Predikante begeleiding

Begeleidingsentrum vir Predikante

Written by webmeester on . Posted in Predikante begeleiding

Bekwaamhede

Die sentrum is gemik op die rol en profiel van die predikant, asook die bekwaamhede wat dit ondersteun.  Uit ‘n biblioteek van 64 is eers 29 en toe 9 bekwaamhede onderskei wat die rol en funksie van die predikant die beste beskryf.  ‘n Bekwaamheid is ‘n kombinasie van verwante kennis, vaardighede, houdings en gewoontes wat toegepas word binne ‘n bepaalde konteks met ‘n uitkoms wat waarde toevoeg.  Die bekwaamhede kan waargeneem, gemeet en ontwikkel word. Die bekwaamhede ter sprake is denkvermoë, besluitneming, emosionele volwassenheid, effektiewe kommunikasie, verantwoordbaarheid, geloofsonderskeiding en geloofsvolwassenheid om enkeles te noem.

Die krag van die sentrum lê daarin dat dit op die gedrag van die deelnemer fokus wat direk evalueer kan word.  Dit word moontlik gemaak deurdat aan elke deelnemer twee begeleiers toegewys word wat die hele proses van drie dae met hom/haar deurloop.  Die proses behels die blootstelling aan ‘n aantal rol spele wat met die regte dosis spelerigheid en werklikheid saamgestel is om dit ‘n aangename leerervaring te maak. 

Eiland-situasie

Die sentrum vind oor drie dae in ‘n eiland-situasie plaas.  Op dag een en drie vind rol spele, evaluering en terugvoer plaas, altyd in dieselfde kombinasie van die deelnemer en twee begeleiers.  Op dag twee is daar insette oor emosionele intelligensie en kommunikasie.  Die proses is dinamies en help beide die deelnemers as die begeleiers.

‘n Aantal predikante is as begeleiers opgelei wat die sentrum deur die eerste fase sal neem.  Wat die deelnemers aanbetref, is die beleid tans dat die predikante van gemeentes wat deel is/word van ‘n Communitas-proses, aan die sentrum blootgestel word.  Dit geskied natuurlik met die samewerking van die predikant en kerkraad.

Communitas sal graag, sodra die groeipyne hanteer is, die konsep van die Begeleidingsentrum met ander sinodale streke wat belangstel  wil deel.

Camino ervarings Ewald Schmidt

Written by Frederick on . Posted in Predikante begeleiding

Ewald het die Camino gaan stap en sy ervarings vasgele op ‘n blog, hierdie is sy voorlaaste inskrywing lees gerus meer oor sy ervarings op die Blog Camino de Sandiago

Ek het op my Bucket List die droom gehad om genoeg van die Camino de Santiago te loop, dat ek die Campostela sertifikaat in die sweet van my aangesig kan verdien. Hierdie Blog het die storie van my droom vertel van die begin af- en ontwikkel soos ek nader aan die vertrekdatum gekom het. Ek kon elke dag op die Camino met julle deel, soos wat ek êrens langs die pad die geleentheid gehad het om my hande op ‘n rekenaar te lê. Ek het met julle die beste van my 992 fotos gedeel.  En nou het julle my hele storie oor die Camino de Santiago gehoor. Al wat oorbly is om te vra: was dit die moeite werd? Het ek gekry waarna ek op soek was?

Daarom wil ek die reeks afsluit deur die volgende gedagtes met julle, wat gereeld gelees het, te deel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

1.  Enige iets is moontlik!

David van Barcelona het dit gesê by sy stalletjie op die pad na Astorga toe. Ek het dit as waar beleef. As ek eerlik moet wees, ek was baie, baie bang vir hierdie stappie. Dit kom van Standerd 4 af, by die Graskop Veldskool, waar ek gereeld die stadigste in die groep was in die veld. Dit het verskeie kere in my lewe gebeur, dat ek staptoere aanpak, en regtig die stadigste in die groep is. Om een of ander rede het ek nog altyd baie swaar gekry die oomblik as daar ‘n rugsak op my rug is. Ek het ook nog altyd die probleem van voete wat seer word, en baie vinnig blase kry. Een van die stemmetjies in my kop het nog altyd vir my gesê- “Jy kan nie!” Hierdie Pelgrimstog was direk ‘n aanval van my kant af op die een vyand wat al baie jare lank my klein laat voel het. Ek het daardie vyand oorwin by die Ysterkruis en by O Cebrero. Hy praat nonsens! Ek kan enige iets doen wat menslik moontlik is, as ek dit graag genoeg wil doen, en as ek lank genoeg aanhou. 

