2016: ‘n Nuwe jaar!

Written by webmaster on . Posted in KIX-KOM

Wat hou 2016 vir my in? Dis ’n vraag wat in die meeste van ons se onderbewussyn leef, maar wat ons nie kan beantwoord nie. Ons het almal die behoefte om voorbereid te wees. As iemand ons net ’n idee kan gee, kan ons onsself gereed kry en nie onkant gevang word nie. As gelowiges het ons egter die voordeel van God se beloftes. Ons ken ook nie die inhoud van die toekoms nie, maar ons ken die uitkoms! Iewers het ons al Jeremia 29:11 vasgebind in ons geheue: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Ons vat die teks maklik vir ons, want niemand vra vir teenspoed nie. Tog is hierdie teks nie ’n waarborg vir die inhoud van die toekoms nie, maar wel vir die uitkoms. Die uitkoms is ’n herstelde realiteit, ’n versoende eenheid, ’n vredevolle beslag, ’n liefdevolle werklikheid! Ons het ’n versamelwoord daarvoor – hemel! Mag jy 2016 ingaan en nie hemel op aarde hê nie, maar hemel voor oë! Die oog vestig op die vreugde wat vir ons in die vooruitsig is. (Heb. 12:2)

Projek 2016: Otjiekos!

Vanjaar werk ons plaaslik. Maar hoekom so ’n vreemde naam… Otjiekos? Ons wil hê kinders en volwassenes moet vanjaar vir die “otjie” kos gee! Elke keer as jy ’n robotbedelaar of bedelaar op die straathoek sien en jy voel aangespreek of jammer vir die persoon, moet jy eerder die geld wat jy vir die persoon wil gee, in jou otjie gooi.

Aan die hardloop tot by 2015 se einde

Written by webmaster on . Posted in KIX-KOM

kixIs julle gereed vir die “nog vinniger hardloop”-kwartaal! Die laaste kwartaal het mos ’n manier om tussen al die jaareindgeleenthede so vol te raak dat jy 2 keer by jouself verby kan hardloop sonder om een keer te groet. Ek het so 2 jaar gelede ontdek dat die rede hoekom ons die Here as ver beleef eintlik net ons eie skuld is! Die Here belowe om altyd by ons te bly (Matt. 28:20), maar die probleem is, ons is so aan die hardloop dat ons nie altyd by onsself is nie! As ons die moeite doen om ons gees weer in ons liggaam te laat tuiskom, sal ons die Here naby ons beleef. Die beste manier om dit reg te kry, is deur te stop en stil te word. Mag jy die insig kry om die kwartaal gereeld stil te hou en vir jou gees te wag deurdat jy die seëninge van stilte vir jouself ontsluit.

Met die Kersgety wat om die draai is, het ons dit goed gedink om patrone te verskaf vir vingerpoppies waarmee die hele Kersverhaal vertel en uitgespeel kan word. Geniet die maak en gebruik daarvan. (Laai dit gratis af op hierdie webtuiste.)

Uit die Kix-Kantoor

Written by webmaster on . Posted in Jeug en familie, Kinderbediening, KIX-KOM

Ons weet nie hoe goed julle Sjona is nie, maar ons weet Piketberg se Kix is besig om teen snelle vaart hulle Sjona aan te leer. Die tweede kwartaal het pas begin toe ons ’n epos kry met die versoek vir nog Shona woorde. Piketberg het reeds so gewoeker dat hulle meer as net die 3 sinne kon “betaal”. Ons het ons Sjona-kenner gekontak en sy het nog ‘n paar sinne gestuur. Die nuwe sinne is:

  • Rava Bhaibheri namata zuva nezuvaLees jou Bybel en bid elke dag.

  • Mwari anondidaGod is lief vir my.

  • Mwari wakanakaGod is goed.

  • Jesu akatendekaJesus is getrou.

  • Ndinofamba naJesu – I walk with Jesus.

  • Kura pakutenda – Grow in faith.

  • Kura pakuziva Jesu – Grow in knowing Jesus.

  • Taura zvaJesu – Speak of Jesus!

ZIM ABC wat die Woord gee

Written by webmaster on . Posted in Jeug en familie, Kinderbediening, KIX-KOM

Hoe gaan dit met ons projek vir 2015?

Ons sal binnekort nog oulike idees gee om weer ‘n bietjie woema te gee met ons insamelings.

