Die rol en werksaamhede van die Diensverhoudinge-kommissie in die gemeente en lewe van die dominee.

Written by webmeester on . Posted in Konferensies

VERANTWOORDELIKE VERNUWING 2008

Die rol en werksaamhede van die Diensverhoudinge-kommissie in die gemeente en lewe van die dominee.

AR Olivier

1) TEOLOGIESE RAAMWERK

Inleiding

Diensverhoudinge as ‘n bediening in die kerk is redelik nuut-geformaliseer, maar ‘n ou werklikheid.

‘n Sterk tradisie hieroor bestaan al oor eeue in die kerk.
* Binne die “Riglyne vir Arbeidsverhoudinge” wat deur die Algemene Sinode van 2004 goedgekeur is, word die ruimte waarbinne die kerk sy eie orde reël saamgevat met: “Die beginsel van vryheid van godsdiens staan as a priori vas”. (Agenda 2004 Deel 3:158)
* “Die verbintenis van ‘n predikant aan die plaaslike kerk vind binne ‘n andersoortige (alius generis) gemeenskap op ‘n eie soortige wyse (sui generis) plaas.”
Inderwaarheid kan ‘n mens sê dat Christus self die “Werkgewer” van die predikant is (Smit, Die predikant: ‘n Werknemer van die kerkraad? (In NGTT 2004:7)
Dit is gefundeer in ‘n roeping van Hom wat nie Sy ampswerk vervreem nie, en daarom dra dit die karakter van die liefde van Christus.

As dit dus oor die wesenlike aard van die verhouding leraar- kerkvergadering gaan, kies ons vir ‘n roepingsooreenkoms (klem op die beroepsbrief en antwoord) eerder as dat dit bloot gaan oor ‘n werkgewer-werknemer verhouding wat net per kontrak vasgemaak word. (Met die aanvanklike formalisering van DVK’s het dit ‘n sterk arbeidsverhoudinge en juridiese karakter gedra).
Daar bestaan wel ‘n arbeidsverhouding, maar altyd binne die groter konteks van roeping (fokus in KO Artikel 9) en word bepaal tussen leraar en gemeente/kerkverband in KO Artikel 12.

Belangrike riglyne uit die tradisie:

*Die amp van leraar is gedefinieer in terme van sy/haar roeping om die openbare bediening van die Woord te behartig.
*Die Sinode het die verantwoordelikheid om die vorming en toelating van die bedienaar van die Woord te behartig
*Die terme wat vir die beroepende gemeente gebruik word is baie betekenisvol naamlik: “aan wie hy gegee is”. Die leraar word geroep om binne die gemeente wat God beskik het die Woord te bedien.
*Die aard en inhoud van die verhouding is duidelik in die beroepsbrief: Hy/sy is geroep om die pligte wat ooreenkomstig die Woord aan hom/haar opgedra is uit te oefen en die gemeente om aan hom/haar die agting en liefde te gee wat hom/haar na aanleiding daarvan toekom.
*Die oorwegende verwysing na die status van leraar is “Bedienaar van die Woord”.

2) KERN ASPEKTE VAN ‘N GESONDE DVK

2.1. Die rol,  funksionering en samestelling van die DVK

2.1.1 Dit vergelyk met die menslike hulpbronne departement van enige onderneming (staf en nie lynfunksie nie).

Dit is in die eerste plek ‘n ondersteuningskommissie.
Dit het geen mandaat of gesag in sigself nie, maar bloot gedelegeerde verantwoordelikheid om die Kerkraad te ondersteun in die fasilitering van die diensverhoudinge. Dit sou nie noodwendig self die verhoudinge bestuur nie, byvoorbeeld om self die onderhoude te voer nie, of om die lewe en verantwoordelikhede van die dominee te ondersteun nie.

2.1.2. Dit fasiliteer die optimale omstandighede waarin die personeel hulle menswees en verantwoordelikhede die beste kan uitleef.

Die fasilitering (van die arbeidsverhoudinge):
1) kom ooreen oor wat die wedersydse verwagting is (Art 9)
2) skep die geleentheid om dit uit te leef.
3) gee ondersteuning en leiding  
4) gee gereeld terugvoer.
5) “beloon of straf” oordeelkundig.