2. Dankbaarheid

‘n Mens kan so dikwels vaskyk in die negatiewe van die lewe. Daar is altyd iemand anders wat beter af is as jy op ‘n sekere gebied. Party ouens kan met baie minder jare op universiteit baie meer geld as ek verdien. Party mense besit die huise waarin hulle bly. Party mense se droom van ‘n nuwe kar word waar, en dan is dit nie die heel basiese intreemodel (soos wat ek nou met begerige oë na ‘n Toyota Aygo kyk, maar in my donkerste hart wens dat ek ‘n Toyota Hilux 3.0 D4D DC kon koop nie!) nie. Party mense is vinniger as ek op ‘n fiets, ander word baie vinniger fiks as ek. Daar is so baie dinge waarmee ‘n mens jouself kan vergelyk met ander mense. En dan sien jy ook net ‘n deeltjie van die waarheid raak. Daar is dalk net ander mense wat begeer om in jou posisie te wees! Op die Camino is die een groot les om los te maak wat agter jou lê. Om BAIE af te skaal. Om met die minimum te gaan reis. En op die roete kan jy nie na enige iemand kyk, en dink waar hy inpas in die samelewing, of hoeveel hy besit nie. Ons almal het maar ongeveer dieselfde grootte rugsak gehad, dieselfde kwaliteit skoene (wat party dadelik kon koop en ander op hulle kredietkaarte afbetaal het- ek oor 6 maande op budget!) Ons het almal maar so 2-3 stelle klere gehad, en ‘n poncho of reënjas. Gerugte wou dit hê dat die volgende Eerste Minister van Ierland êrens saam met ons op die Franse roete was, en Fernando Alonso gaan glo 200 km te fiets doen op sy Camino oor 6 dae in Augustus se 3 weke breuk in Formule 1. Jy weet net nooit regtig wie iemand saam met jou in die Alburgue is nie. En daarom behandel Pelgrims mekaar met die grootste respek. Dis wat elkeen van ons is- net ‘n Pelgrim op ‘n roete op pad na die eindpunt toe. Terwyl elkeen van ons met ons eie blase op die voete sukkel! Ook in ons lewe is dit mos die waarheid. Vir die Christene is die lewe as pelgrim in hierdie wêreld ‘n redelike algemene tema in die Nuwe Testament.
Omdat jy net die minimum 10 kg wil saamdra, leer jy dankbaarheid vir elke aand wat jy ‘n bed het, en nie buite op iemand se stoep hoef te slaap nie. Jy leer dankbaarheid om water langs die pad raak te loop, en kom agter hoe afhanklik jy van net ‘n halfliter water elke paar uur is. Om soms skielik onverwags op ‘n plek wat heerlike koffie bedien, af te kom, was soms ‘n hemelse ervaring! Kos is skielik nie meer vanselfsprekend nie, en selfs ‘n blikkie botterboontjies en varkpense gee jou energie vir nog ‘n deel van die reis. Jy is dankbaar as die Pelgrimsmenu goed voorberei is, jy is tevrede as die ete net-net aanvaarbaar is. En jy mis ‘n ordentlike steak met mushroomsous, soos wat jy darem een keer per maand tuis kan bekostig in Rande.
Omdat ‘n mens jou eie mense agterlos, is die verlange na hulle ‘n baie getroue reisgenoot. As ‘n mens dit sonder jou lewensmaat doen, dan wens jy sy/hy kon die sonsonder saam met jou sien, of die mis beleef wat ver onder in die valleie opstoot. Jy mis die klank van jou kinders se stemme, en vergeet so gou hoe skril daardie geliefde stemmetjies op mekaar kan gil.
‘n Mens mis jou goeie vriende, daardie enkele vriende wat oor baie jare deel van jou wese geword het oor baie kampvure, baie gedeelde bottels rooiwyn, (en die gallonne KWV 5 jaar oud in Melkbosstrand!) baie middernag geselsies oor die lewenspad wat ons stap. As niemand jou taal vandag gepraat het nie, en niemand verstaan jou Boertjie Engels nie, dan is dit lekker om skielik iemand van jou land raak te loop. Dan besef ‘n mens hoe kosbaar is jou eie taal vir jou.

