Hoop ontspring op die platteland

Written by webmeester on . Posted in Konferensies

Godsdiens-Aktueel: Hoop ontspring op die platteland

Ek het die afgelope week ‘n byeenkoms bygewoon wat my – te midde van die broeiende onrustigheid in die land – baie hoop gegee het.Dit was ‘n konferensie vir plattelandse gemeentes wat aan die Weskus gehou is.

Die plattelandse gemeentes vertel ons lankal dat hulle anders funksioneer as stadsgemeentes en dat die planne wat vir stadsgemeentes werk nie altyd op die platteland werk nie.Die mense het van oraloor gekom. Van Springbok en Steinkopf, van Fraserburg en Loeriesfontein, van Beaufort en Touwsrivier, van Lutzville en Garies en van baie ander dorpies. Predikante en lidmate – van alle kleure.

Die konferensie was ‘n lafenis en verkwikking vir almal wat daar was. Daar is gepraat oor die land en sy moeilikheid, maar ten spyte daarvan was die klimaat nie swaarmoedig of negatief nie. Om die waarheid te sê: die gees was veel blymoediger as wat ek verwag het.

Die verhale oor wat in gemeentes aan die gebeur is, was ongelooflik bemoedigend.

  • Ons het gehoor van ‘n wonderlike werkskeppingsprojek wat nou al jare in Beaufort-Wes loop – uitgedink en bestuur deur ‘n dominee en ‘n gemeente.
  • Ons het gehoor van ‘n aangrypende holistiese opvoedingsprojek wat in die Hantam-Karoo bedryf word – deur lidmate.
  • Ons het gehoor van boere wat besig is met grondhervormingsprojekte – nie omdat hulle dit moet doen nie, maar omdat hulle glo dat dit voor die Here die regte ding is om te doen.
  • Ons het gehoor van voedingsprojekte, versorgingsprojekte, jeugprojekte – van mense wat omgee en bereid is om te dien.

Ek moes aan die einde van die konferensie iets sê oor wat ek gehoor en beleef het.

Dus: ek het heeltyd probeer luister en dink oor wat hier aan die gebeur is. Dit was die algemene stemming van die konferensie wat my die meeste verras het. Daar was ‘n rustigheid – amper ‘n soort stille onverstoorbaarheid – wat vir my nuut was. En daar was energie – baie meer as wat ek verwag het. Die houding was min of meer: ons weet van al die probleme, maar ons sal moet aangaan en deurdruk.

As jy vra waar die houding vandaan kom, sou ‘n mens kon dink dat die platteland se gehardheid dalk iets daarmee te doen het. Maar hoe langer ek geluister het – veral na lidmate se praat – hoe meer het ek geweet dat dit ook te doen het met ‘n verbintenis tot God en die evangelie.

Wat duidelik ook aan die gebeur is, is dat plaaslike leiers verantwoordelikheid begin neem vir hul eie omgewings en vir die lot van hul mense. Dit is asof hulle begin verstaan dat ons probleme van so ‘n aard is dat dit nie deur een of twee leiers sentraal opgelos gaan word nie.

Ek het dieselfde ding ‘n maand gelede by die SARK-jaarvergadering gesien. Jong leiers wat na vore tree en praat met ‘n durf wat ek nog nie vantevore by die vergaderings gehoor het nie. Hulle voel bedrieg deur die politici en gaan sukkel om hulle weer te vertrou. Hulle is reg om meer as tevore self te dink en hul menings hoorbaar te maak.

Hiervoor is ek baie, baie dankbaar.

Die lidmaatleiers het my die meeste verbaas. Van die uitdagendste projekte waarvan ons gehoor het, is projekte wat deur lidmate uitgedink en staan gemaak is. Wit boere en onderwysers wat regtig omgee en groot droom en doen. Bruin en swart ouderlinge wat gemeentes sonder predikante lei met groot wysheid, liefde en vaardigheid. Wat uitgestaan het, was die diep en helder persoonlike geloof van hierdie lidmate. Dit is mense wat die Here ken en nie skaam is om daaroor te praat nie.

Die twee dae het my laat dink aan iets wat Augustinus geskryf het in sy City of God. Jy kan nie bloot uit wat met mense gebeur aflei of hulle Christene is of nie. Ons het nie soveel beheer oor wat met ons gebeur in die lewe nie. Of iemand ‘n Christen is of nie, kan jy eers sien as mense begin reageer op dit wat met hulle gebeur.Christene kan jy daarin herken dat hulle ook in slegte tye probeer leef met geloof, hoop en liefde. Geloof dat die evangelie van Christus waar is; Hoop op God en op sy beloftes, terwyl ons poog om sonder voorbehoud en selfverloënend lief te hê soos Jesus liefgehad het.

Dr. Burger is vorige moderator van die NG Kerk. (Berig uit Beeld, 23 Junie 2008)