Die DVK is ‘n omgee kommissie en nie ‘n “lat” van die kerkraad nie.

2.1.3. Die samestelling (gemeentes):

Die kommissie behoort nie te groot te wees nie (4- 5 maksimum). Die voorsitter speel ‘n baie belangrike rol en behoort ‘n kundige in die veld te wees.Al die lede behoort nie personeelkundiges te wees nie. Ander verteenwoordigers van bedieninge behoort ook daar te wees.
Personeel behoort nie deel van die kommissie te wees nie. Die dominee behoort ook nie die voorsitter te wees nie. Hy/ personeel kan betrek word indien nodig. Lede kan gekoöpteer word.

2.2. Die hantering van mag

Enkele beginsels van die gereformeerde kerkregeringstelsel is hier van kardinale belang:
*ampte is gelyk, maar het verskillende verantwoordelikhede
*wisseling is belangrik (met inagneming van kontinuïteit en kundigheid)
*Christsus regeer self deur sy Woord en Gees
*vermy te veel mag in te min hande

2.3. Die dominee moet verantwoordbaar wees

Daar  is niks verkeer met opsig en verantwoording nie – dit skep sekuriteit.

2.4. Verantwoordelikheid moet in spanverband in wedersydse oorleg aangepak word.

(KO Artikel 9)

3.5. Ondersteuning beskikbaar:

3.5.1. Diensburo

In die kantoor van die saakgelastigde is ‘n adviesburo ten opsigte van Diensverhoudinge gevestig.
Die funksie daarvan is om gemeentes en ringe van advies te voorsien ten opsigte van alle diensverhoudinge aspekte (posbeskrywings, dienskontrakte, personeelbeleid, diensbeeindigings, of enige ander aspek van diensvehoudinge en kritiese prestasieareas)
‘n Bestuurder: Menslike Hulpbronne is aangestel wat oor die nodige kundigheid beskik en meer ondersteunend vir gemeentes  kan wees.

3.5.2. Bestuursgids vir Diensverhoudinge

3.5.3. Toerusting en begeleiding van gemeente DVK’s.

Omsendskrywes aan gemeentes en ringskribas ter toerusting van plaaslike DVK’s.
Besoeke aan gemeentes en ringe op versoek vind gereeld plaas.
Pro-aktiewe optrede is noodsaaklik vir die gewensde uitkomste.

3.5.4. Personeelbeleid van die Sinode is in 1999 goedgekeur en word gereeld aangepas.

3.5.5. Kundigheid in die streke is geïdentifiseer en daarom het die volgende lidmate met kundigheid deel geword van die kommissie (sinodaal):

J Swart, J Benade, C Zietsman en M Basson (dankie aan hulle!).
Uit bogenoemde is dit duidelik dat die kerk oor die nodige kundigheid beskik om begeleiding te doen, en graag sal wil doen.
Gemeentes en ring moet net betyds daarvan gebruik maak.

Waardevorming

Written by webmeester on . Posted in Konferensies

Jeanette de Klerk-Luttig

Die vestiging van waardes is omvattend, kompleks en multidimensioneel, want die vestiging van waardes en die vorming van deugsame mense vind nie plaas in ‘n vakuum nie, maar in gesinne, skole en godsdienstige gemeenskappe. Dit is ook nie ‘n “quick fix”  nie, want dit behels dat kinders  oor ‘n lang tyd opgevoed en ingeoefen word om goeie, deugsame mense te word.  

Die vorming van waardes is ook  nooit ‘n eenvoudige, eendimensionele aangeleentheid nie.  Dit behels die kind in sy/haar totaliteit en sluit die kognitiewe, affektiewe en gedragsaspek in. Dit behels; reflektering en nadenke, besluitneming en kritiese denke, die vorming van gesonde morele gewoontes oor tyd, die aktiewe betrokkenheid by morele aksies asook formele onderrig.

Die uitdaging is daarom nie bloot om waardes te onderrig nie, maar om geleenthede te skep waar die kind/jong mense waardes kan ontdek, bespreek, herdefinieer en kan internaliseer om as basis van hul lewe te dien.

Hoe doen mens dit?