3. Geestelike waarde vir my:

‘n Mens kom agter hoe kosbaar Stilte is! In die heeldag loop in die natuur kom ‘n mens agter hoe geweldig rumoerig is ons alledaagse lewe tuis. Ek sukkel om nie ‘n radio aan te skakel êrens in die huis nie, sodat dit nie so stil moet wees nie. En dan kom daardie stilte, en word deel van jou menswees op die roete. Die gejaagdheid verdwyn, daar daal ‘n vrede oor jou neer. En in daardie stilte hoor jy die Here vir jou fluister.
Ek het ‘n sekere stuk vrede ervaar in katedrale en kerke wat soms selfs uit die 11e eeu uit kom. Dit is ten spyte van vriende wat allerhande Vrymesselaarsimbole probeer uitwys, en mense wat baie krities op die Rooms Katolieke kerk is. Daar is geboue wat al vir eeue deur gewone mense gebruik is om weg te kom uit hulle alledaagse lewe, met die geloof dat hulle daar die Hemelse Vader kan ontmoet. Die hoë kerktorings in klein dorpies het vir geslagte se reisigers die boodskap gegee dat God ook hier teenwoordig is. My eie geloof is glad nie op heilige geboue gebou nie. Maar in hierdie ruimtes van stilte en aanbidding kon ek dikwels vir baie lank sit, en onverhinderd bid oor die mense en sake vir wie ek baie lief is.
Daardie ervaring is egter ook nie beperk tot heilige geboue nie. My mees ingrypende ervaring van God se teenwoordigheid was by ‘n stroompie een Sondagoggend net na 09h00, ek vermoed toe my gemeente tuis ook vir my gebid het. Sekere ervarings kan ‘n mens nie in woorde vir ander beskryf nie, want dit het in die hart gebeur, en is groter as enige mensewoorde. “Water waar daar vrede is” sal nooit weer anders kan as om ‘n baie kragtige beeld in my gedagtes op te roep nie, ek verstaan dit nou baie beter, want ek was daar… Dis nie omdat dit ‘n ou, ou stroompie is in Spanje nie, dit is omdat ek stil genoeg probeer word het om God te hoor. “Nader tot God, en Hy sal tot jou nader…” is een van die beloftes in die Nuwe Testament. Dit kon langs die dam in ons dorp ook gebeur het, die plek is nie belangrik nie, die dieper dors na meer is.
Ja, hierdie Pelgrimstog kos ‘n mens redelik baie geld. Maar ek dink ek het ‘n goeie belegging gemaak. Ek wou sekere vrae in my eie lewe deurworstel, en ek het. Hopelik sal my gesin, my vriende en my gemeente ‘n verskil in my lewe sien. Ek kom agter hoe geweldig sterk is die suigkrag van ou gewoontes, en ou gedagtes. Maar ek gaan my bes probeer om nuut te dink, positief te wees, en aan te hou met wat ek in glo. Want ek het dit in die moeilike dae van die Camino geleer dat kerm en kla niks gaan help nie. Fokus op die eindpunt, gebruik alle krag wat ek het, moenie reserwes probeer terughou nie, gaan groot of gaan huis toe. En tree vir tree kom enige doelwit nader. Al lê daar ‘n berg of twee tussen jou en die eindpunt- selfs ‘n berg is nie onoorwinbaar as jy ernstig genoeg oor die doel is nie.
Het ek gekry wat ek gesoek het? Ja, beslis.

