soos dit maar gaan het ons in patrone verval van dieselfde mense speel dieselfde rolle elke jaar – voorspelbaar en om die minste te sê, nie baie interessant nie.

Ons besluit toe vanjaar gaan dit anders wees – ons gaan die kinders vra – al 62 van hulle wat in ons kategeseskool is! In ons koppe was dit ‘n waagstuk – sal hulle wil, sal hulle kan, was van die vrae wat ons moes hanteer.

Elke engel het anders gelyk met hulle tuismaakte vlerke, party met punte, ander met ronde vlerke, maar elkeen spesiaal gemaak vir die okkasie.  Ons kan eintlik nie dink hoekom ons dit nie al lankal gedoen het nie; die kerk was gepak, die spel en die sang uit die hart en spontaan, soos mense wat werklik glo wat hulle vertel. Ons almal is geseën deur die 62, ja 62 kinders se deelname!

Tog snaaks as kinders ‘n mens bedien, hoeveel hoop dit aan almal gee.