Skoenlappers deur Hennie Fritz

Written by Mariette Steyn on . Posted in Interaksie

skoenlappersIn September 2011 was ek een middag so aangeraak deur die vriendelike “aanbieding” en die mannewales van ’n meisie op ’n sypaadjie in Voortrekkerweg, Parow, dat ek selfs ’n skryfding daaroor moes doen. Gedagtig aan die tattoe op haar arm, sal ons haar maar Skoenlappertjie noem. Die krieweling wat die destydse middag se gebeure in my gemoed veroorsaak het, was verseker eg en beslis onverwerk.

In weerwil van my eie probeerslae om deur hierdie geestesselfversorgingstegniek, die kwesbaarheid van my binneste te bowe te kom, of selfs stil te maak, wil die gedagtes hieraan my nie los nie.

Ek probeer nie gereeld merk of die straatmeisie, of dan sekswerker in meer bekende taal, “aan diens” is nie, maar dit was nogal opvallend dat ek haar nie op die bekende paaie waarlangs my werksdag my neem, die afgelope maande gesien het nie. Soms, wanneer ek daar by “haar hoek” verbygery het, dan het ek gewonder hoe dit met haar gaan.

“Miskien het sy die beroep gelos” of “Miskien is sy terug na mense wat werklik vir haar omgee” of … en dan draai ’n Minibus Taxi voor my in en my aandag word teerpad toe teruggeruk. Of, miskien wou ek die hartseerlewe van ’n ander oorromantiseer. As daar so – iets sou bestaan. Ek weet nie …

skoenlappers2Die anderdagmiddag is ek oppad na my motor toe by ’n parkeerterrein so ’n ent weg van die gewone besige straatbordeel in Voortrekkerweg, Parow, toe ek ’n “bekende” gesiggie op ’n afstand herken. Al hangende halflyf binne-in ’n wit Toyota-bakkie staan Skoenlappertjie met ’n “oom” en gesels. Iemand wat haar oupa kon wees. My bene het instinktief stadiger begin stap en terwyl ek skaamteloos die gesprek oor die pad bekyk, moes sy seker onraad vermoed het. Sy het die gesprek net daar kort geknip. Sy het eenvoudig omgedraai en van die bakkie en die insittende kontantgeleentheid af weggestap. Terug in dieselfde rigting as my motor.

Die verslete sweetpak was duidelik ’n paar nommers te groot. Mens kon die skraal liggaampie amper los binne die sakkekleed sien rondbeweeg. Sy het ongemaklik gestap. Dit het gelyk of die regterbeentjie saamgesleep moet word en in die kort tydjie tussen toe en nou, maar ook die nabye afstand tussen my en haar op die dag, was dit ’n hartseerwaarheid dat sy byna niks van haar jeug oorgehou het nie. Soos sy tussen die karre deur verdwyn, lyk haar gestalte net soos nog een van die ou tannies wat so dikwels voor my by die poskantoor instap. Die knop in my keel laat my sluk aan die droë trane wat in my gemoed drup. “Mag ons Vader jou oppas.”
My vroutjie sê ons moet die saak met die maatskaplike werker gaan bespreek. Maar, hoe bespreek ’n mens iemand wat jy nie ken nie; iemand wat jy net op ’n afstand ’n klompie kere bekyk het; iemand met wie jy nog nie ’n gesprek gaan voer het nie – net omdat jy nie genoeg moed het nie! Hoe vrugteloos en naïef doelloos is die empatie wat mens voel sonder werklike optrede, of selfs die vooruitsig van ’n helpende hand?

Gistermiddag, soos gewoonlik, druk ek die kar se neus noord vanuit die weste en halfpad tussen die treinspoor en Voortrekkerweg staan daar, soos gewoonlik, ’n klompie vroue; smaakvol besig om hul ware en dienste op elke hoek aan te bied. Die wintersdae eis sy tol in meer as net die eiendoms-bedryf, dus as die son skyn, moet die werkers padtoe!

Opvallend egter, is die twee bleeksiele wat ook haastig na die besiger straathoek toe aanstap. Jong kinders. Kort rokkies, laer “toppies”, sonbril, selfoon en sigaret … die volgende geslag “Skoenlappers” is reg vir besigheid!

Net híéroor het jy beheer …

Written by Mariette Steyn on . Posted in Interaksie

redakteurMotivationOns stap nou ‘n vinnige afdraend na die einde van die jaar toe en wie kan dit glo: nog ‘n jaar is besig met sy laaste spatsels …

Dit laat my weer onwillekeurig dink aan alles wat hierdie jaar ook in my lewe gebeur het. Daar was wonderlike tye en baie slegte tye. Tye wat ek wou wegwens en tye wat ek wou vashou.

‘n Feit wat hierdie afgelope jaar net weer baie helder en duidelik voor my kom staan het, is dat ons geen beheer het oor dinge wat na ons toe kom of wat met ons gebeur nie. Hetsy siekte, hartseer, vrees, ens. Ons Hemelvader gee egter vir ons ‘n keuse. Ek het beheer oor hoe ek oor dinge voel, hoe ek reageer op wat met my gebeur en wat ek doen met die balle wat na my gegooi word.