Dankie vir julle wat die reis saam met my op my blog meegemaak het. Dankie vir dié wat opbouende kommentaar en selfs aanmoediging na moeilike dae gegee het, dit het baie meer vir my beteken as wat julle ooit sal weet. Baie dankie vir die menigte wat saam gelees het, al het julle niks gesê nie. Dit was lekker om te sien hoeveel mense my blogs besoek het. En dankie vir julle wat nie eers my geloofsoortuigings deel nie, wat vir my ruimte in hierdie openbare media gegee het om my storie te vertel, sonder negatiewe kritiek- ook dit waardeer ek regtig baie.

Elkeen van ons is besig met ‘n lewensreis. Elkeen van ons het ons eie stel hindernisse, en elkeen van ons het ‘n einddoel waarvoor ons mik. Dankie dat jy hierdie stukkie van my groot lewensreis saam met my gedeel het. En nou wens ek net vir jou, en jou eie reis, die ou groet van die Camino toe-

Buen Camino!

Groepsgesprekke vir 100dae

Written by Frederick on . Posted in 100 dae

Ek het die volgende geleer by ons 100dae groepsbyeenkoms:

  1. Ek dink nie dit sou moontlik wees om voort gaan met die reis van die 100dae as dit nie vir ons groepsbyeenkomste was nie.  Hulle aanmoediging is onontbeerlik so as ons opgee op die groepe is daar mi eintik nie ‘n proses nie – hou vol daarmee.
  2. Die aanleer van nuwe gewoontes is ‘n bewuste keuse elke dag – dit kom nie vanself nie – selfs nie na byna 2maande nie
  3. As ek nie volgehou het met my ooreenkoms nie, is die grootste vyand nie ander mense en die druk wat hulle op my plaas nie, maar my eie gedagtes en vrese. Ek moet eintlik elke dag die vrees om te misluk in die oe kyk. Hoeveel kere het ek nie al probeer om my lewensstyl te verander nie, my vrees is dat ek dit hierdie keer ook nie gaan regkry nie – daarvoor is die groepe ‘n wonderlike ruimte van refleksie waar ek eerlik my vrees kan lug gee en dan is die byna dadelik nie meer so sterk nie.
  4. Hulle sien verandering in myself raak wat ek self nie raaksien nie – en dit bemoedig my oneindig. Elke klein innerlike skuif waarvan ek bewus word is soos ‘n goddelike geboorte in myself en ek vier dit met oorgawe!
  5. Dit help my nie as die groep vir my raad gee nie
  6. Ek weet nou al ek gaan met van die dissiplines nie ophou na die 100dae nie – en dit is my grootste oorwinning!

 

Dag 2

Written by webmeester on . Posted in 100 dae

Soos belowe sit ek die gesprek aan die gang.

Die afgelope twee dae was van die mees betekenisvolle dae in my werk by Communitas.  Ek het die gevoel dit was al die pad “real” en eerlik. Dit is nou wel maar die aand van dag twee, maar daar is tog ‘n opwinding wat in my bruis oor die 98 wat oorbly.

In Changing the Conversation – a third way for Congregations, sê Anthony B Robinson, ons moet ‘n nuwe metafoor vir onsself en vir die kerk bedink. Hy haal aan uit ‘n boek van Barbara Brown Taylor Speaking of sin: The lost language of salvation. In die boek maak sy voorstelle om oor die ou Evangelie te praat, maar met nuwe taal en matafore. Sy dink die metafoor vir die kerk as ‘n “clinic” doen dit nie heeltemal nie: baie deernis en versorging, maar nie veel verantwoordbaarheid nie.Aan die ander kant kan die kerk gesien word as ‘n “courtroom” waar jy tot verantwoording geroep word, maar waar daar uit die aard van die saak nie veel deernis is nie!

Wat daarvan, vra sy, dat ons oor die kerk dink as ‘n “community-of-human-transformation”? In so ‘n kerk is ons verbind tot transformasie, ons neem dus verantwoordlikheid vir ons lewe en lewenskeuses, maar binne ‘n gemeenskap van genade. Dit is dus ‘n gemeenskap van verantwoording én genade.

Ek dink dit is min of meer wat ons met mekaar ooreen gekom het. Om die waarheid te sê ek sal graag deel wil hê aan so ‘n geloofsgemeenskap!

