Vars Uitdrukkings van die kerk en Kerkplanting

Written by webmeester on . Posted in Kerkplanting

Tydens die kursus wat hy in Kaapstad aangebied het was dit duidelik dat ons baie kan leer by die “Fresh Expressions Institute” wat ses jaar gelede deur die Anglikaanse en Methodiste kerk in die VK begin is waarvan Bishop Cray die spanleier is.  Intussen het die netwerk uitgebrei met verskeie ander denominasies.

Wat is ‘n fresh expression of church?

Dit verwys na ‘n andersoortige styl van kerkwees vir die veranderde kultuur waarin mense vandag leef. Die doel hiermee is om mense te bereik wat nie deur gevestigde bedieninge (gemeentes)  bereik word nie.  Minstens 1/3 van die inwoners in die VK was nog nooit gedurende hulle leeftyd in enige kerk betrokke nie.  Die Kerkleiding van bg. denominasies is oortuig dat ‘n dubbelloop benadering (mixed economy) gevolg moet word om alle mense te bereik, d.w.s. tradisionele gemeentes sowel as “vars uitdrukkings” van kerkwees.

Die gevolg hiervan was dat daar letterlik honderde “vars uitdrukkings” die afgelope paar jaar deur hierdie beweging ontwikkel is. Net in die Methodiste kerk alleen is die afgelope paar jaar ‘n 1200 nuwe gemeentes begin.

Hierdie “vars uitdrukkings” sluit bv. in: ‘n “Surfer” gemeente op Polzeath strand, ‘n Jeugkerk in ‘n skaatsplankpark, ‘n selkerk in Meyerside polisiestasie, ‘n gemeente in die konferensie kamer van ‘n pub. So is daar letterlik honderde voorbeelde. 
‘n “Fresh Expression” is dus ‘n nuwe geloofsgemeenskap.  Dit is nie ‘n nuwe evangelisasie metode waardeur buitekerklikes bearbei en ingeskakel word by bestaande gemeentes nie. Dit is ook nie ‘n brugbouprojek om mense voor te berei om later by ‘n gevestigde gemeente in te skakel nie.  ‘n Fresh Expression of Church is 

KERK OP ‘N NUWE MANIER

Watter metode word gevolg om Fresh Expression Gemeentes te vestig? 

Die verhaal wat Bishop Cray van so ‘n Fresh Expression vertel het illustreer die metode wat hulle volg om so ‘n bediening te vestig duidelik.

‘n Kerkie wat letterlik teen ‘n bekende “Surfer”strand gestaan het, het nog net twee senior lidmate oor gehad.  Hulle het alles probeer om mense in te trek, maar onsuksesvol.  Op ‘n Sondag kyk hulle uit na die strand en sien die honderde “surfers” en begin navraag doen oor die behoeftes van die surfers.  Storte, toilette en kuier area was ‘n groot behoefte. Die kerkie word omskep om ‘n kuierplek vir die surfers te word waar ‘n verskeidenheid van hulle behoeftes aangespreek word, ook hulle geestelike behoeftes en so ontstaan ‘n nuwe surfer gemeente. 

‘n Belangrike uitgangspunt wat ons met hulle deel, is dat daar nie net een model van nuwe gemeente ontwikkeling is wat in alle situasies toegepas kan word nie. Die proses om sulke bedieninge te vestig word konsekwent toegepas en lyk soos volg:

1.    Luister – Daar word na God en die gemeenskap wat bereik moet word, goed geluister deur tye van afsondering asook met mense te gesels, plekke te besoek en vrae te vra.  Die Heilige Gees word vertrou om behoeftes uit te wys.

2.    Dienslewering – Op grond van die behoeftes word daar op kreatiewe en goedbeplande aksies besluit om die gemeenskap te dien. 

3.    Evangelisasie – Diegene wat gedien word, word ook met die Evangelie bedien.  Die voorbeeld van Christus wat tussen mense kom woon het en daarna met hulle oor die Koninkryk van God gepraat het vorm die teologiese begronding van hierdie proses. (Incarnational Mission)

4.    Dissipelskap – Dit is die begin van ‘n dissipelskapproses wat o.a. beteken om mense in ‘n geloofsgemeenskap op te neem.

In die meeste gevalle word mense eers op hierdie stadium in ‘n erediens opgeneem waar die gemeentelede die styl van die diens bepaal. 

Wat was opvallend van Biskop Cray se aanbieding?

1.    Nasionale Sinodes het die noodsaaklikheid en dringendheid van Nuwe Gemeente Ontwikkeling besef en daarom sterk besluite geneem wat rigtinggewend leiding aan Streekssinodes en Ringe hieromtrent gegee het.

2.    Personeel en ander bronne is beskikbaar gestel om hierdie visie te dra en leiding op grondvlak hieroor te gee.  24 Personeellede hanteer hoofsaaklik die werk van die instituut. 