Dieter Zander (in The gospel for Generation X) praat van die 4 R beginsel

  • Be Real,
  • Be Relational,
  • Be Relevant and
  • Be Rousing.

Be Real:

Wanneer iemand in gesprek met jong mense enige iets anders as haar of homself wil wees gaan dit net nie werk nie. Jong mense wil graag aanvaar word vir wie hulle is en hulle is bereid om jou te aanvaar soos jy is, as jy bereid is om “real” te wees. 

Be Relational

Hulle identifiseer met waardes indien hulle die waardes beleef in verhoudings en interaksies.  Een van die belangrikste dinge wat die jeugwerker/ouer kan doen, is om aan sinvolle verhoudings te bou.

Be Relevant:

Die affektiewe komponent plus die aanspreek van werklike lewensvraagstukke is van kardinale belang by enige jeugbediening. 

Be Rousing:

Die term impliseer energie, entoesiasme en kreatiwiteit.

Mike and the Mechanics The living years: Laai die PowerPoint hier af.

 

{gallery}Waardevorming{/gallery}

Verantwoordelike Vernuwing 2008 Wat my verras het!

Written by webmeester on . Posted in Konferensies

Ons het verlede week weer Verantwoordelike Vernuwing gehad – vir my altyd lekker, want dan hoor ek weer ‘n klomp nuwe stories oor gemeentes. Ek moes ook twee werkswinkels aanbied, maar verder het ek my gate uit geniet om na al die stories te luister.  Daar het ‘n paar dinge my opgeval as ek terugdink oor die 8 jaar wat ons die konferensie aanbied. Ek het 6 goed raakgesien wat ek my aan verwonder het:

  1. Die entoesiasme vir vernuwing het nie afgeneem nie maar eerder verskerp. Dit is baie min dat ‘n mens vandag kry dat daar oor ‘n tyd van 8 jaar ‘n groeiende belangstelling is om te bly werk aan vernuwing.  Meestal sal mense na 8 jaar moedeloos wees en of dink hulle het genoeg geleer of dat wat hulle leer nie eintlik help nie.  Dit is eintlik merkwaardig, jaar na jaar stroom daar honderde gemeenteleiers na die konferensie- ons het vanjaar 400 gehad.
  2. Die baklei is weg en leerbaarheid het plek gemaak. Hierdie stelling mag julle verbaas so laat ek dit helderder stel.  Ag jaar gelede het baie van die konferensiegangers nog gekom met die idee ons is eintlik reg en weet hoe dit werk, en-moet-nie-vir-my-kom-sê-dit-is-nie-so-nie, houding. Die houding is weg en in die plek daarvan is ‘n openlike erkenning, ons weet nie maar ons wil leer.  Dit is amper nog meer merkwaardig as die eerste stelling.  Die woord luister is kwistig gebruik deur aanbieders en deelnemers en ook be-oefen.
  3. Mense is baie broser en sagter met mekaar – dit mag nou projeksie wees want ek het natuurlik ook in die 8 jaar ouer geword, maar ek dink darem dit is meer as dit. In die 8 jaar het baie van ons moes leer dat die antwoorde wat ons gehad het, het nie so goed gewerk nie, ons het seer gekry, broser geraak, moeg geword, uit gebrand, maar snaaks ek het nie wanhoop ervaar nie, eerder ‘n sagtheid.  Ek het by baie die idee gekry hulle wou sommer net daar wees om ‘n slag ‘n paar mense wat soos hulle voel en die pad met hulle saamloop in die oë kyk – baie het vir mekaar by groet-tyd gesê – Kyk mooi na jouself. Ek moet sê ek begin na 21 jaar in die bediening onder die klomp tuis voel.
  4. God is meer van ‘n lewende werklikheid as 8 jaar gelede – Coenie het in die laat 90’er jare in Transito voorspel dat daar verdiepte spiritualiteit gaan kom. Ek het dit gesien en in ‘n gesprek met prof Kees van der Kooi is dit bevestig – God is ‘n lewende werklikheid vir meer en meer gemeenteleiers.  Daar is baie meer gebid en getuig as 8 jaar gelede. Ek dink ons hoop is baie meer op God as op ons eie vermoëns.
  5. Daar is ‘n nuwe generasie aan wie ons die plek moet gee om ons te leer.  By hierdie konferensie het ek jongmense en studente gesien wat hoop het (Kik op hierdie skakel om te kyk na ‘n uittreksel van die VoxPop video)  – Russel het dit so mooi gestel toe hy gesê het dat dit die jong generasie is wat die ouer generasie sal moet leer wat die gameplan is. Hulle was min, te min, maar hulle was daar en hulle het gepraat deel geneem – ek het my voorgeneem – ek moet plek maak sodat hulle die leierskap kan neem. Een van my vriende het dit so gestel – ek wil so ‘n halwe tree agter my kinders wees, hulle moet nou voorloop. Ek sal daar wees om hulle te ondersteun, maar dit is nou hulle beurt op die verhoog.
  6. Die kontak tussen VGK en NG lidmate het verbeter en verinnig. VerantwoordelikeVernuwing was ‘n NG inisiatief, maar vanjaar was daar meer VGK gemeenteleiers as ooit, maar belangriker nog is die spontane saampraat, saam leer en die bou van bande. Dit is ironies dat ek dit skryf in ‘n week wat die formele proses tussen ons tot stilstand geknars het.