Wel dit is tyd vir my prayer of EXAMEN!

Frederick

PS ek het vanaand hoeder fillette gekoop sonder vel en Italiaanse pasta met meer vesel – nie sleg gesmaak nie veral nie met die glasie rooiwyn daarby nie.

Predikante is nie meer arrogant nie

Written by Frederick on . Posted in Begelei mekaar

By die lees van “Anoniem” se brief “Dominees kan arrogant wees” (By, 6 Maart) het ek gewonder hoe dit kan wees dat twee mense dieselfde brief (die een van Charl Stander in 27 Februarie se By) so verskillend kan vertolk. Ek het nogal nie sy brief as arrogant en aanmatigend beleef nie, of dat hy voorgee om alleen die waarheid in pag te hê nie. Ek het weer Stander se brief gaan lees, en kon geen verwysing na die woord “ontwyfelbare” waaroor Anoniem so val, in die brief raaklees nie, of dat Stander voorgee dat sy interpretasie die enigste geldige een is nie. Inteendeel, ek het ’n stem gehoor van iemand wat bely dat hyself feilbaar is en maar te goed bewus is van die feit dat God se Woord soms krom en skeef by sy eie mond uitkom.
’n Mens kan maar net wonder wat (wie?) Anoniem so diep verwond het dat sy/haar persepsie van predikante so sleg is. Daar wás ’n tyd in die kerk toe party dominees gedink het hulle is die enigste mense wat die waarheid beet het, maar dit was 20 jaar en langer gelede. Die predikante wat ek vandag ken, en die kerk waarin ek leef en werk, is lankal nie meer so nie. As jy sulke dominees wil sien, moet jy maar 7de Laan gaan kyk, want in die kerk van 2010 sal jy hulle tevergeefs soek.

Ek sal alles in die gemeente doen, maar asseblief, kom vat my hand …

Written by webmeester on . Posted in Begelei mekaar

Ek sal steeds poog om die een oomblik in opregtheid te vertroos en saam te huil en dan minute later vriendelik te groet en lekker saam te lag. Is dit wat Martin Luther bedoel het toe hy gesê het predikante is God se narre?

Verder onderneem ek ook om die Woord van die Here vreesloos te verkondig soos wat ek Hom hoor en verstaan. Dis nooit maklik nie, want immers, is die Here besig om ‘n steeds feilbare geestelike leier te vorm en sukkel ek ook maar om die boodskap van troos, bevryding, vergifnis en versoening behoorlik te internaliseer. Weens my eie gebreke faal ek dikwels om hierdie wonderlike boodskap sinvol na vandag se konteks te transponeer.

Aan die ander kant trap die Here se Woord ook soms op tone. Dit vlek oop en ontbloot en dring aan op verandering. En dis nie altyd maklik om hierdie twee pole konsekwent vas te hou nie. Daar’s ‘n verhaaltjie in omloop van  die kerkraad wat vir die nuwe dominee gesê het om tog nooit te preek oor: barmhartigheid, rassisme, sending, drankmisbruik en egbreuk nie, maar wel oor die Jode …….. want hier by ons is nie Jode nie.

Tog sal ek as geestelike leier wil aanhou om te sê wat ek by God hoor. Al maak dit ongewild. Al word ek dikwels verstoot of verjaag, beskinder of gekritiseer, bespot of uitgelag. Of nie altyd ernstig opgeneem nie.

John Goldingay beskryf dit so:  ‘n Profeet van God voel dikwels soos iemand wat van voor geskiet word deur die vyand en van agter deur sy eie regiment.

Dus, sal ek ter wille van jou en baie ander, die moeilike pad vol dorings en skerpioene loop. Want inderdaad: om hiermee aan te gaan is moeilik, maar om nié aan te gaan nie, is onmoontlik!

Dankie vir jou brief. Dit motiveer my. Ek vra jou opreg: bid vir my en kom vat my hand. Want as jy en God my nie hiermee help nie, is ek gedoem om te misluk.

Charl Stander – Parke Gemeente in Kraaifontein