3.    Op plaaslike vlak is hierdie dubbelloop benadering ook omarm en word dit positief ondersteun deur leraars, kerkrade en gemeentes.   Ruimte word volledig gegee vir sulke ontwikkelings naas gevestigde bedieninge.

4.    Opleiding speel ‘n groot rol in dit wat die afgelope paar jaar gebeur het.  Een dag bekendstellingskursusse word landswyd gedoen, ‘n ses weke kursus word gereeld aangebied en ‘n Een jaar kerkplant kursus vir voornemende kerkplanters.

5.    Ekumeniese samewerking word in hulle funksionering, besluitneming en bediening uitgeleef.

Mag ons in die familie van NG Kerke in SA ook in die volgende 5 jaar getuienisse hoor van honderde Nuwe Gemeente Ontwikkelings.

Wenke vir voornemende kerkplanters

Written by webmeester on . Posted in Kerkplanting

Tien jaar gelde het ekself met kerkplant-drome in my oë gespring en “die ding” geprobeer. Hoewel dit nie ‘n rasende sukses was nie – die bediening het na vier jaar saamgesmelt met ‘n groter makrogemeente in die betrokke stad (Centurion) – kan mens terugkyk op die ondervinding en met dankbaarheid teenoor die Here getuig van blywende resultate uit die projek: Mense het daadwerklik tot bekering gekom; daar is vandag nog mense aktief in die sendingveld as gevolg van die bediening; vriendskappe is gesmee wat tyd, konflik en afstand deurstaan het; en, les bes, kosbare teologiese lesse is geleer.

Hier is ‘n sewetal van die lesse wat ek geleer het en dalk met voornemende kerkplanters kan deel:

1. Maak seker van jou roeping

Voordat jy enigsins kan begin prakties raak in jou beplanning, moet jy klarigheid kry oor ‘n paar sake. Die belangrikste hiervan is die kwessie of jou oortuiging om ‘n kerk te plant, deur God gegee is. Mens plant nie ‘n kerk omdat jy in konflik staan met jou gemeente se bedieningstyl, jou kollegas of omdat jy nog altyd jou eie ding wou doen nie. Kerkplanting is ‘n missionêre roeping, gefokus op buitekerklike mense, mense wat nie deur die tradisionele kerk bereik word nie. Dis innoverend want dit soek na alternatiewe maniere van evangelisasie om mense wat skepties staan teenoor die kerklike organisasie in ‘n verhouding met Christus in te trek.

Voornemende kerkplanters moet ook seker maak van hulle persoonlikhede en gawes. Kerkplanting is verhoudingsgedrewe, prakties en innoverend. Tipiese kerkplanters moet teologies goed onderlê wees, maar prakties ingestel wees. Hulle moet kan organiseer en motiveer, die roeping in grypbare beelde kan kommunikeer, en bowenal die pastorale insig hê om vreemde mense onvoorwaardelik te bevriend.

2. Werk deur die kerklike strukture

Voordat mens kan kerkplant, moet jy seker wees jy het al die burokratiese prosesse bestuur. Die liggaam van Christus word nie gedien deur persone wat buite-om strukture werk nie. Mens besef dit dikwels nie, maar enige kerkplant toon dikwels binne drie jaar al die sosiale  kenmerke van ‘n tipiese gemeente. Gevolglik is dit noodsaaklik dat die leierskap van jou gemeente in ‘n gesonde, opbouende verhouding staan met omliggende gemeentes, die kerklike strukture wat die projek goedgekeur het (hetsy die kerkraad, ring of sinodale kommissie) en met die predikante saam met wie jy in breër verband moet werk. Dikwels verstaan hierdie mense nie die noodsaak, aard of unieke uitdagings van die projek nie en die kerkplanting kan as ‘n bedreiging beskou word. Die enigste manier waarop dit “geneutraliseer” kan word, is voortdurende en opbouende verhoudings wat wedersydse respek kan help bou.

3. Bou ‘n gefokusde leierskapspan

Kerkplanting is nie ‘n eenpersoonsaak nie. Die bedieningsmodel is immers nooit een van ‘n dinamiese, charismatiese pastor wat oor al die gawes in hom/haarself beskik nie. 
Dis ‘n geïntegreerde span van geroepenes wat verstaan dat die kerk ‘n span leiers is wat nie almal oor formele teologiese opleiding hoef te beskik nie. Indien hierdie beginsel nie in die DNA van die nuwe gemeente ingebed word voor kerkplanting nie, gaan dit binne drie jaar ‘n tipiese herder-kudde bediening wees.

Hierdie leierskapspan word nie bepaal deur vakante posisies in ‘n organigram nie. Jou grootste uitdaging is om persone saam te trek wat die roeping verstaan, die passie vir buitekerklike persone demonstreer, en bereid is om onder jou leierskap te werk. Dis belangrik dat hulle nie met ‘n eie agenda deel raak van die projek nie, maar dat hulle die agenda wat die Here op jou hart gelê het, verstaan en deel. Daarna kan julle saam na elke spanlid se gaweprofiel, spesifieke talente en hulle eie roeping kyk en uit dit uit moet die organigram vloei. 