As ek so na die lysie kyk, moet ek sê elkeen is ‘n wonderwerk, ‘n gawe van die Gees – ek weet nie of ek dit 8 jaar gelede sou verwag het nie. By die laaste werkswinkel vertel ‘n lidmaatleier van Nederlandse gaste wat haar besoek het en so verstom was oor wat alles in hulle gemeente te beur dat hulle haar gevra het om daaroor ‘n artikel te skryf vir hulle kerk se blad. Met die skryf sê sy, het sy ontdek dat daar veel meer lewenskrag in hulle gemeente is as wat sy raakgesien het.

Wat is jou lysie van onverwagse groei in jou gemeente?

Glo my dit is daar, so waar as wat die Gees ‘n lewende werklikheid in die gemeente is.

It is the best of times…

‘n Paar foto’s:

 

{gallery}VV2008{/gallery}

VBO vrae en antwoorde

Written by webmeester on . Posted in VBO

VBO: Vrae en Antwoorde



1.    Wat is VBO?

VBO staan vir “Voortgesette Bedieningsontwikkeling”.  

2.    Is VBO verpligtend?

Ja.  Die Algemene Sinode het in Junie 2007 ’n sterk besluit oor Voortgesette Bedieningsopleiding geneem.  
    Die besluit het twee wesenlike punte: dit maak VBO verpligtend en afdwingbaar vir alle predikante, maar bepaal ook dat die sisteem en inhoud van VBO voortdurend met predikante onderhandel moet word.  Dit is nie ’n nuwe besluit nie. Dit bevestig en versterk vorige besluite van so vroeg as 1980 dat Voortgesette Opleiding verpligtend is vir alle predikante. In die meeste ander professies word baie tyd en geld spandeer om mense te bly slyp vir hulle rol.

3.    Waarom is VBO nodig?

Wat agter die besluit sit, is die oortuiging dat dit in sowel die gemeentes as die predikante se belang is dat predikante verbind is tot lewenslange leer.  Feitlik alle professionele beroepe het reeds lewenslange leer verpligtend gemaak tot op die vlak dat mense hul registrasie kan verloor as hulle nie bly leer nie.
    Almal wat al ’n bietjie hieroor nagedink het, weet dat hierdie ’n goeie en nodige besluit is wat ons volle steun verdien.  Die groot kuns gaan wees om dit nou op so ’n manier te implementeer dat ons die beste daarvan maak en daaruit haal.

4.    Wat is VBO se kernwaardes?

VBO gaan oor die verdieping van ons kennis en insig in die waarheid van die evangelie, ons ingesteldheid teenoor ons roeping en ons werk en oor die slyping van ons bedieningsvaardighede. Maar dit gaan veral ook oor konstante leerbaarheid en oor die moed om in nuwe situasies in te gaan met die vertroue dat die Here ons kan leer en ’n weg kan wys wat ons nie vooraf helder gesien het nie.  Die kernwaardes van VBO kan dus as volg opgesom word:
•    Die voortgesette verdieping van ons kennis, insig en geloof in die evangelie.
•    Die bevordering van geestelike groei, roepingsverdieping en persoonsontwikkeling.
•    Slyping van bedieningsvaardighede vir missionêre gemeentes in diens van die koninkryk vandag.
•    Om getrou aan ons gereformeerde tradisie, te bly slyp aan ons vermoë om teologies te onderskei.
•    Die behoud en bevordering van bedieningsvreugde en bedieningsmoed.