Verlede jaar se projek:

Tyd loop so vinnig aan. Wie kan nog onthou wat verlede jaar se projek was? Dit was die projek: “Vertel, vertel!”. Ons het geld ingesamel vir die “Vertel, vertel!”-Bybel wat in Zoeloe vertaal is. Hierdie Bybels gaan ons stuur na Msinga en Makhathini.

Teen einde-Maart het ons reeds die mooi bedrag van R 51 490.70 ingesamel. Ons weet daar is altyd nog gemeentes wat bydraes instuur. Julle is welkom om dit spoedig in te stuur sodat ons dit kan deurstuur. Met hierdie geld kan ons al amper 900 Bybels koop. Dit beteken 900 gesinne gaan blootgestel word aan die Bybel in hul eie taal. Dis eenvoudig geskryf sodat laerskool kinders dit vir hulle ouers kan lees. Dit gaan dus deur die skole versprei word en die kinders kan die “boek” gebruik om hulle lees te oefen en so kom die stories van ons wonderlike Here ook in die huise van Msinga en Makhathini.

Ek weet ons moet nie uitsonderings maak nie, maar ai, dis so wonderlik hoe die Here ook die harde werk van individue raaksien en dit seën dat dit tot seën van ander kan wees. Piketberg se KIX het vanjaar so gewoeker dat hulle R15 000 kon insamel. Boesmanland het ook nie lyf weggesteek nie en kon R5 000 bydra. Welgemoed het die mooi bedrag van R5 232 ingesamel en Hantam het R3 000 bygedra.

Sterkte met jul eie kinderbedienings!

Verlore generasie?

Written by Wilma le Roux on . Posted in Jeug en familie, Kursusse

Bediening aan die 18-35 jariges:

‘n 2-Dag VBO Kursus

 Youth.image

Daar is min gemeentes wat daarop sal kan roem dat hulle ’n baie suksesvolle bediening aan die 18 – 35 jariges het. Inteendeel. Die meeste gemeentes sukkel om kinders na belydenisaflegging gekoppel te hou aan die gemeente.  Eers as daar kinders is wat gedoop moet word, verskyn hulle weer op die gemeente se radar.

Wat gebeur met hulle intussen?

En hoe kan ons hulle sinvol bedien in hierdie tyd waar hulle hul vlerke van nature sprei en ander horisonne verken?

Hierdie kursus gaan

  • jou blootstel aan die jongste navorsing,
  • jou in gesprek bring met Jeugwerkers wat hiermee getaak is,
  • leer by 2 van ons sinode se studentebedienings, en
  • uitvind hoe die tegnologie ons kan help.

Ons gaan ook

  • ons hand waag aan ’n paar moontlike oplossings,
  • en saam dink oor nuwe moontlikhede.
  • Ons gaan ook saam besluit oor die ontwikkeling van nuwe programme, platforms en prosesse.
Sperdatum: 19 Februarie

Projek 2015

Written by webmaster on . Posted in KIX-KOM

Die Here het ons gelei om vanjaar by die ring van Morgenster in Zimbabwe betrokke te raak. Die ring bestaan uit 8 gemeentes. Hulle het ’n groot behoefte aan kategese materiaal en ons gaan hulle bystaan om nuwe materiaal te ontwikkel. Die goeie nuus is dat die Sinode van Zimbabwe kennis dra van die projek en as alles afgehandel is, wil hulle die nuwe kategese materiaal ook vir die res van die gemeentes beskikbaar stel. Ons gaan dus in noue vennootskap met Morgenster Sending-stasie werk en saam ontwikkel aan nuwe boekies in Sjona (hulle amptelike taal). Dit het ons laat dink aan ’n projek naam. Omdat die Sjona alfabet gebruik gaan word om die Bybel stories aan kinders te bring, het ons die naam gekies: “Zim ABC wat die Woord gee”.

Nou het ons ‘n wonderlike idee om die Sjona alphabet te gebruik in ons fondsinsameling. Julle kan die Sjona alfabet aflaai vanaf ons webtuiste. Kopieer dit en knip uit. Daar is ‘n Sjona woord vir elke letter en dit sal baie pret wees om dit aan te leer. Die plan vir ons fondsinsameling is dat die kinders indiwidueel of in groepe die letters van een van die volgende 3 sinne kan koop teen R5 ‘n letter. Die drie Sjona sinne is:

Jesus loves you – Jesu anokuda,

God is always with you – Mwari anewe nguva dzose en

We pray for you – Tinomunyengetererai.