Ek het die keuse van hoe ek toelaat dat slegte dinge my affekteer. Is dit vir my nuwe geleenthede of laat ek toe dat dit my vernietig, depressief maak, onderkry. Ek het die keuse hoe ek toelaat dat goeie dinge wat met my gebeur vir my werklik vreugde bring of hoe ek dit net eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar. My hante-ring van dit wat na my toe kom, bepaal dus aan die einde wie en wat ek is en word.

My wense vir julle almal is dus dat julle in hierdie Feestyd wat voorlê werklik sal kan terugkyk op ‘n jaar waarin jy, ten spyte van die slegte dinge wat oor jou pad gekom het en sonder die hoogmoed oor die goeie dinge wat met jou gebeur het vreugde, vrede en geluk sal ervaar. Dat jy elke dag in dankbaarheid sal kan leef ten spyte van wat verkeerd gegaan het of van hartseertye. Dat jy kan opkyk en weet: ons Vader dra jou, ondersteun jou, maak jou sterk, is net ‘n gebed ver.
Ek is onlangs by ‘n damesoggend en uit die hele oggend staan die volgende twee aanhalings vir my uit: “Don’t give in to your fears. If you do, you won’t be able to talk to your heart.” En die tweede stelling klink so: “We don’t see things how they are. We see things how we are.”

Dit het my net weereens laat besef hoe magtig die brein en daarmee saam, ons gedagtes, ons positiewe ingesteldheid, ons besluite en ons keuses is. Die Here gee vir jou die wíl en die kán. Gryp dit aan met alles wat jy het.

Met hierdie kwartaal se Interaksie het die Here hierdie waarhede weer aan my bevestig. Met die gaan sit en uitsorteer van al die artikels, besef ek dat hier nie genoeg stof is vir ‘n uitgawe nie. (vandaar die rede dat  Interaksie hierdie kwartaal bietjie laat is.) Ons kon in sak en as gaan sit of ons kon die Godstories gaan soek. Dankie aan elkeen wat op my versoek reageer het. Ek dink hierdie Interaksie vertel die mooiste en wonderlikste stories wat die afgelope drie maande in ons sinodale gebied gebeur het. Vroue met Vlerke vlieg behoorlik in alle dele: by die Moderamen, lisensiaat-studente, Herbertsdale, Tableview, Albertinia, Bergsig, Durbanville Moedergemeente, Tafelberg gemeente, Kraaifontein en Onrus. En dan is die stories van Bonteheuwel en Van Rhynsdorp nog nie vertel nie en moet hulle wag vir ‘n gaatjie in die volgende Interaksie. Ons juig, want ons Heiland is sooo ongelooflik!!!

Ons is dankbaar dat Antoinette en Bossie veilig terug is van hul vakansie oorsee en dat Esther lekker getoer het. Ons sê dankie vir Amanda wat gesorg het vir die mooiste gedigte waarvan ons ongelukkig nie almal kon plaas nie. Ons sê dankie vir elkeen wat ‘n beriggie versorg het – wat meewerk aan God se koninkryk.

Besoek asb die Communitaswebwerf vir wonderlike artikels. Lees en leer meer van dit waarmee ons diensgroep in gemeentes besig is. Ons pragtige Vroue met Vlerke brosjure asook ‘n volledige Communitas brosjure is by Communitas se kantore beskikbaar. Kontak vir Esther by haar nuwe eposadres, estherb@sun.ac.za, as jy dit wil bestel.

Vroue met Vlerke Geloofsreis

Written by Esther Blackaller on . Posted in Interaksie, Taakspanne, Vroue met vlerke, Vrouelidmate

Ons voorsitter gesels – Antoinette Muller

Die graad 1 KIX’s klas sit voor my. Die grootste uitdaging is om hulle rugstig en stil te kry! Ons gaan sit op die vloer, rug aan rug teen mekaar en begin luister hoe ons maatjies asemhaal. In afwagting wag ons op die Here. Ek vertel vir hulle die storie van die Emmaus-gangers en saam begin ons wonder oor die volgende: Van watter deel van die storie het ons die meeste gehou? Wat is die belangrikste in die storie en hoe sou dit voel om aan Jesus te raak? Kinderlik-opgewonde vertel hulle, dat dit baie mooi is om te hoor dat Jesus self stories vertel, dat Jesus broodjies breek en dit self uitdeel. Dat dit lekker sal wees om aan Jesus te vat, sommer net omdat dit Jesus is en dat Hy baie lekker sag sal wees. Dit bly lekker om saam met kinders te droom oor Jesus. 

Eva se storie

Written by Esther Blackaller on . Posted in Geloofsreis vir vroue, Interaksie, Taakspanne, Vroue met vlerke, Vrouelidmate

Dis die Maandag na Antoinette en Mariëtte se aanbieding van die geloofsreis by ons Sondagaand-diens. Ek is by die 50ste verjaarsdag biduur en partytjie van Sharon. Sy is een van die lede van die lofprysings-groep, waarvan Antoinette die vorige aand gesê het dat hulle maar kan gaan toer.

Toe dit haar beurt is om iets te sê, sê sy: “Ek het gisteraand so bevestig gevoel. Dit was asof Eva se gebed vir my geskryf was!”

Die Sondag hierna was Moedersdag. Mike wat ook by die Sondagaanddiens was, het vooraf vir my gevra of hy Eva se gebed (effens aangepas) vir die moeders tydens die erediens kan lees. Hy ken sulke vroue soos Eva en hy wil haar as rolmodel vir ander voorhou, sodat sy hulle kan inspireer en bemoedig.