5.    Hoe werk die punte-sisteem?

Ons het nog nie die detail van al die maniere waarop punte verdien kan word, presies gefinaliseer nie.  Vir die begin wil ons sake nie te ingewikkeld maak nie.  Ons sal hopelik in die volgende vier jaar (wat ’n implementeringstyd is), elke jaar die program en die proses verfyn en verbeter. Op hierdie stadium kan ons die volgende reëlings deurgee:
1.    Vir die eerste vier jaar van implementering vra ons dat predikante met meer as 3 jaar diens 50 punte (wat min of meer 50 uur VBO-werk beteken) per jaar moet verdien. Ons verwag van predikante met 1 tot 3 jaar diens om 100 punte per jaar te verdien (ons stuur eersdaags ’n spesiale skrywe aan hierdie 1 tot 3 jaar groep, om rëelings deur te gee).
2.    Ons wil graag hê dat elke predikant jaarliks ten minste een drie-dag kursus sal bywoon wat die waarde het van 30 punte. Daar is ’n groot variasie van kursusse en meer as een geleentheid waar die kursusse aangebied word. Ons werk daaraan om die kursusse regtig prakties en implementeerbaar te maak. Ons gedagte is dat daar tydens die kursus al gepraat sal word oor implementering en dat daar ook na die tyd in die gemeente ’n gesprek met die kerkraad of ’n kommissie kan wees oor implementering in die gemeente.
3.    Die orige 20 punte (vir mense met meer as 3 jaar diens) kan op verskillende maniere verdien word.  Omdat ons weet dat mense op verskillende maniere leer wil ons ook ander programme as net formele kursusse van die VBO-instansies akkrediteer met die oog op VBO. Ons het besluit om reeds nou al die volgende metodes en programme te erken:
•    Studiegroepe of werkgroepe soos dié van BUVTON en sinodale kommissies
•    Bywoning van retraites
•    Inskakeling by ’n mentoraatsprogram
•    “Company of Pastors”-program
•    Dagkonferensies
•    VBO-konferensies soos Verantwoordelike Vernuwing
•    Kursusse gereël deur die sinode, ring of streek
•    Vakwetenskaplike werkgemeenskappe
•    Verdere studie of die aanleer van ’n derde taal
•    Studietoere (binnelands of buitelands)
•    Artikels in ’n geakkrediteerde tydskrif
•    Bywoning van geakkrediteerde kursusse aangebied deur ander instansies (oor die presiese punte-berekening by elk van hierdie instansies moet ons nog onderhandel)
4.    Ons wil ook vir predikante krediet gee vir ordentlike teologiese boeke wat hulle lees. Ons dink nog oor die beste manier om die punteberekening hier te doen.  As groepe predikante boeke saamlees en dit bespreek sou dit makliker wees om die krediete te bereken.  As mense boeke op hul eie lees sal ons moet kyk na ’n soort verslag oor wat geleer is en oor moontlike implementering.  Deel van die “Company of Pastors”-program is ook dat predikante meer boeke per jaar lees. Ons voorsien dat predikante wat deel word van die program, benewens dit, nie meer per jaar sal hoef te doen as die drie-dag kursus nie. Ons het ’n kleiner komitee aangewys wat kyk na die implementering van die “Company of Pastors”-program.
5.    Ons kry navraag oor kursusse van ander instansies.  Die reëling is tans dat sulke kursusse deur die VBO-keuringsraad (3 VBO-benoemdes, 3 predikante en 3 dosente) geakkrediteer moet word.  Ons het reeds aansoeke ontvang van ’n paar instansies en sal hopelik in die loop van die eerste semester die keuring doen.
6.    Predikante wat besig is met verdere studie sal daarvoor krediet kry.  Mense wat besig is met ’n skripsie oor ’n spesialis onderwerp sal net die drie-dag kursus moet doen en afslag kry op die verdere 20 punte. Mense wat ’n breë basis bedieningsgerigte graad doen (soos ’n M. Th in Bedieningspraktyk) sal vir die hele duur van die graadkursus (2de en 3de jaar) nie verdere VBO-werk hoef te doen nie.  Die rede is dat die praktyk-kursusse sterk bedieningsgerig is.  Wat ons moet probeer verhoed is dat iemand vir jare besig is met ’n akademiese onderwerp wat bitter min met die bediening te doen het en daarom geen VBO-werk wil doen nie.  Die grens hier is nie so rigied nie; ons sou na versoeke met goeie meriete kon kyk.
7.    Mense wat betrokke is by die aanbieding van kursusse sou ook kon onderhandel vir VBO-erkenning.  Die beginsel is dat ’n mens studie en voorbereidingswerk doen vir so ’n aanbieding en krediet daarvoor behoort te kry.