As pastorale leier is dit jou verantwoordelikheid om in hierdie leierskapspan in te belê: hulle geestelike ontwikkeling te fasiliteer, bedieningsvaardighede te help kweek deur hulle aan groei-geleenthede bloot te stel, hulle taakomskrywings in die span te bestuur, en bowenal hulle vriend/vriendin te wees.

4. Ken jou omgewing

Die sendinggeskiedenis het ons geleer dat mens nie ‘n vreemde struktuur op mense kan afdwing nie – die Europese kerkstrukture het bv nie in Afrika gewerk nie. Net so ook werk die tradisioneel-gereformeerde pastorale modelle nie in ‘n kerkplantingsituasie nie. Trouens, geen model – hoe suksesvol dit ookal op ‘n ander plek gewerk het – kan sondermeer oorgeplaas word in ‘n ander konteks nie. Gevolglik moet elke kerkplanter sy/haar omgewing “eksegetiseer,” oftewel ‘n deeglike voorafstudie doen van die gemeenskappe waar die kerk moet funksioneer. Sake soos kultuur, ouderdomsverspreiding, inkomste, sosiale en maatskaplike probleme, die spiritualiteit van ander kerke in die gemeenskap en toekomstige planne wat die stadsraad kan hê, moet in ag geneem word.

5. Definieer jou bedieningstyl vooraf

Kerkplanting is nie veronderstel om ‘n alternatiewe aanbiddingsgemeenskap te wees vir ongelukkige lidmate van tradisionele gemeentes nie. Daarom moet jy en jou leierskapspan vooraf besluit watter teologiese, en spiritualiteitswaardes vasgelê sal wees. Nuwe gemeentes trek dikwels ‘n verskeidenheid soekers, mense wat alternatiewe geestelike tuistes soek. Dit bring hulle spiritualiteitsverwagtings dikwels in direkte botsing met die bloudruk van julle roepingsplan. Konflik in kerkplantings lê dikwels op die terrein van erediensstyl, kleingroepfunksionering en -leierskap, genadegawes, die sakramente, ens. Kerkplantspanne is gewoonlik so verleë oor nuwe leiers dat hulle hierdie verwagtinge probeer akkommodeer, ten koste van die oorspronklike roeping. Hoewel hierdie saak hoegenaamd nie staties is nie, is dit raadsaam om veranderinge aan bedieningstyl met ‘n langtermynplan te bestuur. Kleiner groeperings loop die risiko om koerswysigings binne weke te wil deurvoer, terwyl die gemeenskap wat bedien word, nog nie eens gewoond geraak het aan die bestaande styl nie. Stel ‘n bedieningsplan op en hou daarby.

6. Vergeet van getalle

Die meeste voornemende kerkplanters het kennis gemaak met die suksesverhale van die “bedryf:” Willow Creek met sy twintigduisendplus kerkgangers, Yoido Full Gospel Church met sy driekwartmiljoen sellede, om maar enkeles te noem. Trouens, wanneer mens ‘n nuwe bediening vestig, is die druk groot om getallegewys “kritiese massa” te bereik – genoeg mense in die eredienste/kleingroepe om nuwelinge te laat tuis voel, of om die finansies selfstandig te maak, of om die bediening se standhoudendheid te waarborg.

Vergeet daarvan. Om mense in die koninkryk van Christus in te bind, is nie ‘n skape-tel oefening nie. Die Here voeg self die mense wat deur die bediening bereik word, by. As mens se fokus verskuif van hierdie waarde af na die bereiking van numeriese doelwitte, word elke individu ‘n blote getal, iemand wat wegdoenbaar is as die towergetal verbygesteek is.

7. Verhoudings, nie strukture

Laastens, en in direkte samehang met die voorafgaande punt: kerkplanting gaan oor mense. Elke persoon wat deur die bediening bereik word, is deur God gestuur, of hy/sy gelowig is of nie. Indien die hele kerkplantspan nie bereid is om elke, enkele persoon onvoorwaardelik te aanvaar en lief te kry nie, word die bediening uiteindelik gereduseer tot nog ‘n gemeente met ‘n alternatiewe bedieningstyl. Die bedoeling is om die gemeenskap te bereik met Jesus se verlossende liefde, en nie om ‘n gemeente te vestig nie. Die fokus moet dus wees op die mense in die gemeenskap en die bediening se primêre roeping hierin is om met mense in interaksie te tree, verhoudings te bou, respek te hê en liefde te demonstreer.

Uiteraard is hierdie sewetal wenke die druppel in ‘n baie groot emmer. Meer inligting is egter bekombaar. Vir daadwerklike hulp en bystand kan jy by die kantoor vir Gemeente-ontwikkeling en Kerklike Samewerking aanklop.