6.    Hoe word die punte aangeteken? Wie monitor dit?  

Die voorlopige beplanning is dat die Sinode se ringsvorm (Vorm vir Kerklike Statistiek) sodanig aangepas word dat Kerkrade die nodige inligting daarop kan verskaf.  Beide die Kerkraad en die Ring kry dus geleentheid om hulle predikante se VBO te monitor. Uit die aard van die saak sal dit eers geld vanaf 2009.  Ons beplan ook ’n databasis waarop elke predikant se VBO aangeteken word.  Uiteindelik hoop ons dat die databasis web-gebaseerd kan wees, sodat elke predikant sy/haar VBO elektronies kan nagaan.  

7.    Is VBO-punte oordraagbaar?

Predikante is welkom om meer as een drie-dag kursus per jaar te doen.  Punte kan dus, binne perke, na ’n volgende jaar oorgedra word.  Die bedoeling van lewenslange leer is egter juis dat daar deurlopend leer sal plaasvind.

8.    Wanneer word watter kursusse aangebied?

Sien die kursuslys vir volle besonderhede of kontak die VBO-kantoor.  

9.    Wie reël die verblyf?

Predikante reël hulle eie verblyf. Waar ’n predikant geen eie verblyf kan reël nie, kan Communitas geskakel word vir ‘n lys van plekke wat spesiale oornagtariewe aan VBO-gangers aanbied. Kontak dus vir Chrisna van der Merwe as u enigsins sukkel met verblyfreëlings.

10.    Wat kos die VBO?

Die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland se aanbeveling is dat gemeentes jaarliks R1 000 per predikant tot die VBO-fonds sal bydrae.  Die versoek is dat dit ná 1 Maart 2008 aan die Saakgelastigde in Bellville gestuur sal word. Kursusgangers betaal in 2008 net R100,00 per drie-dag kursus per jaar vir VBO.  Middagetes en kursusmateriaal is ingesluit by die R100,00 kursusfooi. Omdat ons die kursusse bekostigbaar wil maak – ook vir mense wat ver is – sal ons, sover ons kan, wil help met ’n brandstofsubsidie. Sien Paragraaf 15 hier onder vir besonderhede oor die brandstof-subsidie.

11.    Kan lidmate (gemeenteleiers) of kollegas van ander kerkgenootskappe ook VBO bywoon?

Ja, maar die ooreenkoms is dat mense wat nie predikante in die NG Kerk of VGK is nie, vir die werklike koste sal moet betaal.  Predikante uit ander sinodale gebiede sal ook moet betaal.  Skakel vir Chrisna van der Merwe vir besonderhede ten opsigte van die koste.  Vir ’n drie-dag kursus beloop die koste sowat R600,00 (losies uitgesluit).  Reiskoste word ook nie betaal nie.  Die lidmaat/kollega is natuurlik welkom om gratis saam met die predikant te reis.

12.    Verlofreëlings

Predikante word versoek om hulle VBO in oorleg met die Kerkraad te beplan.  Die bywoon van ’n VBO-kursus word normaalweg nie as verlof gereken nie.  

13.    Wat is die “Company of Pastors”?

Die Presbiteriaanse Kerk in die VSA het ’n klompie jare gelede begin met ’n program wat hulle Company of Pastors noem.  Die naam kom uit Calvyn se tyd en was in gebruik deur die groep predikante van Genève wat weekliks saamgekom het om te bid en om te gesels oor hulle bediening en prediking.  Die doel van die groep is oefening in die geloofsdissiplines, opknapping van teologiese kennis en oordeel, wedersydse ondersteuning en wedersydse verantwoordbaarheid.   Die groep verbind hulleself om
•    daaglikse Skriflesings te doen,
•    daagliks ’n gedeelte uit die Belydenisskrifte te lees,
•    daagliks te bid vir mekaar en vir die kerk van Christus,
•    jaarliks vier goeie boeke oor die bediening en die teologie te lees,
•    inligting met mekaar uit te ruil via ’n tydskrif uit eie geledere en
•    een keer per jaar ’n streekbyeenkoms van die Company of Pastors by te woon.
Ons oorweeg die vorming van so ’n groep hier.  Joseph Small, organiseerder van die groep in die VSA was baie opgewonde toe ons die moontlikheid vir hom genoem het.  Hy meen selfs dat ons moet kyk of ons predikante in die VSA en in Suid-Afrika aan mekaar kan bekendstel om vir mekaar te bid.

14.    Wie kan ek kontak vir meer inligting?

Skakel Chrisna van der Merwe by Communitas (VBO)
Telefoon:      021-808-3624
Faks:      021-886-5701
E-pos:      cmer@sun.ac.za
Posadres:      Posbus 3322, Matieland, 7602
Fisiese adres:     Communitas, Dorpstraat 171, Stellenbosch, 7600

15.    Brandstofsubsidie

VBO is bereid om ’n deel van die predikant se brandstofkoste te subsidieer. VBO betaal nié reiskoste nie! Let dus op dat die riglyne vir die brandstofsubsidie anders is as vir reiskoste.    
•    Die brandstofsubsidie aanbod is slegs vir predikante van die NG Kerk in die Sinodale gebied van Wes- en Suid-Kaapland of die VGK in Kaapland.  Kerkraadslede, lidmate of predikante uit ander kerke of sinodale streke kom nie in aanmerking vir ’n brandstofsubsidie nie.
•    Predikante word versoek om so ver as enigsins moontlik saam te reis.  Waar dit nie gebeur nie, sal die brandstofsubsidie tussen die enkelryers uit een gemeente/gemeenskap verdeel word.  
•    Predikante word versoek om sover moontlik die kursus naaste aan hulle gemeente by te woon.
•    ’n Brandstofsubsidie van R1,00 (een rand) per kilometer word betaal.  “Kilometers” verwys na die afstand (heen- en terugreis) tussen die tuisgemeente en die plek waar die kursus aangebied word.  ’n Brandstofsubsidie word nie gegee vir ekstra draaie wat die predikante ry of vir die daaglikse in en uit ry na die gemeente nie.  [’n Leraar wat in Velddrif bly en ’n kursus in Stellenbosch bywoon kan hulp vra vir die 160 km (x2) tussen Velddrif en Stellenbosch.  Maar nie vir die draai via Worcester en vir die tolgeld nie.  Indien verblyf by ’n familielid in Worcester gereël word, kan die leraar nie eis vir die ritte wat saans na Worcester gery word nie.  Die Sinode help net met die basiese brandstofkoste tussen die tuisgemeente en die plek waar die kursus aangebied word.
•    Die aanbod vir ’n brandstofsubsidie word slegs gerig aan predikante wie se tuisgemeente verder as 80 kilometer (enkel rit) vanaf die kursusplek is.  Alhoewel ’n predikant wat drie keer tussen Wellington en Stellenbosch ry tydens ’n VBO-week in totaal minstens 200 km gaan ry, kan hy/sy nie aanspraak maak op ’n brandstofsubsidie nie, want Wellington is nader as 80 km aan Stellenbosch.
•    Aangesien VBO van ’n “brandstofsubsidie” praat, en nie van ’n “reiskoste formule” nie, is dit uiteraard moontlik om buitengewone omstandighede met Chrisna van der Merwe te bespreek.  Doen dit vooraf, sodat daar nie uiteindelik ’n verleentheid oor die saak is nie!